Hulle “het net so gedoen”
“Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou.”—1 JOHANNES 5:3.
1. Wat kan daar oor die omvang van God se liefde gesê word?
“GOD IS LIEFDE.” Almal wat God leer ken en sy gebooie nakom, verkry ’n diepe waardering vir die intensheid van daardie liefde. “Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenofferande vir ons sondes.” Terwyl ons geloof in Jesus se kosbare losprysofferande beoefen, ‘bly ons in God se liefde’ (1 Johannes 4:8-10, 16). Sodoende kan ons nóú ’n oorvloed van geestelike seëninge geniet en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe.—Johannes 17:3; 1 Johannes 2:15, 17.
2. Hoe het God se knegte by die onderhouding van sy gebooie baat gevind?
2 Die Bybelverslag bevat talle voorbeelde van mense wat God se gebooie onderhou het en as gevolg daarvan ryklik geseën is. Hulle sluit voor-Christelike getuies in, en die apostel Paulus het aangaande party van hulle geskryf: “In geloof het hulle almal gesterf, hoewel hulle nie die vervulling van die beloftes verkry het nie, maar hulle het dit van ver gesien en dit verwelkom en in die openbaar bekend gemaak dat hulle vreemdelinge en tydelike inwoners in die land is” (Hebreërs 11:13). Later het toegewyde Christenknegte van God baat gevind by ‘die onverdiende goedhartigheid en die waarheid wat deur middel van Jesus Christus gekom het’ (Johannes 1:17). Dwarsdeur die ongeveer 6 000 jaar van die mensegeskiedenis het Jehovah getroue getuies beloon wat sy gebooie, wat werklik ‘nie swaar is nie’, nagekom het.—1 Johannes 5:2, 3.
In die dae van Noag
3. In watter opsigte het Noag “net so gedoen”?
3 Die Bybelverslag lui: “Deur geloof het Noag, nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie, godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou tot redding van sy huisgesin; en deur hierdie geloof het hy die wêreld veroordeel, en hy het ’n erfgenaam geword van die regverdigheid wat volgens geloof is.” As “’n prediker van regverdigheid” het Noag God stip gehoorsaam deur die gewelddadige wêreld voor die Vloed oor die naderende Goddelike oordeel te waarsku (Hebreërs 11:7; 2 Petrus 2:5). Toe hy die ark gebou het, het hy die bou-instruksies wat God voorsien het noukeurig gevolg. Daarna het hy die diere en kosvoorraad ooreenkomstig sy instruksies ingebring. “Noag het alles gedoen wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen.”—Genesis 6:22, NW.
4, 5. (a) Hoe het ’n bose invloed die mensdom tot op ons dag geraak? (b) Waarom moet ons “net so” doen wat die uitvoering van Goddelike instruksies betref?
4 Noag en sy gesin het met die bose invloed van ongehoorsame engele te kampe gehad. Hierdie seuns van God het gematerialiseer en met vroue saamgeleef en ’n bomenslike basternageslag voortgebring wat die mensdom getiranniseer het. “Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld.” Jehovah het die Vloed gestuur om daardie goddelose geslag uit te delg (Genesis 6:4, 11-17; 7:1). Sedert Noag se tyd is demoonengele nie toegelaat om in menslike vorm te materialiseer nie. Tog ‘lê die hele wêreld steeds in die mag van die bose’, Satan die Duiwel (1 Johannes 5:19; Openbaring 12:9). Jesus het profeties daardie opstandige geslag van Noag se dag vergelyk met die mensegeslag wat hom verwerp sedert die teken van sy “teenwoordigheid” in 1914 begin duidelik word het.—Matteus 24:3, 34, 37-39; Lukas 17:26, 27.
5 Vandag, soos in Noag se dag, probeer Satan die verderwing van die mensdom en ons planeet bewerk (Openbaring 11:15-18). Dit is gevolglik dringend dat ons gehoor gee aan die geïnspireerde opdrag: “Trek die volledige wapenrusting aan wat van God kom, sodat julle kan vasstaan teen die listige dade van die Duiwel” (Efesiërs 6:11, voetnoot in naslaanuitgawe). Ons word hierin versterk deur God se Woord te bestudeer en dit in ons lewe toe te pas. Verder het ons Jehovah se liefdevolle organisasie, met sy gesalfde “getroue en verstandige slaaf” en sy liefdevolle ouer manne, om ons geduldig te lei op die weg wat ons moet gaan. Ons het ’n wêreldwye predikingswerk om te verrig (Matteus 24:14, 45-47). Mag ons, soos Noag, wat Goddelike instruksies so noukeurig uitgevoer het, altyd “net so” doen.
Moses—die sagmoedigste van al die mense
6, 7. (a) Watter lonende keuse het Moses gemaak? (b) Watter voorbeeld van moed het Moses vir ons nagelaat?
6 Beskou nog ’n man van geloof—Moses. Hy kon ’n gemaksugtige lewe in die weelde van Egipte geniet het. Maar hy het gekies “om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê”. As Jehovah se aangestelde kneg ‘het hy sy blik stip op die beloning gerig gehou en standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien’.—Hebreërs 11:23-28.
7 In Numeri 12:3 lees ons: “Die man Moses was verreweg die sagmoedigste van al die mense wat op die oppervlak van die aardbodem was” (NW). Daarenteen het Farao van Egipte soos die hoogmoedigste van al die mense opgetree. Hoe het Moses en Aäron gereageer toe Jehovah hulle die opdrag gegee het om sy oordeel aan Farao bekend te maak? Ons word meegedeel: “Moses en Aäron het vervolgens gedoen soos Jehovah hulle beveel het. Hulle het net so gedoen” (Exodus 7:4-7, NW). Wat ’n voorbeeld van moed is dit tog vir ons wat vandag God se oordele bekend maak!
8. Hoe is daar van die Israeliete verwag om “net so” te doen, en hoe sal die vreugde wat daaruit voortgespruit het in die nabye toekoms geëwenaar word?
8 Het die Israeliete Moses lojaal ondersteun? Nadat Jehovah Egipte met nege van die tien plae geteister het, het hy Israel breedvoerige instruksies oor die viering van die Pasga gegee. “Toe het die volk laag gebuig en hulle neergewerp. Daarna het die kinders van Israel gegaan en gedoen net soos Jehovah Moses en Aäron beveel het. Hulle het net so gedoen” (Exodus 12:27, 28, NW). Teen middernag van daardie betekenisvolle dag, 14 Nisan 1513 v.G.J., het God se engel al die eersgeborenes in Egipte begin doodmaak, maar hy het by die Israeliete se huise verbygegaan. Waarom is die eersgeborenes van Israel gespaar? Omdat hulle beskerming gevind het onder die bloed van die pasgalam, wat aan hulle bo-drumpels gesprinkel is. Hulle het gedoen net soos Jehovah Moses en Aäron beveel het. Ja, “hulle het net so gedoen” (Exodus 12:50, 51, NW). By die Rooi See het Jehovah nog ’n wonderwerk verrig deur sy gehoorsame volk te red terwyl hy Farao en sy magtige leër vernietig het. Hoe verheug was die Israeliete tog! Baie wat vandag Jehovah se gebooie nakom, sal eweneens verheug wees om ooggetuies van sy regverdiging by Armageddon te wees.—Exodus 15:1, 2; Openbaring 15:3, 4.
9. Watter hedendaagse voorregte is voorafgeskadu deur die feit dat die Israeliete “net so” gedoen het met betrekking tot die tabernakel?
9 Toe Jehovah Israel beveel het om ’n bydrae in te samel en ’n tabernakel in die woestyn te bou, het die volk mildelik hulle volle ondersteuning gegee. Daarna het Moses en sy gewillige medewerkers die bouplanne wat deur Jehovah voorsien is selfs tot in die fynste besonderhede gevolg. “So het al die werk met betrekking tot die tabernakel van die tent van samekoms sy voltooiing bereik, deurdat die kinders van Israel bly doen het volgens alles wat Jehovah Moses beveel het. Hulle het net so gedoen.” Ook by die inwyding van die priesterskap het “Moses . . . gedoen volgens alles wat Jehovah hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Exodus 39:32, NW; 40:16, NW). In hedendaagse tye het ons die geleentheid om die predikingswerk en programme vir Koninkryksuitbreiding ons heelhartige ondersteuning te gee. Sodoende het ons die voorreg om eendragtig “net so” te doen.
Josua—baie sterk en vol moed
10, 11. (a) Wat het Josua toegerus om suksesvol te wees? (b) Hoe kan ons versterk word om hedendaagse beproewinge die hoof te bied?
10 Toe Moses Josua opdrag gegee het om Israel in die land van belofte in te lei, was Jehovah se geïnspireerde geskrewe Woord waarskynlik slegs in die vyf boeke van Moses, een of twee psalms en die boek Job beskikbaar. Moses het Josua aangesê om die volk byeen te laat kom wanneer hulle die Beloofde Land bereik en “hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore [te] lees” (Deuteronomium 31:10-12). Daarbenewens het Jehovah Josua self beveel: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.”—Josua 1:8.
11 Deur Jehovah se ‘boek’ daagliks te lees, is Josua toegerus om opgewasse te wees teen die beproewinge wat voorgelê het, en net so word Jehovah se hedendaagse Getuies versterk om die beproewinge van hierdie kritieke “laaste dae” die hoof te bied wanneer hulle Sy Woord, die Bybel, daagliks lees (2 Timoteus 3:1). Aangesien ons deur ’n gewelddadige wêreld omring is, moet ons ook God se vermaning aan Josua ter harte neem: “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Josua 1:9). Nadat hulle Kanaän verower het, is Israel se stamme ryklik beloon toe hulle hulle in hulle erfenis gevestig het. “Net soos Jehovah Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen” (Josua 14:5, NW). ’n Soortgelyke beloning wag vandag op ons almal wat God se Woord lees en dit in ons lewe toepas, wat uit gehoorsaamheid “net so” doen.
Konings—getrou en ongehoorsaam
12. (a) Watter opdrag is aan die konings in Israel gegee? (b) Wat het die konings se versuim om gehoorsaam te wees tot gevolg gehad?
12 Wat van die konings in Israel? Jehovah het aan die koning hierdie vereiste opgelê: “As hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen” (Deuteronomium 17:18, 19). Het Israel se konings hierdie opdrag gehoorsaam? Hulle het meestal hopeloos gefaal, sodat hulle die vloeke ondervind het wat in Deuteronomium 28:15-68 voorspel is. Uiteindelik is Israel “van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde” verstrooi.
13. Hoe kan ons, soos Dawid, daarby baat vind om liefde vir Jehovah se Woord te toon?
13 Maar Dawid—die eerste getroue mensekoning in Israel—het uitsonderlike toegewydheid aan Jehovah getoon. Hy was ‘’n jong leeu in Juda’, wat Christus Jesus, die seëvierende ‘leeu uit die stam Juda, die wortel van Dawid’, afgebeeld het (Genesis 49:8, 9; Openbaring 5:5). Waarin het Dawid se krag gelê? Hy het diepe waardering vir Jehovah se geskrewe Woord gehad en daarvolgens gelewe. In Psalm 19, “’n psalm van Dawid”, lees ons: “Die wet van die HERE is volmaak.” Nadat Dawid na die herinnering, bevele, gebod en verordeninge van Jehovah verwys het, sê hy voorts: “Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop. Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon” (Psalm 19:8-12, vgl. NW). As dit 3 000 jaar gelede lonend was om Jehovah se Woord daagliks te lees en daaroor te peins, hoeveel te meer dan vandag!—Psalm 1:1-3; 13:6; 119:72, 97, 111.
14. Hoe toon Salomo se handelswyse dat meer as kennis nodig is?
14 En tog is dit nie genoeg om bloot kennis op te doen nie. Dit is ook vir God se knegte noodsaaklik om volgens daardie kennis op te tree, om dit volgens die Goddelike wil toe te pas—ja, om “net so” te doen. Dit kan toegelig word in die geval van Dawid se seun Salomo, wat deur Jehovah gekies is “om te sit op die troon van die koningskap van die HERE oor Israel”. Salomo het die toewysing ontvang om die tempel te bou en die bouplanne te gebruik wat Dawid “deur inspirasie” ontvang het (1 Kronieke 28:5, 11-13, vgl. NW). Hoe kon Salomo hierdie ontsaglike taak verrig? In antwoord op ’n gebed het Jehovah hom wysheid en kennis gegee. Hiermee, asook deur die planne wat God voorsien het getrou te volg, kon Salomo daardie pragtige huis bou, wat toe met Jehovah se heerlikheid vervul is (2 Kronieke 7:2, 3). Maar later het Salomo gefaal. In watter opsig? Jehovah se wet het aangaande die koning in Israel bepaal: “Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie” (Deuteronomium 17:17). Tog het Salomo “sewehonderd vroue, vorstinne, gehad, en driehonderd byvroue, sodat sy vroue sy hart verlei het . . . agter ander gode aan”. In sy later jare het Salomo opgehou om “net so” te doen.—1 Konings 11:3, 4; Nehemia 13:26.
15. Hoe het Josia “net so gedoen”?
15 Daar was ’n paar gehoorsame konings in Juda, waarvan Josia die laaste was. In die jaar 648 v.G.J. het hy begin om afgodediens uit die land te verwyder en Jehovah se tempel te herstel. Dáár het die hoëpriester “die wetboek van die HERE gevind wat deur die diens van Moses gegee is”. Wat het Josia hieromtrent gedoen? “En die koning het opgegaan in die huis van die HERE en al die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem en die priesters en die Leviete en die hele volk, groot en klein, en hy het al die woorde van die verbondsboek wat in die huis van die HERE gevind is, voor hulle ore gelees. En die koning het op sy plek gaan staan en die verbond voor die aangesig van die HERE gesluit om die HERE te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met sy hele hart en met sy hele siel te onderhou, om die woorde van die verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te volbring” (2 Kronieke 34:14, 30, 31). Ja, Josia “het net so gedoen”. As gevolg van sy getroue handelswyse is die voltrekking van Jehovah se oordeel aan ontroue Juda tot die dae van sy slegte seuns uitgestel.
Lewe volgens God se Woord
16, 17. (a) In watter opsigte moet ons in Jesus se voetstappe volg? (b) Watter ander getroue knegte van God dien as voorbeelde vir ons?
16 Van al die mense wat nog gelewe het, is die Here Jesus Christus die beste voorbeeld van iemand wat oor God se Woord gepeins en daarvolgens gelewe het. God se Woord was vir hom soos voedsel (Johannes 4:34). Hy het vir sy luisteraars gesê: “Die Seun kan nie ’n enkele ding op eie inisiatief doen nie, maar net wat hy die Vader sien doen. Want alles wat daardie Een doen, dít doen die Seun ook net so” (Johannes 5:19, 30; 7:28; 8:28, 42). Jesus het “net so gedoen” en gesê: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het” (Johannes 6:38). Daar word ’n beroep gedoen op ons wat toegewyde Getuies van Jehovah is om “net so” te doen deur in Jesus se voetstappe te volg.—Lukas 9:23; 14:27; 1 Petrus 2:21.
17 Die doen van God se wil was altyd voor in Jesus se gedagtes. Hy was deeglik vertroud met God se Woord en dus toegerus om skriftuurlike antwoorde te gee (Matteus 4:1-11; 12:24-31). As ons voortdurend op God se Woord ag gee, kan ons ook ‘volkome bevoeg, ten volle toegerus vir elke goeie werk’ wees (2 Timoteus 3:16, 17). Laat ons die voorbeeld navolg van getroue knegte van Jehovah in die ou tyd en in latere tye en bowenal dié van ons Heer, Jesus Christus, wat gesê het: “Sodat die wêreld kan weet dat ek die Vader liefhet, doen ek net soos die Vader my die gebod gegee het om te doen” (Johannes 14:31). Mag ons ook ons liefde vir God toon deur aan te hou om “net so” te doen.—Markus 12:29-31.
18. Wat behoort ons aan te spoor om ‘daders van die woord te word’, en wat sal vervolgens bespreek word?
18 Word ons nie aangemoedig om getroue diens gedurende die laaste dae van Satan se goddelose stelsel te verrig wanneer ons oor die gehoorsame handelswyse van God se knegte in Bybeltye peins nie? (Romeine 15:4-6). Ons behoort inderdaad aangespoor te wees om in die volste sin “daders van die woord” te word, soos die volgende artikel sal bespreek.—Jakobus 1:22.
Onthou jy?
◻ Wat behoort “die liefde vir God” vir ons te beteken?
◻ Wat leer ons uit die voorbeelde van Noag, Moses en Josua?
◻ In watter mate het die konings in Israel God se “woorde” gehoorsaam?
◻ Hoe is Jesus ons Voorbeeld om “net so” te doen?
[Prente op bladsy 15]
Noag, Moses en Josua “het net so gedoen”