Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 8/15 bl. 30
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se knegte het ware hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Deur die groot verdrukking heen gered
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ”Julle verlossing kom nader”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Ons sal vir ewig in Jehovah se naam wandel!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 8/15 bl. 30

Vrae van lesers

◼ Sal party gesalfde Christene die “groot verdrukking” oorleef en op aarde in die nuwe wêreld lewe voordat hulle hemel toe geneem word?

Kortom, die Bybel sê nie.

Christene stel al lank belang in die voorregte wat God aan hulle gaan toeken (Handelinge 1:6). Dit is veral die geval in ons tyd sedert die Koninkryk opgerig is (Mattheüs 24:3, 24, 34). Omdat die einde van hierdie goddelose stelsel in hulle tyd sal kom, het Christene gewonder of sommige geesgesalfdes deur “die oorlog van daardie groot dag van . . . God” heen sal lewe en ’n tyd lank op die aarde sal dien voordat hulle hul hemelse beloning ontvang (Openbaring 16:14). Die Bybel sê nie dat dit sal gebeur nie, maar sekere voorbeelde en profesieë is beskou as aanduidings dat dit dalk die geval sal wees. Pleks van dogmaties te wees, kan ons wag om te sien hoe God sake sal reël.

Party Bybelse gebeure het later onder God se volk parallelle. Byvoorbeeld, ons weet dat Jona drie dae en drie nagte in ’n groot vis was. Sommige mense sal dit bloot as ’n voorbeeld van goddelike verlossing beskou, maar Jesus het gesê dat dit ’n profetiese voorafskaduwing was van hoe hy ’n ooreenstemmende tyd lank in die graf sou wees voor sy opstanding (Jona 1:17; Mattheüs 12:40). Ja, Jona se ondervinding was ’n profetiese tipe. Dit is te verstane dat God se knegte profesieë en spesifieke Bybelverslae in oënskou geneem het om te sien of dit aandui wat Jehovah in hulle geval gaan doen.

The Watch Tower van 15 Desember 1928 het as voorbeeld die Bybelprofesie in Miga 5:1-14 bespreek. Die boek Miga handel oor “Assur” se verwoesting van Samaria en die Jode se terugkeer uit ballingskap in Babilon (Miga 1:1, 5-7; 4:10). Maar dit dui ook op latere gebeure, soos die Messias se geboorte in Betlehem (Miga 5:1). Miga het voorspel dat “die oorblyfsel van Jakob” na hulle verlossing van “Assur” “soos dou van die HERE” en “soos ’n jong leeu onder troppe kleinvee” sou word (Miga 5:5-7). The Watch Tower het gesê: “Dit kan beskou word as ’n aanduiding dat lede van die oorblyfsel op die aarde sal wees selfs nadat Armageddon geveg is en dan nog werk sal hê wat hulle in die naam van die Here en tot sy lof en eer moet verrig.” Let op die beskeie, redelike taal wat gebruik word om hierdie moontlikheid uit te druk: “Dit kan beskou word as ’n aanduiding.”

Is daar ’n Bybelverslag wat as ’n parallel kan dien van sulke oorlewing op aarde? Een voorbeeld wat gebruik is, is dié van Noag en sy gesin. Noag is beskou as ’n afbeelding van Jesus in hierdie tyd van die einde (Genesis 6:8-10; Mattheüs 24:37). Net soos Noag sy vrou en hulle drie seuns en skoondogters deur die einde van daardie eertydse stelsel heen gelei het, sal Christus leierskap bied aan die oorblyfsel van sy bruidsklas en diegene wat kinders word van die “Ewige Vader”, Jesus. Noag se vrou het die Vloed oorleef en het gehelp om ware aanbidding op ’n gereinigde aarde te vestig. Die oorlewing van ’n oorblyfsel van die bruidsklas tot in die nuwe wêreld kan ’n parallel wees.—Jesaja 9:5, 6; 2 Korinthiërs 11:2; Openbaring 21:2, 9.a

Ander Bybelse verslae is ook beskou as aanduidings dat sommige van die gesalfdes dalk tot in die nuwe wêreld sal deurlewe. Byvoorbeeld, Jeremia het die vernietiging van Jerusalem oorleef; “die man” met die skrywer se inkpot het oorgebly om die teregstellingswerk te sien voordat hy teruggegaan het om sy verslag te gee.—Esegiël 9:4, 8, 11.

Kommentare oor die moontlikheid dat sommige van die gesalfdes tot in die nuwe wêreld behoue sal bly, word met goeie bedoelings en in die lig van Bybelse presedente gelewer in ’n poging om profesieë of afbeeldinge wat latere parallelle kan hê te verstaan. As dit blyk dat geeneen van die gesalfdes op die aarde oorgebly het nie, sal dit geen rede tot ontevredenheid wees nie. Ons het reeds aanvaar dat Bybelse aangeleenthede na verloop van tyd beter verstaan word. Byvoorbeeld, Die Wagtoring van 1 Oktober 1981 het Miga 5:5-8 weer bespreek en het verduidelik dat dit “nie vir die oorblyfsel van geestelike Israeliete nodig [was] om tot na . . . Armageddon te wag om soos verkwikkende ‘dou’ te wees vir die mense” nie. Die bespreking het weer die moontlikheid gemeld dat die oorblyfsel God se groot oorlog sal oorlewe en ’n ruk lank “sal voortgaan om soos verkwikkende ‘dou’ vir die ‘groot menigte’ ‘ander skape’ te wees”. Ons kan egter sien dat die verloop van tyd en die vermeerdering van geestelike lig ons begrip van profesie of van Bybeldramas kan verbreed of wysig.—Spreuke 4:18.

Ons weet dat die Bybel die ‘koms van die Seun van die mens’ verbind met ‘die versameling van die uitverkorenes uit die vier windstreke’ (Mattheüs 24:29-31). Gedurende “die teenwoordigheid van die Heer” in Koninkryksmag word die gesalfdes wat in die dood slaap ook opgewek tot lewe in die hemel (1 Thessalonicense 4:15, 16, NW). Hierdie verseëldes is daar om deel te word van die Lam se vrou. Wanneer gebeur dit?

In die boek Openbaring beskryf Johannes “die bruilof van die Lam” net nadat hy vertel het van God se teregstelling van die godsdienshoer, Babilon die Grote. ’n Vieslike, onsedelike “vrou” word van die toneel verwyder, en ons sien “die bruid, . . . die vrou van die Lam” ‘bekleed met rein en blink fyn linne, en die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges’ (Openbaring 18:10; 19:2, 7, 8; 21:9). Die vernietiging van Babilon die Grote is deel van die groot verdrukking (Mattheüs 24:21; Openbaring 7:14). ’n Mens kan dus redeneer dat sommige van die bruidsklas die groot verdrukking sal oorlewe as ’n blyk van Jehovah se goedkeuring en beskerming. (Sefanja 2:3; vergelyk Mattheüs 24:22.) As hulle derhalwe op die aarde bewaar word, kan hulle hier bly tot God besluit om hulle hemel toe te neem.

Die gebeure in Openbaring is egter nie streng in volgorde opgeteken nie. En dit is nie asof die klein oorblyfsel gesalfdes nodig sal wees om die nuwe wêreld aan die gang te kry nie, want hulle het reeds miljoene lojale Christene opgelei wat vir ewig op die aarde sal lewe. God kan sy gesalfdes gevolglik onmiddellik na die vernietiging van Babilon die Grote hemel toe neem, sodat alles gereed sal wees vir “die bruilof van die Lam”. So sal al die heiliges dus ’n deel daaraan kan hê om die nasies saam met Christus ‘met ’n ysterstaf te regeer’ gedurende die oorblywende tyd van die groot verdrukking (Openbaring 2:26, 27; 19:11-21). As God sake so reël, sal al die lede van die 144 000 by Christus wees om ‘as konings te regeer die hele duisend jaar lank’.—Openbaring 20:4.

Dit is beslis goed dat God se volk ’n lewendige belangstelling het om te tuur in hoe hy sy knegte sal rig en beloon. (Vergelyk 1 Petrus 1:12, NW.) Dit weerspieël hulle vertroue dat sy wil sal geskied. Hoewel ons nie dogmaties kan of behoort te wees oor besonderhede nie, kan ons gretig uitsien na wat sal gebeur.

[Voetnote]

a Vergelyk: U Kan Armageddon Oorlewe in God se Nuwe Wêreld in, bladsye 62, 293, 352; “Laat U Wil Geskied op Aarde”, bladsy 349. (Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.) Die Wagtoring van 1 September 1942, bladsy 3. (Uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel