Hoofstuk 7
Laat daardie eerste liefde weer ontvlam!
EFESE
1. Aan watter gemeente word Jesus se eerste boodskap gerig, en waaraan herinner hy die opsieners?
JESUS se eerste boodskap word gerig aan die gemeente in Efese, wat destyds ’n florerende kusstad van Klein-Asië naby die eiland Patmos was. Hy beveel Johannes: “Skryf aan die engel van die gemeente in Efese: Hierdie dinge sê hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, hy wat tussen die sewe goue lampstaanders wandel” (Openbaring 2:1). Soos in die ander ses boodskappe vestig Jesus hier die aandag op ’n kenmerk wat sy gesaghebbende posisie aandui. Hy herinner die opsieners in Efese daaraan dat alle ouer manne onder sy beskermende toesig is en dat hy al die gemeentes inspekteer. Hy oefen tot in ons tyd nog steeds hierdie liefdevolle hoofskap uit deur oor die ouer manne toesig te hou en almal wat aan die gemeente verbonde is, liefdevol soos ’n herder te lei. Van tyd tot tyd maak hy aanpassings in gemeentelike reëlings sodat die lig helderder kan skyn. Ja, Jesus is die Hoofherder oor die kudde van God.—Matteus 11:28-30; 1 Petrus 5:2-4.
2. (a) Vir watter goeie dinge het Jesus die gemeente in Efese geprys? (b) Watter raad van die apostel Paulus het die ouer manne in Efese blykbaar gehoorsaam?
2 Jesus stel dan ’n patroon vas vir vyf van sy sewe boodskappe deur met hartlike lof te begin. Hy het hierdie boodskap vir die Efesiërs: “Ek ken jou dade, en jou arbeid en volharding, en weet dat jy slegte mense nie kan verdra nie, en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is, maar dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het. Jy lê ook volharding aan die dag, en jy het ter wille van my naam uitgehou en nie moeg geword nie” (Openbaring 2:2, 3). Jare tevore het die apostel Paulus die ouer manne in Efese gewaarsku teen “onderdrukkende wolwe”, afvallige verstoorders van die kudde, en hy het vir daardie ouer manne gesê om ‘wakker te bly’ en sy eie voorbeeld van onvermoeibaarheid te volg (Handelinge 20:29, 31). Hulle het sekerlik daardie raad toegepas, aangesien Jesus hulle nou prys vir hulle werk en volharding en vir die feit dat hulle nie moeg geword het nie.
3. (a) Hoe het “valse apostels” in ons tyd probeer om getroues te bedrieg? (b) Watter waarskuwing het Petrus oor afvalliges gegee?
3 Gedurende die dag van die Here het daar ook “valse apostels” verskyn wat “verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (2 Korintiërs 11:13; Handelinge 20:30; Openbaring 1:10). Hulle sien iets goeds in al die teenstrydige, sektariese godsdienste, beweer dat God nie ’n organisasie het nie en ontken dat Jesus in 1914 Koninkryksmag ontvang het. Hulle vervul die profesie in 2 Petrus 3:3, 4: “In die laaste dae [sal daar] spotters . . . kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel en sê: ‘Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan net soos van die begin van die skepping af.’”
4. (a) Hoe word die trots en opstandigheid van spotters geopenbaar? (b) Deur watter optrede teen leuenagtige teenstanders toon hedendaagse Christene dat hulle soos die Efesiërs is?
4 Hierdie spotters skop teen die gedagte om hulle geloof in die openbaar bekend te maak (Romeine 10:10). Hulle het die ondersteuning van die Christendom se geestelikes gesoek en die hulp van koerante, nuustydskrifte en TV-stasies ingeroep om leuens oor hulle voormalige metgeselle te versprei. Getroues kom gou agter dat die spraak en gedrag van hierdie bedrieërs nie opreg klink nie. Soos die Efesiërs kan hedendaagse Christene “slegte mense nie . . . verdra nie”, en daarom sit hulle hulle uit hulle gemeentes uit.a
5. (a) Watter swakheid het die Efesiërs volgens Jesus gehad? (b) Watter woorde moes die Efesiërs onthou het?
5 Maar nou vestig Jesus, soos hy met vyf van die sewe gemeentes doen, die aandag op ’n ernstige probleem. Hy sê vir die Efesiërs: “Nietemin het ek dít teen jou, dat jy die liefde wat jy eers gehad het, verlaat het” (Openbaring 2:4). Hulle moes nie in hierdie opsig te kort geskiet het nie, want Paulus het 35 jaar tevore aan hulle geskryf en verwys na God se “groot liefde waarmee hy ons liefgehad het”, en hy het hulle aangespoor: “Word dan navolgers van God, as geliefde kinders, en gaan voort om in liefde te wandel, net soos die Christus julle ook liefgehad het” (Efesiërs 2:4; 5:1, 2). Daarbenewens moes Jesus se woorde onuitwisbaar op hulle harte gegraveer gewees het: “Jehovah ons God is een Jehovah, en jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Markus 12:29-31). Die Efesiërs het daardie eerste liefde verloor.
6. (a) Vir watter gevaar en neigings moet ons oppas, hetsy ons veterane of nuwelinge in die gemeente is? (b) Wat moet ons liefde vir God ons beweeg om te doen?
6 Hetsy ons veterane of nuwelinge in die gemeente is, ons moet oppas dat ons nie ons eerste liefde vir Jehovah verloor nie. Hoe kan dit gebeur? Ons kan toelaat dat verkleefdheid aan ons sekulêre werk, die begeerte om baie geld te maak of die najaging van genot die belangrikste saak in ons lewe word. Sodoende kan ons vleeslikgesind word in plaas van geestelikgesind (Romeine 8:5-8; 1 Timoteus 4:8; 6:9, 10). Ons liefde vir Jehovah moet ons beweeg om enige neigings van hierdie aard teë te werk en om ‘aan te hou om eers God se koninkryk en sy regverdigheid te soek’, sodat ons ‘vir ons skatte in die hemel kan opgaar’.—Matteus 6:19-21, 31-33.
7. (a) Waaruit moet ons diens aan Jehovah spruit? (b) Wat het Johannes met betrekking tot liefde gesê?
7 Laat ons diens aan Jehovah altyd uit innige liefde vir hom spruit. Laat ons ’n vurige waardering hê vir alles wat Jehovah en Christus vir ons gedoen het. Soos Johannes self later geskryf het: “Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenoffer vir ons sondes.” Johannes sê verder vir ons: “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in eenheid met God, en God bly in eenheid met hom.” Mag ons nooit ons liefde vir Jehovah, vir die Here Jesus Christus en vir die lewende Woord van God laat kwyn nie! Ons kan hierdie liefde betoon, nie net deur ywerige diens aan God nie, maar ook deur gehoorsaamheid aan ‘hierdie gebod wat ons van hom het, dat die een wat God liefhet, ook sy broer moet liefhê’.—1 Johannes 4:10, 16, 21; Hebreërs 4:12; sien ook 1 Petrus 4:8; Kolossense 3:10-14; Efesiërs 4:15.
“Doen die dade van vroeër”
8. Hoe het Jesus gesê moet die Efesiërs optree?
8 Daardie Efesiërs moet die liefde wat hulle vroeër gehad het, weer laat ontvlam as hulle nie hulle voorreg wil verbeur nie. Jesus sê vir hulle: “Onthou dan waarvan jy geval het, en toon berou en doen die dade van vroeër. So nie, kom ek na jou toe, en ek sal jou lampstaander van sy plek verwyder, tensy jy berou toon” (Openbaring 2:5). Hoe het die Christene in die gemeente in Efese op hierdie woorde gereageer? Ons weet nie. Ons hoop dat hulle berou getoon het en daarin geslaag het om hulle liefde vir Jehovah opnuut aan te wakker. As hulle dit nie gedoen het nie, sou hulle lamp gedoof en hulle lampstaander verwyder word. Hulle sou hulle voorreg verbeur om die waarheid uit te straal.
9. (a) Watter aanmoediging het Jesus vir die Efesiërs gehad? (b) Hoe het die gemeentes ná Johannes se dag versuim om op Jesus se raad aan die Efesiërs ag te slaan?
9 Jesus het nietemin hierdie aanmoediging vir die Efesiërs: “Maar dít het jy, dat jy die dade van die sekte van Nikolaus haat, wat ek ook haat” (Openbaring 2:6). Ten minste het hulle sektariese verdeeldheid gehaat, net soos die Here Jesus Christus dit haat. Maar met die verloop van jare het baie gemeentes versuim om op hierdie woorde van Jesus ag te slaan. ’n Gebrek aan liefde vir Jehovah, vir die waarheid en vir mekaar het veroorsaak dat hulle geleidelik in geestelike duisternis verval het. Hulle het in baie twistende sektes versplinter. “Christelike” kopiïste wat geen liefde vir Jehovah gehad het nie, het God se naam uit Griekse manuskripte van die Bybel verwyder. ’n Gebrek aan liefde het ook ruimte gelaat vir die verkondiging van Babiloniese en Griekse leerstellings, soos die helse vuur, vaevuur en die Drie-eenheid, in die naam van die Christelike godsdiens. Omdat hulle geen liefde vir God en vir die waarheid gehad het nie, het die meeste van dié wat beweer het dat hulle Christene is, opgehou om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Hulle het onder die oorheersing gekom van ’n selfsugtige geestelikeklas wat hulle eie koninkryk hier op die aarde opgerig het.—Vergelyk 1 Korintiërs 4:8.
10. Wat was in 1918 die godsdienssituasie in die Christendom?
10 Toe die oordeel in 1918 by die huis van God begin het, was die sektariese geestelikes van die Christendom besig om die Eerste Wêreldoorlog openlik te ondersteun en het hulle Katolieke en Protestante aan beide kante aangespoor om mekaar uit te moor (1 Petrus 4:17). In teenstelling met die gemeente in Efese, wat die dade van die sekte van Nikolaus gehaat het, was die Christendom se godsdienste reeds lank deurtrek van teenstrydige, godonterende leerstellings, en hulle geestelikes het hulle geskaar aan die kant van die wêreld, waarvan Jesus gesê het sy dissipels geen deel moet wees nie (Johannes 15:17-19). Hulle gemeentes, wat onkundig was omtrent die Bybel se tema, God se Koninkryk, was nie lampstaanders wat skriftuurlike waarheid uitstraal nie, en die gemeentelede was ook nie deel van Jehovah se geestelike tempel nie. Hulle manne (en vroue) wat die leiding geneem het, was nie sterre nie, maar is ontmasker as lede van “die mens van wetteloosheid”.—2 Tessalonisense 2:3; Maleagi 3:1-3.
11. (a) Watter Christelike groep wat in 1918 op die wêreldtoneel was, het Jesus se woorde aan die Efesiërs toegepas? (b) Wat het die Johannes-klas van 1919 af gedoen?
11 Die Johannes-klas het egter uit die onstuimige dae van die Eerste Wêreldoorlog te voorskyn gekom met ’n liefde vir Jehovah en vir die waarheid wat hulle beweeg het om hom met brandende ywer te dien. Hulle het dié weerstaan wat sektarisme probeer invoer het deur die eerste president van die Wagtoringgenootskap, Charles T. Russell, ná sy dood in 1916 feitlik te verafgod. Hierdie Christelike groep, wat deur vervolging en teëspoed gedissiplineer is, het beslis ’n oordeel van “mooi so” van hulle Meester ontvang, asook ’n uitnodiging om in sy vreugde in te gaan (Matteus 25:21, 23). Hulle het na aanleiding van die verloop van wêreldgebeure, en hulle eie ervarings, besef dat die teken wat Jesus gegee het om sy onsigbare teenwoordigheid in Koninkryksmag aan te dui, vervul word. Van 1919 af het hulle hulle daarop toegelê om ’n aandeel te hê aan die verdere vervulling van Jesus se groot profesie: “En hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 6:9, 10; 24:3-14). As hulle liefde vir Jehovah in enige opsig te kort geskiet het, is dit van toe af tot ’n vlam aangeblaas.
12. (a) Watter oproep is by ’n geskiedkundige byeenkoms in 1922 gedoen? (b) Watter naam het ware Christene in 1931 aangeneem, en waaroor het hulle berou getoon?
12 By ’n geskiedkundige byeenkoms wat van 5-13 September 1922 in Cedar Point, Ohio, VSA, gehou is en deur 18 000 van hierdie Christene bygewoon is, is die oproep gedoen: “Keer dan terug na die veld, o seuns van die allerhoogste God! . . . Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. . . . Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Jehovah se kosbare naam is meer prominent gemaak. In 1931 was hierdie Christene, wat by ’n byeenkoms in Columbus, Ohio, VSA, vergader was, verheug om die naam aan te neem wat God in Jesaja se profesie aangedui het—Jehovah se Getuies (Jesaja 43:10, 12). Met die nommer van 1 Maart 1939 is die naam van die organisasie se hooftydskrif na Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan verander, sodat die grootste eer aan ons Skepper en sy koninklike regering gegee word. Jehovah se Getuies het, met hernieude liefde vir Jehovah, berou getoon oor enige moontlike vroeëre versuim om sy roemryke naam en Koninkryk te eer en te verheerlik.—Psalm 106:6, 47, 48.
“Aan hom wat oorwin”
13. (a) Watter seën het vir die Efesiërs voorgelê as hulle sou “oorwin”? (b) Hoe sou Efesiese Christene “oorwin”?
13 Soos hy ook in sy ander boodskappe doen, vestig Jesus ten slotte die aandag op die feit dat dit God se gees is wat deur Jesus die belonings vir getrouheid bekend maak. Hy sê vir die Efesiërs: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê: Aan hom wat oorwin, sal ek gee om van die boom van die lewe te eet, wat in die paradys van God is” (Openbaring 2:7). Diegene met horende ore sou gretig wees om op hierdie lewensbelangrike boodskap ag te slaan, in die wete dat dit nie by Jesus ontstaan het nie, maar van die Soewereine Heer Jehovah self gekom het deur Sy heilige gees, of werkende krag. Hoe sou hulle “oorwin”? Deur noukeurig die voetstappe te volg van Jesus, wat sy onkreukbaarheid tot die dood gehandhaaf het en dus kon sê: “Skep moed! Ek het die wêreld oorwin.”—Johannes 8:28; 16:33; sien ook 1 Johannes 5:4.
14. Waarna moet “die paradys van God” wat Jesus gemeld het, verwys?
14 Hoe kan gesalfde Christene, soos daardie Efesiërs, wat geen vooruitsig op lewe in ’n aardse paradys het nie, die beloning ontvang om “van die boom van die lewe te eet, wat in die paradys van God is”? Dit kan nie die herstelde Paradys op aarde wees nie, want die 144 000 gesalfde Christene, waaronder dié van die gemeente in Efese, word uit die mensdom gekoop om saam met die Lam, Christus Jesus, as geesseuns op die hemelse berg Sion te regeer (Efesiërs 1:5-12; Openbaring 14:1, 4). Hierdie woorde moet dus na die hemelse tuinagtige ryk verwys wat hierdie oorwinnaars beërf. Daar, “in die paradys van God”, ja, in die teenwoordigheid van Jehovah self, sal hierdie oorwinnaars wat onsterflikheid ontvang het, vir ewig bly lewe, soos hier afgebeeld word deur die feit dat hulle van die boom van die lewe eet.
15. Waarom is Jesus se aanmoediging om te oorwin, vandag vir die groot menigte van lewensbelang?
15 Wat dan van die lojale aardse ondersteuners van die 144 000 gesalfdes? ’n Groot menigte van hierdie Getuie-metgeselle oorwin ook. Maar hulle hoop is om ’n aardse paradys binne te gaan, waar hulle uit “’n rivier van water van die lewe” sal drink en genesing sal vind in “die blare van die bome” wat langs daardie rivier geplant is (Openbaring 7:4, 9, 17; 22:1, 2). Mag jy, as jy ’n lid van hierdie groep is, ook jou innige liefde vir Jehovah toon en in die stryd van die geloof oorwin. Sodoende sal jy die geluk van ewige lewe op die Paradysaarde kan smaak.—Vergelyk 1 Johannes 2:13, 14.
[Voetnoot]
a Vir geskiedkundige besonderhede oor die verskyning van valse apostels, sien bladsye 39-46 van die boek Redenering uit die Skrif, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster op bladsy 36]
Liefdevolle lof aan Jehovah en sy Seun
In die liedereboek wat in 1905 deur Jehovah se volk uitgegee is, was daar twee keer soveel liedere wat Jesus geloof het as liedere wat Jehovah God geloof het. In hulle liedereboek van 1928 was daar omtrent ewe veel liedere wat Jesus verheerlik het as wat Jehovah verheerlik het. Maar in die jongste liedereboek van 1984 word Jehovah deur vier keer soveel liedere vereer as Jesus. Dit stem ooreen met Jesus se eie woorde: “Die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28). Liefde vir Jehovah moet die voorrang geniet, tesame met innige liefde vir Jesus en waardering vir sy kosbare offerande en amp as God se Hoëpriester en Koning.
[Tabel op bladsy 34]
Jesus se patroon van raadgewing
(met die hoofstukke en verse van Openbaring)
Probleem Teregwysing
Boodskap aan Gesag vir Inleidende lof duidelik en/of Gevolglike
gemeente raadgewing uitgewys aanmoediging seëninge
Efese 2:1 2:2, 3 2:4 2:5, 6 2:7
Pergamum 2:12 2:13 2:14, 15 2:16 2:17
Tiatira 2:18 2:19 2:20, 21 2:24, 25 2:26-28
Sardis 3:1 — 3:1, 2 3:3, 4 3:5
Filadelfia 3:7 3:8 — 3:8-11 3:12
Laodisea 3:14 — 3:15-17 3:18-20 3:21