Sal jy God se heerlikheid weerkaats?
“Ons [weerkaats] die heerlikheid van Jehovah soos spieëls.”—2 KORINTIËRS 3:18.
1. Wat het Moses gesien, en wat het daarna gebeur?
DIT was een van die ontsagwekkendste visioene wat enige mens nog ooit gehad het. Terwyl Moses alleen hoog op die berg Sinai was, is ’n buitengewone versoek aan hom toegestaan. Hy is toegelaat om te sien wat geen mens nog ooit gesien het nie—die heerlikheid van Jehovah. Moses het Jehovah natuurlik nie direk gesien nie. God se voorkoms is so luisterryk dat geen mens hom kan sien en nogtans kan lewe nie. Jehovah het eerder sy “palm” oor Moses geplaas as ’n skerm totdat Hy verbygegaan het, blykbaar deur ’n engeleverteenwoordiger te gebruik. Toe het Jehovah Moses toegelaat om die nagloed van hierdie goddelike openbaring van heerlikheid te sien. Jehovah het ook met Moses gepraat deur middel van ’n engel. Die Bybel beskryf wat daarna gebeur het: “En toe Moses teen die berg Sinai afklim, . . . [het] die vel van sy gesig [geglinster] omdat hy met [Jehovah] gepraat het.”—Eksodus 33:18–34:7, 29.
2. Wat het die apostel Paulus geskryf oor die heerlikheid wat Christene weerkaats?
2 Stel jou voor dat jy saam met Moses op daardie berg is. Hoe opwindend sou dit tog wees om die skitterende luisterrykheid van die Almagtige te sien en na sy woorde te luister! Wat ’n voorreg sou dit tog wees om saam met Moses, die middelaar van die Wetsverbond, teen die berg Sinai af te klim! Maar het jy geweet dat ware Christene in sekere opsigte God se heerlikheid weerkaats op ’n manier wat selfs Moses se weerkaatsing daarvan oortref? Hierdie gedagteprikkelende feit word gevind in ’n brief wat deur die apostel Paulus geskryf is. Hy het geskryf dat gesalfde Christene “die heerlikheid van Jehovah soos spieëls weerkaats” (2 Korintiërs 3:7, 8, 18). Christene met ’n aardse hoop weerkaats ook in sekere sin God se heerlikheid.
Hoe Christene God se heerlikheid weerkaats
3. Hoe het ons Jehovah leer ken op maniere wat nie vir Moses moontlik was nie?
3 Hoe kan ons ooit God se heerlikheid weerkaats? Ons het Jehovah nie op dieselfde manier as Moses gesien of gehoor nie. Maar ons het Jehovah wel op maniere leer ken wat nie vir Moses moontlik was nie. Jesus het eers bykans 1 500 jaar ná Moses se dood as die Messias verskyn. Moses kon gevolglik nie geweet het hoe die Wet vervul sou word in Jesus, wat gesterf het om mense van die verskriklike verdrukking van sonde en die dood los te koop nie (Romeine 5:20, 21; Galasiërs 3:19). Ook kon Moses net ’n beperkte begrip hê van die grootsheid van Jehovah se voorneme, wat verband hou met die Messiaanse Koninkryk en die aardse Paradys wat daardeur tot stand gebring sal word. Ons sien dus Jehovah se heerlikheid, nie met ons letterlike oë nie, maar met die oë van geloof wat op Bybelleringe gebaseer is. Verder het ons Jehovah se stem gehoor, nie deur middel van ’n engel nie, maar deur die Bybel, veral die Evangelies, wat die leringe en die bediening van Jesus so pragtig beskryf.
4. (a) Hoe weerkaats gesalfde Christene God se heerlikheid? (b) Op watter maniere kan diegene wat die aardse hoop het, God se heerlikheid weerkaats?
4 Hoewel Christene nie God se heerlikheid weerkaats deurdat hulle gesigte glinster nie, straal hulle gesigte wel wanneer hulle ander van Jehovah se glorieryke persoonlikheid en voornemens vertel. Aangaande ons dag het die profeet Jesaja voorspel dat God se volk “vir seker [Jehovah se] heerlikheid onder die nasies [sal] verkondig” (Jesaja 66:19). Verder lees ons in 2 Korintiërs 4:1, 2: “Aangesien ons hierdie bediening het . . . , het [ons] afstand gedoen van die agterbakse dinge waaroor ’n mens jou moet skaam en wandel [ons] nie met listigheid nie en vervals [ons] ook nie die woord van God nie, maar deur die waarheid openbaar te maak, beveel ons ons by elke menslike gewete voor die aangesig van God aan.” Paulus het in die besonder na gesalfde Christene verwys, wat “bedienaars van ’n nuwe verbond” is (2 Korintiërs 3:6). Maar hulle bediening het ’n invloed op tallose mense gehad wat die hoop op ewige lewe op aarde verkry het. Die bediening van albei groepe sluit in dat hulle die heerlikheid van Jehovah weerkaats, nie net deur wat hulle ander leer nie, maar ook deur hoe hulle lewe. Dit is ons verantwoordelikheid en ons voorreg om die heerlikheid van die Allerhoogste God te weerkaats!
5. Waarvan lewer ons geestelike voorspoed bewys?
5 Vandag word die glorieryke goeie nuus van God se Koninkryk in die hele bewoonde aarde verkondig, soos Jesus voorspel het (Matteus 24:14). Mense uit alle nasies, stamme, volke en tale het geesdriftig gereageer op die goeie nuus en het hulle lewe verander sodat hulle God se wil kan doen (Romeine 12:2; Openbaring 7:9). Soos die vroeë Christene, kan hulle nie ophou praat oor die dinge wat hulle gesien en gehoor het nie (Handelinge 4:20). Oor die sesmiljoen mense, meer as in enige ander tyd in die mensegeskiedenis, weerkaats vandag God se heerlikheid. Is jy een van hulle? Die geestelike voorspoed van God se volk lewer oortuigende bewys van Jehovah se seën en beskerming. Die feit dat Jehovah se gees op ons is, is selfs duideliker as ’n mens in ag neem watter kragtige magte teen ons is. Kom ons kyk nou waarom dit die geval is.
God se volk sal nie stilgemaak word nie
6. Waarom verg dit geloof en moed om ’n standpunt vir Jehovah in te neem?
6 Gestel jy word opgeroep om in die hof teen ’n wrede misdadiger te getuig. Jy weet dat die misdadiger in beheer van ’n magtige organisasie is en elke moontlike middel sal aanwend om te verhoed dat jy hom ontmasker. Om teen so ’n misdadiger te getuig, sal moed verg sowel as die vertroue dat die owerhede jou teen hom sal beskerm. Ons bevind ons in ’n soortgelyke situasie. Wanneer ons van Jehovah en sy voornemens getuig, getuig ons teen Satan die Duiwel en ontmasker ons hom as ’n mensemoordenaar en ’n leuenaar wat die hele bewoonde aarde mislei (Johannes 8:44; Openbaring 12:9). Om jou standpunt vir Jehovah en teen die Duiwel in te neem, verg geloof sowel as moed.
7. Hoe invloedryk is Satan, en wat probeer hy doen?
7 Jehovah is natuurlik die Allerhoogste. Sy mag is oneindig groter as dié van Satan. Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah nie net in staat is nie, maar ook gretig is om ons te beskerm wanneer ons hom lojaal dien (2 Kronieke 16:9). Satan is nietemin die heerser van die demone sowel as van die mensewêreld wat van God vervreemd is (Matteus 12:24, 26; Johannes 14:30). Omdat hy tot die omgewing van die aarde beperk is en met “groot toorn” vervul is, staan Satan Jehovah se knegte hewig teë en gebruik hy die wêreld onder sy beheer om almal wat die goeie nuus verkondig, se mond te probeer snoer (Openbaring 12:7-9, 12, 17). Hoe doen hy dit? Op ten minste drie maniere.
8, 9. Hoe gebruik Satan misplaaste liefde, en waarom moet ons ons metgeselle versigtig kies?
8 Een manier waarop Satan ons aandag probeer aflei, is deur die sorge van die lewe. In hierdie laaste dae is mense liefhebbers van geld, liefhebbers van hulleself en liefhebbers van genot. Hulle is nie liefhebbers van God nie (2 Timoteus 3:1-4). Die meeste mense is so besig met die alledaagse lewensaangeleenthede dat hulle ‘geen ag slaan’ op die goeie nuus wat ons vir hulle bring nie. Hulle stel eenvoudig nie daarin belang om Bybelwaarheid te leer nie (Matteus 24:37-39). So ’n gesindheid kan aansteeklik wees en ons geestelik traag laat word. As ons toelaat dat ons ’n liefde vir materiële dinge en die genietinge van die lewe aankweek, sal ons liefde vir God verkoel.—Matteus 24:12.
9 Om hierdie rede kies Christene hulle metgeselle versigtig. “Hy wat met wyses wandel, sal wys word”, het koning Salomo geskryf, “maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Mag ons “wandel” met diegene wat God se heerlikheid weerkaats. Hoe aangenaam is dit tog om dit te doen! Wanneer ons by ons vergaderinge en op ander tye saam met ons geestelike broers en susters vergader, word ons aangemoedig deur hulle liefde, hulle geloof, hulle vreugde en hulle wysheid. Hierdie heilsame omgang maak ons nog meer vasbeslote om in ons bediening te volhard.
10. Op watter maniere gebruik Satan bespotting teen diegene wat God se heerlikheid weerkaats?
10 ’n Tweede manier waarop Satan alle Christene probeer keer om God se heerlikheid te weerkaats, is deur bespotting. Hierdie taktiek behoort ons glad nie te verbaas nie. Jesus Christus is gedurende sy bediening op die aarde bespot—hy is uitgelag, die spot mee gedryf, minagtend behandel en selfs bespoeg (Markus 5:40; Lukas 16:14; 18:32). Vroeë Christene was ook voorwerpe van bespotting (Handelinge 2:13; 17:32). Hedendaagse knegte van Jehovah word op soortgelyke wyse gesmaad. Volgens die apostel Petrus sou hulle in werklikheid as “valse profete” bestempel word. Hy het voorspel “dat daar in die laaste dae spotters sal kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel en sê: ‘Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? . . . Alles [bly] dan net soos van die begin van die skepping af’” (2 Petrus 3:3, 4). God se volk word bespot as mense wat nie in voeling met die werklikheid is nie. Die Bybel se sedelike standaarde word as outyds beskou. Vir baie is die boodskap wat ons verkondig, dwaasheid (1 Korintiërs 1:18, 19). As Christene word ons miskien by die skool, by die werk en soms selfs in die gesinskring bespot. Ons laat ons nie hierdeur afskrik nie en gaan voort om God se heerlikheid deur ons predikingswerk te weerkaats, aangesien ons net soos Jesus weet dat God se Woord die waarheid is.—Johannes 17:17.
11. Hoe gebruik Satan vervolging om Christene te probeer stilmaak?
11 ’n Derde taktiek wat die Duiwel gebruik in ’n poging om ons stil te maak, is teenstand of vervolging. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Mense [sal] julle aan verdrukking oorlewer en julle doodmaak, en julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matteus 24:9). Ja, as Jehovah se Getuies het ons al in baie dele van die aarde met wrede vervolging te kampe gehad. Ons is daarvan bewus dat Jehovah lank gelede voorspel het dat daar haat, of vyandskap, sou ontstaan tussen diegene wat God dien en diegene wat Satan die Duiwel dien (Genesis 3:15). Ons weet ook dat ons die regmatigheid van Jehovah se universele soewereiniteit ondersteun wanneer ons ons onkreukbaarheid onder beproewing handhaaf. Hierdie wete kan ons selfs onder die moeilikste omstandighede krag gee. Geen vervolging sal ons ooit permanent stilmaak as ons vasbeslote bly om die heerlikheid van God te weerkaats nie.
12. Waarom moet ons bly wees wanneer ons getrou bly ondanks Satan se teenstand?
12 Weerstaan jy die verlokking van die wêreld en bly jy getrou ondanks bespotting en teenstand? Dan het jy rede om bly te wees. Jesus het diegene wat hom sou volg, die versekering gegee: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele; want so het hulle die profete voor julle vervolg” (Matteus 5:11, 12). Jou volharding lewer bewys dat Jehovah se kragtige heilige gees op jou is, wat jou in staat stel om sy heerlikheid te weerkaats.—2 Korintiërs 12:9.
Volharding kom van Jehovah
13. Wat is ’n vername rede waarom ons in ons Christelike bediening volhard?
13 ’n Vername rede waarom ons in die bediening volhard, is dat ons Jehovah liefhet en daarin behae skep om sy heerlikheid te weerkaats. Mense is geneig om diegene na te volg vir wie hulle lief is en respek het, en niemand is navolgenswaardiger as Jehovah God nie. Weens sý groot liefde het hy sy Seun aarde toe gestuur om van die waarheid te getuig en om gehoorsame mense los te koop (Johannes 3:16; 18:37). Soos God, wil ons hê dat alle soorte mense tot berou moet kom en gered moet word; daarom getuig ons vir hulle (2 Petrus 3:9). Hierdie begeerte, tesame met ons vasbeslotenheid om God na te volg, beweeg ons om vol te hou om sy heerlikheid deur ons bediening te weerkaats.
14. Hoe versterk Jehovah ons om in ons bediening te volhard?
14 Maar ons krag om in die Christelike bediening te volhard, kom eintlik van Jehovah af. Hy onderskraag en versterk ons deur middel van sy gees, sy organisasie en sy Woord, die Bybel. Jehovah ‘verskaf volharding’ aan diegene wat gewillig is om sy heerlikheid te weerkaats. Hy verhoor ons gebede en gee ons die wysheid om beproewinge die hoof te bied (Romeine 15:5; Jakobus 1:5). Wat meer is, Jehovah laat nie toe dat ons onderwerp word aan enige beproewing wat onmoontlik is om te verdra nie. As ons op Jehovah vertrou, sal hy die uitweg gee, sodat ons kan voortgaan om sy heerlikheid te weerkaats.—1 Korintiërs 10:13.
15. Wat help ons om te volhard?
15 Volharding in ons bediening bewys dat God se gees op ons is. Ter toeligting: Gestel iemand vra jou om ’n sekere soort brood gratis van deur tot deur te versprei. Jy word aangesê om dit op jou eie onkoste en in jou eie tyd te doen. Verder vind jy gou uit dat baie min mense in werklikheid jou brood wil hê; party sal selfs jou pogings om dit te versprei, teëstaan. Dink jy dat jy maand ná maand, jaar ná jaar, sal voortgaan om daardie werk te doen? Waarskynlik nie. Tog span jy jou moontlik al jare lank, selfs dekades lank, in om die goeie nuus in jou eie tyd en op jou eie onkoste bekend te maak. Waarom? Is dit nie omdat jy Jehovah liefhet en hy deur middel van sy gees jou pogings geseën het deur jou te help om te volhard nie? Ja, beslis!
’n Werk wat onthou sal word
16. Wat beteken volharding in ons bediening vir ons en vir dié wat na ons luister?
16 Die bediening van die nuwe verbond is ’n onvergelyklike gawe (2 Korintiërs 4:7). Die Christelike bediening wat wêreldwyd deur die ander skape uitgevoer word, is eweneens ’n skat. Terwyl jy in jou bediening volhard, kan jy, soos Paulus aan Timoteus geskryf het, “jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). Dink ’n bietjie aan wat dit beteken. Die goeie nuus wat jy verkondig, bied ander die geleentheid om vir ewig te lewe. Jy kan ’n sterk vriendskapsband smee met dié wat jy geestelik help. Dink net wat ’n vreugde dit sal wees om vir ewig in die Paradys saam met dié te lewe wat jy gehelp het om van God te leer! Hulle sal sekerlik nooit jou pogings om hulle te help, vergeet nie. Watter bevrediging sal dit tog nie verskaf nie!
17. Waarom is die tydperk waarin ons lewe, uniek in die mensegeskiedenis?
17 Jy lewe in ’n unieke tydperk in die mensegeskiedenis. Die goeie nuus sal nooit weer verkondig word in ’n wêreld wat van God vervreemd is nie. Noag het in so ’n wêreld gelewe, en hy het dit sien verbygaan. Hoe bly moet hy tog gewees het om te weet dat hy God se wil getrou uitgevoer het deur ’n ark te bou, wat redding vir hom en sy gesin beteken het! (Hebreërs 11:7). Jy kan ook sulke vreugde smaak. Dink net hoe jy in die nuwe wêreld sal voel wanneer jy terugkyk op jou werk gedurende hierdie laaste dae, wetende dat jy gedoen het wat jy kon om Koninkryksbelange te bevorder.
18. Watter versekering en aanmoediging gee Jehovah sy knegte?
18 Laat ons dan aanhou om God se heerlikheid te weerkaats. As ons dit doen, sal dit iets wees wat ons vir ewig sal onthou. Jehovah onthou ook ons werke. Die Bybel gee hierdie aanmoediging: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie. Maar ons begeer dat elkeen van julle dieselfde vlytigheid aan die dag sal lê om tot die einde toe die volle versekerdheid van die hoop te hê, sodat julle nie traag sal word nie, maar navolgers sal wees van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.”—Hebreërs 6:10-12.
Kan jy verduidelik?
• Hoe weerkaats Christene die heerlikheid van God?
• Watter taktiek gebruik Satan in sy poging om God se volk stil te maak?
• Watter bewys is daar dat God se gees op ons is?
[Prent op bladsy 15]
Moses se gesig het heerlikheid weerkaats
[Prente op bladsy 16, 17]
Ons weerkaats die heerlikheid van God deur ons bediening