Waarom ons juiste kennis nodig het
“Daarom het ons ook, van die dag af dat ons daarvan gehoor het, nie opgehou om vir julle te bid nie en te vra dat julle vervul mag word met die juiste kennis van sy wil, in alle wysheid en geestelike insig.”—KOLOSSENSE 1:9, “NW”.
1. Lig die verskil tussen algemene en juiste kennis toe.
FEITLIK almal weet wat ’n horlosie is, maar hoeveel weet hoe ’n horlosie werk? Jy het dalk min of meer ’n idee, maar kan jy een uitmekaar haal, dit regmaak en dit weer aanmekaarsit? ’n Horlosiemaker kan beslis. Waarom? Omdat hy ’n juiste, omvattende kennis het van hoe ’n horlosie werk. En dit lig die verskil tussen algemene en juiste kennis van ’n onderwerp toe.
2. Watter verskil tussen die twee soorte kennis het jy op die gebied van godsdiens opgemerk?
2 Miljoene mense het min of meer ’n idee wie God is. Hulle sê dat hulle in God glo, hoewel hulle dade dikwels daardie bewering weerspreek. Een sendeling het huisbewoners partymaal gevra: “As ’n Katoliek glo jy seker in God, nie waar nie?” En die antwoord was dikwels met ’n gebaar in die rigting van die hemel: “Wel, ek glo dat daar iets daar bo moet wees.” Sou jy dit ’n juiste kennis en begrip van God noem? Nouliks. En dikwels is die gevolg van sulke vaagheid dat die gedrag van sogenaamde Christene nie Christelik is nie. (Vergelyk Titus 1:16.) Die gevolglike situasie is soos Paulus dit beskryf het: “Omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis [of, “juiste kennis”, NW] te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid.”—Romeine 1:28.
3. Wat is die gevolg wanneer mense juiste kennis van God se wil verwerp?
3 Wat was die gevolg van daardie gebrek aan juiste kennis in die eerste eeu? Mense het gedoen “wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers; onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig”. Hulle gebrek aan juiste kennis het beteken dat hulle harte nie tot regverdige dade geneig was nie.—Romeine 1:28-31; Spreuke 2:2, 10.
Wat is die verskil?
4, 5. Wat is volgens Grekiste party van die verskille tussen gnoʹsis en e·piʹgno·sis?
4 Hierdie verskil tussen algemene en juiste kennis word in die Griekse Skrifte aangetoon. Die oorspronklike Grieks praat van gnoʹsis, kennis, en e·piʹgno·sis, juiste kennis. Volgens die Grekis W. E. Vine beteken eersgenoemde “hoofsaaklik ’n soeke om te weet, ’n ondersoek, navorsing”, veral na skriftuurlike waarheid in die konteks van die Skrif.
5 Volgens die Grekis Thayer beteken e·piʹgno·sis “noukeurige en korrekte kennis”. En in die werkwoordelike vorm beteken dit “om deeglik vertroud te raak met, om deeglik te ken; om akkuraat, goed, te ken”. W. E. Vine sê dat e·piʹgno·sis “presiese of grondige kennis, onderskeidingsvermoë, erkenning beteken”. Hy sê voorts dit behels “’n grondiger of ’n grondige kennis, ’n groter gemeenskap van die kennisdraer met die gekende saak, met die gevolg dat dit ’n kragtiger invloed op hom het”. (Ons kursiveer.) Soos ons sal sien, is laasgenoemde uitdrukking uiters belangrik vir ’n Christen.
6. Watter Bybelskrywers gebruik die woorde vir “kennis” en “juiste kennis”, en waarom is juiste kennis belangrik?
6 Net twee Bybelskrywers gebruik die Griekse woord e·piʹgno·sis. Hulle is Paulus en Petrus, wat die woord altesaam 20 keer gebruik.a Buiten Lukas is hulle ook die enigstes wat die woord gnoʹsis gebruik. Paulus gebruik dit 23 keer en Petrus 4 keer. Hulle geskrifte is dus ’n waardevolle gids wat die belangrikheid van juiste kennis met die oog op redding betref. Soos Paulus vir Timotheüs gesê het: “Dit is voortreflik en aangenaam in die oë van onse Redder, God, wie se wil dit is dat alle soorte mense gered word en tot ’n juiste kennis van die waarheid kom.”—1 Timotheüs 2:3, 4, NW.
Waarom juiste kennis belangrik is
7. (a) Watter uitwerking moet kennis op ons hê om van waarde te wees? (b) Watter gevaar loop ons as ons kennis verwaarloos?
7 Die verkryging van juiste kennis van die waarheid soos dit in die Bybel geleer word, is dus ’n sleutel tot redding. Daardie kennis moet egter die hart, die setel van motivering, bereik. Dit kan nie ’n intellektuele of akademiese oefening bly nie. Nadat ’n mens kennis van die waarheid opgedoen het, moet dit boonop gebruik en aangevul word. Waarom? Omdat die geheue, soos ’n ongebruikte spier, swak en gebrekkig kan word, in welke geval ons ons geestelikheid maklik kan verwaarloos en begin wegdryf van en wankel in ons geloof. Ons kan ons houvas op “die kennis van God” laat verslap. Hierdie wankelmoedigheid kan kort voor lank in laks denkvermoëns en selfs onchristelike gedrag weerspieël word.—Spreuke 2:5; Hebreërs 2:1.
8. Watter waarde het Salomo in wysheid en kennis gesien?
8 Ons verstaan dus waarom Salomo groot waarde aan wysheid, onderskeidingsvermoë en denkvermoë geheg het toe hy getrou was. Hy het geskryf: “Wanneer wysheid in jou hart ingaan en kennis self aangenaam word vir jou siel sal denkvermoë self waghou oor jou, onderskeidingsvermoë self sal jou beveilig, om jou te bevry van die slegte weg”b (Spreuke 2:10-12, NW). Hierdie woorde impliseer dat ons ’n brandende begeerte na juiste kennis moet ontwikkel, wat die hart en die siel self kan raak. Boonop is dit ’n fondament vir goeie denkvermoëns. En waarom is dit vandag so belangrik?
9. Wie is party vyande van Christelike geestelikheid?
9 Ons lewe in “die laaste dae”, waartydens “tye van spanning” of “’n tyd van moeilikhede” aangebreek het, soos Paulus geprofeteer het (2 Timotheüs 3:1, Revised Standard Version; The New English Bible). Dit word al hoe moeiliker om ons Christelike onkreukbaarheid in hierdie verdorwe wêreld te handhaaf. Christelike sedes, waardes en standaarde word bespot en verag. Die geloof van Jehovah se Getuies word van alle kante aangeval—deur die Christendom se geestelikes wat die Koninkryksboodskap haat wat ons van huis tot huis neem, deur afvalliges wat met die Christendom se geestelikes heul, deur mediese instansies wat bloedoortappings aan ons en ons kinders wil opdwing, deur ateïstiese wetenskaplikes wat geloof in God en die skepping verwerp en deur diegene wat ons probeer dwing om ons neutraliteit prys te gee. Al hierdie teenkanting word georganiseer deur Satan, die heerser van die duisternis en onkunde, die vyand van juiste kennis.—2 Korinthiërs 4:3-6, vgl. NW; Efesiërs 4:17, 18; 6:11, 12.
10. Watter druk kan teen ons opbou, en waarom moet ons dit teenwerk?
10 In die daaglikse lewe kan druk toeneem, sodat dit ’n Christen beïnvloed om te doen wat ander doen, soos om dwelms te gebruik, onmatig te drink, onsedelik en gewelddadig te wees, te steel, te lieg, te kul, te vroeg die skool te verlaat of net om ’n lewe van selfsugtige genot na te jaag. Dit is waarom juiste kennis lewensbelangrik is. ’n Grondiger kennis van God se Woord en voorneme kan ’n kragtiger positiewe invloed op ons denke en ons optrede hê.—Romeine 12:1, 2.
’n Hedendaagse verlore seun
11, 12. Watter ware ondervinding toon hoe dwaas dit is om juiste kennis van die waarheid te verwerp?
11 Ons kan dit toelig met die ware geval van ’n jongman wie se liefde vir die waarheid op die proef gestel is toe hy ongeveer 14 jaar oud en reeds ’n gedoopte Christen was. Soos baie jongmense was hy baie lief vir sport, veral sokker. Maar daar was ’n probleem. Sy skool het sokker gespeel op dieselfde aand waarop die gemeente vergaderinge gehad het. Hy was geestelik nie sterk genoeg om die oppervlakkige waarde van sokker behoorlik op te weeg teen die blywende waarde van bywoning van Christelike vergaderinge saam met sy weduwee-moeder en sy jonger broer en suster nie. Daarom het hy opgehou om volgens juiste kennis op te tree en besluit om die waarheid die rug toe te keer. Mettertyd is hy uitgesit. Later het hy krygsdiens gaan doen, waartydens hy dwelms begin gebruik het.
12 In 1986, toe hierdie jongman uit die leër ontslaan is, het hy tot sy sinne gekom en het hy ’n brief aan ’n familievriend geskryf wat in die regterlike komitee gedien het wat hom uitgesit het. In die brief het hy gesê: “Ek is bly om jou ’n brokkie belangrike nuus te kan meedeel: Ek het teruggekom na die waarheid. . . . Ek het besef dat die apostel Paulus se woorde in 2 Korinthiërs 4:4 waar is, dat daar ’n god van hierdie stelsel van dinge is wat die sinne verblind. Ek was lank geestelik blind vir die dinge wat om my gebeur het. Toe ek die waarheid verlaat het, het ek nie geweet watter risiko ek loop nie. Maar met verloop van tyd, en danksy Jehovah God, kon ek duidelik besef dat my slegte handelwyse verkeerd was.”—Vergelyk Lukas 15:11-24.
13. Wat kan die positiewe gevolg wees vir party wat uitgesak het maar waarlik tot inkeer kom? (2 Timotheüs 2:24-26, vgl. NW).
13 Hierdie jongman het tot die weg van juiste kennis teruggekeer. Nou kan hy “waardiglik voor die Here . . . wandel om Hom in alles te behaag”. Hy kan ook ‘in elke goeie werk vrug dra en in die juiste kennis van God groei’ terwyl hy sy omgang met die Christengemeente voortsit. En wat ’n verkwikkende seën het hy tog vir sy gesin geword deur weer eens ’n volgeling van Christus te word! Weet jy van soortgelyke voorbeelde?—Kolossense 1:9, 10, vgl. NW; Mattheüs 11:28-30, vgl. NW.
Droewe gevolge van geestelike nalatigheid
14. (a) Wat moet ons doen om te verhoed dat ons die waarheid die rug toekeer? (b) Wat het met party Christene gebeur?
14 Watter les kan ons uit hierdie en soortgelyke gevalle leer? Dat nadat ons juiste kennis van die waarheid opgedoen het ons voortdurend die geestelike stroombane van die verstand moet hernieu sodat ons die waarheid nie die rug sal toekeer nie. Ons geestelike kragte kan swak word as ons persoonlike en gesinstudie, Christelike vergaderinge en die bediening verwaarloos. Wat kan dan gebeur? ’n Eens sterk Christen kan van die geloof wegdryf en hom dalk selfs aan verkeerde gedrag, soos onsedelikheid, skuldig maak, of met die glibberige glyplank van twyfel en verkeerde inligting afgly en in afvalligheid verval (Hebreërs 2:1; 3:12, vgl. NW; 6:11, 12). Party het dwaaslik selfs teruggekeer na die Babiloniese leerstellings oor die Drie-eenheid en die onsterflikheid van die siel!
15. Watter waarskuwing het Petrus oor die verwerping van die waarheid gegee?
15 Petrus se woorde is beslis toepaslik: “As hulle, nadat hulle deur die [juiste] kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie [noukeurig] geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit [noukeurig] leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.”—2 Petrus 2:20-22, vgl. NW.
16. (a) Hoe is party in die laaste jare mislei? (b) In watter gedrag het persone wat mislei is, verval?
16 Diegene wat ’n juiste kennis van die waarheid verwerp, kies dikwels die weg van eiebelang. Hulle aanvaar nie meer die verantwoordelikheid om gereeld Christelike vergaderinge by te woon of om aan die huis-tot-huisbediening deel te neem nie. Party begin selfs weer rook! Ander is bly dat hulle nie meer anders as die wêreld hoef te wees wat die kwessie van Christelike neutraliteit en die misbruik van bloed betref nie. O, watter vryheid tog! Nou kan hulle selfs vir een van die politieke partye van die “dier” stem (Openbaring 13:1, 7). As onvaste siele is party dus deur ‘diegene wat hulle vryheid belowe terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is’, verlei en mislei om die reguit weg van juiste kennis te verlaat.—2 Petrus 2:15-19, vgl. NW.
17. Watter gevaar loop diegene wat juiste kennis van die waarheid die rug toekeer?
17 Tensy sulke mense tot inkeer kom en na die waarheid terugkeer, loop hulle gevaar om die oordeel te ontvang wat Paulus beskryf het: “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die [juiste] kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” Hoe onverstandig en kortsigtig is dit tog om die juiste kennis van Jehovah God en Christus Jesus vir die afvallige leerstellings van die Christendom te verruil!—Hebreërs 6:4-6; 10:26, 27, vgl. NW.
Ywer wat met juiste kennis gepaard gaan
18. Watter rede het Paulus gegee vir die Joodse geestelikes se versuim om Christus te aanvaar?
18 Die Joodse geestelikes van Paulus se dag het beslis kennis van die Hebreeuse Skrifte gehad. Maar was dit juiste kennis? Het dit hulle Christus as die beloofde Messias laat aanvaar? Paulus redeneer dat hulle so vasbeslote was om deur middel van die Wet hulle eie regverdigheid tot stand te bring dat hulle geweier het om hulle aan ‘Christus wat die einde van die wet is’ te onderwerp. Daarom kon Paulus van hulle sê: “Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het, maar sonder [juiste] kennis.”—Romeine 10:1-4, vgl. NW.
19, 20. (a) Hoe kan ons juiste kennis verkry? (b) Watter vrae moet nog beantwoord word?
19 Hoe kan ons hierdie juiste kennis dan verkry? Deur persoonlike studie en bepeinsing, tesame met gebed en vergaderingbywoning. Dit beteken as ’t ware dat ons voortdurend ons geestelike batterye moet herlaai. Ons kan dit nie bekostig om net staat te maak op die kennis wat ons aanvanklik opgedoen het toe ons die waarheid aanvaar het nie. Ons moet aanhoudend deur middel van vlytige persoonlike studie vaste geestelike voedsel, juiste kennis, inneem. Paulus se raad is dus gepas: “Vaste spyse is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid [of, “rypheid”, NW] voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God . . . En dit sal ons doen as God dit toelaat.”—Hebreërs 5:14–6:3.
20 Die vrae is nou: Watter instrumente het ons wat ons kan help om juiste kennis te verkry? En wanneer kan ons God se Woord bestudeer, aangesien ons lewe so besig is? Die volgende artikel sal hierdie en verwante onderwerpe bespreek.
[Voetnote]
a Soos aangegee in die Comprehensive Concordance of the New World Translation of the Holy Scriptures, bladsy 17; ook Filemon 6. (Sien The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures.)
b Om ’n beter begrip te verkry van die betekenisverskille tussen die woorde “kennis”, “denkvermoë”, “wysheid” en ander wat in Spreuke aangetref word, sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 180, 1094, 1189, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., in Engels uitgegee word.
Vrae om te beantwoord
◻ Wat is die verskil tussen “kennis” en “juiste kennis”?
◻ Waarom is juiste kennis so belangrik in hierdie laaste dae?
◻ Hoe kan party in versoeking gebring word om die waarheid die rug toe te keer?
◻ Watter waarskuwing gee Petrus ons oor die verwerping van juiste kennis?
◻ Wat moet ons doen om juiste kennis te verkry en te behou?