Redding
Definisie: Bewaring tydens of verlossing uit gevaar of vernietiging. Dit kan verlossing uit die hande van verdrukkers of vervolgers wees. Deur sy Seun bied Jehovah aan alle ware Christene verlossing uit die teenswoordige goddelose stelsel en redding uit slawerny aan sonde en die dood. Vir ’n groot menigte getroue knegte van Jehovah wat gedurende “die laaste dae” lewe, sal redding behoud deur die groot verdrukking insluit.
Sal God, in sy groot barmhartigheid, eindelik die hele mensdom red?
Toon 2 Petrus 3:9 dat alle mense gered sal word? Dit sê: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie [“omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie”, NAV], maar dat almal tot bekering moet kom.” Dit is God se barmhartige begeerte dat al Adam se afstammelinge hulle moet bekeer, en hy het mildelik voorsiening getref vir die vergifnis van die sondes van diegene wat hulle bekeer. Maar hy dwing niemand om daardie voorsiening aan te neem nie. (Vergelyk Deuteronomium 30:15-20.) Baie verwerp dit. Hulle is soos ’n drenkeling wat ’n reddingsgordel wegstoot wanneer dit na hom gegooi word deur iemand wat wil help. Ons moet egter daarop let dat die alternatief vir bekering nie ewige foltering in ’n helse vuur is nie. Soos 2 Petrus 3:9 toon, sal diegene wat hulle nie bekeer nie “vergaan”. Vers 7 praat ook van die “verderf van die goddelose mense”. Daar is hier geen sprake van universele redding nie.—Kyk ook onder “Hel”.
Toon 1 Korinthiërs 15:22 dat alle mense uiteindelik gered sal word? Dit sê: “Soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.” Soos die omliggende verse toon, is dit die opstanding wat hier bespreek word. Wie sal opgewek word? Almal wie se dood aan Adamitiese sonde te wyte is (kyk vers 21) maar wat hulle nie ook self skuldig gemaak het aan die moedswillige oortredings wat in Hebreërs 10:26-29 uiteengesit word nie. Net soos Jesus uit Hades opgewek is (Hand. 2:31, NW), sal alle ander wat in Hades is “lewend gemaak word” deur middel van die opstanding (Openb. 1:18, NW; 20:13, NW). Sal hulle almal ewige redding verkry? Hulle sal die geleentheid gebied word, maar nie almal sal dit aangryp nie, soos getoon word in Johannes 5:28, 29, wat toon dat die uitslag vir sommige “veroordeling” sal wees.
Wat van tekste soos Titus 2:11, wat praat van die “redding van alle mense”, soos dit in RS weergegee word? In AB, RS, KJ, NE, TEV, ensovoorts dra ander tekste, soos Johannes 12:32, Romeine 5:18 en 1 Timotheüs 2:3, 4 ’n soortgelyke gedagte oor. Die Griekse uitdrukkings wat in hierdie verse weergegee word met “almal” en “alle mense” is verboë vorme van die woord pas. Soos Vine se Expository Dictionary of New Testament Words (Londen, 1962, Dl. I, bl. 46) toon, kan pas ook “elke soort of verskeidenheid” beteken. In plaas van “alle” in die gemelde verse, kan die uitdrukking “elke soort” gebruik word; of “alle soorte”, soos dit die geval is in NW. Welke is korrek—“alle” of die gedagte wat oorgedra word deur “alle soorte”? Wel, welke weergawe stem ook ooreen met die res van die Bybel? Die laasgenoemde. Beskou Handelinge 10:34, 35; Openbaring 7:9, 10; 2 Thessalonicense 1:9. (Let wel: Ander vertalers erken ook hierdie betekenis van die Griekse woord, soos getoon deur hulle vertaling daarvan in Mattheüs 5:11—“allerhande”, AB, RS, TEV.)
Is daar tekste wat beslis toon dat sommige nooit gered sal word nie?
2 Thess. 1:9: “Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte.”
Openb. 21:8: “Wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars—hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.”
Matt. 7:13, 14: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
Is ’n persoon altyd gered nadat hy eenmaal gered is?
Jud. 5: “Ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het.”
Matt. 24:13: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (’n Persoon se uiteindelike saligheid word dus nie bepaal op die oomblik dat hy in Jesus begin glo nie.)
Filip. 2:12: “Soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing.” (Volgens Filippense 1:1 was hierdie woorde gerig tot die “heiliges” in Filippi. Paulus het hulle aangespoor om nie oorgerus te wees nie, maar om te besef dat hulle uiteindelike redding nog nie verseker was nie.)
Hebr. 10:26, 27: “As ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.” (Die Bybel onderskryf dus nie die gedagte dat iemand nie sy redding sal verloor nadat hy “gered” is nie, al doen hy ook watter sondes. Dit staan getrouheid voor. Kyk ook Hebreërs 6:4-6, waar daar getoon word dat selfs ’n persoon wat met die heilige gees gesalf is sy hoop op redding kan verloor.)
Is meer as geloof nodig om gered te word?
Ef. 2:8, 9: “Uit genade [“onverdiende goedheid”, NW] is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Die hele voorsiening vir redding is ’n blyk van God se onverdiende goedheid. Daar is geen manier waarop ’n afstammeling van Adam op sy eie redding kan verkry nie, al is sy werke ook hoe edel. Redding is ’n gawe van God aan diegene wat in die versoeningswaarde van die offer van sy Seun glo.)
Hebr. 5:9: “[Jesus het] vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword.” (Is dit strydig met die verklaring dat Christene ‘deur die geloof gered’ word? Glad nie. Gehoorsaamheid toon eenvoudig dat hulle geloof opreg is.)
Jak. 2:14, 26: “Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? . . . Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.” (’n Persoon verdien nie redding deur sy werke nie. Maar enigiemand met ware geloof sal gepaardgaande werke hê—werke van gehoorsaamheid aan die bevele van God en Christus, werke wat van sy geloof en liefde getuig. Sonder sulke werke is sy geloof dood.)
Hand. 16:30, 31: “Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle [Paulus en Silas]: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.” (Sou daardie man en sy huisgesin nie, as hulle waarlik geglo het, ooreenkomstig hulle geloof opgetree het nie? Beslis.)
As iemand sê—
‘Ek is gered’
Jy kan antwoord: ‘Ek is bly om dit te hoor, want dit sê vir my dat u in Jesus Christus glo. Die werk waaraan ek deelneem, is een wat Jesus aan sy volgelinge opgedra het, naamlik om ander van die oprigting van sy Koninkryk te vertel (Matt. 24:14).’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Wat is daardie Koninkryk? Wat sal die koms daarvan vir die wêreld beteken? (Dan. 2:44).’ (2) ‘Watter toestande sal onder daardie hemelse regering hier op aarde heers? (Ps. 37:11; Openb. 21:3, 4).’
Of jy kan sê: ‘Dan glo u wat die apostel Petrus hier in Handelinge 4:12 gesê het, nie waar nie? . . . Het u al ooit gewonder wie die naam van Jesus gegee het sodat ons daarin kan glo?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Jesus self sê vir ons (Joh. 17:3).’ (2) ‘Let op dat Jesus gesê het dat hy sy Vader se naam bekend gemaak het (Joh. 17:6). Wat is Sy persoonlike naam? Waaraan laat daardie naam u dink? (Ex. 3:15, NW; 34:5-7, vgl. NW).’
‘Is jy gered?’
Jy kan antwoord: ‘Tot op hede, ja. Ek sê dit omdat ek ook bewus is van die Bybel se raad dat ons nie oorgerus moet wees nie. Ken u hierdie teks? (1 Kor. 10:12).’ Dan kan jy byvoeg: ‘Wat is die rede daarvoor? Vir persone wat weer gebore was en die hoop op hemelse lewe gehad het (Hebr. 3:1), het die apostel Paulus geskryf . . . (Hebr. 3:12-14). Ons kan ons geloof versterk deur meer kennis van God se Woord te verkry.’
Of jy kan sê: ‘Ek kan daardie vraag beantwoord deur bloot Ja te sê. Maar het u geweet dat die Bybel van meer as een redding praat? Het u byvoorbeeld al ooit nagedink oor die betekenis van Openbaring 7:9, 10, 14? . . . Daar sal dus mense wees wat deur die komende groot verdrukking gered word en reg hier op aarde sal lewe (Matt. 5:5).’
‘Het jy Jesus as jou persoonlike Saligmaker aangeneem?’
Kyk bladsy 240, onder “Jesus Christus”.
‘Julle sê dat slegs 144 000 gered gaan word’
Jy kan antwoord: ‘Ek is bly dat u daardie saak geopper het, want ek wil graag vir u vertel wat ons werklik glo. Almal wat ware geloof toon in die voorsiening wat God deur Jesus gemaak het, sal gered word. Maar die Bybel sê dat slegs 144 000 hemel toe sal gaan om by Christus te wees. Het u dit al ooit in die Bybel gesien? . . . Dit is hier in Openbaring 14:1, 3.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Wat gaan hulle in die hemel doen? (Openb. 20:6).’ (2) ‘Dit is duidelik dat hulle oor iemand gaan regeer. Oor wie? . . . (Matt. 5:5; 6:10).’