Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Laat ons ‘vlekkeloos, onberispelik en in vrede bevind word’
    Die Wagtoring – 1986 | Mei 1
    • Laat ons ‘vlekkeloos, onberispelik en in vrede bevind word’

      “Beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.”​—2 PETRUS 3:14.

      1, 2. Wat is heiligheid?

      JEHOVAH GOD is heilig. Sy Seun, Jesus Christus, het hom in gebed as “heilige Vader” aangespreek (Johannes 17:1, 11). En geesskepsele in die hemele roep uit: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare” (Jesaja 6:3). Maar wat is heiligheid?

      2 Die woorde “heilig” en “heiligheid” word vertaal uit Hebreeuse woorde met die moontlike grondbetekenis “om helder te wees”, “om nuut of vars, [fisiek] onbesmet of rein te wees”. Maar in die Skrif word hierdie woorde hoofsaaklik in ’n morele of geestelike sin gebruik. Die oorspronklike Hebreeuse woorde bevat ook die gedagte van afgeskeidenheid, afsonderlikheid of gewydheid aan die heilige God, Jehovah. In die Christelike Griekse Skrifte dui die woorde wat weergegee word met “heilig” en “heiligheid” ook op afsondering tot God. Dit word ook gebruik om heiligheid as ’n eienskap van Jehovah aan te dui, sowel as die suiwerheid of volmaaktheid van iemand se persoonlike gedrag. Heiligheid beteken dus reinheid, suiwerheid en gewydheid.

      Heiligheid ’n vereiste vir Jehovah se volk

      3. Waarom verdien Jehovah rein aanbidding?

      3 Wat word dan bedoel met die hemelse uitroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige”? (Openbaring 4:8). Wel, hier word heiligheid, reinheid, in die oortreffende graad aan God toegeskryf! Daarom verdien Jehovah, “die Heilige”, rein aanbidding (Spreuke 9:10). Dienooreenkomstig het Jehovah God die profeet Moses beveel om vir die Israeliete te sê: “Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.”​—Levitikus 19:1, 2.

      4. Slegs hoe is dit moontlik om Jehovah aanneemlik te aanbid?

      4 Enigiemand wat beweer dat hy Jehovah aanneemlik dien terwyl hy hom aan onreinheid skuldig maak, is afskuwelik in God se oë, want dit is alleen met godvrugtige wysheid en in heiligheid dat hy aanneemlik aanbid kan word (Spreuke 20:25; 21:27). Toe God voorspel het dat hy die weg sou open vir sy gevange volk om van Babilon na Jerusalem terug te keer, het hy derhalwe gesê: “Dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie” (Jesaja 35:8). Die oorblyfsel wat in 537 v.G.J. teruggekeer het, het dit gedoen met die heilige bedoeling om die ware aanbidding van “die Heilige” te herstel. En die Israeliete kon heilig gewees het deur God te gehoorsaam. Maar hulle het nie uit sy standpunt heilig, vlekkeloos, gebly nie.​—Vergelyk Jakobus 1:27.

      5. Hoe het Paulus getoon dat geestelike Israeliete God in heiligheid moet aanbid?

      5 Geestelike Israeliete, of gesalfde Christene, moet Jehovah ook in heiligheid aanbid (Galasiërs 6:16). In hierdie verband het die apostel Paulus sy medegelowiges gesmeek om ‘hulle liggame te stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer’. Dit het beteken dat daardie gelowiges moes seker maak dat hulle God se wil doen, want Paulus het bygevoeg: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”​—Romeine 12:1, 2.

      6. Waarteen moet alle Christene waak?

      6 In hierdie tyd van vermeerdering stroom daar talle nuwelinge na Jehovah se organisasie. Hulle aanbid Jehovah ook in heiligheid. Hoe verheug is hulle nie oor die vooruitsig om die “groot verdrukking” te oorleef en om die ewige lewe op ’n paradysaarde in die regverdige nuwe stelsel te geniet nie! (Mattheüs 24:21; Lukas 23:43, NW). Maar as dié met hemelse verwagtinge en die “groot menigte” met hul aardse vooruitsigte eendag eindelose lewe wil geniet, moet hulle waak teen besoedelende gewoontes of enigiets wat indruis teen Skriftuurlike sedes en leringe.​—Openbaring 7:9, 14.

      7. Wat het Petrus gesê om te toon dat ons voorbeeldig moet wees “in heilige wandel”?

      7 Die apostel Petrus het van ons tyd gepraat waar hy geskryf het: “Die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele [wêreldse regerings] met gedruis sal verbygaan en die elemente [wêreldse gesindhede en gebruike] sal brand en vergaan, en die aarde [mensegemeenskap wat van God vervreem is] en die werke wat daarop is, sal verbrand” soos “die hemele” en “die elemente” in die vernietigende “vuur” van Jehovah se dag. Toe het Petrus bygevoeg: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?​—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal verbrand en versmelt.” Ja, alle getuies van Jehovah moet voorbeeldig wees “in heilige wandel”. En die wat hulle heiligheid bewaar, kan uitsien na ’n veilige plek in God se regverdige ‘nuwe hemele en nuwe aarde’ (2 Petrus 3:7, 10-13). Watter geseënde vooruitsigte!

      8. Wat moet ’n Christen doen as hy van die weg van heiligheid afgewyk het?

      8 Gestel egter ’n Christen is ’n tyd lank voorbeeldig in Jehovah se diens maar verval later in besoedelende gewoontes of handel in stryd met die Bybel se leer of sedes. Dan het hy afgewyk van die weg van heiligheid en moet hy ware berou toon en die nodige stappe doen om herstel te word. Soos Paulus vir sy medegesalfdes gesê het: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Korinthiërs 7:1). Enige Christen wat ’n verkeerde weg ingeslaan het, sal vind dat die Skriftuurlike raad van liefdevolle opsieners inderdaad ’n seën is.​—Spreuke 28:13; Jakobus 5:13-20.

      9. Watter vraag ontstaan in die lig van 2 Petrus 3:14?

      9 Nadat hy die regverdige nuwe stelsel gemeld het, het Petrus bygevoeg: “Geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor [Jehovah] bevind mag word in vrede” (2 Petrus 3:14). Daardie woorde is aan gesalfde Christene gerig, maar alle getuies van Jehovah moet inderdaad ‘vlekkeloos en onberispelik en in vrede’ bevind word. Wat moet ons dus doen?

      “Vlekkeloos en onberispelik”

      10. Hoe het die lede van die “groot menigte” hulle “klere” wit gemaak in Jesus se bloed?

      10 Ons moet ons bes doen om “vlekkeloos en onberispelik” bevind te word. Die lede van die “groot menigte” het “hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam”. Hulle was eens ’n deel van hierdie sondige wêreld, en hulle identifiserende klere was daardeur bevlek, in Jehovah se oë besoedeld. Hoe het hulle hulle klere wit en vlekkeloos gemaak in “die bloed van die Lam”, Jesus Christus? Deur bewys te lewer van hulle geloof dat ‘geen vergifnis sonder bloedvergieting plaasvind nie’ en dat Jesus ‘die Lam van God is wat die sonde van die wêreld wegneem’ (Openbaring 7:9, 14; Hebreërs 9:22; Johannes 1:29, 36). Dit het hulle gedoen deur hulle onvoorwaardelik aan God toe te wy en dit deur die doop, algehele onderdompeling in water, te simboliseer. Hierdie toewyding moes gedoen word deur middel van Jesus Christus en met die oortuiging dat sy vergote bloed dit vir God moontlik maak om hulle sondes te vergewe en dat dit hulle aanneemlik maak in Sy oë.

      11. In watter toestand moet ons bly, aangesien sonde ons vrede met Jehovah ontwrig?

      11 Die “groot menigte” moet hulle “klere” wit hou deur nie deur wêreldsheid bevlek te word en aldus hulle Christelike persoonlikheid en identifikasie as Jehovah se goedgekeurde getuies te verloor nie. Alle ware Christene moet inderdaad sorg dat hulle nie deur wêreldse gebruike, gedrag en gesindhede beklad word nie. Aangesien sonde ons vrede met Jehovah ontwrig, is dit slegs deur in ’n toestand te bly waarin daar vir ons sondes versoening gedoen kan word dat ons “in vrede” bevind kan word by die koms van die groot “dag van die Here”. Ons moet geensins bevlek wees deur valse godsdiensgebruike of hierdie wêreld se onsedelikheid nie.

      12. Hoe kan 2 Petrus 2:13 selfs binne die Christengemeente toegepas word?

      12 As ons vlekkeloos en onberispelik wil bly, moet ons gedrag en gesindhede die teenoorgestelde wees van die van “valse leraars” van wie Petrus geskryf het: “Hulle ag die weelderigheid oordag ’n genot; hulle is skandvlekke en smette, weelderig in hul bedrieërye as hulle met julle saamsmul” (2 Petrus 2:1, 13). Ja, selfs binne die gemeente moet ons op ons hoede wees vir valse leraars wat ‘die weelderigheid oordag ’n genot ag’. Gedurende die dagligure, wanneer so baie gedoen kan word tot die geestelike voordeel van ander, maak vleeslik gesinde mense hulle moontlik skuldig aan sondes, soos brasserye en onmatige etery en drinkery. Hulle probeer miskien om gesellighede soos huweliksonthale te omskep in geleenthede vir hartstogwekkende musiek, sensuele dansery, vraatsug en drankmisbruik. Hierdie dinge moenie onder Jehovah se volk toegelaat word nie.​—Jesaja 5:11, 12; kyk Die Wagtoring, 1 Mei 1984, bladsye 22-28.

      13. Wat kan die gasheer doen om te verseker dat ’n geselligheid geestelik opbouend sal wees?

      13 Die gasheer by ’n geselligheid is verantwoordelik vir wat daar plaasvind. Om te verseker dat die geleentheid geestelik opbouend sal wees, is dit raadsaam om dit tot ’n beheerbare grootte te beperk en niemand te nooi wat moontlik ’n onheilsame invloed sal inbring nie. Soos Paulus se woorde in 2 Timotheüs 2:20-22 aandui, is nie almal wat met ’n gemeente omgaan noodwendig gewenste metgeselle nie. ’n Christengasheer staan dus onder geen verpligting om mense te nooi wat bekend is vir hulle onbeteuelde tong of wat geneig is om te veel te eet of te drink nie. Hy onthou dat ‘of ons dan eet of drink of enigiets doen, ons alles tot verheerliking van God doen’.​—1 Korinthiërs 10:31.

      14. Watter standpunt moet ons ten opsigte van valse leraars inneem?

      14 Slegs enkeles is “skandvlekke en smette, weelderig in hulle bedrieërye” terwyl hulle met ons omgaan. Maar opsieners en ander in die gemeente moet waaksaam wees en ferm standpunt inneem teen enige valse leraars wat in die gemeente insluip en onsedelikheid of verkeerde leerstellings voorstaan (Judas 3, 4). Slegs deur onwrikbaar by God se regverdige standaarde te bly, sal ons die gemeente vlekkeloos en onberispelik kan hou.

      Wat is nodig om “in vrede” bevind te word?

      15. (a) Hoe kan ’n mens vrede met God verkry? (b) Wat moet ons doen om “in vrede” bevind te word wanneer Jehovah se groot dag aanbreek?

      15 Jehovah se volk moet die vrede met hom bewaar as hulle “in vrede” bevind wil word (2 Petrus 3:14). Ons het hierdie posisie ontvang deur middel van Jesus Christus, van wie Paulus geskryf het: “Dit het die Vader behaag dat in Hom [Jesus] die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis​—ek sê deur Hom—​die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele” (Kolossense 1:19, 20). Ernstige sondes lei tot ’n gespanne verhouding met Jehovah en veroorsaak vir die sondaar gewetenswroeging en ontsteltenis, terwyl vrede die deel is van die wat God se gebooie gehoorsaam (Psalm 38:4; Jesaja 48:18). As ons dan “in vrede” bevind wil word wanneer Jehovah se groot dag aanbreek, moet ons in ’n godvrugtige toestand bly waarin versoening vir ons sondes moontlik is deur die bloed wat Jesus aan die folterpaal vergiet het.

      16. Hoe kan ons, volgens die apostel Paulus, vrede met ons medegelowiges najaag?

      16 Ons moet ook in vrede met ander aanbidders van Jehovah lewe. Paulus het ons aangespoor: “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien.” Die teksverband toon dat ons versigtig moet wees om nie ons medegelowiges te laat struikel met betrekking tot voedsel, drank of enigiets anders nie (Romeine 14:13-23). Maar daar is meer by die saak betrokke as dit, want Paulus het vir Efesiese Christene gesê: “Ek vermaan julle . . . om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede” (Efesiërs 4:1-3). Ons wil gewis ons eenheid openbaar deur alle vredesverstorende woorde en dade te vermy en deur onversetlike ondersteuners van Jehovah se soewereiniteit te wees.

      17. Wat is volgens 1 Petrus 3:10-12 daarby betrokke om ‘vrede te soek’?

      17 Om ‘vrede te soek’, vereis beslis dat ons op ons dade en ons woorde let, want die apostel Petrus het geskryf: “Wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie. Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag. Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners” (1 Petrus 3:10-12; Psalm 34:13-17). Jehovah se lojale knegte moet dus op verskeie maniere aanhou om ‘vrede te soek’ as hulle “in vrede” bevind wil word.

      Vertrou op Jehovah se hulp

      18. Wat kan ons doen as ons wêreldse gebruike, gedrag of gesindhede aantreklik vind?

      18 Petrus het aangedui dat “die elemente”, die wêreldse gees, of gesindhede en gebruike, sal “brand en vergaan” tydens “die dag van die Here” (2 Petrus 3:7, 10). Maar wat kan ons doen as ons wêreldlike gebruike, gedrag of gesindhede aantreklik vind? Ons moet beslis ten volle gebruik maak van geestelike hulpmiddele wat deur middel van Jehovah se organisasie voorsien word. Ons moet onder meer ’n gereelde studie maak van God se Woord en die Christelike publikasies wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” verskaf word (Mattheüs 24:45-47). Ons moet ook voortdurend ons dankbaarheid toon vir die losprys, “die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos”.​—1 Petrus 1:18, 19.

      19. Hoe kan gebed ons help indien ons deur wêreldse gesindhede beïnvloed word?

      19 Ons moet om God se hulp bid sodat ons ‘die geregtigheid kan najaag’ (1 Timotheüs 6:11-14). As ons besef dat ons deur wêreldse gesindhede beïnvloed word, of as ’n liefdevolle medegelowige dit onder ons aandag gebring het, sal dit verstandig wees om hierdie probleem spesifiek in ons gebede te meld en Jehovah om hulp te vra om hierdie neigings te bowe te kom. Dit sal seer seker gepas wees om God om sy gees te vra, asook om sy hulp met die aankweek van die vrug van daardie gees wat so anders as wêreldse gesindhede en gebruike is (Galasiërs 5:16-26; Psalm 25:4, 5; 119:27, 35). Jehovah kan ons help om ons gedagtes op regverdige, rein, deugsame en lofwaardige dinge te rig. En hoe gepas is dit tog nie om hom ernstig te smeek dat die onvergelyklike “vrede van God” ons harte en sinne sal bewaar nie! (Filippense 4:6, 7). Dan sal bekommernis, versoekinge en dies meer nie vererger totdat hulle naderhand hand-uit ruk nie. Ons lewe sal eerder gekenmerk word deur Godgegewe kalmte. Voorwaar, “die wat [Jehovah se] wet liefhet, het groot vrede”.​—Psalm 119:165.

      Laat ons altyd ‘vlekkeloos, onberispelik en in vrede’ bevind word

      20. Waarom kan ons sê dat ’n geestelik onbevlekte toestand moontlik is?

      20 Almal in Jehovah se organisasie, met inbegrip van die nuwelinge wat nou inkom, kan vir God aanneemlik wees (Handelinge 10:34, 35). Met Jehovah se hulp is dit moontlik “om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën” en te lewe soos dit ware Christene betaam (Titus 2:11-14). Hoewel ons vroeër van Jehovah vervreemd en ons verstande op bose werke gerig was, is ons deur die dood van Christus met God versoen. ’n Geestelik onbevlekte toestand is dus moontlik, mits ons vas bly in die geloof en ons nie laat afbring van die hoop van die goeie nuus nie.​—Kolossense 1:21-23.

      21. Hoe kan ons uiteindelik vlekkeloos, onberispelik en in vrede bevind word

      21 Met die hulp van Jehovah, sy Woord en sy organisasie kan ons ons vlekkeloos bewaar van die wêreld en nie besmet word deur sy gebruike, gedrag en gesindhede nie. So kan ons ook ware vrede geniet. Ja, deur te volhard in ons heilige aanbidding van Jehovah kan ons uiteindelik ‘vlekkeloos, onberispelik en in vrede’ bevind word.

  • Laat ons ‘vlekkeloos, onberispelik en in vrede bevind word’
    Die Wagtoring – 1986 | Mei 1
    • [Prente op bladsy 16, 17]

      Wat nodig is om ‘vlekkeloos, onberispelik en in vrede’ bevind te word

      Dien God met heelhartige toewyding

      Kweek die Christelike persoonlikheid aan

      Geniet geestelik opbouende omgang

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel