Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 181-186
  • Bybelboek nommer 41—Markus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 41—Markus
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN MARKUS
  • WAAROM NUTTIG
  • Markus—“Nuttig om diens te verrig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Markus het nie tou opgegooi nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Glanspunte uit die boek Markus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Bybelboek nommer 40—Mattheüs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 181-186

Bybelboek nommer 41—Markus

Skrywer: Markus

Waar geskryf: Rome

Geskrif voltooi: ca. 60–65 G.J.

Beskrewe tydperk: 29–33 G.J.

1. Wat is bekend oor Markus en sy familie?

TOE Jesus in Getsemane gearresteer is en sy apostels gevlug het, is hy deur “’n sekere jongman met ’n linnedoek om sy naakte lyf” gevolg. Toe die skare hom ook probeer gryp, het hy “die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug”. Daar word algemeen aangeneem dat hierdie jongman Markus was. Hy word in Handelinge beskryf as “Johannes wat ook Markus genoem word” en het moontlik uit ’n welgestelde gesin in Jerusalem gekom, want hulle het hulle eie huis en bediendes gehad. Sy moeder, Maria, was ook ’n Christen, en die vroeë gemeente het haar huis as ’n vergaderplek gebruik. Toe Petrus deur die engel uit die gevangenis bevry is, het hy na hierdie huis gegaan en die broers daar byeen aangetref.—Mark. 14:51, 52; Hand. 12:12, 13.

2, 3. (a) Wat het Markus ongetwyfeld aangespoor om die sendingdiens te betree? (b) Watter omgang het hy met ander sendelinge, in die besonder Petrus en Paulus, gehad?

2 Die sendeling Barnabas, ’n Leviet van Ciprus, was Markus se neef (Hand. 4:36; Kol. 4:10). Toe Barnabas saam met Paulus in verband met hongernoodleniging na Jerusalem gekom het, het Markus Paulus ook leer ken. Hierdie omgang in die gemeente en met ywerige besoekende bedienaars het ongetwyfeld die begeerte vir sendingwerk by Markus gewek. Ons tref hom dus aan as metgesel en dienaar van Paulus en Barnabas op hulle eerste sendingreis. Maar om die een of ander rede het Markus hulle in Perge, Pamfilië, verlaat en na Jerusalem teruggekeer (Hand. 11:29, 30; 12:25; 13:5, 13). As gevolg hiervan het Paulus geweier om Markus op die tweede sendingreis saam te neem, en dit het tot ’n breuk tussen Paulus en Barnabas gelei. Paulus het Silas geneem terwyl Barnabas sy neef Markus geneem en met hom na Ciprus gevaar het.—Hand. 15:36-41.

3 Markus het getoon dat hy ’n goeie bedienaar is en het nie net vir Barnabas nie maar later ook vir die apostels Petrus en Paulus ’n waardevolle helper geword. Markus was by Paulus (ca. 60-61 G.J.) gedurende sy eerste gevangenskap in Rome (Fil. 1, 24). Dan tref ons Markus tussen die jare 62 en 64 G.J. by Petrus in Babilon aan (1 Pet. 5:13). Paulus bevind hom, waarskynlik in die jaar 65 G.J., weer eens as gevangene in Rome, en in ’n brief vra hy Timotheüs om Markus saam met hom te bring, want, sê hy, “hy kan my baie tot diens wees” (2 Tim. 1:8; 4:11). Dit is die laaste keer dat Markus in die Bybelverslag gemeld word.

4-6. (a) Hoe het Markus die intieme besonderhede vir sy Evangelie verkry? (b) Wat dui op sy noue omgang met Petrus? (c) Gee voorbeelde van Petrus se eienskappe in die Evangelie.

4 Die opstelling van hierdie Evangelie, wat die kortste van die Evangelies is, word aan hierdie Markus toegeskryf. Hy was ’n medewerker van Jesus se apostels en iemand wat sy eie lewe aan die verkondiging van die goeie nuus gewy het. Maar Markus was nie een van die 12 apostels nie, en hy was nie ’n regstreekse metgesel van Jesus nie. Waar het hy die intieme besonderhede gekry wat sy verslag van Jesus se bediening van begin tot einde waarlik laat lewe? Volgens die vroegste oorlewering van Papias, Origines en Tertullianus was Petrus hierdie bron. Markus het noue omgang met hom gehad.a Het Petrus hom nie “my seun” genoem nie? (1 Pet. 5:13). Petrus was ’n ooggetuie van feitlik alles wat Markus opgeteken het; dus kon hy talle beskrywende punte by Petrus verneem het wat in die ander Evangelies ontbreek. Markus vertel byvoorbeeld van “die gehuurde mense” wat vir Sebedeüs gewerk het, die melaatse wat ‘op die knieë geval’ en Jesus gesmeek het, die demonbesetene wat ‘homself met klippe stukkend geslaan’ het en dat Jesus sy profesie oor die ‘koms van die Seun van die mens met groot krag en heerlikheid’ gegee het terwyl hy op die Olyfberg, “regoor die tempel”, gesit het.—Mark. 1:20, 40; 5:5; 13:3, 26.

5 Petrus was ’n man met sterk emosies en kon dus Jesus se gevoelens en emosies begryp en aan Markus beskryf. Daarom vertel Markus dikwels hoe Jesus gevoel en gereageer het; byvoorbeeld dat hy “hulle rondom met toorn aangekyk het en tegelykertyd bedroef was”, dat hy diep ‘gesug’ het en dat hy ‘swaar in sy gees gesug het’ (3:5; 7:34; 8:12). Dit is Markus wat ons vertel van Jesus se gevoelens jeens die ryk jong heerser deur te sê dat hy hom “liefgekry” het (10:21). En watter hartlikheid vind ons tog in die verslag dat Jesus nie net ’n jong kind tussen sy dissipels laat staan het nie, maar ook ‘sy arms om hom geslaan het’, en dat hy by ’n ander geleentheid “die kinders in sy arms geneem het”!—9:36; 10:13-16, NW.

6 Party van Petrus se eienskappe kan in Markus se styl gesien word, wat impulsief, sprekend, kragtig, lewendig en beskrywend is. Dit lyk of hy gebeure skaars vinnig genoeg kan vertel. Die woord “dadelik” kom byvoorbeeld herhaaldelik voor en voer die verhaal op dramatiese trant voort.

7. Wat onderskei Markus se Evangelie van dié van Mattheüs?

7 Alhoewel Markus toegang tot die Evangelie van Mattheüs gehad het en slegs 7 persent van sy verslag materiaal is wat nie in die ander Evangelies voorkom nie, sou dit onjuis wees om te glo dat Markus bloot Mattheüs se Evangelie saamgevat en ’n paar spesiale besonderhede bygevoeg het. Terwyl Mattheüs Jesus as die beloofde Messias en Koning uitgebeeld het, beskou Markus nou sy lewe en dade vanuit ’n ander oogpunt. Hy beeld Jesus uit as die wonderdoenende Seun van God, die seëvierende Verlosser. Markus beklemtoon Christus se bedrywighede eerder as sy toesprake en leringe. Die verslag bevat net ’n paar van die gelykenisse en een van Jesus se langer toesprake, en die Bergpredikasie word uitgelaat. Dit is hoekom Markus se Evangelie korter is, hoewel dit net soveel aksie as die ander bevat. Ten minste 19 wonders word spesifiek genoem.

8. Watter aspekte dui daarop dat Markus se Evangelie blykbaar vir die Romeine geskryf is?

8 Terwyl Mattheüs sy Evangelie vir die Jode geskryf het, het Markus blykbaar hoofsaaklik vir die Romeine geskryf. Hoe weet ons dit? Die Wet van Moses word net gemeld wanneer ’n gesprek opgeteken word waarin daar na die Wet verwys is, en die geslagsregister van Jesus word uitgelaat. Die evangelie van Christus word voorgestel as iets van universele belang. Hy maak verklarende kommentare oor Joodse gebruike en leringe waarmee nie-Joodse lesers moontlik onbekend is (2:18; 7:3, 4; 14:12; 15:42). Aramese uitdrukkings word vertaal (3:17; 5:41; 7:11, 34; 14:36; 15:22, 34). Hy gee nadere omskrywings van geografiese name en plante in Palestina (1:5, 13; 11:13; 13:3). Die waarde van Joodse geldstukke word in Romeinse geld aangegee (12:42, voetnoot in NW-naslaanuitgawe). Hy gebruik meer Latynse woorde as die ander Evangelieskrywers, byvoorbeeld speculator (’n lyfwag), praetorium (goewerneur se paleis) en centurio (hoofman).—6:27; 15:16, 39.

9. Waar en wanneer is die boek Markus geskryf, en waardeur word die egtheid daarvan gestaaf?

9 Aangesien Markus blykbaar hoofsaaklik vir die Romeine geskryf het, het hy heel waarskynlik die boek in Rome geskryf. Uit die vroegste oorlewering sowel as die inhoud van die boek kan daar afgelei word dat dit gedurende die eerste of die tweede gevangenskap van die apostel Paulus, en gevolglik gedurende die jare 60-65 G.J., in Rome opgestel is. Gedurende daardie jare was Markus ten minste een keer in Rome, waarskynlik twee keer. Al die vooraanstaande gesaghebbendes van die tweede en derde eeu bevestig dat Markus die skrywer was. Die Evangelie was reeds teen die middel van die tweede eeu onder Christene in omloop. Die egtheid van Markus se Evangelie word gestaaf deur die feit dat dit in die vroeë katalogusse van die Christelike Griekse Geskrifte voorkom.

10. Hoe moet die lang en kort slot van Markus beskou word, en waarom?

10 Die lang en kort slot wat soms na vers 8 van hoofstuk 16 bygevoeg word, moet egter nie as eg beskou word nie. Hulle ontbreek in die meeste ou manuskripte, soos die Codex Sinaiticus en die Codex Vaticanus nr. 1209. Die vierde-eeuse geleerdes Eusebius en Hieronimus is dit eens dat die egte verslag eindig met die woorde “hulle het gevrees”. Die ander slotte is waarskynlik bygevoeg in ’n poging om te vergoed vir die skielike slot van die Evangelie.

11. (a) Wat bewys dat Markus se Evangelie akkuraat is, en watter gesag word beklemtoon? (b) Waarom is dit “goeie nuus”, en watter tydperk dek Markus se Evangelie?

11 Dat Markus se verslag akkuraat is, blyk uit die feit dat sy Evangelie nie net in volkome harmonie met die ander Evangelies is nie maar ook met die hele Heilige Skrif van Genesis tot Openbaring. Daarbenewens word daar herhaaldelik getoon dat Jesus gesag het, nie net in sy woorde nie maar ook oor die natuurkragte, oor Satan en die demone, oor siekte en kwale, ja, oor die dood self. Markus begin derhalwe sy verhaal met die indrukwekkende inleiding: “Die begin van die evangelie [“goeie nuus”, NW] van Jesus Christus.” Sy koms en bediening het “goeie nuus” beteken, en gevolglik moet die bestudering van Markus se Evangelie vir alle lesers nuttig wees. Die gebeure wat deur Markus beskryf word, vind plaas tussen die lente van 29 G.J. en die lente van 33 G.J.

INHOUD VAN MARKUS

12. Wat is in die eerste 13 verse van Markus saamgepers?

12 Doop en versoeking van Jesus (1:1-13). Markus begin die goeie nuus deur Johannes die Doper te identifiseer. Hy is die voorspelde boodskapper wat gestuur is om te verkondig: “Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!” Die doper sê van die Een wat binnekort sal kom: ‘Hy is sterker as ek.’ Ja, hy sal doop, nie met water nie, maar met heilige gees. Jesus kom nou van Nasaret in Galilea, en Johannes doop hom. Die gees daal soos ’n duif op Jesus neer en ’n stem word uit die hemele gehoor: “U is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (1:3, 7, 11). Jesus word in die woestyn deur Satan versoek, en engele dien hom. Al hierdie dramatiese gebeure is in Markus se eerste 13 verse saamgepers.

13. Op watter maniere demonstreer Jesus gou sy gesag as “die Heilige van God”?

13 Jesus begin sy bediening in Galilea (1:14–6:6). Na Johannes in hegtenis geneem is, gaan verkondig Jesus die goeie nuus van God in Galilea. Wat ’n verrassende boodskap het hy tog! “Die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (1:15). Hy roep Simon en Andreas en Jakobus en Johannes van hulle visnette om sy dissipels te wees. Op die Sabbat begin hy in die sinagoge in Kapernaüm onderrig. Die mense is verstom, want hy onderrig “soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie”. Hy demonstreer sy gesag as “die Heilige van God” deur ’n onreine gees uit ’n besete man te dryf en deur Simon se skoonmoeder te genees, wat met ’n koors siek gelê het. Die nuus versprei soos ’n veldbrand, en teen die aand het “die hele stad” buite Simon se huis saamgekom. Jesus genees baie wat siek is en dryf baie demone uit.—1:22, 24, 33.

14. Hoe bewys Jesus dat hy die gesag het om sondes te vergewe?

14 Jesus sit sy opdrag uiteen: ‘Sodat ek kan preek’ (1:38). Hy preek in die hele Galilea. Waar hy ook al gaan, dryf hy demone uit en genees hy die siekes, onder meer ’n melaatse en ’n verlamde vir wie hy sê: “Jou sondes is jou vergewe!” Party van die skrifgeleerdes redeneer in hulle harte: ‘Dit is godslasterlik. Wie behalwe God kan sondes vergewe?’ Jesus weet wat hulle dink en bewys dat ‘die Seun van die mens mag het om sondes te vergewe’ deur die verlamde aan te sê om op te staan en huis toe te gaan. Die mense verheerlik God. Wanneer die tollenaar Levi (Mattheüs) sy volgeling word, sê Jesus vir die skrifgeleerdes: “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.” Hy toon dat hy “Here ook van die sabbat” is.—2:5, 7, 10, 17, 28.

15. Wat sê Jesus oor diegene wat sy wonders loën, en wat sê hy oor familiebande?

15 Jesus vorm nou die groep van 12 apostels. Sy familielede openbaar ’n mate van teenstand, en dan beskuldig party skrifgeleerdes van Jerusalem hom daarvan dat hy demone deur middel van die owerste van die demone uitdryf. Jesus vra hulle: “Hoe kan die Satan die Satan uitdryf?” en waarsku hulle: “Wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel.” Gedurende die bespreking kom soek sy moeder en broers hom, en Jesus verklaar: “Elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.”—3:23, 29, 35.

16. Wat leer Jesus deur gelykenisse oor “die koninkryk van God”?

16 Jesus begin om “die verborgenheid [“heilige geheim”, NW] van die koninkryk van God” deur gelykenisse te leer. Hy praat van die man wat saad saai wat op verskillende soorte grond val (wat die verskillende soorte hoorders van die woord afbeeld) en van die lamp wat vanaf sy staander skyn. In ’n ander gelykenis sê Jesus die Koninkryk van God is soos wanneer ’n man die saad op die grond gooi: “Vanself bring die aarde vrug voort, eers ’n halm, dan ’n aar, dan die volle koring in die aar” (4:11, 28). Hy vertel ook die gelykenis van ’n mosterdsaad wat, hoewel dit die kleinste van alle sade is, groot word en takke vir skuiling het.

17. Hoe toon Jesus se wonders die omvang van sy gesag?

17 Wanneer hulle die See van Galilea oorsteek, laat Jesus ’n hewige wind op wonderdadige wyse bedaar, en die onstuimige see word kalm op sy bevel: “Swyg, wees stil!” (4:39). Aan die oorkant, in die land van die Gadareners, dryf Jesus ’n “Legio” demone uit ’n man en laat hy hulle toe om in ’n trop van ongeveer 2 000 varke in te vaar, wat dan oor ’n krans storm en in die see verdrink (5:8-13). Hierna gaan Jesus terug na die oorkantste oewer. ’n Vrou word genees van bloedvloeiing, wat 12 jaar ongeneeslik was, deur bloot Jesus se bokleed aan te raak terwyl hy op pad is om die 12-jarige dogtertjie van Jaïrus weer tot die lewe op te wek. Waarlik, die Seun van die mens het gesag oor die lewe sowel as die dood! Die mense in Jesus se tuisgebied betwis egter sy gesag. Jesus is verwonderd oor hulle gebrek aan geloof maar gaan voort om ‘die dorpe rondom deur te gaan en te leer’.—6:6.

18. (a) Hoe word Jesus se bediening uitgebrei? (b) Wat beweeg Jesus om te onderrig en wonders te doen?

18 Galilese bediening word uitgebrei (6:7–9:50). Die 12 word twee-twee uitgestuur met instruksies en die gesag om te preek en te onderrig, mense te genees en demone uit te dryf. Jesus se naam word bekend, en party dink dat dit Johannes die Doper is wat uit die dood opgewek is. Hierdie moontlikheid kwel Herodes, op wie se verjaarsdagparty Johannes onthoof is. Die apostels keer terug na hulle predikingsreis en doen aan Jesus verslag van hulle bedrywigheid. ’n Groot skare mense volg Jesus deur Galilea, en hy ‘voel innig jammer vir hulle, want hulle is soos skape sonder ’n herder’. Hy begin dus om hulle baie dinge te leer (6:34). Liefdevol voorsien hy ook materiële voedsel deur 5 000 mans met vyf brode en twee visse te voed. Kort daarna, wanneer die dissipels in hulle boot na Betsaida op pad is en swaar teen ’n windstorm roei, kom hy op die see na hulle aangeloop en stil hy die wind. Geen wonder dat selfs sy dissipels “uitermate verbaas” is nie!—6:51.

19, 20. (a) Hoe bestraf Jesus die skrifgeleerdes en Fariseërs? (b) Watter omstandighede lei daartoe dat Petrus ook bestraf word?

19 In die gebied Gennesaret raak Jesus met die skrifgeleerdes en Fariseërs van Jerusalem in ’n bespreking oor etery met ongewaste hande gewikkel, en hy bestraf hulle omdat hulle ‘die gebod van God nalaat en aan die oorlewering van mense vashou’. Hy sê dat die mens nie verontreinig word deur wat van buite af ingaan nie, maar deur wat van binne, uit die hart, uitgaan, naamlik “slegte gedagtes” (7:8, 21). Wanneer hy noordwaarts na die gebiede Tirus en Sidon gaan, doen hy ’n wonder vir ’n nie-Jood deur ’n demon uit die dogter van ’n Siro-Feniciese vrou uit te dryf.

20 Terug in Galilea voel Jesus weer eens innig jammer vir die skare wat hom volg en voed hy 4 000 mans met sewe brode en ’n paar vissies. Hy waarsku sy dissipels teen die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes, maar op daardie tydstip snap hulle nie die punt nie. Dan nog ’n wonder—die genesing van ’n blinde man in Betsaida. In ’n gesprek op pad na die dorpe in Cesarea-Filippi identifiseer Petrus Jesus oortuigend as “die Christus”, maar hy maak heftig beswaar wanneer Jesus van die naderende lyding en dood van die Seun van die mens praat. Jesus bestraf hom hieroor: “Gaan weg agter My, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van die mense” (8:29, 33). Jesus maan sy dissipels om hom voortdurend ter wille van die goeie nuus te volg; as hulle hulle vir hom skaam, sal hy hom vir hulle skaam wanneer hy in die heerlikheid van sy Vader kom.

21. (a) Wie sien ‘die koninkryk van God met krag kom’, en hoe? (b) Hoe benadruk Jesus dit dat die Koninkryk eerste gestel moet word?

21 Ses dae later is Petrus, Jakobus en Johannes bevoorreg om op ’n hoë berg “die koninkryk van God met krag [te] sien kom” wanneer hulle Jesus in heerlikheid van gedaante sien verander (9:1). Jesus demonstreer weer eens sy gesag deur ’n stom gees uit ’n seun te dryf, en hy praat ’n tweede keer van sy komende lyding en dood. Hy maan sy dissipels om nie toe te laat dat enigiets hulle verhinder om die lewe in te gaan nie. Laat jou hand jou struikel? Kap dit af! Jou voet? Kap dit af! Jou oog? Gooi dit weg! Dit is baie beter om die Koninkryk van God vermink in te gaan as om ongeskonde in Gehenna gewerp te word.

22. Watter raad gee Jesus tydens sy bediening in Perea?

22 Bediening in Perea (10:1-52). Jesus kom by die grense van Judea en gaan na “die oorkant van die Jordaan” (in Perea in). Fariseërs vra hom nou ’n vraag oor egskeiding, en hy benut die geleentheid om goddelike beginsels vir die huwelik uiteen te sit. ’n Ryk jongman vra hom hoe hy die ewige lewe kan beërwe maar is bedroef wanneer hy hoor dat hy sy besittings moet verkoop en Jesus se volgeling moet word as hy ’n skat in die hemel wil hê. Jesus sê vir sy dissipels: “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.” Hy moedig diegene aan wat alles ter wille van die goeie nuus verlaat het en belowe hulle “nou . . . honderd maal soveel . . . saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe”.—10:1, 25, 30.

23. Watter gesprek en wonder vind op pad na Jerusalem plaas?

23 Jesus en die 12 vertrek nou na Jerusalem. Jesus vertel hulle ’n derde keer van die lyding wat vir hom voorlê en ook van sy opstanding. Hy vra hulle of hulle dieselfde beker kan drink wat hy drink, en hy sê vir hulle: “Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees.” Wanneer hulle uit Jerigo uitgaan, roep ’n blinde bedelaar van die kant van die pad: “Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!” Jesus laat die blinde man sien—sy laaste wonderdadige genesing wat deur Markus opgeteken is.—10:44, 47, 48.

24, 25. (a) Deur watter dade bewys Jesus sy gesag? (b) Met watter argumente beantwoord hy sy teenstanders? (c) Watter waarskuwing gee Jesus die skare, en wat prys hy teenoor sy dissipels?

24 Jesus in Jerusalem en die omtrek (11:1–15:47). Die verslag beweeg vinnig! Jesus ry op ’n eselsvul die stad binne, en die mense begroet hom as Koning. Die volgende dag reinig hy die tempel. Die owerpriesters en die skrifgeleerdes word bevrees vir hom en soek ’n manier om hom om die lewe te bring. “Deur watter gesag doen U hierdie dinge?” vra hulle (11:28). Jesus stel op bedrewe wyse ’n teenvraag aan hulle en vertel die gelykenis van die landbouers wat die erfgenaam van die wingerd doodgemaak het. Hulle snap die punt en gaan van hom weg.

25 Vervolgens stuur hulle sommige van die Fariseërs om hom met die belastingvraag te verstrik. Hy laat ’n penning bring en vra: “Wie se beeld en opskrif is dit?” Hulle antwoord: “Die keiser s’n.” Jesus sê dan: “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” Geen wonder dat hulle hul oor hom verwonder nie! (12:16, 17). Nou probeer die Sadduseërs, wat nie aan die opstanding glo nie, hom vang met die vraag: ‘As ’n vrou sewe mans na mekaar gehad het, wie se vrou sal sy in die opstanding wees?’ Jesus antwoord dadelik dat diegene wat uit die dood opstaan ‘soos engele in die hemel’ sal wees, want hulle sal nie trou nie (12:19-23, 25). “Wat is die eerste gebod van almal?” vra een van die skrifgeleerdes. Jesus antwoord: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (12:28-31). Hierna waag niemand dit om hom ’n vraag te stel nie. Jesus se gesag as die volmaakte onderrigter is gehandhaaf. Die groot skare luister met genoeë, en Jesus waarsku hulle teen die verwaande skrifgeleerdes. Teenoor sy dissipels prys hy dan die arm weduwee wat meer in die tempelskatkis sit as al die ander, want haar twee geldstukkies was “alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud”.—12:44.

26. Wat is die enigste lang toespraak wat deur Markus opgeteken is, en met watter vermaning eindig dit?

26 Wanneer Jesus op die Olyfberg sit, met ’n uitsig oor die tempel, vertel hy vier van sy dissipels privaat van “die teken” van die voleinding van hierdie dinge. (Dit is die enigste lang toespraak wat deur Markus opgeteken is, en dit kom ooreen met dié van Mattheüs hoofstukke 24 en 25.) Dit eindig met Jesus se vermaning: “Van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!”—13:4, 32, 37.

27. Beskryf die gebeure totdat Jesus in Getsemane verraai word.

27 In nabygeleë Betanië salf ’n vrou Jesus met kosbare welriekende olie. Sommige maak beswaar hierteen en noem dit ’n verkwisting, maar Jesus sê dat dit ’n goeie werk is, ’n voorbereiding vir sy begrafnis. Op die vasgestelde tyd kom Jesus en die 12 in die stad vir die Pasga bymekaar. Hy identifiseer sy verraaier en stel die gedenkmaal met sy getroue dissipels in, en hulle gaan uit na die Olyfberg. Op pad sê Jesus vir hulle dat hulle almal sal struikel. “Nie ek nie”, roep Petrus uit. Maar Jesus sê vir hom: “In hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.” Wanneer hulle by die plek aankom wat Getsemane genoem word, onttrek Jesus hom om te bid en vra hy sy dissipels om te waak. Sy gebed bereik ’n hoogtepunt met die woorde: “Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.” Drie maal keer Jesus na sy dissipels terug, en drie maal vind hy hulle aan die slaap, selfs ‘op ’n tyd soos die’! (14:29, 30, 36, 41, vgl. NW). Maar die uur het gekom! Kyk!—die verraaier!

28. Onder watter omstandighede word Jesus in hegtenis geneem en verskyn hy voor die hoëpriester?

28 Judas kom nader en soen Jesus. Dit is die teken vir die owerpriesters se gewapende manne om hom te arresteer. Hulle bring hom na die hof van die hoëpriester, waar talle valse getuienis teen hom lewer, maar hulle getuienisse stem nie ooreen nie. Jesus swyg. Uiteindelik vra die hoëpriester hom: “Is U die Christus, die Seun van die geseënde God?” Jesus antwoord: “Ek is.” Die hoëpriester roep uit: ‘Godslastering!’ en hulle almal veroordeel hom dat hy die dood skuldig is (14:61-64). Onder in die binnehof het Petrus Jesus drie keer verloën. ’n Haan kraai die tweede keer, en Petrus, wat Jesus se woorde onthou, bars in trane uit.

29. Watter verslag gee Markus van Jesus se finale verhoor en teregstelling, en hoe blyk dit dat die Koninkryk die geskil is?

29 Sodra dit lig word, beraadslaag die Sanhedrin en stuur hulle Jesus geboei na Pilatus. Hy besef gou dat Jesus nie ’n misdadiger is nie en probeer hom vrylaat. Maar op aandrang van die skare wat deur die owerpriesters aangehits word, lewer hy Jesus uiteindelik oor om aan ’n paal genael te word. Jesus word na Golgota (wat “Plek van die Hoofskedel” beteken) gebring en aan ’n paal gehang, met die beskuldiging wat bokant hom geskryf is: “Die koning van die Jode.” Verbygangers smaad hom: “Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.” Op die middaguur (die sesde uur) val ’n duisternis oor die hele aarde tot drie-uur. Dan roep Jesus met ’n luide stem uit: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” en sterf. Wanneer ’n leërowerste hierdie dinge sien, sê hy: “Waarlik, Hy was die Seun van God.” Josef van Arimathea, ’n lid van die Sanhedrin wat nietemin in die Koninkryk van God glo, vra Pilatus Jesus se liggaam en lê dit in ’n graf wat in ’n rots uitgekap is.—15:22, 26, 31, 34, 39.

30. Wat gebeur op die eerste dag van die week by die graf?

30 Gebeure na Jesus se dood (16:1-8). Baie vroeg op die eerste dag van die week gaan drie vroue na die graf. Tot hulle verbasing vind hulle dat die groot steen voor die opening weggerol is. “’n Jongman”, wat binne sit, sê vir hulle dat Jesus opgewek is (16:5). Hy is nie meer daar nie, maar gaan voor hulle uit na Galilea. Hulle vlug van die graf af, bewend en bevrees.

WAAROM NUTTIG

31. (a) Hoe getuig Markus dat Jesus die Messias is? (b) Wat bewys Jesus se gesag as die Seun van God, en waarop het hy klem gelê?

31 Danksy hierdie lewendige penskets van Jesus Christus kon alle lesers van Markus, van vroeg-Christelike tye tot vandag toe, die vervulling van talle profesieë van die Hebreeuse Geskrifte oor die Messias identifiseer. Van die inleidende aanhaling: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig” tot Jesus se smartvolle woorde aan die folterpaal: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” is die hele verslag van sy ywerige bediening, soos opgeteken deur Markus, in ooreenstemming met wat die Hebreeuse Geskrifte voorspel het (Mark. 1:2; 15:34; Mal. 3:1; Ps. 22:2). En sy wonders en wonderdadige werke, sy gesonde leer, sy foutlose weerleggings, sy absolute vertroue in Jehovah se Woord en gees, en die teerheid waarmee hy die skape versorg het—al hierdie dinge kenmerk hom as die Een wat met gesag as die Seun van God gekom het. Hy het onderrig “soos een wat gesag het”, gesag wat van Jehovah ontvang is, en hy het klem gelê op die ‘verkondiging van die goeie nuus van God’, naamlik dat ‘die koninkryk van God naby gekom het’, as sy vernaamste werk hier op aarde. Sy leer is vir almal wat daarop ag slaan van onskatbare nut.—Mark. 1:22, 14, 15, vgl. NW.

32. Hoeveel keer gebruik Markus die uitdrukking “koninkryk van God”, en wat is enkele van die riglyne wat hy uiteensit vir die verkryging van lewe deur middel van die Koninkryk?

32 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken.” Markus gebruik hierdie uitdrukking, “koninkryk van God”, 14 keer en sit talle riglyne uiteen vir diegene wat deur middel van die Koninkryk lewe wil verkry. Jesus het gesê: “Elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red.” Elke hindernis vir die verkryging van lewe moet uit die weg geruim word: “Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in [Gehenna] gewerp te word.” Jesus het verder verklaar: “Elkeen wat die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie” en “Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan!” Hy het gesê dat iemand wat insien dat die onderhouding van die twee grootste gebooie baie meer werd is as al die brandoffers en slagoffers “nie ver van die koninkryk van God” is nie. Hierdie en ander Koninkryksleringe van Markus se Evangelie bevat heelwat goeie raad wat ons in ons daaglikse lewe kan toepas.—4:11; 8:35; 9:43-48, vgl. NW; 10:13-15, 23-25; 12:28-34.

33. (a) Hoe kan ons nut trek uit Markus se Evangelie? (b) Tot watter handelwyse behoort Markus ons aan te moedig, en waarom?

33 Die goeie nuus “volgens Markus” kan moontlik in ’n uur of twee heeltemal deurgelees word, wat die leser ’n opwindende, vinnige en dinamiese oorsig van Jesus se bediening sal gee. Hetsy ’n mens hierdie geïnspireerde verslag só deurlees of ’n dieper studie daarvan maak en dit bepeins, dit sal altyd nuttig wees. Net soos in die eerste eeu is Markus se Evangelie nuttig vir vervolgde Christene van vandag, want ware Christene het nou met “swaar tye” te kampe en het ’n behoefte aan geïnspireerde leiding soos wat in hierdie verslag oor ons Voorbeeld, Jesus Christus, gevind word. Lees dit, laat die dramatiese aksie daarin jou meevoer en laat dit jou aanmoedig om in die voetstappe van die Leidsman en Voleinder van ons geloof, Jesus, te tree met dieselfde onoorwinlike vreugde wat hy getoon het (2 Tim. 3:1; Hebr. 12:2). Ja, sien hom as ’n man van die daad, wees besiel met sy ywer en volg sy onwrikbare onkreukbaarheid en moed te midde van beproewing en teenstand na. Put troos uit hierdie ryk deel van die geïnspireerde Skrif. Laat dit jou help in jou strewe na die ewige lewe!

[Voetnoot]

a Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 337.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel