Wees gelukkige lesers van die boek Openbaring
“Gelukkig is hy wat hardop lees en dié wat die woorde van hierdie profesie hoor en wat die dinge onderhou wat daarin geskrywe staan.”—OPENBARING 1:3.
1. In watter omstandighede het die apostel Johannes hom bevind toe hy Openbaring geskryf het, en met watter doel is hierdie visioene neergeskryf?
“EK, JOHANNES, . . . het my op die eiland bevind wat Patmos genoem word, omdat ek oor God gepraat en van Jesus getuig het” (Openbaring 1:9). Dit was die omstandighede waaronder die apostel Johannes die boek Apokalips, of Openbaring, geskryf het. Hy is vermoedelik na Patmos verban gedurende die heerskappy van die Romeinse keiser Domitianus (81-96 G.J.), wat keiseraanbidding afgedwing het en ’n vervolger van Christene geword het. Terwyl Johannes op Patmos was, het hy ’n reeks visioene ontvang wat hy neergeskryf het. Hy het dit nie opgeteken om die vroeë Christene bang te maak nie, maar om hulle te versterk, te bemoedig en aan te spoor met die oog op die beproewinge wat hulle verduur het en dié wat nog vir hulle voorgelê het.—Handelinge 28:22; Openbaring 1:4; 2:3, 9, 10, 13.
2. Waarom is die situasie waarin Johannes en sy mede-Christene hulle bevind het van belang vir Christene wat vandag lewe?
2 Die omstandighede waaronder hierdie Bybelboek geskryf is, is baie betekenisvol vir Christene wat vandag lewe. Johannes is vervolg omdat hy ’n getuie vir Jehovah en Sy Seun, Christus Jesus, was. Hy en sy mede-Christene het in ’n vyandige klimaat gelewe omdat hulle nie keiseraanbidding beoefen het nie, hoewel hulle probeer het om goeie burgers te wees (Lukas 4:8). In party lande bevind ware Christene hulle vandag in ’n soortgelyke situasie, waar die Staat hom die reg toe-eien om te bepaal wat “godsdienstig korrek” is. Hoe bemoedigend is die woorde in die inleiding van die boek Openbaring dus tog: “Gelukkig is hy wat hardop lees en dié wat die woorde van hierdie profesie hoor en wat die dinge onderhou wat daarin geskrywe staan; want die vasgestelde tyd is naby” (Openbaring 1:3). Ja, mense wat Openbaring met aandag lees en gehoorsaam is aan die raad daarin kan ware geluk vind en baie seëninge ontvang.
3. Wie is die Bron van die Openbaring wat aan Johannes gegee is?
3 Wie is die werklike Bron van die Openbaring, en watter kanaal word gebruik om dit oor te dra? Die eerste vers sê vir ons: “’n Openbaring deur Jesus Christus, wat God hom gegee het, om vir sy slawe die dinge te toon wat binnekort moet plaasvind. En hy het sy engel uitgestuur en dit deur hom in tekens aan sy slaaf Johannes oorgedra” (Openbaring 1:1). Kortom, die Bron van die Openbaring is eintlik Jehovah God, wat dit aan Jesus gegee het, en Jesus het dit deur middel van ’n engel aan Johannes oorgedra. Nadere ondersoek toon dat Jesus ook die heilige gees gebruik het om boodskappe aan die gemeentes oor te dra en visioene aan Johannes te gee.—Openbaring 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22; 4:2; 17:3; 21:10; vergelyk Handelinge 2:33.
4. Watter middele gebruik Jehovah nog steeds vandag om sy volk op aarde te lei?
4 Jehovah gebruik nog steeds sy Seun, die “hoof van die gemeente”, om sy knegte op aarde te leer (Efesiërs 5:23; Jesaja 54:13; Johannes 6:45). Jehovah gebruik ook sy gees om sy volk te onderrig (Johannes 15:26; 1 Korintiërs 2:10). En net soos Jesus “sy slaaf Johannes” gebruik het om opbouende geestelike voedsel aan die eerste-eeuse gemeentes oor te dra, gebruik hy vandag “die getroue en verstandige slaaf”, wat uit sy gesalfde “broers” op aarde saamgestel is, om aan sy huisknegte en hulle metgeselle geestelike “voedsel op die regte tyd” te gee (Matteus 24:45-47; 25:40). Diegene wat die Bron erken van die ‘goeie gawes’ wat ons in die vorm van geestelike voedsel ontvang asook die kanaal wat Hy gebruik, is inderdaad gelukkig.—Jakobus 1:17.
Gemeentes deur Christus gelei
5. (a) Waarmee word Christengemeentes en hulle opsieners vergelyk? (b) Wat sal, ten spyte van ons menslike onvolmaaktheid, tot ons geluk bydra?
5 In die eerste hoofstukke van Openbaring word Christengemeentes met lampstanders vergelyk. Die opsieners daarvan word met engele (boodskappers) en met sterre vergelyk (Openbaring 1:20).a Christus praat van homself en sê vir Johannes om te skryf: “Hierdie dinge sê hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, hy wat tussen die sewe goue lampstanders wandel” (Openbaring 2:1). Die sewe boodskappe wat aan die sewe gemeentes in Asië gestuur is, toon dat die gemeentes in die eerste eeu G.J. sowel as hulle ouer manne sterk punte en swak punte gehad het. Dieselfde is waar vandag. Ons sal derhalwe baie gelukkiger wees as ons altyd die feit in gedagte hou dat Christus, ons Hoof, in die midde van die gemeentes is. Hy weet presies wat aan die gang is. Die opsieners is simbolies gesproke “in sy regterhand”, dit wil sê onder sy beheer en leiding en hulle moet aan hom rekenskap gee van die manier waarop hulle as herders oor die gemeentes toesig hou.—Handelinge 20:28; Hebreërs 13:17.
6. Wat toon dat dit nie net die opsieners is wat rekenskap aan Christus moet gee nie?
6 Ons sal onsself egter bedrieg as ons dink dat dit net die opsieners is wat aan Christus rekenskap moet gee van hulle dade. In een van sy boodskappe het Christus gesê: “Al die gemeentes sal weet dat dit ek is wat die niere en harte deursoek, en ek sal aan julle individueel gee volgens julle dade” (Openbaring 2:23). Dit is ’n waarskuwing sowel as ’n bemoediging—’n waarskuwing dat Christus ons diepgewortelde beweegredes ken, en ’n bemoediging omdat dit ons verseker dat Christus bewus is van die pogings wat ons aanwend en ons sal seën as ons ons bes doen.—Markus 14:6-9; Lukas 21:3, 4.
7. Hoe het Christene in Filadelfia ‘die woord oor Jesus se volharding bewaar’?
7 Christus se boodskap aan die gemeente in die Lidiese stad Filadelfia bevat geen teregwysing nie, maar dit het wel ’n belofte waarin ons beslis moet belangstel. “Omdat jy die woord oor my volharding bewaar het, sal ek jou ook bewaar van die uur van beproewing, wat oor die hele bewoonde aarde gaan kom om dié wat op die aarde woon op die proef te stel” (Openbaring 3:10). Die Grieks vir “die woord oor my volharding bewaar het”, kan ook beteken “onderhou het wat ek oor volharding gesê het”. Vers 8 toon dat die Christene in Filadelfia nie net Christus se bevele gehoorsaam het nie, maar ook sy raad gevolg het deur self getrou te volhard.—Matteus 10:22; Lukas 21:19.
8. (a) Watter belofte het Jesus aan die Christene in Filadelfia gemaak? (b) Wie word vandag geraak deur “die uur van beproewing”?
8 Jesus het bygevoeg dat hy hulle sou bewaar van “die uur van beproewing”. Ons weet nie presies wat dit destyds vir daardie Christene beteken het nie. Hoewel die vervolging ná die dood van Domitianus in 96 G.J. ’n ruk lank opgehou het, het ’n nuwe vlaag van vervolging onder Trajanus (98-117 G.J.) begin, wat ongetwyfeld verdere beproewinge meegebring het. Maar die grootste “uur van beproewing” vind plaas in “die dag van die Here” gedurende “die tyd van die einde”, die tyd waarin ons ons nou bevind (Openbaring 1:10; Daniël 12:4). Geesgesalfde Christene het veral ’n tyd van beproewing ondergaan gedurende die tyd van die Eerste Wêreldoorlog en onmiddellik daarna. Maar “die uur van beproewing” duur nog voort. Dit raak “die hele bewoonde aarde”, insluitende die miljoene wat die groot skare vorm en wat die hoop het om die groot verdrukking te oorleef (Openbaring 3:10; 7:9, 14). Ons sal gelukkig wees as ons ‘onderhou wat Jesus oor volharding gesê het’, naamlik: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word.”—Matteus 24:13.
Gelukkig om ons aan Jehovah se soewereiniteit te onderwerp
9, 10. (a) Watter uitwerking moet die visioen van Jehovah se troon op ons hê? (b) Hoe kan dit tot ons geluk bydra as ons Openbaring lees?
9 Die visioen van Jehovah se troon en van sy hemelse hof wat in hoofstukke 4 en 5 van Openbaring gegee word, behoort ons met ontsag te vervul. Die opregte lofbetuigings wat deur die magtige hemelse skepsele geuiter word terwyl hulle hulle vreugdevol aan Jehovah se regverdige soewereiniteit onderwerp, behoort ’n groot indruk op ons te maak (Openbaring 4:8-11). Ons stemme moet saam met diegene gehoor word wat sê: “Aan die Een wat op die troon sit en aan die Lam sy die seën en die eer en die heerlikheid en die mag vir ewig en altyd.”—Openbaring 5:13.
10 Dit beteken in werklikheid dat ons ons vreugdevol onderwerp aan Jehovah se wil in alle dinge. Die apostel Paulus het geskryf: “Wat julle ook al in woord of in werk doen, doen alles in die naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur hom dank” (Kolossense 3:17). As ons Openbaring lees, sal dit ons waarlik gelukkig maak as ons diep in ons verstand en hart Jehovah se soewereiniteit erken en sy wil in elke aspek van ons lewe in aanmerking neem.
11, 12. (a) Hoe sal Satan se aardse stelsel geskud en vernietig word? (b) Wie sal volgens Openbaring hoofstuk 7 gedurende daardie tyd “kan staan”?
11 Vreugdevolle onderworpenheid aan Jehovah se soewereiniteit is die grondslag vir geluk op individuele vlak sowel as op universele vlak. ’n Simboliese groot aardbewing gaan binnekort Satan se wêreldstelsel tot in sy fondamente skud en dit vernietig. Daar sal geen skuilplek wees vir mense wat weier om hulle te onderwerp aan Christus se hemelse Koninkryksregering wat God se regmatige heerskappy verteenwoordig nie. Die profesie sê: “Die konings van die aarde en die hooggeplaastes en die militêre bevelvoerders en die rykes en die sterkes en elke slaaf en elke vrye het hulle in die grotte en in die rotse van die berge verberg. En hulle hou aan om vir die berge en vir die rotse te sê: ‘Val op ons en verberg ons vir die aangesig van die Een wat op die troon sit en vir die gramskap van die Lam, want die groot dag van hulle gramskap het gekom, en wie kan staan?’”—Openbaring 6:12, 15-17.
12 Wat hierdie vraag betref, sê die apostel Johannes in die volgende hoofstuk dat diegene wat die groot skare vorm en uit die groot verdrukking kom “voor die troon en voor die Lam staan” (Openbaring 7:9, 14, 15). Die feit dat hulle voor die troon van God staan, toon dat hulle daardie troon erken en hulle ten volle aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp. Hulle is dus in ’n goedgekeurde posisie.
13. (a) Wie word deur die meeste bewoners van die aarde aanbid, en wat stel die merk op hulle voorkop of op hulle hand voor? (b) Waarom sal volharding dus nodig wees?
13 Daarenteen beskryf hoofstuk 13 hoe die res van die aarde se bewoners Satan se politieke stelsel, wat deur ’n wilde dier voorgestel word, aanbid. Hulle ontvang ’n merk op hulle “voorkop” of op hulle ‘hand’, wat hulle verstandelike en fisiese steun aan daardie stelsel toon (Openbaring 13:1-8, 16, 17). Dan voeg hoofstuk 14 by: “As iemand die wilde dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang, sal hy ook van die wyn van die toorn van God drink wat onverdun in die beker van sy gramskap ingeskink is . . . Hiér beteken dit volharding vir die heiliges, dié wat die gebooie van God en die geloof van Jesus onderhou” (Openbaring 14:9, 10, 12). Met verloop van tyd sal hierdie vraag al hoe meer gevra word: Aan wie gee jy jou steun? Aan Jehovah en sy soewereiniteit of die goddelose politieke stelsel wat deur die wilde dier voorgestel word? Diegene wat nie die merk van die dier ontvang nie en wat getrou daarin volhard om hulle aan Jehovah se soewereiniteit te onderwerp, sal gelukkig wees.
14, 15. Watter boodskap onderbreek Openbaring se beskrywing van Armageddon, en wat beteken dit vir ons?
14 Die heersers van “die hele bewoonde aarde” stuur af op ’n botsing, oftewel ’n konfrontasie met Jehovah oor die geskil van soewereiniteit. Hierdie konfrontasie sal Armageddon wees, “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” (Openbaring 16:14, 16). ’n Interessante bygedagte verskyn in die middel van die beskrywing van die aarde se regeerders wat vir die oorlog met Jehovah versamel word. Jesus self onderbreek die visioen deur te sê: “Kyk! Ek kom soos ’n dief. Gelukkig is die een wat wakker bly en sy boklere bewaar, sodat hy nie naak sal loop en mense sy skande sien nie” (Openbaring 16:15). Dit kan sinspeel op Levitiese tempelwagte; hulle klere is uitgetrek en hulle is in die openbaar verneder as hulle op hulle wagpos aan die slaap gevind is.
15 Die boodskap is duidelik: As ons Armageddon wil oorleef, moet ons geestelik wakker bly en die simboliese klere aanhou wat ons as getroue Getuies van Jehovah God identifiseer. Ons sal gelukkig wees as ons geestelike lomerigheid vermy en sonder ophou voortgaan om die “ewige goeie nuus” van God se opgerigte Koninkryk ywerig te verkondig.—Openbaring 14:6.
‘Gelukkig is enigeen wat hierdie woorde onderhou’
16. Waarom is die slothoofstukke van Openbaring veral ’n rede tot blydskap?
16 Gelukkige lesers van die boek Openbaring kan nie anders as om met blydskap vervul te word wanneer hulle die slothoofstukke lees wat ons wonderlike hoop beskryf nie—’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde, dit wil sê ’n regverdige hemelse Koninkryksregering wat oor ’n nuwe, gereinigde mensegemeenskap regeer, alles tot eer van “Jehovah God, die Almagtige” (Openbaring 21:22). Toe die wonderlike reeks visioene tot ’n einde kom, het die engeleboodskapper vir Johannes gesê: “Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; ja, Jehovah, die God van die geïnspireerde uitinge van die profete, het sy engel uitgestuur om vir sy slawe die dinge te toon wat binnekort moet plaasvind. En kyk! ek kom gou. Gelukkig is enigeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol onderhou.”—Openbaring 22:6, 7.
17. (a) Watter versekering word in Openbaring 22:6 gegee? (b) Wat sal ons vermy as ons waaksaam is?
17 Openbaring se gelukkige lesers sal onthou dat soortgelyke woorde aan die begin van die “boekrol” verskyn (Openbaring 1:1, 3). Hierdie woorde verseker ons dat al “die dinge” wat in hierdie laaste boek van die Bybel voorspel is ‘binnekort sal plaasvind’. Ons lewe so diep in die tyd van die einde dat gebeure wat daarmee verband hou en wat in Openbaring voorspel is beslis binnekort en vinnig na mekaar sal plaasvind. Enige oënskynlike bestendigheid in Satan se stelsel moet ons dus nie aan die slaap sus nie. ’n Waaksame leser sal die waarskuwings onthou wat gegee word in die boodskappe wat aan die sewe gemeentes in Asië gestuur is en sal die strikke van materialisme, afgodediens, onsedelikheid, ’n louwarm toestand en afvallige sektevorming vermy.
18, 19. (a) Waarom moet Jesus nog kom, en watter hoop wat deur Johannes uitgespreek is, het ons ook? (b) Om watter rede moet Jehovah nog “kom”?
18 In die boek Openbaring kondig Jesus etlike kere aan: “Ek kom gou” (Openbaring 2:16; 3:11; 22:7, 20a). Hy moet nog kom om oordeel te voltrek aan Babilon die Grote, aan Satan se politieke stelsel en aan alle mense wat weier om hulle aan Jehovah se soewereiniteit te onderwerp, soos dit nou deur die Messiaanse Koninkryk uitgeoefen word. Ons voeg ons stemme by dié van die apostel Johannes wat uitgeroep het: “Amen! Kom, Here Jesus.”—Openbaring 22:20b.
19 Jehovah self verklaar: “Kyk! Ek kom gou, en die loon wat ek gee, is by my, om elkeen te vergeld soos sy werk is” (Openbaring 22:12). Terwyl ons wag om die wonderlike beloning van ewige lewe te ontvang as deel van die beloofde “nuwe hemel” of die “nuwe aarde”, laat ons ywerig die uitnodiging aan alle opregtes van hart rig: “‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Mag hulle ook gelukkige lesers van die geïnspireerde en besielende boek Openbaring word!
[Voetnoot]
a Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 28-9, 136 (voetnoot).
Punte ter hersiening
◻ Watter kanaal het Jehovah gebruik om die Openbaring oor te dra, en wat kan ons hieruit leer?
◻ Waarom moet dit ons gelukkig maak om die boodskappe te lees wat aan die sewe gemeentes in Asië gestuur is?
◻ Hoe kan ons veilig bewaar word gedurende “die uur van beproewing”?
◻ Watter geluk sal ons ondervind as ons die woorde onderhou van die boekrol waarin die Openbaring opgeteken is?
[Prent op bladsy 15]
Gelukkig is dié wat die Bron van die blye tyding erken
[Prent op bladsy 18]
Gelukkig is die een wat wakker bly