Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 12/1 bl. 10-15
  • Hulle het onselfsugtig op God se liefde gereageer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle het onselfsugtig op God se liefde gereageer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe Moses onselfsugtig gereageer het
  • Dawid se goeie reaksie
  • Jesus Christus, ons volmaakte voorbeeld
  • Hoe kan ons onselfsugtig op God se liefde reageer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Jy moet die God liefhê wat jou liefhet
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Sal jy op Jesus se liefde reageer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 12/1 bl. 10-15

Hulle het onselfsugtig op God se liefde gereageer

“Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.”—PSALM 107:8.

1. Hoe beklemtoon die apostel Johannes die eienskap liefde in sy eerste brief?

“GOD is liefde.” Hoe betekenisvol is daardie woorde tog! Geen wonder dat die apostel Johannes dit nodig geag het om dit in sy eerste brief te herhaal nie (1 Johannes 4:8, 16). Nie alleen is Jehovah God liefde nie, maar hy is ook die beliggaming, of verpersoonliking, van liefde.

2. In watter opsigte het God liefde betoon toe hy die man en die vrou geskep en vir hulle voorsien het?

2 Dink aan die liefde wat God betoon het in die manier waarop hy ons geskep het. Dawid se waarderende woorde is so gepas. As geïnspireerde psalmis het hy gesê: “Ek sal u prys omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is” (Psalm 139:14, NW). God het deur middel van ons vyf sinne—gesig, gehoor, smaak, reuk en gevoel—eindelose vreugdes vir ons moontlik gemaak sodat ons in gesondheid en geluk kan lewe. Watter skoonheid sien ons tog nie in die skepping om ons nie! Hoe wonderlik is die talryke en veelsoortige plante en diere tog, om nie eens te praat van die skoonheid van die menslike vorm en gelaatstrekke nie! God het ook die heerlikste verskeidenheid vrugte, groente en ander voedsel binne ons bereik geplaas (Psalm 104:13-16). Die apostel Paulus het die inwoners van eertydse Listre tereg daaraan herinner dat God goed doen deur “van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vul”.—Handelinge 14:17.

3. Watter wonderlike vermoëns het God ons gegee?

3 Dink ook aan al die seëninge wat met ’n gelukkige gesinslewe gepaard gaan. Dink boonop na oor al die vreugdes wat ons kan geniet weens ons verstandelike en emosionele vermoëns: verbeelding, rede, geheue, ’n gewete en veral die vermoë om te aanbid—alles dinge wat ons ver bo die diere verhef; en ons moet ook nie vergeet van die plesier wat musiek ons kan verskaf nie. Hierdie en baie ander gawes is blyke van God se liefde vir ons.

4. Watter blyke van God se liefde het mense sedert die oortreding van hulle eerste ouers ervaar?

4 Adam en Eva het ongetwyfeld vele genietinge in hulle volmaakte toestand in die tuin van Eden gehad (Genesis 2:7-9, 22, 23). Maar het God die menseras verstoot toe hulle versuim het om onselfsugtig te reageer op al die bewyse van die goddelike liefde wat hulle geniet het? Glad nie! Hy het onmiddellik voorsiening gemaak om al die onregte wat die gevolg van ons eerste ouers se oortreding is te herstel (Genesis 3:15). Jehovah het ook liefde betoon deur Adam se onvolmaakte nageslag geduldig te verdra (Romeine 5:12). Hoe lank? Nou al sowat 6 000 jaar! God het veral in sy optrede teenoor sy knegte liefde betoon. Hoe waar is die volgende woorde tog nie: “HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe.”—Exodus 34:6, 7.

5. Hoe het Jehovah liefdevol geduld getoon in sy optrede teenoor die nasie Israel?

5 Ja, Jehovah God was inderdaad baie geduldig in sy optrede teenoor die Israeliete, van die tyd dat hy hulle aan die voet van die berg Sinai as ’n nasie voortgebring het tot hulle eiesinnigheid hom verplig het om hulle heeltemal te verstoot. Soos ons in 2 Kronieke 36:15, 16 lees: “Die HERE, die God van hulle vaders, het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad. Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie.” Maar daar was diegene wat onselfsugtig op Jehovah God se liefde gereageer het. Kom ons ondersoek die lewe van sommige van hierdie mense om te sien hoe hulle dit gedoen het. Dit sal die grondslag lê om te toon hoe ons op baie praktiese maniere op Jehovah se liefde kan reageer.

Hoe Moses onselfsugtig gereageer het

6. In watter opsigte het Moses ’n puik voorbeeld gestel, en in watter hoedanighede het hy God se liefde ervaar?

6 Moses is ’n puik voorbeeld van iemand wat onselfsugtig op God se liefde gereageer het. Watter geleenthede kon Moses tog as die aangenome seun van Farao se dogter gehad het! Maar hy het verkies “om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê, en [het] die smaad van Christus groter rykdom geag . . . as die skatte van Egipte” (Hebreërs 11:25, 26). Moses wou vroeër sy broers, die Israeliete, uit slawerny aan die Egiptenare verlos. Maar hulle het nie sy pogings waardeer nie en dit was ook nie God se vasgestelde tyd vir hulle verlossing nie (Handelinge 7:23-29). Weens Moses se geloof en sy onselfsugtige begeerte om sy broers te help, het Jehovah hom egter dekades later in staat gestel om baie wonderwerke te doen en om die Israeliete 40 jaar lank as Sy profeet, regter, wetgewer en middelaar te dien. In hierdie hoedanighede het Moses dikwels Jehovah se liefde vir hom en sy mede-Israeliete ervaar.

7. Hoe het Moses op blyke van God se liefde gereageer?

7 Hoe het Moses op God se liefde en onverdiende goedheid gereageer? Het hy ‘Jehovah se onverdiende goedheid aanvaar en die doel daarvan gemis’? (2 Korinthiërs 6:1, NW). Hoegenaamd nie! Moses het onselfsugtig op Jehovah se liefdeblyke teenoor hom gereageer deur geheel en al God-georiënteerd te wees. Hy het te alle tye op Jehovah vertrou en het ’n intieme verhouding met sy Maker gehad. Watter groot lof het God Moses nie toegeswaai toe hy Aäron en Mirjam bestraf het omdat hulle hul broer gekritiseer het nie! Ja, Jehovah het “mond tot mond” met Moses gespreek en hom “die gedaante van Jehovah” laat aanskou (Numeri 12:6-8, NW). Ten spyte van Moses se talle voorregte was hy steeds ’n baie sagmoedige mens en het hy Jehovah se bevele uitgevoer “net soos die HERE hom beveel het”.—Exodus 40:16; Numeri 12:3.

8. Hoe het Moses getoon dat hy waarlik God-georiënteerd was?

8 Moses het ook getoon dat hy onselfsugtig God-georiënteerd was deur sy gesteldheid op Jehovah se naam, reputasie en reine aanbidding. Moses het dus by twee geleenthede suksesvol by Jehovah gepleit om genade aan Israel te betoon omdat God se naam daarby betrokke was (Exodus 32:11-14; Numeri 14:13-19). Toe die Israeliete by afgodiese kalfaanbidding betrokke geraak het, het Moses ywer vir reine aanbidding betoon deur uit te roep: “Wie vir die HERE is, kom na my toe!” Daarna het Moses en diegene by hom 3 000 van die afgodedienaars tereggestel. Daarna was hy 40 jaar lank geduldig met ’n murmurerende en opstandige volk. Daar is beslis geen twyfel dat Moses onselfsugtig op blyke van God se liefde gereageer het nie, en daardeur het hy ’n goeie voorbeeld gestel vir ons wat vandag leef.—Exodus 32:26-28; Deuteronomium 34:7, 10-12.

Dawid se goeie reaksie

9. (a) Hoe het Dawid op Jehovah God se liefde gereageer? (b) Hoe kan ons, soos Dawid, Jehovah met waardevolle dinge eer?

9 ’n Ander besondere Bybelkarakter wat ’n goeie voorbeeld gestel het deur onselfsugtig op God se liefde te reageer, was die psalmis Dawid, die tweede koning van Israel. Sy ywer vir Jehovah se naam het hom beweeg om teen die uittartende Filistynse reus Goliat te veg, en God het Dawid die oorwinning gegee (1 Samuel 17:45-51). Daardie selfde ywer het Dawid voortgedryf om die verbondsark na Jerusalem te bring (2 Samuel 6:12-19). En was Dawid se begeerte om ’n tempel vir Jehovah te bou nie nog ’n blyk van sy ywer en waardering vir God se liefde en goedheid nie? Natuurlik was dit. Die feit dat hy nie daardie voorreg gegun is nie, het Dawid nie daarvan weerhou om voorbereidsels vir die projek te tref en Jehovah te eer deur self goud, silwer en kosbare stene van groot waarde by te dra nie (2 Samuel 7:1-13; 1 Kronieke 29:2-5). ’n Soortgelyke onselfsugtige reaksie op God se liefde moet ons beweeg om ‘Jehovah met ons waardevolle dinge te eer’ deur ons materiële middele te gebruik om Koninkryksbelange te bevorder.—Spreuke 3:9, 10, NW; Mattheüs 6:33.

10. In watter opsig is Dawid se handelwyse navolgenswaardig?

10 Ofskoon Dawid ernstige foute begaan het, het hy hom sy hele lewe lank onderskei as ‘’n man na Jehovah se hart’ (1 Samuel 13:14, NW; Handelinge 13:22). Sy psalms is vol uitinge van waardering vir God se liefde. The International Standard Bible Encyclopœdia sê dat Dawid “meer van dankbaarheid oorgeloop het as enigiemand anders wat in die Heilige Skrif vermeld word”. Die psalmis Asaf het gesê God “het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. . . . Hy [het] hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart” (Psalm 78:70-72). Ons kan Dawid se handelwyse beslis navolg.

Jesus Christus, ons volmaakte voorbeeld

11, 12. Hoe het Jesus getoon dat hy waarlik God-georiënteerd was?

11 Jesus Christus is natuurlik die beste skriftuurlike voorbeeld van ’n mens wat onselfsugtig op God se liefde gereageer het. Wat het dit Jesus beweeg om te doen? In die eerste plek is hy beweeg om Jehovah uitsluitlike toegewydheid te gee. Dit ly geen twyfel dat Jesus volkome God-georiënteerd was nie. Waardering vir sy hemelse Vader se liefde en goedheid het hom beweeg om ’n waarlik geestelike man te wees. Hy het ’n hegte, intieme verhouding met God gehad. Jesus was ’n man van gebed en hy was lief daarvoor om met sy hemelse Vader te praat. Ons lees herhaaldelik dat Christus gebid het. By een geleentheid het hy ’n hele nag lank gebid (Lukas 3:21, 22; 6:12; 11:1; Johannes 17:1-26). Jesus het op God se liefde gereageer deur die waarheid uit te leef dat ‘die mens nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan’. Trouens, dit was vir hom soos voedsel om sy Vader se wil te doen (Mattheüs 4:4; Johannes 4:34). Moet ons nie op soortgelyke wyse op God se liefde reageer en hom uitsluitlike toegewydheid gee nie?

12 Jesus Christus het onselfsugtig op God se liefde gereageer deur altyd die aandag op sy God en Vader te vestig. Toe iemand Jesus as “Goeie Meester” aangespreek het, het hy beswaar gemaak en gesê: “Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God” (Lukas 18:18, 19). Jesus het by herhaling beklemtoon dat hy niks uit sy eie kon doen nie. Hy het nooit ’n geleentheid laat verbygaan om sy Vader se naam te vergroot nie, en dit was baie gepas dat hy sy modelgebed begin het met die versoek: “Laat u Naam geheilig word.” Hy het gebid: “Vader, verheerlik u Naam!” En kort voor sy dood het Christus vir sy Vader gesê: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring” (Mattheüs 6:9; Johannes 12:28; 17:4). In reaksie op God se liefde moet ons beslis daarna streef om Jehovah te verheerlik en bid dat sy heilige naam geregverdig word.

13. Tot watter optrede het God se liefde Jesus aangespoor?

13 Beskou nou asseblief ’n tweede manier waarop Jesus aangedryf is deur ’n onselfsugtige reaksie op God se liefde. Dit het hom geregtigheid laat liefhê en goddeloosheid laat haat, soos in Psalm 45:8 voorspel is (Hebreërs 1:9). Hy was “lojaal, skuldeloos, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Hebreërs 7:26, NW). Jesus het sy kwaadwillige teenstanders uitgedaag om hom skuldig te verklaar van sonde, maar hulle kon nie (Johannes 8:46). Omdat hy goddeloosheid gehaat het, het hy die tempel by twee geleenthede van hebsugtige godsdiensbeoefenaars gereinig (Mattheüs 21:12, 13; Johannes 2:13-17). En hoe skerp het Jesus nie die geveinsde godsdiensleiers veroordeel deur selfs te sê dat hulle van die Duiwel is nie!—Mattheüs 6:2, 5, 16; 15:7-9; 23:13-32; Johannes 8:44.

14. Hoe het Jesus in reaksie op Jehovah se liefde teenoor sy dissipels opgetree?

14 Nog ’n manier waarop Jehovah se liefde Jesus aangedryf het, blyk uit sy optrede teenoor sy apostels en ander dissipels. Hoe liefdevol, geduldig en lankmoedig was hy tog nie teenoor hulle nie! Hulle moes sy geduld kwaai op die proef gestel het met hulle mededinging—selfs op die aand toe hy verraai is, het hulle nog gestry oor wie die grootste is (Lukas 22:24-27). En tog was Jesus altyd sagmoedig en nederig (Mattheüs 11:28-30). Judas het Jesus weliswaar verraai, Petrus het hom drie keer verloën en die ander apostels het gevlug toe ’n skare gekom het om hom te arresteer. Maar hy het nooit bitter of haatdraend geword nie. Hoe weet ons dit? Wel, toe hy hom na sy opstanding weer by sy apostels aangesluit het, het Jesus hulle nie snydend bestraf omdat hulle voor vrees geswig het nie. Hy het hulle eerder getroos en versterk vir verdere Koninkryksdiens.—Johannes 20:19-23.

15. Hoe het Jesus onselfsugtig in die fisiese behoeftes van mense voorsien?

15 Kom ons beskou nog ’n manier waarop Jesus Christus onselfsugtig op God se liefde gereageer het. Hy het dit gedoen deur hom ten behoewe van ander te offer, selfs tot ’n skandelike en pynlike dood aan ’n folterpaal toe (Filippense 2:5-8, NW). Jesus het in die fisiese behoeftes van mense voorsien deur menigtes wonderdadig te voed en baie genesings te doen (Mattheüs 14:14-22; 15:32-39). Hy het altyd ander se belange voor sy eie gestel. Dit is waarom hy kon sê: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Mattheüs 8:20). Jesus was bewus van die werking van God se gees wanneer dit tydens die wonderdadige genesings uit hom uitgevloei het. Maar hy het nooit materieel probeer munt slaan uit sulke bonatuurlike magte nie, soos toe ’n vrou wat 12 jaar lank ’n bloedvloeiing gehad het sy kleed in geloof aangeraak het en genees is (Markus 5:25-34). Boonop het Jesus nooit bonatuurlike kragte vir homself gebruik nie.—Vergelyk Mattheüs 4:2-4.

16. Op watter maniere het Christus in mense se geestelike behoeftes voorsien?

16 Hoewel Jesus onselfsugtig in die fisiese behoeftes van die mense voorsien het deur hulle kwale te genees en hulle wonderdadig te voed, was die vernaamste dryfkrag in sy aardse bediening om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, mense te onderrig en dissipels te maak. Ten spyte van al die wonderdadige genesings wat hy gedoen het, het hy nie as die Groot Geneesheer of Wonderwerker bekend gestaan nie, maar as die Goeie Meester, of Leraar (Mattheüs 4:23, 24; Markus 10:17, NW). Jesus het na homself verwys as die Meester, en sy dissipels en selfs sy vyande het ook (Mattheüs 22:16; 26:18; Markus 9:38). En watter waarhede het hy tog verkondig, byvoorbeeld in sy Bergpredikasie! (Mattheüs 5:1–7:29). Hoe gepas was sy illustrasies tog en hoe treffend sy profetiese gelykenisse en ander profesieë! Geen wonder dat die soldate wat eenmaal gestuur is om Jesus te arresteer dit nie oor hulle hart kon kry om hom gevange te neem nie!—Johannes 7:45, 46.

17. (a) Hoe het Jesus die volmaakte voorbeeld van liefde vir ons gestel? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

17 Jesus Christus het onteenseglik vir ons die volmaakte voorbeeld gestel deur te toon hoe ons onselfsugtig moet reageer op die liefde wat God aan ons betoon. Jesus het sy hemelse Vader die vernaamste plek in sy lewe en geneentheid gegee. Hy het geregtigheid waarlik liefgehad, het liefdevol teenoor sy apostels en ander dissipels opgetree en het sy lewe daaraan gewy om in die geestelike en materiële behoeftes van mense te voorsien. Uiteindelik het Jesus sy bediening bekroon deur sy lewe as ’n losprys te gee (Mattheüs 20:28). Maar wat van ons? Ons is weliswaar onvolmaak, soos Moses en Dawid was. Maar soos die volgende artikel toon, is daar praktiese maniere waarop ons ons Voorbeeld kan navolg deur onselfsugtig op God se liefdeblyke te reageer.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Waarom kan daar gesê word “God is liefde”?

◻ Hoe het Moses op God se liefdeblyke gereageer?

◻ Op watter maniere het Dawid op Jehovah God se liefde gereageer?

◻ Watter voorbeeld het Jesus Christus gestel deur die manier waarop hy op God se liefde gereageer het?

[Prent op bladsy 10]

Weet jy hoe Moses op God se liefde gereageer het?

[Prente op bladsy 12, 13]

Jesus het op God se liefde gereageer deur ander geestelik en fisies te help en deur sy lewe as ’n losprys te gee

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel