Hoe jy ware liefde kan vind
Wat kan jy doen om liefde te vind en meer geliefd te wees, en nie net in romantiese sin nie? Moet jy ryk word? Of dalk jou voorkoms verbeter?
MANS sowel as vroue wat mislei word deur reklame en beïnvloed word deur die media, beskou dikwels sulke doelwitte as oplossings. Dit is net natuurlik en gepas om besorg te wees oor hoe ons lyk, maar skoonheid—wat hoogstens tydelik is—is nie die sleutel tot langtermynverhoudings nie. So ook nie rykdom nie. Wat wel help, is om onselfsugtige liefde aan ander te betoon. “Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee”, het Jesus geleer (Lukas 6:38). Kortom, as jy geliefd wil wees, moet jy liefde betoon.
Hoe kan ons dit doen? Terwyl die apostel Paulus onder leiding van God se heilige gees geskryf het, het hy hierdie vraag beantwoord. Hy het geopenbaar dat liefde dinamies is, dat dit nie deur emosies gekenmerk word nie, maar hoofsaaklik deur wat dit vir ander doen en wat dit nie doen nie. Let op Paulus se woorde: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.”—1 Korintiërs 13:4-7.
Hoe voel jy wanneer iemand goedhartig is teenoor jou of wanneer hy of sy jou aanvaar ondanks die irriterende dingetjies wat jy dalk sê of doen? Jy voel sekerlik aangetrokke tot iemand wat opreg besorg oor jou is, wat nie vinnig kwaad word nie en wat vergewensgesind en waarheidliewend is, selfs wanneer vergifnis en eerlikheid nie maklik is nie.
Tree dus so teenoor ander op. Jesus het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Dit is nie altyd maklik om liefde te betoon nie, maar dit is nietemin die moeite werd. Om maar een ding te noem, jou familie, vriende, huweliksmaat of toekomstige huweliksmaat sal jou liewer hê. Jy sal ook geluk smaak omdat jy die regte ding doen deur van jouself aan ander te gee. Ja, “dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”.—Handelinge 20:35.
Leer liefde by die hoogste gesag
Jehovah is die God van liefde, die hoogste gesag op dié gebied (1 Johannes 4:8). Sy liefde beweeg hom om hierdie eienskap aan almal wat gewillig is, te leer. Kyk na ’n paar voorbeelde van Bybelbeginsels wat ons help om ander lief te hê en geliefd te wees.
“Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). ’n Opname van meer as 20 000 paartjies het getoon dat die gelukkigste mense diegene is wie se metgeselle goeie luisteraars is. Goeie kommunikasie is noodsaaklik in ’n verhouding. ’n Professor in sosiologie het geskryf: “As jy alleen wil voel in ’n verhouding, moet jou maat iemand wees wat nie die vaagste benul het wat jy deurmaak nie. Of nog erger, iemand wat wel weet wat jy deurmaak, maar nie kan verstaan wat jou probleem nou eintlik is nie.” Ongeag die feit dat daar heelwat verskille tussen twee mense is, voeg sy by dat “daardie verskille onbelangrik is as jou maat jou uitkyk op die lewe en hoe jy die lewe ervaar, in ag neem”.
“Julle het te min ruimte in julle eie tere geneenthede. . . . Word [verruim]” (2 Korintiërs 6:12, 13). Ons vind baat daarby wanneer ons in ons liefde vir ander verruim word. ’n Publikasie van die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit sê: “Tientalle studies het al getoon dat mense wat sosiale ondersteuning het—dit wil sê bevredigende verhoudings met familie, vriende en met mense in hulle gemeenskap—gelukkiger is, minder gesondheidsprobleme het en langer lewe.”
“Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Hebreërs 10:24, 25). Ons vriende het ’n invloed op ons. As jy tyd saam met diegene deurbring wat opregte Christelike liefde betoon, sal jy hierdie eienskap eerstehands ondervind en leer hoe jy dit in jou lewe aan die dag kan lê. Jehovah se Getuies probeer om sulke liefde onder mekaar te openbaar, in die wete dat dit ’n kenmerk is van Jesus se ware dissipels (Johannes 13:35). Jy is baie welkom om hulle Christelike vergaderinge by te woon.
As jy ongeliefd voel, moenie ontmoedig raak of jouself veroordeel nie. Hou in gedagte dat Jehovah jou situasie sien. Onthou jy Lea, wat in die eerste artikel van hierdie reeks gemeld is? Jehovah het ag geslaan op haar situasie, en sy het die moeder van ses seuns en een dogter geword—’n ryk seën in ’n tyd toe daar soveel waarde aan kinders geheg is! Boonop het al Lea se seuns stamvaders van Israel geword (Genesis 29:30-35; 30:16-21). Hoe vertroostend moes God se liefdevolle besorgdheid tog vir Lea gewees het!
In die nuwe wêreld wat in die Skrif belowe word, sal niemand ongeliefd voel nie. Ware liefde sal eerder deur die hele mensegemeenskap weerspieël word (Jesaja 11:9; 1 Johannes 4:7-12). Laat ons dus nou toon dat ons daar wil wees deur die liefde aan te kweek wat in die Bybel geleer word en wat deur die Outeur daarvan geopenbaar word. Ja, ware vreugde hang nie net daarvan af of ons geliefd is nie, maar ook of ons onselfsugtige liefde aan ander betoon.—Matteus 5:46-48; 1 Petrus 1:22.
[Lokteks op bladsy 8]
“Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35
[Prent op bladsy 8]
As jy geliefd wil wees, moet jy liefde betoon