Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 1/15 bl. 23-28
  • Help ander om te leer wat God se vereistes is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Help ander om te leer wat God se vereistes is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Uitdaging maar nie ’n las nie
  • Behoorlik toegerus om ander te help
  • ’n Kykie na ’n nuwe hulpmiddel
  • Hoe om die brosjure Goeie nuus wat van God kom! te gebruik
    Ons Koninkryksbediening—2013
  • ’n Nuwe instrument om mense te help om te leer wat God se vereistes is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Help die onervarenes om te verstaan
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • Verkondig die goeie nuus van die koninkryk met brosjures
    Ons Koninkryksbediening—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 1/15 bl. 23-28

Help ander om te leer wat God se vereistes is

“Die dwang is my opgelê. Waarlik, wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!”—1 KORINTIËRS 9:16.

1, 2. (a) Aan watter tweevoudige werk vereis Jehovah dat ons deelneem? (b) Wat moet opregtes van hart leer om onderdane van God se Koninkryk te kan word?

JEHOVAH het goeie nuus vir die mensdom. Hy het ’n Koninkryk en hy wil hê dat mense op alle plekke daarvan moet hoor! Wanneer ons hierdie goeie nuus geleer het, vereis God dat ons dit aan ander meedeel. Dit is ’n tweevoudige werk. Eerstens moet ons die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig. In Jesus se profesie oor “die voleinding van die stelsel van dinge” het hy gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:3, 14.

2 Die tweede aspek van hierdie werk behels dat ons diegene leer wat gunstig op die Koninkryksverkondiging reageer. Ná Jesus se opstanding het hy vir ’n groot groep van sy dissipels gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:19, 20). Die dinge ‘wat Christus hulle beveel het’, het nie hulle oorsprong by hom gehad nie; hy het ander geleer om God se gebooie, of vereistes, te onderhou (Johannes 14:23, 24; 15:10). Om ander te leer om ‘alles te onderhou wat Christus beveel het’, behels dus dat ons hulle help om te leer wat God se vereistes is. Opregtes van hart moet aan God se vereistes voldoen om onderdane van sy Koninkryk te kan word.

3. Wat is God se Koninkryk, en wat gaan dit doen wat die Koninkryksboodskap sulke goeie nuus maak?

3 Wat is God se Koninkryk? En wat gaan dit doen wat die Koninkryksboodskap sulke goeie nuus maak? God se Koninkryk is ’n hemelse regering. Dit lê Jehovah baie na aan die hart, want dit is die middel waardeur hy sy naam gaan heilig en dit van alle smaad gaan suiwer. Die Koninkryk is die instrument wat Jehovah gaan gebruik om sy wil op die aarde, soos in die hemel, te laat geskied. Dit is waarom Jesus ons geleer het om te bid dat God se Koninkryk moet kom en ons aangespoor het om dit eerste in ons lewe te stel (Matteus 6:9, 10, 33). Sien jy waarom dit vir Jehovah so belangrik is dat ons ander van sy Koninkryk leer?

’n Uitdaging maar nie ’n las nie

4. Hoe kan ons die feit toelig dat ons verpligting om die goeie nuus te verkondig nie ’n las is nie?

4 Is dit ’n las om hierdie goeie nuus te verkondig? Glad nie! Ter toeligting: ’n Vader is verplig om materieel vir sy gesin te sorg. Versuim om dit te doen, kom daarop neer dat hy die Christelike geloof verwerp het. Die apostel Paulus het geskryf: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Maar is daardie verpligting ’n las vir die Christenman? Nie as hy sy gesin liefhet nie, want dan wil hy vir hulle sorg.

5. Waarom behoort dit vir ons ’n genoeë te wees om aan die predikings- en dissipelmaakwerk deel te neem, al is dit ’n verpligting?

5 Die predikings- en dissipelmaakwerk is eweneens ’n verpligting, ’n vereiste, waarvan ons lewe afhang. Paulus het dit só gestel: “Die dwang is my opgelê. Waarlik, wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!” (1 Korintiërs 9:16; vergelyk Esegiël 33:7-9.) Maar ons doen die predikingswerk uit liefde, nie uit blote pligsbesef nie. In die eerste plek het ons God lief, maar ons het ook ons naaste lief, en ons weet hoe belangrik dit vir hulle is om die goeie nuus te hoor (Matteus 22:37-39). Dit gee hulle ’n hoop vir die toekoms. God se Koninkryk gaan binnekort ongeregtighede regstel, alle verdrukking uit die weg ruim en vrede en eenheid herstel—dit alles tot die ewige seën van diegene wat hulle aan die regverdige heerskappy daarvan onderwerp. Is ons nie bly, ja verheug, om sulke goeie nuus aan ander mee te deel nie?—Psalm 110:3.

6. Waarom bied die predikings- en dissipelmaakwerk ’n ware uitdaging?

6 Hierdie predikings- en dissipelmaakwerk bied terselfdertyd ’n ware uitdaging. Mense verskil. Almal het nie dieselfde belangstelling of vermoëns nie. Party is geletterd, terwyl ander baie min opvoeding het. Lees—wat eens ’n geliefkoosde tydverdryf was—word deesdae dikwels as harde werk beskou. Ageletterdheid, wat omskryf word as “die eienskap of toestand wanneer ’n mens in staat is om te lees, maar nie belangstel om dit te doen nie”, is ’n toenemende probleem, selfs in lande wat met ’n hoë geletterdheidsyfer spog. Hoe kan ons dan mense met sulke uiteenlopende agtergronde en dinge waarin hulle belangstel, help om te leer wat God vereis?—Vergelyk 1 Korintiërs 9:20-23.

Behoorlik toegerus om ander te help

7. Hoe het “die getroue en verstandige slaaf” ons toegerus om ander te help om te leer wat God se vereistes is?

7 ’n Moeilike taak is makliker om te verrig as ’n mens die regte gereedskap of toerusting het. Gereedskap wat vandag vir ’n spesifieke werk geskik is, kan môre verbeter of selfs vervang word weens veranderende behoeftes. Dit is dieselfde met ons opdrag om die boodskap oor God se Koninkryk te verkondig. Deur die jare heen het “die getroue en verstandige slaaf” ons van presies die regte hulpmiddels voorsien, publikasies wat spesiaal saamgestel is vir gebruik tydens tuisbybelstudies (Matteus 24:45). Ons is dus toegerus om mense van “alle nasies en stamme en . . . tale” te help om te leer wat God se vereistes is (Openbaring 7:9). Van tyd tot tyd is nuwe instrumente voorsien om met die veranderende behoeftes in die wêreldveld tred te hou. Kom ons beskou ’n paar voorbeelde.

8. (a) Watter rol het die boek “Laat God waaragtig wees” in die bevordering van Bybelonderrig gespeel? (b) Watter instrument vir die Bybelstudiewerk is in 1968 voorsien, en waarvoor was dit veral bedoel? (c) Hoe het die Waarheid-boek met die dissipelmaakwerk gehelp?

8 Van 1946 tot 1968 is die boek “Laat God waaragtig wees” as ’n kragtige instrument vir Bybelonderrig gebruik, en ongeveer 19-250 000 eksemplare is in 54 tale uitgegee. Die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, wat in 1968 (in Engels) vrygestel is, is jare lank doeltreffend gebruik om die Bybel met belangstellendes te studeer. Dit was voorheen niks ongewoons vir party mense om jaar na jaar met Jehovah se Getuies te studeer sonder om gedoop te word nie. Maar hierdie instrument was bedoel om die student te betrek en hom aan te moedig om toe te pas wat hy leer. Die resultaat? Die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk sê: “Daar is vir die drie diensjare van 1 September 1968 tot 31 Augustus 1971 altesaam 434906 mense gedoop—meer as twee maal soveel as wat gedurende die vorige drie diensjare gedoop is!” Sedert die vrystelling van die Waarheid-boek het dit ’n verstommende verspreiding van meer as 107 000 000 in 117 tale gehad.

9. Watter spesiale kenmerk het die Paradys op aarde-boek, en watter uitwerking het dit op die geledere van die Koninkryksverkondigers gehad?

9 In 1982 het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe die vernaamste boek vir die hou van Bybelstudies geword. Hierdie hulpmiddel het meer as 150 prente, elkeen met weldeurdagte byskrifte wat die onderrigtingspunt van die prente op kort en kragtige wyse na vore bring. Ons Koninkryksbediening vir die Verenigde State het in Oktober 1982 gesê: “In die sowat 20 jaar waarin ‘Laat God waaragtig wees’ ons vernaamste studieboek was (van 1946 tot die middel-sestigerjare), is meer as 1000 000 nuwe Koninkryksverkondigers by ons geledere gevoeg. Daarna is nog 1000 000 verkondigers bygevoeg toe Die waarheid wat lei tot die ewige lewe ons vernaamste studieboek geword het nadat dit in 1968 vrygestel is. Sal ons met die gebruik van ons nuwe studieboek, Jy kan vir ewig in Paradys op aarde lewe, ’n soortgelyke vermeerdering van Koninkryksverkondigers sien? Ons sal beslis, as dit Jehovah se wil is!” Dit was klaarblyklik Jehovah se wil, want van 1982 tot 1995 is meer as 2700 000 mense by die geledere van die Koninkryksverkondigers gevoeg!

10. Watter nuwe hulpmiddel is in 1995 voorsien, en waarom behoort dit Bybelstudente in staat te stel om redelik vinnig geestelik vooruitgang te maak?

10 “Die oes is groot, maar die werkers is min”, het Jesus gesê (Matteus 9:37). Die oes is inderdaad groot. Daar is nog baie om te doen. In party lande moet mense op ’n waglys vir Bybelstudies geplaas word. Met die doel om die kennis van God vinniger te versprei, het “die getroue en verstandige slaaf” dus in 1995 ’n nuwe hulpmiddel voorsien, die boek met die titel Kennis wat tot die ewige lewe lei wat 192 bladsye het. Hierdie waardevolle instrument bespreek nie valse leerstellings breedvoerig nie. Dit bied Bybelwaarhede op ’n positiewe manier aan. Ons hoop dat dit Bybelstudente in staat sal stel om redelik vinnig geestelik vooruitgang te maak. Die Kennis-boek het reeds ’n groot uitwerking op die wêreldveld met 45 500 000 eksemplare wat in 125 tale gedruk is en met nog 21 tale wat tans vertaal word.

11. Watter doeltreffende hulpmiddel is voorsien om diegene te leer wat ongeletterd is of wat swak lees, en hoe het dit ’n kragtige rol in ons wêreldwye onderrigtingsprogram gespeel?

11 ‘Die getroue slaaf’ het van tyd tot tyd hulpmiddele voorsien wat vir ’n spesifieke, of ’n beperkte, groep bedoel was. Byvoorbeeld, wat van mense wat spesiale hulp nodig het weens hulle kulturele of godsdiensagtergrond? Hoe kan ons hulle help om te leer wat God se vereistes is? In 1982 het ons presies wat ons nodig gehad het, ontvang—die brosjure met 32 bladsye Jy kan vir ewig op die aarde lewe! Hierdie ryklik geïllustreerde publikasie is ’n doeltreffende hulpmiddel om diegene te leer wat ongeletterd is of wat swak lees. Dit bevat ’n baie eenvoudige en maklik verstaanbare uiteensetting van basiese skriftuurlike leringe. Sedert die vrystelling van die Lewe op aarde-brosjure het dit ’n groot rol in ons wêreldwye onderrigtingsprogram gespeel. Meer as 105 100 000 eksemplare is in 239 tale gedruk, wat dit die mees vertaalde publikasie maak wat die Wagtoringgenootskap tot nog toe uitgegee het!

12, 13. (a) Watter nuwe weg het ‘die getroue slaaf’ vanaf 1990 geopen om ’n wydverspreide gehoor te bereik? (b) Hoe kan ons die Genootskap se video’s in ons veldbediening gebruik? (c) Watter nuwe hulpmiddel is onlangs voorsien om ons in ons dissipelmaakwerk te help?

12 Benewens gedrukte publikasies het ‘die getroue slaaf’ ons vanaf 1990 van ’n onderrigtingsmiddel voorsien wat ’n nuwe weg geopen het om ’n wydverspreide gehoor te bereik—videokassette. In Oktober daardie jaar is die video van 55 minute, Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name, vrygestel—die eerste video wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is. Die mooi, leersame aanbieding wat in 35 tale beskikbaar is, toon hoe die wêreldwye organisasie van Jehovah se toegewyde volk Jesus se opdrag uitvoer om die goeie nuus in die ganse aarde te verkondig. Die video is spesiaal ontwerp om ons met ons dissipelmaakwerk te help. Koninkryksverkondigers het nie op hulle laat wag om hierdie nuwe hulpmiddel in die veldbediening te gebruik nie. Party het dit in hulle velddienssakke gedra, altyd gereed om dit vir belangstellendes te wys of te leen. Kort ná die vrystelling daarvan het ’n reisende opsiener geskryf: “Video’s het ’n 21ste-eeuse middel geword om die verstande en harte van miljoene mense te bereik; ons hoop dus dat hierdie video net die eerste van baie video’s sal wees wat die Genootskap sal gebruik om die wêreldwye Koninkrykswerk te bevorder.” Meer video’s is inderdaad voorsien, waaronder die reeks The Bible—A Book of Fact and Prophecy wat uit drie dele bestaan en Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault. Gebruik jy die Genootskap se video’s in jou veldbediening, indien dit in jou taal beskikbaar is?a

13 ’n Nuwe middel is onlangs voorsien om ons in ons dissipelmaakwerk te help—die brosjure Wat vereis God van ons? Waarom is dit gepubliseer? Hoe kan dit gebruik word?

’n Kykie na ’n nuwe hulpmiddel

14, 15. Vir wie is die Vereis-brosjure bedoel, en wat bevat dit?

14 Die nuwe publikasie Wat vereis God van ons? is bedoel vir mense wat reeds in God glo en respek vir die Bybel het. Reisende opsieners sowel as Gileadopgeleide sendelinge met jare lange ondervinding in ontwikkelende lande het met die voorbereiding van hierdie brosjure gehelp. Dit bevat ’n omvattende studiekursus wat die basiese leringe van die Bybel dek. Die bewoording is hartlik, eenvoudig en direk. Terselfdertyd is die inhoud nie simplisties nie. Dit bied nie net “melk” aan nie, maar ook “vaste voedsel” uit God se Woord op ’n manier wat die meeste mense sal kan verstaan.—Hebreërs 5:12-14.

15 In onlangse jare het Koninkryksverkondigers in verskeie lande ’n publikasie soos hierdie aangevra. Die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Papoea-Nieu-Guinee het byvoorbeeld geskryf: “Mense word deur botsende godsdiensleerstellings verwar. Hulle het bondige verklarings van die waarheid nodig, wat gestaaf word deur ’n aantal Bybeltekste wat hulle in hulle eie Bybel kan nagaan. Hulle het ’n duidelike en spesifieke uiteensetting nodig van wat God van ware Christene vereis en watter gebruike en gewoontes vir hom onaanvaarbaar is.” Die Vereis-brosjure is net wat ons nodig het om hierdie mense te help om te leer wat God se vereistes is.

16. (a) Wie sal dalk veral by die eenvoudige verduidelikings in die nuwe brosjure baat vind? (b) Hoe kan diegene in julle gebied by die Vereis-brosjure baat vind?

16 Hoe kan jy hierdie nuwe instrument gebruik? Dit kan eerstens gebruik word om met mense te studeer wat dit moeilik vind om te lees of wat miskien nie graag lees nie.b Sulke persone sal dalk by die eenvoudige verduidelikings in die brosjure baat vind. Nadat die Wagtoringtakkantore ’n voorlopige eksemplaar van hierdie publikasie gelees het, het hulle die volgende geskryf: “Die brosjure sal baie nuttig wees in talle dele van die land waar mense nie graag lees nie” (Brasilië). “Daar is ’n hele klomp immigrante wat nie hulle moedertaal kan lees nie en wat dit steeds moeilik vind om Frans te lees. Hierdie brosjure kan gebruik word as ’n hulpmiddel om met hierdie mense te studeer” (Frankryk). Kan jy aan mense in julle gebied dink wat by die Vereis-brosjure baat sal vind?

17. In watter opsig kan die nuwe brosjure in baie lande nuttig wees, en waarom?

17 Tweedens kan die brosjure in baie lande nuttig wees om Bybelstudies te begin met godvresende mense, ongeag hoeveel geleerdheid hulle het. Ons moet natuurlik probeer om ’n studie in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei te begin. Maar in sommige gevalle sal dit miskien makliker wees om ’n studie in ’n brosjure te begin. Op ’n gepaste tyd moet die studie dan oorgeskakel word na die Kennis-boek, wat ons vernaamste en voorkeurstudiehulp is. Wat hierdie gebruik van die Vereis-brosjure betref, het Wagtoringtakkantore geskryf: “Dit is moeilik om Bybelstudies te begin, en dit lyk of die kanse om ’n studie te begin groter is as verkondigers met ’n brosjure begin” (Duitsland). “’n Brosjure van hierdie aard sal uiters doeltreffend wees om nuwe Bybelstudies te begin, wat dan in die Kennis-boek voortgesit kan word” (Italië). “Hoewel die Japannese ’n hoë vlak van geletterdheid het, het die meeste van hulle ’n baie beperkte kennis van die Bybel en die basiese leringe daarin. Die brosjure behoort ’n goeie middel te wees om na die Kennis-boek oor te gaan.”—Japan.

18. Wat moet ons onthou omtrent die onderhouding van God se vereistes?

18 Die Genootskap se takkantore oor die hele wêreld het hierdie brosjure aangevra, en goedkeuring is gegee om dit in 221 tale te vertaal. Mag hierdie nuwe publikasie vir ons waardevol wees om ander te help om te leer wat Jehovah God van hulle vereis. Laat ons op ons beurt onthou dat die onderhouding van God se vereistes, met inbegrip van die opdrag om te getuig en dissipels te maak, ons ’n kosbare geleentheid bied om vir Jehovah te bewys hoeveel ons hom liefhet. Ja, wat God van ons vereis, is nie ’n las nie. Dit is die beste manier om te lewe!—Psalm 19:8-12.

[Voetnote]

a Die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk sê: “Videokassette neem geensins die plek van leesstof of persoonlike getuieniswerk nie. Die Genootskap se publikasies speel steeds ’n uiters belangrike rol in die verspreiding van die goeie nuus. Die huis-tot-huis-werk van Jehovah se Getuies is steeds ’n faset van hulle bediening wat ’n vaste Bybelse grondslag het. Maar videokassette vul nou hierdie aspek van die bediening aan deur as waardevolle instrumente te dien om geloof in Jehovah se kosbare beloftes op te bou en waardering vir die werk wat hy in ons dag op die aarde laat doen, aan te wakker.”

b Sien die artikel “’n Nuwe instrument om mense te help om te leer wat God se vereistes is”, op bladsye 16-17, vir ’n verduideliking van hoe om ’n studie in die Vereis-brosjure te hou.

Kan jy verduidelik?

◻ Aan watter tweevoudige werk vereis Jehovah dat sy knegte deelneem?

◻ Waarom is ons verpligting om te getuig en dissipels te maak nie vir ons ’n las nie?

◻ Watter hulpmiddele het “die getroue en verstandige slaaf” vir gebruik in ons predikings- en dissipelmaakwerk voorsien?

◻ Vir wie is die Vereis-brosjure bedoel, en hoe kan ons dit in ons bediening gebruik?

[Prent op bladsy 24]

Ons predikings- en dissipelmaakwerk is nie ’n las nie

[Prente op bladsy 26]

“Laat God waaragtig wees” (1946, hersien in 1952): 19 250 000 in 54 tale

“Die waarheid wat lei tot die ewige lewe” (1968): 107000000 in 117 tale (Franse boek op die foto)

“Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe” (1982): 80900000 in 130 tale (Russiese boek op die foto)

“Kennis wat tot die ewige lewe lei” (1995): 45500000 in 125 tale (Duitse boek op die foto)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel