Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 9/15 bl. 3-5
  • Wat jy omtrent jaloesie behoort te weet

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat jy omtrent jaloesie behoort te weet
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “’n Neiging tot afguns”
  • ’n Wêreld sonder sondige jaloesie
  • Liefde oorwin ongepaste jaloesie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Jaloers ten opsigte van die rein aanbidding van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Josef word ’n slagoffer van jaloesie
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2020
  • Moet Christene jaloers wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 9/15 bl. 3-5

Wat jy omtrent jaloesie behoort te weet

WAT is jaloesie? Dit is ’n intense emosie wat ’n mens angstig, hartseer of kwaad kan laat voel. Ons ondervind dalk jaloesie wanneer dit lyk asof iemand meer sukses as ons met ’n taak behaal. Of ons voel dalk jaloers wanneer ’n vriend meer lof as ons ontvang. Maar is dit altyd verkeerd om jaloers te wees?

Mense wat deur jaloesie oorheers word, is geneig om agterdogtig teenoor moontlike mededingers te wees. Koning Saul van eertydse Israel was ’n voorbeeld hiervan. Hy was aanvanklik lief vir sy wapendraer, Dawid, en het hom selfs tot ’n leier van die leër bevorder (1 Samuel 16:21; 18:5). Toe het koning Saul op ’n dag gehoor hoe vroue Dawid met dié woorde prys: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende” (1 Samuel 18:7). Saul moes nie toegelaat het dat dit sy goeie verhouding met Dawid beïnvloed nie. Maar hy het aanstoot geneem. “Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou.”—1 Samuel 18:9, NAV.

’n Jaloerse persoon sal moontlik nie iemand anders kwaad toewens nie. Hy of sy voel dalk net gegrief oor die sukses van ’n vriend en smag daarna om dieselfde eienskappe of omstandighede te hê. Daarenteen is afguns ’n besonder negatiewe vorm van jaloesie. ’n Afgunstige persoon sal dalk in die geheim iets goeds terughou van die een wat sy jaloesie wek of dalk wens dat daardie persoon iets oorkom. Soms kan ’n afgunstige persoon nie sy gevoelens wegsteek nie. Hy word dalk daartoe gedryf om iemand anders openlik kwaad aan te doen, net soos koning Saul probeer het om Dawid te vermoor. By meer as een geleentheid het Saul ’n spies gegooi in ’n poging ‘om Dawid teen die muur vas te steek’.—1 Samuel 18:11; 19:10.

‘Maar ek is nie ’n jaloerse mens nie’, sê jy moontlik. Jaloesie beheer weliswaar miskien nie jou lewe nie. Maar in sekere mate word ons almal deur jaloesie geraak—ons eie jaloerse gevoelens en dié van ander. Hoewel ons jaloesie in ander gou opmerk, sien ons dit dalk nie so gou in onsself raak nie.

“’n Neiging tot afguns”

Die rekord van die sondige menslike natuur soos dit in God se Woord, die Bybel, geopenbaar word, beklemtoon dikwels sondes waarby afguns betrokke was. Onthou jy die verslag van Kain en Abel? Albei hierdie seuns van Adam en Eva het offerandes aan God gebring. Abel het dit gedoen omdat hy ’n man van geloof was (Hebreërs 11:4). Hy het geloof gehad in God se vermoë om Sy grootse voorneme met betrekking tot die aarde te vervul (Genesis 1:28; 3:15; Hebreërs 11:1). Abel het ook geglo dat God getroue mense met lewe in die komende aardse Paradys sal beloon (Hebreërs 11:6). God het dus getoon dat Abel se offerande hom behaag. As Kain sy broer waarlik liefgehad het, sou hy bly gewees het dat God Abel geseën het. In plaas daarvan het Kain ‘baie kwaad geword’.—Genesis 4:5.

God het Kain aangespoor om goed te doen sodat hy ook ’n seën kon ontvang. Toe het God hom gewaarsku: “As jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jý moet daaroor heers” (Genesis 4:7). Ongelukkig het Kain nie sy jaloerse woede beheers nie. Dit het hom daartoe gedryf om sy regverdige broer te vermoor (1 Johannes 3:12). Sedertdien het gevegte en oorloë honderdmiljoene lewens geëis. “Party van die grondoorsake van oorlog kan ’n begeerte na meer grond, ’n begeerte na meer rykdom, ’n begeerte na meer mag of ’n begeerte na veiligheid wees”, verduidelik The World Book Encyclopedia.

Ware Christene neem nie aan hierdie wêreld se oorloë deel nie (Johannes 17:16). Maar ongelukkig raak individuele Christene soms in ’n mondelinge bakleiery verwikkel. As ander gemeentelede kant kies, kan so ’n bakleiery in ’n skadelike mondelinge oorlog ontaard. “Uit watter bron kom daar oorloë en uit watter bron kom daar bakleiery onder julle?” het die Bybelskrywer Jakobus medegelowiges gevra (Jakobus 4:1). Hy het daardie vraag beantwoord deur hulle materialistiese gierigheid aan die kaak te stel en het bygevoeg: “Julle hou aan om . . . hebsugtig te begeer”, of “jaloers” te wees (Jakobus 4:2, voetnoot in naslaanuitgawe). Ja, materialisme kan daartoe lei dat ’n mens dinge hebsugtig begeer en jaloers is op diegene wat lyk asof hulle beter omstandighede geniet. Daarom het Jakobus gewaarsku teen die menslike “neiging tot afguns”.—Jakobus 4:5.

Watter voordeel hou dit in om die oorsake van jaloesie te ontleed? Wel, dit kan ons help om eerlik te wees en beter verhoudinge met ander te bevorder. Dit kan ons ook help om meer begrip aan die dag te lê, asook om verdraagsamer en meer vergewensgesind te wees. Bowenal vestig dit die aandag op die mens se dringende behoefte aan God se liefdevolle voorsiening vir redding en bevryding van ons sondige menslike neigings.—Romeine 7:24, 25.

’n Wêreld sonder sondige jaloesie

Uit ’n menslike oogpunt beskou, klink ’n wêreld sonder sondige jaloesie dalk onmoontlik. Die skrywer Rom Landau het erken: “Die versamelde wysheid van baie eeue, met alles wat filosowe . . . en sielkundiges al oor die onderwerp gesê het, bied geen leiding vir die mens wat deur jaloesie gemartel word nie. . . . Het enige dokter al ooit iemand van jaloesie genees?”

Maar God se Woord bied die hoop op volmaakte menselewe in ’n nuwe wêreld waar niemand ooit weer deur goddelose jaloesie of afguns geteister sal word nie. Daarbenewens sal die vrede van daardie nuwe wêreld nie versteur word deur mense wat hierdie goddelose eienskappe openbaar nie.—Galasiërs 5:19-21; 2 Petrus 3:13.

Maar nie alle jaloesie is ongepas nie. Trouens, die Bybel sê dat Jehovah “’n jaloerse God is” (Exodus 34:14). Wat beteken dit? En wat sê die Bybel oor gepaste jaloesie? Hoe kan ’n mens terselfdertyd ongepaste jaloesie beheers? Sien die volgende artikels.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel