Jehovah, ons ‘vesting in tye van benoudheid’
“Die redding van die regverdiges kom van Jehovah; hy is hulle vesting in die tyd van benoudheid.”—PSALM 37:39.
1, 2. (a) Wat het Jesus in gebed ten behoewe van sy dissipels gevra? (b) Wat is God se wil in verband met sy knegte?
JEHOVAH is almagtig. Hy het die mag om sy getroue aanbidders te beskerm op enige manier wat hy goeddink. Hy kan selfs sy knegte fisies van die res van die wêreld afsonder en hulle in ’n veilige en vreedsame omgewing plaas. Jesus het egter aangaande sy dissipels tot sy hemelse Vader gebid: “Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose.”—Johannes 17:15.
2 Jehovah het besluit om ons nie “uit die wêreld” weg te neem nie. Dit is eerder sy wil dat ons onder die algemene bevolking van hierdie wêreld lewe om sy boodskap van hoop en vertroosting aan ander te verkondig (Romeine 10:13-15). Maar soos Jesus in sy gebed te kenne gegee het, is ons blootgestel aan “die bose” omdat ons in hierdie wêreld lewe. Ongehoorsame mense en goddelose geesmagte veroorsaak baie pyn en angs, en Christene is nie vry van benoudheid nie.—1 Petrus 5:9.
3. Watter werklikheid moet selfs getroue aanbidders van Jehovah onder die oë sien, maar watter vertroosting vind ons in God se Woord?
3 Dit is natuurlik om tydens sulke beproewinge soms mismoedig te voel (Spreuke 24:10). Die Bybelverslag bevat talle verhale van getroue knegte wat benoudheid ervaar het. “Baie is die rampspoede van die regverdige”, sê die psalmis, “maar uit hulle almal verlos Jehovah hom” (Psalm 34:19). Ja, slegte dinge gebeur selfs met “die regverdige”. Soos die psalmis Dawid voel ons moontlik by tye selfs “lamgeslaan en erg verbryseld” (Psalm 38:8). Dit is nietemin vertroostend om te weet dat ‘Jehovah naby die gebrokenes van hart is en die verbryseldes van gees red’.—Psalm 34:18; 94:19.
4, 5. (a) Wat moet ons in ooreenstemming met Spreuke 18:10 doen om God se beskerming te verkry? (b) Wat is ’n paar spesifieke stappe wat ons kan neem om God se hulp te ontvang?
4 In ooreenstemming met Jesus se gebed waak Jehovah inderdaad oor ons. Hy is ons “vesting in die tyd van benoudheid” (Psalm 37:39). Die boek Spreuke gebruik soortgelyke taal waar dit sê: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm” (Spreuke 18:10). Hierdie teks bring ’n fundamentele waarheid aangaande Jehovah se tere besorgdheid oor sy skepsele na vore. God bied veral beskerming aan regverdiges wat hom daadwerklik soek, asof ons by ’n sterk toring inhardloop vir skuiling.
5 Hoe kan ons na Jehovah hardloop vir beskerming wanneer probleme vir ons benoudheid veroorsaak? Kom ons kyk na drie noodsaaklike stappe wat ons kan neem om Jehovah se hulp te ontvang. Eerstens, ons moet ons in gebed tot ons hemelse Vader wend. Tweedens, ons moet die leiding van sy heilige gees volg. En derdens, ons moet ons aan Jehovah se reëling onderwerp deur met mede-Christene te assosieer wat ons benoudheid kan verlig.
Die krag van gebed
6. Hoe beskou ware Christene gebed?
6 Party gesondheidsdeskundiges beveel gebed aan as behandeling vir depressie en stres. Hoewel dit dalk waar is dat ’n oomblik van stilte in biddende bepeinsing stres kan verlig, kan dieselfde gesê word van sekere geluide in die natuur of selfs van ’n goeie rugmassering. Ware Christene beskou gebed nie bloot as ’n terapie wat ’n mens goed laat voel nie. Ons beskou gebed as eerbiedige kommunikasie met die Skepper. Gebed behels ons toegewydheid aan God en vertroue in hom. Ja, gebed is deel van ons aanbidding.
7. Wat beteken dit om met vertroue te bid, en hoe help sulke gebede ons om benoudheid te verwerk?
7 Ons gebede moet met vertroue in Jehovah gepaardgaan. Die apostel Johannes het geskryf: “Dít is die vertroue wat ons teenoor hom het, dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Johannes 5:14). Jehovah, die Opperwese, die enigste ware en almagtige God, skenk in werklikheid spesiale aandag aan die opregte gebede van sy aanbidders. Net die wete dat ons liefdevolle God ons hoor wanneer ons hom van ons sorge en probleme vertel, is vertroostend.—Filippense 4:6.
8. Waarom moet getroue Christene nooit skaam of onwaardig voel wanneer hulle Jehovah in gebed nader nie?
8 Getroue Christene moet nooit skaam of onwaardig voel of ’n gebrek aan vertroue hê wanneer hulle Jehovah in gebed nader nie. Wanneer ons teleurgesteld in onsself is of deur probleme oorweldig word, is ons dalk nie altyd geneig om Jehovah in gebed te nader nie. Op sulke tye moet ons onthou dat Jehovah hom ‘ontferm oor sy geteisterdes’ en dat hy “die terneergedruktes vertroos” (Jesaja 49:13; 2 Korintiërs 7:6). Dit is veral in tye van angs en benoudheid dat ons ons vol vertroue tot ons hemelse Vader as ons vesting moet wend.
9. Watter rol speel geloof in ons gebede tot God?
9 Om ten volle baat te vind by die voorreg van gebed, moet ons ware geloof hê. Die Bybel sê dat “hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Geloof behels meer as om net te glo dat God bestaan, of dat “hy is”. Ware geloof behels ’n vaste vertroue dat God die vermoë en begeerte het om ons lewensweg van gehoorsaamheid aan hom te beloon. “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking” (1 Petrus 3:12). As ons voortdurend bewus is van Jehovah se liefdevolle besorgdheid oor ons, gee dit spesiale betekenis aan ons gebede.
10. Wat moet waar wees van ons gebede as ons wil hê dat Jehovah ons geestelik moet onderskraag?
10 Jehovah luister na ons gebede wanneer ons met ’n volkome hart bid. Die psalmis het geskryf: “Ek het met my hele hart geroep. Antwoord my, o Jehovah” (Psalm 119:145). In teenstelling met die ritualistiese gebede in baie godsdienste is ons gebede nie meganies of halfhartig nie. Wanneer ons met ons “hele hart” tot Jehovah bid, is ons woorde betekenisvol en weldeurdag. Ná sulke opregte gebede begin ons die verligting ervaar wat dit meebring wanneer ons ons ‘las op Jehovah werp’. Soos die Bybel beloof, ‘sal hy ons onderskraag’.—Psalm 55:22; 1 Petrus 5:6, 7.
God se gees is ons helper
11. Wat is een manier waarop Jehovah ons antwoord wanneer ons sy hulp ‘aanhou vra’?
11 Jehovah is nie net die Hoorder van gebed nie, maar ook die Een wat dit beantwoord (Psalm 65:2). Dawid het geskryf: “In die dag van my benoudheid sal ek u aanroep, want u sal my antwoord” (Psalm 86:7). Gevolglik het Jesus sy dissipels aangespoor: “Hou aan vra” om Jehovah se hulp, want “die Vader in die hemel [sal] heilige gees gee aan dié wat hom vra” (Lukas 11:9-13). Ja, God se werkende krag tree op as ’n helper, of trooster, vir sy knegte.—Johannes 14:16.
12. Hoe kan God se gees ons help wanneer probleme oorweldigend lyk?
12 Selfs wanneer ons voor beproewinge te staan kom, kan God se gees ons vervul met “die krag wat bo die normale is” (2 Korintiërs 4:7). Die apostel Paulus, wat talle stresvolle situasies verduur het, het vol vertroue gesê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:13). Baie Christene van vandag het eweneens ondervind dat hulle geestelike en emosionele krag hernieu word in antwoord op hulle smeekbedes. Probleme wat vir ons benoudheid veroorsaak, lyk dikwels nie meer so oorweldigend nadat ons die hulp van God se gees ontvang het nie. Weens hierdie godgegewe krag kan ons soos die apostel sê: “Ons word in elke opsig geknel, maar nie só vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie; ons is raadop, maar nie heeltemal sonder uitweg nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; ons word neergewerp, maar nie vernietig nie.”—2 Korintiërs 4:8, 9.
13, 14. (a) Hoe is Jehovah, deur middel van sy geskrewe Woord, vir ons ’n vesting? (b) Hoe het die toepassing van Bybelbeginsels jou persoonlik gehelp?
13 Die heilige gees het ook God se geskrewe Woord tot ons voordeel geïnspireer en bewaar. Hoe is Jehovah, deur middel van die bladsye van sy Woord, vir ons ’n vesting in tye van benoudheid? Een manier is deur ons van praktiese wysheid en denkvermoë te voorsien (Spreuke 3:21-24). Die Bybel oefen ons verstandelike vermoëns en verbeter ons denkvermoë (Romeine 12:1). Deur God se Woord gereeld te lees en te bestudeer, en ook deur dit te gebruik, kan ons ons ‘waarnemingsvermoëns oefen om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is’ (Hebreërs 5:14). Jy het dalk al persoonlik ondervind hoe Bybelbeginsels jou gehelp het om in netelige situasies wyse besluite te neem. Die Bybel gee ons skerpsinnigheid wat ons help om praktiese oplossings te vind vir probleme wat benoudheid veroorsaak.—Spreuke 1:4.
14 Die Woord van God voorsien ons van nog ’n bron van krag—die hoop op redding (Romeine 15:4). Die Bybel sê vir ons dat slegte dinge nie vir ewig sal voortduur nie. Enige verdrukking wat ons nou verduur, is tydelik (2 Korintiërs 4:16-18). Ons het die “hoop op die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, lank gelede beloof het” (Titus 1:2). As ons ons verbly in daardie hoop en voortdurend dink aan die wonderlike toekoms wat Jehovah beloof, kan ons onder verdrukking volhard.—Romeine 12:12; 1 Tessalonisense 1:3.
Die gemeente—’n blyk van God se liefde
15. Hoe kan Christene ’n seën vir mekaar wees?
15 Nog ’n voorsiening van Jehovah wat ons in tye van benoudheid kan help, is die assosiasie wat ons in die Christengemeente geniet. Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). God se Woord moedig almal in die gemeente aan om mekaar te eer en lief te hê (Romeine 12:10). “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek”, het die apostel Paulus geskryf (1 Korintiërs 10:24). So ’n gesindheid kan ons help om ons eerder op ander se behoeftes toe te spits as op ons eie beproewinge. Wanneer ons van onsself vir ander gee, help ons nie net húlle nie, maar ook óns ervaar ’n mate van geluk en tevredenheid wat dit vir ons makliker maak om ons eie laste te dra.—Handelinge 20:35.
16. Hoe kan elke Christen aanmoedigend wees?
16 Manne en vroue wat geestelik ryp is, kan ’n belangrike rol daarin speel om ander te versterk. Om dit te kan doen, probeer hulle genaakbaar en beskikbaar wees (2 Korintiërs 6:11-13). Dit is waarlik ’n seën vir die gemeente wanneer almal tyd inruim om die jonges te prys, nuwe gelowiges op te bou en die terneergedruktes aan te moedig (Romeine 15:7). Broederliefde sal ons ook help om agterdog teenoor mekaar te vermy. Ons moenie oorhaastig tot die slotsom kom dat persoonlike probleme ’n teken van geestelike swakheid is nie. Paulus spoor Christene gepas aan om ‘vertroostend met die terneergedrukte siele te praat’ (1 Tessalonisense 5:14). Die Bybel toon dat selfs getroue Christene benoudheid ondervind.—Handelinge 14:15.
17. Watter geleenthede het ons om die bande van die Christenbroederskap te versterk?
17 Christelike vergaderinge voorsien ’n uitstekende geleentheid vir ons om mekaar te vertroos en aan te moedig (Hebreërs 10:24, 25). Hierdie liefdevolle interaksie is nie tot gemeentelike vergaderinge beperk nie. Inteendeel, God se knegte is ook op die uitkyk na ander geleenthede om heilsame omgang te geniet. Wanneer situasies ontstaan wat benoudheid veroorsaak, sal ons mekaar geredelik bystaan omdat hegte vriendskapsbande reeds gesmee is. Die apostel Paulus het geskryf: ‘Daar moet geen verdeeldheid in die liggaam wees nie, maar die lede daarvan moet vir mekaar sorg dra. En as een lid ly, ly al die ander lede saam met hom; of as ’n lid verheerlik word, is al die ander lede saam met hom bly.’—1 Korintiërs 12:25, 26.
18. Watter neiging moet ons vermy wanneer ons neerslagtig voel?
18 Soms voel ons dalk te neerslagtig om assosiasie met mede-Christene te geniet. Ons moet teen sulke gevoelens stry sodat ons ons nie van die vertroosting en bystand beroof wat medegelowiges ons kan bied nie. Die Bybel waarsku ons: “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek; teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek” (Spreuke 18:1). Ons broers en susters is ’n bewys van God se besorgdheid oor ons. As ons hierdie liefdevolle voorsiening erken, sal ons in tye van benoudheid verligting vind.
Behou ’n positiewe gesindheid
19, 20. Hoe help die Skrif ons om negatiewe gedagtes te verwerp?
19 Wanneer ons ontmoedig en hartseer voel, is dit maklik om negatiewe gedagtes te koester. Byvoorbeeld, wanneer sommige teëspoed ondervind, kan hulle aan hulle eie geestelikheid begin twyfel en tot die slotsom kom dat hulle ontbering ’n teken van God se misnoeë is. Onthou egter dat Jehovah niemand met “bose dinge” beproef nie (Jakobus 1:13). “Nie uit sy eie hart het [God] die mensekinders geteister of bedroef hy hulle nie”, sê die Bybel (Klaagliedere 3:33). Inteendeel, dit maak Jehovah baie hartseer wanneer sy knegte ly.—Jesaja 63:8, 9; Sagaria 2:8.
20 Jehovah is “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” (2 Korintiërs 1:3). Hy gee om vir ons en sal ons op die bestemde tyd verhef (1 Petrus 5:6, 7). As ons voortdurend dink aan God se liefde vir ons, sal dit ons help om ’n positiewe gesindheid te behou en om ons selfs te verbly. Jakobus het geskryf: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle allerhande beproewinge teëkom” (Jakobus 1:2). Waarom? Hy antwoord: “Want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang, wat Jehovah beloof het aan diegene wat hom altyd liefhet.”—Jakobus 1:12.
21. Al ondervind ons probleme, watter waarborg gee God aan diegene wat getrou aan hom is?
21 Soos Jesus gewaarsku het, sal ons in die wêreld verdrukking hê (Johannes 16:33). Maar die Bybel beloof dat geen “verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar” ons sal skei van Jehovah se liefde en die liefde van sy Seun nie (Romeine 8:35, 39). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat enige benoudheid waarmee ons te kampe het, tydelik is! En terwyl ons op die einde van menselyding wag, waak ons liefdevolle Vader, Jehovah, oor ons. As ons na hom hardloop vir beskerming, sal hy “’n veilige hoogte vir die verbryselde word, ’n veilige hoogte in tye van benoudheid”.—Psalm 9:9.
Wat het ons geleer?
• Wat moet Christene verwag terwyl hulle in hierdie goddelose wêreld lewe?
• Hoe kan ons innige gebede ons versterk wanneer ons beproewinge verduur?
• Hoe is God se gees ’n helper?
• Wat kan ons doen om mekaar te help?
[Prent op bladsy 18]
Ons moet Jehovah soek asof ons by ’n sterk toring inhardloop
[Prente op bladsy 20]
Geestelik ryp persone maak gebruik van elke geleentheid om ander te prys en aan te moedig