Moet jy in die kollig wees?
DIE beroemde kunstenaar se beeld verskyn op die TV-skerm wanneer die kameras op hom gerig word. Hy gee ’n professionele glimlag en begin speel. Ons luister met genot na die musiek. Die kamera beweeg nader sodat ons sy gesigsuitdrukking en vaardige vingers kan dophou terwyl hy musiek uit sy instrument haal.
Ja, dit is die kunstenaar wat die kollig geniet. Maar let op die lang lys erkennings wat ná die vertoning op die skerm verskyn—orkes, orkesleier, klanktegnici, fotograwe, regisseurs, produksieleiers, grimeerders en talle, talle ander. Almal is nodig om die vertoning suksesvol te maak. Almal help.
’n Soortgelyke situasie bestaan in die Christengemeente. Party individue word heel prominent gebruik, maar ander speel redelik onopvallende rolle as gewone verkondigers van die Koninkryksboodskap. Maar moet hierdie persone voel dat hulle minder belangrik is omdat hulle nie in die kollig is nie? Moet hulle onnodig ontsteld wees as hulle nie aansien verkry nie?
“Gelykop moet hulle deel”
’n Verslag in verband met koning Dawid is baie insiggewend. Die Bybel toon dat hy eenkeer ’n groep van 400 manne op ’n dramatiese reddingsending gelei het. Hulle het gegaan om hulle families en besittings van ’n bende plunderaars terug te kry. Tweehonderd is egter agtergelaat om die pakgoed te bewaak. Toe die reddingsgeselskap seëvierend teruggekeer het met die vroue, kinders en die goedere, asook met baie buit, het ’n probleem ontstaan: Wie sou in die oorlogsbuit deel? Sou slegs dié wat geveg het waardig geag word om in die buit te deel? Dawid het ’n antwoord gegee wat as ’n regspresedent, “’n insetting en ’n verordening vir Israel”, beskou is. Hy het gesê: “Want soos die deel van die wat in die geveg aftrek, so is ook die deel van die wat by die pakgoed bly; gelykop moet hulle deel” (1 Samuel 30:24, 25). Dit was Jehovah wat Dawid gelei het om hierdie insetting vas te stel. En dit weerspieël Jehovah se diepe waardering vir diegene wat in ondersteunende rolle dien.
Maar geld hierdie beginsel in die Christengemeente? Die apostel Paulus antwoord met ’n illustrasie. Hy vergelyk die gemeente met die menseliggaam en sê: “Die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.” Ja, in die menseliggaam het elke deel—selfs die kleintoontjie—’n belangrike funksie. God toon dieselfde wysheid in die organisering van sy gemeente. “God het [die onderskeie persone] in die gemeente gestel” en aan verskillende persone verskillende verantwoordelikhede gegee.—1 Korinthiërs 12:21, 28, vgl. NW.
In die eerste eeu het party Christene derhalwe ’n sekere mate van aansien geniet. Petrus was byvoorbeeld grootliks in die kollig. Hy was die woordvoerder vir die apostels op die geskiedkundige Pinksterdag (Handelinge 2:14). Hy het die voorreg gehad om die eerste nie-Joodse bekeerlinge te help om Christene te word (Handelinge 10:44-48). Trouens, twee Bybelboeke dra sy naam! Tog word daar nouliks melding gemaak van party van die ander apostels. Mattheüs, Natanael (Bartholomeüs), Thaddeüs (Judas, die seun van Jakobus), Simon die Yweraar, en Jakobus, die seun van Alfeüs (genoem Jakobus die kleine), word slegs kortliks gemeld. Hulle het nietemin hulle Heer getrou ondersteun in sy predikings- en onderrigtingskampanje.
Beskeie, heelhartige diens
’n Soortgelyke situasie bestaan vandag. In die Christengemeente stel Jehovah steeds ‘die lede soos hy wil’. Dit lei daartoe dat party meer in die kollig is as ander. Maar wat behoort ons gesindheid teenoor ons diensvoorregte te wees, wat hulle ook al is? Kolossense 3:23, 24 stel dit soos volg: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang.”
Talle Getuies put vandag groot vreugde daaruit om in beskeie, ondersteunende rolle te dien. Beskou byvoorbeeld vir Edmundsen, ’n Getuie wat in Pietermaritzburg dien. Hy is in 1946 gedoop en het in 1950 die voltydse diens betree. Hy was nog nooit werklik in die kollig nie. Maar hy het die vreugde gesmaak om te sien dat 15 van sy kinders en kleinkinders toegewyde, gedoopte Getuies word, en dat 27 van sy ander kleinkinders en agterkleinkinders gemeentevergaderinge bywoon! En hy preek vandag getrou as ’n hulppionier hoewel hy deur swak gehoor en gesig gestrem word. Op die ouderdom van 84 dien hy nog as ’n ouere man in die gemeente en hou hy openbare toesprake! Edmundsen se diens was nietemin hoofsaaklik op die agtergrond. Maar soos derduisende getroue knegte van God het hy waarde volle, sin volle diens aan Jehovah gelewer.
Ja, dit verg nederigheid om op die agtergrond te dien. Maar dit laat ons ook tyd toe om ons persoonlikhede en vaardighede te ontwikkel voordat groot verantwoordelikhede aan ons toevertrou word. Koning Josia het op die ouderdom van agt koning van Juda geword (2 Konings 22:1). Maar hoe gereed kon hy vir daardie rol gewees het? Moses is andersyds 40 jaar lank aan ’n stil lewe as ’n herder in Midian onderwerp voordat hy ’n verlosser geword het. Gedurende daardie tydperk het hy eienskappe soos sagmoedigheid aangeleer (Numeri 12:3). Hy het geleer om op Jehovah te wag. En toe Jehovah hom eindelik geroep het om Israel vir die volgende 40 jaar te lei, was hy gereed vir hierdie verantwoordelikheid!
’n Persoon wat meen dat sy vermoëns nie ten volle in die gemeente benut word nie, hoef dus nie mismoedig te wees nie. Miskien meen Jehovah dat so iemand groter geduld of nederigheid moet aankweek voordat hy verdere voorregte ontvang. Onthou ook dat die oorgrote meerderheid van Jehovah se knegte op die agtergrond dien. Die Wagtoring maak al meer as ’n eeu lank ’n vername deel van Jehovah se Getuies se studieprogram uit. En tog is die skrywers daarvan anoniem. Dink ook aan die derduisende wat in Bethelhuise of as pioniers en sendelinge dien. Hulle is nouliks in die kollig. Tog geniet hulle besige, lonende lewens en ervaar hulle die diepe tevredenheid wat spruit uit hulle opofferings om ander te help.—Handelinge 20:35.
Die uitslag vir diegene wat nederig dien
Slegs een van die oorspronklike 12 apostels het gefaal—die verraaier Judas Iskariot. Die ander het ’n glorieryke beloning ontvang. In Openbaring 21:10, 14 sê die Bybel dat die ‘heilige stad’ op 12 fondamente gebou is. Op elkeen is die naam van ’n apostel van die Lam geskryf. Interessant genoeg, twee van hierdie getroue apostels was Simon genoem. Die een wat Simon Petrus genoem is, was grootliks in die kollig; die ander een, wat Simon die Yweraar genoem is, was nie (Handelinge 1:13). Trouens, baie min is oor hierdie Simon gesê. Maar albei Simons het dieselfde beloning ontvang—die voorreg om fondamentlede van die hemelse regering onder die Koning, Jesus Christus, te wees!
Nie alle verrese gesalfdes sal natuurlik prominent as “fondamente” dien nie. Jehovah sal die personeel van sy regering gebruik in watter hoedanigheid hy ook al meen hulle die geskikste sal wees. Dié van ons wat die verwagting het om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe, kan eweneens seker wees dat ons Koning ons onder daardie reëling op die beste moontlike manier sal gebruik. Met ’n genotvolle omgewing, lojale metgeselle, ’n verskeidenheid van aangename werk en geen frustrasie of verveeldheid nie sal ons persoonlikhede en vaardighede ten volle ontwikkel!
Hetsy ons dus tot die hemelse beloning geroep is of uitsien na ’n lewe op ’n versierde aarde, laat ons tevrede wees met ons dienstoewysing in Jehovah se organisasie en dit heelhartig vervul. Dit is die verstandige en vreugdevolle weg. Laat ons, in plaas van eersugtig die kollig te soek, die nederige gesindheid aankweek van koning Dawid wat gesê het: “Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.”—Psalm 27:4.