Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 6 bl. 27-32
  • ’n Heilige geheim word onthul

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Heilige geheim word onthul
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Die Eerste en die Laaste”
  • Die sterre en die lampstaanders
  • Die groot afvalligheid
  • Die saad bly bestaan
  • Hoor wat die gees aan die gemeentes sê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Johannes sien die verheerlikte Jesus
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Christus praat met die gemeentes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Christus se daadwerklike leiding vandag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 6 bl. 27-32

Hoofstuk 6

’n Heilige geheim word onthul

1. Hoe moet ons reageer op die treffende beskrywing wat in Openbaring 1:10-17 opgeteken is?

DIE visioen van die verheerlikte Jesus is inderdaad ontsagwekkend! As ons saam met die apostel Johannes as toeskouers daar was, sou daardie luisterryke heerlikheid ons ongetwyfeld ook oorweldig het en sou ons, net soos hy, voor Jesus se voete neergeval het (Openbaring 1:10-17). Hierdie wonderlike geïnspireerde visioen is bewaar om ons vandag tot optrede aan te spoor. Ons moet, soos Johannes, nederige waardering toon vir alles wat die visioen beteken. Mag ons altyd eerbiedige ontsag hê vir Jesus se posisie as gekroonde Koning, Hoëpriester en Regter.—Filippense 2:5-11.

“Die Eerste en die Laaste”

2. (a) Met watter titel stel Jesus homself voor? (b) Wat beteken dit wanneer Jehovah sê: “Ek is die eerste en ek is die laaste”? (c) Waarop vestig Jesus se titel “die Eerste en die Laaste” die aandag?

2 Ons ontsag hoef egter nie in morbiede vrees te verander nie. Jesus het Johannes gerusgestel, soos die apostel vervolgens vertel. “En hy het sy regterhand op my gelê en gesê: ‘Moenie bevrees wees nie. Ek is die Eerste en die Laaste, en die lewende’” (Openbaring 1:17b, 18a). In Jesaja 44:6 beskryf Jehovah tereg Sy posisie as die enigste almagtige God deur te sê: “Ek is die eerste en ek is die laaste, en buiten my is daar geen God nie.”a Wanneer Jesus homself met die titel “die Eerste en die Laaste” voorstel, maak hy nie aanspraak op gelykheid met Jehovah, die Grootse Skepper, nie. Hy gebruik ’n titel wat God met reg aan hom gegee het. In Jesaja het Jehovah ’n verklaring gemaak oor Sy unieke posisie as die ware God. Hy is vir ewig God, en buiten hom is daar inderdaad geen God nie (1 Timoteus 1:17). In Openbaring praat Jesus van die titel wat hy gegee is en vestig hy die aandag op sy unieke opstanding.

3. (a) In watter sin was Jesus “die Eerste en die Laaste”? (b) Wat beteken die feit dat Jesus “die sleutels van die dood en van Hades” het?

3 Jesus was inderdaad “die Eerste” mens wat tot onsterflike geeslewe opgewek is (Kolossense 1:18). Daarbenewens is hy “die Laaste” wat op hierdie manier deur Jehovah self opgewek is. Hy word derhalwe “die lewende . . . [wat] lewe vir ewig en altyd”. Hy het onsterflikheid. In hierdie opsig is hy soos sy onsterflike Vader, wat “die lewende God” genoem word (Openbaring 7:2; Psalm 42:2). Jesus self is vir alle ander mense “die opstanding en die lewe” (Johannes 11:25). In ooreenstemming hiermee sê hy vir Johannes: “Ek het doodgegaan, maar kyk! ek lewe vir ewig en altyd, en ek het die sleutels van die dood en van Hades” (Openbaring 1:18b). Jehovah het hom die gesag gegee om die dooies op te wek. Daarom kan Jesus sê dat hy die sleutels het om die poorte oop te sluit vir dié wat deur die dood en Hades (die doderyk) vasgehou word.—Vergelyk Matteus 16:18.

4. Watter bevel herhaal Jesus, en tot voordeel van wie?

4 Jesus herhaal hier sy bevel dat die visioen opgeteken moet word en sê vir Johannes: “Skryf . . . die dinge op wat jy gesien het, en die dinge wat is en die dinge wat hierna sal plaasvind” (Openbaring 1:19). Watter opwindende dinge sal Johannes nog tot ons onderrigting bekend maak?

Die sterre en die lampstaanders

5. Hoe verduidelik Jesus “die sewe sterre” en “die sewe lampstaanders”?

5 Johannes het Jesus tussen sewe goue lampstaanders met sewe sterre in sy regterhand gesien (Openbaring 1:12, 13, 16). Nou verduidelik Jesus dit: “Wat die heilige geheim betref van die sewe sterre wat jy op my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampstaanders: Die sewe sterre beteken die engele van die sewe gemeentes, en die sewe lampstaanders beteken sewe gemeentes.”—Openbaring 1:20.

6. Wat word deur die sewe sterre afgebeeld, en waarom is die boodskappe spesifiek aan hulle gerig?

6 Die “sterre” is “die engele van die sewe gemeentes”. In Openbaring beeld sterre soms letterlike engele af, maar Jesus sou beswaarlik ’n menslike skrywer gebruik het om aan onsigbare geesskepsele te skryf. Die “sterre” moet derhalwe die menslike opsieners, of ouer manne, in die gemeentes wees, wat as Jesus se boodskappers beskou word.b Die boodskappe word gerig aan die sterre, want hulle het die verantwoordelikheid om oor Jehovah se kudde toesig te hou.—Handelinge 20:28.

7. (a) Waarom beteken die feit dat Jesus met net een engel in elke gemeente praat, nie dat elke gemeente net een ouer man het nie? (b) Wie word in werklikheid deur die sewe sterre in Jesus se regterhand afgebeeld?

7 Beteken die feit dat Jesus met net een “engel” in elke gemeente praat dat elke gemeente net een ouer man het? Nee. Reeds in Paulus se dag het die gemeente in Efese etlike ouer manne gehad, nie net een nie (Openbaring 2:1; Handelinge 20:17). Toe boodskappe in Johannes se dag aan die sewe sterre gestuur is om aan die gemeentes (waaronder die gemeente in Efese) voorgelees te word, moes die sterre derhalwe almal afgebeeld het wat in die liggame van ouer manne in Jehovah se gesalfde gemeente gedien het. Opsieners lees ook vandag vir hulle gemeentes briewe voor wat ontvang word van die Bestuursliggaam, wat bestaan uit gesalfde opsieners wat onder Jesus se hoofskap dien. Die plaaslike liggame van ouer manne moet sorg dat hulle gemeentes Jesus se raad volg. Die raad is natuurlik tot voordeel van almal wat met die gemeentes omgaan, nie net die ouer manne nie.—Sien Openbaring 2:11a.

8. Wat word aangedui deur die feit dat die ouer manne in Jesus se regterhand is?

8 Aangesien Jesus die Hoof van die gemeente is, word daar tereg gesê dat die ouer manne in sy regterhand, dit wil sê onder sy beheer en leiding, is (Kolossense 1:18). Hy is die Hoofherder, en hulle is onderherders.—1 Petrus 5:2-4.

9. (a) Wat beeld die sewe lampstaanders af, en waarom is lampstaanders ’n gepaste simbool daarvan? (b) Waaraan sou die visioen die apostel Johannes waarskynlik herinner het?

9 Die sewe lampstaanders is die sewe gemeentes waaraan Johannes die boek Openbaring rig: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea. Waarom word gemeentes deur lampstaanders afgebeeld? Omdat Christene, hetsy individueel of gesamentlik as gemeentes, in hierdie duistere wêreld ‘hulle lig voor die mense moet laat skyn’ (Matteus 5:14-16). Daarbenewens was daar lampstaanders onder die toebehore in Salomo se tempel. Die feit dat die gemeentes lampstaanders genoem word, sou Johannes waarskynlik daaraan herinner het dat elke plaaslike gemeente van gesalfdes as ’t ware “God se tempel”, ’n woonplek vir God se gees, is (1 Korintiërs 3:16). Boonop dien lede van die gemeente van gesalfdes in die antitipe van die Joodse tempelreëling as “’n koninklike priesterdom” in Jehovah se groot geestelike tempelreëling, waarvan Jesus die Hoëpriester is en waar Jehovah in die hemelse Allerheiligste woon.—1 Petrus 2:4, 5, 9; Hebreërs 3:1; 6:20; 9:9-14, 24.

Die groot afvalligheid

10. Wat het in 70 G.J. met die Joodse stelsel en die onberouvolle ondersteuners daarvan gebeur?

10 Toe Johannes Openbaring geskryf het, was die Christelike geloof meer as 60 jaar oud. Aan die begin het dit 40 jaar van voortdurende teenstand deur Judaïsme oorleef. Toe het die Joodse stelsel in 70 G.J. ’n doodhou gekry toe die onberouvolle Jode hulle nasionale identiteit verloor het sowel as iets wat vir hulle feitlik ’n afgod was—die tempel in Jerusalem.

11. Waarom was dit so tydig vir die Hoofherder om die gemeentes teen ontwikkelende neigings te waarsku?

11 Die apostel Paulus het nietemin voorspel dat daar afvalligheid onder die gesalfde Christene sou wees, en Jesus se boodskappe toon dat hierdie afvalligheid reeds in Johannes se oudag aan die ontwikkel was. Johannes was die laaste van dié wat as ’n teëhouer gedien het vir hierdie volskaalse poging deur Satan om die saad van die vrou te verderf (2 Tessalonisense 2:3-12; 2 Petrus 2:1-3; 2 Johannes 7-11). Dit was dus die gepaste tyd vir Jehovah se Hoofherder om aan die ouer manne in die gemeentes te skryf en hulle teen ontwikkelende neigings te waarsku en om regskapenes aan te moedig om vas te staan vir regverdigheid.

12. (a) Hoe het die afvalligheid in die eeue ná Johannes se dag ontwikkel? (b) Hoe het die Christendom ontstaan?

12 Ons weet nie hoe die gemeentes in 96 G.J. op Jesus se boodskappe gereageer het nie. Maar ons weet wel dat die afvalligheid ná Johannes se dood vinnig ontwikkel het. “Christene” het opgehou om Jehovah se naam te gebruik en het dit in Bybelmanuskripte deur “Here” of “God” vervang. Teen die vierde eeu het die valse Drie-eenheidsleer in die gemeentes ingesypel. Gedurende hierdie selfde tydperk is die idee van ’n onsterflike siel aangeneem. Uiteindelik het die Romeinse keiser Konstantyn staatsgoedkeuring aan die “Christelike” godsdiens gegee, en dit het tot die ontwikkeling van die Christendom gelei, waar Kerk en Staat duisend jaar lank saam regeer het. Dit was maklik om ’n nuwerwetse “Christen” te word. Hele stamme het hulle vroeëre heidense oortuigings by weergawes van hierdie godsdiens aangepas. Baie van die leiers in die Christendom het onderdrukkende politieke tiranne geword en het hulle afvallige beskouings deur die swaard op ander afgedwing.

13. Watter weg het die afvallige Christene ingeslaan ondanks Jesus se waarskuwing teen sektarisme?

13 Die afvallige Christene het Jesus se woorde aan die sewe gemeentes geheel en al geïgnoreer. Jesus het die Efesiërs gewaarsku dat hulle die liefde wat hulle eers gehad het, moet herwin (Openbaring 2:4). Tog het lede van die Christendom, wat nie meer in liefde vir Jehovah verenig was nie, wrede oorloë gevoer en mekaar verskriklik vervolg (1 Johannes 4:20). Jesus het die gemeente in Pergamum teen sektarisme gewaarsku. Nietemin het sektes alreeds in die tweede eeu verskyn, en vandag is daar duisende twistende sektes en godsdienste in die Christendom.—Openbaring 2:15.

14. (a) Watter weg het verklaarde Christene ingeslaan, al het Jesus hulle teen ’n geestelik dooie toestand gewaarsku? (b) Op watter maniere het die verklaarde Christene versuim om ag te slaan op Jesus se waarskuwing teen afgodediens en onsedelikheid?

14 Jesus het die gemeente in Sardis teen ’n geestelik dooie toestand gewaarsku (Openbaring 3:1). Soos diegene in Sardis het verklaarde Christene gou van Christelike werke vergeet en kort voor lank die uiters belangrike predikingswerk aan ’n klein, betaalde geestelikeklas oorgedra. Jesus het die gemeente in Tiatira teen afgodediens en hoerery gewaarsku (Openbaring 2:20). Nogtans het die Christendom die gebruik van beelde sowel as subtieler vorme van afgodediens, soos nasionalisme en materialisme, openlik goedgekeur. En hoewel onsedelikheid soms van die preekstoel af veroordeel word, is dit nog altyd algemeen geduld.

15. Wat openbaar Jesus se woorde aan die sewe gemeentes omtrent die Christendom se godsdienste, en wat is die Christendom se geestelikes?

15 Jesus se woorde aan die sewe gemeentes openbaar derhalwe die algehele versuim van al die Christendom se godsdienste om Jehovah se spesiale volk te wees. Trouens, die geestelikes van die Christendom is die prominentste lede van Satan se saad. Die apostel Paulus het hulle “die wettelose” genoem en voorspel dat hulle “teenwoordigheid . . . volgens die werking van Satan [is] met allerhande kragtige werke en leuenagtige tekens en voortekens en met allerhande onregverdige bedrog”.—2 Tessalonisense 2:9, 10.

16. (a) Vir wie het die Christendom se leiers besondere haat getoon? (b) Wat het gedurende die Middeleeue in die Christendom plaasgevind? (c) Het die Protestantse opstand, of Hervorming, die Christendom se afvallige handelswyse laat verander?

16 Hoewel die godsdienstige sowel as die sekulêre leiers van die Christendom beweer dat hulle die herders van die kudde van God is, het hulle besondere haat getoon vir enigiemand wat mense probeer aanspoor het om die Bybel te lees of enigiemand wat hulle onskriftuurlike gebruike aan die kaak gestel het. Johannes Hus en die Bybelvertaler William Tyndale is vervolg en doodgemaak. Gedurende die donker Middeleeue het die heerskappy van die afvalliges ’n hoogtepunt bereik met die diaboliese Katolieke Inkwisisie. Enigiemand wat die leerstellings of gesag van die kerk betwis het, is genadeloos onderdruk, en derduisende sogenaamde ketters is doodgemartel of op die brandstapel verbrand. Satan het sodoende probeer verseker dat enige ware saad van God se gemalinorganisasie gou vernietig sou word. Toe die Protestantse opstand, of Hervorming, plaasgevind het (van 1517 af), het baie Protestantse kerke ’n soortgelyke onverdraagsame gees geopenbaar. Hulle het ook bloedskuldig geword deur dié wat probeer het om teenoor God en Christus lojaal te wees, ’n marteldood te laat sterf. Waarlik, “die bloed van heiliges” is vryelik uitgestort!—Openbaring 16:6; vergelyk Matteus 23:33-36.

Die saad bly bestaan

17. (a) Wat het Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid voorspel? (b) Wat het in 1918 gebeur, en tot watter verwerping en watter aanstelling het dit gelei?

17 In Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid het hy die tyd van duisternis voorspel wat sou bestaan terwyl die Christendom oppergesag voer. Nogtans sou daar deur al die eeue van afvalligheid heen individuele, koringagtige Christene, ware gesalfdes, wees (Matteus 13:24-29, 36-43). Toe die dag van die Here in Oktober 1914 aangebreek het, was daar dus nog steeds ware Christene op die aarde (Openbaring 1:10). Dit blyk dat Jehovah omtrent drie en ’n half jaar later, in 1918, na sy geestelike tempel gekom het om te oordeel, vergesel van Jesus as sy “boodskapper van die verbond” (Maleagi 3:1; Matteus 13:47-50). Dit was tyd vir die Heer om die valse Christene finaal te verwerp en ‘die getroue en verstandige slaaf oor al sy besittings’ aan te stel.—Matteus 7:22, 23; 24:45-47.

18. Watter “uur” het in 1914 aangebreek, en wat was dit tyd vir die slaaf om te doen?

18 Dit was ook tyd vir hierdie slaaf om spesiale aandag te skenk aan die dinge wat in Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes opgeteken is, soos ons kan sien uit die inhoud daarvan. Jesus meld byvoorbeeld dat hy kom om die gemeentes te oordeel, en hierdie oordeel het in 1918 begin (Openbaring 2:5, 16, 22, 23; 3:3). Hy sê ook dat hy die gemeente in Filadelfia sal beskerm in “die uur van beproewing, wat oor die hele bewoonde aarde gaan kom” (Openbaring 3:10, 11). Hierdie “uur van beproewing” het eers begin toe die dag van die Here in 1914 aangebreek het, waarna Christene getoets is ten opsigte van hulle lojaliteit teenoor die opgerigte Koninkryk van God.—Vergelyk Matteus 24:3, 9-13.

19. (a) Wat beeld die sewe gemeentes vandag af? (b) Wie het in groot getalle by die gesalfde Christene aangesluit, en waarom is Jesus se raad en die toestande wat hy beskryf, ook op hulle van toepassing? (c) Hoe moet ons Jesus se boodskappe aan die sewe eerste-eeuse gemeentes beskou?

19 Daarom is Jesus se woorde aan die gemeentes hoofsaaklik sedert 1914 van toepassing. Teen hierdie agtergrond beeld die sewe gemeentes al die gemeentes van gesalfde Christene gedurende die dag van die Here af. Daarbenewens het groot getalle gelowiges wat hoop om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe, gedurende die afgelope 70 jaar of meer aangesluit by die gesalfde Christene, wat deur Johannes afgebeeld is. Die raad van die verheerlikte Jesus Christus en die toestande wat hy tydens sy inspeksie in die sewe gemeentes aangetref het, is net soveel op hulle van toepassing, aangesien daar net een standaard van regverdigheid en getrouheid vir al Jehovah se knegte is (Eksodus 12:49; Kolossense 3:11). Jesus se boodskappe aan die sewe eerste-eeuse gemeentes in Klein-Asië is derhalwe nie bloot van geskiedkundige belang nie. Dit beteken lewe of dood vir elkeen van ons. Laat ons dan aandagtig na Jesus se woorde luister.

[Voetnote]

a In die oorspronklike Hebreeus is daar in Jesaja 44:6 nie ’n bepaalde lidwoord by die woorde “eerste” en “laaste” nie, terwyl die bepaalde lidwoord wel in die oorspronklike Grieks in Jesus se beskrywing van homself in Openbaring 1:17 voorkom. Grammaties dui Openbaring 1:17 dus ’n titel aan, terwyl Jesaja 44:6 Jehovah se Godheid beskryf.

b Die Griekse woord agʹge·los (wat “anʹge·los” uitgespreek word) beteken “boodskapper” sowel as “engel”. In Maleagi 2:7 word ’n Levitiese priester ’n “boodskapper” (Hebreeus, mal·’akhʹ) genoem.—Sien voetnoot in NW.

[Venster op bladsy 32]

’n Tyd van toetsing en oordeel

Jesus is omstreeks Oktober 29 G.J. in die Jordaanrivier gedoop en as aangewese Koning gesalf. Hy het drie en ’n half jaar later, in 33 G.J., na Jerusalem se tempel gekom en dié wat dit ’n rowerspelonk gemaak het, uitgedryf. Daar is blykbaar ’n parallel tussen hierdie tydperk en die tydperk van drie en ’n half jaar wat strek vandat Jesus in Oktober 1914 in die hemele op die troon geplaas is totdat hy gekom het om verklaarde Christene te inspekteer toe die oordeel by die huis van God begin het (Matteus 21:12, 13; 1 Petrus 4:17). Vroeg in 1918 is die Koninkryksbedrywigheid van Jehovah se volk hewig teëgestaan. Dit was oor die hele aarde ’n tyd van toetsing, en vreesagtiges is uitgesif. In Mei 1918 het die Christendom se geestelikes die gevangesetting van ampsdraers van die Wagtoringgenootskap aangestig, maar hulle is nege maande later vrygelaat. Later is die valse aanklagte teen hulle teruggetrek. Sedert 1919 het die organisasie van God se volk, nou beproef en gelouter, hulle ywerig daarop toegelê om Jehovah se Koninkryk onder Christus Jesus as die hoop vir die mensdom te verkondig.—Maleagi 3:1-3.

Toe Jesus in 1918 met sy inspeksie begin het, is die geestelikes van die Christendom ongetwyfeld veroordeel. Hulle het nie alleen die vervolging teen God se volk aangestig nie, maar het hulle ook groot bloedskuld op die hals gehaal deur die strydende nasies gedurende die Eerste Wêreldoorlog te ondersteun (Openbaring 18:21, 24). Daardie geestelikes het destyds hulle hoop op die mensgemaakte Volkebond gevestig. Teen 1919 het die Christendom, saam met die hele wêreldryk van valse godsdiens, God se guns heeltemal verloor.

[Kaart op bladsy 28, 29]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

EFESE

SMIRNA

PERGAMUM

TIATIRA

SARDIS

FILADELFIA

LAODISEA

[Prente op bladsy 31]

Die godsdiens van die Christendom het hom groot bloedskuld op die hals gehaal deur dié wat die Bybel vertaal, gelees of selfs besit het, te vervolg en dood te maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel