Die twee grootste liefdeblyke van alle tye
“So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo . . . die ewige lewe kan hê.”—JOHANNES 3:16.
1. Wat beteken die woorde “God is liefde”?
“GOD is liefde.” Die apostel Johannes het dit twee keer gesê (1 Johannes 4:8, 16). Ja, Jehovah God is liefdevol nie bloot soos wat hy wys, regverdig en magtig is nie; hy IS liefde. Hy is die beliggaming, die verpersoonliking, van liefde. Jy kan jou afvra: ‘Weet ek waarom dit so is? Kan ek vir iemand ’n duidelike uiteensetting met stawende bewyse of voorbeelde gee dat Hy liefde is? En hoe raak dit my lewe en bedrywighede?’
2. Watter sigbare blyke het God van sy liefde gegee?
2 Watter groot liefde het Jehovah God tog nie teenoor sy menseskepsele op die aarde getoon nie! Dink aan die absolute prag en funksie van ons oë, die wonder van ons sterk gebeente, die krag van ons spiere en die sensitiwiteit van ons tassin. Ons het rede om soos die psalmis te voel: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is.” Dink ook aan die majestueuse berge, die rustige spruitjies helder water, die velde vol lenteblomme en die pragtige sonsondergange. “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u [skeppingswerke]!”—Psalm 139:14; 104:24, vgl. NW.
3, 4. Watter voorbeelde bevat die Hebreeuse Skrifte van God se liefdeblyke?
3 Die blyke van God se liefde het nie opgehou toe sy eerste menseskepsele in opstand gekom het nie. Jehovah het byvoorbeeld liefde getoon deur toe te laat dat daardie egpaar nakomelinge voortbring wat by Jehovah se voorsiening deur sy beloofde “saad” baat kon vind (Genesis 3:15). Later het hy gesorg dat Noag ’n ark bou vir die bewaring van die mensdom en ander aardse skepsele (Genesis 6:13-21). Toe het hy groot liefde betoon aan Abraham, wat Jehovah se vriend genoem is (Genesis 18:19; Jesaja 41:8). God het nog ’n blyk van sy liefde gegee toe hy Abraham se afstammelinge uit Egiptiese slawerny verlos het, en ons lees hiervan in Deuteronomium 7:8: “Omdat die HERE julle liefgehad . . . het, het die HERE julle met ’n sterke hand uitgelei.”
4 Hoewel die Israeliete aanhoudend ondankbaar was en herhaaldelik gerebelleer het, het God hulle nie dadelik verwerp nie. Hy het eerder liefdevol by hulle aangedring: “Bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?” (Esegiël 33:11). Maar al is Jehovah die verpersoonliking van liefde, is hy ook regverdig en wys. Die tyd het dus aangebreek dat sy opstandige volk sy lankmoedigheid tot die uiterste beproef het! Hulle het die stadium bereik waar “daar geen genesing meer was nie”, en daarom het hy hulle in Babiloniese gevangenskap laat wegvoer (2 Kronieke 36:15, 16). Selfs toe het God se liefde nie vir altyd opgehou nie. Hy het toegesien dat ’n oorblyfsel ná 70 jaar toegelaat is om na hulle geboorteland terug te keer. Lees asseblief Psalm 126 en kyk hoe die terugkerendes daaroor gevoel het.
Voorbereiding vir Sy grootste liefdeblyk
5. Waarom kan daar gesê word dat dit ’n blyk van God se liefde was dat hy sy Seun aarde toe gestuur het?
5 Later in die geskiedenis het die tyd aangebreek vir Jehovah om die grootste blyk van sy liefde te gee. Dit was waarlik opofferende liefde. Ter voorbereiding hiervan het God die lewe van sy eniggebore Seun van ’n geestebestaan in die hemel na die moederskoot van die Joodse maagd Maria oorgeplaas (Mattheüs 1:20-23; Lukas 1:26-35). Stel jou voor watter besondere gehegtheid daar tussen Jehovah en sy Seun bestaan het. Ons lees van Jesus se voormenslike bestaan onder die simbool van verpersoonlikte wysheid: “Ek was as ’n meesterwerker naas [God], en ek was die een op wie hy dag vir dag besonder gesteld was, terwyl ek te alle tye vrolik was voor sy aangesig” (Spreuke 8:30, 31, NW). Stem jy nie saam dat dit vir Jehovah op sigself ’n opoffering was toe Sy eniggebore Seun Sy teenwoordigheid verlaat het nie?
6. Watter vaderlike belangstelling moes Jehovah in Jesus se vroeë lewe getoon het?
6 Jehovah het sonder twyfel die ontwikkeling van sy seun van mense-ontvangenis af met lewendige en groot belangstelling dopgehou. God se heilige gees het Maria oorskadu sodat niks die groeiende embrio kon beskadig nie. Jehovah het toegesien dat Josef en Maria vir die volkstelling na Betlehem gaan sodat Jesus, ter vervulling van Miga 5:1, daar gebore sou word. Deur ’n engel het God Josef gewaarsku teen koning Herodes se moorddadige plan, en dit het Josef en sy gesin na Egipte laat vlug om tot Herodes se dood daar te bly (Mattheüs 2:13-15). God moes sy belangstelling in Jesus se vordering voortgesit het. Watter vreugde was dit tog vir God om te sien hoe die twaalfjarige Jesus die leraars en ander in die tempel met vrae en antwoorde verbaas!—Lukas 2:42-47.
7. Watter drie uitinge het bewys gelewer van God se belangstelling in Jesus se bediening?
7 Agttien jaar later het Jehovah toegekyk toe Jesus na Johannes die Doper gegaan het om gedoop te word. Toe het hy met vreugde sy heilige gees op Jesus uitgestort en gesê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Mattheüs 3:17). Enige Christenvader kan hom voorstel hoe aangenaam dit vir God moes gewees het om Jesus se bediening te volg en te sien hoe hy alle eer aan sy hemelse Vader gee. By een geleentheid het Jesus party van die apostels op ’n hoë berg geneem. Daar het Jehovah Christus met bonatuurlike heerlikheid laat skyn, en die Vader het gesê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. Luister na Hom!” (Mattheüs 17:5). Jehovah het sy stem ’n derde keer laat hoor in antwoord op Jesus se versoek aan God om Sy naam te verheerlik. Jehovah het gesê: “Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Dit is blykbaar hoofsaaklik vir Jesus se onthalwe gesê, want party by hom het gedink dat ’n engel gespreek het terwyl ander gedink het dat dit gedonder het.—Johannes 12:28, 29.
8. Hoe voel jy oor God se liefde?
8 Tot watter slotsom het jy gekom na hierdie kort hersiening van God se handelwyse teenoor sy Seun en sy belangstelling in hom? Dit behoort duidelik te wees dat Jehovah sy eniggebore Seun innig liefhet. Gedagtig hieraan en terwyl ons besef hoe feitlik enige menseouer oor ’n enigste kind voel, kyk ons na wat volgende plaasgevind het—Jesus se offerdood.
Die grootste liefdeblyk
9, 10. Wat was God se grootste liefdeblyk teenoor die mensdom, en watter Skriftuurlike getuienis word daardeur onderstreep?
9 Die Bybel toon dat ons hemelse Vader empatie het. In Jesaja 63:9 lees ons in verband met sy volk Israel: “In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.” Hoeveel ontstellender moes dit tog vir Jehovah gewees het om Jesus se “sterk geroep en trane” te hoor en te sien (Hebreërs 5:7). Dit is hoe Jesus in die tuin van Getsemane gebid het. Hy is gevange geneem, het ’n skynverhoor ondergaan, is geslaan en gegesel, en ’n doringkroon is op sy hoof gedruk. Onthou dat sy liefdevolle Vader dit alles aanskou het. Hy het ook gesien hoe Jesus onder die gewig van die folterpaal gestruikel het en toegekyk toe sy Seun eindelik aan daardie paal genael is. Laat ons nie vergeet dat God hierdie lyding van sy geliefde Seun kon voorkom het nie. Maar Jehovah het toegelaat dat Jesus soveel ly. Aangesien God gevoelens het, het die aanskouing van hierdie gebeure ongetwyfeld vir hom die grootste leed veroorsaak wat hy ooit ervaar het of sal ervaar.
10 In die lig van die voorgaande kan ons sien hoe sinryk Jesus se woorde aan Nikodemus is: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die woorde van Johannes, Jesus se geliefde apostel, is ewe belangrik: “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het . . . as ’n versoening vir ons sondes.”—1 Johannes 4:9, 10.
11. Hoe beklemtoon die apostel Paulus God se grootste liefdeblyk?
11 Jy kan dan begryp waarom die apostel Paulus in Romeine 5:6-8 Jehovah God se groot liefde beklemtoon het met die woorde: “Toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. Want nouliks sal iemand vir ’n regverdige sterwe—vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe—maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Jehovah God het beslis die grootste liefdeblyk gegee toe hy sy eniggebore Seun aarde toe laat kom, laat ly en ’n uiters smadelike dood laat sterf het.
Die naas grootste blyk
12, 13. (a) In watter opsig was Jesus se liefdeblyk uniek? (b) Hoe vestig Paulus die aandag op Jesus se groot liefde?
12 ‘Wat’, vra jy dalk, ‘is die naas grootste liefdeblyk?’ Jesus Christus het gesê: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:13). Daar was deur die mensegeskiedenis heen weliswaar sommige wat hulle lewe vir ander opgeoffer het. Maar hulle lewe was slegs ’n beperkte lewe; hulle sou in elk geval vroeër of later gesterf het. Jesus Christus was egter ’n volmaakte mens met die reg op lewe. Hy was nie aan erfdood onderhewig soos die geval met die res van die mensdom was en is nie; en niemand kon Jesus se lewe met geweld geneem het as hy dit nie toegelaat het nie (Johannes 10:18; Hebreërs 7:26). Onthou sy woorde: “Dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?”—Mattheüs 26:53; Johannes 10:17, 18.
13 Ons kan die liefde wat Jesus se optrede geverg het beter begryp as ons na die volgende aspek kyk: Hy het ’n wonderlike bestaan as ’n geesskepsel in die hemele verlaat, waar hy as die intieme metgesel en medewerker van die universele Soewerein en Koning van die ewigheid gewoon het. Maar uit onselfsugtige liefde het Jesus gedoen soos die apostel Paulus vir ons sê: “Hoewel hy in God se gedaante bestaan het, [het hy] geen gewelddadige inbesitneming oorweeg nie, naamlik om aan God gelyk te wees. Nee, maar hy het homself ontledig en die gedaante van ’n slaaf aangeneem en het aan die mense gelyk geword. Meer nog, toe hy hom in die hoedanigheid van ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal.”—Filippense 2:6-8, NW.
14. Hoe het die profeet Jesaja van die groot blyk van Jesus se liefde getuig?
14 Was dit nie ’n blyk van liefde nie? Dit was beslis—slegs oortref deur dié van Jehovah God, sy hemelse Vader. Die profetiese woorde van Jesaja hoofstuk 53 getuig van alles wat Jesus verduur het: “Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid . . . Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel . . . en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. . . . Hy [het] sy siel uitgestort . . . in die dood.”—Jesaja 53:3-5, 12.
15, 16. Watter woorde van Jesus toon dat dit vir hom ’n opoffering was?
15 As gevolg van alles wat sy dood behels het, het Jesus in die tuin van Getsemane gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Mattheüs 26:39). Wat het Jesus gevra toe hy daardie woorde geuiter het? Het hy gevra om verskoon te word sodat hy nie “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” hoef te wees nie? (Johannes 1:29). Dit kon nie dit beteken het nie, want Jesus het aldeur vir sy dissipels gesê dat hy sou ly en sterf, en hy het selfs aangedui watter soort dood hy sou sterf (Mattheüs 16:21; Johannes 3:14). Jesus moes dus iets anders in gedagte gehad het toe hy so gebid het.
16 Jesus was ongetwyfeld besorg oor die aantyging van laster wat hy besef het teen hom ingebring sou word, die allerergste misdaad waaraan ’n Jood hom skuldig kon maak. Waarom was hy besorg oor ’n valse aantyging? Omdat sy dood onder daardie omstandighede sy hemelse Vader oneer sou aandoen. Ja, die vlekkelose Seun van God, wat geregtigheid so liefgehad en ongeregtigheid so gehaat het en wat aarde toe gekom het om sy Vader se naam te verheerlik, sou deur God se eie volk as ’n lasteraar van Jehovah God om die lewe gebring word.—Hebreërs 1:9; Johannes 17:4.
17. Waarom was die soort dood wat vir Jesus voorgelê het vir hom so ’n beproewing?
17 Vroeër in sy bediening het Jesus gesê: “Ek het ’n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!” (Lukas 12:50). Dit was nou die klimaks van hierdie doop. Dit is blykbaar waarom sy sweet soos bloeddruppels geword het toe hy gebid het (Lukas 22:44). Daar het boonop daardie nag ’n ontsaglike verantwoordelikheid op sy skouers gerus, ’n verantwoordelikheid wat ons verstand te bowe gaan. Hy het geweet dat hy getrou sou moes bly, want wat ’n klap in Jehovah se gesig sou dit tog nie gewees het as hy gefaal het nie! Satan sou gesê het dat hy reg was en Jehovah God verkeerd. Maar wat ’n klap in Satan die Duiwel se gesig was dit tog nie toe Jesus tot die dood toe getrou gebly het nie! Daardeur het hy bewys dat Satan ’n lae, afstootlike en monsteragtige leuenaar is.—Spreuke 27:11.
18. Waarom het Jesus daardie nag onder groot druk verkeer?
18 Jehovah God het soveel vertroue in sy Seun se lojaliteit gehad dat hy voorspel het dat Jesus getrou sou bly (Jesaja 53:9-12). Maar Jesus het nogtans geweet dat die verantwoordelikheid om sy onkreukbaarheid te handhaaf op hom gerus het. Hy kon gefaal het. Hy kon gesondig het (Lukas 12:50). Sy eie ewige lewe en dié van die hele mensdom het daardie nag op die spel gestaan. Onder watter verskriklike druk moes hy tog verkeer het! As Jesus verswak en gesondig het, sou hy nie, soos ons as onvolmaakte skepsele, op grond van ’n ander se offer om genade kon gevra het nie.
19. Wat het Jesus deur sy onselfsugtige weg bereik?
19 Jesus se volharding op 14 Nisan 33 G.J. was gewis die grootste blyk van onselfsugtige liefde wat enige mens nog ooit gegee het, een wat slegs deur dié van Jehovah God oortref is. En watter wonderlike dinge het hy tog nie deur sy dood vir ons bewerkstellig nie! Deur sy dood het hy “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”, geword (Johannes 1:29). Hy het die weg geopen vir 144 000 van sy volgelinge om konings en priesters te wees en duisend jaar lank saam met hom te heers (Openbaring 20:4, 6). Daarbenewens vind die “groot menigte” “ander skape” vandag by Christus se offer baat en kan hulle hoop om die einde van hierdie ou stelsel te oorleef. Hulle sal die eerstes wees wat die seëninge van ’n aardse paradys geniet. Daar sal ook ongetwyfeld duisendmiljoene van die mensdom wees wat opgewek sal word as gevolg van wat Jesus gedoen het. Hulle sal ook die geleentheid hê om eindelose lewe in die aardse Paradys te geniet (Openbaring 7:9-14; Johannes 10:16; 5:28, 29). Waarlik, “hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom [dit wil sê, in Jesus Christus] is hulle ja”.—2 Korinthiërs 1:20.
20. Hoe moet ons op die twee grootste liefdeblyke van Jehovah God en Jesus Christus reageer?
20 Dit is beslis uiters gepas dat ons ons waardering toon vir alles wat Jehovah God en Jesus Christus vir ons gedoen het deur vir ons hierdie allergrootste liefdeblyke te gee. Ons skuld hulle sulke waardering, en as ons ten volle by die liefdeblyke wil baat vind, moet ons sulke waardering toon. Die volgende artikel sal enkele van die allerbeste maniere bespreek waarop ons dit kan doen.
Onthou jy?
◻ Watter blyke van God se liefde kan die hele mensdom sien?
◻ Hoe weet ons dat Jehovah gely het toe hy sy Seun sien ly het?
◻ Hoe het Jesus se dood ten behoewe van mense verskil van dié van ander wat hulle lewe opgeoffer het?
◻ Hoe moet die liefde wat Jehovah en Jesus teenoor ons betoon ons raak?