Hoor wat die gees aan die gemeentes sê
“Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”—OPENBARING 3:22.
Die informasie op bladsye 10 tot 21 is gedurende die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies in 1988 aangebied as die openingstoesprake van die simposium “Die bestemde tyd is naby”.
1. Watter woorde van Openbaring is goeie nuus in hierdie era van ongelukkigheid, en wat is die “profesie” en “die bestemde tyd” wat gemeld word?
’N KLOMPIE jare gelede het ’n sosioloog in die Verenigde State opgemerk dat mense in daardie land te veel vryheid maar nie genoeg geluk het nie. Mense, het hy bygevoeg, “vind dat geluk hulle ontwyk het. Die paradys wat hulle hulself beloof het, was op die ou end iets leegs.” Om hierdie rede is die woorde van die apostel Johannes in Openbaring 1:3 goeie nuus, omdat hy vir ons sê hoe om geluk te vind. Johannes het geskryf: “Salig [of, gelukkig] is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die [bestemde] tyd is naby.” (Vergelyk NW.) Die “profesie” wat hy meld, is die een wat in die boek Openbaring opgeteken is. En “die bestemde tyd” is die tyd wanneer hierdie Openbaringprofesie vervul moet word. Johannes se woorde is van groot betekenis vir ons wat vandag lewe.
2. Waaroor moes Johannes gewonder het namate die eerste eeu ten einde geloop het?
2 Meer as 60 jaar voor Johannes die boek Openbaring geskryf het, was hy op Pinkster teenwoordig toe die gesalfde Christengemeente gestig is. Nou, in 96 G.J., het daardie gemeente van sy oorspronklike 120 lede tot ’n groot, internasionale organisasie gegroei. Maar daar was probleme. Net soos Jesus, Paulus en Petrus gewaarsku het, het afvalligheid en sektes begin kop uitsteek, en Johannes moes gewonder het wat die toekoms inhou.—Mattheüs 13:24-30, 36-43; Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:1-3.
3. Waarvan was die visioene wat Johannes gesien en in Openbaring opgeteken het ’n waarborg?
3 Stel jou dus sy vreugde voor toe hy die ontvanger geword het van “die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur” (Openbaring 1:1). In ’n reeks luisterryke visioene het Johannes gesien dat Jehovah se voornemens gewis vervul sou word en dat die volharding van getroue Christene wonderlik beloon sou word. Hy het ook boodskappe van Jesus vir sewe gemeentes ontvang; hierdie boodskappe was in werklikheid Jesus se laaste regstreekse raad aan Christene voor Sy koms in Koninkryksheerlikheid.
Die sewe gemeentes
4. (a) Watter verantwoordelikheid het getroue Christengemeentes? (b) Wat impliseer die feit dat gesalfde ouere manne as sewe sterre in Christus se regterhand gesien word?
4 Hierdie sewe gemeentes van gesalfde Christene is voorgestel as sewe kandelaars, en die gesalfde ouere manne in die gemeentes as sewe sterre in die regterhand van Christus (Openbaring 1:12, 16). Hierdie aangrypende voorstelling het aan Johannes getoon dat getroue Christengemeentes ligdraers moet wees, soos brandende kandelaars in ’n duister wêreld (Mattheüs 5:14-16). Die feit dat Jesus die ouere manne in sy regterhand hou, het getoon dat hy die ouere manne lei, rig en bestuur.
5. Tot wie is die boodskappe aan die sewe gemeentes in Johannes se dag gerig?
5 Jesus sê vir Johannes: “Skryf wat jy sien in ’n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Efese en Smirna en Pergamus en Thiatire en Sardis en Filadelfia en Laodicea” (Openbaring 1:11). In Johannes se dag het hierdie gemeentes werklik bestaan, en ons kan daarvan seker wees dat toe Johannes Openbaring klaar geskryf het, elke gemeente ’n kopie ontvang het. Maar let op wat Hastings se Dictionary of the Bible aangaande Openbaring sê: “Nouliks enige ander boek in die N[uwe] T[estament] word in die tweede eeu so goed gestaaf.” Dit beteken dat dit nie net die Christene in die sewe gemeentes was wat die boek Openbaring geken en gelees het nie, maar ook baie ander wat die woorde van die profesie wou bestudeer. Trouens, Jesus se raad was vir alle gesalfde Christene bedoel.
6, 7. (a) Wanneer is die woorde van Openbaring vernaamlik van toepassing, en hoe weet ons dit? (b) Wie word vandag deur die sewe sterre en deur die sewe gemeentes voorgestel?
6 Maar hierdie boodskappe aan die sewe gemeentes het ’n selfs breër toepassing. In Openbaring 1:10 se Johannes: “Ek was in die Gees op die dag van die Here.” Hierdie vers is ’n belangrike sleutel om die betekenis van Openbaring te ontsluit. Dit toon dat dit hoofsaaklik van toepassing is op “die dag van die Here”, wat begin het toe Jesus in 1914 Koning geword het. Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes bevestig hierdie siening. In die boodskappe tref ons uitdrukkings aan soos die volgende woorde aan Pergamus: “Ek [kom] gou na jou toe” (Openbaring 2:16; 3:3, 11). Na 96 G.J. het Jesus op geen betekenisvolle manier ‘gekom’ totdat hy in 1914 as Koning gekroon is nie (Handelinge 1:9-11). Daarna het hy, ter vervulling van Maleagi 3:1, weer in 1918 ‘gekom’, toe hy na Jehovah se tempel gekom het om eers die huis van God te oordeel (1 Petrus 4:17). Hy sal nog een maal “kom”, in die nabye toekoms, wanneer hy “wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie”.—2 Thessalonicense 1:7, 8; Mattheüs 24:42-44.
7 In die lig hiervan verstaan ons dat die sewe gemeentes al die gemeentes van gesalfde Christene ná 1914 afbeeld en dat die sewe sterre al die gesalfde ouere manne in daardie gemeentes voorstel. Daarbenewens is ouere manne wat tot die “ander skape” behoort ook, by uitbreiding, in Jesus se beherende regterhand (Johannes 10:16). En die raad aan die sewe gemeentes geld in beginsel vir al die gemeentes van God se volk wat daar vandag rondom die wêreld is, met inbegrip van die wat uit Christene met ’n aardse hoop bestaan.
8. Watter situasie het Jesus aangetref toe hy gekom het om verklaarde Christene in 1918 te ondersoek?
8 Toe Jesus in 1918 gekom het om verklaarde Christene te ondersoek, het hy gevind dat gesalfde Christene op aarde hulle bes doen om die woorde van die profesie te bewaar. Sedert die 1870’s het hulle mense gewaarsku oor die belangrikheid van die jaar 1914. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hulle baie verduur uit die hand van die Christendom, en in 1918 het hulle werk feitlik tot stilstand gekom toe die hoofbeamptes van die Wagtoringgenootskap op valse aanklagte in die tronk gegooi is. Maar hulle ondervindinge gedurende daardie tyd kom op wonderbaarlike wyse ooreen met die profesieë in Openbaring. En hulle vasbeslotenheid om ag te slaan op Jesus se woorde aan die sewe gemeentes het hulle onteenseglik geïdentifiseer as die enigste ligdraende Christene in hierdie wêreld wat deur die duisternis oorval is. Vandag maak hierdie oorblyfsel ’n Johannes-klas uit wat die vervulling van baie dele van Openbaring beleef en daaraan deelneem.
Raad en lof
9, 10. Die vervulling van watter woorde van Jesus het hedendaagse Christene baie gelukkig gemaak? Verduidelik.
9 In Openbaring 3:8 het Jesus aan die gemeente in Filadelfia gesê: “Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ’n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.” Christene in Filadelfia was klaarblyklik bedrywig, en nou het ’n deur van geleentheid vir hulle oopgegaan.
10 Die hedendaagse verwesenliking van hierdie boodskap het God se volk baie gelukkig gemaak. Na hulle beproewende ondervindinge in 1918 is hulle geestelik herstel, en in 1919 het Jesus ’n deur van geleentheid vir hulle oopgemaak. Hulle het deur daardie deur ingegaan toe hulle die opdrag aanvaar het om die goeie nuus van die Koninkryk aan al die nasies te verkondig. Met Jehovah se gees op hulle kon niks hierdie werk keer nie, en hierdie getroue Christene het die groot voorreg gehad om ’n vername aspek van die teken van Jesus se teenwoordigheid te vervul (Mattheüs 24:3, 14). Weens hulle getroue predikingsbedrywigheid is oorblywende lede van die 144 000 geroep en gesalf en is die “groot menigte” in groot getalle ingesamel (Openbaring 7:1-3, 9). Watter vreugde het dit God se volk tog nie verskaf nie!
11. Hoe het sektariërs Jehovah se organisasie in Johannes se dag probeer verderf, en hoe het hulle dit in ons dag probeer doen?
11 Kan iets hulle van hierdie vreugde beroof? Ja. Ondanks hulle langdurige volharding kon die ouere manne in Pergamus byvoorbeeld nie daarin slaag om die leer van die sekte van die Nikolaïete uit die gemeente te hou nie (Openbaring 2:15). ’n Sektegees het begin posvat. Gedurende hierdie laaste dae het sommige individue eweneens afvallig geraak en Jehovah se organisasie probeer verderf. Die ouere manne in die geheel het hulle weerstaan, maar sekeres is ongelukkig mislei. Mag ons nooit toelaat dat afvalliges ons van ons vreugde beroof nie!
12. (a) Wat is ’n Bileam- en ’n Isebel-invloed? (b) Het Satan in hedendaagse tye probeer om ’n Bileam- of Isebel-invloed in die Christengemeente in te bring?
12 Jesus het die gemeente in Pergamus ook gewaarsku teen diegene “wat vashou aan die leer van Bileam” (Openbaring 2:14). Watter leer was dit? Daar was iemand in Pergamus wat die Christene aldaar verderf het op dieselfde manier as wat Bileam die Israeliete in die woestyn verderf het: deur hulle aan te moedig om “afgodsoffers te eet en te hoereer” (Numeri 25:1-5; 31:8). Jesus het die gemeente in Thiatire teen “die vrou Isebel” gewaarsku. Ook hierdie vrou het Christene geleer “om te hoereer en afgodsoffers te eet” (Openbaring 2:20). Het Satan probeer om in ons dag ’n Bileam- of Isebel-invloed in die Christengemeente in te bring? Hy het beslis, in so ’n mate dat byna 40 000 per jaar uitgesit word, die meeste weens onsedelikheid. Hoe tragies tog! Manne soos Bileam sowel as vroue soos Isebel het teen die ouere manne gerebelleer en die gemeente probeer verderf. Mag ons sulke onrein invloede met al ons mag weerstaan!—1 Korinthiërs 6:18; 1 Johannes 5:21.
13. (a) Beskryf Jesus se weersin in louheid. (b) Waarom was die Laodicense lou, en hoe kan ons hierdie swakheid vandag vermy?
13 In Openbaring 3:15, 16 het Jesus aan die gemeente in Laodicea gesê: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.” Wat ’n beeldende beskrywing van die weersin wat Jesus in louheid het! Hy vervolg: “Jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie.” Ja, die Christene in Laodicea is deur materialisme verlei. Hulle was selfvoldaan en traak-my-nieagtig. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Openbaring 3:17). Wil ons in Jesus se oë “ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak” wees? Natuurlik nie! Laat ons dus alles in die stryd werp teen materialisme of louheid.—1 Timotheüs 6:9-12.
Volhard tot die einde toe
14. (a) Watter beproewinge moes die gemeente in Smirna verduur? (b) Watter hedendaagse parallelle is daar met Smirna se ondervindinge?
14 ’n Gemeente wat nie lou was nie, was dié in Smirna. Vir hierdie Christene het Jesus gesê: “Ek ken jou werke en verdrukking en armoede —maar jy is ryk—en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ’n sinagoge van die Satan. Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê” (Openbaring 2:8-10). Hoe goed kom dit tog nie ooreen met die ondervinding van Christene van vandag nie! Hedendaagse Christene, gesalfdes sowel as die van die ander skape, het ook hewige teenstand van vandag se “sinagoge van die Satan”, die Christendom, verduur. Sedert die Eerste Wêreldoorlog tot nou toe is duisende manne, vroue en kinders geslaan, in die tronk gegooi, gemartel, verkrag of doodgemaak omdat hulle geweier het om hulle onkreukbaarheid prys te gee.
15, 16. (a) Hoe kan gesalfde Christene ondanks vervolging gelukkig wees? (b) Watter spesiale belonings wat vir die ander skape wag, help hulle om ook gelukkig te wees?
15 Maak sulke ondervindinge mense gelukkig? Nie op sigself nie. Maar soos die apostels het getroue Christene wat beproewinge verduur ’n diep innerlike vreugde omdat hulle “waardig geag was om vir [Jesus se] Naam oneer te ly” (Handelinge 5:41). En al doen hulle vyande ook wat aan hulle, bly hulle gelukkig, omdat hulle weet dat die bestemde tyd wanneer hulle onkreukbaarheid beloon sal word naby is en dat die beloning waarlik groot is. Jesus het vir Christene in Smirna gesê: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openbaring 2:10). En vir dié in Sardis het hy gesê: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie.”—Openbaring 3:5.
16 Hierdie beloftes het weliswaar spesifiek betrekking op gesalfde Christene, aangesien dit hulle herinner aan die prys van onsterflike hemelse lewe wat op hulle wag. Maar diegene wat van die ander skape is, word ook deur hierdie woorde versterk. Jehovah het ook vir hulle ’n beloning voorberei, mits hulle ywerig is en volhard. Hulle het die wonderlike vooruitsig om die ewige lewe te beërwe op ’n paradysaarde onder die Koninkryk in die hande van Christus. Daar sal hulle die Paradys vind wat mense van hierdie wêreld nie sal vind nie.
17. Met watter woorde het Jesus elke boodskap afgesluit, en wat beteken sy woorde vandag vir ons?
17 Jesus het elk van sy boodskappe aan die gemeentes afgesluit met die woorde: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Openbaring 3:22). Ja, ons moet die woorde van die Opperherder hoor en gehoorsaam. Ons moet onreinheid en afvalligheid vermy, en ons moet ons ywer behou. Ons beloning hang daarvan af. En wanneer ons die res van Openbaring ondersoek, is ons selfs meer vasbeslote om juis dit te doen.
Die seëls van die boekrol
18. (a) Wat ontvang Jesus in die hemelse hof? (b) Wat beteken die ritte van drie van die perderuiters van Openbaring hoofstuk 6 vir die mensdom wat vandag lewe?
18 In hoofstukke 4 en 5 sien Johannes byvoorbeeld ’n wonderlike visioen van Jehovah se hemelse hof. Die Lam van God, Jesus Christus, is daar, en hy ontvang ’n boekrol met sewe seëls. In hoofstuk 6 maak Jesus ses van die sewe seëls oop, die een na die ander. Wanneer die eerste seël oopgemaak word, sien Johannes ’n ruiter op ’n wit perd. Hy ontvang ’n kroon en trek uit “as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (Openbaring 6:2). Dit is Jesus, die pas gekroonde Koning. Toe hy sy seëvierende, koninklike rit in 1914 begin het, het die dag van die Here begin. Wanneer die volgende drie seëls oopgemaak word, verskyn daar nog drie perde met hulle ruiters. Hulle is skrikwekkende verskynsels wat menslike oorlogvoering, hongersnood en die dood weens pes en ander oorsake voorstel. Hulle bevestig Jesus se groot profesie dat sy hemelse teenwoordigheid in koningsmag deur groot oorloë, hongersnode, pessiektes, aardbewings en ander rampe op aarde gekenmerk sou word (Mattheüs 24:3, 7, 8; Lukas 21:10, 11). Christene moet inderdaad ag slaan op Jesus se woorde aan die sewe gemeentes om gedurende so ’n tyd te kan volhard.
19. (a) Watter beloning word gedurende Christus se teenwoordigheid aan getroue gesalfde Christene gegee wat reeds gesterf het? (b) Watter verskriklike gebeure word deur die opening van die sesde seël voorafgeskadu, en tot watter vraag gee dit aanleiding?
19 Wanneer die vyfde seël oopgemaak word, word ’n gebeurtenis in die onsigbare geesteryk geopenbaar. Gesalfde Christene wat ter wille van hulle geloof gesterf het, word elk ’n wit gewaad gegee. Noudat Christus se teenwoordigheid ’n realiteit is, het die hemelse opstanding klaarblyklik begin (1 Thessalonicense 4:14-17; Openbaring 3:5). Dan word die sesde seël oopgemaak en word “die aarde”, Satan se aardse stelsel van dinge, deur ’n groot aardbewing geskud (2 Korinthiërs 4:4). “Die hemel”, menslike heerskappy onder Satan se beheer, word opgerol soos ’n ou boekrol wat weggegooi gaan word. Vreesbevange roep opstandige mense in wanhoop tot die rotse: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan [staan]?”—Openbaring 6:13, 14, 16, 17, vgl. NW.
20. Wie kan staan gedurende Jehovah en die Lam se groot dag van toorn?
20 En wie kan staan? Wel, Jesus het daardie vraag reeds beantwoord. Diegene wat “hoor wat die Gees aan die gemeentes se”, sal in daardie groot dag van toorn staan. En om dit te bevestig, verneem Johannes vervolgens van die verseëling van die laaste lede van die 144 000 en die insameling van ’n groot menigte uit alle nasies wat “die groot verdrukking” sal oorleef (Openbaring 7:1-3, 14). Maar nou het die tyd aangebreek dat die sewende seël van die boekrol oopgemaak word en verdere dramatiese visioene vir Johannes en, deur hom, vir ons vandag, getoon word. Die volgende artikel bespreek party van hierdie visioene.
Onthou jy?
◻ Wat is die verhouding tussen Jesus en die gemeentelike ouere manne?
◻ Voor watter probleme het die ouere manne in Pergamus en Thiatire te staan gekom, en hoe het soortgelyke probleme die gemeentes vandag geraak?
◻ Watter ernstige fout het die gemeente in Laodicea gemaak, en hoe kan ons vandag ’n soortgelyke fout vermy?
◻ Hoe moes Christene in hierdie 20ste eeu volhard, en watter beloftes van Jesus het hulle gehelp om dit te doen?
◻ Hoe kan ons die vertwyfeling en wanhoop vryspring wat die nasies met Armageddon sal ervaar?
[Prente op bladsy 13]
Party van die getroue Christene wat in Nazi-konsentrasiekampe gely het
[Erkenning]
Wenen, Oostenryk