Begryp die doel van dissipline
WAARAAN laat die woord “dissipline” jou dink? Een woordeboek definieer dissipline as “die gebruik om mense te dwing om reëls of gedragstandaarde te gehoorsaam en hulle te straf as hulle dit nie doen nie”. Hoewel dit beslis nie die enigste aanvaarde definisie is nie, heg baie mense vandag ’n soortgelyke negatiewe konnotasie aan enigiets wat met dissipline verband hou.
Die Bybel stel dissipline egter in ’n ander lig. “O my seun, moenie die dissipline van Jehovah verwerp nie”, het wyse koning Salomo geskryf (Spreuke 3:11). Hierdie woorde verwys nie na dissipline oor die algemeen nie, maar na “die dissipline van Jehovah”, dit wil sê dissipline wat op God se verhewe beginsels gebaseer is. Slegs sulke dissipline is geestelik verrykend en nuttig—selfs begeerlik. In teenstelling hiermee is dissipline wat op mensedenke gebaseer is en wat in stryd met Jehovah se verhewe beginsels is, dikwels ongevoelig en skadelik. Dit verduidelik waarom baie ’n negatiewe gesindheid teenoor dissipline het.
Waarom word ons aangespoor om Jehovah se dissipline te aanvaar? In die Skrif word goddelike dissipline beskryf as ’n blyk van God se liefde vir sy menseskepsele. Daarom het Salomo verder gesê: “Jehovah wys die een tereg wat hy liefhet, net soos ’n vader doen met ’n seun in wie hy behae het.”—Spreuke 3:12.
Dissipline of straf—Watter een?
Die dissipline waarvan die Bybel praat, het baie fasette—leiding, onderrigting, opleiding, vermaning, teregwysing en selfs straf. Maar in elke geval is liefde die beweegrede vir Jehovah se dissipline, en die doel daarvan is om die een wat dit ontvang, te bevoordeel. Jehovah se regstellende dissipline word nooit uitgeoefen met die uitsluitlike doel om te straf nie.
Aan die ander kant is die straf wat God toedien, nie altyd bedoel om die oortreder tereg te wys of te onderrig nie. Byvoorbeeld, van die dag af dat Adam en Eva gesondig het, het hulle die wrange vrugte van hulle ongehoorsaamheid begin pluk. Jehovah het hulle uit die paradystuin van Eden verdryf, en hulle het die gevolge van onvolmaaktheid, siekte en die ouderdom begin ervaar. Ná honderde jare van ’n pynlike bestaan het hulle vir ewig vergaan. Dit alles was inderdaad deel van God se straf, maar dit was nie regstellende dissipline nie. Omdat Adam en Eva doelbewuste en onberouvolle sondaars was, was hulle onontvanklik vir teregwysing.
Ander verslae van Jehovah se strafgerigte sluit die Vloed van Noag se dag in, asook die vernietiging van Sodom en Gomorra en die uitwissing van die Egiptiese leër in die Rooi See. Hierdie dade van Jehovah was nie bedoel om leiding, onderrigting of opleiding vir die oortreders te voorsien nie. Die apostel Petrus het aangaande hierdie strafgerigte van God geskryf: ‘Hy het hom nie daarvan weerhou om ’n eertydse wêreld te straf nie, maar het Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar toe hy ’n watervloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het; en hy het die stede Sodom en Gomorra veroordeel deur hulle tot as te verbrand, waardeur hy vir goddelose mense ’n voorbeeld van toekomstige dinge gegee het.’—2 Petrus 2:5, 6.
In watter opsig was hierdie strafgerigte “vir goddelose mense ’n voorbeeld van toekomstige dinge”? In Paulus se brief aan die Tessalonisense wys hy na ons dag as die tyd wanneer God, deur sy Seun, Jesus Christus, “wraak [sal] uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus . . . nie gehoorsaam nie”. Paulus voeg by: “Húlle sal as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan” (2 Tessalonisense 1:8, 9). Hierdie straf is natuurlik nie bedoel om diegene wat dit ontvang, te leer of te louter nie. Jehovah verwys egter nie na die straf wat onberouvolle sondaars ontvang, wanneer hy sy aanbidders nooi om sy dissipline te aanvaar nie.
Dit is betekenisvol dat die Bybel Jehovah nie hoofsaaklik as ’n strafoplegger beskryf nie. Hy word veel eerder as ’n liefdevolle onderrigter en ’n geduldige opleier beskryf (Job 36:22; Psalm 71:17; Jesaja 54:13). Ja, goddelike dissipline wat gegee word met die doel om iemand reg te help, gaan altyd gepaard met liefde en geduld. As Christene die doel van dissipline verstaan, sal hulle in ’n beter posisie wees om dit te aanvaar en dissipline met die regte gesindheid te gee.
Die dissipline van liefdevolle ouers
In die gesinskring en in die Christengemeente is dit belangrik dat almal die doel van dissipline verstaan. Dit geld veral vir diegene in gesagsposisies, soos ouers. Spreuke 13:24 sê: “Wie sy roede terughou, haat sy seun, maar hy wat hom liefhet, gee ag op hom met dissipline.”
Hoe moet ouers hulle kinders dissiplineer? Die Bybel verduidelik: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Hierdie raad word herhaal in dié woorde: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.”—Kolossense 3:21.
Christenouers wat die doel van dissipline verstaan, sal nie hardvogtig optree nie. Die beginsel in 2 Timoteus 2:24 kan toegepas word op die manier waarop ouers hulle kinders dissiplineer. Paulus het geskryf: “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig.” Histeriese woedeuitbarstings, ’n geskreeu en beledigende of neerhalende opmerkings maak beslis nie deel uit van liefdevolle dissipline nie en het geen plek in ’n Christen se lewe nie.—Efesiërs 4:31; Kolossense 3:8.
Ouerlike teregwysing behels baie meer as straf wat vinnig en ferm toegedien word. Die meeste kinders het herhaalde vermanings nodig voordat hulle hulle denke regstel. Dit sal dus tyd en geduld van ouers verg, en hulle moet goed nadink oor die manier waarop hulle dissipline uitoefen. Hulle moet in gedagte hou dat kinders in die “dissipline en verstandsregulering van Jehovah” opgevoed moet word. Dit behels ’n opleidingsprogram wat jare lank duur.
Christenherders dissiplineer met sagmoedigheid
Dieselfde beginsels geld vir Christen- ouer manne. As liefdevolle herders probeer hulle die kudde opbou deur middel van onderrigting, leiding en, wanneer nodig, teregwysing. Wanneer hulle dit doen, hou hulle die ware doel van dissipline in gedagte (Efesiërs 4:11, 12). As hulle net daarop toegespits is om te straf, sal hulle die oortreder bloot teregwys en sake daar laat. Goddelike dissipline behels baie meer. Liefde sal ouer manne beweeg om voortgesette pogings aan te wend om die persoon te help. Omdat hulle opreg besorg is, reël hulle dikwels ’n hele paar besoeke om aanmoediging en opleiding te gee.
Volgens die vermaning in 2 Timoteus 2:25, 26 moet ouer manne “met sagmoedigheid” onderrig, selfs wanneer hulle te doen het met persone wat nie maklik dissipline aanvaar nie. Dan meld die teks die doel van dissipline: “Aangesien God hulle miskien berou sal gee wat tot juiste kennis van die waarheid lei, en hulle weer tot besinning kan kom, uit die strik van die Duiwel.”
Soms moet onberouvolle oortreders uit die gemeente gesit word (1 Timoteus 1:18-20). Selfs sulke drastiese optrede moet as dissipline beskou word, en nie bloot as straf nie. Van tyd tot tyd probeer ouer manne die uitgesettenes besoek wat opgehou het om sonde te beoefen. Gedurende hierdie besoeke tree ouer manne in ooreenstemming met die ware doel van dissipline op deur die stappe uiteen te sit wat iemand moet volg om na die Christengemeente terug te keer.
Jehovah is die volmaakte Regter
Ouers, Christenherders en ander wat die skriftuurlike gesag het om dissipline uit te oefen, moet hierdie verantwoordelikheid ernstig opneem. Hulle moet hulle nie die reg aanmatig om ander te veroordeel as heeltemal verlore nie. Hulle dissipline moet dus nooit ontaard in nydige of vyandige straf nie.
Die Bybel verwys weliswaar na Jehovah as die Een wat streng en finale oordeel sal bring. Trouens, die Skrif sê dat dit “iets vreesliks [is] om in die hande van die lewende God te val” (Hebreërs 10:31). Maar geen mens moet hom ooit met Jehovah probeer vergelyk in hierdie of enige ander opsig nie. En niemand moet rede hê om te voel dat dit iets vreesliks is om in die hande van ’n ouer of ’n sekere ouer man in die gemeente te val nie.
Jehovah het die vermoë om volmaakte balans te handhaaf wanneer hy dissipline uitoefen. Mense het nie daardie vermoë nie. God kan die hart lees en sien wanneer iemand nie gehelp kan word nie en dus beslissende en finale oordeel verdien. Mense daarenteen is nie in staat om so ’n oordeel te vel nie. Wanneer dit dus nodig is om dissipline te gee, moet diegene in gesagsposisies dit altyd doen met die doel om ander reg te help.
Aanvaar Jehovah se dissipline
Ons almal het Jehovah se dissipline nodig (Spreuke 8:33). Trouens, ons moet smag na dissipline wat op God se Woord gebaseer is. Wanneer ons God se Woord bestudeer, kan ons die dissipline aanvaar wat ons regstreeks van Jehovah deur middel van die Skrif ontvang (2 Timoteus 3:16, 17). Maar soms sal ons dissipline ontvang van mede-Christene. As ons besef in watter gees sulke dissipline gegee word, sal dit ons help om dit gewillig te aanvaar.
Die apostel Paulus het erken: “Geen dissipline lyk weliswaar op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend.” Toe het hy bygevoeg: “Tog lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid” (Hebreërs 12:11). Jehovah se dissipline is ’n blyk van sy innige liefde vir ons. Hetsy ons dissipline gee of ontvang, laat ons in gedagte hou wat die doel van goddelike dissipline is en die Bybel se wyse raad volg: “Gryp dissipline aan; moet dit nie laat los nie. Bewaar dit, want dit is jou lewe.”—Spreuke 4:13.
[Prente op bladsy 21]
Onberouvolle sondaars ontvang God se regterlike straf, nie sy regstellende dissipline nie
[Prente op bladsy 22]
Ouer manne word deur liefde beweeg om tyd in te ruim vir navorsing en help oortreders
[Prente op bladsy 23]
Ouers lei hulle kinders geduldig en liefdevol op in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah”