Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 1/22 bl. 16-19
  • Leeus—Afrika se majestueuse maanhaarkatte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leeus—Afrika se majestueuse maanhaarkatte
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Fassinerende dier
  • Simbaa—’n sosiale kat
  • Die jagter
  • Die prooi
  • Waarom doen hulle dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Kan mens en dier in vrede lewe?
    Ontwaak!—1991
  • Daniël in die leeukuil
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 1/22 bl. 16-19

Leeus—Afrika se majestueuse maanhaarkatte

DEUR “ONTWAAK!”-MEDEWERKER IN KENIA

DIE son kom op oor die Serengeti-vlakte in Afrika. In die koel oggendlug sit ons in ons Land Rover en hou ’n trop leeuwyfies en hulle welpies dop. Hulle geelbruin velle is glad en goudkleurig en smelt goed saam met die lang, droë gras. Die jong welpies is spelerig en vol energie. Hulle spring en speel om die groot liggame van die wyfies, wat hulle blykbaar nie veel aan hulle manewales steur nie.

Skielik is die trop doodstil. Alle oë draai en staar die verte in. Vanaf ons verhewe uitkykpunt volg ons hulle blik en sien ons wat hulle aandag trek. In die môrelig word die indrukwekkende gestalte van ’n tamaai leeumannetjie sigbaar. Ons oë ontmoet terwyl hy na ons staar. Ons ril, nie van die fris oggendluggie nie, maar omdat ons besef dat hy na ons kyk. Sy voorkoms is skrikwekkend en tog pragtig. Om sy enorme kop het hy ’n welige bos goue maanhare met donker strepe tussenin. Sy groot oë is geel en wakker. Sy gesin trek egter sy aandag, en sy blik verskuif stadig na hulle en hy begin in hulle rigting aanstap.

Sy stap is statig, selfs koninklik. Sonder om weer na ons te kyk, loop hy reg voor ons voertuig verby na die wyfies en hulle welpies. Hulle staan almal op om hom te groet, en een vir een vryf hulle hulle gesigte teen syne in ’n tipiese katgroet. Die mannetjie loop tot in die middel van die trop, en asof hy pootuit is ná sy wandeling val hy neer en rol op sy rug. Sy lomerigheid is aansteeklik, en nie lank daarna nie sluimer die hele trop in onder die eerste strale van die warm oggendson. Voor ons sien ons ’n prentjie van rustigheid en tevredenheid, teen die agtergrond van die goue, wuiwende gras van die oop vlakte.

’n Fassinerende dier

Daar is seker geen dier wat die mens se verbeelding so aangryp soos die leeu nie. Lank gelede het Afrikakunstenaars rotswande versier met tekeninge van leeus wat hulle prooi jag. Antieke paleise en tempels was met groot klipbeelde van maanhaarleeus versier. Vandag stroom mense na dieretuine om hierdie fassinerende katte te sien. Die leeu is opgehemel in boeke en rolprente soos Born Free, ’n ware verhaal van ’n leeuwelpie wat in gevangenskap grootgemaak en uiteindelik vrygelaat is. En in verhale—deels fabel en deels feitelik—word die leeu ook as ’n wrede mensvreter uitgebeeld. Dit is geen wonder dat die leeu steeds ’n fassinerende dier is nie!

Leeus kan uiters wreed wees en, soms, so sagmoedig en spelerig soos katjies. Hulle grom saggies wanneer hulle tevrede is, en tog kan hulle so geweldig hard brul dat dit agt kilometer ver gehoor kan word. Soms kom hulle lui en dooierig voor, maar hulle het die vermoë om met verbasende spoed te beweeg. Die mens het die leeu verewig weens sy moed, en daar word van ’n dapper persoon gesê dat hy leeuemoed het.

Simbaa—’n sosiale kat

Leeus is van die sosiaalste katte. Hulle floreer in groot familiegroepe, of troppe, wat uit net ’n paar lede of tot oor die 30 kan bestaan. Die trop bestaan uit ’n groep leeuwyfies wat nou verwant kan wees. Hulle lewe, jag en kry hulle kleintjies saam. Hierdie hegte band, wat ’n leeftyd kan duur, voorsien die grondslag van die leeufamilie en verseker dat dit voortbestaan.

Elke trop het een of meer volgroeide leeumannetjies wat die trop se gebied patrolleer en afbaken. Van die punt van hulle swart neus tot by die punt van hulle stertkwas kan hierdie pragtige diere oor die drie meter lank word, en hulle kan meer as 225 kilogram weeg. Hoewel die mannetjies die trop oorheers, is dit die wyfies wat die leiding neem. Dit is die leeuwyfies wat gewoonlik aktiwiteite aan die gang sit, soos om na ’n skadukol te beweeg of ’n jagtog aan te pak.

Leeuwyfies kry gewoonlik elke twee jaar kleintjies. Leeuwelpies word heeltemal hulpeloos gebore. Die grootmaak van die kleintjies is ’n gesamentlike projek, en al die wyfies sal die kleintjies in die trop beskerm en soog. Kleintjies groei vinnig; ná twee maande hardloop en speel hulle al. Hulle rol oor mekaar soos katjies terwyl hulle stoei, hulle speelmaats bespring en in die lang gras baljaar. Alles wat beweeg, fassineer hulle, en hulle sal na skoenlappers gryp, insekte jaag en met stokke en rankplante stoei. Die onweerstaanbaarste beweging is dié van hulle ma se stert, wat sy doelbewus rondswaai om hulle aan te moedig om te speel.

Elke trop bly binne ’n vasgestelde gebied wat talle hektaar kan beslaan. Leeus hou van hoogtes waar daar volop water asook skadu teen die warm middagson is. Daar lewe hulle tussen die olifante, kameelperde, buffels en ander diere van die vlakte. Die lewe van die leeu bestaan uit lang ure van slaap en korter tydperke waartydens hulle jag en paar. Trouens, leeus kan ’n ongelooflike 20 uur per dag rus, slaap of sit. Wanneer hulle vas aan die slaap is, lyk hulle vreedsaam en mak. Maar moenie mislei word nie—die leeu is een van die wreedste wilde diere!

Die jagter

In die laatmiddag begin die warm grasveld afkoel. Die drie leeuwyfies van die trop wat ons besig is om dop te hou, begin uit hulle middagslapie ontwaak. Weens hulle hongerpyne begin die katte rondbeweeg en die lug te snuif terwyl hulle uitkyk oor die grasveld wat besig is om te vergeel. Dit is die hoogtepunt van die wildebeestrek, en suid van ons is daar tienduisende van hierdie koddige lomp diere wat vreedsaam wei. Die drie katte beweeg nou in daardie rigting. Hulle sprei uit oor ’n wye gebied en sluip stilletjies oor die ruwe terrein. Die geelbruin katte is byna onsigbaar in die lang gras en beweeg tot 30 meter van die niksvermoedende trop. Dit is toe dat die katte besluit om tot aksie oor te gaan. Met ’n blitsige vaart storm hulle tussen die massa verskrikte wildebeeste in. Die trop laat spat in alle rigtings, en vlug met verwilderde oë vir hulle lewe. Honderde donderende hoewe vertrap die aarde en skop ’n rooi stofwolk op. Nadat die stof weggewaai het, sien ons die drie leeuwyfies uitasem eenkant staan. Hulle prooi het ontsnap. Dalk sal daar vanaand nog ’n geleentheid wees om te jag, of dalk nie. Al is hulle so rats en vinnig, is leeus net 30 persent van die tyd suksesvol wanneer hulle jag. Verhongering is dus vir leeus een van die grootste bedreigings.

Die krag van ’n volgroeide leeu is merkwaardig. Wanneer hulle as ’n trop jag, het hulle al diere platgetrek en doodgemaak wat oor die 1 300 kilogram weeg. Aan die begin van die jaagtog kan leeus ’n spoed van tot 59 kilometer per uur bereik, maar hulle kan nie daardie spoed lank volhou nie. Gevolglik maak hulle van bekruip-en-voorlê-tegnieke gebruik om hulle maaltye te kry. Leeuwyfies doen 90 persent van die jagwerk, maar dit is die groter mannetjies wat gewoonlik die leeuedeel kry. Wanneer wild skaars is, is leeus soms so honger dat hulle hulle eie welpies van die karkas sal verjaag.

Die prooi

Lank gelede het die majestueuse leeu oor die hele Afrika en in dele van Asië, Europa, Indië en Palestina voorgekom. As ’n jagter is hy in mededinging met die mens. Omdat hy ’n bedreiging vir vee en mense inhou, het die leeu ’n dier geword wat met die eerste oogopslag geskiet word. Aangesien mense so toegeneem het, is die leeu se habitat nou aansienlik kleiner. Buite Afrika is daar vandag net ’n paar honderd leeus in die natuur oor. Leeus is vandag net veilig binne die grense van beskermde gebiede en natuurreservate.

Gelukkig sal daar in die toekoms veranderinge plaasvind wat vir hierdie pragtige dier voordeel sal inhou. Die Bybel beskryf ’n tyd in die toekoms wanneer die leeu in vrede met die mens sal lewe (Jesaja 11:6-9). Ons liefdevolle Skepper sal dit binnekort ’n werklikheid maak. Dan sal Afrika se majestueuse maanhaarkat in harmonie en vrede met die res van die skepping lewe.

[Voetnoot]

a Simba is die Swahili-woord vir “leeu”.

[Venster/Prent op bladsy 19]

Wanneer die leeu BRUL

LEEUS is bekend vir hulle unieke vermoë om so geweldig hard te brul dat dit kilometers ver gehoor kan word. Die brul van ’n leeu word as een van “die indrukwekkendste natuurgeluide” beskou. Leeus brul gewoonlik gedurende die nag en met dagbreek. Leeumannetjies sowel as -wyfies brul, en soms sal die hele trop saam brul.

Wetenskaplikes wat leeus bestudeer, is van mening dat leeus verskeie dinge bereik deur te brul. Leeumannetjies sal brul om hulle gebiedsgrense bekend te maak en, as ’n teken van aggressie, om ander leeumannetjies wat dalk hulle gebied betree te waarsku. Dit is dus gepas dat die Bybel na die aggressiewe, trotse en gierige Assiriese en Babiloniese heersers verwys het as brullende “jong leeus” wat God se volk met geweld teëgestaan en opgeëet het.—Jesaja 5:29; Jeremia 50:17.

Deur te brul, kan lede van die trop mekaar opspoor wanneer hulle deur afstand of die donker geskei word. Nadat iets gevang is, laat hierdie gebrul die ander lede van die trop weet waar die maaltyd op hulle wag. Die Bybel verwys na hierdie kenmerkende gedrag en sê: “Sal ’n jong leeu sy stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie?”—Amos 3:4.

Dit is verbasend dat leeus, wanneer hulle wilde diere jag, nie hulle brul gebruik as ’n jagstrategie om hulle prooi mee bang te maak nie. In sy boek The Behavior Guide to African Mammals sê ­Richard Estes dat daar “geen aanduiding is dat leeus doelbewus brul om hulle prooi in ’n hinderlaag te jaag nie (uit my ondervinding ignoreer die prooi gewoonlik ’n leeu se gebrul)”.

Waarom verwys die Bybel dan na Satan as ’n ‘brullende leeu wat daarop uit is om iemand te verslind’? (1 Petrus 5:8). Hoewel wilde diere blykbaar nie deur die leeu se brul verskrik word nie, is dit nie die geval met die mens en sy vee nie. Die vreesaanjaende klank van die leeu se gebrul, wat in die donkerte van die nag weergalm, sal enigeen verskrik en bang maak wat nie agter die beskerming van ’n geslote deur is nie. Lank gelede is daar tereg opgemerk: “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie?”—Amos 3:8.

Satan kan vrees goed gebruik om mense te intimideer om hulle aan hom te onderwerp. Gelukkig het God se volk ’n baie kragtige medestryder aan hulle kant. Met sterk geloof in Jehovah se ondersteuning kan hulle hierdie kragtige “brullende leeu” weerstaan. Christene word aangemoedig om ‘hom te weerstaan, vas in die geloof’.—1 Petrus 5:9.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel