Wees “gesond van verstand” namate die einde nader kom
“Die einde van alle dinge het naby gekom. Wees dus gesond van verstand.”—1 PETRUS 4:7.
1. Wat behels dit om “gesond van verstand” te wees?
DIE bogemelde woorde van die apostel Petrus behoort ’n diepgaande uitwerking op die lewenswyse van Christene te hê. Maar Petrus het nie vir sy lesers gesê om hulle aan die alledaagse verantwoordelikhede en sorge van die lewe te onttrek nie; hy het hulle ook nie aangemoedig om paniekerig oor die naderende vernietiging te raak nie. Hy het ons eerder aangespoor: ‘Wees gesond van verstand.’ Om “gesond van verstand” te wees, behels dat ’n mens goeie oordeel aan die dag lê en verstandig, oordeelkundig en redelik in jou spraak en gedrag is. Dit beteken dat ons toelaat dat God se Woord ons denke en gedrag beheer (Romeine 12:2). Aangesien ons “te midde van ’n krom en verdraaide geslag” lewe, het ons ’n gesonde verstand nodig om probleme en struikelblokke te voorkom.—Filippense 2:15.
2. Hoe bevoordeel Jehovah se geduld Christene van vandag?
2 “Gesonde verstand” help ons ook om ’n nugter, realistiese beskouing van onsself te hê (Titus 2:12; Romeine 12:3). Dit is noodsaaklik met die oog op die woorde in 2 Petrus 3:9: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.” Let op dat Jehovah geduldig is, nie net met ongelowiges nie, maar ook “met julle”—lede van die Christengemeente. Waarom? Omdat “hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie”. Miskien moet party nog veranderinge aanbring en aanpassings maak om vir die gawe van die ewige lewe in aanmerking te kom. Kom ons kyk dus na gebiede waar ’n paar aanpassings dalk nodig is.
“Gesond van verstand” in ons persoonlike verhoudings
3. Watter vrae kan ouers hulle afvra met betrekking tot hulle kinders?
3 Die huis moet ’n plek van vrede wees. Maar vir sommige is dit “’n huis vol . . . getwis” (Spreuke 17:1). Wat van jou gesin? Is jou huis vry van “gramskap en geskreeu en smadende taal”? (Efesiërs 4:31). Wat van jou kinders? Voel hulle dat jy hulle liefhet en waardeer? (Vergelyk Lukas 3:22.) Neem jy tyd om hulle te onderrig en op te voed? ‘Dissiplineer jy in regverdigheid’ en nie in woede en toorn nie? (2 Timoteus 3:16). Aangesien kinders ‘’n erfdeel van Jehovah’ is, stel hy opreg belang in hoe hulle behandel word.—Psalm 127:3.
4. (a) Wat kan die gevolg wees as ’n man sy vrou ongevoelig behandel? (b) Hoe kan vrouens vrede met God en geluk in die hele gesin bevorder?
4 Wat van jou huweliksmaat? “Só behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen” (Efesiërs 5:28, 29). ’n Man wat skeltaal gebruik, wat baasspelerig of onredelik is, bedreig nie net die rus en vrede van sy huis nie, maar ondermyn ook sy verhouding met God (1 Petrus 3:7). Wat van vrouens? Hulle moet eweneens “onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here” (Efesiërs 5:22). As ’n vrou dink aan hoe sy God kan behaag, sal dit haar help om haar man se tekortkominge oor te sien en om aan hom onderdanig te wees sonder dat sy gegrief voel. Soms voel ’n vrou dalk verplig om haar gevoelens uit te spreek. Spreuke 31:26 sê van die deugsame vrou: “Haar mond maak sy oop met wysheid, en [die wet van liefderyke goedhartigheid, NW] is op haar tong.” Deur haar man op ’n goedhartige, eerbiedige manier te behandel, handhaaf sy vrede met God en bevorder sy die geluk van die hele gesin.—Spreuke 14:1.
5. Waarom moet jongmense die Bybel se raad volg wat die manier betref waarop hulle hulle ouers behandel?
5 Kinders, hoe behandel julle julle ouers? Gebruik julle die sarkastiese, oneerbiedige spraak wat dikwels deur die wêreld geduld word? Of gehoorsaam julle die Bybel se opdrag: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig: ‘Eer jou vader en jou moeder’; wat die eerste gebod met ’n belofte is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly’”?—Efesiërs 6:1-3.
6. Hoe kan ons vrede met medeaanbidders soek?
6 Ons toon ook dat ons “gesond van verstand” is wanneer ons “vrede soek en dit nastreef” met medeaanbidders (1 Petrus 3:11). Meningsverskille en misverstande ontstaan van tyd tot tyd (Jakobus 3:2). As ons toelaat dat vyandigheid voortduur, kan die vrede van die hele gemeente bedreig word (Galasiërs 5:15). Stryk onenighede dus gou uit; probeer vreedsame oplossings vind.—Matteus 5:23-25; Efesiërs 4:26; Kolossense 3:13, 14.
‘’n Gesonde verstand’ en gesinsverantwoordelikhede
7. (a) Hoe het Paulus ons aangemoedig om in alledaagse sake “gesond van verstand” te wees? (b) Watter gesindheid behoort Christenmans en -vrouens teenoor verantwoordelikhede in die huis te hê?
7 Die apostel Paulus het Christene aangeraai ‘om met gesonde verstand te lewe’ (Titus 2:12). Dit is interessant dat Paulus, in die konteks, vrouens vermaan “om hulle mans lief te hê, om hulle kinders lief te hê, om gesond van verstand te wees, kuis, werkers by die huis” (Titus 2:4, 5). Paulus het dit in die jare 61-64 G.J. geskryf, ’n paar jaar voor die einde van die Joodse stelsel van dinge. En tog was alledaagse sake, soos huiswerk, nog steeds belangrik. Mans sowel as vrouens moet derhalwe ’n gesonde, positiewe beskouing van hulle verantwoordelikhede in die huis behou sodat “daar nie smadend van die woord van God gepraat sal word nie”. Een gesinshoof het vir ’n besoeker verskoning gevra vir sy huis wat so sleg gelyk het. Hy het verduidelik dat dit in so ’n vervalle toestand was “omdat hy pionierdiens gedoen het”. Dit is prysenswaardig wanneer ons opofferinge ter wille van die Koninkryk doen, maar ons moet oppas dat ons nie die welsyn van ons gesin opoffer nie.
8. Hoe kan gesinshoofde op ’n gebalanseerde wyse na die behoeftes van hulle gesin omsien?
8 Die Bybel spoor vaders aan om hulle gesin die voorrang te laat geniet, waar dit sê dat iemand wat nalaat om vir sy gesin te sorg ‘die geloof verloën het en erger as ’n ongelowige is’ (1 Timoteus 5:8). Die lewenstandaard wissel oor die wêreld, en dit is goed om ons materiële verwagtinge beskeie te hou. “Gee my nie armoede of rykdom nie”, het die skrywer van Spreuke 30:8 gebid. Maar ouers moet nie die materiële behoeftes van hulle kinders ignoreer nie. Sou dit byvoorbeeld wys wees om jou gesin doelbewus sonder die basiese lewensbenodigdhede te laat sodat jy teokratiese voorregte kan nastreef? Kan dit nie ’n mens se kinders verbitter nie? Daarenteen sê Spreuke 24:27: “Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou huis [opbou, NW].” Ja, terwyl besorgdheid oor materiële dinge sy plek het, is dit noodsaaklik dat ’n mens “jou huis opbou”—geestelik en emosioneel.
9. Waarom is dit verstandig vir gesinshoofde om die moontlikheid van hulle dood of siekte in ag te neem?
9 Het jy voorsorg gemaak vir jou gesin ingeval jy ontydig sterf? Spreuke 13:22 sê: “’n Goeie mens laat sy kindskinders erwe.” Benewens ’n erfenis van kennis aangaande Jehovah en ’n verhouding met hom, sal ouers ook daarin belangstel om materieel vir hulle kinders te voorsien. In baie lande sal verantwoordelike gesinshoofde probeer om spaargeld, ’n wettige testament en lewensversekering te hê. God se volk is per slot van rekening nie van “tyd en lotgeval” gevrywaar nie (Prediker 9:11). Geld is “’n beskutting”, en sorgvuldige beplanning kan dikwels swaarkry voorkom (Prediker 7:12). In lande waar die regering nie vir gesondheidsorg betaal nie, sal party dalk besluit om geld vir gesondheidsbehoeftes opsy te sit of die een of ander soort mediese versekering aan te gaan.a
10. Hoe kan Christenouers vir hulle kinders ‘opspaar’?
10 Die Skrif sê ook: “Die kinders behoort nie vir hulle ouers op te spaar nie, maar die ouers vir hulle kinders” (2 Korintiërs 12:14). In die wêreld is dit algemeen vir ouers om geld te spaar vir hulle kinders se toekomstige opvoeding en huwelik sodat hulle vir hulle kinders ’n goeie begin in die lewe kan gee. Het jy al daaroor nagedink om vir jou kind se geestelike toekoms op te spaar? Gestel byvoorbeeld ’n ouer kind streef die voltydse bediening na. Hoewel voltydse knegte nie geldelike hulp van ander moet eis of verwag nie, sal liefdevolle ouers dalk besluit om ‘na gelang van sy behoeftes met hom te deel’ om hom te help om in die voltydse diens te bly.—Romeine 12:13; 1 Samuel 2:18, 19; Filippense 4:14-18.
11. Toon ’n realistiese beskouing van geld ’n gebrek aan geloof? Verduidelik.
11 ’n Realistiese beskouing van geld toon nie ’n gebrek aan geloof dat die einde van Satan se goddelose stelsel op hande is nie. Dit beteken bloot dat ’n mens “praktiese wysheid” en gesonde oordeel aan die dag lê (Spreuke 2:7, NW; 3:21, NW). Jesus het eenkeer gesê dat ‘die seuns van hierdie stelsel van dinge in ’n praktiese opsig wyser as die seuns van die lig is’ wat hulle gebruik van geld betref (Lukas 16:8). Dit is dus geen wonder nie dat party die nodigheid daarvan gesien het om veranderinge aan te bring in die manier waarop hulle hulle middele gebruik, sodat hulle beter na die behoeftes van hulle gesin kan omsien.
“Gesond van verstand” in ons beskouing van opvoeding
12. Hoe het Jesus sy dissipels geleer om hulle by nuwe omstandighede aan te pas?
12 “Die toneel van hierdie wêreld is aan die verander”, en omvattende ekonomiese veranderinge en tegnologiese vooruitgang vind vinnig plaas (1 Korintiërs 7:31). Jesus het egter sy dissipels geleer om aanpasbaar te wees. Toe hy hulle op hulle eerste predikingsveldtog uitgestuur het, het hy vir hulle gesê: “Moenie goud of silwer of koper vir julle gordelbeurse aanskaf nie, of ’n voedselsak vir die reis of twee onderkledingstukke of sandale of ’n staf nie; want die werker is sy voedsel werd” (Matteus 10:9, 10). Maar op ’n later stadium het Jesus gesê: “Laat nou die een wat ’n beurs het dit opneem, so ook ’n voedselsak” (Lukas 22:36). Wat het verander? Die omstandighede. Die godsdiensmilieu het vyandiger geword, en nou moes hulle vir hulleself sorg.
13. Wat is die hoofdoel van opvoeding, en hoe kan ouers hulle kinders in hierdie verband ondersteun?
13 Ouers moet vandag eweneens die hedendaagse ekonomiese werklikhede in ag neem. Sien jy byvoorbeeld toe dat jou kinders voldoende skoolopleiding kry? Die hoofdoel van opvoeding moet wees om ’n jeugdige toe te rus om ’n bekwame bedienaar van Jehovah te word. En die allerbelangrikste opvoeding is ’n geestelike opvoeding (Jesaja 54:13). Ouers is ook besorg oor die vermoë van hulle kinders om hulleself geldelik te onderhou. Gee jou kinders dus riglyne, help hulle om gepaste skoolvakke te kies en bespreek met hulle of dit verstandig is om enige aanvullende opvoeding te kry of nie. Sulke besluite is die gesin se verantwoordelikheid, en ander moet nie die besluit wat geneem word, kritiseer nie (Spreuke 22:6). Wat van diegene wat gekies het om hulle kinders tuis te onderrig?b Terwyl baie hulle goed van hulle taak gekwyt het, het party gevind dat die taak moeiliker was as wat hulle hulle voorgestel het, en hulle kinders het daaronder gely. As jy dus tuisonderrigting oorweeg, moet jy sorg dat jy die koste bereken deur die vaardighede sowel as die selfdissipline wat nodig is om ’n sukses daarvan te maak realisties in oënskou te neem.—Lukas 14:28.
‘Soek nie groot dinge nie’
14, 15. (a) Hoe het Barug sy geestelike ewewig verloor? (b) Waarom was dit onverstandig van hom om ‘groot dinge te soek’?
14 Aangesien die einde van hierdie stelsel nog nie gekom het nie, wil party dalk die dinge nastreef wat die wêreld aanbied—’n glansryke loopbaan, ’n lonende betrekking en rykdom. Dink aan Jeremia se sekretaris, Barug. Hy het gekla: “Wee my tog, want die HERE het kommer aan my smart toegevoeg; ek is moeg van my gesug en vind geen rus nie!” (Jeremia 45:3). Barug was moeg. Om as Jeremia se sekretaris te dien, was ’n moeilike, spanningsvolle werk (Jeremia 36:14-26). En daar was geen einde aan die spanning in sig nie. Jerusalem sou eers 18 jaar later vernietig word.
15 Jehovah het vir Barug gesê: “Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; [selfs die hele land, NW]. En sou jý vir jou groot dinge soek? Soek dit nie.” Barug het sy ewewig verloor. Hy het ‘vir hom groot dinge begin soek’, moontlik rykdom, vernaamheid of materiële sekuriteit. Watter sin het dit gehad om sulke dinge te soek, terwyl Jehovah ‘selfs die hele land sou uitruk’? Jehovah het derhalwe vir Barug hierdie ernstige herinnering gegee: “Want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees . . . ; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.” Materiële besittings sou nie deur Jerusalem se vernietiging heen behoue bly nie! Jehovah het slegs die redding van sy ‘siel as buit’ gewaarborg.—Jeremia 45:4, 5.
16. Watter les kan Jehovah se hedendaagse volk uit Barug se ondervinding leer?
16 Barug het op Jehovah se teregwysing ag geslaan, en soos Jehovah belowe het, het Barug lewend daarvan afgekom (Jeremia 43:6, 7). Watter kragtige les is dit tog vir Jehovah se hedendaagse volk! Dit is nie nou die tyd om ‘groot dinge vir onsself te soek nie’. Waarom nie? Want “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte”.—1 Johannes 2:17.
Hoe om die oorblywende tyd ten beste te benut
17, 18. (a) Hoe het Jona gereageer toe die Nineviete berou getoon het? (b) Watter les het Jehovah vir Jona geleer?
17 Hoe kan ons dan die oorblywende tyd ten beste benut? Leer uit die ondervinding van die profeet Jona. Hy ‘het na Nineve gegaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Nineve verwoes.’ Tot Jona se verbasing het die Nineviete aan sy boodskap gehoor gegee en berou getoon! Jehovah het die stad nie vernietig nie. Wat was Jona se reaksie? “o HERE, neem dan nou tog my siel van my weg, want dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.”—Jona 3:3, 4; 4:3.
18 Daarop het Jehovah vir Jona ’n belangrike les geleer: “Toe beskik die HERE God ’n wonderboom en laat dit oor Jona opskiet om te dien as skaduwee oor sy hoof . . . ; en Jona was baie bly oor die wonderboom.” Jona se blydskap was egter van korte duur, want die plant het gou verdor. Jona het “vertoornd” oor sy ongerief geword. Jehovah het Sy punt laat inslaan deur te sê: “Jý wil die wonderboom spaar . . . Maar Ek mag Nineve, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?”—Jona 4:6, 7, 9-11.
19. Watter selfsugtige denkwyse wil ons vermy?
19 Hoe selfsugtig was Jona se redenasie tog! Hy kon jammer voel vir ’n plant, maar hy het nie eers ’n greintjie medelye met die mense van Nineve gehad nie—mense wat geestelik gesproke ‘nie die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand geweet het nie’. Ons kan eweneens verlang na die vernietiging van hierdie goddelose wêreld, en dit met reg! (2 Tessalonisense 1:8). Maar terwyl ons wag, het ons ’n verantwoordelikheid om opregtes van hart te help wat geestelik gesproke ‘nie die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand weet nie’ (Matteus 9:36; Romeine 10:13-15). Sal jy die oorblywende kort tydjie gebruik om soveel mense moontlik te help om die kosbare kennis van Jehovah op te doen? Watter werk kan ooit die vreugde bring wat ’n mens smaak wanneer jy iemand help om die lewe te verkry?
Hou aan om met ‘gesonde verstand’ te lewe
20, 21. (a) Wat is van die maniere waarop ons “gesond van verstand” kan wees gedurende die dae wat voorlê? (b) Watter seëninge sal dit meebring as ons met ‘gesonde verstand’ lewe?
20 Namate Satan se stelsel voortgaan om op vernietiging af te stuur, sal ons beslis voor nuwe uitdagings te staan kom. Tweede Timoteus 3:13 voorspel: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger.” Maar moenie “moeg word en in julle siele beswyk nie” (Hebreërs 12:3). Steun op Jehovah vir krag (Filippense 4:13). Moenie oor die verlede bly dink nie, maar leer eerder om aanpasbaar te wees en jou na hierdie verslegtende omstandighede te skik (Prediker 7:10). Lê praktiese wysheid aan die dag en bly op hoogte van die riglyne wat “die getroue en verstandige slaaf” voorsien.—Matteus 24:45-47.
21 Ons weet nie hoeveel tyd daar nog oor is nie. Maar ons kan vol vertroue sê dat ‘die einde van alle dinge naby gekom het’. Laat ons totdat daardie einde kom ‘gesonde verstand’ aan die dag lê in ons handelinge met mekaar, in die manier waarop ons vir ons gesin sorg en in ons sekulêre verantwoordelikhede. As ons dít doen, kan ons almal die versekering hê dat ons uiteindelik “vlekkeloos en smetloos en in vrede” bevind sal word!—2 Petrus 3:14.
[Voetnote]
a In die Verenigde State het baie byvoorbeeld mediese versekering, hoewel dit oor die algemeen duur is. Party Getuiegesinne het gevind dat sekere dokters gewilliger is om bloedlose plaasvervangers te oorweeg wanneer gesinne mediese dekking het. Baie geneeshere sal die bedrag aanvaar wat deur ’n beperkte versekeringskema of regeringsgesondheidsdekking toegestaan word.
b Die besluit oor tuisonderrigting is ’n persoonlike saak. Sien die artikel “Tuisonderrigting—Is dit vir jou?” in die Ontwaak! van 8 April 1993.
Gedagtes vir hersiening
◻ Hoe kan ons “gesond van verstand” wees in ons persoonlike verhoudinge?
◻ Hoe kan ons ons ewewig behou in die manier waarop ons na ons gesinsverantwoordelikhede omsien?
◻ Waarom moet ouers in die sekulêre opvoeding van hulle kinders belangstel?
◻ Watter lesse leer ons by Barug en Jona?
[Prent op bladsy 18]
Wanneer ’n man en vrou mekaar sleg behandel, ondermyn hulle hulle verhouding met Jehovah
[Prent op bladsy 20]
Ouers moet belangstel in die opvoeding van hulle kinders