Die Bybel se beskouing
Wie is die demone?
SPOKE, lykverslinders, tokkelossies, djins (genies), demone is geeswesens waarin mense van verskillende godsdienste glo en wat hulle as boosaardig, welwillend of albei beskou. Ander mense verwerp geloof in geeste as blote bygelowigheid of pure verbeelding. Wat sê die Bybel?
Die Bybel leer dat die Skepper self ’n Gees is en dat sy eerste skeppingswerke geeste was (Johannes 4:24; Hebreërs 1:13, 14). Verder praat die Bybel van bose geeste, en dit verwys soms na hulle as demone (1 Korintiërs 10:20, 21; Jakobus 2:19). Maar dit leer nie dat God demone geskep het nie. Wie is hulle dan, en hoe het hulle ontstaan?
‘Engele wat gesondig het’
Toe God geeswesens geskep het, het hy hulle wilsvryheid gegee, wat hulle in staat gestel het om self te kies of hulle goed of kwaad wil doen. Ongelukkig het ’n onbekende aantal engele ná die skepping van die mens besluit om kwaad te doen deur teen God in opstand te kom.
Die eerste en berugste gees wat in opstand gekom het, het Satan geword. “Hy het nie in die waarheid vasgestaan nie”, het Jesus Christus gesê (Johannes 8:44). Wat het Satan beweeg om teen God te draai? Hy het die aanbidding wat uitsluitlik aan die Skepper behoort, begin begeer, en toe het hy volgens hierdie begeerte opgetree deur hom as ’n mededingende god op te stel. Só het hy homself “Satan” gemaak, ’n woord wat “teenstander” beteken. Eeue later, voor die Vloed van Noag se dag, het ander engele by Satan aangesluit en hulle hemelse posisie verlaat om menseliggame aan te neem en op die aarde te woon (Genesis 6:1-4; Jakobus 1:13-15). Toe die Vloed plaasgevind het, het die gematerialiseerde ‘engele wat gesondig het’, klaarblyklik na die geesteryk teruggekeer (2 Petrus 2:4; Genesis 7:17-24). Hulle is later demone genoem.—Deuteronomium 32:17; Markus 1:34.
Die ongehoorsame engele was toe in ’n heel ander situasie as waarin hulle was voordat hulle in opstand gekom het. Judas 6 sê: “Die engele wat nie hulle oorspronklike posisie behou het nie, maar hulle eie gepaste woonplek verlaat het, het [God] met ewige boeie onder dik duisternis vir die oordeel van die groot dag bewaar.” Ja, God het die demone nie toegelaat om die voorregte wat hulle vroeër in die hemel gehad het, te geniet nie, maar het hulle oorgelewer aan figuurlike “kuile van dik duisternis”, afgesny van alle geestelike verligting.
Hulle ‘mislei die hele bewoonde aarde’
Hoewel die demone klaarblyklik nie meer toegelaat word om vleeslike liggame aan te neem nie, het hulle nog steeds groot mag oor en invloed op die verstande en lewens van mense. Trouens, Satan, tesame met sy demoonhordes, ‘mislei die hele bewoonde aarde’ (Openbaring 12:9; 16:14). Hoe? Grotendeels deur middel van die “leringe van demone” (1 Timoteus 4:1). Hierdie valse leringe, wat dikwels godsdienstig van aard is, het die verstande van miljoene mense verblind vir die waarheid omtrent God (2 Korintiërs 4:4). Kyk na ’n paar voorbeelde.
● Die leerstelling dat die dooies nog lewe. Die demone gebruik verskynings, stemme en listige dade om mense te mislei om te glo dat die lewendes met die dooies kan kommunikeer. Wat meer is, hierdie slinkse bedrog verleen geloofwaardigheid aan die leuen dat ’n siel ná die dood van die liggaam voortleef. Maar die Bybel sê uitdruklik: “[Die dooies] is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5, 6). Omdat hulle ‘in die stilte afgedaal het’, kan hulle God nie eens loof nie.—Psalm 115:17.a
● Enigiets is aanvaarbaar wat sedes betref. “Die hele wêreld lê in die mag van die bose”, sê 1 Johannes 5:19. Satan en sy demone misbruik hulle mag deur die media en ander middele te gebruik om die bose idee te bevorder dat mense vrye teuels aan verdorwe vleeslike begeertes moet gee (Efesiërs 2:1-3). Daarom is elke soort onsedelikheid, insluitende seksuele perversiteit, vandag iets algemeens. Sulke gedrag word selfs as normaal beskou, terwyl Bybelstandaarde dikwels as ouderwets of bekrompe beskou word.
● Die bevordering van spiritisme. Die apostel Paulus het ’n diensmeisie teëgekom wat deur “’n waarsêende demoon” besete was, wat haar in staat gestel het om “aan haar here groot wins [te] verskaf deur die voorspelkuns te beoefen” (Handelinge 16:16). Paulus het geweier om na die meisie te luister omdat hy geweet het wat die bron van haar bonatuurlike vermoëns was. Daarbenewens wou hy God, wat alle vorme van spiritisme—insluitende sterrewiggelary en die raadpleging van okkulte magte—as verfoeilik beskou, nie aanstoot gee nie.—Deuteronomium 18:10-12.
Beskerm jou teen die demone
Hoe kan jy jou teen bose geeste beskerm? Die Bybel antwoord: “Onderwerp julle . . . aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug” (Jakobus 4:7). Ons gee gehoor aan hierdie opdrag wanneer ons hou by die leringe in die Bybel, die enigste heilige boek wat Satan, die demone en hulle “listige dade” heeltemal aan die kaak stel (Efesiërs 6:11, voetnoot in NW; 2 Korintiërs 2:11). Die Bybel sê ook vir ons dat die bose geeste, sowel as almal wat God teëstaan, nie vir ewig sal bestaan nie (Romeine 16:20). “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly”, sê Spreuke 2:21.
[Voetnoot]
a Vir meer inligting oor die ware toestand van die dooies en die Bybelse hoop van die opstanding, sien asseblief hoofstukke 6 en 7 van die boek Wat leer die Bybel werklik?
HET JY AL GEWONDER?
● Het God die demone geskep?—2 Petrus 2:4.
● Kan jy met die dooies praat?—Prediker 9:5, 6.
● Hoe kan jy jou teen die demone beskerm?—Jakobus 4:7.
[Prent op bladsy 21]
Demone probeer mense op baie maniere beïnvloed