“Die toneel van hierdie wêreld is aan die verander”
“Ek [sê] dít, broers: die oorblywende tyd is kort.”—1 KORINTIËRS 7:29.
1, 2. Watter veranderinge het jy al in jou leeftyd gesien?
WATTER veranderinge het jy al in jou leeftyd gesien? Kan jy party van hulle opnoem? Daar is byvoorbeeld die vooruitgang wat op mediese gebied gemaak is. Danksy navorsing in daardie veld het die gemiddelde lewensduur in party lande van onder 50 jaar aan die begin van die 20ste eeu gestyg tot ver oor die 70 jaar vandag! Dink ook aan die maniere waarop ons baat gevind het by die gepaste gebruik van die radio, televisie, selfone en faksmasjiene. En iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die vooruitgang op die gebied van opvoeding, vervoer en menseregte, alles dinge wat die lewe vir miljoene verbeter het.
2 Nie alle veranderinge was natuurlik voordelig nie. Dit is onmoontlik om die verwoestende uitwerking van stygende misdaadsyfers, die agteruitgang in sedelike waardes, die vinnige toename in dwelmmisbruik, die skerp styging in egskeidingsyfers, die versnellende inflasietempo en die toenemende bedreiging van terrorisme te ignoreer. Hoe dit ook al sy, jy sal heel waarskynlik saamstem met wat die apostel Paulus lank gelede geskryf het: “Die toneel van hierdie wêreld is aan die verander.”—1 Korintiërs 7:31.
3. Wat het Paulus bedoel toe hy geskryf het dat “die toneel van hierdie wêreld . . . aan die verander” is?
3 Toe Paulus daardie woorde gesê het, het hy die wêreld met ’n verhoog vergelyk. Die toneelspelers op daardie verhoog—politieke, godsdienstige en kulturele ikone—maak hulle verskyning, vertolk hulle onderskeie rolle en verlaat dan die verhoog om plek te maak vir ander. Dit gebeur al eeue lank. In die verlede het ’n dinastie dalk dekades—selfs eeue—lank regeer, en veranderinge het stadig plaasgevind. Maar vandag kan die verloop van die geskiedenis so gou verander as wat dit ’n sluipmoordenaar se koeël neem om sy teiken om te bereik! Ja, in hierdie onstuimige tye weet ons nie wat die dag van môre inhou nie.
4. (a) Watter gebalanseerde beskouing moet Christene oor wêreldgebeure hê? (b) Watter twee oortuigende bewysgronde gaan ons nou ondersoek?
4 As die wêreld ’n verhoog is en sy leiers die toneelspelers, dan is Christene die toeskouers.a Maar omdat hulle “geen deel van die wêreld” is nie, is die toneelspel of selfs die identiteit van die spelers nie vir hulle van die grootste belang nie (Johannes 17:16). Hulle is eerder gretig op die uitkyk na aanduidings dat die drama sy klimaks—’n rampspoedige slot—bereik, want hulle weet dat hierdie stelsel tot ’n einde moet kom voordat Jehovah die langverwagte nuwe wêreld van regverdigheid inlui.b Kom ons ondersoek dus twee bewysgronde wat toon dat ons in die tyd van die einde lewe en dat die nuwe wêreld op hande is. Dit is (1) Bybelchronologie en (2) verslegtende wêreldtoestande.—Matteus 24:21; 2 Petrus 3:13.
’n Geheim word uiteindelik geopenbaar!
5. Wat is “die vasgestelde tye van die nasies”, en waarom is dit vir ons van belang?
5 Chronologie is ’n studie van die verwantskap tussen tyd en gebeure. Jesus het van ’n tyd gepraat waartydens wêreldleiers die hoofspelers sou wees sonder inmenging van God se Koninkryk. Jesus het daardie tydperk “die vasgestelde tye van die nasies” genoem (Lukas 21:24). Aan die einde van daardie “vasgestelde tye” sou God se hemelse Koninkryk aan die bewind kom, met Jesus as die regmatige Heerser daarvan. Aan die begin sou Jesus “te midde van [sy] vyande” heers (Psalm 110:2). Daarna sal die Koninkryk, volgens Daniël 2:44, alle menseregerings “verbrysel en daar ’n einde aan maak” en self vir ewig bly staan.
6. Wanneer het “die vasgestelde tye van die nasies” begin, hoe lank het dit geduur en wanneer het dit geëindig?
6 Wanneer sou “die vasgestelde tye van die nasies” eindig en God se Koninkryksheerskappy begin? Die antwoord, wat “verseël [is] tot die tyd van die einde toe”, behels Bybelchronologie (Daniël 12:9). Namate daardie “tyd” nader gekom het, het Jehovah stappe gedoen om die antwoord aan ’n groep nederige Bybelstudente te openbaar. Met die hulp van God se gees het hulle onderskei dat “die vasgestelde tye van die nasies” begin het met die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. en dat daardie “tye” 2 520 jaar lank was. Hieruit het hulle afgelei dat “die vasgestelde tye van die nasies” in 1914 geëindig het. Hulle het ook besef dat 1914 die begin van die einde was vir hierdie stelsel van dinge. Kan jy, as ’n Bybelstudent, uit die Skrif verduidelik hoe die datum 1914 bereken word?c
7. Watter tekste help ons om die begin, die tydsduur en die einde te bereken van die sewe tye waarvan die boek Daniël praat?
7 ’n Leidraad kan gevind word in die boek Daniël. Aangesien Jehovah koning Nebukadnesar van Babilon gebruik het om Jerusalem aan die begin van “die vasgestelde tye”, in 607 v.G.J., te vernietig, het Hy deur daardie heerser geopenbaar dat die nasies vir ’n tydperk van altesaam sewe simboliese tye sonder goddelike ingryping sou heers (Esegiël 21:26, 27; Daniël 4:16, 23-25). Hoe lank is daardie sewe tye? Volgens Openbaring 11:2, 3 en 12:6, 14 is drie en ’n half tye gelyk aan 1 260 dae. Die sewe tye moet dus twee maal so lank wees, dit wil sê 2 520 dae. Is dit al? Nee, want Jehovah het aan ’n tydgenoot van Daniël, die profeet Esegiël, hierdie reël gegee om die simboliek te verstaan: “’n Dag vir ’n jaar, ’n dag vir ’n jaar het ek jou gegee” (Esegiël 4:6). Die sewe tye sou dus in werklikheid 2 520 jaar lank wees. Aangesien 607 v.G.J. die beginpunt is en 2 520 jaar die tydsduur, kan ons tot die slotsom kom dat die vasgestelde tye in 1914 sou eindig.
“Die tyd van die einde” bevestig
8. Watter bewyse het jy al gesien dat wêreldtoestande sedert 1914 versleg het?
8 Wêreldgebeure vanaf 1914 bevestig dat die bogenoemde begrip wat op Bybelchronologie gegrond is, akkuraat is. Jesus self het gesê dat “die voleinding van die stelsel van dinge” gekenmerk sou word deur oorloë, hongersnood en pessiektes (Matteus 24:3-8; Openbaring 6:2-8). Dit was beslis die geval sedert 1914. Die apostel Paulus het verder getoon dat daar ’n duidelike verandering in mense se gesindheid teenoor mekaar sou wees. Sy beskrywing van die veranderinge wat ons almal sien, was reg in die kol.—2 Timoteus 3:1-5.
9. Wat sê waarnemers oor wêreldtoestande sedert 1914?
9 Het “die toneel van hierdie wêreld” werklik soveel verander sedert 1914? In die boek The Generation of 1914 sê professor Robert Wohl: “Diegene wat die oorlog oorleef het, kon nooit die gedagte afskud dat een wêreld in Augustus 1914 geëindig en ’n ander een begin het nie.” Dr. Jorge A. Costa e Silva, die Wêreldgesondheidsorganisasie se direkteur van geestesgesondheid, het dit bevestig deur te skryf: “Ons lewe in ’n tyd van uiters vinnige veranderinge, wat op die ou end angs en spanning veroorsaak op vlakke wat voorheen ongekend was in die mensdom se geskiedenis.” Is dit ook wat jy ondervind het?
10. Watter lig werp die Bybel op die oorsaak van verslegtende wêreldtoestande sedert 1914?
10 Wie sit agter die verslegtende wêreldtoestande? Openbaring 12:7-9 ontmasker die skuldige: “Oorlog het in die hemel uitgebreek: Migael [Jesus Christus] en sy engele het teen die draak [Satan die Duiwel] geveg, en die draak en sy engele het geveg, maar hy het nie geseëvier nie, en ook is daar vir hulle geen plek meer in die hemel gevind nie. Toe is die groot draak neergeslinger, . . . wat die hele bewoonde aarde mislei.” Satan die Duiwel is dus verantwoordelik vir al die probleme, en nadat hy in 1914 uit die hemel gewerp is, het dit gelei tot “wee [vir] die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het”.—Openbaring 12:10, 12.
Wat in die laaste bedryf sal gebeur
11. (a) Watter metodes gebruik Satan om “die hele bewoonde aarde” te mislei? (b) Op watter spesiale poging van Satan het die apostel Paulus die aandag gevestig?
11 Aangesien Satan bewus is daarvan dat sy einde nader kom, het hy sedert 1914 sy pogings verskerp om “die hele bewoonde aarde” te mislei. Satan, wat nog altyd ’n meesterbedrieër was, werk agter die skerms en bring wêreldleiers en toonaangewers op die verhoog om hulle rolle te vertolk (2 Timoteus 3:13; 1 Johannes 5:19). Een van sy doelwitte is om mense wys te maak dat sý manier van regeer, ware vrede vir hulle kan meebring. Sy propaganda het oor die algemeen gewerk, want mense bly optimisties ten spyte van oorweldigende getuienis dat dinge van kwaad tot erger gaan. Die apostel Paulus het voorspel dat sataniese propaganda kort voor die vernietiging van hierdie stelsel van dinge op merkwaardige wyse tot uitdrukking sal kom. Hy het geskryf: “Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou.”—1 Tessalonisense 5:3; Openbaring 16:13.
12. Watter voortgesette pogings is aangewend om vrede in ons tyd te bring?
12 In onlangse jare het politici dikwels die frase “vrede en veiligheid” gebruik om verskeie mensestrewes te beskryf. Hulle het selfs 1986 die Internasionale Jaar van Vrede genoem, hoewel daardie jaar nie aan sy naam beantwoord het nie. Vervul sulke pogings deur wêreldleiers 1 Tessalonisense 5:3 ten volle, of het Paulus na ’n spesifieke gebeurtenis verwys wat so dramaties sal wees dat dit die aandag van die hele wêreld sal trek?
13. Waarmee het Paulus die vernietiging vergelyk wat op die voorspelde uitroep “Vrede en veiligheid”! sou volg, en wat kan ons daaruit leer?
13 Aangesien Bybelprofesieë dikwels eers ten volle verstaan word nadat dit vervul is of terwyl dit vervul word, sal ons moet wag en sien. Dit is egter interessant dat Paulus die skielike vernietiging, wat op die uitroep “Vrede en veiligheid!” volg, met die barenswee van ’n swanger vrou vergelyk. Oor ’n tydperk van omtrent nege maande word ’n verwagtende moeder al hoe meer bewus van die baba wat in haar groei. Sy hoor dalk haar baba se hartklop of voel hoe hy in haar baarmoeder beweeg. Hy skop haar dalk selfs. Die tekens word dikwels al hoe duideliker totdat sy eendag ’n skerp pyn voel wat aandui dat die tyd aangebreek het vir die langverwagte gebeurtenis—die baba se geboorte. Ongeag hoe die voorspelde uitroep “Vrede en veiligheid!” dus vervul sal word, dit sal tot ’n skielike, pynlike, maar uiteindelik geseënde gebeurtenis lei—die vernietiging van goddeloosheid en die begin van ’n nuwe wêreldstelsel.
14. In watter basiese volgorde sal toekomstige gebeure plaasvind, en met watter afloop?
14 Die komende vernietiging sal vreesinboesemend wees vir getroue Christene wat dit as toeskouers sal waarneem. Eerstens sal die konings van die aarde (die politieke deel van Satan se organisasie) die ondersteuners van Babilon die Grote (die godsdiensdeel daarvan) aanval en hulle vernietig (Openbaring 17:1, 15-18). In ’n onverwagse verwikkeling in die drama sal Satan se koninkryk dus teen homself verdeeld raak, met een deel wat die ander deel aanval, en Satan sal magteloos wees om dit te voorkom (Matteus 12:25, 26). Jehovah sal dit in die harte van die konings van die aarde sit “om sy gedagte uit te voer”, naamlik om die aarde van sy godsdiensteenstanders te reinig. Nadat valse godsdiens vernietig is, sal Jesus Christus sy hemelse leërs aanvoer in ’n algehele vernietiging van die oorblywende dele van Satan se organisasie—die handels- en politieke elemente. Laastens sal Satan buite aksie gestel word. Dan sal die gordyn sak, en die lang drama sal tot ’n einde kom.—Openbaring 16:14-16; 19:11-21; 20:1-3.
15, 16. Watter uitwerking moet die herinnering dat ‘die oorblywende tyd kort is’, op ons lewe hê?
15 Wanneer sal dit alles plaasvind? Ons weet nie wat die dag of die uur sal wees nie (Matteus 24:36). Wat ons wel weet, is dat ‘die oorblywende tyd kort is’ (1 Korintiërs 7:29). Dit is dus lewensbelangrik dat ons die oorblywende tyd wyslik gebruik. Hoe? Soos die apostel Paulus verduidelik, moet ons van onbelangrike dinge ‘die geleë tyd uitkoop’ vir belangriker dinge en elke dag laat tel. Waarom? “Omdat die dae boos is.” En as ons “begryp wat die wil van Jehovah” vir ons is, sal ons nie die kosbare kort tydjie verkwis wat nog oor is nie.—Efesiërs 5:15-17; 1 Petrus 4:1-4.
16 Hoe moet die wete dat vernietiging op die ganse wêreldstelsel van dinge wag, ons persoonlik raak? Die apostel Petrus het tot ons voordeel geskryf: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid!” (2 Petrus 3:11). Ja, dít is die soort mense wat ons behoort te wees! In ooreenstemming met Petrus se wyse raad moet ons (1) noukeurig let op ons gedrag om seker te maak dat dit heilig is en (2) seker maak dat ons ywerige dade in Jehovah se diens altyd ons innige liefde vir hom weerspieël.
17. Teen watter strikke van Satan moet getroue Christene bly waak?
17 Liefde vir God sal voorkom dat ons weens die aanloklikhede van hierdie wêreld daaraan verknog raak. Met die oog op wat daar vir die huidige stelsel van dinge voorlê, sal dit gevaarlik vir ons wees om aangetrek te word deur die glans en betowering van die wêreldse, hedonistiese lewenswyse. Hoewel ons in die wêreld lewe en werk, moet ons ag slaan op die wyse raad om die wêreld nie ten volle te gebruik nie (1 Korintiërs 7:31). Trouens, ons moet ons bes doen om nie deur die wêreld se propaganda mislei te word nie. Hierdie wêreld sal nie daarin slaag om oplossings vir sy probleme te vind nie. Dit sal nie onbepaald aan die gang kan bly nie. Waarom kan ons so seker daarvan wees? Omdat die geïnspireerde Woord van God so sê: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.
Die beste lê nog voor!
18, 19. Na watter veranderinge in die nuwe wêreld sien jy uit, en waarom sal dit die moeite werd wees om te wag?
18 Jehovah sal binnekort die gordyn laat sak oor Satan en sy ondersteuners. Daarna sal getroue oorlewendes van die einde van hierdie stelsel met God se seën begin werk aan ‘toneelveranderinge’ wat vir ewig in stand sal bly. Oorlog sal nie meer die toneel bederf nie; God sal “oorloë [laat] ophou tot aan die einde van die aarde” (Psalm 46:9). In die plek van voedseltekorte sal daar “volop graan op die aarde wees; . . . daar [sal] ’n oorvloed wees” (Psalm 72:16). Tronke, polisiestasies, seksueel oordraagbare siektes, dwelmbase, skeihowe, insolvensiesake en terrorisme sal iets van die verlede wees.—Psalm 37:29; Jesaja 33:24; Openbaring 21:3-5.
19 Die gedenkgrafte sal leeggemaak word, en miljarde verresenes—nog toneelspelers—sal hulle verskyning maak. Watter groot blydskap sal daar tog wees wanneer een geslag herenig word met ’n ander en wanneer geliefdes wat lank geskei was, mekaar hartlik omhels! Uiteindelik sal almal wat lewe, Jehovah aanbid (Openbaring 5:13). Wanneer al die veranderinge plaasgevind het, sal die gordyn opgaan oor ’n aardwye paradys. Hoe sal jy voel wanneer jy na die toneel kyk? Jy sal ongetwyfeld beweeg word om uit te roep: ‘Ek het lank hiervoor gewag, maar dit was beslis die moeite werd!’
[Voetnote]
a In ’n ander konteks het Paulus van gesalfde Christene gepraat as ‘’n teaterskouspel vir die wêreld en vir engele en vir mense’.—1 Korintiërs 4:9.
b Sien byvoorbeeld die boek Gee ag op Daniël se profesie!, bladsye 280-1, vir inligting oor die identiteit van “die koning van die noorde”, wat in Daniël 11:40, 44, 45 gemeld word.
c Die Bybel self toon dat 70 jaar sou verloop vanaf die val van Jerusalem tot en met die terugkeer van die Joodse ballinge in 537 v.G.J. (Jeremia 25:11, 12; Daniël 9:1-3). Sien bladsye 209-11 van Redenering uit die Skrif, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n breedvoerige bespreking van “die vasgestelde tye van die nasies”.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe is die apostel Paulus se woorde dat ‘die toneel van hierdie wêreld aan die verander is’, in ons tyd bewaarheid?
• Hoe dui Bybelchronologie die einde van “die vasgestelde tye van die nasies” aan?
• Hoe bevestig die veranderende wêreldtoestande dat 1914 die begin van “die tyd van die einde” is?
• Hoe moet die feit dat ‘die oorblywende tyd kort is’, ons raak?
[Prent op bladsy 20]
Uiteindelik—die geheim is geopenbaar!