Toon altyd liefde en geloof
“Hy wat in die liefde bly, bly in God.” “En dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.”—1 JOHANNES 4:16; 5:4.
1, 2. Watter hoedanighede word veral in 1 Johannes 4:7-5:21 beklemtoon?
JEHOVAH is die verpersoonliking van liefde, en diegene wat hom wil behaag, moet hierdie goddelike hoedanigheid openbaar. Die apostel Johannes stel dit duidelik in die laaste deel van sy eerste geïnspireerde brief.
2 Ware Christene moet altyd geloof toon. Slegs dan kan hulle die wêreld oorwin en veilig in Jehovah se guns bly. Laat ons dan, terwyl ons die laaste deel van Johannes se brief bestudeer, die belangrikheid om liefde en geloof te toon biddend beskou.
“Laat ons mekaar liefhê”
3, 4. Watter verband is daar tussen die betoning van liefde en die feit dat ons God ken?
3 Johannes benadruk die belangrikheid van liefde. (Lees 1 Johannes 4:7, 8, vgl. NW.) ‘Christengeliefdes’ word aangespoor om voort te gaan om ‘mekaar lief te hê, want die liefde is uit God’, aangesien Jehovah die Bron daarvan is. “Elkeen wat liefhet, is uit God gebore [as ’n geesverwekte individu] en ken God”, daar hy vertroud is met Jehovah se hoedanighede en voornemens, en hoe hy liefde bewys. Vandag het die “groot menigte” van Christus se “ander skape” ook hierdie ‘kennis van God’ verkry.
4 Om God te ken, beteken om sy hoedanighede werklik te waardeer, hom volkome lief te hê en aan hom as ons Soewerein getrou te bly. Maar “hy wat nie liefhet nie, het God nie [leer ken] nie”. Diegene wat nie Christelike liefde openbaar nie, “het God nie [leer ken] nie, want God is liefde”. Ja, liefde is Jehovah se oorheersende hoedanigheid, duidelik te sien in sy geestelike en stoflike voorsienings vir die mensdom.
5. Wat is die grootste bewys dat ‘God liefde is’?
5 Die grootste bewys dat ‘God liefde is’, word vervolgens aangehaal. (Lees 1 Johannes 4:9, 10.) Johannes sê: “Hierin is die liefde van God tot ons [as sondaars wat die dood verdien] geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.” Jesus is Jehovah se “eniggebore Seun” daar hy God se enigste regstreekse skepping was (Johannes 1:1-3, 14; Kolossense 1:13-16). En Jesus is “in die wêreld gestuur” deur ’n mens te word, in die openbaar sy bediening te vervul en toe ’n offerdood te sterf (Johannes 11:27; 12:46). Geloof in die verdienste van sy losprysoffer is nodig om “deur Hom” die ewige lewe te verkry, hetsy in die hemel of op die aarde.
6. Wat het God gedoen toe ons nog sondaars was wat hom nie liefgehad het nie?
6 Ons was nog sondaars wat God nie liefgehad het nie toe Hy “ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes”. Christus se offer het dit vir ons moontlik gemaak om weer ’n goeie verhouding met God te verkry (Romeine 3:24, 25; Hebreërs 2:17). Waardeer jy hierdie allergrootste betoning van onverdiende liefde aan die kant van ons hemelse Vader?
7. (a) Hoe kan ons toon dat ons Jehovah liefhet, aangesien ons nie kan sê dat ons hom liefhet omdat ons hom gesien het nie? (b) Wat bewys dit as ons broederliefde toon?
7 God se liefde vir ons moet ons gesindheid teenoor ander raak. (Lees 1 Johannes 4:11-13.) Aangesien hy ons liefgehad het terwyl ons nog sondaars was, “behoort ons ook mekaar lief te hê”. Geen mens “het God ooit aanskou nie”. Ons kan dus nie sê dat ons Jehovah liefhet omdat ons hom gesien het nie (Exodus 33:20; Johannes 1:18; 4:24). Deur liefde te openbaar, toon ons egter dat ons die Bron van hierdie hoedanigheid liefhet. Ons broederliefde bewys dat ‘God in ons bly en dat sy liefde in ons volmaak geword’ of tot volle uiting gekom het. En ons weet dat ‘ons in eendrag met’ Jehovah bly, omdat “Hy ons van sy Gees gegee het”. Ons betoning van broederliefde bewys dat Jehovah se gees op ons inwerk, want liefde is een van die vrugte daarvan (Galasiërs 5:22). Dit toon dat ons God ken en sy goedkeuring geniet.
8. Watter bykomende bewys is daar dat ons ‘in eendrag met God’ is?
8 Daar is bykomende bewys dat ons ‘in eendrag met God’ is. (Lees 1 Johannes 4:14-16a, vgl. NW.) Omdat hy “aanskou” het wat Jesus op aarde gedoen het en hoe hy ten behoewe van die mensdom gely het, kon Johannes ‘getuig dat die Vader Sy Seun gestuur het as Verlosser van die wêreld’ van sondige mense (Johannes 4:42; 12:47). Daarbenewens ‘bly God in eendrag met ons en ons met hom’ as ons hartgrondig bely dat Jesus Christus sy Seun is. Dit vereis dat ons geloof beoefen en in die openbaar getuig dat Jesus die Seun van God is (Johannes 3:36; Romeine 10:10). Ons vertroue in “die liefde wat God tot ons het”, verskaf verdere bewys dat ons in eendrag met Jehovah is, hetsy ons van die gesalfde oorblyfsel of van die “ander skape” is.
9. (a) In watter opsig kan liefde vir God “volmaak” word, en hoe sal dit ons verhouding met ander raak? (b) Wat word deur ‘volmaakte’ liefde bevorder?
9 Johannes toon vervolgens dat liefde “volmaak” gemaak kan word. (Lees 1 Johannes 4:16b, 17.) Ons word daaraan herinner: “God is liefde.” Omdat ons ‘in die liefde bly’ deur hierdie vrug van Jehovah se gees te openbaar, ‘bly ons in eendrag met God’. As liefde vir Jehovah “by ons volmaak geword” het, daar dit ten volle teenoor hom getoon word, sal ons ons medegelowiges liefhê. (Vergelyk vers 12.) ‘Volmaakte’ liefde bevorder ook “vrymoedigheid” teenoor God in gebed nou en “in die oordeelsdag” wat met Jesus se teenwoordigheid geassosieer word. Diegene wat sulke liefde betoon, sal dan geen rede hê om te vrees dat God se oordeel ongunstig sal wees nie. As ons liefde bewys, kan daar in daardie opsig van ons gesê word: “Soos Hy [Jesus] is, is ons ook in hierdie wêreld.” Ja, ons is soos hy, aangesien ons as God se kinders in hierdie mensewêreld wat van God vervreemd is guns geniet.
10. Wat word nie ondervind deur diegene by wie die liefde “volmaak” geword het nie?
10 Persone by wie die liefde “volmaak” geword het, ervaar nie vrees wat gebed strem nie. (Lees 1 Johannes 4:18, 19, vgl. NW.) “Vrees lê ’n beperking op” wat ons sou verhinder om Jehovah vrylik te nader. As ons dus sulke vrees ondervind, ‘het ons nie volmaak geword in die liefde nie’. Maar as ons ‘in die liefde volmaak geword het’, vul hierdie hoedanigheid ons harte, dryf dit ons aan om die goddelike wil te doen en beweeg dit ons om in gebed na aan ons hemelse Vader te bly. Ons het beslis rede om Jehovah lief te hê en tot hom te bid, want soos Johannes sê: ‘Ons het lief, omdat God ons eerste liefgehad het.’
11. Waarom is dit redelik dat ons die gebod gehoorsaam: ‘Hy wat God liefhet, moet ook sy broeder liefhê’?
11 Dit is natuurlik nie genoeg om net te sê dat ons God liefhet nie. (Lees 1 Johannes 4:20, 21.) Enigiemand wat sê: “Ek het God lief”, terwyl hy sy geestelike broer haat, ‘is ’n leuenaar’. Aangesien ons ons broer kan sien en sy goddelike eienskappe kan waarneem, behoort dit makliker te wees om aan hom liefde te betoon as om ’n onsigbare God lief te hê. Waarlik, “wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?” Dit is derhalwe redelik dat ons hierdie “gebod” gehoorsaam: ‘Hy wat God liefhet, moet ook sy broeder liefhê.’
Wie oorwin die wêreld?
12. Watter ander liefde word daar van ons verwag, aangesien ons God liefhet?
12 Johannes toon vervolgens wat dit werklik beteken om God lief te hê. (Lees 1 Johannes 5:1-5.) Die apostel wys eerstens daarop dat “elkeen wat glo dat Jesus die Christus” (die Messias, of Jehovah se Gesalfde) is “uit God gebore” is, of deur Jehovah deur die gees verwek is. Daarbenewens het elkeen wat die Verwekker, Jehovah, liefhet, enigiemand anders lief wat “uit Hom gebore is”. Ja, al God se gesalfde kinders het hom lief en daar word van hulle verwag om mekaar lief te hê. Sulke broederliefde is ook kenmerkend van die “groot menigte” “ander skape” wat aardse verwagtinge het.—Johannes 10:16; Openbaring 7:9.
13. (a) Waarom is God se gebooie nie vir ons “swaar” nie? (b) Hoe ‘oorwin ons die wêreld’?
13 ‘Ons weet dat ons die kinders van God liefhet wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar’. Trouens, ‘die liefde tot God beteken dat ons sy gebooie bewaar.’ Aangesien ons God en geregtigheid liefhet, is ons bly om sy gebooie te bewaar. Johannes sê dat hulle nie vir ons “swaar” is nie, “want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld”. “Alles” kan dui op Godgegewe krag om ‘die wêreld te oorwin’, of te seëvier oor die onregverdige mensegemeenskap met sy verlokkinge om Jehovah se gebooie te verbreek (Johannes 16:33). “Die oorwinning wat die wêreld oorwin het”, is “ons geloof” in God, sy Woord en sy Seun. As ons “glo dat Jesus die Seun van God is”, ‘oorwin ons die wêreld’ deur die verkeerde denke en onsedelike weë daarvan te verwerp en deur God se gebooie te bewaar.
14. (a) Hoe het Jesus “deur water” gekom? (b) Hoe is daar deur “die bloed” getoon dat Christus God se Seun is? (c) Hoe het die heilige gees aangaande Jesus Christus “getuig”?
14 Aangesien geloof in Jesus so belangrik is vir ons om ‘wêreldoorwinnaars’ te wees, haal Johannes getuienis aan wat “drie wat getuig” oor Christus gegee het. (Lees 1 Johannes 5:6-8, vgl. NW.) Johannes sê eerstens dat Jesus “deur water” gekom het. Toe Jesus in water gedoop is om te simboliseer dat hy homself aan God aanbied, het Jehovah gesê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Mattheüs 3:17). Daar is ook getoon dat Christus die Seun van God is deur “die bloed” wat hy by sy dood as ’n losprys uitgestort het (1 Timotheüs 2:5, 6). Daarbenewens sê Johannes: “Dit is die [Heilige] Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid.” Toe die gees by Jesus se doop op hom neergedaal het, het dit bewys dat hy God se Seun is (Mattheüs 3:16; Johannes 1:29-34). Jehovah se gees het Jesus in staat gestel om sy taak te vervul en kragtige werke te verrig (Johannes 10:37, 38; Handelinge 10:38). Deur die gees het God buitengewone duisternis, ’n aardbewing en die skeuring van die tempelgordyn veroorsaak toe Jesus gesterf het, en toe het God hom deur dieselfde gees opgewek.—Mattheüs 27:45-54.
15. Wat is die “drie wat getuig”?
15 Daar is derhalwe “drie wat getuig” van die feit dat Jesus die Seun van God is. Daar is (1) die heilige gees, (2) die water van Jesus se doop en wat dit beteken het (die aanbieding van homself aan Jehovah) en (3) die bloed wat hy as ’n losprys in die dood uitgestort het. Hierdie drie “is eenstemmig” in hulle getuienis dat Jesus God se Seun is in wie ons ware geloof moet hê as ons die ewige lewe wil ontvang.—Vergelyk Deuteronomium 19:15.
Getuienis van God
16. Hoe het Jehovah aangaande Jesus getuig?
16 God self het van sy Seun getuig. (Lees 1 Johannes 5:9-12.) “As ons die getuienis van die [onvolmaakte] mense [as die waarheid] aanneem [soos ons gewoonlik in gesprekke en in die hof doen]—die getuienis van God is groter” (Johannes 8:17, 18). Aangesien ‘God nie kan lieg nie’, kan ons volle vertroue hê in “wat Hy aangaande sy Seun getuig het”. En Jehovah het gesê dat Jesus Christus sy Seun is (Titus 1:2; Mattheüs 3:17; 17:5). Daarbenewens was God agter die “drie wat getuig”, dit wil sê, Sy heilige gees, die water van Jesus se doop en Christus se vergote bloed.
17. Wat is die enigste manier waarop redding moontlik is?
17 “Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself”, want al die getuienis oortuig hom daarvan dat Jesus God se Seun is. Maar “hy wat God” as ’n betroubare getuie aangaande Sy Seun “nie glo nie”, laat dit lyk of Jehovah ’n leuenaar is. Die getuienis wat gegee is, kom natuurlik daarop neer “dat God ons die ewige lewe gegee het, en die lewe is in sy Seun”. Slegs deur geloof in Jesus as God se Seun is redding tot die ewige lewe moontlik (Johannes 11:25, 26; 14:6; 17:1-3). “Hy wat die Seun het” deur in hom te glo, het derhalwe die ewige lewe as onverdiende gawe (Johannes 20:31). Maar enigiemand wat nie geloof in Jesus as God se Seun het nie, sal nie “die lewe” geniet nie.
Gebed het krag!
18. Waarom het Johannes hierdie dinge geskryf?
18 Johannes verstrek vervolgens die onderliggende doel van sy brief en bespreek gebed. (Lees 1 Johannes 5:13-15.) Hy het hierdie dinge geskryf sodat ons ‘kan weet dat ons die ewige lewe het’. Dit is ons oortuiging as diegene wat geloof in die “Naam” van God se Seun stel. (Vergelyk 1 Johannes 3:23.) En afvalliges, wat nie van ons is nie, kan nie daardie geloof vernietig nie.—1 Johannes 2:18, 19.
19. (a) Watter “vrymoedigheid” het ons teenoor God, volgens 1 Johannes 5:14, 15? (b) Wat is party dinge waarvoor ons gepas kan bid?
19 Ons het die “vertroue” of “die vrymoedigheid” teenoor God “dat Hy ons verhoor”, ongeag wat ons in gebed “volgens sy wil” vra. Ons bid gepas vir dinge soos die heiligmaking van Jehovah se naam, sy heilige gees, goddelike wysheid en verlossing van die Bose (Mattheüs 6:9, 13; Lukas 11:13; Jakobus 1:5-8). En ons weet dat “ons die bedes verkry wat ons van Hom”, die “Hoorder van die gebed”, gevra het.—Psalm 65:3.
20, 21. (a) Wat is “’n sonde wat nie tot die dood is nie”? (b) Waarom is dit verkeerd om ten opsigte van “’n sonde tot die dood” te bid?
20 Johannes praat daarna van gebed en twee soorte sonde. (Lees 1 Johannes 5:16, 17.) “’n Sonde wat nie tot die dood is nie”, is nie opsetlik nie en dit sou nie verkeerd wees om te bid dat die berouvolle oortreder vergewe moet word nie (Handelinge 2:36-38; 3:19; Jakobus 5:13-18). Maar dit sou verkeerd wees om ten opsigte van “’n sonde tot die dood” te bid, aangesien dit opsetlike sonde teen die heilige gees is waarvoor vergifnis onmoontlik is (Mattheüs 12:22-32; Hebreërs 6:4-6; 10:26-31). Sulke sondaars gaan na Gehenna, waar hulle ewige vernietiging in “die tweede dood” ondergaan (Openbaring 21:8; Mattheüs 23:15). Hoewel Jehovah dus die finale Regter is, waag ons dit nie om ons sy misnoeë op die hals te haal deur vir ’n sondaar te bid wanneer die getuienis daarop dui dat hy skuldig is aan opsetlike “sonde tot die dood” nie.
21 “As iemand [veral ’n geesgesalfde ouere man] sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood [“die tweede dood”] is nie, moet hy bid, en [God] sal [die sondaar] die lewe gee” en hom van ewige vernietiging red. Dit spreek vanself dat ‘alle ongeregtigheid sonde is’, daar dit nie aan God se regverdige standaarde voldoen nie. Maar “daar is ’n sonde wat nie tot die dood is nie”, want dit is die gevolg van ons onvolmaaktheid, ons is berouvol en die sonde word deur Christus se offerande gedek.
Hoogtepunte van Johannes se brief
22. Wie kry “geen vat” op ’n lojale Christen nie, en waarvoor kan so ’n persoon met vertroue bid?
22 Johannes som nou basiese gedagtes in sy brief op. (Lees 1 Johannes 5:18-21, vgl. NW.) Elkeen wat as ’n geesgesalfde Christen “uit God gebore is”, beoefen nie sonde nie. Jesus Christus, wat deur die heilige gees “uit God gebore is”, waak oor hom “en die Bose [Satan] het geen vat op hom nie”. So ’n lojale gesalfde Christen kan met vertroue om verlossing van die Bose bid en kan, met “die skild van die geloof”, geestelike skade weens Satan se “vurige pyle” vryspring.—Mattheüs 6:13; Efesiërs 6:16.
23. Hoe ‘lê die hele wêreld in die mag van die Bose’?
23 Omdat gesalfdes bewys het dat hulle geestelike seuns van Jehovah is, kan hulle sê: “Ons weet dat ons uit God is.” Die feit dat hulle geloof in Christus het en nie sonde beoefen nie, bewys dat hulle God se kinders is op wie Satan “geen vat” kon kry nie. Maar ‘die hele wêreld [onregverdige mensegemeenskap] lê in die mag van die Bose’, Satan die Duiwel (Efesiërs 2:1, 2; Openbaring 12:9). Die wêreld swig voor Satan se goddelose invloed en oorheersing en wend geen poging aan om los te breek ten einde die goddelike wil te doen nie.
24. Waarom het Jesus “ons verstand gegee”?
24 Sekere valse leraars het aangevoer dat Christus nie in die vlees gekom het nie (2 Johannes 7). Maar bewyse wat in hierdie brief bygebring is, stel Johannes in staat om te sê: “Ons weet dat die Seun van God gekom het” (1 Johannes 1:1-4; 5:5-8). Daarbenewens het Jesus “ons verstand gegee”, of “geestelike insig”, om “die Waaragtige te ken”, ’n progressiewe begrip van God te verkry (Mattheüs 11:27). ‘Ons is dus in eendrag met die Waaragtige [Jehovah God], deur middel van sy Seun, Jesus Christus.’—Vergelyk Johannes 17:20, 21, vgl. NW.
25. Hoe kan ons as Christene die raad in 1 Johannes 5:21 toepas?
25 Diegene wat in eendrag is met die ware God, Jehovah, hetsy hulle van die gesalfde oorblyfsel of van die “ander skape” is, wil hom in elke opsig behaag. Maar versoekings om ’n mens aan afgodediens skuldig te maak, het in die eerste eeu bestaan, net soos dit vandag bestaan. Johannes het dus sy brief gepas met die vaderlike raad afgesluit: “My kinders, bewaar julleself van die afgode.” As Christene buig ons ons nie voor beelde neer nie (Exodus 20:4-6). Ons weet ook dat dit verkeerd sou wees om onsself, genot of enigiets anders in God se plek te stel (2 Timotheüs 3:1, 2, 4). En ons toewyding aan hom skakel enige aanbidding van die politieke “dier” en sy “beeld” van ons kant uit (Openbaring 13:14-18; 14:9-12). Met die oog daarop om ons hemelse Vader te behaag en die ewige lewe as gawe van hom te ontvang, moet ons dus vasbeslote wees in ons voorneme om alle afgodediens te vermy en nooit toe te laat dat dit ons kosbare verhouding met Jehovah deur Jesus Christus vernietig nie.
Daar is altyd hulp vir ons
26. Wat is sommige opmerkenswaardige gedagtes van Eerste Johannes?
26 Johannes se eerste geïnspireerde brief het vroeë Christene gehelp om afgodediens te vermy. Dit het hulle gehelp om die leuens van afvalliges die hoof te bied, en dit bereik ’n soortgelyke doel vandag. Dit bewys byvoorbeeld dat Jesus Christus as ’n mens gelewe en as “’n versoening” vir ons sondes gesterf het. Die brief identifiseer “die Antichris” en onderskei tussen die kinders van God en dié van die Duiwel. Dit toon hoe “geïnspireerde uitinge” op die proef gestel kan word om vas te stel of dit van Jehovah kom. Johannes se woorde oortuig ons boonop daarvan dat ‘God liefde is’, dat ware geloof die wêreld oorwin en dat Jehovah die gebede van sy lojale getuies verhoor.
27. In watter opsigte kan Johannes se eerste goddelik geïnspireerde brief ons help?
27 Hoe verstandig is dit tog, met die oog op wêreldse versoekings, om Johannes se waarskuwing teen liefde vir die wêreld in gedagte te hou! As persoonlike verskille ’n stremming op ons verhouding met sekere medegelowiges sou plaas, kan die apostel se woorde ons daaraan herinner dat ons kan bewys dat ons God liefhet deur broederliefde te betoon. Met goddelike hulp en deur die toepassing van Johannes se raad kan ons voorkom dat ons sonde beoefen en kan ons geloof handhaaf wat die wêreld oorwin. Laat ons dan ons waardering vir hierdie geïnspireerde brief toon terwyl ons aanhou om in goddelike lig te wandel, aanhou om as kinders van God te lewe en altyd liefde en geloof toon tot eer van ons hemelse Vader, Jehovah.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe moet dit ons verhouding met medegelowiges raak as ons Jehovah liefhet?
◻ Hoe kan ons ‘die wêreld oorwin’?
◻ Wat is die “drie wat getuig” aangaande God se Seun?
◻ Watter “vrymoedigheid” kan ons hê wat gebed betref?
◻ In watter opsigte kan Eerste Johannes ons help?
[Lokteks op bladsy 22]
Aangesien Jehovah ons liefgehad het toe ons nog sondaars was, ‘behoort ons mekaar lief te hê’
[Lokteks op bladsy 23]
Ons geloof in God, sy Woord en sy eniggebore Seun stel ons in staat om ‘die wêreld te oorwin’
[Prent op bladsy 25]
Die heilige gees, die water van Jesus se doop, sy vergote bloed en Jehovah self het getuig dat Jesus Christus God se Seun is