Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 43 bl. 305-313
  • Die luisterryke stad

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die luisterryke stad
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die meting van die stad
  • Kosbare boumateriale
  • ’n Stad van lig
  • ’n Lig vir die nasies
  • Die rivier van water van die lewe
  • Bome van die lewe
  • Nie meer nag nie
  • Openbaring se gelukkige klimaks
  • Wat is die Nuwe Jerusalem?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Aardse Jerusalem in teenstelling met hemelse Jerusalem
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Bybelboek nommer 66—Openbaring
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 43 bl. 305-313

Hoofstuk 43

Die luisterryke stad

Visioen 16—Openbaring 21:9–22:5

Onderwerp: ’n Beskrywing van Nuwe Jerusalem

Tyd van vervulling: Ná die groot verdrukking en nadat Satan in die afgrond gewerp is

1, 2. (a) Waarheen neem ’n engel Johannes om Nuwe Jerusalem te sien, en watter kontras merk ons hier op? (b) Waarom is dít die groot klimaks van Openbaring?

’N ENGEL het Johannes na ’n wildernis geneem om vir hom Babilon die Grote te wys. Nou lei een van dieselfde engelegroep Johannes na ’n hoë berg. Wat ’n kontras sien hy! Hier is geen onrein, onsedelike stad soos die Babiloniese hoer nie, maar Nuwe Jerusalem—suiwer, geestelik, heilig—en dit daal uit die hemel self neer.—Openbaring 17:1, 5.

2 Selfs aardse Jerusalem was nooit so glorieryk nie. Johannes sê vir ons: “En een van die sewe engele wat die sewe bakke gehad het wat vol was van die sewe laaste plae, het gekom, en hy het met my gepraat en gesê: ‘Kom hier, ek sal jou die bruid, die Lam se vrou, wys.’ Toe het hy my in die krag van die gees na ’n groot en hoë berg weggevoer, en hy het my die heilige stad Jerusalem gewys wat van God af uit die hemel neerdaal en die heerlikheid van God het” (Openbaring 21:9-11a). Van daardie hoë berg af besigtig Johannes die pragtige stad en al die lieflike besonderhede daarvan. Manne van geloof sien reeds sedert die mensdom in sonde verval en so die dood oor hulle gebring het, gretig uit na die koms daarvan. Uiteindelik is dit hier! (Romeine 8:19; 1 Korintiërs 15:22, 23; Hebreërs 11:39, 40). Dit is die luisterryke geestelike stad, saamgestel uit 144 000 lojale handhawers van onkreukbaarheid, wat in heiligheid skitter en die heerlikheid van Jehovah self weerspieël. Hier is die groot klimaks van Openbaring!

3. Hoe beskryf Johannes die prag van Nuwe Jerusalem?

3 Nuwe Jerusalem is asemrowend mooi: “Die glans daarvan was soos ’n baie kosbare steen, soos ’n jaspissteen wat kristalhelder blink. Dit het ’n groot en hoë muur en twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name was daarop gegraveer, wat dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel is. Aan die oostekant was drie poorte, en aan die noordekant drie poorte, en aan die suidekant drie poorte, en aan die westekant drie poorte. Die muur van die stad het ook twaalf fondamentstene gehad en daarop die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam” (Openbaring 21:11b-14). Hoe gepas is dit tog dat die eerste indruk wat Johannes opteken, dié van skitterende helderheid is! Nuwe Jerusalem, stralend soos ’n nuwe bruid, is ’n gepaste gemalin vir Christus. Dit skitter, soos dit ’n skepping van “die Vader van die hemelse ligte” betaam.—Jakobus 1:17.

4. Wat dui aan dat Nuwe Jerusalem nie die vleeslike nasie Israel is nie?

4 Op die stad se 12 poorte is die name van die 12 stamme van Israel gegraveer. Hierdie simboliese stad bestaan dus uit die 144 000, wat “uit elke stam van die kinders van Israel” verseël is (Openbaring 7:4-8). In ooreenstemming hiermee staan die name van die 12 apostels van die Lam op die fondamentstene. Ja, Nuwe Jerusalem is nie die vleeslike nasie Israel wat op die 12 seuns van Jakob gegrond is nie. Dit is die geestelike Israel, wat op “die apostels en profete” gegrond is.—Efesiërs 2:20.

5. Wat word aangedui deur Nuwe Jerusalem se “groot en hoë muur” en deur die feit dat daar engele by elke ingang geplaas is?

5 Die simboliese stad het ’n groot muur. In die ou tyd is stadsmure vir veiligheid gebou om vyande uit te hou. Nuwe Jerusalem se “groot en hoë muur” toon dat dit geestelik veilig is. Geen vyand van regverdigheid, niemand wat onrein of oneerlik is, sal ooit daar kan inkom nie (Openbaring 21:27). Maar vir dié wat in hierdie pragtige stad ingelaat word, is dit asof hulle in die Paradys ingaan (Openbaring 2:7). Nadat Adam uit die oorspronklike Paradys uitgedryf is, is gerubs voor die tuin geplaas om onrein mense uit te hou (Genesis 3:24). Daar is ook engele by elke ingang van die heilige stad Jerusalem geplaas om die geestelike veiligheid van die stad te verseker. Ja, deur die laaste dae heen het engele die gemeente van gesalfde Christene, wat Nuwe Jerusalem word, teen Babiloniese besoedeling beskerm.—Matteus 13:41.

Die meting van die stad

6. (a) Hoe beskryf Johannes die meting van die stad, en wat dui hierdie meting aan? (b) Wat verklaar moontlik die feit dat die maat wat gebruik is, “volgens ’n mens se maat, terselfdertyd dié van ’n engel” was? (Sien voetnoot.)

6 Johannes sê verder: “En die een wat met my gepraat het, het ’n goue riet as meetstok gehad, sodat hy die stad en sy poorte en sy muur kon meet. En die stad lê vierkantig, en sy lengte is so groot soos sy breedte. En hy het die stad met die riet gemeet, twaalfduisend stadie; sy lengte en breedte en hoogte is gelyk. Ook het hy sy muur gemeet, honderd-vier-en-veertig el, volgens ’n mens se maat, terselfdertyd dié van ’n engel” (Openbaring 21:15-17). Toe die tempelheiligdom gemeet is, het dit die vervulling van Jehovah se voornemens ten opsigte daarvan gewaarborg (Openbaring 11:1). Nou toon die feit dat die engel Nuwe Jerusalem meet, hoe onveranderlik Jehovah se voornemens ten opsigte van hierdie glorieryke stad is.a

7. Wat is merkwaardig omtrent die stad se afmetings?

7 Wat ’n merkwaardige stad is dit tog! ’n Volmaakte kubus met ’n omtrek van 12 000 stadie (ongeveer 2 220 kilometer), omring deur ’n muur wat 144 el, of 64 meter, hoog is. Geen letterlike stad kan ooit sulke afmetings hê nie. Dit sou ’n gebied beslaan wat byna 14 keer so groot is soos hedendaagse Israel en sou nagenoeg 560 kilometer in die buitenste ruimte uittoring! Openbaring is in tekens gegee. Wat vertel hierdie afmetings ons dan omtrent hemelse Nuwe Jerusalem?

8. Wat word aangedui deur (a) die stad se mure wat 144 el hoog is? (b) die stad se afmeting van 12 000 stadie? (c) die feit dat die stad ’n volmaakte kubus is?

8 Die mure wat 144 el hoog is, herinner ons daaraan dat die stad uit 144 000 geestelik aangenome seuns van God bestaan. Die syfer 12 wat in die stad se afmeting van 12 000 stadie voorkom—met die lengte, breedte en hoogte wat gelyk is—word figuurlik in organisatoriese betekenis in Bybelprofesieë gebruik. Nuwe Jerusalem is derhalwe ’n wonderlik ontwerpte organisatoriese reëling vir die verwesenliking van God se ewige voorneme. Nuwe Jerusalem, saam met die Koning Jesus Christus, is Jehovah se Koninkryksorganisasie. Dan is daar die vorm van die stad: ’n volmaakte kubus. In Salomo se tempel was die Allerheiligste, wat ’n simboliese voorstelling van Jehovah se teenwoordigheid bevat het, ’n volmaakte kubus (1 Konings 6:19, 20). Hoe gepas is dit dan dat Nuwe Jerusalem, verlig deur die heerlikheid van Jehovah self, as ’n volmaakte reusekubus gesien word! Al sy afmetings is volmaak gebalanseerd. Dit is ’n stad sonder onreëlmatighede of gebreke.—Openbaring 21:22.

Kosbare boumateriale

9. Hoe beskryf Johannes die boumateriale van die stad?

9 Johannes sit sy beskrywing voort: “En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos helder glas. Die fondamente van die stad se muur was versier met allerhande edelstene: die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde kalsedoon, die vierde smarag, die vyfde sardoniks, die sesde sardis, die sewende chrisoliet, die agtste beril, die negende topaas, die tiende chrisopraas, die elfde hiasint, die twaalfde ametis. En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel gemaak. En die breë straat van die stad was suiwer goud, soos deursigtige glas.”—Openbaring 21:18-21.

10. Wat word aangedui deur die feit dat die stad met jaspis, goud en “allerhande edelstene” gebou is?

10 Die stad se konstruksie is werklik luisterryk. In plaas van alledaagse, aardse boumateriale soos klei of steen, lees ons van jaspis, gelouterde goud en “allerhande edelstene”. Hoe gepas beeld dit tog hemelse boumateriale uit! Niks kan luisterryker wees nie. Die eertydse verbondsark was met suiwer goud oorgetrek, en in die Bybel stel hierdie stof dikwels goeie en waardevolle dinge voor (Eksodus 25:11; Spreuke 25:11; Jesaja 60:6, 17). Maar die hele Nuwe Jerusalem, en selfs sy breë straat, is gebou van “suiwer goud soos helder glas”, ’n uitbeelding van prag en intrinsieke waarde wat die verbeelding te bowe gaan.

11. Wat verseker dat dié wat Nuwe Jerusalem uitmaak, van die allervoortreflikste geestelike suiwerheid sal skitter?

11 Geen menslike smelter kan sulke suiwer goud lewer nie. Maar Jehovah is die Meesterlouteraar. Hy sit “as ’n louteraar en reiniger van silwer”, en hy louter die individuele, getroue lede van geestelike Israel “soos goud en soos silwer”, deur hulle van alle onsuiwerhede te reinig. Slegs persone wat waarlik gelouter en gereinig is, sal uiteindelik Nuwe Jerusalem uitmaak, en op hierdie manier bou Jehovah die stad met lewende boumateriale wat van die allervoortreflikste geestelike suiwerheid skitter.—Maleagi 3:3, 4.

12. Waarop dui die feit dat (a) die stad se fondamente met 12 kosbare edelstene versier is? (b) die stad se poorte pêrels is?

12 Selfs die stad se fondamente is pragtig, versier met 12 kosbare edelstene. Dit laat ons dink aan die eertydse Joodse hoëpriester, wat op seremoniële dae ’n efod gedra het met 12 edelstene daarop soortgelyk aan dié wat hier beskryf word (Eksodus 28:15-21). Dit is beslis nie toeval nie! Dit beklemtoon eerder die priesterlike funksie van Nuwe Jerusalem, waarvan Jesus, die groot Hoëpriester, die “lamp” is (Openbaring 20:6; 21:23; Hebreërs 8:1). Nuwe Jerusalem is ook die kanaal waardeur die voordele van Jesus se hoëpriesterlike bediening na die mensdom vloei (Openbaring 22:1, 2). Die stad se 12 poorte, wat elk ’n lieflike pêrel is, laat ons dink aan Jesus se illustrasie wat die Koninkryk met ’n pêrel van groot waarde vergelyk het. Almal wat deur hierdie poorte ingaan, sal opregte waardering vir geestelike waardes getoon het.—Matteus 13:45, 46; vergelyk Job 28:12, 17, 18.

’n Stad van lig

13. Wat sê Johannes vervolgens oor Nuwe Jerusalem, en waarom het die stad nie ’n letterlike tempel nodig nie?

13 In Salomo se tyd is Jerusalem oorheers deur ’n tempel wat op die stad se hoogste punt, op die berg Moria in die noorde, gebou was. Maar wat van Nuwe Jerusalem? Johannes sê: “En ek het nie ’n tempel daarin gesien nie, want Jehovah God, die Almagtige, is sy tempel, ook die Lam. En die stad het nie die son en ook nie die maan nodig om daarop te skyn nie, want die heerlikheid van God het dit verlig, en sy lamp was die Lam” (Openbaring 21:22, 23). Dit is werklik nie nodig om ’n letterlike tempel hier te bou nie. Die eertydse Joodse tempel was bloot ’n patroon, en die werklikheid van daardie patroon, die groot geestelike tempel, bestaan al sedert Jehovah Jesus in 29 G.J. as Hoëpriester gesalf het (Matteus 3:16, 17; Hebreërs 9:11, 12, 23, 24). ’n Tempel veronderstel ook ’n priesterlike klas wat ten behoewe van die volk offerandes aan Jehovah bring. Maar almal wat deel van Nuwe Jerusalem is, is priesters (Openbaring 20:6). En die groot offerande, Jesus se volmaakte menselewe, is eens en vir altyd gebring (Hebreërs 9:27, 28). Bowendien het almal wat in die stad woon, vrye toegang tot Jehovah self.

14. (a) Waarom het Nuwe Jerusalem nie die son en die maan nodig om daarop te skyn nie? (b) Wat het Jesaja se profesie oor Jehovah se universele organisasie voorspel, en hoe is Nuwe Jerusalem hierby betrokke?

14 Toe Jehovah se heerlikheid op die berg Sinai by Moses verbygegaan het, het dit Moses se gesig so helder laat blink dat hy dit vir sy mede-Israeliete moes bedek (Eksodus 34:4-7, 29, 30, 33). Kan jy jou dan die helderheid voorstel van ’n stad wat permanent deur Jehovah se heerlikheid verlig word? So ’n stad kan geen nag hê nie. Dit sal nie ’n letterlike son of maan nodig hê nie. Dit sal vir ewig lig uitstraal. (Vergelyk 1 Timoteus 6:16.) Nuwe Jerusalem baai in hierdie soort stralende helderheid. Trouens, hierdie bruid en haar Bruidegom-Koning word die hoofstad van Jehovah se universele organisasie—sy “vrou”, “die Jerusalem daar bo”—waaroor Jesaja voorspel het: “Vir jou sal die son nie meer bedags ’n lig wees nie, en as glans sal die maan nie meer vir jou lig gee nie. En Jehovah moet vir jou ’n lig word wat tot onbepaalde tyd bestaan, en jou God jou prag. Jou son sal nie meer ondergaan nie, en ook sal jou maan nie afneem nie; want Jehovah sal vir jou ’n lig word wat tot onbepaalde tyd bestaan, en die dae van jou rou sal voltooi wees.”—Jesaja 60:1, 19, 20; Galasiërs 4:26.

’n Lig vir die nasies

15. Watter woorde van Openbaring omtrent Nuwe Jerusalem kom ooreen met Jesaja se profesie?

15 Hierdie selfde profesie het ook voorspel: “En nasies sal beslis na jou lig kom, en konings na die glans van jou skynsel” (Jesaja 60:3). Openbaring toon dat hierdie woorde Nuwe Jerusalem sal insluit: “En die nasies sal deur middel van die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde sal hulle heerlikheid daarin bring. En sy poorte sal bedags glad nie toegemaak word nie, want nag sal nie daar bestaan nie. En hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.”—Openbaring 21:24-26.

16. Wie is “die nasies” wat deur middel van die lig van Nuwe Jerusalem sal wandel?

16 Wie is hierdie “nasies” wat deur middel van die lig van Nuwe Jerusalem wandel? Hulle is mense, vroeër ’n deel van die nasies van hierdie goddelose wêreld, wat gunstig reageer op die lig wat deur hierdie glorieryke hemelse stad uitgestraal word. Eerste onder hulle is die groot menigte, wat reeds uit “alle nasies en stamme en volke en tale” gekom het en wat God dag en nag saam met die Johannes-klas aanbid (Openbaring 7:9, 15). Nadat Nuwe Jerusalem uit die hemel neergedaal en Jesus die sleutels van die dood en van Hades gebruik het om die dooies op te wek, sal miljoene ander by hulle aansluit, mense wat oorspronklik uit “die nasies” afkomstig is en wat Jehovah en sy Seun, die Lamagtige Eggenoot van Nuwe Jerusalem, liefkry.—Openbaring 1:18.

17. Wie is “die konings van die aarde” wat “hulle heerlikheid” in Nuwe Jerusalem inbring?

17 Wie is dan “die konings van die aarde” wat “hulle heerlikheid daarin bring”? Hulle is nie die letterlike konings van die aarde as ’n groep nie, want daardie konings word vernietig wanneer hulle by Armageddon teen God se Koninkryk oorlog voer (Openbaring 16:14, 16; 19:17, 18). Kan die konings sommige hooggeplaaste persone van die nasies wees wat deel van die groot menigte word, of is hulle verrese konings wat hulle in die nuwe wêreld aan God se Koninkryk onderwerp? (Matteus 12:42). Nouliks, want die heerlikheid van hierdie konings was meestal wêrelds en het lankal verdwyn. “Die konings van die aarde” wat hulle heerlikheid in Nuwe Jerusalem inbring, moet dus die 144 000 wees, wat “uit elke stam en taal en volk en nasie . . . gekoop” is om saam met die Lam, Jesus Christus, as konings te regeer (Openbaring 5:9, 10; 22:5). Hulle bring hulle godgegewe heerlikheid in die stad in om die glans daarvan te vergroot.

18. (a) Wie sal uit Nuwe Jerusalem uitgesluit word? (b) Wie alleenlik sal toegelaat word om in die stad in te gaan?

18 Johannes sê verder: “Maar enigiets wat nie heilig is nie en enigeen wat iets walgliks en ’n leuen beoefen, sal daar hoegenaamd nie ingaan nie; net dié wat in die Lam se boekrol van die lewe geskrywe staan” (Openbaring 21:27). Niks wat deur Satan se stelsel van dinge besoedel is, kan deel van Nuwe Jerusalem wees nie. Hoewel sy poorte permanent oop is, sal niemand wat “iets walgliks en ’n leuen beoefen”, toegelaat word om daar in te gaan nie. Daar sal geen afvalliges of enige lede van Babilon die Grote in hierdie stad wees nie. En as enigiemand die stad probeer ontheilig deur sy toekomstige lede te verderf terwyl hulle nog op aarde is, word hulle pogings verydel (Matteus 13:41-43). Alleenlik “dié wat in die Lam se boekrol van die lewe geskrywe staan”, die 144 000, sal uiteindelik in Nuwe Jerusalem ingaan.b—Openbaring 13:8; Daniël 12:3.

Die rivier van water van die lewe

19. (a) Hoe beskryf Johannes Nuwe Jerusalem as die kanaal waardeur seëninge na die mensdom vloei? (b) Wanneer vloei die “rivier van water van die lewe”, en hoe weet ons dit?

19 Die luisterryke Nuwe Jerusalem sal wonderlike seëninge vir die mensdom op die aarde bring. Dit is wat Johannes vervolgens uitvind: “En hy het my ’n rivier van water van die lewe gewys, helder soos kristal, wat uit die troon van God en van die Lam uitvloei, al in die middel van sy breë straat af” (Openbaring 22:1, 2a). Wanneer vloei hierdie “rivier”? Aangesien dit “uit die troon van God en van die Lam” uitvloei, kan dit net wees nadat die dag van die Here in 1914 begin het. Dit was die tyd vir die gebeurtenis wat ingelui is deur die sewende trompetstoot en die groot aankondiging: “Nou het die redding en die krag en die koninkryk van ons God en die gesag van sy Christus gekom” (Openbaring 11:15; 12:10). Gedurende die tyd van die einde het die gees en die bruid mense met die regte gesindheid genooi om die water van die lewe verniet te neem. Water uit hierdie rivier sal vir sulke mense beskikbaar bly tot aan die einde van hierdie stelsel van dinge en daarna tot in die nuwe wêreld, wanneer Nuwe Jerusalem ‘van God af uit die hemel neerdaal’.—Openbaring 21:2.

20. Wat dui aan dat van die water van die lewe reeds beskikbaar is?

20 Dit is nie die eerste keer dat die mensdom lewegewende water aangebied word nie. Toe Jesus op die aarde was, het hy gepraat van water wat die ewige lewe gee (Johannes 4:10-14; 7:37, 38). Verder gaan Johannes spoedig die liefdevolle uitnodiging hoor: “Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Hierdie uitnodiging word nou al gehoor, wat aandui dat van die water van die lewe reeds beskikbaar is. Maar in die nuwe wêreld sal hierdie waters soos ’n ware rivier uit God se troon en deur Nuwe Jerusalem vloei.

21. Wat word voorgestel deur die “rivier van water van die lewe”, en hoe help Esegiël se visioen van hierdie rivier ons om dit te weet?

21 Wat is hierdie “rivier van water van die lewe”? Letterlike water is lewensbelangrik. ’n Mens kan etlike weke sonder kos aan die lewe bly, maar sonder water sal hy binne ongeveer ’n week sterf. Water is ook ’n reinigingsmiddel en is noodsaaklik vir gesondheid. Die water van die lewe moet dus iets noodsaakliks vir die lewe en gesondheid van die mensdom voorstel. Die profeet Esegiël het ook ’n visioen van hierdie “rivier van water van die lewe” ontvang, en in sy visioen het die rivier uit die tempel na die Dooie See gevloei. Toe, wonder bo wonder! Daardie lewelose, chemies versadigde watermassa is verander in vars water wat gewemel het van vis! (Esegiël 47:1-12). Ja, die rivier in die visioen maak iets lewend wat voorheen dood was, wat bevestig dat die rivier van water van die lewe God se voorsiening deur Jesus Christus afbeeld om die “dooie” mensdom tot volmaakte menselewe te herstel. Hierdie rivier is “helder soos kristal”, wat die suiwerheid en heiligheid van God se voorsienings toon. Dit is nie soos die bebloede, dodelike “waters” van die Christendom nie.—Openbaring 8:10, 11.

22. (a) Waar ontspring die rivier, en waarom is dit gepas? (b) Wat behels die water van die lewe, en wat sluit hierdie simboliese rivier in?

22 Die rivier ontspring by “die troon van God en van die Lam”. Dit is gepas, aangesien die grondslag van Jehovah se lewegewende voorsienings die losprysoffer is, en dit is voorsien omdat Jehovah “die wêreld so liefgehad [het] dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die water van die lewe behels ook God se Woord, wat in die Bybel water genoem word (Efesiërs 5:26). Die rivier van water van die lewe sluit egter nie net die waarheid in nie, maar ook elke ander voorsiening van Jehovah, gegrond op Jesus se offerande, om gehoorsame mense van sonde en die dood te red en ewige lewe aan hulle te gee.—Johannes 1:29; 1 Johannes 2:1, 2.

23. (a) Waarom is dit gepas dat die rivier van water van die lewe deur die middel van die breë straat van Nuwe Jerusalem vloei? (b) Watter goddelike belofte aan Abraham sal vervul word wanneer die water van die lewe in oorvloed vloei?

23 Gedurende die Duisendjarige Heerskappy word die voordele van die losprys ten volle aangewend deur die priesterskap van Jesus en sy 144 000 onderpriesters. Dit is dus gepas dat die rivier van water van die lewe deur die middel van die breë straat van Nuwe Jerusalem vloei. Hierdie stad bestaan uit geestelike Israel, wat saam met Jesus die ware saad van Abraham uitmaak (Galasiërs 3:16, 29). Wanneer die water van die lewe in oorvloed deur die middel van die breë straat van die simboliese stad vloei, sal “al die nasies van die aarde” derhalwe die volle geleentheid hê om hulleself deur middel van Abraham se saad te seën. Jehovah se belofte aan Abraham sal ten volle vervul word.—Genesis 22:17, 18.

Bome van die lewe

24. Wat sien Johannes nou aan weerskante van die rivier van water van die lewe, en wat beeld dit af?

24 In Esegiël se visioen het die rivier selfs ’n meesleurende stroom geword, en die profeet het allerhande vrugdraende bome aan weerskante daarvan sien groei (Esegiël 47:12). Maar wat sien Johannes? Dit: “En aan weerskante van die rivier was daar bome van die lewe wat twaalf vrugteoeste voortbring, wat elke maand hulle vrugte oplewer. En die blare van die bome was vir die genesing van die nasies” (Openbaring 22:2b). Hierdie “bome van die lewe” moet ook ’n deel van Jehovah se voorsiening om die ewige lewe aan gehoorsame mense te gee, afbeeld.

25. Watter oorvloedige voorsiening maak Jehovah vir ontvanklike mense in die wêreldwye Paradys?

25 Hoe oorvloedig voorsien Jehovah tog in die behoeftes van ontvanklike mense! Nie alleen kan hulle van hierdie verkwikkende waters drink nie, maar hulle kan ’n voortdurende verskeidenheid voedsame vrugte van hierdie bome pluk. Ag, as ons eerste ouers tog maar net tevrede was met ’n soortgelyke ‘begeerlike’ voorsiening in Eden se Paradys! (Genesis 2:9). Maar nou is ’n wêreldwye Paradys hier, en Jehovah maak selfs deur die blare van hierdie simboliese bome voorsiening vir “die genesing van die nasies”.c Die strelende aanwending van hierdie simboliese blare, wat baie beter is as enige kruiemiddel of ander medisyne wat vandag berei word, sal die gelowige mensdom tot geestelike en liggaamlike volmaaktheid verhef.

26. Wat kan die bome van die lewe insluit, en waarom?

26 Hierdie bome, wat goed deur die rivier benat word, kan die 144 000 lede van die Lam se vrou insluit. Terwyl hulle op die aarde is, drink hulle ook van God se voorsiening vir lewe deur Jesus Christus. Dit is interessant dat hierdie geesverwekte broers van Jesus profeties “groot bome van regverdigheid” genoem word (Jesaja 61:1-3; Openbaring 21:6). Hulle het reeds baie geestelike vrugte tot eer van Jehovah voortgebring (Matteus 21:43). En gedurende die Duisendjarige Heerskappy sal hulle ’n aandeel daaraan hê om die losprysvoorsienings uit te deel wat “die genesing van die nasies” van sonde en die dood sal bewerkstellig.—Vergelyk 1 Johannes 1:7.

Nie meer nag nie

27. Watter verdere seëninge meld Johannes vir dié wat bevoorreg is om in Nuwe Jerusalem in te gaan, en waarom word daar gesê dat ‘daar geen vervloeking meer sal wees nie’?

27 Toegang tot Nuwe Jerusalem—daar kan sekerlik geen wonderliker voorreg wees nie! Dink net—daardie eens geringe, onvolmaakte mense sal Jesus tot in die hemel volg om deel van so ’n glorieryke reëling te word! (Johannes 14:2). Johannes gee ons ’n idee van die seëninge wat hulle gaan geniet wanneer hy sê: “En daar sal geen vervloeking meer wees nie. Maar die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy slawe sal heilige diens aan hom verrig; en hulle sal sy aangesig sien, en sy naam sal op hulle voorkoppe wees” (Openbaring 22:3, 4). Toe die Israelitiese priesterdom verdorwe geraak het, het Jehovah dit vervloek (Maleagi 2:2). Jesus het verklaar dat Jerusalem se ontroue “huis” verlate agtergelaat sou word (Matteus 23:37-39). Maar in Nuwe Jerusalem “sal [daar] geen vervloeking meer wees nie”. (Vergelyk Sagaria 14:11.) Al sy inwoners is in die vuur van beproewinge hier op die aarde getoets, en omdat hulle die oorwinning behaal het, sal hulle hulle ‘met onverderflikheid en onsterflikheid beklee’ het. In hulle geval weet Jehovah, net soos hy in die geval van Jesus geweet het, dat hulle nooit afvallig sal word nie (1 Korintiërs 15:53, 57). Verder sal “die troon van God en van die Lam” daar wees om die stad se posisie tot in alle ewigheid te beveilig.

28. Waarom is God se naam op lede van Nuwe Jerusalem se voorkoppe geskryf, en watter opwindende vooruitsig het hulle?

28 Soos Johannes self is alle toekomstige lede van hierdie hemelse stad “slawe” van God. As sodanig is God se naam duidelik op hulle voorkoppe geskryf, wat hom as hulle Eienaar identifiseer (Openbaring 1:1; 3:12). Hulle sal dit as ’n onskatbare voorreg beskou om as deel van Nuwe Jerusalem heilige diens aan hom te verrig. Toe Jesus op die aarde was, het hy ’n opwindende belofte aan hierdie toekomstige heersers gemaak: “Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien” (Matteus 5:8). Hoe bly sal hierdie slawe tog wees om Jehovah in eie persoon te sien en te aanbid!

29. Waarom sê Johannes in verband met hemelse Jerusalem dat ‘daar nie meer nag sal wees nie’?

29 Johannes sê verder: “En daar sal nie meer nag wees nie, en hulle het geen lamplig nodig nie, en ook het hulle nie sonlig nie, want Jehovah God sal hulle verlig” (Openbaring 22:5a). Eertydse Jerusalem het, soos enige ander stad op die aarde, bedags op die son staatgemaak vir lig en snags op die maan en kunsmatige lig. Maar in hemelse Nuwe Jerusalem sal sulke verligting onnodig wees. Die stad sal deur Jehovah self verlig word. “Nag” word moontlik ook in figuurlike sin gebruik met verwysing na teëspoed of afsondering van Jehovah (Miga 3:6; Johannes 9:4; Romeine 13:11, 12). Daar kan nooit dié soort nag in die glorieryke, stralende teenwoordigheid van die almagtige God wees nie.

30. Hoe sluit Johannes die luisterryke visioen af, en waarvan verseker Openbaring ons?

30 Johannes sluit hierdie luisterryke visioen af deur van hierdie slawe van God te sê: “En hulle sal vir ewig en altyd as konings heers” (Openbaring 22:5b). Aan die einde van die duisend jaar sal die voordele van die losprys weliswaar ten volle aangewend wees en sal Jesus ’n volmaakte mensdom aan sy Vader oorgee (1 Korintiërs 15:25-28). Ons weet nie wat Jehovah daarna vir Jesus en die 144 000 in gedagte het nie. Maar Openbaring verseker ons dat hulle bevoorregte heilige diens aan Jehovah tot in alle ewigheid sal voortduur.

Openbaring se gelukkige klimaks

31. (a) Watter klimaks word deur die visioen van Nuwe Jerusalem aangedui? (b) Wat doen Nuwe Jerusalem vir ander getroues?

31 Die vervulling van hierdie visioen van Nuwe Jerusalem, die Lam se bruid, is gepas die gelukkige klimaks waarna Openbaring wys. Al Johannes se eerste-eeuse mede-Christene aan wie die boek aanvanklik gerig is, het daarna uitgesien om hierdie stad as onsterflike geestelike medeheersers saam met Jesus Christus binne te gaan. Die oorblyfsel van gesalfde Christene wat vandag nog op die aarde lewe, koester dieselfde hoop. Openbaring beweeg dus voort na sy grootse klimaks, wanneer die voltallige bruid met die Lam verenig word. Daarna, deur middel van Nuwe Jerusalem, sal die voordele van Jesus se losprysoffer ten behoewe van die mensdom aangewend word, sodat alle getroues uiteindelik die ewige lewe sal ontvang. Sodoende sal die bruid, Nuwe Jerusalem, as ’n lojale helper van haar Bruidegom-Koning, ’n aandeel daaraan hê om ’n ewige regverdige nuwe aarde op te bou—alles tot die heerlikheid van ons Soewereine Heer Jehovah.—Matteus 20:28; Johannes 10:10, 16; Romeine 16:27.

32, 33. Wat het ons uit Openbaring geleer, en wat moet ons hartgrondige reaksie wees?

32 Hoe verheug is ons tog nou, hier aan die einde van ons bespreking van die boek Openbaring! Ons het gesien hoe die laaste pogings van Satan en sy saad heeltemal verydel word en hoe Jehovah se regverdige oordele geheel en al voltrek word. Babilon die Grote moet vir ewig vernietig word, en daarna alle ander hopeloos verdorwe elemente van Satan se wêreld. Satan self en sy demone sal in die afgrond gewerp en later vernietig word. Nuwe Jerusalem sal saam met Christus uit die hemele regeer terwyl die opstanding en die oordeel plaasvind, en die volmaakte mensdom sal uiteindelik ewige lewe op die Paradysaarde geniet. Hoe treffend beeld Openbaring tog al hierdie dinge uit! Hoe versterk dit tog ons voorneme om vandag hierdie ‘ewige goeie nuus as blye tyding bekend te maak aan elke nasie en stam en taal en volk’ op die aarde! (Openbaring 14:6, 7). Span jy jou ten volle in hierdie groot werk in?

33 Laat ons nou, met harte vol dankbaarheid, aandag gee aan die slotwoorde van Openbaring.

[Voetnote]

a Die feit dat die maat wat gebruik is, “volgens ’n mens se maat, terselfdertyd dié van ’n engel” was, het moontlik te doen met die feit dat die stad uit die 144 000 bestaan, wat oorspronklik mense was, maar wat geesskepsele te midde van die engele word.

b Let daarop dat “die Lam se boekrol van die lewe” net die name van die 144 000 lede van geestelike Israel bevat. Dit verskil dus van “die boekrol van die lewe” wat dié insluit wat lewe op die aarde ontvang.—Openbaring 20:12.

c Let daarop dat die uitdrukking “die nasies” dikwels verwys na dié wat nie deel is van geestelike Israel nie (Openbaring 7:9; 15:4; 20:3; 21:24, 26). Die gebruik van die uitdrukking hier gee nie te kenne dat die mensdom gedurende die Duisendjarige Heerskappy nog steeds in afsonderlike volksgroepe georganiseer sal wees nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel