Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 9/1 bl. 11-16
  • Toon ’n wagtende houding!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toon ’n wagtende houding!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Neem ’n wagtende houding aan
  • Behou ’n realistiese beskouing
  • Lei dit tot frustrasie of vreugde om te wag?
  • Gelukkig om op Jehovah te wag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Weerspieël die geestesgesindheid van Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Weet jy hoe om te wag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Behou ’n positiewe gesindheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 9/1 bl. 11-16

Toon ’n wagtende houding!

“Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding toon. My God sal my hoor.”—MIGA 7:7, NW.

1, 2. (a) Hoe het ’n verkeerde gesindheid die Israeliete in die wildernis nadelig beïnvloed? (b) Wat kan met ’n Christen gebeur wat nie die regte gesindheid aankweek nie?

BAIE dinge in die lewe kan óf positief óf negatief beskou word, na gelang van ons gesindheid. Toe die Israeliete in die wildernis was, is hulle wonderdadig van manna voorsien. Hulle moes eintlik om hulle rondgekyk het na die dor landskap en innig dankbaar teenoor Jehovah gewees het dat hy hulle van voedsel voorsien het. Dit sou ’n positiewe gesindheid weerspieël het. In plaas daarvan het hulle aan die groot verskeidenheid kossoorte in Egipte gedink en gekla dat die manna nie so smaaklik was nie. Wat ’n negatiewe gesindheid!—Numeri 11:4-6.

2 Vandag kan die gesindheid van ’n Christen sake eweneens rooskleurig of donker laat lyk. As ’n Christen nie die regte gesindheid het nie, kan hy maklik sy vreugde verloor, en dit sal gevaarlik wees, want soos Nehemia gesê het: “Die vreugde van Jehovah is [ons] vesting” (Nehemia 8:10, NW). ’n Positiewe, vreugdevolle gesindheid help ons om sterk te bly en dit bevorder vrede en eenheid in die gemeente.—Romeine 15:13; Filippense 1:25.

3. Hoe het die regte gesindheid Jeremia in moeilike tye gehelp?

3 Jeremia het ’n positiewe gesindheid geopenbaar al het hy in moeilike tye gelewe. Selfs toe hy die gruwels van Jerusalem se val in 607 v.G.J. aanskou het, kon hy positiewe dinge sien. Jehovah sou Israel nie vergeet nie, en die volk sou bly voortbestaan. Jeremia het in die boek Klaagliedere geskryf: “Dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot” (Klaagliedere 3:22, 23). Deur die geskiedenis heen het knegte van God in die moeilikste omstandighede ’n positiewe, selfs vreugdevolle, gesindheid probeer behou.—2 Korintiërs 7:4; 1 Tessalonisense 1:6; Jakobus 1:2.

4. Watter gesindheid het Jesus gehandhaaf, en hoe het dit hom gehelp?

4 Seshonderd jaar ná Jeremia het Jesus se positiewe gesindheid hom gehelp om te volhard. Ons lees: “Vir die vreugde wat [Jesus] voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit [het]” (Hebreërs 12:2). Ongeag watter teenstand of vervolging Jesus moes verduur—selfs die lyding aan die folterpaal—hy het sy aandag gevestig gehou op “die vreugde wat hom voorgehou is”. Daardie vreugde was die voorreg om Jehovah se soewereiniteit te regverdig en sy naam te heilig sowel as die vooruitsig om groot seëninge vir gehoorsame mense in die toekoms moontlik te maak.

Neem ’n wagtende houding aan

5. Wat is ’n tipiese situasie waarin ’n wagtende houding ons sal help om die regte beskouing van sake te behou?

5 As ons dieselfde geestesgesindheid as Jesus aankweek, sal ons nie die vreugde van Jehovah verloor nie, selfs al gebeur dinge nie altyd op die tydstip en op die manier wat ons verwag dit moet nie. Die profeet Miga het gesê: “Wat my betref, na Jehovah sal ek op die uitkyk bly. Ek sal ’n wagtende houding teenoor die God van my redding toon” (Miga 7:7, NW; Klaagliedere 3:21, NW). Ons kan ook ’n wagtende houding toon. Hoe? Op baie maniere. Om maar een te noem, ons meen dalk dat ’n broer in ’n gesagsposisie verkeerd opgetree het en onmiddellik tereggewys moet word. ’n Wagtende houding sal ons laat dink: ‘Het hy werklik ’n fout begaan, of het ek dit mis? As hy wel ’n fout begaan het, is die vraag: Is dit moontlik dat Jehovah toelaat dat sake hulle gang gaan omdat hy voel dat die individu sal verbeter en dat drastiese teregwysing onnodig sal wees?’

6. Hoe sal ’n wagtende houding iemand help wat met ’n persoonlike probleem worstel?

6 ’n Wagtende houding is dalk nodig as ons ons oor ’n persoonlike probleem kwel of as ons met ’n swakheid worstel. Gestel ons vra Jehovah om hulp, maar die probleem duur voort. Wat dan? Ons moet aanhou om alles in ons vermoë te doen om die probleem op te los en dan geloof in Jesus se woorde stel: “Hou aan vra, en daar sal vir julle gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word” (Lukas 11:9). Hou aan bid, en wag op Jehovah. Jehovah sal op ’n gepaste tyd en op sy eie manier jou gebede verhoor.—1 Tessalonisense 5:17.

7. Hoe sal ’n wagtende houding ons help om die regte beskouing te hê wanneer ons begrip van die Bybel geleidelik verfyn word?

7 Namate Bybelprofesieë in vervulling gaan, word ons begrip van die Skrif verfyn. Maar soms dink ons dalk dat ’n sekere saak al lankal duideliker gemaak moes gewees het. Is ons bereid om te wag as dit nie gebeur op die tyd wanneer ons dit sou verkies nie? Onthou dat Jehovah dit raadsaam geag het om “die heilige geheim van die Christus” geleidelik oor ’n tydperk van ongeveer 4 000 jaar te openbaar (Efesiërs 3:3-6). Het ons dan enige rede om ongeduldig te wees? Twyfel ons dat ’n “getroue en verstandige slaaf” aangestel is om Jehovah se volk “hulle voedsel op die regte tyd” te gee? (Matteus 24:45). Waarom sou ons onsself van godvrugtige vreugde beroof omdat alles nie heeltemal verstaan word nie? Hou in gedagte dat Jehovah besluit wanneer en hoe hy sy ‘vertroulike sake’ sal openbaar.—Amos 3:7, NW.

8. Hoe vind baie mense baat by Jehovah se geduld?

8 Party voel dalk mismoedig omdat hulle meen dat hulle, ná jare van getroue diens, moontlik nie “die groot en deurlugtige dag van die HERE” sal beleef nie (Joël 2:30, 31). Hulle kan egter bemoedig voel wanneer hulle na die positiewe sy kyk. Petrus het hierdie raad gegee: “Beskou . . . die geduld van ons Here as redding” (2 Petrus 3:15). Jehovah se geduld het dit vir nog miljoene regskapenes moontlik gemaak om die waarheid te leer. Is dit nie wonderlik nie? En hoe langer Jehovah geduld beoefen, hoe meer tyd het ons om ‘aan te hou om ons eie redding met vrees en bewing te bewerk’.—Filippense 2:12; 2 Petrus 3:11, 12.

9. Hoe sal ’n wagtende houding ons help om die situasie te verduur as ons beperk is in wat ons in Jehovah se diens kan doen?

9 ’n Wagtende houding help ons om nie mismoedig te word wanneer teenstand, siekte, die ouderdom of ander probleme ons Koninkryksdiens bemoeilik nie. Jehovah verwag dat ons hom heelhartig moet dien (Romeine 12:1). Maar God se Seun, wat “hom ontferm oor die arme en behoeftige”, verwag nie meer van ons as wat ons redelikerwys kan doen nie; en Jehovah verwag dit ook nie (Psalm 72:13). Ons word dus aangemoedig om te doen wat ons kan, terwyl ons geduldig wag totdat omstandighede verander—hetsy in hierdie stelsel van dinge of in die toekomstige. Onthou: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie.”—Hebreërs 6:10.

10. Watter goddelose karaktertrek kan iemand met ’n wagtende houding vermy? Verduidelik.

10 ’n Wagtende houding help ons ook om vermetelheid te vermy. Party wat afvalliges geword het, was nie bereid om te wag nie. Hulle het dalk gedink dat aanpassings nodig was, hetsy in die begrip van die Bybel of in organisatoriese sake. Wat hulle egter nie erken het nie, is dat Jehovah se gees die getroue en verstandige slaaf rig om aanpassings op Sy bestemde tyd te maak, nie wanneer ons dalk dink dit is nodig nie. En enige aanpassings moet in ooreenstemming met Jehovah se wil wees, nie met ons persoonlike idees nie. Afvalliges laat toe dat ’n vermetele gesindheid hulle denke verdraai en hulle laat struikel. Maar as hulle die geestesgesindheid van Christus aangeneem het, kon hulle hulle vreugde behou het en onder Jehovah se volk gebly het.—Filippense 2:5-8.

11. Hoe kan ons die tyd nuttig gebruik terwyl ons wag, en wie se voorbeeld sal ons volg?

11 Om ’n wagtende houding te behou, beteken natuurlik nie dat ’n mens lui of ledig is nie. Ons het dinge om te doen. Ons moet byvoorbeeld verdiep wees in persoonlike Bybelstudie en sodoende dieselfde lewendige belangstelling in geestelike dinge toon as wat die getroue profete en selfs die engele getoon het. Waar Petrus van hierdie belangstelling gepraat het, sê hy: “Aangaande juis hierdie redding is daar ywerig nagevors en sorgvuldig ondersoek gedoen deur die profete . . . In juis hierdie dinge is engele begerig om te tuur” (1 Petrus 1:10-12). Nie net persoonlike studie is noodsaaklik nie, maar ook gereelde vergaderingbywoning en gebed (Jakobus 4:8). Diegene wat toon dat hulle bewus is van hulle geestelike behoefte deur gereeld geestelike voedsel in te neem en met mede-Christene te assosieer, toon dat hulle Christus se geestesgesindheid aangeneem het.—Matteus 5:3.

Behou ’n realistiese beskouing

12. (a) Watter onafhanklikheid wou Adam en Eva hê? (b) Wat was die gevolg toe die mensdom die weg van Adam en Eva gevolg het?

12 Toe God die eerste mensepaar geskep het, het hy hom die reg voorbehou om standaarde van reg en verkeerd te stel (Genesis 2:16, 17). Adam en Eva wou onafhanklik van God se leiding wees, en dit het gelei tot die wêreld wat ons vandag om ons sien. Die apostel Paulus het gesê: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’ (Romeine 5:12). Sesduisend jaar van die mensegeskiedenis sedert Adam se tyd het bewys dat Jeremia se woorde waar is: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Dit is nie pessimisties om te erken dat Jeremia se woorde waar is nie. Dit is realisties. Dit verklaar al daardie lang eeue toe ‘die een mens geheers het oor die ander tot sy ongeluk’ omdat mense onafhanklik van God geheers het.—Prediker 8:9.

13. Watter realistiese beskouing het Jehovah se Getuies van wat mense wel kan bereik?

13 Met die oog op die mensdom se situasie besef Jehovah se Getuies dat daar perke is aan wat daar in die huidige stelsel van dinge bereik kan word. ’n Positiewe gesindheid kan ons help om ons vreugde te behou, maar dit is nie die oplossing vir alles nie. In die vroeë 1950’s het ’n Amerikaanse geestelike ’n trefferboek uitgegee met die titel The Power of Positive Thinking. Die boek het aangevoer dat ’n mens die meeste struikelblokke te bowe kan kom as jy dit met ’n positiewe gesindheid benader. Positiewe denke is beslis baie goed. Maar ondervinding toon dat dit wat ons as individue wel kan bereik, beperk word deur ons kennis, bekwaamheid, materiële middele en ’n menigte ander faktore. En op ’n wêreldskaal is die probleme eenvoudig te groot vir mense om dit met welslae op te los—al dink hulle ook hoe positief!

14. Het Jehovah se Getuies ’n negatiewe gesindheid? Verduidelik.

14 Weens hulle realistiese beskouing van sulke sake word Jehovah se Getuies soms daarvan beskuldig dat hulle ’n negatiewe gesindheid het. Maar hulle is eerder gretig om vir mense te vertel van die enigste Persoon wat die mensdom se lot permanent kan verbeter. Ook hierin volg hulle die geestesgesindheid van Christus na (Romeine 15:2). En hulle is besig om mense te help om ’n goeie verhouding met God op te bou. Hulle weet dat dit op die lange duur die grootste nut sal hê.—Matteus 28:19, 20; 1 Timoteus 4:16.

15. Hoe help die werk van Jehovah se Getuies mense om te verbeter?

15 Jehovah se Getuies ignoreer nie die maatskaplike probleme—veral die verontreinigende onskriftuurlike gebruike—om hulle nie. Voordat ’n belangstellende een van Jehovah se Getuies word, bring hy veranderinge aan—hy moet dikwels verslawende, verdorwe gebruike oorwin wat God mishaag (1 Korintiërs 6:9-11). Jehovah se Getuies het sodoende diegene wat gunstig gereageer het, gehelp om dronkenskap, dwelmverslawing, onsedelikheid en kompulsiewe dobbelary te bowe te kom. Sulke hervormde persone het geleer om op ’n verantwoordelike en eerlike manier vir hulle gesinne te sorg (1 Timoteus 5:8). Wanneer individue en gesinne op dié manier gehelp word, verminder dit probleme in die gemeenskap—daar is minder dwelmverslaafdes, minder gevalle van gesinsgeweld, ensovoorts. Deur self wetsgehoorsame burgers te wees en deur ander te help om hulle lewe te verbeter, verlig Jehovah se Getuies die las van instellings wat die taak het om maatskaplike probleme op te los.

16. Waarom raak Jehovah se Getuies nie betrokke by sekulêre hervormingsbewegings nie?

16 Het Jehovah se Getuies dus die sedelike klimaat in die wêreld verander? Wel, in die afgelope dekade het die aantal bedrywige Getuies van bietjie minder as 3 800 000 tot bykans 6 000 000 vermeerder. Dit is ’n vermeerdering van ongeveer 2 200 000, en baie van hulle het sondige gebruike laat vaar toe hulle Christene geword het. Baie lewens is verbeter! En tog is hierdie getal baie klein in vergelyking met die toename in die wêreldbevolking gedurende dieselfde tydperk—875 000 000! Jehovah se Getuies beskou dit as ’n bron van vreugde om mense te help wat gunstig reageer, hoewel hulle besef dat min mense die weg na die lewe sal volg (Matteus 7:13, 14). Terwyl die Getuies wag op die wêreldwye verbeteringe wat net God kan aanbring, raak hulle nie betrokke by sekulêre hervormingsbewegings nie, wat dikwels met goeie bedoelings begin, maar op die ou end op teleurstelling en selfs geweld uitloop.—2 Petrus 3:13.

17. Wat het Jesus gedoen om diegene om hom te help, maar wat het hy nie gedoen nie?

17 Deur dit te doen, openbaar Jehovah se Getuies dieselfde vertroue in Jehovah wat Jesus gehad het toe hy op aarde was. In die eerste eeu het Jesus mense wonderdadig genees (Lukas 6:17-19). Hy het selfs die dooies opgewek (Lukas 7:11-15; 8:49-56). Maar hy het nie die probleem van siekte verwyder of die vyand, die dood, oorwin nie. Hy het geweet dat dit nog nie God se bestemde tyd hiervoor was nie. Met die besondere vermoëns van ’n volmaakte mens kon Jesus waarskynlik baie gedoen het om ernstige politieke en maatskaplike probleme op te los. Party van sy tydgenote wou blykbaar gehad het dat hy die bewind moes oorneem en juis dit moes doen, maar Jesus het geweier. Ons lees: “Toe die mense . . . die tekens sien wat hy gedoen het, het hulle begin sê: ‘Dit is vir seker die profeet wat in die wêreld sou inkom.’ Daarom het Jesus, omdat hy geweet het dat hulle op die punt staan om hom te kom gryp om hom koning te maak, weer na die berg weggegaan, heeltemal alleen.”—Johannes 6:14, 15.

18. (a) Hoe het Jesus altyd ’n wagtende houding geopenbaar? (b) Hoe het Jesus se bedrywighede sedert 1914 verander?

18 Jesus het geweier om by die politiek of bloot maatskaplike werk betrokke te raak omdat hy geweet het dat die tyd vir hom om koninklike mag aan te neem en genesingswerke vir almal regoor die aarde te doen toe nog nie aangebreek het nie. Selfs nadat hy na onsterflike geeslewe in die hemel opgevaar het, was hy gewillig om te wag op Jehovah se vasgestelde tyd voordat hy opgetree het (Psalm 110:1; Handelinge 2:34, 35). Maar sedert hy in 1914 as Koning van God se Koninkryk gekroon is, gaan hy uit, “oorwinnend en om sy oorwinning te voltooi” (Openbaring 6:2; 12:10). Hoe dankbaar is ons tog om ons aan sy koningskap te onderwerp, terwyl ander wat beweer dat hulle Christene is, verkies om oningelig te bly omtrent die Bybelleringe aangaande die Koninkryk!

Lei dit tot frustrasie of vreugde om te wag?

19. Wanneer ‘maak dit die hart siek’ om te wag, en wanneer is dit ’n rede tot vreugde?

19 Salomo het geweet dat dit frustrerend kan wees om te wag. Hy het geskryf: “n Uitgestelde hoop maak die hart siek” (Spreuke 13:12). As iemand ongegronde verwagtinge koester, kan die teleurstelling beslis sy hart siek maak. Maar as ons vir ’n blye geleentheid wag—moontlik ’n troue, die geboorte van ’n kind of ’n hereniging met mense vir wie ons lief is—kan ons lank voor die dag van die gebeurtenis die vreugde van die afwagting ervaar. Daardie vreugde word vergroot as ons die wagtyd wyslik gebruik en voorbereidings tref vir die komende gebeurtenis.

20. (a) Na watter wonderlike gebeure sien ons vol vertroue uit? (b) Hoe kan ons vreugde vind terwyl ons wag dat Jehovah se voornemens vervul word?

20 Wanneer ons vol vertroue is dat ons verwagtinge verwesenlik sal word—al weet ons nie wanneer dit verwesenlik sal word nie—hoef die wagtyd nie ‘die hart siek te maak’ nie. God se getroue aanbidders weet dat Christus se Duisendjarige Heerskappy op hande is. Hulle is vol vertroue dat hulle die einde van dood en siekte sal sien. Hulle wag gretig en vol vreugde op die tyd wanneer hulle duisendmiljoene uit die dood sal terugverwelkom, waaronder hulle afgestorwe dierbares (Openbaring 20:1-3, 6; 21:3, 4). In hierdie tyd van ’n ekologiese krisis verlustig hulle hulle in die gewisse vooruitsig om te sien hoe die Paradys op die aarde tot stand gebring word (Jesaja 35:1, 2, 7). Hoe wys is dit dus tog om die wagtyd oordeelkundig te gebruik, terwyl ons “altyd volop het om in die werk van die Here te doen”! (1 Korintiërs 15:58). Hou aan om geestelike voedsel in te neem. Bou ’n al hoe hegter verhouding met Jehovah op. Soek na ander wie se harte hulle beweeg om Jehovah te dien. Moedig medegelowiges aan. Benut die tyd wat Jehovah nog toelaat ten volle. Dan sal dit nooit jou ‘hart siek maak’ om op Jehovah te wag nie. Dit sal jou eerder met vreugde vul!

Kan jy verduidelik?

• Hoe het Jesus ’n wagtende houding geopenbaar?

• In watter situasies het Christene ’n wagtende houding nodig?

• Waarom is Jehovah se Getuies tevrede om op Jehovah te wag?

• Hoe kan ons dit ’n rede tot vreugde maak om op Jehovah te wag?

[Prente op bladsy 12]

Jesus het volhard weens die vreugde wat hom voorgehou is

[Prent op bladsy 13]

Ons kan ons vreugde selfs ná jare lange diens behou

[Prente op bladsy 15]

Miljoene het hulle lewe verbeter deur Getuies van Jehovah te word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel