Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 4/15 bl. 10-15
  • Verlossing is naby vir mense van godvrugtige toegewydheid!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verlossing is naby vir mense van godvrugtige toegewydheid!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die gees van Noag se dag
  • Die weg wat tot verlossing gelei het
  • Wat beteken Noag se ondervinding vir jou?
  • Waarom God aan Noag guns betoon het—Waarom dit vir ons van belang moet wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hy “het met die ware God gewandel”
    Volg hulle geloof na
  • Hy “het met die ware God gewandel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Noag se geloof veroordeel die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 4/15 bl. 10-15

Verlossing is naby vir mense van godvrugtige toegewydheid!

“Die Here weet om [mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing] te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word.”—2 PETRUS 2:9, vgl. “NW”.

1. (a) Voor watter angswekkende toestande staan die mensdom in ons dag? (b) Watter vrae gaan ons met die oog hierop bespreek?

DIE hele mensdom word deur al hoe meer lewensprobleme geteister. Dit is die geval in plekke waar materiële dinge volop is sowel as in plekke waar dit skaars is. Onveiligheid is alomteenwoordig. Asof onstabiele ekonomiese toestande nie genoeg rede tot kommer is nie, word die planeet Aarde deur ernstige omgewingsprobleme geteister wat alle lewe daarop bedreig. Siekte vier hoogty. Aansteeklike siektes, hartkwale en die kankerplaag eis baie lewens. Onsedelikheid verwoes menslike emosies en die gesinslewe. Boonop is die wêreld deurdrenk van geweld. Met die oog op die dinge waarvoor die mensegemeenskap te staan gekom het, vra ons realisties: Is daar ’n gegronde rede om vroeë verlossing te verwag? Indien wel, hoe sal dit kom, en vir wie?—Vergelyk Habakuk 1:2; 2:1-3.

2, 3. (a) Waarom is die woorde in 2 Petrus 2:9 vandag vir ons gerusstellend? (b) Op watter spesifieke verlossingsdade wys die Bybel as ’n grondslag vir bemoediging?

2 Die gebeure in ons dag herinner ons aan sekere ander uiters betekenisvolle tye in die mensegeskiedenis. Die apostel Petrus vestig die aandag op die verlossingsdade wat God by daardie geleenthede verrig het en kom dan tot hierdie gerusstellende gevolgtrekking: “Die Here weet om [mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing] te verlos” (2 Petrus 2:9, vgl. NW). Let op die konteks van daardie verklaring, in 2 Petrus 2:4-10 (vgl. NW):

3 “As God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in [Tartarus] gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het; en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ’n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees; en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense; want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke—die Here weet om [mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing] te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word; en veral die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag.” Soos daardie verse toon, hou die gebeure in die dae van Noag en Lot groot betekenis vir ons in.

Die gees van Noag se dag

4. Waarom het God die aarde in Noag se dag as verdorwe beskou? (Psalm 11:5).

4 Die geskiedkundige verslag in Genesis hoofstuk 6 deel ons mee dat die aarde in Noag se dag verdorwe geword het voor die aangesig van die ware God. Waarom? Weens geweld. Dit was nie ’n kwessie van alleenstaande gevalle van kriminele geweld nie. Genesis 6:11 sê: “Die aarde was vol geweld.”

5. (a) Watter gesindheid van mense het tot die geweld van Noag se dag bygedra? (b) Wat was Henog se waarskuwing aangaande goddeloosheid?

5 Wat was die oorsaak daarvan? Die teks wat uit 2 Petrus aangehaal is, praat van goddelose mense. Ja, die menseaangeleenthede was deurdring van ’n gees van goddeloosheid. Dit het nie bloot ’n algemene veronagsaming van goddelike wette behels nie, maar ’n uittartende gesindheid teenoor God self.a En hoe kan daar verwag word dat mense wat God uittart goedhartig teenoor hulle medemens sal optree? Reeds voor Noag se geboorte was hierdie goddeloosheid so volop dat Jehovah Henog aangaande die gevolg daarvan laat profeteer het (Judas 14, 15). Hulle uittarting van God sou beslis lei tot ’n voltrekking van goddelike oordeel.

6, 7. Watter situasie, waarby engele betrokke was, was ’n vername faktor in die slegte toestande wat voor die Vloed ontwikkel het?

6 Daar was ook ’n ander invloed wat tot die geweld van daardie dae bygedra het. Genesis 6:1, 2 vestig die aandag daarop wanneer dit sê: “Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.” Wie was daardie seuns van God? Nie blote mense nie. Mans het al eeue lank notisie van mooi vroue geneem en met hulle getrou. Hierdie seuns van God was engele wat gematerialiseer het. In Judas 6 word hulle beskryf as “engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het”.—Vergelyk 1 Petrus 3:19, 20.

7 Wat was die gevolg toe hierdie bomenslike skepsele wat as mense gematerialiseer het met die dogters van die mense omgang gehad het? “In dié dae was die reuse [“die Nefilim”, NW] op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.” Ja, die nageslag uit daardie onnatuurlike huwelike was Nefilim, magtige skepsele wat hulle groter krag gebruik het om ander af te knou.—Genesis 6:4.

8. Hoe het Jehovah op die slegte toestande op die aarde gereageer?

8 Presies hoe sleg het die situasie geword? Dit het die punt bereik waar “die HERE [gesien het] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was”. Hoe het God hierop gereageer? “Dit [het] die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.” Dit beteken nie dat God gedink het dat hy ’n fout gemaak het toe hy die mensdom geskep het nie. Hy was eerder jammer dat die gedrag van die mense wat hy gemaak het so sleg geword het dat hy genoodsaak was om hulle te vernietig.—Genesis 6:5-7.

Die weg wat tot verlossing gelei het

9. (a) Waarom het God gunstig teenoor Noag opgetree? (b) Watter voorkennis het God Noag gegee?

9 Wat Noag betref, hy “het genade gevind in die oë van die HERE . . . Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel” (Genesis 6:8, 9). Daarom het Jehovah Noag vooraf in kennis gestel dat Hy ’n wêreldvloed gaan bring en hom beveel om ’n ark te bou. Buiten Noag en sy gesin sou die hele mensdom uitgedelg word. Selfs die diereryk sou vernietig word, met die uitsondering van die paar verteenwoordigers van elke basiese dieresoort wat Noag in die ark sou inneem.—Genesis 6:13, 14, 17.

10. (a) Watter voorbereidsels moes getref word met die oog op oorlewing, en hoe ’n groot werk was dit? (b) Wat is noemenswaardig oor die manier waarop Noag sy opdrag uitgevoer het?

10 Hierdie voorkennis het ’n swaar verantwoordelikheid op Noag geplaas. Die ark moes gebou word. Dit moes die vorm van ’n reusekis hê, met ’n totale volume van sowat 40 000 kubieke meter. Noag moes genoeg kos daarin laai en dan diere en voëls, “van alle vlees”, bymekaarmaak vir oorlewing. Dit was ’n projek wat jare se werk behels het. Hoe het Noag gereageer? Hy het “dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.”—Genesis 6:14-16, 19-22; Hebreërs 11:7.

11. Watter lewensbelangrike verantwoordelikheid het Noag teenoor sy eie huisgesin gehad?

11 Terwyl Noag daardie werk gedoen het, moes hy ook tyd daaraan bestee om sy huisgesin se geestelikheid op te bou. Hulle moes beskerm word sodat hulle nie die gewelddadige maniere en die uittartende gesindheid van die mense om hulle aanneem nie. Dit was belangrik dat hulle nie te diep betrokke raak by die alledaagse lewensaangeleenthede nie. God het vir hulle ’n werk gehad om te doen, en dit was noodsaaklik dat hulle hulle lewe om daardie werk bou. Ons weet dat Noag se gesin sy onderrig aanvaar en sy geloof gedeel het, want die Skrif praat met goedkeuring van Noag, sy vrou, hulle drie seuns en die seuns se vrouens—altesaam agt mense.—Genesis 6:18; 1 Petrus 3:20.

12. Watter verantwoordelikheid het Noag volgens 2 Petrus 2:5 getrou nagekom?

12 Noag het ook ’n ander verantwoordelikheid gehad—hy moes mense teen die naderende Vloed waarsku en die rede vir die koms daarvan bekendmaak. Hy het daardie verantwoordelikheid ongetwyfeld getrou nagekom, want in God se Woord word hy ’n “prediker van geregtigheid” genoem.—2 Petrus 2:5.

13. Met watter toestande het Noag te kampe gehad terwyl hy sy godgegewe opdrag uitgevoer het?

13 Dink nou net ’n bietjie aan die omstandighede waarin Noag daardie opdrag uitgevoer het! Plaas jou in sy skoene. As jy Noag of ’n lid van sy gesin was, sou jy omring gewees het deur die geweld wat deur die Nefilim en goddelose mense gepleeg is. Jy sou direk met die invloed van opstandige engele te kampe gehad het. Mense sou jou gespot het terwyl jy aan die ark gewerk het. En terwyl jy die mense jaar na jaar teen die komende Vloed gewaarsku het, sou jy gevind het dat hulle so betrokke was by die daaglikse lewensaangeleenthede dat “hulle geen ag daarop geslaan het” nie—dit wil sê, “totdat die vloed gekom het en hulle almal weggevee het”.—Mattheüs 24:39, NW; Lukas 17:26, 27.

Wat beteken Noag se ondervinding vir jou?

14. Waarom vind ons wat vandag leef dit nie moeilik om te verstaan met watter situasie Noag en sy gesin te kampe gehad het nie?

14 Vir die meeste van ons lesers is dit glad nie moeilik om hulle so ’n situasie voor te stel nie. Waarom nie? Omdat die toestande in ons dag en dié wat in die dae van Noag geheers het baie eenders is. Jesus Christus het gesê dat dit verwag moes word. In sy groot profesie oor die tyd van sy teenwoordigheid gedurende die voleinding van die stelsel van dinge het Jesus voorspel: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Mattheüs 24:37, NW.

15, 16. (a) Hoe is die aarde vandag, soos in Noag se dag, vol geweld? (b) Aan watter soort geweld in die besonder is Jehovah se knegte onderhewig?

15 Is dit bewaarheid? Is die wêreld vandag vol geweld? Ja! Meer as honderdmiljoen mense het in hierdie eeu in oorloë omgekom. Party van ons lesers het die uitwerking hiervan direk gevoel. Selfs meer is bedreig deur misdadigers wat daarop uit was om hulle van hul geld of ander waardevolle besittings te beroof. En jongmense is by die skool aan geweld blootgestel.

16 Maar Jehovah se knegte ondervind meer as die verwoestende gevolge van oorlog en kriminele geweld in die algemeen. Hulle is ook onderworpe aan geweld omdat hulle geen deel van die wêreld is nie maar probeer om mense van godvrugtige toegewydheid te wees (2 Timotheüs 3:10-12, NW). Partymaal is daardie geweld bloot in die vorm van rondstampery of ’n paar klappe; ander kere behels dit die vernietiging van eiendom, wrede slanery en selfs moord.—Mattheüs 24:9.

17. Is goddeloosheid vandag volop? Verduidelik.

17 Partymaal het goddelose mense openlik hulle veragting vir God uitgespreek terwyl hulle sulke gewelddade pleeg. In een gebied in Afrika het die polisie verklaar: “Die regering is ons s’n. Gaan julle na God toe, as daar een is, en vra hom om julle te kom help.” In tronke en konsentrasiekampe is Jehovah se Getuies gekonfronteer deur manne soos Baranowsky, in Sachsenhausen, Duitsland, wat uittartend gesê het: “Ek het ’n geveg met Jehovah aangeknoop. Ons sal sien wie die sterkste is, ek of Jehovah.” Kort daarna het Baranowsky siek geword en gesterf; maar ander openbaar steeds ’n soortgelyke gesindheid. Amptenare wat ’n vervolgingsveldtog onderneem, is nie die enigstes wat God uittart nie. Dwarsdeur die wêreld hoor en sien knegte van God dinge wat bewys dat diegene wat dit sê of doen geen vrees vir God in hulle hart het nie.

18. Hoe vererger bose geeste die beroering onder die mensdom?

18 In hierdie dae wat so baie soos Noag se tyd is, sien ons ook bewys van die inmenging van bose geeste (Openbaring 12:7-9). Hierdie demone is dieselfde engele wat in die dae van Noag as mense gematerialiseer en met vroue getrou het. Toe die Vloed gekom het, is hulle vrouens en kinders vernietig, maar daardie ongehoorsame engele is gedwing om na die geesteryk terug te keer. Hulle het nie meer ’n plek in Jehovah se heilige organisasie gehad nie, maar is verdoem tot Tartarus, ’n toestand van dik duisternis, afgesny van goddelike verligting (2 Petrus 2:4, 5, NW). Onder leiding van Satan het hulle noue kontak met mense probeer behou en, hoewel hulle nie meer kan materialiseer nie, het hulle probeer om beheer oor mans, vroue en selfs kinders te verkry. Dit word deels deur okkulte gebruike gedoen. Hulle hits mense ook aan om mekaar te vernietig op maniere wat die menseverstand te bowe gaan. Maar dit is nie al nie.

19. (a) Wie is veral die teiken van die demone se haat? (b) Wat probeer demone ons dwing om te doen?

19 Die Bybel toon dat die demone oorlog voer teen diegene “wat die gebooie van God onderhou en die werk het om getuienis omtrent Jesus af te lê” (Openbaring 12:12, 17, NW). Daardie bose geeste is die vernaamste aanstigters van vervolging teen Jehovah se knegte (Efesiërs 6:10-13). Hulle gebruik elke denkbare manier om getroue mense te dwing of te verlok om hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah prys te gee en op te hou om Jehovah se Koninkryk met Jesus as die Messiaanse Koning te verkondig.

20. Hoe probeer demone mense verhinder wat hulle van hul mag probeer losmaak? (Jakobus 4:7).

20 Die demone probeer mense verhinder wat hunker na bevryding van hulle verdrukkende invloed. ’n Gewese spiritis in Brasilië sê dat toe die Getuies by haar huis besoek afgelê het demonstemme haar beveel het om nie die deur oop te maak nie; maar sy het, en sy het die waarheid geleer. In baie gebiede maak die demone direk gebruik van diegene wat towery beoefen om die werk van Jehovah se Getuies te probeer stopsit. In ’n dorp in Suriname het teenstanders van Jehovah se Getuies met ’n spiritis in aanraking gekom wat alom daarvoor bekend was dat hy mense skielik kon laat doodgaan deur eenvoudig met sy towerstaf na hulle te wys. Die spiritis, wat deur ’n demon besete was, het saam met sy gevolg van dansers en tromslaners die Getuies van Jehovah gaan konfronteer. Hy het sy toorformules opgesê en met sy stok na hulle gewys. Die dorpenaars het verwag dat die Getuies dood sou neerval, maar dit was die spiritis wat flou geword het en inderhaas deur sy verleë ondersteuners weggedra moes word.

21. Hoe reageer die meeste mense vandag, soos in Noag se dag, op ons prediking, en waarom?

21 Selfs in gebiede waar heksery en towery nie so openlik beoefen word nie, weet elke Getuie van Jehovah hoe dit voel om vir mense te probeer preek wat so betrokke is by die alledaagse lewensaangeleenthede dat hulle nie lastig geval wil word nie. Net soos in Noag se dag ‘slaan’ die oorgrote meerderheid ‘nie ag nie’ (Mattheüs 24:37-39, NW). Sommige bewonder moontlik ons eenheid en prestasies. Maar ons geestelike bouwerk—wat ure se persoonlike studie, gereelde vergaderingbywoning en velddiens behels—is vir hulle absolute dwaasheid. Hulle bespot ons vertroue in die beloftes van God se Woord, omdat materiële besittings en sensuele genietinge wat hulle nou kan hê die spil van hulle lewe is.

22, 23. Hoe gee die gebeure van Noag se dag die vaste versekering dat Jehovah mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing sal verlos?

22 Sal Jehovah se lojale knegte vir ewig slegte behandeling moet verduur deur diegene wat geen liefde vir God het nie? Hoegenaamd nie! Wat het in Noag se dag gebeur? Op bevel van God het Noag in die voltooide ark ingegaan. Toe, op die goddelik vasgestelde tyd, is “al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek, en die sluise van die hemel is geopen”. Die Vloed het voortgeduur totdat selfs die berge bedek was (Genesis 7:11, 17-20). Die engele wat hulle eie woning verlaat het, is gedwing om hulle gematerialiseerde menseliggame af te lê en na die geesteryk terug te keer. Die Nefilim en die res van daardie wêreld van goddelose mense, met inbegrip van dié wat te traak-my-nie-agtig was om ag te slaan op Noag se waarskuwing, is vernietig. Aan die ander kant is Noag en sy vrou en hulle drie seuns en die seuns se vrouens gered. Sodoende het Jehovah Noag en sy huisgesin verlos uit die beproewing wat hulle soveel jare lank lojaal verduur het.

23 Sal Jehovah vandag dieselfde vir mense van godvrugtige toegewydheid doen? Dit ly hoegenaamd geen twyfel nie. Hy het dit beloof, en hy kan nie lieg nie.—Titus 1:2; 2 Petrus 3:5-7.

[Voetnote]

a “Anomia is veronagsaming van, of uittarting van, God se wette; asebeia [’n selfstandige naamwoord van die woord wat met ‘goddelose mense’ weergegee word] is dieselfde gesindheid teenoor God se Persoon.”—Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words, Deel 4, bladsy 170.

Onthou jy?

◻ Hoe het Petrus getoon dat Jehovah weet om mense van godvrugtige toe-gewydheid uit beproewing te verlos?

◻ Watter faktore het bygedra tot die geweld in Noag se dag?

◻ Watter verantwoordelikheid het Noag met die oog op die komende wêreldvloed gehad?

◻ Watter ooreenkomste is daar tussen Noag se dag en ons tyd?

[Prent op bladsy 12]

Dit het jare se harde werk behels om die ark te bou

[Prent op bladsy 13]

Noag het tyd daaraan bestee om die geestelikheid van sy gesin op te bou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel