Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 7/15 bl. 15-20
  • Hou aan om soos kinders van God te lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou aan om soos kinders van God te lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe groot is God se liefde tog!
  • Doen die geregtigheid
  • Hou God se wet
  • Liefde “met die daad en in waarheid”
  • ’n Hart wat ons nie veroordeel nie
  • Wees op jou hoede!
  • Toon altyd liefde en geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Bybelboek nommer 62—1 Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Hou aan om in goddelike lig te wandel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Glanspunte uit die briewe van Johannes en van Judas
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 7/15 bl. 15-20

Hou aan om soos kinders van God te lewe

“Elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.”​—1 JOHANNES 3:10.

1, 2. Watter raad van die apostel gaan ons bespreek in ons verdere studie van Eerste Johannes?

JEHOVAH het ’n universele gesin en party mense is nou lede daarvan. Hulle is God se kinders. Maar hoe verskil hulle van ander?

2 In sy eerste goddelik geïnspireerde brief identifiseer die apostel Johannes hulle as hoogs begunstigde mense. Hy voorsien ook raad wat hulle help om aan te hou om soos kinders van God te lewe. En wat hy sê, sal alle toegewyde getuies van Jehovah tot voordeel strek.

Hoe groot is God se liefde tog!

3. Hoe is party persone “kinders van God” gemaak, en hoe beskou die wêreld hulle?

3 Johannes meld die hoop van gesalfde Christene. (Lees 1 Johannes 3:13, vgl. NW.) Watter groot liefde het Jehovah tog getoon deur hulle as geestelike seuns aan te neem en hulle “kinders van God” te maak! (Romeine 5:8-10). Die “wêreld”​—onregverdige mensegemeenskap—​deel nie hulle goddelike gees, oogmerke en verwagtinge nie. Hierdie wêreldgemeenskap haat Christus en sy volgelinge en gevolglik ook die Vader (Johannes 15:17-25). Die wêreld ken gesalfdes derhalwe as individue, maar nie as God se kinders nie, want dit het Jehovah nie leer ‘ken’ nie.​—1 Korinthiërs 2:14.

4. Wat moet elkeen doen wat die hoop op hemelse lewe het?

4 Gesalfdes is nou God se kinders. Maar, sê Johannes, “dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees” na getrouheid tot die dood en opstanding tot hemelse lewe met geesliggame nie (Filippense 3:20, 21). Maar wanneer God ‘openbaar gemaak word’, sal hulle ‘soos hy’ wees en ‘hom sien soos hy is’, as Jehovah “die Gees” (2 Korinthiërs 3:17, 18). Elkeen wat “hierdie hoop” op hemelse lewe het, moet beweeg word om homself te reinig “soos Hy [Jehovah] rein is”. Hoewel gesalfdes nou onvolmaak is, moet hulle rein lewens lei wat ooreenstem met hulle hoop om die rein, heilige God in die hemelse ryk te sien.​—Psalm 99:5, 9; 2 Korinthiërs 7:1.

Doen die geregtigheid

5, 6. Wat doen elke beoefenaar van sonde uit God se standpunt, maar wat is in hierdie opsig waar van diegene wat “in eendrag met” Jesus Christus bly?

5 As mense soos God se kinders wil lewe, moet hulle ook geregtigheid beoefen. (Lees 1 Johannes 3:4, 5.) “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid” uit die standpunt van Jehovah, wie se wette die sondaar skend (Jesaja 33:22, NW; Jakobus 4:12). Alle “sonde is wetteloosheid”, ’n oortreding van God se wette. Die beoefening van sonde is strydig met die Christelike gees, en ons is dankbaar dat Jesus Christus as ’n mens “verskyn het om ons sondes weg te neem”. Aangesien ‘daar geen sonde in Hom is nie’, kon hy vir God die een volkome bevredigende soenoffer aanbied.​—Jesaja 53:11, 12; Hebreërs 7:26-28; 1 Petrus 2:22-25.

6 “Elkeen wat in eendrag met hom [die Seun] bly, beoefen geen sonde nie.” (Lees 1 Johannes 3:6, NW.) Omdat ons onvolmaak is, begaan ons soms ’n sonde. Maar sonde is nie ’n gewoonte vir diegene wat in eendrag met die Seun en gevolglik in eendrag met die Vader bly nie. Gewoontesondaars het Jesus nie met die geloofsoog “gesien” nie; gewoontesondaars soos die afvalliges ‘ken’ en waardeer Christus ook nie as die soenoffer, “die Lam van God”, nie.​—Johannes 1:36.

7, 8. Uit wie is die opsetlike beoefenaar van sonde, volgens 1 Johannes 3:7, 8, maar met watter doel in hierdie verband het God se Seun “verskyn”?

7 Johannes waarsku teen misleiding. (Lees 1 Johannes 3:7, 8.) “Laat niemand julle mislei nie”, sê die apostel, en voeg by: “Wie die geregtigheid doen [deur God se wet te hou], is regverdig soos Hy [Jesus Christus] regverdig is.” Ons sondigheid voorkom dat ons net so regverdig soos die Groot Voorbeeld is. Maar deur Jehovah se onverdiende goedheid kan Jesus se gesalfde volgelinge nou aanhou om soos kinders van God te lewe.

8 Die opsetlike beoefenaar van sonde “is uit die duiwel”, wat “van die begin” van sy loopbaan van opstand teen Jehovah gesondig het. Maar God se Seun het “verskyn” om Satan se “werke” om sonde en boosheid te bevorder, te verbreek. Dit behels die totnietmaking van die gevolge van Adamitiese dood deur middel van Christus se soenoffer en die opwekking van dié in Sjeool (Hades), asook die vermorseling van Satan se kop (Genesis 3:15; 1 Korinthiërs 15:26). Laat ons, die gesalfde oorblyfsel en die “groot menigte”, intussen daarteen waak om sonde en ongeregtigheid te beoefen.

Hou God se wet

9. In watter opsig kan die geesverwekte Christen ‘nie sonde beoefen nie’, en waarom is dit die geval?

9 Johannes onderskei vervolgens tussen God se kinders en dié van die Duiwel. (Lees 1 Johannes 3:9-12, vgl. NW.) “Elkeen wat uit God gebore is, [beoefen] geen sonde” of maak dit ’n gewoonte nie. Jehovah se ‘reproduktiewe saad’, of heilige gees, wat ’n person ’n ‘wedergeboorte’ tot ’n hemelse hoop gee, bly in die individu tensy hy die gees weerstaan en dit dus ‘bedroef’, sodat God dit terugtrek (1 Petrus 1:3, 4, 18, 19, 23; Efesiërs 4:30). As hy een van God se kinders wil bly, kan die geesverwekte Christen nie ‘sonde beoefen’ nie. As ’n “nuwe skepping” met die “nuwe persoonlikheid” stry hy teen sonde. Hy het “die verdorwenheid ontvlug . . . wat deur begeerlikheid in die wêreld is”, en is nie ’n gewoontesondaar nie.​—2 Korinthiërs 5:16, 17, NW; Kolossense 3:5-11, NW; 2 Petrus 1:4.

10. Wat is een manier om tussen God se kinders en dié van die Duiwel te onderskei?

10 Een manier om tussen God se kinders en dié van die Duiwel te onderskei, is: “Elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie.” Ongeregtigheid is so kenmerkend van die Duiwel se kinders, dat hulle “nie [kan] slaap as hulle nie kwaad gedoen het nie; hulle lê wakker as hulle nie iemand se ondergang bewerk het nie”, en dit is wat afvalliges aan lojale Christene wil doen.​—Spreuke 4:14-16, NAV.

11. (a) Wat is nog ’n manier om diegene te identifiseer wat nie God se kinders is nie? (b) Wat moet dit ons help om te doen as ons oor Kain se weg nadink?

11 Hy “wat sy broeder nie liefhet nie”, is ook nie uit God nie. Trouens, die boodskap wat ons “van die begin” van ons lewens as Jehovah se Getuies gehoor het, is dat ons “mekaar moet liefhê” (Johannes 13:34). Ons is dus “nie soos Kain”, wat getoon het dat hy “uit die Bose was” deur ‘sy broer dood te slaan’ op ’n gewelddadige wyse wat kenmerkend van die moordenaar Satan is nie (Genesis 4:2-10; Johannes 8:44). Kain het Abel doodgeslaan “omdat sy werke boos was en die van sy broer regverdig”. As ons oor Kain se weg nadink, sal dit ons seer seker help om nie soortgelyke haat jeens ons geestelike broers te koester nie.

Liefde “met die daad en in waarheid”

12. Hoe weet ons “dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe”, en wat beteken dit?

12 As ons Kain sou navolg, sou ons geestelik dood wees. (Lees 1 Johannes 3:13-15.) Hy het sy broer so gehaat dat hy hom doodgemaak het, en ons is nie verbaas dat die wêreld ons net so haat nie, want Jesus het dit voorspel (Markus 13:13). Maar “ons weet [of, is daarvan oortuig] dat ons oorgegaan het uit die [geestelike] dood in die [ewige] lewe, omdat ons die broeders liefhet”, ons medegetuies van Jehovah. As gevolg van daardie broederliefde, tesame met geloof in Christus, is ons nie meer “dood” in misdade en sondes nie, maar het God ons uit Sy veroordeling verhef, en is ons uit die geestelike dood opgewek en die hoop op die ewige lewe gegee (Johannes 5:24; Efesiërs 2:1-7). Liefdelose afvalliges het nie so ’n hoop nie, want hy wat “nie liefhet nie, bly in die [geestelike] dood”.

13. Waarom moet ons daaroor bid as ons ons broer haat?

13 Waarlik, “elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar”. Fisieke moord word miskien nie gepleeg [soos toe Kain Abel uit jaloesie en haat doodgemaak het] nie, maar die hater sou verkies dat sy geestelike broer nie lewe nie. Aangesien Jehovah die hart lees, is die hater veroordeel. (Spreuke 21:2; vergelyk Mattheüs 5:21, 22.) Geen sodanige “moordenaar”, of hater van ’n medegelowige, het “die ewige lewe as iets blywends in hom” nie. Moet ons dan nie tot Jehovah bid om ons te help om ons gees tot een van broederliefde te verander as ons ’n ander Getuie heimlik haat nie?

14. In watter mate moet ons broederliefde betoon?

14 As ons wil aanhou om soos kinders van God te lewe, moet ons broederliefde in woord en daad betoon. (Lees 1 Johannes 3:16-18.) Dit behoort moontlik te wees, want ons het “die liefde leer ken, [omdat] Hy [Jesus Christus] sy lewe vir ons afgelê het”. Aangesien Jesus liefde in daardie mate betoon het, moet ons soortgelyke beginselvaste liefde (Grieks, a·gaʹpe) vir medegelowiges toon. Tydens vervolging is ons byvoorbeeld verplig om “ons lewe vir die broeders af te lê”, net soos Priscilla en Aquila “hulle lewe [vir die apostel Paulus] gewaag het”.​—Romeine 16:3, 4; Johannes 15:12, 13.

15. Wat vereis liefde van ons as ’n broer gebrek ly en ons “die goed van die wêreld” het?

15 As ons ons lewe vir ons broers sal aflê, moet ons bereid wees om minder veeleisende dinge ten behoewe van hulle te doen. Gestel ons het “die goed [“lewensmiddele”, NW] van die wêreld”​—geld, voedsel, klere, en so meer, wat deur die wêreld moontlik gemaak word. Ons “sien” miskien ’n broer wat gebrek ly, nie net deur dit terloops te sien nie, maar deur die situasie waar te neem. Sy verknorsing laat miskien die deur van ons “hart”, ons tere medelye of diepste gevoelens, oopgaan. Maar gestel ons slaan daardie deur toe deur toe te laat dat selfsug ons voorneme om hom te help dwarsboom. Wat dan? “Hoe bly die liefde van God” dan in ons? Dit is nie genoeg om net oor broederliefde te praat nie. As God se kinders moet ons dit “met die daad en in waarheid” openbaar. As ’n broer byvoorbeeld honger ly, het hy voedsel nodig, nie net woorde nie.​—Jakobus 2:14-17.

’n Hart wat ons nie veroordeel nie

16. (a) Hoe is God “meer as ons hart”? (b) Wat is volgens Johannes die rede waarom Jehovah ons gebede verhoor?

16 Johannes wys vervolgens op die versekeringe dat ons Jehovah se kinders is. (Lees 1 Johannes 3:19-24.) “Hieraan weet ons dat ons uit die waarheid is” en nie slagoffers van afvallige misleiding is nie​—aan die feit dat ons broederliefde openbaar. So ‘stel ons ons hart voor God gerus’ (Psalm 119:11). As ons hart ons veroordeel, miskien omdat ons meen dat ons nie genoeg liefde aan mede-aanbidders getoon het nie, moet ons onthou dat “God . . . meer [is] as ons hart, en Hy weet alles”. Hy is genadig, want hy is bewus van ons “ongeveinsde broederliefde”, ons stryd teen sonde en ons pogings om te lewe op ’n manier wat hom behaag (1 Petrus 1:22; Psalm 103:10-14). “As ons hart ons nie veroordeel nie” omdat daar dade is wat blyk lewer van ons broederliefde, en ons nie aan verborge sonde skuldig is nie, “het ons vrymoedigheid teenoor God” in gebed (Psalm 19:13). En hy verhoor ons gebede “omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom”.

17. Watter twee vereistes word in God se “gebod” omvat?

17 As ons verwag dat ons gebede verhoor moet word, moet ons God se “gebod” hou wat hierdie twee vereistes omvat: (1) Ons moet geloof hê in Jesus se “Naam”, die losprys aanvaar en sy Godgegewe gesag erken (Filippense 2:9-11). (2) Ons moet ook “mekaar liefhê” soos Jesus beveel het (Johannes 15:12, 17). Enigiemand wat geloof in Christus se naam het, behoort gewis alle ander wat sodanige geloof beoefen, lief te hê.

18. Hoe weet ons dat Jehovah ‘in eendrag met ons bly’?

18 ’n Persoon wat God se gebooie bewaar, “bly in [eendrag met] Hom”, in eenheid met Jehovah. (Vergelyk Johannes 17:20, 21, vgl. NW.) Maar hoe “weet ons” dat God “in [eendrag met] ons bly”? Ons weet dit “aan die [Heilige] Gees wat Hy ons gegee het”. As ons God se heilige gees het asook die vermoë om die vrug daarvan, onder meer broederliefde, te openbaar, bewys dit dat ons in eendrag met Jehovah is.​—Galasiërs 5:22.

Wees op jou hoede!

19, 20. Waarom moet ons ‘die geïnspireerde uitinge op die proef stel’, en watter hulp verskaf Johannes in hierdie verband?

19 Johannes toon voorts dat ons op ons hoede moet wees. [Lees 1 Johannes 4:1, vgl. NW.) Ons moet nie elke “gees”, of geïnspireerde uiting, glo nie, ‘maar ons moet die geïnspireerde uitinge op die proef stel of hulle uit God is’. Waarom? “Want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.” Sommige van hierdie valse leraars het destyds rondgereis, met verskillende gemeentes omgegaan en ‘die dissipels agter hulle aan probeer wegtrek’ (Handelinge 20:29, 30; 2 Johannes 7). Die getroues moes dus op hulle hoede wees.

20 Sommige eerste-eeuse Christene het “onderskeiding van geïnspireerde uitsprake” gehad, ’n wonderdadige gawe van God se werkende krag wat hulle blykbaar in staat gestel het om vas te stel of geïnspireerde uitinge van Jehovah af gekom het (1 Korinthiërs 12:4, 10, NW). Maar dit blyk dat Johannes se waarskuwing op Christene in die algemeen van toepassing is en vandag nuttig is wanneer afvalliges die geloof van Jehovah se Getuies probeer ondermyn. Hoewel die gees se gawe om ‘geïnspireerde uitsprake te onderskei’ verbygegaan het, bied Johannes se woorde die middel waardeur vasgestel kan word of leraars deur God se gees of demoniese invloede beweeg word.

21. Wat is een manier om “geïnspireerde uitinge” op die proef te stel?

21 Let op een manier waarop dit op die proef gestel kan word. (Lees 1 Johannes 4:2, 3.) “Elke [geïnspireerde uiting] wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God.” Ons erken dat Jesus eens op ’n tyd as ’n mens gelewe het en God se Seun is, en ons geloof beweeg ons om sulke waarhede vir ander te leer (Mattheüs 3:16, 17; 17:5; 20:28; 28:19, 20). “En elke [geïnspireerde uiting] wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie.” Dit is eerder die geïnspireerde uiting van “die Antichris” teen Christus en teen Skriftuurlike leringe oor hom. Johannes en ander apostels het blykbaar gewaarsku dat “die Antichris” se geïnspireerde uiting kom (2 Korinthiërs 11:3, 4; 2 Petrus 2:1). Aangesien valse leraars ware Christene toe bedreig het, kon Johannes sê: “Hy is nou al in die wêreld.”

22. Wat is nog ’n manier om “geïnspireerde uitinge” op die proef te stel?

22 Nog ’n manier om “geïnspireerde uitinge” op die proef te stel, is om te kyk wie daarna luister. (Lees 1 Johannes 4:4–6, vgl. NW.) As Jehovah se knegte het ons die valse leraars “oorwin”, oor hulle pogings om ons van God se waarheid weg te trek geseëvier. Hierdie geestelike oorwinning was moontlik omdat God, wat in eendrag met lojale Christene bly, “groter is as hy [die Duiwel] wat in [eendrag met] die wêreld”, of onregverdige mensegemeenskap, is (2 Korinthiërs 4:4). Omdat afvalliges “uit die wêreld” is en sy goddelose gees het, “praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle”. Omdat ons Jehovah se gees het, kan ons die wêreldse aard van hulle “geïnspireerde uitinge” bespeur en daarom verwerp ons hulle.

23. Wie luister na ons en besef dat ons deur God se gees gelei word?

23 Maar ons weet dat ons “uit God” is, want “hy wat God ken, luister na ons”. Sagmoedige persone besef ons leer die waarheid wat op God se Woord gegrond is. (Vergelyk Johannes 10:4, 5, 16, 26, 27.) Natuurlik luister “hy wat nie uit God is nie . . . nie na ons nie”. Die valse profete, of leraars, het nie na Johannes of na ander wat ‘uit God’ was en gesonde geestelike onderrig gegee het, geluister nie. “Hieruit ken ons die [geïnspireerde uiting] van die waarheid en die [geïnspireerde uiting] van die dwaling.” Ons wat die gesin van Jehovah se aanbidders uitmaak, praat die “suiwer taal” van Skriftuurlike waarheid wat deur middel van God se organisasie voorsien word (Sefanja 3:9, NW). En aan ons woorde is dit vir sagmoediges duidelik dat ons deur God se heilige gees gelei word.

24. Wat sal Johannes vervolgens wys?

24 Tot op hierdie stadium het Johannes party grondvereistes uiteengesit waaraan ons moet voldoen as ons wil aanhou om as God se kinders te lewe. Vervolgens sal hy wys waarom ons altyd liefde en geloof moet toon.

Hoe antwoord jy?

◻ Hoe word party persone “kinders van God” gemaak?

◻ Hoe kan ons tussen God se kinders en dié van die Duiwel onderskei?

◻ Wat moet dit ons help om te doen as ons oor Kain se weg nadink?

◻ In watter mate moet ons broederliefde betoon?

◻ Hoe kan “geïnspireerde uitinge” op die proef gestel word?

[Prent op bladsy 18]

As ons oor Kain se weg nadink, behoort dit ons te help om nooit enige van ons broers te haat nie

[Prent op bladsy 20]

Jehovah se aanbidders praat die “suiwer taal” van Skriftuurlike waarheid wat deur middel van God se organisasie voorsien word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel