Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yb09 bl. 6-29
  • Glanspunte van die afgelope jaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Glanspunte van die afgelope jaar
  • 2009 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “GOEIE NUUS” OP DIE INTERNET
  • DIE WAARHEID OP DIE INTERNET
  • ‘GOD IS MET JULLE’
  • VERTALINGS WAT IN ’N BEHOEFTE VOORSIEN
  • VORDERING MET BYBELVERTALING
  • MEER WERKERS IN DIE OES UITGESTUUR
  • VERTROUE OP “DIE HEER VAN DIE OES”
  • GEMEENTES SE ONDERSTEUNING
  • “GOD SE MEDEWERKERS”
  • WETLIKE BEVESTIGING VAN DIE GOEIE NUUS
  • EUROPESE HOF VAN MENSEREGTE
  • TAKTOEWYDINGS
  • TOEGERUS OM GOD SE WIL TE DOEN
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2010 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2013 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2008 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Glanspunte van die afgelope jaar
    2011 Jaarboek van Jehovah se Getuies
Sien nog
2009 Jaarboek van Jehovah se Getuies
yb09 bl. 6-29

Glanspunte van die afgelope jaar

NÁ NOG ’n geseënde jaar van heilige diens het ons alle rede tot vreugde. Wanneer ons kyk na ’n paar glanspunte van die ontsaglike werk wat God deur middel van sy knegte verrig, kan ons sonder enige twyfel sê: “U het die jaar met u goedheid gekroon”!—Ps. 65:11.

“GOEIE NUUS” OP DIE INTERNET

As Jehovah se Getuies neem ons ons verantwoordelikheid ernstig op om ‘hierdie goeie nuus van die koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig as ’n getuienis vir al die nasies’ voordat die einde kom (Matt. 24:14). Oor die jare heen het nuwe tegnologiese ontwikkelinge daartoe bygedra dat “die woord van die koninkryk” vinniger versprei word (Matt. 13:18-23). Die afgelope 11 jaar gebruik ons ons amptelike webwerf, www.watchtower.org, om geestelike inligting in elektroniese formaat op die Internet aan die publiek beskikbaar te stel. Besoekers aan die webwerf kan Bybelwaarhede in enigeen van 314 tale leer en kan onderhofies soos “Beliefs and Activities”, “Current Topics”, “God and Your Future”, “Medical Care and Blood” en “Publications Available” deurkyk.

Baie mense besoek www.watchtower.org om die Bybel te lees. Elke dag lees meer as 6 300 die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif aanlyn in enige van tien tale. Die gewildste Bybelboeke op die webwerf is Psalms, Spreuke en die Evangelieverslae van Jesus se lewe.

Elke week word sekere artikels uit Die Wagtoring of Ontwaak! in 12 tale by die webwerf gevoeg—veral artikels wat met die publiek in gedagte gedruk is. Baie mense wonder wat ons glo, hoe ons vergaderinge gehou word en hoe ons predikingswerk gefinansier word. Besoekers aan die webwerf vind hierdie antwoorde deur op die brosjure Jehovah se Getuies—Wie is hulle? Wat glo hulle? te kliek. Die publikasie Die einde van valse godsdiens is naby! is in 252 tale beskikbaar op www.watchtower.org, insluitende video-uittreksels in vyf gebaretale.

DIE WAARHEID OP DIE INTERNET

Wat was die resultate omdat hierdie publikasies op die Internet beskikbaar is? Gemiddeld meer as 60 000 mense besoek www.watchtower.org elke dag! Baie woon waar daar redelik min Getuies is of in lande waar ons werk verbied is of beperk word. Maar diegene wat na die waarheid dors, kan hulle dors les deur elektronies toegang te verkry tot die waters van waarheid op ons webwerf.

“Ek het nog altyd daarvan gehou om van die Bybel te leer”, sê Bryon, “maar elke keer as ek saam met my vriende kerk toe gegaan het, het hulle net gesing of speletjies gespeel.” Bryon het hom toe op geleerdheid en atletiek toegespits. Hy het vyf tale geleer en ’n studiebeurs verwerf, maar niks het hom geestelik bevredig nie. Hy het dus gebid om die waarheid te vind.

“Ek was desperaat om antwoorde te kry”, vertel Bryon. “Ek het besluit om Jehovah se Getuies op die Internet te soek omdat ’n paar Getuie-skoolmaats my vertel het dat God se naam Jehovah is. Ek het na die organisasie se webwerf gegaan en die brosjure Wat vereis God van ons? begin lees. Uiteindelik is my vrae beantwoord.” Bryon het vir ’n Bybelstudie gevra, vinnig vooruitgang gemaak en het sy lewe in 2004 aan Jehovah toegewy. Hy dien nou as ’n gewone pionier en hoop om sy taalvaardighede as ’n Bybelopgeleide sendeling te gebruik.

‘GOD IS MET JULLE’

Hoe opwindend is dit tog om te weet dat duisende mense “uit al die tale van die nasies” elke dag die webwerf www.watchtower.org besoek! Daar is gemiddeld 94 persone per dag wat die aanlynvorm “Would You Welcome a Visit?” instuur.—Sag. 8:23.

Denise was een van dié wat vrae oor die opvattings van Jehovah se Getuies gehad het, maar sy was huiwerig om na die plaaslike Koninkryksaal te gaan. Sy het besluit om eerder op die Internet te gaan kyk en het www.watchtower.org gevind. Die inligting daar het Denise daarvan oortuig dat sy die waarheid gevind het, maar sy wou nie vir ’n Bybelstudie vra nie omdat sy geweet het dat sy veranderinge in haar lewe sou moes aanbring om aan Bybelstandaarde te voldoen. Sy het die elektroniese vorm “Would You Welcome a Visit?” vier keer ingevul, maar elke keer het haar moed haar begewe en het sy dit nie ingestuur nie.

In Maart 2007 het Denise die vorm vir die vyfde keer ingevul. Dié keer het sy dit ingestuur. Haar versoek is na die plaaslike gemeente gestuur, en die ouer manne het ’n suster, Vonnie, gevra om Denise te besoek. Binne die eerste week ná Vonnie se besoek het Denise die vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon.

Teen die einde van September het Denise haar godsdienstoebehore vernietig, uit haar vorige godsdiens bedank en aan die vereistes voldoen om ’n ongedoopte verkondiger te word. Sy en haar twee seuns het vinnig vooruitgang gemaak, en haar agtjarige seun het by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit. In Januarie 2008 is Denise gedoop, en twee maande later—presies ’n jaar nadat sy die aanlynvorm ingestuur het—het sy gekwalifiseer om as ’n hulppionier te dien. “Sonder die webwerf”, sê Denise, “sou ek nie hierdie ondervinding kon vertel nie.”

In Januarie 2008 is ’n nuwe diens op die webwerf www.jw.org beskikbaar gestel—oudio-weergawes van sekere publikasies wat in 17 tale afgelaai kan word. Belangstelling hierin was oorweldigend, en meer as eenmiljoen publikasies en individuele artikels word elke maand afgelaai! Baie verkondigers luister op pad werk toe of skool toe na die tydskrifartikels.

VERTALINGS WAT IN ’N BEHOEFTE VOORSIEN

Hoe wonderlik is dit tog om die ondersteuning van engele te hê terwyl ons mense in “elke nasie en stam en taal” aanspoor om God heerlikheid te gee! (Op. 14:6, 7). Om dit vir mense makliker te maak om op die Bybel se boodskap te reageer in ’n taal wat hulle goed verstaan, versprei Jehovah se Getuies tans lektuur in ongeveer 450 tale.

Die boek Wat leer die Bybel werklik? is onlangs vrygestel in Tetum, die plaaslike taal van Oos-Timor, maar daar was nie genoeg boeke beskikbaar nie. Maria, ’n nuwe student wat die Leer Bybel-boek in Indonesies gebruik het, het nie een in Tetum gehad nie. Sy het haar Bybelonderrigter gevra of sy die Tetum-boek vir twee dae kon leen. In die daaropvolgende dae het sy alles wat sy geleer het, geesdriftig herhaal. In haar moedertaal verstaan sy baie waarhede nou duideliker as wat sy dit in haar studie uit die Indonesiese boek verstaan het. Haar onderrigter kon dit nie oor haar hart kry om die Tetum-boek terug te vra nie. Maria gaan voort met haar studie en woon die vergaderinge by.

Engels en Swahili is tale wat algemeen gebruik word in regerings- en handelskringe in Kenia. Maar miljoene Keniane verkies dit om Kikuyu, Kikamba, Luo en ander plaaslike tale te praat. Die publisering van lektuur in hierdie plaaslike tale het dus in groot mate gehelp om belangstelling in Jehovah se aanbidding aan te wakker. Nadat die Siaya-gemeente lektuur in Luo begin gebruik het en vergaderinge in hierdie taal begin hou het, het die ouer manne geskryf: “Die broers kan die onderrigting nou beter verstaan. Kinders luister met groter aandag. Vandat ons toespraaksketse in Luo begin gebruik het, het ons vergaderingbywoning met 60 persent toegeneem.”

In Nicaragua praat baie mense Miskito eerder as Spaans, en meer as 200 het die Miskito-streekbyeenkoms bygewoon. Party het groot opofferinge gemaak om daar te wees. Byvoorbeeld, 13 broers van die dorpie Asang, langs die Coco-rivier, het ’n houtvlot gebou en twee dae lank met die rivier afgedryf tot by die dorp Waspam. Toe het hulle vyf uur lank agterop ’n vragmotor tot by die byeenkomsstad gery. Dit was vir die meeste in die groep die eerste streekbyeenkoms wat hulle bygewoon het. Hulle het dit geniet om die program in hulle eie taal te hoor. Aangesien hulle al hulle geld daaraan bestee het om by die byeenkomsstad te kom, het ander byeenkomsgangers geld bygedra sodat die broers die nodige geld vir die terugreis sou hê.

Die Miskito-gehoor by daardie byeenkoms was verheug toe die boek Wat leer die Bybel werklik? in hulle taal vrygestel is. Veral die pioniers was baie dankbaar. Tot op daardie stadium moes hulle die Spaanse Leer Bybel-boek met hulle Bybelstudente gebruik en die paragrawe en vrae in Miskito vertaal. Nou kan hulle hulle daarop toespits om mense Bybelwaarhede te leer sonder om te dink hoe dit vertaal moet word.

Quechua is ’n Indiaanse taal wat in Suid-Amerika gepraat word. Party Quechua-verkondigers in Peru het geskryf: “Wanneer ons ons aanbieding afsluit, sê ons vir die huisbewoner dat ons publikasies in Quechua het. Party was so innig dankbaar om lektuur in hulle eie taal te hê dat hulle in trane uitgebars en die publikasies gesoen het.” Die takkantoor in Peru het geskryf: “Party broers wat in gebiede woon waar Quechua gepraat word, het groot moeite gedoen om hulle waardering te toon. Nadat een broer die boek Wat leer die Bybel werklik? in Quechua gelees het, het hy gesê dat hy uiteindelik die betekenis en waarde van Christus se losprys verstaan. Lesers het al aartappels, pasteie, kiste vrugte en ander items na die tak gestuur om hulle waardering te toon.”

Die organisasie doen ook groot moeite om lektuur te vertaal in tale wat op verafgeleë eilande van die Stille Oseaan gepraat word. “Ek dank Jehovah dat hy ons onthou het”, het een suster vir ’n sendeling op die Mikronesiese eiland Pohnpei gesê. “Ons het voorheen Die Wagtoring in Ponapeaans ’n paar maande ná die Engels ontvang.” Sy het goedig bygevoeg: “Ons het gedink dat Armageddon vir ons ook seker laat sou kom. Maar nou studeer ons die tydskrif op dieselfde tyd as die res van die wêreld, en dit is net so pragtig soos die Engelse tydskrif. Ons is baie dankbaar dat die Bestuursliggaam vir ons sorg.”

Die broers en susters op die Marshall-eilande in die noordelike deel van die Stille Oseaan was verheug oor die nuwe publieke uitgawe van Die Wagtoring in Marshallees. Hierdie broers geniet dit om lewensverhale te lees, maar voorheen het Die Wagtoring nie plek gehad vir lewensverhale nie, en daarom moes iemand dit uit die Engelse tydskrif vertaal. Hoe verheug was hulle tog toe die eerste lewensverhaal in die publieke uitgawe in hulle taal verskyn het. ’n Sestienjarige leser het gesê: “Ek het al die jare deur die Engelse tydskrif geblaai en die prente in die lewensverhale gesien en gewens dat ek die artikel kon lees. Nou kan ek.”

Al is daar net een publikasie in ’n taal, kan dit mense se lewe verander. In ’n land in Sentraal-Asië waar ons werk beperk word, is die brosjure Wat vereis God van ons? wyd versprei. ’n Jong man het hierdie brosjure in die hande gekry, het dit op sy eie gelees en is so diep daardeur getref dat hy na ’n rivier daar naby gegaan en homself “gedoop” het. Toe hy uitvind dat hy ’n Bybelstudie nodig het, het hy een met graagte aanvaar, en hy is kort daarna op die regte manier gedoop. Hy bestee nou baie van sy tyd daaraan om die goeie nuus aan ander te verkondig.

VORDERING MET BYBELVERTALING

Jehovah se Getuies beskou God se Woord, die Bybel, as iets kosbaars en het groot waardering vir ’n akkurate, duidelike vertaling daarvan. Daarom is God se volk nou verheug om die Nuwe Wêreld-vertaling, in sy geheel of gedeeltelik, in meer as 70 tale te hê. Hoewel die vrystelling van die Bybel aanvanklik groot opwinding veroorsaak, is dit die daaglikse gebruik daarvan in persoonlike studie, by gemeentelike vergaderinge en in die veldbediening wat werklik mense se harte raak en hulle denke vorm.

Die takkantoor in Rusland het baie briewe van waardering ontvang vir die volledige Nuwe Wêreld-vertaling in Russies. “Ek het die Bybel al baie keer gelees”, het een vrou geskryf, “maar met hierdie vertaling voel dit of ek die Bybel vir die eerste keer lees! Soms tref die Bybel se boodskap my hart so diep dat my oë vol trane skiet en ek skoon opgewonde raak.”

Die duidelikheid van die vertaling het ’n ander leser laat sê: “Nadat ek vandag Genesis hoofstuk 18 gelees het, wou ek graag aan julle skryf. Abraham se gesprek met Jehovah, wat in verse 23-32 opgeteken staan, het my diep getref. Al lees ek die Bybel nou vir die vyfde keer, was dit die eerste keer dat ek regtig oor hierdie gesprek nagedink het. Ek kon my indink hoe Abraham gevoel het en het aandagtig na Jehovah en hom “geluister”. Jehovah se besorgdheid het my trane in my oë laat kry. Hierdie vertaling het die verhaal vir my laat lewe. Ek het nie net Jehovah se eienskappe gesien nie, maar dit ook persoonlik gevoel.”

“Dankie vir die volledige Nuwe Wêreld-vertaling!” het Swetlana van Moskou geskryf. “Wanneer ons die ‘Ou Testament’ lees, is ons uiteindelik nie meer verward en verlore omdat die vertaling oud en onverstaanbaar is nie! Dit is só eenvoudig!”

Nog ’n leser het geskryf: “Ek het by die werk met my werknemer, Irina, oor die waarheid gepraat. Aan die begin het ek net tekste aangehaal. Maar toe ek my Bybel oopslaan en vir haar Jesus se modelgebed wys, het sy gevra: ‘Is dít die Onse Vader?’ Toe sy Jesus se woorde lees, het haar oë geskitter van blydskap en het sy uitgeroep: ‘Hoe wonderlik! Dit stel dit so duidelik! Ek het hierdie gebed al dikwels gehoor, maar het dit nog nooit verstaan nie. Hier is dit so verstaanbaar en eenvoudig! Ek wil so ’n Bybel hê. Kry tog vir my een! Kry vir my so ’n Bybel!’ Ek het gesê: ‘Ons gee ’n Bybel net vir dié wat dit regtig wil lees.’ Sy het ernstig geantwoord: ‘Ek wou nog nooit die Bybel lees nie. Ek het al ’n hele paar Bybels gehad, maar het hulle almal weggegee; nou wil ek dit regtig lees!’”

’n Broer het oor die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Oekraïns geskryf: “Ek wil graag my waardering uitspreek vir hierdie wonderlike geskenk van Jehovah en sy organisasie. Ek geniet elke bladsy, en ek dra hierdie Bybel oral saam met my. Die taal is eenvoudig en verstaanbaar. Die woorde raak my hart, en ek kan die omvang van die Bybelleringe maklik begryp.”

Die Serwiese en Kroatiese vertalings is ook goed ontvang. “Dis baie maklik om te lees”, het ’n Kroatiese suster geskryf, “en veel makliker om te verstaan as die Bybel wat ons jare lank gebruik het. Skriftuurlike raad bereik my hart makliker, en ek voel dat ek Jehovah al hoe beter leer ken.”

Op 2 November 2007 het broer Geoffrey Jackson van die Bestuursliggaam die Samoaanse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte vrygestel. Die tradisionele Samoaanse Bybel is skaars en duur; daarom was die broers baie bly dat Bybels nou geredelik beskikbaar is. Nadat een verkondiger die Bybel ’n paar maande lank gebruik het, het hy gesê: “Dit voel of die ou Bybel gedagtes verberg, terwyl die nuwe Bybel gedagtes openbaar, of duideliker maak.”

Een suster vertel van ’n Bybelstudie waarin die studiepublikasie na Jakobus 4:8 verwys het. “Ek het voorgestel dat die huisbewoner hierdie teks in die Nuwe Wêreld-vertaling lees, al ken ons dit”, vertel die studiehouer. “Ons het eers gedink ons lees die verkeerde teks en het toe seker gemaak dat ons die regte vers het. Die suster wat saam met my na die studie gegaan het, het geskok gesê: ‘Die vers het verander.’ Ons kon nou duidelik verstaan dat ‘kom nader’ beteken dat ons ’n hegte verhouding met Jehovah moet hê, ’n punt wat nie in die tradisionele Bybel na vore gekom het nie. Dit het werklik ons hart geraak en by ons die begeerte gewek om ’n hegte verhouding met Jehovah op te bou.”

’n Ruk nadat die Chinese Nuwe Wêreld-vertaling vrygestel is, het sendelinge wat in Taiwan dien, geskryf: “Ons het die Nuwe Wêreld-vertaling aangebied vir ’n prokureur wat daarvan hou om ons tydskrifte gereeld te lees. Hy wou weet waarom ’n nuwe vertaling nodig was. Nadat ons hom net ’n paar tekste gewys het, was hy baie beïndruk en het hy gesê dat hierdie nuwe vertaling baie makliker is om te verstaan as die Union Version, wat hy gelees het.” Hulle het ook die Bybel vir ’n parlementslid aangebied, wat dit in haar kantoor gelos het. ’n Radioprogramleier wat krities teenoor Jehovah se Getuies was, het die vertaling in haar kantoor gesien, dit opgetel en ’n gedeelte daarvan gelees. Hy was so beïndruk dat hy die sendelinge gebel het om te vra of hy ook ’n eksemplaar van hierdie vertaling kan kry.

’n Kirgiese suster wat weens oogprobleme sukkel om te lees, het gevoel dat Bybellees harde werk is. Maar die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Kirgies het haar van mening laat verander. Sy geniet dit nou terdeë om die Bybel te lees omdat dit ’n eenvoudige, duidelike vertaling is.

“Dis ’n uitstekende vertaling!” het ’n ander suster gesê. “Ek struikel nie wanneer ek dit hardop lees nie. Ek wil dit oor en oor lees. Dit voel of ek die waarheid van voor af leer.”

“Ek geniet die Evangelie van Matteus in Amerikaanse Gebaretaal (ASL)”, het ’n gehoorgestremde suster aan die Bestuursliggaam geskryf. “Die Bybel lewe nou vir my en dit raak my hart. Ek kan Jesus se persoonlikheid, gesigsuitdrukkings, goedhartigheid en innige liefde vir mense sien. Ek is lief vir my ASL-Matteus. Maar . . . kan julle gou klaarmaak met die ander ASL-Bybelboeke?”

’n Goeie vertaling van die Bybel kan ongetwyfeld die betekenis van God se Woord ontsluier en die lig van die ware boodskap op die hart van die leser laat skyn. Diegene wat daarna smag om nader aan hulle hemelse Vader te kom, is dus verheug wanneer die Nuwe Wêreld-vertaling beskikbaar gemaak word in hulle moedertaal—die taal wat tot hulle hart spreek.

MEER WERKERS IN DIE OES UITGESTUUR

Weens die vereenvoudiging van werk wat by die tak gedoen word, is ’n aantal lede van die Verenigde State se Bethelgesin genooi om in ander toewysings te dien. Party is na takke in ander lande gestuur, en ’n paar honderd is genooi om as spesiale en gewone pioniers regoor die land te dien. Hoe het hulle gevoel toe hulle hulle nuwe toewysings ontvang het? Hoe het hulle die uitdagings die hoof gebied? Hoe het die gemeentes daarby baat gevind?

“Ons het ‘die Heer van die oes’ jare lank gesmeek om ‘werkers in sy oes uit te stuur’”, vertel Todd en Leslie. “Ons het net nie gedink dat ons deel van die antwoord sou wees nie! Nou sien ons dat Jehovah se hand sake rig, en ons beskou dit as ’n voorreg dat Christus ons ‘getrou geag het deur ’n bediening aan ons toe te wys’.”—Matt. 9:37, 38; 1 Tim. 1:12.

Franco vertel van die eerste paar maande wat hy en sy vrou in hulle nuwe toewysing deurgebring het: “Ek en my vrou het glad nie besef hoeveel werk daar nog in die Verenigde State is nie. Toe ons in ons toewysing aankom, was daar ’n skynbaar eindelose aantal mense wat ’n Bybelstudie wou hê.” Curtis en Karolynne het die gevoelens van baie van hierdie pioniers so uitgedruk: “Ons is verheug om ons plek in die veld in te neem! Dit gee ons ’n geleentheid om vir Jehovah te toon dat ons dit werklik bedoel het toe ons onsself verloën en ons lewe aan hom gegee het deur ons aan hom toe te wy.”

VERTROUE OP “DIE HEER VAN DIE OES”

Om ná jare in Bethel na die veld gestuur te word, het natuurlik vir party ’n mate van kommer veroorsaak. “Sal ons bekostigbare huisvesting kry”, het een egpaar gewonder, “en hoe sal ons oorgaan van ’n verkondiger tot iemand wat 120 of 130 uur per maand in velddiens deurbring en die gemeente ook nog aanmoedig?” Hoe het hulle en ander hulle nuwe omstandighede hanteer?

Party het op die laaste dag wat hulle in hulle nuwe toewysing na huisvesting kon soek, bekostigbare behuising gevind. Byvoorbeeld, ’n ongetroude suster, Jessica, het na haar toewysing gegaan en twee weke lank tevergeefs na huisvesting gesoek. Die dag voordat sy na Bethel moes terugkeer om op te pak, was sy verheug toe ’n plaaslike ouer man vir haar ’n huisie aanbied wat sy teen ’n redelike prys kon huur.

Jeff en Cynthia het vir ’n woonstelhuuragent gesê dat hulle Jehovah se Getuies is. “Ek ken Jehovah se Getuies”, het die agent uitgeroep, “en ek weet ek hoef my nie oor julle te bekommer nie. Jehovah waarborg julle huurgeld!”

“Ondervindinge soos ons s’n herinner ons daaraan dat ons altyd op Jehovah moet vertrou”, het Eric en Melonie gesê. “Ons sien elke dag bewyse van Jehovah se hand in sake. Dit het waarlik ons geloof versterk.”

GEMEENTES SE ONDERSTEUNING

Die liefdevolle reaksie van die gemeentes het hierdie pioniers grootliks gehelp om in hulle nuwe toewysings aan te pas. ’n Kringopsiener sê dat baie gemeentes liefdevol praat van “ons spesiale pioniers”. Hy voeg by: “Die kring as ’n geheel het hulle met ope arms en harte verwelkom.” ’n Plaaslike broer het met waardering geskryf: “Ek wil graag vir die tak sê: ‘Dankie.’ Wat ’n seën is hierdie pioniers tog vir ons almal!”

Een gemeente in Kansas het 100 gebiede gehad wat maande lank nie gedek is nie. Nou, met die hulp van ’n spesialepionier-egpaar, word die grootste deel van die gebied gereeld gedek. “Ons kon ons eenvoudig nie indink hoe nuttig hierdie reëling sou wees nie”, het die ouer manne geskryf.

Die gemeentes was “’n versterkende hulp” vir die pioniers, maar die plaaslike verkondigers het ook baat gevind (Kol. 4:11). Een kringopsiener vertel: “Die ywer en geesdrif van die pioniers het ons broers en susters werklik aangemoedig en aangevuur.” ’n Ander reisende opsiener het geskryf: “Wat werklik opvallend is omtrent die spesiale pioniers, is hulle aansteeklike liefde en vreugde.”

Een egpaar het tien onbedrywige verkondigers gehelp om weer bedrywig te word. Die broers wat as ouer manne dien, het ook ’n positiewe uitwerking. “Dit is ’n verligting om so ’n gebalanseerde en bekwame broer in die gemeente te hê”, het ’n ouer man geskryf. “Dit is net wat die gemeente en die liggaam van ouer manne nodig gehad het.”

“GOD SE MEDEWERKERS”

Jehovah het Koninkryksverkondigers met talle vreugdevolle ondervindinge geseën. Byvoorbeeld, Steve en Gaye het op ’n koue winterdag in die huis-tot-huis-bediening uitgegaan. By hulle eerste deur het hulle ’n Bybelstudie begin met ’n bejaarde man wat neerslagtig was. Binne twee weke het hy ’n vergadering by die Koninkryksaal bygewoon, waar hulle genoem het hoe gaaf dit van hom was om hulle in te nooi toe hulle hom die eerste keer besoek het. “Ek het julle nie ingenooi omdat ek vriendelik was nie”, het hy geantwoord. “Ek het julle ingenooi omdat ek geweet het julle gaan kom. Ek het drie dae lank gebid vir hulp.” Hy woon nou die vergaderinge gereeld by en is besig om te vorder tot doop.

Toe Ray en Jill in hulle motor op pad uit was, het hulle ’n man aan die oorkant van die pad gesien en besluit om met hom te praat. Hulle het vir hom lektuur en ’n Bybelstudie aangebied. Hy het tydskrifte geneem en verduidelik dat hy voorheen die Bybel met Jehovah se Getuies gestudeer het. Hy het kort tevore in die gebied ingetrek en het met graagte hulle aanbod aanvaar om sy Bybelstudie te hervat.

Almal wat aanhou om opofferinge in Jehovah se diens te maak, weet dat ‘God nie onregverdig is sodat hy hulle werk sal vergeet en die liefde wat hulle vir sy naam getoon het nie’ (Heb. 6:10). Net soos die menseliggaam baie dele het wat elkeen die nodige voorsien, kan elke lid van die gemeente iets bydra tot die geestelike groei en prag daarvan. ‘God het die lede, elkeen van hulle, in die [gemeente] geplaas net soos dit hom behaag het’, en die samewerking van elke lid maak ‘al die ander lede bly’ (1 Kor. 12:18, 26). Hierdie harmoniese samewerking onder “God se medewerkers” bring heerlikheid aan Jehovah, wat “dit deurentyd laat groei”.—1 Kor. 3:6, 9.

WETLIKE BEVESTIGING VAN DIE GOEIE NUUS

Jesus het vir sy apostels gesê: “Julle sal weens my naam vir alle mense voorwerpe van haat wees” (Matt. 10:22). Ware dissipels kon verwag dat teenstanders ‘valslik allerhande goddelose dinge teen hulle sou sê ter wille van hom’ (Matt. 5:11). Hoe het Christus se hedendaagse dissipels te werk gegaan om ‘die goeie nuus wetlik te bevestig’?—Fil. 1:7.

Armenië

Tussen April 2007 en April 2008 het doeanebeamptes in Armenië geweier om die meer as sewe ton Bybels en Bybellektuur wat teruggehou is, vry te stel tensy ’n buitensporige belasting betaal word. Die eerste besending lektuur is uiteindelik in April 2008 aan die broers vrygestel nadat die belasting onder protes betaal is, terwyl ander besendings nog steeds teruggehou word. Die broers doen regstappe om hierdie kwessie op te los.

Kazakstan

Twee broers van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies wat Kazakstan besoek het om medeaanbidders geestelik te verkwik, is ná ’n spesiale vergadering in Almaty in hegtenis geneem. Hulle is by die polisiestasie aangehou, ondervra en daarna voor ’n regter van ’n administratiewe hof gebring, wat hulle skuldig bevind het aan “sendingwerk”. Hoewel hulle later vrygelaat is, word pogings aangewend om die skuldigbevinding van die twee broers nietig te laat verklaar. Korter gelede het owerhede klopjagte op ons broers se huise uitgevoer om vergaderinge vir gebed en Bybelstudie te ontwrig. Howe het die godsdiensbedrywighede van drie wetlik geregistreerde gemeentes tydelik verbied, en wetstoepassingsinstansies het herhaaldelik die teokratiese bedrywighede in ’n gebied noord van die Kaspiese See ontwrig.

Tadjikistan

Die Godsdiensgemeenskap van Jehovah se Getuies in Tadjikistan is in 1994 wetlik geregistreer, wat hulle toelaat om vir aanbidding te vergader. Maar op 11 Oktober 2007 het die Departement van Kultuur ’n beslissing uitgevaardig wat die aanbidding van Jehovah se Getuies verbied. Die broers probeer aan die owerheid bewys dat Jehovah se Getuies vredeliewende mense is wat geen bedreiging vir die openbare orde inhou nie.

Oesbekistan

Die situasie van Jehovah se Getuies in Oesbekistan versleg nog steeds. Vroeg in 2008 is een van Jehovah se Getuies tot vier jaar in ’n strafkamp gevonnis omdat hy sy geloof beoefen het. Ander is in hegtenis geneem, aangehou, skuldig bevind en beboet omdat hulle wetgewing in verband met godsdiensorganisasies asook regulasies in verband met die bekendmaking van godsdiensoortuigings geskend het. Vergaderinge is ontwrig, privaat huise is deursoek, lektuur is gekonfiskeer en verkondigers is aangehou. Baie van ons broers en susters is deur polisiebeamptes uitgeskel en mishandel.

’n Aantal amptenare uit hierdie gebied het erken dat die plaaslike geestelikes agter hierdie gemene dade sit. Ons hou aan bid dat die owerheid binnekort sal insien hoe onvanpas hulle dade is en ons broers en susters sal toelaat om voort te gaan “om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei”.—1 Tim. 2:1, 2.

Griekeland

Twee gunstige beslissings is in die hooggeregshof in Griekeland gelewer in verband met die reg van individue om op grond van hulle godsdiensoortuigings as gewetensbeswaardes erken te word. Konstantinos Kotidis het in die Sowjetunie se weermag gedien jare voordat hy na Griekeland verhuis en een van Jehovah se Getuies geword het. Toe die owerheid broer Kotidis vir diensplig oproep, het hulle geweier om hom toe te laat om alternatiewe burgerlike diens te doen. Hulle het aangevoer dat hy geen gronde het om te beweer dat hy ’n gewetensbeswaarde is nie omdat hy voorheen in die leër was. Maar die Staatsraad het beslis dat ’n individu wat militêre diens gedoen het en wie se godsdienstige gewete later verander, daarna as ’n gewetensbeswaarde erken kan word en toegelaat kan word om alternatiewe burgerlike diens te doen.

In ’n ander saak is Stylianos Ioannidis werk in ’n staatsdepartement geweier omdat hy in die tronk was as ’n gewetensbeswaarde en dus nie sy militêre verpligtinge nagekom het nie. Die Staatsraad het egter beslis dat gewetensbeswaardes, nadat hulle hulle tronkstraf uitgedien het, van militêre diens vrygestel kan word. Die hof het verder verklaar dat hulle militêre verpligtinge ook permanent afgehandel is en dat dit hulle dus geensins daarvan sou verhinder om ’n aanstelling in ’n staatsdepartement te ontvang nie. Dit is die eerste keer dat die Staatsraad uitspraak gelewer het op presies dieselfde gronde, naamlik godsdiensvryheid, as wat die Europese Hof van Menseregte gedoen het in ’n ander saak waarin een van Jehovah se Getuies werk geweier is omdat hy as ’n gewetensbeswaarde skuldig bevind is.

Eritrea

Ons broers en susters in Eritrea verduur steeds wrede, onregverdige behandeling. Die owerheid hou ’n aantal Getuies van Jehovah in gevangeniskampe aan, party onder haglike toestande. In Julie 2008 is nog ses broers in hegtenis geneem, onder andere ’n paar ouer manne wat die leiding neem in hierdie land. Ondanks onvermoeide pogings en ’n internasionale beroep op verligting bly die regering vasbeslote om die aanbidding van die ware God, Jehovah, teë te staan.

Suid-Korea

Vooruitgang word gemaak in Suid-Korea, waar die regering geweier het om die basiese mensereg op gewetensbeswaar teen militêre diens te erken. Meer as 13 000 van ons broers het oor die afgelope 50 jaar tronkvonnisse uitgedien, en omtrent 500 is tans in die tronk. Hulle standvastigheid en Christelike gedrag is ’n uitstekende getuienis vir tronk- en regeringsowerhede, en dit behaag ons God Jehovah (1 Pet. 2:20). Tot dusver is 488 aansoeke by die Verenigde Nasies se Komitee vir Menseregte ingedien, wat in 2006 ’n gunstige uitspraak in twee aansoeke gelewer het. Intussen hoop ons broers dat die regering sy voorneme sal uitvoer om ’n wet uit te vaardig wat aanvaarbare alternatiewe burgerlike diens moontlik maak.

Rwanda

In April 2008 moes al die onderwysers in Rwanda, insluitende baie wat Jehovah se Getuies is, ’n seminaar bywoon. Geen uitsonderings is gemaak vir enigiemand wat nie aan bedrywighede wou deelneem wat hulle Bybelopgeleide gewete skend nie. Gevolglik is ongeveer 215 Getuies wat geweier het om dit by te woon, uit hulle poste ontslaan, en twee susters was ’n paar weke lank in die tronk. Die seminaar het politieke en militêre sake ingesluit, en dié wat dit bygewoon het, is beveel om aan politieke aktiwiteite en nasionalistiese seremonies deel te neem. Enigiemand wat die seminaar probeer verlaat het, is deur die leër verhoed. Sedertdien is 90 kinders van Jehovah se Getuies uit die skool geskors omdat hulle weier om die volkslied te sing of die vlag te salueer. Ons vertrou dat Jehovah ons broers en susters en hulle kinders sal versterk om hulle onkreukbaarheid te handhaaf ten spyte van hierdie onlangse vlaag van vervolging.

Spanje

Die regering in Spanje het ’n koninklike verordening goedgekeur rakende Jehovah se Getuies in spesiale voltydse diens, soos lede van die Bethelgesin en reisende opsieners. Die amptelike kennisgewing erken spesiale voltydse dienaars as “geordende bedienaars . . . wat hulle uitsluitlik toewy aan sending- of herderlike werk, aan godsdiensonderrig of daarbenewens aan ander belangrike aktiwiteite wat die oogmerke van die godsdiens steun”. Hierdie verordening kom op ’n tyd wanneer die owerheid in party lande dit bevraagteken of spesiale voltydse dienaars van Jehovah se Getuies werklik bedienaars is wat geregtig is op die voordele wat bedienaars van ander godsdiensgroepe ontvang.

EUROPESE HOF VAN MENSEREGTE

Altesaam 24 aansoeke van Jehovah se Getuies in Armenië, Azerbaidjan, Frankryk, Georgië, die Oekraïne, Oostenryk, Rusland en Turkye wat ingedien is by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) in Straatsburg, Frankryk, is nog nie afgehandel nie. Die aansoeke hou verband met basiese menseregte van burgers onder die jurisdiksie van die Europese Konvensie oor Menseregte, soos die reg om militêre diens te weier weens persoonlike gewetensbeswaar. Ander aansoeke handel oor godsdiensvervolging en -diskriminasie, die deregistrasie van of verbod op ’n regspersoon wat deur Jehovah se Getuies gebruik word om die werk te organiseer, staatsinmenging in die reg om vreedsaam vir aanbidding te vergader, asook die reg van ’n Getuie-ouer om haar kind as een van Jehovah se Getuies groot te maak.

Oostenryk

’n Gunstige uitspraak is op 31 Julie 2008 deur die EHMR gelewer in die saak Jehovah se Getuies v. Oostenryk. Die hof het beslis dat Oostenryk se godsdienswet Jehovah se Getuies se reg op godsdiensvryheid skend deur vas te hou aan ’n tweevlakstelsel, wat ’n klas van minderwaardige godsdienste en gevolglik ’n klas van minderwaardige burgers skep. Hierdie beslissing kom nadat ons broers 30 jaar lank probeer het om die status van ’n erkende godsdiensgenootskap in Oostenryk te verkry. Die hof het beslis: “[’n Lang wagtyd] lyk nouliks geregverdig in die geval van godsdiensgroepe wat al jare lank internasionaal bestaan en ook lank reeds in dié land gevestig is en derhalwe bekend is aan die bevoegde owerhede, soos in die geval van Jehovah se Getuies.” Daar word nou van die Oostenrykse regering verwag om die huidige regsituasie aan te pas, wat dit vir ons broers moontlik kan maak om dieselfde regte as die groot godsdienste in Oostenryk te geniet.

Azerbaidjan

In November 2007 is ’n aansoek by die EHMR ingedien met bewerings dat die polisie ons reg op godsdiensvryheid geskend het. Hoewel Jehovah se Getuies wetlik geregistreer is in Azerbaidjan, is daar ’n kommerwekkende toename in inhegtenisnemings en die mishandeling van ons broers. Groot groepe gewapende polisiemanne het vreedsame vergaderinge van Jehovah se Getuies ontwrig en lektuur en privaat besittings gekonfiskeer, die aanwesiges in hegtenis geneem en aangehou, asook broers en susters uitgeskel en aangerand. Omdat die polisieklopjagte voortgaan, het die hof die dringendheid van die situasie erken en hulle ondersoek van die saak bespoedig. Ons hoop dat ons broers binnekort vreedsaam sal kan vergader sonder vrees vir inmenging deur die polisie.

Frankryk

In Februarie 2005 is ’n aansoek by die EHMR ingedien aangaande die onregverdige en onwettige belasting wat die Franse regering aan die Vereniging van Jehovah se Getuies in Frankryk opgelê het. Ons wag nog om te sien of die hof sal instem om die saak te ondersoek. Intussen het teenstanders ons oortuigings in so ’n mate verkeerd voorgestel dat dit gelei het tot ongeveer 70 voorvalle van vandalisme by Koninkryksale gedurende die afgelope jaar. Nietemin bly die broers in Frankryk hoopvol dat die hof binnekort sal beslis dat die regering diskriminerend opgetree het, wat verligting sal bring vir Jehovah se Getuies in hierdie land.

Rusland

In Desember 2001 het Jehovah se Getuies in Rusland ’n aansoek by die EHMR ingedien om ’n klag te lê teen herhaalde kriminele en siviele sake wat teen die godsdiensgemeenskap van Jehovah se Getuies aanhangig gemaak word. In Junie 2004 het die Moskouse Stadshof die uitspraak van ’n laer hof gehandhaaf om die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Moskou te verbied en hulle regspersoon te ontbind. Oor die algemeen kan die broers in Moskou nog steeds vir aanbidding vergader en die goeie nuus van die Koninkryk verkondig. Maar daar was al baie voorvalle van amptelike ontwrigting van vergaderinge en byeenkomste, sowel as ander dade van mishandeling teen ons broers en susters in Moskou en op ander plekke in Rusland. Byvoorbeeld, in Julie het brandstigters in die dorp Tsjechof, sowat 60 kilometer suid van Moskou, ’n Koninkryksaal vernietig. Hoewel die brandweer onmiddellik ontbied is, het ooggetuies vertel dat die brandweermanne nie veel gedoen het om die vuur onder beheer te kry nie, en die polisie het tot dusver geweier om die saak te ondersoek. Ten spyte van die moeilikhede en teenstand bly ons broers en susters in Rusland getrou en wend hulle hulle tot Jehovah vir ondersteuning.

Jehovah belowe dat geen wapen wat teen sy knegte gesmee word, sukses sal hê nie (Jes. 54:17). Selfs die ongunstigste omstandighede kan tot “die vooruitgang van die goeie nuus” lei. God se knegte is dus vasbeslote om aan te hou om ‘in een gees vas te staan, met een siel sy aan sy vir die geloof van die goeie nuus te stry en in geen opsig deur hulle teenstanders bang gemaak te word nie’ (Fil. 1:12, 16, 18, 27, 28). ‘Hou aan om te bid’ vir ons broers en susters regoor die aarde terwyl hulle hulle geloof stel in Jehovah, hulle “vesting en die Een wat . . . ontkoming verskaf”.—2 Tess. 3:1; Ps. 18:2.

TAKTOEWYDINGS

Daar was groot vreugde by die tak in Suid-Afrika op Saterdag 10 November 2007, toe ongeveer 4 000 broers en susters byeengekom het vir die toewyding van ’n vergrote drukkery, eetsaal en woongebou.

Besoekers aan die uitgebreide drukkery was verheug om te sien hoe die MAN Roland Lithoman-drukpers Bybels en Bybelpublikasies by die tienduisende druk. Die nuwe boekbindery het reeds meer as eenmiljoen eksemplare van die Nuwe Wêreld-vertaling in 16 Afrikatale geproduseer. Gaste is die vergrote versendingsafdeling gewys, waar die tak Bybellektuur berg wat deur bykans 8 000 gemeentes in tien lande in Suider-Afrika gebruik word.

’n Nuwe deel van die takfasiliteite in Nigerië is op 7 Junie 2008 in Lagos, 360 kilometer suidwes van die Bethelkompleks in Igieduma, toegewy. Die Lagos-kantoor bestaan uit ’n woongebou met 24 kamers, ’n pakhuis en ’n kantoorgebou. Baie van die tak se sake word in Lagos, die land se ekonomiese hoofstad, behartig. Die nuwe fasiliteite huisves Betheliete wat besendings by die hawe afhaal en aankope vir die tak doen, sowel as ander wat by die lughawe aankom en daarvandaan vertrek. Die Lagos-kantoor dien ook as ’n tydelike ligging vir die Bedieningsopleidingskool totdat bouwerk aan die takuitbreiding by Igieduma voltooi is. Jehovah se seën kan waarlik op die predikingswerk in Afrika gesien word, soos ook aardwyd die geval is.

TOEGERUS OM GOD SE WIL TE DOEN

Hoe dankbaar is ons tog teenoor Jehovah dat hy ons toerus “met alle goeie dinge . . . om sy wil te doen en deur middel van Jesus Christus in ons verrig wat in sy oë welbehaaglik is” (Heb. 13:21). Omdat Jehovah bewys het dat hy die Een is wat “oneindig meer kan doen as alles wat ons vra of wat ons ons voorstel”, verklaar ons heelhartig: “Aan hom die heerlikheid deur middel van die gemeente en deur middel van Christus Jesus tot in alle geslagte, vir ewig en altyd.”—Ef. 3:20, 21.

[Venster op bladsy 25]

Die registrasie van ’n godsdiens—Waarom en hoe?

Die proses om ’n godsdiens te registreer, verskil van land tot land. Party lande, soos Armenië en Azerbaidjan, het spesifieke wette wat ’n godsdiensvereniging toelaat om aansoek te doen om wetlike registrasie en erkenning. As die aansoek goedgekeur word, word die godsdiensvereniging as ’n amptelike godsdiens in daardie land erken. In ander lande is daar twee soorte registrasies. Die eerste soort is vir hoofstroomgodsdienste. Hierdie klassifisering bring baie voordele mee, soos vrystelling van sekere belastings. Die tweede soort is gewoonlik vir kleiner, nuwer en nietradisionele godsdiensgroepe.

Ander lande, soos Georgië en die Verenigde State van Amerika, het geen spesifieke wetgewing in verband met die registrasie van godsdienste nie. In sulke gevalle verseker die grondwet godsdiensvryheid vir almal. Hoewel daar geen amptelike erkenning van ’n individuele godsdiensgroep is nie, kan ’n groep aansoek doen om ’n regspersoon te registreer. As die groep suksesvol is, kan hulle dan daardie regspersoon gebruik om hulle bedrywighede uit te voer, soos om publikasies te druk en uit te gee asook eiendom te besit.

[Kaart op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

OOSTENRYK

FRANKRYK

SPANJE

GRIEKELAND

ERITREA

RWANDA

ARMENIË

AZERBAIDJAN

RUSLAND

KAZAKSTAN

OESBEKISTAN

TADJIKISTAN

SUID-KOREA

[Prent op bladsy 11]

Die Luo-sprekende Siaya-gemeente

[Prent op bladsy 13]

Die “Nuwe Wêreld-vertaling” is in sy geheel of gedeeltelik in meer as 70 tale beskikbaar

[Prent op bladsy 22]

Konstantinos Kotidis

[Prent op bladsy 22]

Stylianos Ioannidis

[Prent op bladsy 29]

Nuwe woongebou in Lagos, Nigerië

[Prent op bladsy 29]

Drukkery, Suid-Afrikaanse tak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel