Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 6/1 bl. 5-7
  • Wag geduldig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wag geduldig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dink helder
  • God is nie traag nie
  • Baie myle lê tussen doen en sê
  • Voorkennis
  • ‘Hou julle in God se liefde’
  • Hou Jehovah se dag goed in gedagte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Laat ons vashou aan ons kosbare geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Bybelboek nommer 61—2 Petrus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Hy het vergewensgesindheid by sy Heer geleer
    Volg hulle geloof na
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 6/1 bl. 5-7

Wag geduldig

DIE herder wat “wolf-wolf” geskree het toe daar nie ’n wolf was nie se latere geroep om hulp is geïgnoreer. Vandag slaan baie mense eweneens geen ag op die nabyheid van Jehovah se dag nie omdat hulle tallose waarskuwings gehoor het wat vals alarms was. Die blote feit dat so baie mense nie kan onderskei watter waarskuwing eg is en dan daarop ag slaan nie, bevorder die planne van God se groot vyand, Satan, die valse “engel van lig”.—2 Korintiërs 11:14.

’n Gees van oorgerustheid sal selfs vir diegene wat Jehovah al ’n geruime tyd dien gevaarlik wees. Waarom? Beskou die waarskuwing deur die apostel Petrus in die eerste eeu.

Dink helder

Petrus se tweede geïnspireerde brief was ’n herinnering vir die vroeë Christene, en dit is ook vir ons. “Geliefdes,” skryf hy, “dit is nou die tweede brief wat ek aan julle skryf, waarin ek, soos in my eerste, julle helder denkvermoëns deur herinnering opwek” (2 Petrus 3:1). Wat is die rede vir Petrus se besorgdheid? Petrus beklemtoon dat daar spotters sal wees wat deur hulle spotterny die gevoel van dringendheid sal ondermyn wat God se knegte moet hê oor die tyd waarin hulle lewe. Dit is nou die tyd wat ’n mens daarteen moet waak dat jy deur spotters bedrieg word. Petrus spoor sy lesers gevolglik aan om “die woorde [te] onthou wat vantevore deur die heilige profete gespreek is” (2 Petrus 3:2; Handelinge 3:22, 23). Wat het die profete gesê?

God se getroue knegte het by baie geleenthede die aandag gevestig op hoe Goddelike oordeel ’n einde gemaak het aan goddeloosheid. Petrus herinner sy lesers aan die Vloed van Noag se dag wat deur God gebruik is as ’n manier om in te gryp toe die aarde vol boosheid was. Daardie Vloed het die wêreld van daardie tyd op doeltreffende wyse tot ’n einde gebring. Maar God het Noag en sy gesin saam met die verteenwoordigende lewende wesens “van elke soort” in ’n ark bewaar. Legendes wat wêreldwyd voorkom, bevestig die waaragtigheid van die Bybelse verslag.a—Genesis 6:19; 2 Petrus 3:5, 6.

Petrus noem daardie Goddelike ingryping ‘’n feit wat die aandag ontgaan’ van party mense. Ander is later deur die spotters van die dag ’n gevoel van oorgerustheid gegee. Ons moet egter nooit uit die oog verloor wat Jehovah al gedoen het nie. Petrus sê vir ons: “Deur dieselfde woord is die hemele en die aarde wat nou is vir die vuur weggelê en word hulle bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Petrus 3:7). Ja, God gaan weer ingryp.

God is nie traag nie

Duisende jare het al verbygegaan. Waarom wag God so lank om die mens se probleme op te los? Petrus vestig weer die aandag op ’n ander feit. Hy sê: “Laat hierdie een feit egter nie julle aandag ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by Jehovah soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8). Jehovah se beskouing van tyd verskil van ons s’n. Vir die ewige God is die tydperk van Adam se skepping tot nou toe nie eers gelykstaande aan ’n week nie. Maar ongeag wat ons beskouing van tyd is, elke millennium en elke dag wat verbygaan, bring ons nader aan die uitvoering van Jehovah se voorneme.

“Wag maak die tyd lank” is ’n uitdrukking wat impliseer dat dit vir iemand wat bloot op ’n gebeurtenis wag, lyk of dit net nie wil kom nie. Maar Petrus raai ons aan om ‘die teenwoordigheid van die dag van Jehovah te verwag en goed in gedagte te hou’ (2 Petrus 3:12). Hoe kan ons ’n geestesgesindheid ontwikkel wat ons sal help om die nabyheid van die tyd wanneer God sal ingryp goed in gedagte te hou?

Baie myle lê tussen doen en sê

Petrus vestig die aandag op dade en gedrag. Hy verwys na “heilige gedragshandelinge”, asook “dade van godvrugtige toegewydheid” (2 Petrus 3:11). Wat behels dit?

’n Ware kneg van God handel op ’n manier wat Hom behaag. Die geloof van so ’n ware aanbidder word in sy gedrag weerspieël. Dit onderskei hom van diegene wat bloot praat van geloof in God en sy beloftes. Miskien het jy opgelet dat die openbare bediening van Jehovah se Getuies hulle van ander onderskei. Hulle besoek jou tuis om jou aandag te vestig op God se beloftes wat in die Bybel uiteengesit word. Maar hulle getuig ook van hulle verwagtinge en oortuigings waar hulle ook al mense teëkom.

Die Getuie wat hom daarmee besig hou om sy geloof aan ander te verkondig, word verder versterk in sy oortuigings. Wanneer ’n mens oor jou geloof praat, maak dit ’n dieper indruk op jou verstand en terselfdertyd bring dit innerlike vreugde en tevredenheid mee. Wanneer ons die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig, behaag ons ook Jehovah. Ons weet dat hy ‘nie onregverdig is sodat hy ons werk sal vergeet en die liefde wat ons vir sy naam toon nie’, soos Petrus se medeapostel Paulus sê.—Hebreërs 6:10; Romeine 10:9, 10.

Wat is die gevolg van hierdie daadwerklike betrokkenheid by die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk gedurende die laaste dae van hierdie huidige goddelose stelsel? Honderdduisende opregtes van hart leer hoe om ’n hegte verhouding met Jehovah op te bou, baat te vind by sy onverdiende goedhartigheid en ware geluk te vind in die vooruitsig op die ewige lewe op ’n paradysaarde.

Voorkennis

Hoewel ons uit die Bybel weet dat Jehovah God op sy bestemde tyd sal ingryp, moet ons ag slaan op ’n verdere waarskuwing wat Petrus gee. “Aangesien julle hierdie voorkennis het, [moet julle] op julle hoede wees dat julle nie saam met hulle deur die dwaling van die wettrotserende mense weggelei word en van julle eie standvastigheid wegval nie.”—2 Petrus 3:17.

Jehovah het beslis vooruit geweet dat party wat nie sterk geloof het nie, ontmoedig kon raak deur die skynbare vertraging van Goddelike ingryping. Hy het ook geweet dat die invloed van goddelose mense verderflik vir sy ware knegte kon wees, of ten minste hulle geloof kon ondermyn in die feit dat die heiliging van God se naam naby is. Hoe tragies sou dit tog wees om in hierdie laaste dae ons standvastigheid te verloor!

Dit is nie nou die tyd om te twyfel of onseker te wees oor wat Jehovah gaan doen nie (Hebreërs 12:1). Dit is nou eerder die tyd om te groei in waardering vir wat Jehovah se geduld tot gevolg gehad het—die vooruitsig op redding vir miljoene wat deel van die internasionale groot skare word en wat daarna uitsien om die komende groot verdrukking te oorleef (Openbaring 7:9, 14). Petrus spoor ons aan: “Hou aan om te groei in die onverdiende goedhartigheid en kennis van ons Here en Redder Jesus Christus. Aan hom sy die heerlikheid, nou sowel as tot die dag van die ewigheid.”—2 Petrus 3:18.

‘Hou julle in God se liefde’

Dit is vir ons ’n beskerming as ons besig is in die Koninkrykspredikingswerk en gereeld Christelike vergaderinge vir aanbidding en die bestudering van God se Woord bywoon. Gevolglik sal ons nie tyd hê om uitermate bekommerd te wees oor die verslegtende toestande in vandag se goddelose stelsel nie. Vrese en sorge hoef nie die lewe van ’n ware Christen te oorheers nie (1 Korintiërs 15:58). Hoe bedrywiger ons in Jehovah se diens is, hoe vinniger gaan die tyd verby.

Judas, wat Petrus se tydgenoot en die halfbroer van Jesus was, maan ons: “Julle, geliefdes, moet julle, deur julle op julle allerheiligste geloof op te bou en met heilige gees te bid, in God se liefde hou, terwyl julle wag op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus met die ewige lewe in die vooruitsig” (Judas 20, 21). Let op die belangrikheid van ’n positiewe gesindheid wat deur volharding in gebed lewendig gehou word (1 Tessalonisense 5:17). Judas voeg dan by: “Hou ook aan om barmhartigheid te bewys aan party wat twyfel; red hulle deur hulle uit die vuur te ruk. Maar hou aan om barmhartigheid aan ander te bewys, en dít met vrees, terwyl julle selfs die onderkleed haat wat deur die vlees bevlek is” (Judas 22, 23). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons mekaar gedurende hierdie moeilike tye versterk! En hoe belangrik is dit om nie voor versoeking te swig en die verlengde “dag van redding” te gebruik as ’n verskoning vir “losbandige gedrag” nie, wat nou so algemeen in vandag se sedelik verdorwe wêreld is.—Judas 4; 2 Korintiërs 6:1, 2.

Deur ag te slaan op die liefdevolle raad van Petrus, Paulus en Judas en deur besig en bedrywig in God se diens te bly, kan jy geduldig op die tyd wag wanneer Jehovah sal ingryp. Maar sal jy?

Moenie huiwer om met die Getuies in jou omgewing in aanraking te kom as jy hulp wil hê om jou geloof in die Skepper se belofte van die ewige lewe te versterk nie. Leer wat nodig is om te kwalifiseer om deel te neem aan hierdie aardwye getuieniswerk wat nooit weer gedoen sal word nie en wat tydens die naderende groot verdrukking tot ’n einde sal kom (Markus 13:10). Jy sal dan die vooruitsig hê om vir ewig in die nuwe wêreld van regverdigheid te woon wat Jehovah beloof (2 Petrus 3:13). Slaan ag op sy vermaninge! Wag geduldig! Bly besig!

[Voetnoot]

a Sien asseblief die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, bladsy 116, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 7]

Leer nou aangaande God se belofte van ’n paradys

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Wolf: Animals/Jim Harter/Dover Publications, Inc.; young shepherd: Children: A Pictorial Archive from Nineteenth-Century Sources/Grafton/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel