Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 9/1 bl. 13-18
  • Pas op vir valse leermeesters!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas op vir valse leermeesters!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die gevolge van valse leringe
  • Hoe valse leringe ingebring word
  • Waarskuwende voorbeelde
  • Dade wat straf verdien
  • “Terwyl hulle saam met julle fees hou”
  • ‘Die weg van Bileam’
  • Hulle duiwelse verleidings
  • Beskerm deur juiste kennis
  • Laat ons vashou aan ons kosbare geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Bybelboek nommer 65—Judas
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ‘Stry hard vir die geloof’!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Bybelboek nommer 61—2 Petrus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 9/1 bl. 13-18

Pas op vir valse leermeesters!

“Daar [sal] ook valse leermeesters onder julle . . . wees.”—2 PETRUS 2:1.

1. Waaroor wou Judas skryf, en waarom het hy sy onderwerp verander?

HOE skokkend! Valse leermeesters in die eerste-eeuse Christengemeente! (Matteus 7:15; Handelinge 20:29, 30). Jesus se halfbroer Judas was bewus hiervan. Hy het gesê dat hy aan medegelowiges wou skryf “oor ons gemeenskaplike redding”, maar hy het verduidelik: “Ek [het] dit nodig gevind om aan julle te skryf om julle te vermaan om hard te stry vir die geloof.” Waarom het Judas sy onderwerp verander? Omdat, het hy gesê, “sekere mense [in die gemeentes] ingeglip het . . . wat die onverdiende goedhartigheid van ons God in ’n verskoning vir losbandige gedrag verander”.—Judas 3, 4.

2. Waarom is 2 Petrus hoofstuk 2 en Judas so eenders?

2 Judas het dit blykbaar geskryf kort nadat Petrus sy tweede brief geskryf het. Judas het ongetwyfeld van hierdie brief geweet. Hy het etlike soortgelyke gedagtes in sy eie kragtige brief van vermaning ingesluit. Terwyl ons 2 Petrus hoofstuk 2 bespreek, sal ons dus ook op die ooreenkomste met Judas se brief let.

Die gevolge van valse leringe

3. Wat het in die verlede gebeur wat Petrus sê weer sal gebeur?

3 Nadat Petrus sy broers aangespoor het om aandag te skenk aan profesie, sê hy: “Daar het egter ook valse profete [in eertydse Israel] opgestaan, soos daar ook valse leermeesters onder julle sal wees” (2 Petrus 1:14–2:1). God se volk in die ou tyd het ware profesieë ontvang, maar hulle het ook te doen gekry met die verdorwe leringe van valse profete (Jeremia 6:13, 14; 28:1-3, 15). “By die profete van Jerusalem”, het Jeremia geskryf, “het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens.”—Jeremia 23:14.

4. Waarom verdien valse leermeesters om vernietig te word?

4 Petrus beskryf wat valse leermeesters in die Christengemeente sal doen en sê: “Húlle sal heimlik verderflike sektes invoer en sal selfs die eienaar [Jesus Christus] verloën wat hulle gekoop het en so ’n spoedige vernietiging oor hulleself bring” (2 Petrus 2:1; Judas 4). Die uiteindelike resultaat van sulke eerste-eeuse sekteywer was die Christendom soos ons dit vandag ken. Petrus toon waarom valse leermeesters vernietiging dubbel en dwars verdien: “Baie [sal] hulle losbandige dade navolg, en weens hulle sal daar smadend van die weg van die waarheid gepraat word.”—2 Petrus 2:2.

5. Waarvoor was valse leermeesters verantwoordelik?

5 Dink hieraan! Weens die invloed van valse leermeesters sou baie in die gemeente by losbandige dade betrokke raak. Die Griekse woord wat met “losbandige dade” vertaal word, dui op wellustigheid, bandeloosheid, onwelvoeglikheid, onkuisheid, skaamtelose gedrag. Petrus het vroeër gesê dat Christene “aan die verdorwenheid ontvlug het wat deur wellus in die wêreld is” (2 Petrus 1:4). Maar party sou na daardie verdorwenheid terugkeer, en valse leermeesters in die gemeentes sou grotendeels daarvoor verantwoordelik wees! Die weg van die waarheid sou dus smaad ly. Hoe jammer tog! Dit is sekerlik ’n saak waaraan al Jehovah se Getuies vandag noukeurig aandag moet gee. Ons moet nooit vergeet dat ons, na gelang van ons gedrag, Jehovah God en sy volk eer of oneer kan aandoen nie.—Spreuke 27:11; Romeine 2:24.

Hoe valse leringe ingebring word

6. Wat motiveer valse leermeesters, en hoe probeer hulle kry wat hulle wil hê?

6 Ons sal verstandig wees as ons let op hoe valse leermeesters hulle verdorwe denke inbring. Petrus sê eers dat hulle dit heimlik, of op ’n onopvallende, subtiele manier doen. Hy voeg by: “Ook sal hulle julle uit hebsug met vals woorde uitbuit.” Selfsugtige begeertes motiveer valse leermeesters, soos beklemtoon word deur die vertaling in die Jerusalem Bible: “Hulle sal gretiglik probeer om julle met sluwe woorde vir hulleself te koop.” James Moffatt se vertaling sê ook hier: “In hulle wellus sal hulle julle met geslepe redenasies uitbuit” (2 Petrus 2:1, 3). Die praatjies van valse leermeesters sal dalk geloofwaardig klink vir iemand wat nie geestelik wakker is nie, maar hulle woorde is versigtig gekies om mense “te koop”, om hulle te verlei om die bedrieërs se selfsugtige doelwitte te bereik.

7. Watter filosofie het in die eerste eeu veld gewen?

7 Eerste-eeuse valse leermeesters is ongetwyfeld beïnvloed deur die algemene wêreldse denkpatroon van daardie tyd. Ongeveer die tyd toe Petrus geskryf het, was ’n filosofie wat gnostisisme genoem is besig om veld te wen. Gnostici het geglo dat alle materie boos is en dat net dinge wat met die gees te doen het goed is. Daarom het party van hulle gesê dat dit nie saak maak wat ’n mens met jou fisiese liggaam doen nie. Hulle het geredeneer dat ’n mens na verloop van tyd nie meer hierdie liggaam sal hê nie. Daarom was hulle gevolgtrekking dat liggaamlike sondes—ook seksuele sondes—nie belangrik is nie. Sulke beskouings het blykbaar party wat verklaar het dat hulle Christene is, begin beïnvloed.

8, 9. (a) Watter verwronge redenasie het ’n invloed op party vroeë Christene gehad? (b) Wat het party in die gemeentes volgens Judas gedoen?

8 Een Bybelgeleerde het genoem dat “daar diegene in die Kerk was wat die leer van genade”, of “onverdiende goedhartigheid”, “verdraai het” (Efesiërs 1:5-7). Volgens hom het party soos volg geredeneer: “Sê jy dat God se [onverdiende goedhartigheid] groot genoeg is om enige sonde te bedek? . . . Laat ons dan aanhou sondig, want God se [onverdiende goedhartigheid] kan elke sonde uitwis. Trouens, hoe meer ons sondig, hoe meer kanse sal God se [onverdiende goedhartigheid] kry om te werk.” Het jy al ooit ’n meer verwronge redenasie gehoor?

9 Die apostel Paulus het verkeerde opvattings oor God se barmhartigheid weerlê toe hy gevra het: “Sal ons in die sonde bly, sodat onverdiende goedhartigheid oorvloedig kan word?” Hy het ook gevra: “Sal ons ’n sonde pleeg omdat ons nie onder die wet is nie maar onder onverdiende goedhartigheid?” Op elke vraag het Paulus nadruklik geantwoord: “Mag dit nooit gebeur nie!” (Romeine 6:1, 2, 15). Soos Judas sê, was daar klaarblyklik sekere mense “wat die onverdiende goedhartigheid van ons God in ’n verskoning vir losbandige gedrag verander”. Petrus noem egter dat sulke persone se ‘vernietiging nie sluimer nie’.—Judas 4; 2 Petrus 2:3.

Waarskuwende voorbeelde

10, 11. Watter drie waarskuwende voorbeelde noem Petrus?

10 Ter beklemtoning van die feit dat God teen moedswillige oortreders sal optree, noem Petrus drie waarskuwende voorbeelde uit die Skrif. Eerstens skryf hy: “God [het] hom nie daarvan weerhou . . . om die engele te straf wat gesondig het nie.” Hulle, sê Judas, ‘het nie hulle oorspronklike posisie behou nie, maar het hulle eie gepaste woonplek in die hemel verlaat’. Hulle het voor die Vloed aarde toe gekom en vleeslike liggame aangeneem sodat hulle geslagsomgang met die dogters van die mense kon hê. As straf vir hulle onbehoorlike, onnatuurlike gedrag, is hulle in “Tartarus” gewerp, of soos Judas se verslag sê, is hulle “met ewige boeie onder dik duisternis vir die oordeel van die groot dag bewaar”.—2 Petrus 2:4; Judas 6; Genesis 6:1-3.

11 Vervolgens verwys Petrus na die mense in Noag se dag (Genesis 7:17-24). Hy sê dat God hom in Noag se tyd “nie daarvan weerhou het om ’n eertydse wêreld te straf nie . . . toe hy ’n sondvloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het”. Ten slotte skryf Petrus dat God “vir goddelose mense ’n voorbeeld van toekomstige dinge gegee” het deur “die stede Sodom en Gomorra . . . tot as te verbrand”. Judas gee die bykomende inligting dat daardie persone “uitermate hoerery gepleeg en vir onnatuurlike gebruik agter vlees aan geloop het” (2 Petrus 2:5, 6; Judas 7). Manne het nie net ongeoorloofde geslagsomgang met vroue gehad nie, maar het ook gebrand van begeerte vir die vlees van ander manne, moontlik selfs vir die vlees van diere.—Genesis 19:4, 5; Levitikus 18:22-25.

12. Hoe word regverdige gedrag volgens Petrus beloon?

12 Tog noem Petrus terselfdertyd dat Jehovah ’n beloner is van diegene wat hom getrou dien. Hy vertel byvoorbeeld hoe God vir “Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar het” toe Hy die Vloed gebring het. Hy vertel ook hoe Jehovah “die regverdige Lot” verlos het in die tyd van Sodom en kom dan tot die gevolgtrekking: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om afgesny te word.”—2 Petrus 2:5, 7-9.

Dade wat straf verdien

13. Veral wie is bestem vir oordeel, en aan watter drome gee hulle hulle blykbaar oor?

13 Petrus sonder diegene uit wat veral vir God se oordeel bestem is, naamlik “dié wat agter vlees aan gaan met die begeerte om dit te verontreinig en wat op heerskappy neersien”. Ons kan amper voel hoe verontwaardig Petrus is wanneer hy sê: “Vermetel, eiesinnig, bewe hulle nie voor heerlikes nie, maar spreek smadend.” Judas skryf dat ‘hierdie mense wat hulle aan drome oorgee, die vlees verontreinig en smadend van heerlikes praat’ (2 Petrus 2:10; Judas 8). Hulle drome sluit dalk onrein seksuele fantasieë in wat hulle in hulle najaging van onsedelike seksuele bevrediging aanmoedig. Maar in watter sin ‘sien hulle op heerskappy neer’ en “praat hulle smadend van heerlikes”?

14. In watter sin ‘sien valse leermeesters neer op heerskappy’ en praat hulle “smadend van heerlikes”?

14 Hulle doen dit deur Goddelik ingestelde gesag te minag. Christen- ouer manne verteenwoordig die heerlike God Jehovah en sy Seun, en as gevolg daarvan word ’n mate van heerlikheid aan hulle verleen. Soos Petrus maak hulle weliswaar ook foute, maar die Skrif spoor gemeentelede aan om onderdanig te wees aan sulke heerlikes (Hebreërs 13:17). Hulle tekortkominge is geen rede om smadend van hulle te praat nie. Petrus sê dat engele “nie met smadende woorde ’n beskuldiging teen [valse leermeesters] inbring nie”, al verdien hulle dit dubbel en dwars. “Maar soos redelose diere wat van nature gebore word om gevang en vernietig te word”, gaan Petrus voort, “sal hierdie mense, in die dinge waarvan hulle onkundig is en smadend spreek, . . . ook vernietiging ondergaan.”—2 Petrus 2:10-13.

“Terwyl hulle saam met julle fees hou”

15. Hoe gaan valse leermeesters te werk, en waar probeer hulle mense verlei?

15 Al beskou hierdie verdorwe manne “’n weelderige lewe in die dag as ’n genot” en al is hulle “vlekke en smette”, is hulle ook slinks. Hulle tree “heimlik” op en gebruik “vals woorde”, soos Petrus vroeër genoem het (2 Petrus 2:1, 3, 13). Gevolglik kom hulle dalk nie in die openbaar in opstand teen die ouer manne se pogings om God se sedelike standaarde te handhaaf nie of jaag hulle nie openlik hulle eie seksuele bevrediging na nie. Petrus sê eerder dat hulle hulle “met onbeteuelde genot aan hulle bedrieglike leringe oorgee terwyl hulle saam met julle fees hou”. En Judas skryf: “Hulle is die rotse wat onder die water verborge is in julle liefdesmaaltye” (Judas 12). Ja, net soos skerp rotse onder die water die bodem van ’n boot kan uitruk en onbehoedsame matrose kan laat verdrink, het valse leermeesters onbehoedsames verderf vir wie hulle gedurende “liefdesmaaltye” voorgegee het dat hulle lief was.

16. (a) Wat was “liefdesmaaltye”, en by watter soortgelyke geleenthede kan onsedelike persone vandag bedrywig wees? (b) Op wie rig valse leermeesters hulle aandag, en wat moet sulke persone dus doen?

16 Hierdie “liefdesmaaltye” was blykbaar gesellighede waartydens eerste-eeuse Christene bymekaargekom het om kos en geselskap te geniet. Jehovah se Getuies kom ook vandag soms sosiaal bymekaar, moontlik by huweliksonthale, pieknieks of tydens ’n gesellige aandjie. Hoe kan verdorwe persone sulke geleenthede gebruik om slagoffers te verlei? Petrus skryf: “Hulle het oë wat vol egbreuk is . . . , en hulle verlok onbestendige siele.” Hulle rig hulle “hart wat geoefen is in hebsug” op die geestelik onbestendiges wat nie die waarheid ten volle hulle eie gemaak het nie. Wees dus gewaarsku deur wat in Petrus se dag gebeur het, en pas op! Weerstaan enigiemand wat met onrein bedoelings tot jou toenadering soek, en moenie om die bos gelei word deur die sjarme of fisiese aantreklikheid van iemand wat onsedelike toenadering soek nie!—2 Petrus 2:14.

‘Die weg van Bileam’

17. Wat was ‘die weg van Bileam’, en watter gevolge het dit vir 24 000 Israeliete gehad?

17 Daardie “vervloekte” persone ken die waarheid al lank. Hulle lyk dalk nog asof hulle bedrywig is in die gemeente. Maar Petrus sê: “Omdat hulle die reguit weg verlaat het, is hulle mislei. Hulle het die weg gevolg van Bileam, die seun van Beor, wat die loon van onreg liefgehad het” (2 Petrus 2:14, 15). Die profeet Bileam se weg was om vir sy eie gewin ’n strategie van onsedelike verleiding aan te beveel. Hy het vir die Moabitiese koning Balak gesê dat God Israel sou vervloek as hulle die mense kon verlok om hoerery te pleeg. Gevolglik is baie van God se volk deur Moabitiese vroue verlei, en 24 000 is gedood weens hulle onsedelike gedrag.—Numeri 25:1-9; 31:15, 16; Openbaring 2:14.

18. Hoe vasberade was Bileam, en wat beteken die uiteinde van daardie situasie vir valse leermeesters?

18 Petrus sê dat Bileam verhinder is toe sy donkie met hom gepraat het, en tog het Bileam “die loon van onreg [so] liefgehad” dat hy, selfs toe dit gebeur, nie sy “waansinnige optrede” gestaak het nie (2 Petrus 2:15, 16). Hoe goddeloos tog! Wee enigiemand wat God se volk soos Bileam probeer verderf deur hulle in die versoeking te bring om onsedelik te wees! Bileam het gesterf weens sy boosheid, ’n voorskou van wat met almal sal gebeur wat sy weg volg.—Numeri 31:8.

Hulle duiwelse verleidings

19, 20. (a) Waarmee word mense vergelyk wat soos Bileam is, en waarom? (b) Wie verlei hulle, en hoe? (c) Waarom kan ons sê dat hulle verleidings duiwels is, en hoe kan ons onsself en ander teen hulle beskerm?

19 Petrus beskryf mense wat soos Bileam is en sê: “Hulle is fonteine [of putte] sonder water, en miswolke wat deur ’n hewige storm voortgedryf word.” Vir ’n dorstige reisiger in ’n woestyn kan ’n droë put heel moontlik die dood beteken. Geen wonder nie dat “die donkerheid van die duisternis bewaar” word vir dié wat soos hierdie dinge is! “Want hulle uiter opgeblase woorde wat geen nut het nie,” gaan Petrus voort, “en deur die begeertes van die vlees en deur losbandige gewoontes verlok hulle dié wat pas aan mense ontvlug het wat in dwaling wandel.” Hulle verlei die onervarenes deur ‘vryheid aan te hulle beloof’, sê Petrus, terwyl ‘hulle self ’n bestaan voer as slawe van verderflikheid’.—2 Petrus 2:17-19; Galasiërs 5:13.

20 Die verleidings van sulke verdorwe leermeesters is duiwels. Hulle sê byvoorbeeld: ‘God weet ons is swak en onderworpe aan hartstog. As ons dan doen wat ons wil en ons seksuele begeertes bevredig, sal God barmhartig wees. As ons ons sonde bely, sal hy ons vergewe net soos toe ons eers in die waarheid gekom het.’ Onthou dat die Duiwel ’n soortgelyke benadering met Eva gevolg het en haar belowe het dat sy kon sondig en ongestraf sou bly. In Eva se geval het hy beweer dat sonde teen God vir haar verligting en vryheid sou meebring (Genesis 3:4, 5). As ons so ’n verdorwe persoon teëkom wat met die gemeente omgaan, is ons verplig om onsself sowel as ander te beskerm deur die verantwoordelike persone in die Christengemeente van daardie persoon te vertel.—Levitikus 5:1.

Beskerm deur juiste kennis

21-23. (a) Wat is die gevolge daarvan as ’n mens nie juiste kennis toepas nie? (b) Watter verdere probleem bespreek Petrus wat ons hierna gaan behandel?

21 Petrus sluit hierdie deel van sy brief af deur die gevolge te beskryf as ’n mens nie die kennis toepas wat hy vroeër gesê het noodsaaklik is vir “lewe en godvrugtige toegewydheid” nie (2 Petrus 1:2, 3, 8). Hy skryf: “Waarlik, as hulle, nadat hulle deur ’n juiste kennis van die Here en Redder Jesus Christus aan die verontreinigings van die wêreld ontvlug het, weer in hierdie selfde dinge verwikkel raak en oorwin word, het die laaste toestande vir hulle erger geword as die eerstes” (2 Petrus 2:20). Hoe jammer tog! Sulke persone in Petrus se dag het die kosbare hoop op onsterflike hemelse lewe weggegooi ter wille van vlietende oomblikke van seksuele bevrediging.

22 Daarom sê Petrus: “Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die weg van regverdigheid nie noukeurig geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit noukeurig geken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: ‘Die hond het na sy eie uitbraaksel teruggekeer, en die gewaste sog om in die modder te rol.’”—2 Petrus 2:21, 22; Spreuke 26:11.

23 Nog ’n probleem wat blykbaar ’n invloed op die vroeë Christene begin uitoefen het, was soortgelyk aan een wat vandag ’n invloed op party uitoefen. Destyds het party blykbaar gekla omdat Christus se beloofde teenwoordigheid skynbaar nie kom nie. Kom ons kyk hoe Petrus hierdie saak aanroer.

◻ Watter drie waarskuwende voorbeelde gee Petrus?

◻ Hoe ‘sien valse leermeesters neer op heerskappy’?

◻ Wat is die weg van Bileam, en hoe kan dié wat dit volg, probeer om ander te verlei?

◻ Wat is die gevolge daarvan as ’n mens nie juiste kennis toepas nie?

[Prent op bladsy 16, 17]

Bileam is ’n waarskuwende voorbeeld

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel