Verenig in die volmaakte band van liefde
‘Wees harmonies saamgevoeg in liefde.’—KOLOSSENSE 2:2, NW.
1, 2. Watter verdelende invloed word veral vandag ervaar?
LUISTER! ’n Luide stem weergalm deur die hemele en sê: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Daardie boodskap word met die verloop van elke jaar al hoe onheilspellender vir die aarde se bewoners.
2 Jehovah se groot vyand staan al lank as ’n teenstander (Satan) en ’n lasteraar (Duiwel) bekend. Maar nou het hierdie verleier nog ’n boosaardige rol begin speel—hy het ’n woedende god geword! Waarom? Omdat Migael en sy engele hom tydens die oorlog wat in 1914 in die hemel begin het uit die hemel gewerp het (Openbaring 12:7-9). Die Duiwel weet dat hy net ’n kort tydjie het om sy aantyging te bewys dat hy alle mense van die aanbidding van God kan afkeer (Job 1:11; 2:4, 5). Omdat hy en sy demone nêrens heen kan vlug nie, is hulle soos ’n kwaai swerm bye wat hulle woede op die rustelose mensemassa koel.—Jesaja 57:20.
3. Wat is die gevolg daarvan dat Satan in ons dag verlaag is?
3 Hierdie gebeurtenisse, wat onsigbaar vir mense-oë is, verduidelik waarom daar nou ’n algemene sedelike verval onder die mensdom is. Dit verduidelik ook die mens se wanhopige pogings om die verbrokkeling van nasies te keer wat eenvoudig nie in harmonie kan saamleef nie. Stam- en etniese groepe val mekaar wreed aan, wat veroorsaak dat miljoene mense dakloos gelaat en uit hulle tuisland verdryf word. Dit is geen wonder dat wetteloosheid op ’n ongekende skaal toeneem nie! Soos Jesus voorspel het, ‘verkoel die liefde van die meeste mense’. Waar jy ook al kyk, is disharmonie en liefdeloosheid ’n kenmerk van die hedendaagse rustelose mensdom.—Mattheüs 24:12.
4. Waarom verkeer God se volk veral in gevaar?
4 Met die oog op die wêreldsituasie neem Jesus se gebed vir sy volgelinge groter betekenis aan: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:15, 16). Vandag koel “die Bose” sy woede veral op diegene “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openbaring 12:17). As dit nie vir Jehovah se waaksame en liefdevolle sorg was nie, sou sy getroue Getuies uitgewis word. Ons lewe hang daarvan af of ons alles benut wat God vir ons geestelike veiligheid en welstand voorsien. Dit beteken dat ons ons in ooreenstemming met die werking van Sy krag deur Christus moet inspan, soos die apostel ons in Kolossense 1:29 aangespoor het.
5, 6. Hoe het die apostel Paulus oor die Christene in Kolosse gevoel, en waarom is die temateks vir 1995 gepas?
5 Hoewel Paulus sy broers in Kolosse waarskynlik nooit self gesien het nie, het hy hulle liefgehad. Hy het vir hulle gesê: “Ek wens julle kon weet hoe diep besorg ek oor julle is” (Kolossense 2:1, The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips). Aangesien Jesus se volgelinge nie van die wêreld is nie, sal “die Bose” aanhou probeer om die broers se eenheid te verbreek deur die gees van die wêreld onder hulle te saai. Die nuus wat Epafras uit Kolosse gebring het, het getoon dat dit wel in sekere mate gebeur het.
6 Een van die vernaamste dinge wat Paulus sy Christenbroers op die hart wou druk, kan in hierdie woorde opgesom word: ‘Wees harmonies saamgevoeg in liefde.’ Sy woorde is vandag van besondere belang in ’n wêreld vol verdeeldheid en liefdeloosheid. As ons Paulus se raad ter harte neem, sal ons Jehovah se sorg geniet. Ons sal ook die krag van sy gees in ons lewe ervaar, wat ons sal help om die druk van die wêreld te weerstaan. Watter wyse raad is dit tog! Daarom sal Kolossense 2:2 ons temateks vir 1995 wees.
7. Watter harmonie behoort daar onder ware Christene te wees?
7 In ’n vroeëre brief aan die Korinthiërs het die apostel die menseliggaam as ’n illustrasie gebruik. Hy het geskryf dat “daar geen verdeeldheid” in die gemeente van gesalfde Christene moet wees nie, maar dat “die lede gelyke sorg vir mekaar [moet] dra” (1 Korinthiërs 12:12, 24, 25). Wat ’n wonderlike illustrasie! Ons ledemate is onderling afhanklik van mekaar, omdat hulle almal aan die res van ons liggaam vas is. Dit is ook die geval met ons wêreldwye broederskap, wat bestaan uit gesalfdes en miljoene wat die hoop het om op ’n paradysaarde te lewe. Ons moet ons nie van die liggaam van mede-Christene afsny om onafhanklik te lewe nie! God se gees, wat deur Christus Jesus werk, vloei oorvloedig na ons toe deur ons assosiasie met ons broers.
Harmonie hou met kennis verband
8, 9. (a) Wat is deurslaggewend as ons tot die harmonie in die gemeente wil bydra? (b) Hoe het jy kennis van Christus verkry?
8 Een van Paulus se sleutelgedagtes was dat Christelike harmonie met kennis, veral kennis omtrent Christus, verband hou. Paulus het geskryf dat Christene “harmonies saamgevoeg [moet] wees in liefde en met die oog op al die rykdom van die volle versekerdheid van hulle begrip, met die oog op ’n juiste kennis van die heilige geheim van God, naamlik Christus” (Kolossense 2:2, NW). Ons neem al sedert ons God se Woord begin bestudeer het kennis—feite—in. Wanneer ons begin verstaan hoe baie van hierdie feite in God se voorneme inpas, besef ons watter deurslaggewende rol Jesus speel. “In hom is al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge.”—Kolossense 2:3, NW.
9 Is dit hoe jy oor Jesus en sy rol in God se voorneme voel? Baie in die Christendom praat geredelik oor Jesus en beweer dat hulle hom aangeneem het en gered is. Maar ken hulle hom werklik? Nouliks, want die meeste glo aan die onskriftuurlike Drie-eenheidsleerstelling. Jy ken nie net die waarheid in verband hiermee nie, maar jy het waarskynlik ’n taamlik breë kennis van wat Jesus gesê en gedoen het. Miljoene is al hierin gehelp deur ’n insiggewende studie met behulp van die boek Die grootste mens wat nog geleef het. Ons moet nietemin voortdurend ons kennis van Jesus en sy weë vermeerder.
10. Hoe is verborge kennis tot ons beskikking?
10 Die woorde dat “al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge” is in Jesus, beteken nie dat sulke kennis buite ons bereik is nie. Dit is eerder ’n bietjie soos ’n oop myn. Ons hoef nie deur ’n ontsaglike gebied te soek en te wonder waar ons moet begin grawe nie. Ons weet reeds—ware kennis begin met wat die Bybel oor Jesus Christus openbaar. Namate ons Jesus se rol in die uitvoering van Jehovah se voorneme beter verstaan, verkry ons die skatte van ware wysheid en juiste kennis. Ons moet derhalwe al hoe dieper grawe en meer van die kleinode of kosbare dinge opdiep uit hierdie bron waar ons reeds gegrawe het.—Spreuke 2:1-5.
11. Hoe kan ons ons kennis en wysheid vermeerder deur oor Jesus te peins? (Gebruik die voorbeeld van Jesus wat die dissipels se voete gewas het of gebruik ander voorbeelde.)
11 Byvoorbeeld, ons weet moontlik dat Jesus sy apostels se voete gewas het (Johannes 13:1-20). Maar het ons al gepeins oor die les wat hy hulle geleer het en die gesindheid wat hy aan die dag gelê het? As ons dit doen, kan ons ’n skat van wysheid opdiep wat ons in staat stel—ja, ons aanspoor—om ons optrede teenoor ’n broer of suster te verander wie se persoonlikheid ons al lank irriteer. Of as ons ’n toewysing ontvang waarvan ons nie juis hou nie, reageer ons dalk anders as ons eers die volle betekenis van Johannes 13:14, 15 snap. Dit is hoe die kennis en wysheid ’n invloed op ons het. Watter uitwerking sal dit moontlik op ander hê namate ons al hoe meer in ooreenstemming met die kennis van Christus kom? Die kudde sal waarskynlik ‘meer harmonies in liefde saamgevoeg wees’.a
Verdeelde aandag kan harmonie versteur
12. Teen watter kennis moet ons waak?
12 As juiste kennis daartoe bydra dat ons ‘harmonies saamgevoeg is in liefde’, wat is dan die gevolg van die “valslik sogenaamde kennis”? Net die teenoorgestelde—onenigheid, tweedrag en ’n afdwaling van die geloof. Ons moet dus teen sulke valse kennis waak, soos Paulus Timotheüs gewaarsku het (1 Timotheüs 6:20, 21). Paulus het ook geskryf: “Dit sê ek, sodat niemand julle mag verlei met drogredes [“oorredende argumente”, NW] nie. Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:4, 8.
13, 14. (a) Waarom het die broers in Kolosse in gevaar verkeer wat kennis betref? (b) Waarom dink party vandag dalk dat hulle nie in soortgelyke gevaar verkeer nie?
13 Die Christene in Kolosse was omring van die verraderlike invloed van wat in werklikheid valslik sogenaamde kennis was. Baie mense in en om Kolosse het groot waarde aan Griekse filosofieë geheg. Dan was daar die Judaïseerders wat wou hê dat Christene die Mosaïese Wet, soos die feesdae en voedselvereistes daarvan, moes onderhou (Kolossense 2:11, 16, 17). Paulus was nie daarteen gekant dat sy broers juiste kennis inneem nie, maar hulle moes oppas dat niemand hulle as ’n buit wegvoer deur oorredende argumente te gebruik om hulle daarvan te oortuig dat hulle ’n bloot menslike beskouing van hulle lewe en dade moet hê nie. Jy kan begryp dat dit harmonie en liefde onder gemeentelede sal teëwerk as party in die gemeente hulle denke en besluite deur sulke onskriftuurlike idees en benaderings tot die lewe laat lei.
14 ‘Ja’, dink jy dalk, ‘ek sien dat die Kolossense in gevaar verkeer het, maar ek loop nie gevaar om deur Griekse opvattings, soos dié van ’n onsterflike siel of ’n trinitariese god, beïnvloed te word nie; ek loop ook nie gevaar om verstrik te word deur die heidense vakansiedae van die valse godsdiens waarvan ek bevry is nie.’ Uitstekend. Dit is goed om ten volle oortuig te wees van die voortreflikheid van die eenvoudige waarheid wat deur Jesus geopenbaar en in die Skrif beskikbaar is. Maar hou ander filosofieë of menslike beskouings wat vandag algemeen is dalk vir ons gevaar in?
15, 16. Watter lewensbeskouing kan ’n Christen se denkwyse beïnvloed?
15 Een so ’n gesindheid bestaan al lank: “En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:4, NAV). Daardie gedagte word dalk in ander woorde uitgedruk, maar die beskouing is dieselfde. Byvoorbeeld, iemand redeneer dalk: ‘Toe ek die waarheid dekades gelede geleer het, was die einde “net om die draai”. Maar dit is nog nie hier nie, en wie weet wanneer dit sal kom?’ Niemand weet weliswaar wanneer die einde gaan kom nie. Maar let op die beskouing wat Jesus ons aangespoor het om te hê: “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie.”—Markus 13:32, 33, NW.
16 Hoe gevaarlik sal dit tog wees om te begin dink dat ons, aangesien ons nie weet wanneer die einde gaan kom nie, ’n vol en “normale” lewe moet beplan! Daardie benadering kan in die volgende redenasie weerspieël word: ‘Ek kan net sowel iets doen sodat ek (of my kinders) ’n ordentlike loopbaan kan hê wat baie goed betaal en wat my sal help om ’n gerieflike lewe te geniet. Ek sal natuurlik die Christelike vergaderinge bywoon en aan die predikingswerk deelneem, maar daar is geen rede om my in te span of groot opofferinge te maak nie.’—Mattheüs 24:38-42.
17, 18. Watter beskouing het Jesus en die apostels ons aangespoor om te hê?
17 Maar ons kan nie daarby verbykom nie dat Jesus en sy apostels ons aangespoor het om te lewe met ’n gevoel van dringendheid om die goeie nuus verkondig te kry, ons in te span en gewillig te wees om opofferinge te maak. Paulus het geskryf: “Dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie; . . . en die wat koop, asof hulle nie besit nie; en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby.”—1 Korinthiërs 7:29-31; Lukas 13:23, 24; Filippense 3:13-15; Kolossense 1:29; 1 Timotheüs 4:10; 2 Timotheüs 2:4; Openbaring 22:20.
18 Paulus het nie voorgestel dat ons ons ’n gerieflike lewe ten doel stel nie; inteendeel, hy het onder inspirasie geskryf: “Ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. . . . Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.”—1 Timotheüs 6:7-12.
19. Watter uitwerking het dit op ’n gemeente wanneer gemeentelede die lewensbeskouing het wat Jesus aanbeveel het?
19 Wanneer ’n gemeente uit ywerige Christene bestaan wat vurig daarna strewe om ‘’n goeie lofofferande in die openbaar te bring’, is harmonie ’n natuurlike uitvloeisel daarvan. Hulle swig nie voor hierdie gesindheid nie: ‘Jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik’ (Lukas 12:19). Hulle is eerder verenig in dieselfde doel, gewillig om opofferinge te maak sodat hulle so ’n groot aandeel moontlik kan hê aan hierdie werk wat nooit weer gedoen sal word nie.—Vergelyk Filippense 1:27, 28.
Wees versigtig vir oorredende argumente
20. Op watter gebied kan Christene nog mislei word?
20 Daar is natuurlik ander maniere waarop Christene ‘verlei kan word met oorredende argumente’ of nietige misleidings wat verhinder dat ons ‘harmonies saamgevoeg is in liefde’. Die Wagtoringgenootskap se kantoor in Duitsland het geskryf: “Een geval het tot onenigheid gelei, terwyl verkondigers en selfs ouere manne kant gekies het oor die terapieë wat ’n broer gebruik het.” Hulle het bygevoeg: “Vanweë die groot verskeidenheid metodes wat gebruik word en die groot aantal pasiënte is dit ’n gebied waarop daar maklik onenigheid kan ontstaan en wat gevaar kan inhou as terapeutiese metodes ’n spiritistiese ondertoon het.”—Efesiërs 6:12.
21. Hoe kan ’n Christen dit wat werklik belangrik is vandag uit die oog verloor?
21 Christene wil lewend en gesond bly sodat hulle God kan aanbid. Maar in hierdie stelsel is ons aan veroudering en siekte onderhewig wat die gevolg van onvolmaaktheid is. Pleks van gesondheidskwessies te beklemtoon, moet ons aandag skenk aan die werklike oplossing, vir ons en vir ander (1 Timotheüs 4:16). Christus is die middelpunt van daardie oplossing, net soos hy die middelpunt van Paulus se raad aan die Kolossense was. Maar hou in gedagte dat Paulus getoon het dat sommige met “oorredende argumente” kan kom en ons aandag van Christus kan aflei, miskien deur diagnostiese metodes, behandelings of diëte.—Kolossense 2:2-4, vgl. NW.
22. Watter gebalanseerde gesindheid moet ons hê ten opsigte van die talle bewerings oor metodes van diagnose en behandeling?
22 Mense word wêreldwyd bestook met advertensies en aanbevelings oor allerhande soorte behandeling en metodes van diagnose. Party daarvan word algemeen gebruik en erken; ander word allerweë gekritiseer of is verdag.b Elkeen moet self besluit wat hy in verband met sy gesondheid gaan doen. Maar dié wat Paulus se raad aanneem wat in Kolossense 2:4, 8 aangetref word, sal beskerming geniet sodat hulle nie verlei word deur “oorredende argumente” (NW) of “nietige misleiding” nie, waardeur baie wat desperaat na ’n uitkoms soek op ’n dwaalspoor gebring word omdat hulle nie die Koninkrykshoop het nie. Selfs as ’n Christen daarvan oortuig is dat ’n sekere behandeling vir hom goed is, moet hy dit nie onder die Christenbroederskap bevorder nie, want dit kan ’n onderwerp van groot bespreking en onenigheid word. Hy kan so toon dat hy groot respek vir die belangrikheid van harmonie in die gemeente het.
23. Waarom het ons veral rede tot vreugde?
23 Paulus het beklemtoon dat Christelike harmonie ’n grondslag vir ware vreugde is. In sy dag was daar beslis minder gemeentes as vandag. Tog kon hy aan die Kolossense skryf: “Al is ek ook na die vlees afwesig, tog is ek by julle in die gees, en ek verbly my om julle goeie orde te sien en die vastigheid van julle geloof in Christus.” (Kolossense 2:5; sien ook Kolossense 3:14, NW.) Hoeveel groter rede gee dit ons tog nie tot vreugde nie! Ons kan ware bewys van harmonie, goeie orde en vastigheid in die geloof in ons eie gemeente sien, wat ’n weerspieëling van die algemene situasie van God se volk oor die hele aarde is. Daarom moet elkeen van ons in die kort rukkie wat in hierdie stelsel oor is vasbeslote wees om ‘harmonies saamgevoeg te wees in liefde’.
[Voetnote]
a Hoewel die moontlikhede byna eindeloos is, kan jy gerus kyk na wat jy persoonlik uit die volgende voorbeelde van Jesus kan leer, wat tot die harmonie in julle gemeente kan bydra: Mattheüs 12:1-8; Lukas 2:51, 52; 9:51-55; 10:20; Hebreërs 10:5-9.
b Sien Die Wagtoring van 1 September 1982, bladsye 21-9.
Het jy opgemerk?
◻ Wat is Jehovah se Getuies se jaarteks vir 1995?
◻ Waarom moes die Christene in Kolosse harmonies saamgevoeg wees in liefde, en waarom moet dit vandag met ons die geval wees?
◻ Teen watter verraderlike lewensbeskouing moet Christene vandag veral waak?
◻ Waarom moet Christene op hulle hoede wees om nie deur oorredende argumente oor gesondheid en metodes van diagnose mislei te word nie?
[Prente op bladsy 17]
Draai jou toekomsplanne om Jesus se teenwoordigheid?