Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 14 bl. 74-82
  • Die luisterrykheid van Jehovah se hemelse troon

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die luisterrykheid van Jehovah se hemelse troon
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se glansende teenwoordigheid
  • Die identiteit van die 24 ouderlinge
  • Weerligstrale, stemme en donderslae
  • Vuurlampe en ’n glasagtige see
  • Kyk—“Vier lewende wesens”!
  • Jehovah se lof weerklink
  • “Wie is waardig om die boekrol oop te maak?”
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Wie is “die lewende wesens met vier gesigte”?
    Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
  • Waardeer jy Jehovah se organisasie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Is God alomteenwoordig?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 14 bl. 74-82

Hoofstuk 14

Die luisterrykheid van Jehovah se hemelse troon

Visioen 2—Openbaring 4:1–5:14

Onderwerp: Ontsagwekkende gebeure voor God se oordeelstroon

Tyd van vervulling: Hierdie visioen beeld gebeure uit wat plaasvind vanaf 1914 tot aan die einde van die Millennium en daarna, wanneer elke skepsel wat in die hemel en op die aarde is, Jehovah sal loof.—Openbaring 5:13

1. Waarom moet ons lewendige belangstelling toon in die visioene waarvan Johannes ons vertel?

JOHANNES begin ons van verdere besielende visioene vertel. Deur inspirasie is hy nog steeds in die dag van die Here. Wat hy beskryf, is dus van groot betekenis vir ons wat werklik in daardie dag lewe. Deur middel van hierdie visioene lig Jehovah die sluier van onsigbaarheid van hemelse werklikhede af en gee hy ons sy beskouing van sy oordele wat op die aarde voltrek gaan word. Bowendien help hierdie openbarings ons om ons plek in Jehovah se voorneme te sien, hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het. Ons moet dus almal voortgaan om lewendige belangstelling in Johannes se woorde te toon: “Gelukkig is hy wat die woorde van hierdie profesie hardop lees en dié wat dit hoor en wat die dinge onderhou wat daarin geskrywe staan.”—Openbaring 1:3.

2. Watter ondervinding het Johannes nou?

2 Wat Johannes hierna sien, oortref enigiets wat deur video aan die mensdom in ons tyd vertoon word! Hy skryf: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk! ’n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek gehoor het, was soos van ’n trompet en het met my gepraat en gesê: ‘Kom op hierheen, en ek sal jou die dinge toon wat moet plaasvind’” (Openbaring 4:1). Johannes gaan in ’n visioen Jehovah se teenwoordigheid in die onsigbare hemele binne, wat ver verhewe is bo die fisiese buitenste ruimte wat deur menslike ruimtevaarders verken is, selfs ver bo die sterrestelsels van die stoflike heelal. Asof hy deur ’n geopende deur ingaan, word Johannes genooi om ’n asemrowende panorama van die hoogste geestehemele te aanskou waar Jehovah self op sy troon sit (Psalm 11:4; Jesaja 66:1). Wat ’n voorreg!

3. Waaraan herinner die stem “soos van ’n trompet” ons, en wie is ongetwyfeld die Bron daarvan?

3 Die Bybel identifiseer nie hierdie “eerste stem” nie. Soos Jesus se sterk stem wat vroeër gehoor is, het dit ’n gebiedende klank soos dié van ’n trompet (Openbaring 1:10, 11). Dit laat ons dink aan die deurdringende geluid van die horing wat ’n teken was van Jehovah se teenwoordigheid op die berg Sinai (Eksodus 19:18-20). Jehovah is ongetwyfeld die majestueuse Bron van die oproep (Openbaring 1:1). Hy het die deur oopgemaak sodat Johannes, in ’n visioen, die allerheiligste plek in die ganse onmeetlike ryk van Jehovah se soewereiniteit kan binnegaan.

Jehovah se glansende teenwoordigheid

4. (a) Watter betekenis het Johannes se visioen vir gesalfde Christene? (b) Watter betekenis het die visioen vir dié wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe?

4 Wat sien Johannes? Luister terwyl hy ons nou van sy wonderlike ondervinding vertel: “Ná hierdie dinge het ek onmiddellik onder die krag van die gees gekom: en kyk! daar het ’n troon in die hemel gestaan, en iemand sit op die troon” (Openbaring 4:2). Johannes word in ’n oogwink in geestelike sin deur God se werkende krag na die troon van Jehovah geneem. Hoe opwindend moes dit tog vir Johannes gewees het! Hier word hy ’n skitterende voorskou gegee van daardie selfde hemele waarin daar vir hom en ander gesalfde Christene “’n onverderflike en onbesmette en onverwelklike erfenis” bewaar word (1 Petrus 1:3-5; Filippense 3:20). Johannes se visioen het ook groot betekenis vir dié wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Dit help hulle om die heerlikheid van Jehovah se teenwoordigheid te begryp, sowel as dié van die hemelse regeringstruktuur wat deur Jehovah gebruik word om die nasies te oordeel en daarna oor mense op die aarde te regeer. Jehovah is inderdaad die God van uitnemende organisasie!

5. Watter werklikheid sien Johannes wat deur die deksel van die verbondsark gesimboliseer is?

5 Baie van wat Johannes daar bo in die hemel sien, stem ooreen met kenmerke van die tabernakel in die wildernis. Dit is sowat 1 600 jaar tevore as ’n heiligdom van ware aanbidding vir die Israeliete opgerig. In die Allerheiligste van daardie tabernakel was die verbondsark, en dit was van bokant daardie Ark se deksel van soliede goud dat Jehovah self gepraat het (Eksodus 25:17-22; Hebreërs 9:5). Die deksel van die Ark was dus ’n simbool van Jehovah se troon. Johannes sien nou die werklikheid van daardie simboliese voorstelling: die Soewereine Heer Jehovah self wat in grootse heerlikheid op sy verhewe hemelse troon sit!

6. Watter indruk van Jehovah gee Johannes ons, en waarom is dit gepas?

6 In teenstelling met vroeëre profete wat visioene van Jehovah se troon gehad het, gee Johannes nie ’n breedvoerige beskrywing van die Heilige wat daarop sit nie (Esegiël 1:26, 27; Daniël 7:9, 10). Maar Johannes gee ons sy indruk van die Een op die troon met hierdie woorde: “En hy wat daarop sit, is in sy voorkoms soos ’n jaspissteen en ’n kosbare rooikleurige steen, en rondom die troon is daar ’n reënboog wat in sy voorkoms soos ’n smarag is” (Openbaring 4:3). Watter onvergelyklike luister! Johannes sien kalm, skitterende skoonheid soos dié van glansende, glimmende edelstene. Hoe gepas stem dit tog ooreen met die dissipel Jakobus se beskrywing van Jehovah as “die Vader van die hemelse ligte”! (Jakobus 1:17). Kort nadat Johannes Openbaring geskryf het, het hy self gesê dat “God lig is en daar hoegenaamd geen duisternis in eenheid met hom is nie” (1 Johannes 1:5). Wat ’n uiters glorieryke Persoon is Jehovah tog!

7. Wat kan ons leer uit die feit dat daar ’n reënboog rondom Jehovah se troon is?

7 Let daarop dat Johannes ’n smaraggroen reënboog rondom die troon sien. Die Griekse woord wat hier met reënboog (irʹis) vertaal word, dui op ’n voltooide sirkel. Die reënboog word vir die eerste keer in die Bybel gemeld in verband met Noag se dag. Nadat die waters van die Vloed afgeneem het, het Jehovah ’n reënboog in die wolk laat verskyn, en hy het soos volg verduidelik wat dit gesimboliseer het: “My reënboog gee ek in die wolk, en dit sal dien as ’n teken van die verbond tussen my en die aarde. En ek sal beslis dink aan my verbond wat tussen my en julle en elke lewende siel van alle vlees is; en nie weer sal die waters ’n sondvloed word om alle vlees te verdelg nie” (Genesis 9:13, 15). Waaraan sou die hemelse visioen Johannes dan laat dink? Die reënboog wat hy gesien het, het hom ongetwyfeld laat dink aan die noodsaaklikheid van ’n vreedsame verhouding met Jehovah, soos die Johannes-klas vandag geniet. Dit sou hom ook terdeë bewus gemaak het van die kalmte en vrede van Jehovah se teenwoordigheid, ’n kalmte wat tot alle gehoorsame mense sal uitbrei wanneer Jehovah sy tent in die “nuwe aarde”-gemeenskap oor die mensdom uitsprei.—Psalm 119:165; Filippense 4:7; Openbaring 21:1-4.

Die identiteit van die 24 ouderlinge

8. Wie sien Johannes rondom die troon, en wie beeld hulle af?

8 Johannes het geweet dat priesters aangestel is om in die eertydse tabernakel te dien. Daarom was hy dalk verbaas om te sien wat hy vervolgens beskryf: “En rondom die troon is daar vier-en-twintig trone, en op hierdie trone het ek vier-en-twintig ouderlinge sien sit, geklee in wit boklere en met goue krone op hulle koppe” (Openbaring 4:4). Ja, pleks van priesters is daar 24 ouderlinge, wat soos konings op trone sit en gekroon is. Wie is hierdie ouderlinge? Hulle is niemand anders nie as gesalfde lede van die Christengemeente, wat opgewek is en die hemelse posisie beklee wat Jehovah aan hulle beloof het. Hoe weet ons dit?

9, 10. Hoe weet ons dat die 24 ouderlinge die gesalfde Christengemeente in sy glorieryke hemelse posisie afbeeld?

9 In die eerste plek dra hulle krone. Die Bybel sê dat gesalfde Christene ‘’n onverderflike kroon’ en eindelose lewe—onsterflikheid—verkry (1 Korintiërs 9:25; 15:53, 54). Maar aangesien hierdie 24 ouderlinge op trone sit, beeld die goue krone in hierdie konteks koninklike gesag af. (Vergelyk Openbaring 6:2; 14:14.) Dit staaf die gevolgtrekking dat die 24 ouderlinge Jesus se gesalfde voetstapnavolgers in hulle hemelse posisie afbeeld, want Jesus het ’n verbond met hulle gesluit om in sy Koninkryk op trone te sit (Lukas 22:28-30). Net Jesus en hierdie 24 ouderlinge—nie eens die engele nie—word beskryf as persone wat in die hemel in Jehovah se teenwoordigheid regeer.

10 Dit is in ooreenstemming met die belofte wat Jesus aan die gemeente in Laodisea gemaak het: “Aan die een wat oorwin, sal ek gee om saam met my op my troon te sit” (Openbaring 3:21). Maar die hemelse toewysing van die 24 ouderlinge is nie beperk tot heerskappy nie. In die inleiding tot die boek Openbaring het Johannes van Jesus gesê: “Hy het ons ’n koninkryk gemaak, priesters vir sy God en Vader” (Openbaring 1:5, 6). Hulle is konings sowel as priesters. “Hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom as konings heers.”—Openbaring 20:6.

11. Waarom is dit gepas dat daar 24 ouderlinge is, en wat dui hierdie getal aan?

11 Wat is betekenisvol omtrent die getal 24, aangesien Johannes 24 ouderlinge rondom die troon sien? Hulle is in baie opsigte deur die getroue priesters van eertydse Israel voorafgeskadu. Die apostel Petrus het aan gesalfde Christene geskryf: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit’” (1 Petrus 2:9). Dit is interessant dat die eertydse Joodse priesterdom in 24 afdelings verdeel is. Elke afdeling is sekere weke in die jaar gegee om voor Jehovah te dien, sodat heilige diens ononderbroke verrig is (1 Kronieke 24:5-19). Dit is dus gepas dat daar 24 ouderlinge in Johannes se visioen van die hemelse priesterdom uitgebeeld word, want hierdie priesterdom dien Jehovah voortdurend, sonder ophou. Wanneer dit voltallig is, sal daar 24 afdelings wees, elk met 6 000 oorwinnaars, want Openbaring 14:1-4 sê vir ons dat 144 000 (24 x 6 000) “uit die mensdom gekoop” word om saam met die Lam, Jesus Christus, op die hemelse berg Sion te staan. Aangesien die getal 12 ’n goddelik gebalanseerde organisasie aandui, verdubbel—of versterk—die getal 24 so ’n reëling.

Weerligstrale, stemme en donderslae

12. Wat sien en hoor Johannes hierna, en waaraan laat die “weerligstrale en stemme en donderslae” ons dink?

12 Wat sien en hoor Johannes hierna? “En uit die troon gaan daar weerligstrale en stemme en donderslae uit” (Openbaring 4:5a). Hoe laat dit ons tog aan ander ontsagwekkende openbarings van Jehovah se hemelse krag dink! Toe Jehovah op die berg Sinai “neergedaal het”, het Moses byvoorbeeld gesê: “Op die derde dag, toe dit oggend word, het daar donderslae en weerligstrale gekom, en ’n swaar wolk op die berg en ’n baie harde geluid van ’n horing. . . . Toe die geluid van die horing al hoe harder en harder word, het Moses begin praat, en die ware God het hom met ’n stem begin antwoord.”—Eksodus 19:16-19.

13. Wat word voorgestel deur die weerligstrale wat uit Jehovah se troon uitgaan?

13 Gedurende die dag van die Here openbaar Jehovah sy krag en teenwoordigheid op ’n verhewe manier. Nee, nie deur letterlike weerlig nie, want Johannes sien tekens. Wat stel die weerligstrale dan voor? Wel, weerligstrale kan verlig, maar hulle kan ’n mens ook doodslaan. Hierdie weerligstrale wat uit Jehovah se troon uitgaan, is dus ’n goeie voorstelling van die flitse van verligting wat hy sy volk voortdurend gee en, selfs belangriker, van sy vurige oordeelsboodskappe.—Vergelyk Psalm 18:14; 144:5, 6; Matteus 4:14-17; 24:27.

14. Hoe weerklink stemme vandag?

14 Wat van die stemme? Toe Jehovah op die berg Sinai neergedaal het, het ’n stem met Moses gepraat (Eksodus 19:19). Stemme uit die hemel het baie van die bevele en verklarings in die boek Openbaring bekend gemaak (Openbaring 4:1; 10:4, 8; 11:12; 12:10; 14:13; 16:1, 17; 18:4; 19:5; 21:3). Jehovah maak vandag ook bevele en verklarings aan sy volk bekend en verhelder sodoende hulle begrip van Bybelprofesieë en -beginsels. Insiggewende inligting word dikwels by internasionale byeenkomste geopenbaar, en sulke Bybelwaarhede word dan wêreldwyd verkondig. Die apostel Paulus het van getroue verkondigers van die goeie nuus gesê: “Kyk, in werklikheid ‘het hulle geluid oor die hele aarde uitgegaan en hulle woorde tot aan die eindes van die bewoonde aarde’.”—Romeine 10:18.

15. Watter donderslae het gedurende hierdie deel van die dag van die Here uit die troon uitgegaan?

15 Donder volg gewoonlik op weerlig. Dawid het na letterlike donder as “die stem van Jehovah” verwys (Psalm 29:3, 4). Toe Jehovah vir Dawid teen sy vyande geveg het, is daar gesê dat donder van Hom af gekom het (2 Samuel 22:14; Psalm 18:13). Elihu het vir Job gesê dat Jehovah se stem soos donderweer klink terwyl Hy “groot dinge doen wat ons nie kan weet nie” (Job 37:4, 5). Gedurende hierdie deel van die dag van die Here het Jehovah ‘gedonder’ deur te waarsku van die groot dade wat hy teen sy vyande gaan verrig. Hierdie simboliese donderslae het herhaaldelik deur die hele aarde weergalm. Gelukkig is jy as jy aandag geskenk het aan hierdie dawerende aankondigings en jou tong verstandig gebruik om hulle selfs harder te laat weerklink!—Jesaja 50:4, 5; 61:1, 2.

Vuurlampe en ’n glasagtige see

16. Wat beteken die “sewe vuurlampe”?

16 Wat sien Johannes verder? Dit: “En daar is sewe vuurlampe wat voor die troon brand, en hulle beteken die sewe geeste van God. En voor die troon is daar as ’t ware ’n glasagtige see soos kristal” (Openbaring 4:5b, 6a). Johannes self sê vir ons wat die sewe lampe beteken: “Hulle beteken die sewe geeste van God.” Die getal sewe simboliseer goddelike volkomenheid; gevolglik moet die sewe lampe die volheid van die verligtende krag van die heilige gees afbeeld. Hoe dankbaar is die Johannes-klas tog vandag dat hierdie verligting aan hulle toevertrou is, tesame met die verantwoordelikheid om dit aan die geestelik honger volke van die aarde te verkondig! Hoe bly is ons tog dat honderdmiljoene eksemplare van Die Wagtoring nog steeds elke jaar hierdie lig in ongeveer 150 tale uitstraal!—Psalm 43:3.

17. Wat simboliseer die “glasagtige see soos kristal”?

17 Johannes sien ook ’n “glasagtige see soos kristal”. Wat simboliseer dit met betrekking tot dié wat in Jehovah se hemelse hof ingenooi word? Paulus het gepraat van die manier waarop Jesus die gemeente geheilig het, “deur dit met die waterbad deur middel van die woord te reinig” (Efesiërs 5:26). Voor sy dood het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle is reeds skoon weens die woord wat ek tot julle gespreek het” (Johannes 15:3). Hierdie glasagtige see soos kristal moet dus die reinigende, opgetekende Woord van God afbeeld. Die lede van die koninklike priesterdom wat in Jehovah se teenwoordigheid inkom, moet reeds deeglik deur sy Woord gereinig wees.

Kyk—“Vier lewende wesens”!

18. Wat sien Johannes in die middel van en rondom die troon?

18 Johannes sien nou iets anders. Hy skryf: “En in die middel van die troon en rondom die troon is daar vier lewende wesens wat van voor en van agter vol oë is.”—Openbaring 4:6b.

19. Wat word deur die vier lewende wesens afgebeeld, en hoe weet ons dit?

19 Wat beeld hierdie wesens af? ’n Visioen wat deur ’n ander profeet, Esegiël, opgeteken is, help ons om die antwoord te vind. Esegiël het Jehovah op ’n hemelse strydwa op sy troon sien sit, vergesel van lewende wesens wat eienskappe beliggaam wat soortgelyk is aan dié wat deur Johannes beskryf word (Esegiël 1:5-11, 22-28). Later het Esegiël weer daardie strydwa-troon, vergesel van die lewende wesens, gesien. Maar hierdie keer het hy na die lewende wesens verwys as gerubs (Esegiël 10:9-15). Die vier lewende wesens wat Johannes sien, moet God se baie gerubs afbeeld—hooggeplaaste skepsele in Sy geeste-organisasie. Johannes sou dit nie vreemd vind om gerubs so naby aan Jehovah self te sien nie, want in die eertydse tabernakel was daar twee goue gerubs op die deksel van die verbondsark, wat Jehovah se troon afgebeeld het. Jehovah se stem het tussen hierdie gerubs uit gebooie aan die nasie gegee.—Eksodus 25:22; Psalm 80:1.

20. Hoe kan daar gesê word dat die vier lewende wesens “in die middel van die troon en rondom die troon” is?

20 Hierdie vier lewende wesens is “in die middel van die troon en rondom die troon”. Presies wat beteken dit? Dit kan aandui dat hulle op so ’n manier rondom die troon geplaas is dat een in die middel van elke kant staan. Die vertalers van Today’s English Version het die oorspronklike Griekse uitdrukking derhalwe soos volg geparafraseer: “rondom die troon aan elkeen van sy kante”. Andersins kan die uitdrukking beteken dat die vier lewende wesens in die sentrale posisie in die hemel is waar die troon is. Dit is waarskynlik waarom The Jerusalem Bible die sinsnede soos volg weergee: “in die middel, rondom die troon self gegroepeer”. Die belangrike saak is dat die gerubs digby Jehovah se troon is, soos die gerubs wat Esegiël by elke hoek van Jehovah se organisatoriese strydwa gesien het (Esegiël 1:15-22). Dit alles is in ooreenstemming met die woorde van Psalm 99:1: “Jehovah het koning geword. . . . Hy sit op die gerubs.”

21, 22. (a) Hoe beskryf Johannes die vier lewende wesens? (b) Wat word deur die voorkoms van elkeen van die vier lewende wesens afgebeeld?

21 Johannes sê verder: “En die eerste lewende wese is soos ’n leeu, en die tweede lewende wese is soos ’n jong bul, en die derde lewende wese het ’n gesig soos dié van ’n mens, en die vierde lewende wese is soos ’n vlieënde arend” (Openbaring 4:7). Waarom verskil die voorkoms van hierdie vier lewende wesens so baie van mekaar? Hierdie eiesoortige lewende wesens beklemtoon blykbaar spesifieke goddelike eienskappe. Eerstens is daar die leeu. ’n Leeu word in die Bybel gebruik as ’n simbool van moed, veral in die strewe na reg en geregtigheid (2 Samuel 17:10; Spreuke 28:1). Die leeu is dus ’n goeie afbeelding van die goddelike eienskap moedige geregtigheid (Deuteronomium 32:4; Psalm 89:14). Die tweede lewende wese lyk soos ’n jong bul. Aan watter eienskap laat ’n bul jou dink? Vir die Israeliete was die bul ’n waardevolle besitting weens sy krag. (Spreuke 14:4; sien ook Job 39:9-11.) Die jong bul beeld dus krag af, dinamiese energie wat deur Jehovah voorsien word.—Psalm 62:11; Jesaja 40:26.

22 Die derde lewende wese het ’n gesig soos dié van ’n mens. Dit moet goddelike liefde afbeeld, aangesien dit hier op die aarde net die mens is wat na God se beeld geskep is, met die voortreflike eienskap liefde (Genesis 1:26-28; Matteus 22:36-40; 1 Johannes 4:8, 16). Die gerubs lê ongetwyfeld hierdie eienskap aan die dag terwyl hulle rondom Jehovah se troon dien. En wat van die vierde lewende wese? Hierdie een lyk soos ’n vlieënde arend. Jehovah self vestig die aandag op die arend se uitstekende gesigsvermoë: “Sy oë bly in die verte kyk” (Job 39:29). Die arend is dus ’n goeie simbool van versiende wysheid. Jehovah is die Bron van wysheid. Sy gerubs lê goddelike wysheid aan die dag terwyl hulle sy bevele gehoorsaam.—Spreuke 2:6; Jakobus 3:17.

Jehovah se lof weerklink

23. Wat word gesimboliseer deur die feit dat die vier lewende wesens “vol oë” is, en wat word beklemtoon deur die feit dat hulle drie paar vlerke het?

23 Johannes sit sy beskrywing voort: “En wat die vier lewende wesens betref, elkeen van hulle het onderskeidelik ses vlerke; rondom en aan die onderkant is hulle vol oë. En hulle het dag en nag geen rus nie terwyl hulle sê: ‘Heilig, heilig, heilig is Jehovah God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom’” (Openbaring 4:8). Die feit dat hulle vol oë is, dui op volkome en versiende gesigsvermoë. Die vier lewende wesens gebruik dit voortdurend, aangesien hulle nie hoef te slaap nie. Hulle volg die Een na van wie daar geskrywe is: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9). Omdat die gerubs so baie oë het, kan hulle oral sien. Niks ontgaan hulle aandag nie. Hulle is dus goed toegerus om God in sy oordeelswerk te dien. Van hom word daar gesê: “Die oë van Jehovah is op elke plek, en hulle let op die slegtes en die goeies” (Spreuke 15:3). En met drie paar vlerke—die getal drie word in die Bybel vir klem gebruik—kan die gerubs blitsvinnig beweeg om Jehovah se oordele aan te kondig en te voltrek.

24. Hoe loof die gerubs Jehovah, en wat beteken dit?

24 Luister! Die loflied wat die gerubs aan Jehovah sing, is melodieus en besielend: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom.” Die drieheid dui weer eens intensiteit aan. Die gerubs bevestig die heiligheid van Jehovah God ten sterkste. Hy is die Bron en die hoogste Standaard van heiligheid. Hy is ook “die Koning van die ewigheid”, altyd “die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste, die begin en die einde” (1 Timoteus 1:17; Openbaring 22:13). Die gerubs rus nooit terwyl hulle die weergalose eienskappe van Jehovah voor die hele skepping verkondig nie.

25. Hoe vereer die lewende wesens en die 24 ouderlinge Jehovah tesame?

25 Die hemel der hemele weerklink van lofbetuigings aan Jehovah! Johannes gaan voort met sy beskrywing: “En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en dank gee aan die Een wat op die troon sit, die Een wat vir ewig en altyd lewe, val die vier-en-twintig ouderlinge neer voor die Een wat op die troon sit en aanbid die Een wat vir ewig en altyd lewe, en hulle gooi hulle krone voor die troon en sê: ‘U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep’” (Openbaring 4:9-11). In die hele Skrif is dít een van die mooiste huldebetuigings aan Jehovah, ons God en Soewereine Heer!

26. Waarom gooi die 24 ouderlinge hulle krone voor Jehovah?

26 Die 24 ouderlinge het dieselfde geestesgesindheid as wat Jesus openbaar en gooi selfs hulle krone voor Jehovah neer. Dit kom nie eens by hulle op om hulleself in God se teenwoordigheid te verhef nie. Hulle erken nederig dat die enigste doel van hulle koningskap is om hom te eer en te verheerlik, net soos Jesus dit altyd doen (Filippense 2:5, 6, 9-11). Hulle erken onderdanig hulle eie ondergeskiktheid en bely dat hulle heerskappy van Jehovah se soewereiniteit afhanklik is. Hulle is dit dus van harte eens met die gerubs en die res van die getroue skepping wanneer hulle die God wat alles geskep het, loof en verheerlik.—Psalm 150:1-6.

27, 28. (a) Watter uitwerking moet Johannes se beskrywing van hierdie visioen op ons hê? (b) Watter vrae ontstaan oor wat Johannes hierna sien en hoor?

27 Wie kan Johannes se beskrywing van hierdie visioen lees sonder om beïndruk te wees? Dit is pragtig, groots! Maar hoe moet die werklikheid dan wees? Jehovah se majesteit moet enigiemand met ’n waarderende hart opwek om Hom saam met die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge te loof, in gebed sowel as deur Sy naam in die openbaar te verkondig. Dit is die God vir wie Christene vandag bevoorreg is om getuies te wees (Jesaja 43:10). Onthou dat Johannes se visioen vir die dag van die Here geld, waarin ons nou is. “Die sewe geeste” is altyd byderhand om ons te lei en te versterk (Galasiërs 5:16-18). God se Woord is vandag beskikbaar om ons te help om heilig te wees terwyl ons ’n heilige God dien (1 Petrus 1:14-16). Ons is beslis gelukkig dat ons die woorde van hierdie profesie hardop kan lees (Openbaring 1:3). Wat ’n aansporing is dit tog vir ons om aan Jehovah getrou te wees en nie toe te laat dat die wêreld ons aandag van die daadwerklike verkondiging van sy lof aftrek nie!—1 Johannes 2:15-17.

28 Johannes het tot dusver beskryf wat hy sien wanneer hy genooi word om deur daardie geopende deur in die hemel in te gaan. In die besonder berig hy dat Jehovah, in al die luister van Sy majesteit en waardigheid, op Sy hemelse troon sit. Hy word omring deur die allermagtigste organisasie—glansryk in prag en lojaliteit. Die goddelike Hof is in sitting (Daniël 7:9, 10, 18). Alles is gereed vir iets buitengewoons om te gebeur. Wat is dit, en hoe raak dit ons vandag? Laat ons toekyk terwyl die toneel hom ontvou!

[Volbladillustrasie op bladsy 75]

[Volbladillustrasie op bladsy 78]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel