Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jehovah se plae oor die Christendom
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 21

      Jehovah se plae oor die Christendom

      Visioen 5—Openbaring 8:1–9:21

      Onderwerp: Ses van die sewe trompetstote

      Tyd van vervulling: Vandat Christus Jesus in 1914 op die troon geplaas is tot die groot verdrukking

      1. Wat gebeur wanneer die Lam die sewende seël oopmaak?

      “DIE vier winde” is teruggehou totdat die 144 000 lede van geestelike Israel verseël en die groot menigte vir oorlewing goedgekeur is (Openbaring 7:1-4, 9). Maar voordat daardie hewige storm oor die aarde losbars, moet Jehovah se ongunstige oordele teen Satan se wêreld ook bekend gemaak word! Wanneer die Lam die sewende en laaste seël oopmaak, kyk Johannes ongetwyfeld belangstellend toe om te sien wat gaan gebeur. Hy vertel ons nou van sy ondervinding: “En toe hy [die Lam] die sewende seël oopmaak, het ’n stilte in die hemel gekom, omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe trompette is vir hulle gegee.”—Openbaring 8:1, 2.

      ’n Tyd vir vurige gebed

      2. Wat vind plaas gedurende die simboliese halfuur van stilte in die hemel?

      2 Dit is ’n betekenisvolle stilte! ’n Halfuur kan soos ’n lang tyd voel wanneer jy wag dat iets moet gebeur. Nou word selfs die voortdurende hemelse loflied nie meer gehoor nie (Openbaring 4:8). Waarom nie? Johannes sien die rede in sy visioen: “En ’n ander engel het daar aangekom en by die altaar gaan staan met ’n goue reukwerkhouer; en ’n groot hoeveelheid reukwerk is vir hom gegee om dit saam met die gebede van al die heiliges op die goue altaar te offer wat voor die troon was. En die rook van die reukwerk het saam met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgestyg voor God.”—Openbaring 8:3, 4.

      3. (a) Waaraan herinner die brand van reukwerk ons? (b) Wat is die doel van die halfuur van stilte in die hemel?

      3 Dit herinner ons daaraan dat reukwerk onder die Joodse stelsel van dinge daagliks by die tabernakel en, in latere jare, by die tempel in Jerusalem gebrand is (Eksodus 30:1-8). Wanneer hierdie reukwerk gebrand is, het die niepriesterlike Israeliete buite die heilige gebied gewag en—ongetwyfeld stil, in hulle harte—gebid tot die Een na wie die rook van die reukwerk opgestyg het (Lukas 1:10). Johannes sien nou hoe iets soortgelyks in die hemel gebeur. Die reukwerk wat deur die engel geoffer word, hou verband met “die gebede van die heiliges”. Trouens, in ’n vroeëre visioen is daar gesê dat reukwerk sulke gebede verteenwoordig (Openbaring 5:8; Psalm 141:1, 2). Die doel van die simboliese stilte in die hemel is dus blykbaar sodat die gebede van die heiliges wat op die aarde is, gehoor kan word.

      4, 5. Watter geskiedkundige verwikkelinge help ons om vas te stel watter tydperk met die simboliese halfuur van stilte ooreenstem?

      4 Kan ons vasstel wanneer dit gebeur het? Ja, ons kan, deur die konteks tesame met geskiedkundige verwikkelinge vroeg in die dag van die Here te ondersoek (Openbaring 1:10). Gedurende 1918 en 1919 was daar ’n merkwaardige ooreenkoms tussen gebeure op die aarde en die scenario wat in Openbaring 8:1-4 beskryf word. Gedurende die 40 jaar voor 1914 het die Bybelstudente—soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het—met vrymoedigheid aangekondig dat die tye van die nasies in daardie jaar sou eindig. Die rampspoedige gebeure van 1914 het bewys dat hulle reg was (Lukas 21:24; Matteus 24:3, 7, 8). Maar baie van hulle het ook geglo dat hulle in 1914 van hierdie aarde af na hulle hemelse erfenis geneem sou word. Dit het nie gebeur nie. Pleks daarvan het hulle gedurende die Eerste Wêreldoorlog ’n tyd van hewige vervolging deurgemaak. Op 31 Oktober 1916 is die eerste president van die Wagtoringgenootskap, Charles T. Russell, oorlede. Toe, op 4 Julie 1918, is die nuwe president, Joseph F. Rutherford, en sewe ander verteenwoordigers van die Genootskap na die strafgevangenis in Atlanta, Georgia, geneem nadat hulle ten onregte tot baie jare gevangenisstraf gevonnis is.

      5 Die opregte Christene van die Johannes-klas was verward. Wat het God nou van hulle verlang? Wanneer sou hulle hemel toe geneem word? ’n Artikel met die titel “Die oes het geëindig—Wat sal volg?” het in The Watch Tower van 1 Mei 1919 verskyn. Dit het hierdie toestand van onsekerheid weerspieël en die getroues aangespoor om te bly volhard en bygevoeg: “Ons glo dat daar nou tereg gesê kan word dat die insameling van die koninkryksklas ’n voldonge feit is, dat al sulke persone reeds verseël is en dat die deur toe is.” Gedurende hierdie moeilike tydperk het die vurige gebede van die Johannes-klas opgestyg, asof in die rook van ’n groot hoeveelheid reukwerk. En hulle gebede is verhoor!

      Vuur word na die aarde geslinger

      6. Wat gebeur ná die stilte in die hemel, en in antwoord waarop?

      6 Johannes sê vir ons: “Maar die engel het dadelik die reukwerkhouer geneem, en hy het dit met vuur van die altaar gevul en dit na die aarde geslinger. En daar het donderslae gekom en stemme en weerligstrale en ’n aardbewing” (Openbaring 8:5). Ná die stilte is daar meteens dramatiese bedrywigheid! Dit is blykbaar in antwoord op die gebede van die heiliges, aangesien dit veroorsaak word deur vuur wat van die reukaltaar geneem is. In 1513 v.G.J., by die berg Sinai, het donderslae en weerligstrale, ’n harde geluid, vuur en ’n skudding van die berg aangedui dat Jehovah sy aandag op sy volk rig (Eksodus 19:16-20). Net so dui die soortgelyke verskynsels waarvan Johannes vertel, aan dat Jehovah aandag skenk aan sy knegte op die aarde. Maar wat Johannes sien, word in tekens oorgedra (Openbaring 1:1). Hoe moet die simboliese vuur, donderslae, stemme, weerligstrale en aardbewing dan vandag vertolk word?

      7. (a) Watter simboliese vuur het Jesus gedurende sy bediening op die aarde aangesteek? (b) Hoe het Jesus se geestelike broers ’n vuur in die Christendom aangesteek?

      7 Jesus het by een geleentheid vir sy dissipels gesê: “Ek het gekom om ’n vuur op die aarde te maak” (Lukas 12:49). Hy het inderdaad ’n vuur aangesteek. Deur sy ywerige predikingswerk het Jesus God se Koninkryk die vernaamste geskil voor die Joodse volk gemaak, en dit het vurige getwis dwarsdeur daardie nasie laat ontstaan (Matteus 4:17, 25; 10:5-7, 17, 18). In 1919 het Jesus se geestelike broers op die aarde, die groepie gesalfde Christene wat die moeilike dae van die Eerste Wêreldoorlog oorleef het, ’n soortgelyke vuur in die Christendom aangesteek. In September van daardie jaar was Jehovah se gees baie duidelik te sien toe sy lojale Getuies van heinde en verre in Cedar Point, Ohio, VSA, vergader het. Joseph F. Rutherford, wat pas tevore uit die gevangenis vrygelaat is en kort daarna sou sien dat alle aanklagte teen hom teruggetrek word, het hierdie byeenkoms met vrymoedigheid toegespreek en gesê: “In gehoorsaamheid aan die bevel van ons Heer, en ter erkenning van ons voorreg en plig om oorlog te voer teen die vestings van dwaling wat die mense al so lank in slawerny hou, was en is ons roeping om die inkomende glorieryke koninkryk van die Messias aan te kondig.” Dit is die primêre geskil—God se Koninkryk!

      8, 9. (a) Hoe het J. F. Rutherford die gesindheid en begeerte van God se volk gedurende die moeilike oorlogsjare beskryf? (b) Hoe is vuur na die aarde geslinger? (c) Hoe was daar donderslae, stemme, weerligstrale en ’n aardbewing?

      8 Met verwysing na die onlangse beproewinge van God se volk het die spreker gesê: “So meedoënloos was die vyand se aanval dat baie lede van die Here se dierbare kudde verbysterd was en in verstomming stilgestaan het, terwyl hulle gebid en gewag het dat die Here sy wil moet aandui. . . . Maar ondanks die kortstondige ontmoediging was daar ’n brandende begeerte om die boodskap van die koninkryk te verkondig.”—Sien The Watch Tower van 15 September 1919, bladsy 280.

      9 Daardie begeerte is in 1919 bevredig. Hierdie klein maar bedrywige groepie Christene is in geestelike sin aan die brand gesteek om ’n wêreldwye verkondigingsveldtog aan te pak. (Vergelyk 1 Tessalonisense 5:19.) Vuur is na die aarde geslinger in die sin dat God se Koninkryk die brandende geskil gemaak is, wat dit nog steeds is! Sterk stemme het stilte vervang en die Koninkryksboodskap met helderheid verkondig. Dawerende stormwaarskuwings uit die Bybel het weerklink. Helder strale van waarheid het soos weerligstrale uit Jehovah se profetiese Woord geskyn, en die fondamente van die godsdiensryk is geskud, asof deur ’n sterk aardbewing. Die Johannes-klas het gesien dat daar vir hulle werk is. En daardie werk brei vandag nog steeds op glorieryke wyse oor die hele bewoonde aarde uit!—Romeine 10:18.

      Engele maak hulle gereed om

      op die trompette te blaas

      10. Wat maak die sewe engele hulle gereed om te doen, en waarom?

      10 Johannes sê verder: “En die sewe engele met die sewe trompette het hulle gereedgemaak om daarop te blaas” (Openbaring 8:6). Wat beteken dit wanneer daar op hierdie trompette geblaas word? In die dae van Israel is belangrike dae of merkwaardige gebeurtenisse deur ’n trompetgeskal aangekondig (Levitikus 23:24; 2 Konings 11:14). Net so sal die trompetstote wat Johannes gaan hoor, die aandag op lewensbelangrike sake vestig.

      11. Met watter voorbereidingswerk op die aarde was die Johannes-klas van 1919 tot 1922 druk besig?

      11 Terwyl die engele hulle gereedgemaak het om op hierdie trompette te blaas, het hulle ongetwyfeld ook ’n voorbereidingswerk op die aarde gerig. Van 1919 tot 1922 was die verlewendigde Johannes-klas besig om die openbare bediening te herorganiseer en uitgewersfasiliteite op te bou. In 1919 het die tydskrif The Golden Age, vandag bekend as Ontwaak!, die lig gesien as “’n blad van feite, hoop en oortuiging”—’n trompetagtige instrument wat ’n sleutelrol sou speel in die blootlegging van valse godsdiens se politieke betrokkenheid.

      12. Wat kondig elke trompetstoot aan, en aan watter gebeure in Moses se dag laat dit ons dink?

      12 Soos ons nou sal sien, kondig elkeen van die trompetstote ’n dramatiese toneel aan waarin verskriklike plae dele van die aarde tref. Party hiervan laat ons aan die plae dink wat Jehovah gestuur het om die Egiptenaars in Moses se dag te straf (Eksodus 7:19–12:32). Dié plae was uitinge van Jehovah se oordeel oor daardie nasie en het dit vir God se volk moontlik gemaak om aan slawerny te ontkom. Die plae wat Johannes sien, bring iets soortgelyks tot stand. Maar dit is nie letterlike plae nie. Dit is tekens wat Jehovah se regverdige oordele simboliseer.—Openbaring 1:1.

      Wat die “derde” beteken

      13. Wat gebeur wanneer daar op die eerste vier trompette geblaas word, en watter vraag laat dit ontstaan?

      13 Soos ons sal sien, word plae oor “’n derde” van die aarde, van die see, van die riviere en waterfonteine en van die aarde se ligbronne uitgestort wanneer daar op die eerste vier trompette geblaas word (Openbaring 8:7-12). ’n Derde is ’n aansienlike deel van iets, maar nie alles nie. (Vergelyk Jesaja 19:24; Esegiël 5:2; Sagaria 13:8, 9.) Watter “derde” sal dus hierdie plae die meeste verdien? Die oorgrote meerderheid van die mensdom is deur Satan en sy saad verblind en verderf (Genesis 3:15; 2 Korintiërs 4:4). Die situasie is soos Dawid dit beskryf het: “Hulle het almal afgewyk, hulle is almal tesame verdorwe; daar is niemand wat goed doen nie, nie eers een nie” (Psalm 14:3). Ja, die hele mensdom loop gevaar om ’n ongunstige oordeel te ontvang. Maar een deel daarvan is besonder skuldig. Een deel—“’n derde”—moes van beter geweet het! Wat is hierdie “derde”?

      14. Wat is die simboliese derde wat die teisterende boodskappe van Jehovah ontvang?

      14 Dit is die Christendom! In die 1920’s het haar ryk ongeveer ’n derde van die mensdom omvat. Haar godsdiens is die vrug van die groot afvalligheid van die ware Christelike godsdiens—die afvalligheid wat Jesus en sy dissipels voorspel het (Matteus 13:24-30; Handelinge 20:29, 30; 2 Tessalonisense 2:3; 2 Petrus 2:1-3). Die geestelikes van die Christendom beweer dat hulle in God se tempel is en het hulle as leraars van die Christelike godsdiens voorgedoen. Maar hulle leerstellings verskil hemelsbreed van Bybelwaarheid, en hulle bring God se naam voortdurend in minagting. Die Christendom, wat gepas deur die simboliese derde voorgestel word, ontvang sterk, teisterende boodskappe van Jehovah. Hierdie derde van die mensdom verdien hoegenaamd geen goddelike guns nie!

      15. (a) Is elkeen van die trompetstote tot ’n spesifieke jaar beperk? Verduidelik. (b) Wie se stem is by dié van die Johannes-klas gevoeg om Jehovah se oordele te verkondig?

      15 Ooreenkomstig die feit dat daar ’n reeks trompetstote is, was spesiale resolusies ’n kenmerk van sewe byeenkomste van 1922 tot 1928. Maar die trompetstote was nie beperk tot daardie jare nie. Namate die dag van die Here vorder, word die Christendom se goddelose weë voortdurend en onafgebroke kragtig blootgelê. Jehovah se oordele moet ondanks internasionale haat en vervolging wyd en syd, aan alle nasies, verkondig word. Eers dan breek die einde van Satan se stelsel aan (Markus 13:10, 13). Gelukkig het die groot menigte nou hulle stem by dié van die Johannes-klas gevoeg om hierdie dawerende verklarings van wêreldbelang te doen.

      ’n Derde van die aarde word verbrand

      16. Wat gebeur wanneer die eerste engel op sy trompet blaas?

      16 Johannes skryf van die engele: “En die eerste het op sy trompet geblaas. En daar het hael en vuur gemeng met bloed gekom, en dit is na die aarde geslinger; en ’n derde van die aarde is verbrand, en ’n derde van die bome is verbrand, en al die groen plantegroei is verbrand” (Openbaring 8:7). Dit kom ooreen met die sewende plaag oor Egipte, maar wat beteken dit vir ons tyd?—Eksodus 9:24.

      17. (a) Wat beteken die woord “aarde” in Openbaring 8:7? (b) Hoe word die Christendom se derde van die aarde verbrand?

      17 In die Bybel verwys die woord “aarde” dikwels na die mensdom (Genesis 11:1; Psalm 96:1). Aangesien die tweede plaag oor die see is, wat ook met die mensdom te doen het, moet “die aarde” verwys na die skynbaar bestendige mensegemeenskap wat Satan opgebou het en wat vernietig gaan word (2 Petrus 3:7; Openbaring 21:1). Die plaagscenario toon dat die Christendom se derde van die aarde verskroei word deur die versengende hitte van Jehovah se misnoeë. Haar prominente lede—wat soos bome in haar midde staan—word verbrand deur die verkondiging van Jehovah se ongunstige oordeel. As die Christendom se honderdmiljoene kerklidmate voortgaan om haar godsdiens te ondersteun, word hulle almal soos verskroeide grashalms, geestelik verlep in God se oë.—Vergelyk Psalm 37:1, 2.a

      18. Hoe is Jehovah se oordeelsboodskap by die byeenkoms in 1922 in Cedar Point verkondig?

      18 Hoe word hierdie oordeelsboodskap oorgedra? Gewoonlik nie deur die wêreld se nuusmedia, wat deel van die wêreld is en God se “slaaf” dikwels smaad nie (Matteus 24:45). Dit is op ’n merkwaardige wyse verkondig by die tweede geskiedkundige byeenkoms van God se volk in Cedar Point, Ohio, op 10 September 1922. Hulle het eenparig en geesdriftig ’n resolusie met die titel “’n Uitdaging aan wêreldleiers” aangeneem. In ondubbelsinnige terme het dit die volgende reguit waarskuwing aan die hedendaagse simboliese aarde gerig: “Ons doen derhalwe ’n beroep op die nasies van die aarde, hulle heersers en leiers, en op al die geestelikes van al die konfessionele kerke van die aarde, hulle volgelinge en bondgenote, die wêreldhandel en die invloedryke politici, om bewyse te lewer ter regverdiging van hulle standpunt dat hulle vrede en voorspoed op die aarde kan bewerkstellig en vir die mense geluk kan bring; en as hulle dit nie kan doen nie, doen ons ’n beroep op hulle om gehoor te gee aan die getuienis wat ons as getuies vir die Here gee, en laat hulle dan sê of ons getuienis waar is of nie.”

      19. Watter getuienis aangaande God se Koninkryk het God se volk aan die Christendom gegee?

      19 Watter getuienis het hierdie Christene gegee? Dit: “Ons glo en verklaar dat die Messias se koninkryk die volmaakte geneesmiddel vir al die kwale van die mensdom is en vrede op die aarde en welwillendheid aan mense, die begeerte van alle nasies, sal teweegbring; dat dié wat hulle nou gewillig onderwerp aan sy regverdige heerskappy wat reeds begin het, met blywende vrede, lewe, vryheid en eindelose geluk geseën sal word.” In hierdie verdorwe tye, wanneer mensgemaakte regerings, veral dié in die Christendom, hopeloos misluk in hulle pogings om die mensdom se probleme op te los, weerklink hierdie uitdagende trompetstoot selfs kragtiger as in 1922. Hoe waar is dit tog dat God se Koninkryk in die hande van sy oorwinnende Christus die mensdom se enigste hoop is!

      20. (a) Deur middel waarvan is oordeelsboodskappe in 1922 en daarna deur die gemeente van gesalfde Christene uitgebasuin? (b) Wat het as gevolg van die eerste trompetstoot in die Christendom gebeur?

      20 Deur middel van resolusies, traktate, boekies, boeke, tydskrifte en toesprake is hierdie en latere verklarings deur die gemeente van gesalfde Christene uitgebasuin. Die eerste trompetstoot het tot gevolg gehad dat die Christendom geslaan word asof met die verharde water van ’n swaar haelbui. Haar bloedskuld, weens haar aandeel aan die oorloë van die 20ste eeu, is geopenbaar, en daar is getoon dat sy die vurige uiting van Jehovah se gramskap verdien. Die Johannes-klas, wat later deur die groot menigte ondersteun is, het aangehou om die eerste trompetstoot te laat weerklink en so die aandag op Jehovah se beskouing van die Christendom te vestig, naamlik dat sy vernietiging verdien.—Openbaring 7:9, 15.

      Soos ’n brandende berg

      21. Wat gebeur wanneer die tweede engel op sy trompet blaas?

      21 “En die tweede engel het op sy trompet geblaas. En iets soos ’n groot berg wat met vuur brand, is in die see geslinger. En ’n derde van die see het bloed geword; en ’n derde van die skepsele in die see wat ’n siel het, het gesterf, en ’n derde van die bote het vergaan” (Openbaring 8:8, 9). Wat beeld hierdie skrikwekkende toneel af?

      22, 23. (a) Watter resolusie was ongetwyfeld die gevolg van die tweede trompetstoot? (b) Wat word deur “’n derde van die see” voorgestel?

      22 Ons kan dit die beste verstaan teen die agtergrond van die byeenkoms van Jehovah se volk wat op 18-26 Augustus 1923 in Los Angeles, Kalifornië, VSA, gehou is. Die hooftoespraak wat Saterdagmiddag deur J. F. Rutherford gehou is, het gehandel oor die onderwerp “Skape en bokke”. Die “skape” is duidelik geïdentifiseer as die regverdiggesindes wat die aardse ryk van God se Koninkryk sou beërf. ’n Resolusie wat daarop gevolg het, het die aandag gevestig op die huigelary van “afvallige geestelikes en ‘die vernaamste lede van hulle kuddes’, naamlik wêreldse mense met groot finansiële en politieke invloed”. Dit het ’n beroep gedoen op die “menigte mense in die konfessionele kerke wat vrede en orde liefhet . . . om hulle te onttrek aan die onregverdige kerkstelsels wat deur die Here as ‘Babilon’ bestempel word” en om hulle gereed te maak “om die seëninge van God se koninkryk te ontvang”.

      23 Hierdie resolusie was ongetwyfeld die gevolg van die tweede trompetstoot. Dié wat met verloop van tyd aan daardie boodskap gehoor sou gee, sou hulle afskei van dié wat Jesaja met hierdie woorde beskryf het: “Maar die goddeloses is soos die onstuimige see, wanneer dit nie tot bedaring kan kom nie, waarvan die waters seegras en modder bly opgooi” (Jesaja 57:20; 17:12, 13). “Die see” is dus ’n goeie afbeelding van die rustelose, onstabiele en opstandige mensdom wat onrus en revolusie aanstook. (Vergelyk Openbaring 13:1.) Die tyd sal aanbreek wanneer hierdie “see” nie meer sal bestaan nie (Openbaring 21:1). Intussen spreek Jehovah, met die tweede trompetstoot, oordeel uit oor ’n derde daarvan—die onstuimige deel wat in die ryk van die Christendom self is.

      24. Wat word afgebeeld deur die brandende bergagtige massa wat in die see geslinger is?

      24 ’n Groot bergagtige massa wat met vuur brand, word in hierdie “see” geslinger. In die Bybel simboliseer berge dikwels regerings. God se Koninkryk word byvoorbeeld as ’n berg uitgebeeld (Daniël 2:35, 44). Verderflike Babilon het ’n “uitgebrande berg” geword (Jeremia 51:25). Maar die bergagtige massa wat Johannes sien, brand nog steeds. Die feit dat dit in die see geslinger word, is ’n goeie afbeelding van hoe heerskappy gedurende en ná die Eerste Wêreldoorlog ’n brandende geskil onder die mensdom geword het, veral in die lande van die Christendom. In Italië het Mussolini Fascisme ingevoer. Duitsland het Hitler se Nazisme aangeneem, terwyl ander lande verskeie vorme van sosialisme op die proef gestel het. ’n Drastiese verandering het in Rusland plaasgevind, waar die Bolsjewistiese revolusie die eerste Kommunistiese staat opgelewer het, met die gevolg dat godsdiensleiers van die Christendom mag en invloed in een van hulle voormalige vestings verloor het.

      25. Hoe was heerskappy ná die Tweede Wêreldoorlog nog steeds ’n brandende geskil?

      25 Die eksperimente met Fascisme en Nazisme is deur die Tweede Wêreldoorlog beëindig, maar heerskappy was nog steeds ’n brandende geskil, en die mense-see het aangehou om te kolk en om nuwe revolusionêre regerings voort te bring. In die dekades ná 1945 is hierdie regerings op baie plekke, soos China, Viëtnam, Kuba en Nicaragua, ingestel. In Griekeland het ’n eksperiment met militêre diktatorskap misluk. In Kampuchea (Kambodja) het ’n proefneming met fundamentalistiese Kommunisme volgens berig meer as tweemiljoen lewens geëis.

      26. Hoe het die “berg wat met vuur brand” opskuddings in die see van die mensdom bly veroorsaak?

      26 Daardie “berg wat met vuur brand”, het opskuddings in die see van die mensdom bly veroorsaak. Daar was berigte van konflikte oor heerskappy in Afrika, die Amerikas, Asië en die eilande van die Stille Oseaan. Baie van hierdie konflikte het plaasgevind in lande van die Christendom of waar die Christendom se sendelinge aktiviste geword het. Rooms-Katolieke priesters het selfs by Kommunistiese guerrillagroepe aangesluit en as lede daarvan geveg. Terselfdertyd het Protestantse evangeliese groepe hulle in Sentraal-Amerika daarop toegelê om ’n teenwig te vorm vir wat hulle die Kommuniste se “wrede en meedoënlose dors na mag” genoem het. Maar nie een van hierdie beroeringe in die see van die mensdom het vrede en veiligheid gebring nie.—Vergelyk Jesaja 25:10-12; 1 Tessalonisense 5:3.

      27. (a) Hoe het “’n derde van die see” soos bloed geword? (b) Hoe het “’n derde van die skepsele in die see” gesterf, en wat gaan met “’n derde van die bote” gebeur?

      27 Die tweede trompetstoot openbaar dat mense wat by revolusionêre konflikte oor heerskappy betrokke geraak het in plaas van hulle aan God se Koninkryk te onderwerp, bloedskuldig is. Veral die Christendom se “derde van die see” het soos bloed geword. Alle lewende dinge daarin is in God se oë dood. Nie een van die radikale organisasies wat soos bote op daardie derde van die see dryf, kan uiteindelike skipbreuk vermy nie. Hoe bly is ons tog dat miljoene sagmoedige mense nou ag geslaan het op die trompetagtige oproep om hulle af te skei van dié wat hulle nog steeds in die bekrompe nasionalisme en bloedskuld van daardie see bevind!

      ’n Ster val uit die hemel

      28. Wat gebeur wanneer die derde engel op sy trompet blaas?

      28 “En die derde engel het op sy trompet geblaas. En ’n groot ster wat soos ’n lamp brand, het uit die hemel geval, en dit het op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine geval. En die naam van die ster word genoem Als. En ’n derde van die waters het in als verander, en baie van die mense het van die waters gesterf, want dit is bitter gemaak” (Openbaring 8:10, 11). Weer eens help ander dele van die Bybel ons om te sien hoe hierdie teks in die dag van die Here van toepassing is.

      29. Wat vervul die simboliek van “’n groot ster wat soos ’n lamp brand”, en waarom?

      29 Ons het reeds die simboliek van ’n ster in Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes teëgekom, waarin die sewe sterre die ouer manne in die gemeentes simboliseer (Openbaring 1:20).b Vanaf die tyd dat hulle met die heilige gees verseël word as ’n pand van hulle hemelse erfenis, woon gesalfde “sterre”, tesame met al die ander gesalfdes, in geestelike sin in hemelse plekke (Efesiërs 2:6, 7). Maar die apostel Paulus het gewaarsku dat daar uit die midde van hierdie sterre afvalliges, sektariërs, sou kom wat die kudde sou mislei (Handelinge 20:29, 30). Sulke ontrouheid sou ’n groot afvalligheid tot gevolg hê, en hierdie gevalle ouer manne sou ’n saamgestelde mens van wetteloosheid uitmaak wat homself tot ’n goddelike posisie onder die mensdom sou verhef (2 Tessalonisense 2:3, 4). Paulus se waarskuwings is vervul toe die geestelikes van die Christendom op die wêreldtoneel verskyn het. Hierdie groep word gepas voorgestel deur die simbool van “’n groot ster wat soos ’n lamp brand”.

      30. (a) Wat is bedoel toe die koning van Babilon aangespreek is as een wat uit die hemel geval het? (b) Waarna kan ’n val uit die hemel verwys?

      30 Johannes sien hierdie spesifieke ster uit die hemel val. Hoe? Die ervarings van ’n eertydse koning help ons om dit te verstaan. Jesaja het met die koning van Babilon gepraat en gesê: “Hoe het jy uit die hemel geval, o glansende, o seun van die dagbreek! Hoe is jy teen die aarde neergevel, jy wat die nasies magteloos gemaak het!” (Jesaja 14:12). Hierdie profesie is vervul toe Babilon deur Kores se leërs omvergewerp is en sy koning skielik geval het van wêreldheerskappy tot ’n skandelike nederlaag. ’n Val uit die hemel kan dus daarna verwys dat iemand ’n hoë posisie verloor en in skande verval.

      31. (a) Wanneer het die geestelikes van die Christendom uit ’n “hemelse” posisie geval? (b) Hoe het die waters wat die geestelikes opgedis het, in “als” verander, en met watter gevolg vir baie?

      31 Toe die geestelikes van die Christendom van die ware Christelike godsdiens afvallig geraak het, het hulle geval uit die verhewe “hemelse” posisie wat Paulus in Efesiërs 2:6, 7 beskryf het. In plaas van vars waters van waarheid aan te bied, het hulle “als” opgedis, bitter leuens soos die helse vuur, die vaevuur, die Drie-eenheid en voorbeskikking; hulle het die nasies ook na oorlog gelei en versuim om hulle as morele knegte van God op te bou. Die gevolg? Geestelike vergiftiging van dié wat die leuens geglo het. Hulle geval was soortgelyk aan dié van die ontroue Israeliete van Jeremia se dag, vir wie Jehovah gesê het: “Kyk, ek laat hulle als eet, en ek sal hulle gifwater gee om te drink. Want van die profete van Jerusalem af het afvalligheid oor die hele land uitgegaan.”—Jeremia 9:15; 23:15.

      32. Wanneer het die Christendom se val uit die geestelike hemele duidelik geword, en hoe is dit gedramatiseer?

      32 Hierdie val uit die geestelike hemele het in 1919 duidelik geword toe die klein oorblyfsel van gesalfde Christene, en nie die Christendom se geestelikes nie, oor die Koninkryksbelange aangestel is (Matteus 24:45-47). En van 1922 af is hierdie val gedramatiseer toe dié groep Christene hulle veldtog hervat het om die tekortkominge van die geestelikes van die Christendom openlik bloot te lê.

      33. Hoe is die geestelikes van die Christendom by die byeenkoms in 1924 in Columbus, Ohio, VSA, ontmasker?

      33 Opmerkenswaardig in hierdie verband was die aankondiging wat gedoen is by die byeenkoms wat The Golden Age beskryf het as “die grootste byeenkoms van Bybelstudente wat tot nog toe gehou is”. Hierdie byeenkoms het op 20-27 Julie 1924 in Columbus, Ohio, plaasgevind. Ongetwyfeld onder leiding van die engel wat op die derde trompet geblaas het, is ’n kragtige resolusie daar aangeneem, waarvan 50 miljoen eksemplare later as ’n traktaat versprei is. Dit is uitgegee onder die titel Ecclesiastics Indicted (Aanklag teen die geestelikes). ’n Tussenhofie het die geskil na vore gebring: “Die saad van die belofte versus die saad van die slang.” Die Aanklag self het die Christendom se geestelikes volledig ontmasker met betrekking tot sake soos hulle aanvaarding van hoogdrawende godsdienstitels, die feit dat hulle handelsreuse en beroepspolitici die vernaamste lede van hulle kuddes maak, dat hulle vernaam wil wees in die oë van mense en dat hulle weier om die boodskap van die Messias se Koninkryk aan die mense te verkondig. Dit het beklemtoon dat elke toegewyde Christen deur God aangestel word om “die dag van die wraak van ons God” te verkondig en “om al die treurendes te vertroos”.—Jesaja 61:2.

      34, 35. (a) Wat het met die geestelikes se mag en invloed gebeur sedert die derde engel op sy trompet begin blaas het? (b) Wat hou die toekoms in vir die Christendom se geestelikes?

      34 Sedert die derde engel op sy trompet begin blaas het, het die geestelikes se oorheersing van die mensdom geleidelik afgeneem, sodat baie min van hulle vandag nog die byna godgelyke mag het wat hulle in vroeëre eeue geniet het. Danksy die predikingswerk van Jehovah se Getuies het groot getalle mense besef dat baie leerstellings wat deur die geestelikes verkondig word, geestelike gif—“als”—is. Verder is die geestelikes se mag in Noord-Europa byna uitgeput, terwyl die staat in party ander lande hulle invloed streng beperk. In Katolieke dele van Europa en in die Amerikas het die geestelikes se skandelike gedrag in geldelike, politieke en sedelike sake hulle reputasie beklad. Van nou af kan hulle posisie net vererger, aangesien hulle binnekort dieselfde einde as alle ander valse godsdiensbeoefenaars sal hê.—Openbaring 18:21; 19:2.

      35 Jehovah se plae oor die Christendom is nog nie klaar nie. Kyk wat ná die vierde trompetstoot gebeur.

      Duisternis!

      36. Wat gebeur nadat die vierde engel op sy trompet geblaas het?

      36 “En die vierde engel het op sy trompet geblaas. En ’n derde van die son en ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref, sodat ’n derde van hulle verduister sou word en die dag vir ’n derde daarvan nie verlig sou word nie, en so ook die nag” (Openbaring 8:12). Die negende plaag oor Egipte was ’n plaag van letterlike duisternis (Eksodus 10:21-29). Maar wat is hierdie simboliese duisternis wat as ’n plaag oor mense kom?

      37. Hoe beskryf die apostels Petrus en Paulus die geestelike toestand van diegene buite die Christengemeente?

      37 Die apostel Petrus het vir mede-Christene gesê dat hulle in geestelike sin in duisternis was voordat hulle Christene geword het (1 Petrus 2:9). Paulus het ook die woord “duisternis” gebruik om die geestelike toestand van diegene buite die Christengemeente te beskryf (Efesiërs 5:8; 6:12; Kolossense 1:13; 1 Tessalonisense 5:4, 5). Maar wat van diegene in die Christendom wat beweer dat hulle in God glo en wat sê dat hulle Jesus as hulle Redder aanvaar?

      38. Watter feit omtrent die Christendom se “lig” basuin die vierde engel uit?

      38 Jesus het gesê dat ware Christene aan hulle vrugte herken sou word en dat baie wat beweer dat hulle sy volgelinge is, “werkers van wetteloosheid” sou wees (Matteus 7:15-23). Niemand wat kyk na die vrugte van die derde van die wêreld wat uit die Christendom bestaan, kan ontken dat sy in groot geestelike duisternis rondtas nie (2 Korintiërs 4:4). Sy is die laakbaarste, want sy beweer dat sy Christelik is. Dit is gevolglik gepas dat die vierde engel die feit uitbasuin dat die Christendom se “lig” in werklikheid duisternis is en dat haar bronne van “lig” Babilonies—nie-Christelik—is.—Markus 13:22, 23; 2 Timoteus 4:3, 4.

      39. (a) Hoe het die resolusie wat by die byeenkoms in 1925 aangeneem is, die Christendom se valse lig beskryf? (b) Watter verdere ontmaskering is in 1955 gedoen?

      39 Ooreenkomstig daardie hemelse aankondiging het ’n maksimum opkoms van God se volk op 29 Augustus 1925 by ’n byeenkoms in Indianapolis, Indiana, VSA, vergader en ’n reguit resolusie met die titel “Boodskap van hoop” vir publikasie aangeneem. Weer eens is sowat 50 miljoen eksemplare in etlike tale versprei. Dit het die valse lig beskryf wat deur die kombinasie van handelswoekeraars, politieke leiers en die geestelikes aangebied word, as gevolg waarvan “die volke in duisternis verval het”. En dit het die aandag op God se Koninkryk gevestig as die ware hoop om “die seëninge van vrede, voorspoed, gesondheid, lewe, vryheid en ewige geluk” te ontvang. Dit het moed van die groepie gesalfde Christene geverg om sulke boodskappe teen die reuseorganisasie van die Christendom te verkondig. Maar hulle het dit van die vroeë 1920’s tot nou toe deurgaans gedoen. In onlangser tye, in 1955, is die geestelikeklas verder ontmasker deur die wêreldwye verspreiding van ’n boekie wat in baie tale verskyn het, Die Christenheid of die Christelikheid—Watter een is “die lig van die wêreld”? Vandag het die huigelary van die Christendom so duidelik geword dat baie in die wêreld dit self kan sien. Maar Jehovah se volk het nie opgehou om haar te ontmasker as ’n koninkryk van duisternis nie.

      ’n Vlieënde arend

      40. As wat word die Christendom deur die vier trompetstote blootgelê?

      40 Hierdie eerste vier trompetstote het waarlik meegebring dat die verlate en dodelike toestand van die Christendom blootgelê word. Haar deel van “die aarde” is aan die kaak gestel as iets wat Jehovah se oordeel verdien. Daar is getoon dat revolusionêre regerings wat in haar lande en elders verskyn, skadelik is vir geestelike lewe. Die gevalle toestand van haar geestelikes is blootgelê, en die algemene duisternis van haar geestelike toestand is ontbloot vir almal om te sien. Die Christendom is waarlik die laakbaarste deel van Satan se stelsel van dinge.

      41. Wat sien en hoor Johannes gedurende ’n onderbreking in die reeks trompetstote?

      41 Wat moet nog geopenbaar word? Voordat ons die antwoord op hierdie vraag vind, is daar ’n kort onderbreking in die reeks trompetstote. Johannes beskryf wat hy vervolgens sien: “En ek het gesien, en ek het ’n arend wat in die middel van die hemel vlieg, met ’n harde stem hoor sê: ‘Wee, wee, wee dié wat op die aarde woon, weens die res van die trompetstote van die drie engele wat op die punt staan om op hulle trompette te blaas!’”—Openbaring 8:13.

      42. Wat word moontlik deur die vlieënde arend afgebeeld, en wat is sy boodskap?

      42 ’n Arend vlieg hoog in die lug, sodat mense in ’n uitgestrekte gebied dit kan sien. Dit het buitengewone skerp gesigsvermoë en kan ver vooruit sien (Job 39:29). Een van die vier lewende wesens, of gerubs, rondom God se troon is as ’n vlieënde arend uitgebeeld (Openbaring 4:6, 7). Hetsy dit hierdie gerub of ’n ander versiende kneg van God is, dit verkondig luidkeels ’n dinamiese boodskap: “Wee, wee, wee”! Laat die aarde se bewoners aandagtig luister wanneer die drie oorblywende trompetstote gehoor word, waarvan elkeen met een van hierdie weë verband hou.

      [Voetnote]

      a In teenstelling hiermee toon Openbaring 7:16 dat die groot menigte nie die verskroeiende hitte van Jehovah se misnoeë ondervind nie.

      b Hoewel die sewe sterre in Jesus se regterhand die gesalfde opsieners in die Christengemeente afbeeld, is die ouer manne in die meeste van die nagenoeg 100 000 gemeentes in die wêreld vandag lede van die groot menigte (Openbaring 1:16; 7:9). Wat is hulle posisie? Aangesien hulle hulle aanstelling deur heilige gees deur middel van die gesalfde “getroue en verstandige slaaf”-klas ontvang, kan daar gesê word dat hulle onder Jesus se beherende regterhand is, want hulle is ook sy onderherders (Jesaja 61:5, 6; Handelinge 20:28). Hulle ondersteun die “sewe sterre” in die sin dat hulle dien waar bekwame gesalfde broers nie beskikbaar is nie.

      [Tabel op bladsy 139]

      Die Christendom se waters as als blootgelê

      Leringe en gesindhede van die Christendom Wat die Bybel werklik sê

      God se persoonlike naam Jesus het gebid dat God se naam

      is onbelangrik “Die gebruik geheilig moet word. Petrus het

      van enige eienaam vir die gesê: “Elkeen wat die naam van

      enigste God . . . is heeltemal Jehovah aanroep, sal gered word”

      onvanpas vir die universele (Handelinge 2:21; Joël 2:32;

      geloof van die Christelike Kerk” Matteus 6:9; Eksodus 6:3;

      (Voorwoord by die Revised Openbaring 4:11; 15:3; 19:6).

      Standard Version).

      God is ’n Drie-eenheid: “Die Die Bybel sê dat Jehovah groter

      Vader is God, die Seun is God, is as Jesus en die God en hoof

      en die Heilige Gees is God, en van Christus is (Johannes 14:28; 20:17;

      tog is daar nie drie Gode nie, 1 Korintiërs 11:3).

      maar een God” (The Catholic Die heilige gees is God se

      Encyclopedia, uitgawe van 1912). werkende krag (Matteus 3:11;

      Lukas 1:41; Handelinge 2:4).

      Die mensesiel is onsterflik: Die mens is ’n siel. By die

      “Wanneer die mens sterf, word dood hou die siel op om te dink

      sy siel en liggaam geskei. Sy of te voel en keer dit terug na

      liggaam . . . ontbind . . . Die die stof waaruit dit gemaak is

      mensesiel sterf egter nie” (What (Genesis 2:7; 3:19; Psalm 146:3, 4;

      Happens After Death, ’n Rooms- Prediker 3:19, 20; 9:5, 10;

      Katolieke publikasie). Esegiël 18:4, 20).

      Die goddeloses word ná hulle Die loon van die sonde is die

      doodin die hel gestraf: “Volgens dood, nie lewe in pyniging nie

      die tradisionele Christelike leer (Romeine 6:23). Die dooies rus

      is die hel ’n plek van eindelose onbewus in die hel (Hades, Sjeool)

      foltering en pyn” (The World Book en wag op ’n opstanding (Psalm 89:48;

      Encyclopedia, uitgawe van 1987). Johannes 5:28, 29; 11:24, 25;

      Openbaring 20:13, 14).

      “Die titel Middelares [vroulike Die enigste middelaar tussen God en

      middelaar] word op Ons Liewe mense is Jesus (Johannes 14:6;

      Vrou toegepas” (New Catholic 1 Timoteus 2:5; Hebreërs 9:15; 12:24).

      Encyclopedia, uitgawe van 1967). Kindertjies moet gedoop word: Doop is vir diegene van wie reeds

      “Van die staanspoor af het die dissipels gemaak is en wat geleer

      Kerk die Sakrament van die Doop is om Jesus se bevele te gehoorsaam.

      aan kindertjies toegedien. Om aan die vereistes vir doop te

      Hierdie gebruik is nie alleen as voldoen, moet ’n persoon God se

      geoorloof beskou nie, maar daar Woord verstaan en geloof beoefen

      is ook geleer dat dit absoluut (Matteus 28:19, 20; Lukas 3:21-23;

      noodsaaklik is vir redding” (New Handelinge 8:35, 36).

      Catholic Encyclopedia, uitgawe van 1967).

      Die meeste kerke is verdeel in Alle eerste-eeuse Christene was

      ’n lekedom en ’n geestelikeklas bedienaars en het die goeie nuus

      wat vir die lekedom preek. Die verkondig (Handelinge 2:17, 18;

      geestelikes word gewoonlik ’n Romeine 10:10-13; 16:1). ’n

      salaris vir hulle bediening gegee Christen moet ‘verniet gee’, nie vir

      en word oor die lekedom verhef ’n salaris nie (Matteus 10:7, 8).

      deur titels soos “Dominee”, Jesus het die gebruik

      “Vader” of “Sy Eminensie”. van godsdienstitels streng

      verbied (Matteus 6:2; 23:2-12;

      1 Petrus 5:1-3).

      Beelde, ikone en kruise word Christene moet vlug vir elke

      in aanbidding gebruik: “Die soort afgodediens, insluitende

      beelde . . . van Christus, van sogenaamdrelatiewe aanbidding

      die Maagdelike Moeder van God (Eksodus 20:4, 5;

      en van die ander heiliges moet 1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21).

      . . . in kerke gehou word en Hulle aanbidGod nie deur

      gepaste eerbied en eer moet aanskouing nie, maarmet gees en

      daaraan betoon word” (Verklaring waarheid (Johannes 4:23, 24;

      van die Konsilie van Trente 2 Korintiërs 5:7). [1545-63]).

      Kerklidmate word geleer dat Jesus het verkondig dat God

      God se voornemens deur die se Koninkryk, nie die een of ander

      politiek verwesenlik sal word. politieke stelsel nie, die hoop vir die

      Wyle kardinaal Spellman het mensdom is (Matteus 4:23; 6:9, 10).

      gesê: “Daar is net een weg tot Hy het geweier om by

      vrede . . . , die hoofweg van die politiek betrokke te raak

      demokrasie.” Nuusberigte vertel (Johannes 6:14, 15). Sy Koninkryk

      van godsdiens se betrokkenheid was geen deel van hierdie wêreld

      by die wêreld se politiek (selfs nie; daarom moes sy volgelinge

      by opstande) en haar ondersteuning geen deel van hierdie wêreld wees

      van die VN as “die laaste hoop op nie (Johannes 18:36; 17:16).

      harmonie en vrede”. Jakobus het teen vriendskap met

      die wêreld gewaarsku (Jakobus 4:4).

      [Prent op bladsy 132]

      Die oopmaak van die sewe seëls lei tot sewe trompetstote

      [Prente op bladsy 140]

      “’n Uitdaging aan wêreldleiers” (1922)

      Hierdie resolusie het gehelp om Jehovah se plaag teen “die aarde” bekend te maak

      [Prent op bladsy 140]

      “’n Waarskuwing aan alle Christene” (1923)

      Jehovah se ongunstige oordeel teen “’n derde van die see” is wyd en syd deur hierdie resolusie verkondig

      [Prente op bladsy 141]

      “Aanklag teen die geestelikes” (1924)

      Die uitgebreide verspreiding van hierdie traktaat het gehelp om mense te waarsku dat die “ster” van die Christendom se geestelikes geval het

      [Prent op bladsy 141]

      “Boodskap van hoop” (1925)

      Hierdie reguit resolusie is gebruik om te openbaar dat die Christendom se vermeende ligbronne in werklikheid bronne van duisternis is

  • Die eerste wee—sprinkane
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 22

      Die eerste wee—sprinkane

      1. Wie voer dit verder wanneer die engele op die trompette blaas, en wat kondig die vyfde trompetstoot aan?

      DIE vyfde engel maak hom gereed om op sy trompet te blaas. Daar is reeds op vier hemelse trompette geblaas, en vier plae is gerig teen die derde van die aarde wat Jehovah as die laakbaarste beskou—die Christendom. Haar dodelike siek toestand is blootgelê. Hoewel engele op die trompette blaas, voer menseboodskappers dit op die aarde verder. Nou gaan die vyfde engeletrompet die eerste wee aankondig, wat selfs skrikwekkender is as die dinge wat dit voorafgegaan het. Dit hou verband met ’n verskriklike sprinkaanplaag. Maar laat ons eers ander tekste ondersoek wat ons sal help om hierdie plaag beter te verstaan.

      2. Watter Bybelboek beskryf ’n plaag sprinkane wat ooreenkom met die plaag wat Johannes sien, en watter uitwerking het dit op eertydse Israel gehad?

      2 Die Bybelboek Joël, wat in die negende eeu v.G.J. geskryf is, beskryf ’n plaag insekte, waaronder sprinkane, wat ooreenkom met die plaag wat Johannes sien (Joël 2:1-11, 25).a Dit sou vir afvallige Israel baie ongemak veroorsaak, maar sou ook meebring dat individuele Jode berou toon en weer Jehovah se guns geniet (Joël 2:6, 12-14). Wanneer daardie tyd aanbreek, sou Jehovah sy gees op “elke soort vlees” uitstort, terwyl skrikwekkende tekens en angswekkende voortekens “die koms van die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” sou voorafgaan.—Joël 2:11, 28-32.

      ’n Eerste-eeuse plaag

      3, 4. (a) Wanneer was daar ’n vervulling van Joël hoofstuk 2, en hoe? (b) Hoe was daar in die eerste eeu G.J. ’n plaag soos ’n swerm sprinkane, en hoe lank het die plaag voortgeduur?

      3 Daar was in die eerste eeu ’n vervulling van Joël hoofstuk 2. Dit was toe, op Pinkster 33 G.J., dat heilige gees uitgestort is, waardeur die eerste Christene gesalf en in staat gestel is om in baie tale oor “die luisterryke dinge van God” te praat. Gevolglik het ’n groot menigte vergader. Die apostel Petrus het hierdie verwonderde toeskouers toegespreek, waartydens hy Joël 2:28, 29 aangehaal en verduidelik het dat hulle die vervulling daarvan aanskou (Handelinge 2:1-21). Maar daar is geen verslag dat daar destyds ’n letterlike insekplaag was, wat vir party ongemak veroorsaak en ander tot berou gelei het nie.

      4 Was daar in daardie dae ’n figuurlike plaag? Ja, beslis! Dit het gekom as gevolg van die aanhoudende prediking van die pas gesalfde Christene.b Deur hulle het Jehovah die Jode wat wou luister, genooi om berou te toon en seëninge te geniet wat van hom af kom (Handelinge 2:38-40; 3:19). Die persone wat gunstig gereageer het, het sy guns in ’n merkwaardige mate ontvang. Maar vir dié wat die uitnodiging geweier het, het die eerste-eeuse Christene soos ’n verwoestende swerm sprinkane geword. Hulle het in Jerusalem begin en deur die hele Judea en Samaria versprei. Hulle was spoedig oral en het die ongelowige Jode gepynig deur Jesus se opstanding, met alles wat dít behels het, in die openbaar te verkondig (Handelinge 1:8; 4:18-20; 5:17-21, 28, 29, 40-42; 17:5, 6; 21:27-30). Daardie plaag het voortgeduur tot die “vreesinboesemende dag” in 70 G.J., toe Jehovah die Romeinse leërs teen Jerusalem gebring het om dit te vernietig. Net die Christene wat Jehovah se naam in geloof aangeroep het, is gered.—Joël 2:32; Handelinge 2:20, 21; Spreuke 18:10.

      Die hedendaagse sprinkaanplaag

      5. Hoe is Joël se profesie sedert 1919 vervul?

      5 Ons sou redelikerwys kon verwag dat Joël se profesie ’n finale vervulling in die tyd van die einde sou hê. Hoe waar was dit tog! By die Bybelstudente se byeenkoms op 1-8 September 1919 in Cedar Point, Ohio, VSA, het ’n opmerklike uitstorting van Jehovah se gees sy volk geaktiveer om ’n wêreldwye predikingsveldtog te organiseer. Van alle verklaarde Christene het net hulle erken dat Jesus as hemelse Koning op die troon geplaas is en geen moeite ontsien om hierdie goeie nuus wyd en syd bekend te maak nie. Hulle volgehoue getuieniswerk ter vervulling van profesieë het vir die afvallige Christendom soos ’n folterende plaag geword.—Matteus 24:3-8, 14; Handelinge 1:8.

      6. (a) Wat het Johannes gesien toe die vyfde engel op sy trompet blaas? (b) Wie word deur hierdie “ster” gesimboliseer, en waarom?

      6 Openbaring, wat sowat 26 jaar ná Jerusalem se vernietiging geskryf is, beskryf ook hierdie plaag. Wat voeg dit by Joël se beskrywing? Kom ons ondersoek Johannes se verslag verder: “En die vyfde engel het op sy trompet geblaas. En ek het ’n ster gesien wat uit die hemel op die aarde geval het, en die sleutel van die put van die afgrond is vir hom gegee” (Openbaring 9:1). Hierdie “ster” verskil van die ster in Openbaring 8:10 wat Johannes sien val het. Hy sien ‘’n ster wat uit die hemel geval het’ en wat nou ’n toewysing met betrekking tot hierdie aarde het. Is dit ’n gees of ’n vleeslike persoon? Daar word later gesê dat die houer van hierdie “sleutel van die put van die afgrond” Satan in “die afgrond” werp (Openbaring 20:1-3). Hy moet dus ’n magtige geespersoon wees. In Openbaring 9:11 sê Johannes vir ons dat die sprinkane “’n koning [het], die engel van die afgrond”. Albei verse moet na dieselfde persoon verwys, aangesien die engel wat die sleutel van die afgrond het, logieserwys die engel van die afgrond sou wees. En die ster moet Jehovah se aangestelde Koning simboliseer, aangesien gesalfde Christene net die een engele-Koning, Jesus Christus, erken.—Kolossense 1:13; 1 Korintiërs 15:25.

      7. (a) Wat gebeur wanneer “die put van die afgrond” oopgemaak word? (b) Wat is “die afgrond”, en wie het ’n kort tydjie daarin deurgebring?

      7 Die verslag sê verder: “En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en rook het uit die put opgestyg soos die rook van ’n groot oond, en die son, asook die lug, is deur die rook van die put verduister. En uit die rook het sprinkane op die aarde te voorskyn gekom; en aan hulle is gesag gegee, dieselfde gesag as wat die skerpioene van die aarde het” (Openbaring 9:2, 3). Volgens die Skrif is “die afgrond” ’n plek van onbedrywigheid, selfs die dood. (Vergelyk Romeine 10:7; Openbaring 17:8; 20:1, 3.) Die groepie van Jesus se broers het aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog ’n kort tydjie in so ’n “afgrond” van relatiewe onbedrywigheid deurgebring (1918-19). Maar toe Jehovah in 1919 sy gees op sy berouvolle knegte uitgestort het, het hulle as ’t ware uitgeswerm om die werk wat voorgelê het, aan te pak.

      8. Hoe gaan die loslating van die sprinkane gepaard met baie “rook”?

      8 Soos Johannes sien, gaan die loslating van die sprinkane gepaard met baie rook, soos “die rook van ’n groot oond”.c Dit is hoe dit in 1919 was. Die situasie het vir die Christendom en vir die wêreld oor die algemeen donker geword. (Vergelyk Joël 2:30, 31.) Die loslating van hierdie sprinkane, die Johannes-klas, was in werklikheid ’n nederlaag vir die Christendom se geestelikes, wat planne beraam en saamgesweer het om die Koninkrykswerk eens en vir altyd te beëindig en wat toe God se Koninkryk verwerp het. Tekens van ’n rooksluier het oor die afvallige Christendom begin sprei toe hierdie sprinkaangroep goddelike gesag gegee is en dit begin uitoefen het deur kragtige oordeelsboodskappe te verkondig. Die Christendom se “son”—haar uiterlike voorkoms van verligting—is verduister, en “die lug” het vol van aankondigings van goddelike oordeel geword toe daar getoon is dat “die heerser van die gesag van die lug” van hierdie wêreld die Christendom se god is.—Efesiërs 2:2; Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19.

      Daardie pynigende sprinkane!

      9. Watter gevegsopdragte het die sprinkane ontvang?

      9 Watter gevegsopdragte het hierdie sprinkane ontvang? Johannes sê: “En vir hulle is gesê om geen plantegroei van die aarde of enige groenigheid of enige boom te beskadig nie, maar net dié mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. En aan die sprinkane is dit gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig moet word, en die pyniging oor hulle was soos die pyniging deur ’n skerpioen wanneer dit ’n mens steek. En in daardie dae sal die mense die dood soek, maar dit hoegenaamd nie vind nie, en hulle sal begeer om te sterf, maar die dood bly van hulle af wegvlug.”—Openbaring 9:4-6.

      10. (a) Teen wie word die plaag hoofsaaklik gerig, en watter uitwerking het dit op hulle? (b) Watter soort pyniging behels dit? (Sien ook die voetnoot.)

      10 Let daarop dat hierdie plaag nie in die eerste plek teen die mense of vernames onder hulle—die ‘plantegroei en bome van die aarde’—gerig word nie. (Vergelyk Openbaring 8:7.) Die sprinkane moet net die mense skade aandoen wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie, dié in die Christendom wat beweer dat hulle verseël is, maar wie se reputasie hierdie bewering weerspreek (Efesiërs 1:13, 14). Die pynigende uitinge van hierdie hedendaagse sprinkane is derhalwe in die eerste plek teen die godsdiensleiers van die Christendom gerig. Hoe pynigend moes dit tog vir hierdie aanmatigende manne gewees het om te hoor hoe daar in die openbaar bekend gemaak word dat hulle nie alleen daarin faal om hulle kuddes na die hemel te lei nie, maar dat hulle self nie daar sou kom nie!d Dit was waarlik ’n geval van ‘blindes wat blindes lei’!—Matteus 15:14.

      11. (a) Hoe lank word die sprinkane gemagtig om God se vyande te pynig, en waarom is dit nie werklik ’n kort tydjie nie? (b) Hoe erg is die pyniging?

      11 Die pyniging duur vyf maande. Is dit ’n betreklik kort tydjie? Nie uit die oogpunt van ’n letterlike sprinkaan nie. Vyf maande is die normale lewensduur van een van hierdie insekte. Die hedendaagse sprinkane hou derhalwe hulle hele lewe lank aan om God se vyande te steek. Bowendien is die pyniging so erg dat mense wil sterf. Ons het weliswaar geen verslag dat enigiemand wat deur die sprinkane gesteek is, hulleself werklik probeer doodmaak het nie. Maar die uitdrukking help ons om ons die intensiteit van die pyniging voor te stel—asof deur die meedoënlose aanval van skerpioene. Dit is soos die lyding wat Jeremia voorspel het vir die ontroue Israeliete wat deur die Babiloniese veroweraars verstrooi sou word en vir wie die dood verkiesliker as die lewe sou wees.—Jeremia 8:3; sien ook Prediker 4:2, 3.

      12. Waarom word die sprinkane toegelaat om die godsdiensleiers van die Christendom in geestelike sin te pynig, maar nie om hulle dood te maak nie?

      12 Waarom word hulle toegelaat om hierdie persone in geestelike sin te pynig en nie om hulle dood te maak nie? Hierdie is ’n aanvangswee in die blootlegging van die Christendom se leuens en mislukkings, maar eers later, namate die dag van die Here vorder, sal haar doodse geestelike toestand ten volle openbaar gemaak word. Dit sal gedurende ’n tweede wee wees dat ’n derde van die mense doodgemaak word.—Openbaring 1:10; 9:12, 18; 11:14.

      Sprinkane gereed vir die stryd

      13. Hoe lyk die sprinkane?

      13 Hoe merkwaardig lyk hierdie sprinkane tog! Johannes beskryf hulle: “En die gestaltes van die sprinkane was soos dié van perde wat gereedgemaak is vir die geveg; en op hulle koppe was iets soos krone, wat gelyk het soos goud, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense, maar hulle het hare gehad soos vrouehare. En hulle tande was soos dié van leeus; en hulle het borsplate soos ysterborsplate gehad. En die geluid van hulle vlerke was soos die geluid van waens van baie perde wat in die geveg inhardloop.”—Openbaring 9:7-9.

      14. Waarom het die groep verlewendigde Christene in 1919 ooreengekom met Johannes se beskrywing van die sprinkane?

      14 Dit is ’n goeie afbeelding van die lojale groep verlewendigde Christene in 1919. Soos perde was hulle gereed vir die geveg, gretig om vir die waarheid te stry op die manier wat die apostel Paulus beskryf het (Efesiërs 6:11-13; 2 Korintiërs 10:4). Op hulle koppe sien Johannes iets wat soos krone soos van goud lyk. Dit sou nie gepas wees dat hulle werklike krone het nie, want hulle begin nie regeer terwyl hulle nog op die aarde is nie (1 Korintiërs 4:8; Openbaring 20:4). Maar in 1919 het hulle reeds ’n koninklike voorkoms gehad. Hulle was broers van die Koning, en hulle hemelse krone is vir hulle bewaar, mits hulle tot die einde toe getrou bly.—2 Timoteus 4:8; 1 Petrus 5:4.

      15. Wat beteken die sprinkane se (a) ysterborsplate? (b) gesigte soos dié van mense? (c) hare soos dié van ’n vrou? (d) tande soos dié van leeus? (e) groot geraas?

      15 In die visioen het die sprinkane ysterborsplate, wat onverbreeklike regverdigheid afbeeld (Efesiërs 6:14-18). Hulle het ook die gesigte van mense, en hierdie kenmerk dui op die eienskap liefde, aangesien die mens gemaak is na die beeld van God, wat liefde is (Genesis 1:26; 1 Johannes 4:16). Hulle hare is lank soos dié van ’n vrou, wat ’n goeie afbeelding is van onderworpenheid aan hulle Koning, die engel van die afgrond. En hulle tande lyk soos ’n leeu se tande. ’n Leeu gebruik sy tande om vleis te skeur. Van 1919 af kon die Johannes-klas weer eens vaste geestelike voedsel inneem, in die besonder die waarhede oor God se Koninkryk waarin “die Leeu wat uit die stam Juda is”, Jesus Christus, regeer. Net soos die leeu moed simboliseer, was groot moed nodig om hierdie kragtige boodskap te verteer, om dit in publikasies uit te gee en om dit oor die hele aarde te versprei. Hierdie figuurlike sprinkane het ’n groot geraas gemaak, soos “die geluid van waens van baie perde wat in die geveg inhardloop”. In navolging van die eerste-eeuse Christene se voorbeeld is hulle nie van plan om stil te bly nie.—1 Korintiërs 11:7-15; Openbaring 5:5.

      16. Wat beteken die feit dat die sprinkane “sterte en angels soos skerpioene” het?

      16 Hierdie predikingswerk behels meer as die gesproke woord! “Ook het hulle sterte en angels soos skerpioene; en in hulle sterte is hulle gesag om die mense vyf maande lank seer te maak” (Openbaring 9:10). Wat kan dit beteken? Terwyl hulle hulle Koninkrykswerk verrig, doen Jehovah se Getuies, deur middel van die gesproke woord en gedrukte publikasies, gesaghebbende verklarings, wat op God se Woord gebaseer is. Hulle boodskap steek soos ’n skerpioen omdat hulle van Jehovah se naderende dag van wraak waarsku (Jesaja 61:2). Voordat die huidige geslag geestelike sprinkane hulle lewensduur voltooi, sal hulle godgegewe werk om Jehovah se oordele te verkondig, afgehandel word—en dit maak alle hardnekkige godslasteraars seer.

      17. (a) Wat is by die byeenkoms van die Bybelstudente in 1919 aangekondig wat die steek van hulle getuieniswerk sou versterk? (b) Hoe is die geestelikes gepynig, en hoe het hulle daarop gereageer?

      17 Hierdie sprinkaangroep was verheug toe ’n nuwe tydskrif, The Golden Age, by hulle byeenkoms in 1919 aangekondig is. Dit was ’n tweeweeklikse tydskrif wat bedoel was om die steek van hulle getuieniswerk te versterk.e Sy 27ste nommer, dié van 29 September 1920, het getoon hoe vals die geestelikes was deur die Bybelstudente in die Verenigde State gedurende die tydperk van 1918-19 te vervolg. Gedurende die 1920’s en 1930’s het The Golden Age die geestelikes gepynig met verdere pynigende artikels en spotprente wat hulle listige inmenging in die politiek, en veral die Katolieke hiërargie se ooreenkomste met die Fascistiese en Nazi-diktators, aan die kaak gestel het. In antwoord hierop het die geestelikes ‘onheil deur die wet beraam’ en gepeupelgeweld teen God se volk georganiseer.—Psalm 94:20, King James Version.

      Wêreldheersers word gewaarsku

      18. Watter werk moes die sprinkane doen, en wat het in reaksie op die vyfde trompetstoot gebeur?

      18 Die hedendaagse sprinkane het werk gehad om te doen. Die goeie nuus van die Koninkryk moes verkondig word. Dwalinge moes aan die kaak gestel word. Verlore skape moes gevind word. Terwyl die sprinkane hierdie take verrig het, moes die wêreld noodgedwonge daarvan kennis neem. In gehoorsaamheid aan die engele se trompetstote het die Johannes-klas voortgegaan om die Christendom aan die kaak te stel as ’n groep wat Jehovah se ongunstige oordele verdien. In reaksie op die vyfde trompet is ’n spesifieke aspek van hierdie oordele beklemtoon by ’n byeenkoms van die Bybelstudente op 25-31 Mei 1926 in Londen, Engeland. Hierdie byeenkoms is gekenmerk deur ’n resolusie, “’n Getuienis aan die heersers van die wêreld”, en ’n openbare toespraak in die Royal Albert Hall oor “Waarom wêreldmoondhede wankel—die oplossing”. Die volledige teks van albei het die volgende dag in ’n vername Londense koerant verskyn. Later het die sprinkaangroep 50 miljoen eksemplare van hierdie resolusie, in die vorm van ’n traktaat, wêreldwyd versprei—inderdaad ’n pyniging vir die geestelikes! Jare later het mense in Engeland nog steeds van hierdie pynigende ontmaskering gepraat.

      19. Watter verdere gevegstoerusting het die simboliese sprinkane ontvang, en wat het dit omtrent die Londense manifes gesê?

      19 By hierdie byeenkoms het die simboliese sprinkane verdere gevegstoerusing ontvang, in die besonder ’n nuwe boek met die titel Verlossing. Dit het ’n skriftuurlike bespreking ingesluit van die teken wat bewys dat die “manlike kind”-regering, Christus se hemelse Koninkryk, in 1914 gebore is (Matteus 24:3-14; Openbaring 12:1-10). Daarna het dit die manifes aangehaal wat in 1917 in Londen uitgegee en deur agt geestelikes, bestempel as “van die wêreld se grootste predikers”, onderteken is. Hulle het die vernaamste Protestantse kerkgenootskappe verteenwoordig—die Baptiste, die Kongregasionaliste, die Presbiteriane, die Anglikane en die Metodiste. Hierdie manifes het verklaar dat “die teenswoordige krisis op die end van die tye van die nasies wys” en dat “die openbaring van die Here enige oomblik verwag kan word”. Ja, hierdie geestelikes het die teken van Jesus se teenwoordigheid herken! Maar wou hulle enigiets daaromtrent doen? Die boek Verlossing deel ons mee: “Die merkwaardigste deel van die affêre is dat dieselfde manne wat die manifes onderteken het, dit later verloën het en die bewys wat toon dat ons aan die einde van die wêreld en in die dag van die Here se tweede teenwoordigheid is, verwerp het.”

      20. (a) Watter keuse het die geestelikes gemaak ten opsigte van die sprinkaangroep en hulle Koning? (b) Wie voer volgens Johannes gesag oor die sprinkaangroep, en wat is sy naam?

      20 In plaas van die inkomende Koninkryk van God aan te kondig, het die Christendom se geestelikes verkies om by Satan se wêreld te bly. Hulle wil niks te doen hê met die sprinkaangroep en hulle Koning nie, van wie Johannes nou sê: “Hulle het ’n koning oor hulle, die engel van die afgrond. In Hebreeus is sy naam Abaddon [wat “Vernietiging” beteken], maar in Grieks het hy die naam Apollion [wat “Vernietiger” beteken]” (Openbaring 9:11). As “engel van die afgrond” en “Vernietiger” het Jesus waarlik ’n pynigende wee oor die Christendom losgelaat. Maar daar kom nog meer!

      [Voetnote]

      a Vergelyk Joël 2:4, 5, 7 (waar die insekte beskryf word as perde, ’n volk en manne en daar gesê word dat hulle ’n geluid soos ’n strydwa maak) met Openbaring 9:7-9; vergelyk ook Joël 2:6, 10 (wat die pynlike uitwerking van die insekplaag beskryf) met Openbaring 9:2, 5.

      b Sien die artikel “Verenig teen die nasies in die dal van beslissing” in Die Wagtoring van 15 Februarie 1962.

      c Let daarop dat hierdie teks nie gebruik kan word om te bewys dat daar ’n vuur in die afgrond was, asof die afgrond die een of ander soort helse vuur is nie. Johannes sê dat hy dik rook gesien het wat “soos” die rook van ’n groot oond was (Openbaring 9:2). Hy sê nie dat hy werklike vlamme in die afgrond gesien het nie.

      d Die Griekse woord wat hier gebruik word, kom van die grondwoord ba·sa·niʹzo, wat soms vir letterlike pyniging gebruik word; maar dit kan ook vir verstandelike foltering gebruik word. Ons lees byvoorbeeld in 2 Petrus 2:8 dat Lot “sy regverdige siel gepynig” het weens die boosheid wat hy in Sodom gesien het. Die godsdiensleiers van die apostoliese tydperk het verstandelike foltering ondervind, hoewel dit natuurlik om ’n heeltemal ander rede was.

      e Hierdie tydskrif is in 1937 tot Vertroosting en in 1946 tot Ontwaak! hernoem.

      [Prent op bladsy 143]

      Die vyfde trompetstoot lei die eerste van drie weë in

      [Prent op bladsy 146]

      U pyle is skerp in die hart van die Koning se vyande (Psalm 45:5). Die spotprent hierbo, waarby hierdie byskrif verskyn het, is tipies van baie wat in die 1930’s gepubliseer is en wat “dié mense wat nie die seël van God . . . het nie”, gesteek het

      [Prente op bladsy 147]

      Die Royal Albert Hall, waar die boek Verlossing vrygestel en die resolusie “’n Getuienis aan die heersers van die wêreld” aangeneem is

  • Die tweede wee—leërs van ruiters
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 23

      Die tweede wee—leërs van ruiters

      1. Wat het gebeur ondanks die geestelikes se pogings om die sprinkane uit te wis, en wat dui die koms van nog twee weë aan?

      SEDERT 1919 het die simboliese sprinkane se inval in die Christendom vir die geestelikes baie ongemak veroorsaak. Hulle het die sprinkane probeer uitwis, maar dié het aangehou om sterker as ooit aan te kom (Openbaring 9:7). En dit is nie al nie! Johannes skryf: “Die een wee is verby. Kyk! Nog twee weë kom ná hierdie dinge” (Openbaring 9:12). Verdere pynigende plae lê vir die Christendom voor.

      2. (a) Wat gebeur wanneer die sesde engel op sy trompet blaas? (b) Wat stel die ‘een stem uit die horings van die goue altaar’ voor? (c) Waarom word vier engele genoem?

      2 Wat is die bron van die tweede wee? Johannes skryf: “En die sesde engel het op sy trompet geblaas. En ek het een stem gehoor uit die horings van die goue altaar wat voor God is, wat vir die sesde engel, wat die trompet gehad het, sê: ‘Maak die vier engele los wat by die groot rivier, die Eufraat, vasgebind is’” (Openbaring 9:13, 14). Die engele word losgemaak in antwoord op die stem wat uit die horings van die goue altaar kom. Dit is die goue reukaltaar, en die reukwerk van die goue bakke van hierdie altaar is vroeër al twee keer met die gebede van die heiliges verbind (Openbaring 5:8; 8:3, 4). Hierdie een stem stel dus die gesamentlike gebede van die heiliges op die aarde voor. Hulle smeek dat hulle bevry moet word vir verdere kragdadige diens as Jehovah se “boodskappers”, wat die basiese betekenis is van die Griekse woord wat hier met “engele” vertaal word. Waarom is daar vier engele? Hierdie simboliese getal dui skynbaar aan dat hulle só georganiseer sou wees dat hulle die hele aarde kan dek.—Openbaring 7:1; 20:8.

      3. Hoe was die vier engele “by die groot rivier, die Eufraat, vasgebind”?

      3 Hoe was hierdie engele “by die groot rivier, die Eufraat, vasgebind”? Die Eufraatrivier was in die ou tyd die noordoostelike grens van die land wat Jehovah aan Abraham beloof het (Genesis 15:18; Deuteronomium 11:24). Blykbaar is die engele by die grens van hulle godgegewe land, of aardse bedrywigheidsfeer, ingeperk en daarvan weerhou om die diens wat Jehovah vir hulle voorberei het, ten volle te verrig. Die Eufraat is ook ten nouste verbind met die stad Babilon, en ná die val van Jerusalem in 607 v.G.J. het vleeslike Israeliete 70 jaar in ballingskap daar deurgebring, ‘vasgebind by die groot rivier, die Eufraat’ (Psalm 137:1). In 1919 was die geestelike Israeliete op soortgelyke wyse vasgebind, sodat hulle neerslagtig was en Jehovah om leiding gevra het.

      4. Watter opdrag het die vier engele, en hoe word dit uitgevoer?

      4 Gelukkig kan Johannes vertel: “En die vier engele, wat gereedgemaak is vir die uur en dag en maand en jaar, is losgemaak om ’n derde van die mense dood te maak” (Openbaring 9:15). Jehovah is ’n noukeurige Tydhouer. Hy het ’n rooster en bly daarby. Gevolglik word hierdie boodskappers presies op tyd losgelaat, betyds om hulle taak uit te voer. Stel jou hulle vreugde voor toe hulle in 1919 uit gevangenskap gekom het, gereed vir werk! Hulle het ’n opdrag om nie net te pynig nie, maar om uiteindelik “’n derde van die mense dood te maak”. Dit hou verband met die plae wat deur die eerste vier trompetstote aangekondig is, wat ’n derde van die aarde, die see, die skepsele in die see, die waterfonteine en riviere en die hemelse ligbronne geteister het (Openbaring 8:7-12). Die vier engele gaan verder. Hulle ‘maak dood’, dit wil sê, hulle lê die Christendom se geestelik dooie toestand geheel en al bloot. Dit is gedoen deur verklarings wat sedert 1922 uitgebasuin is en vandag nog uitgebasuin word.

      5. Hoe het die geluid van die sesde trompetstoot in 1927 ten opsigte van die Christendom weerklink?

      5 Onthou, die hemelse engel het pas op die sesde trompet geblaas. In antwoord hierop is die sesde van die reeks jaarlikse internasionale byeenkomste van die Bybelstudente in Toronto, Ontario, Kanada, gehou. Die program wat op Sondag 24 Julie 1927 daar aangebied is, is oor ’n netwerk van 53 radiostasies uitgesaai, die omvattendste uitsaainetwerk tot op daardie tydstip. Hierdie gesproke boodskap het ’n gehoor van moontlik baie miljoene bereik. Eers het ’n kragtige resolusie die Christendom as geestelik dood blootgelê en die uitnodiging gerig: “In hierdie uur van verwarring versoek Jehovah God die volke om ‘die Christendom’ of ‘die georganiseerde Christelike godsdiens’ te verlaat, dit vir ewig te versaak en hulle geheel en al daarvan af te keer . . . ; [laat] die volke hulle hartgrondige toewyding en trou volkome aan Jehovah God en aan sy Koning en koninkryk gee.” “Vryheid vir die volke” was die titel van die openbare toespraak wat daarop gevolg het. J. F. Rutherford het hierdie toespraak in sy gewone dinamiese styl gelewer, wat gepas het by “die vuur en die rook en die swael” wat Johannes vervolgens in sy visioen sien.

      6. Hoe beskryf Johannes die leërs van ruiters wat hy vervolgens sien?

      6 “En die getal van die leërs van ruiters was twee tienduisende van tienduisende: ek het hulle getal gehoor. En só het ek die perde, en dié wat op hulle sit, in die visioen gesien: hulle het vuurrooi en hiasintblou en swaelgeel borsplate gehad; en die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swael uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense doodgemaak, deur die vuur en die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgegaan het.”—Openbaring 9:16-18.

      7, 8. (a) Onder wie se leiding storm die ruiters uit? (b) In watter opsigte kom die ruiters ooreen met die sprinkane wat hulle voorafgegaan het?

      7 Blykbaar storm hierdie ruiters onder leiding van die vier engele uit. Wat ’n skrikwekkende skouspel! Stel jou jou reaksie voor as jy die teiken van so ’n ruiteraanval was! Net die voorkoms daarvan sou jou hart met skrik vervul. Maar het jy opgelet hoe hierdie ruiters ooreenkom met die sprinkane wat hulle voorafgegaan het? Die sprinkane was soos perde; in die leërs van ruiters is daar perde. Albei is derhalwe by teokratiese oorlogvoering betrokke (Spreuke 21:31). Die sprinkane het tande soos dié van leeus gehad; die perde van die ruiters het koppe soos dié van leeus. Albei hou dus verband met die moedige Leeu uit die stam Juda, Jesus Christus, wat hulle Leier, Bevelvoerder en Voorbeeld is.—Openbaring 5:5; Spreuke 28:1.

      8 Die sprinkane sowel as die ruiters neem deel aan Jehovah se oordeelswerk. Die sprinkane het te voorskyn gekom uit rook wat wee en vernietigende vuur vir die Christendom voorspel het; uit die bekke van die perde kom vuur, rook en swael. Die sprinkane het ysterborsplate gehad, wat afgebeeld het dat hulle harte deur onwrikbare toegewydheid aan regverdigheid beskerm is; die ruiters dra rooi, blou en geel borsplate, wat ’n weerspieëling is van die vuur, rook en swael van die dodelike oordeelsboodskappe wat uit die bekke van die perde uitgaan. (Vergelyk Genesis 19:24, 28; Lukas 17:29, 30.) Die sprinkane het sterte soos skerpioene gehad om mee te pynig; die perde het sterte soos slange om mee dood te maak! Dit lyk asof die ruiters die taak waarmee die sprinkane begin het, met groter intensiteit gaan voortsit en voltooi.

      9. Wat simboliseer die ruiters?

      9 Wat simboliseer hierdie ruiters dan? Aangesien die gesalfde Johannes-klas die trompetagtige aankondiging van Jehovah se oordeel van goddelike wraak oor die Christendom begin het, met gesag om ‘met hulle angels seer te maak’, sou ons verwag dat dieselfde lewende groep gebruik sou word om ‘dood te maak’, dit wil sê om bekend te maak dat die Christendom en haar geestelikes geestelik morsdood is, verwerp deur Jehovah en reg vir “die vuuroond” van ewige vernietiging. Trouens, die hele Babilon die Grote moet vergaan (Openbaring 9:5, 10; 18:2, 8; Matteus 13:41-43). Maar voor haar vernietiging gebruik die Johannes-klas “die swaard van die gees, dit is God se woord,” om die Christendom se doodse toestand bloot te lê. Hierdie figuurlike slagting van “’n derde van die mense” geskied onder leiding van die vier engele en die perderuiters (Efesiërs 6:17; Openbaring 9:15, 18). Dit dui op behoorlike organisasie en teokratiese leiding onder toesig van die Here Jesus Christus terwyl die ontsagwekkende groep Koninkryksverkondigers tot die aanval oorgaan.

      Twee tienduisende van tienduisende

      10. In watter sin is daar twee tienduisende van tienduisende ruiters?

      10 Hoe kan daar twee tienduisende van tienduisende van hierdie ruiters wees? Twee tienduisende van tienduisende kom uit op 200 miljoen.a Dit is verblydend dat daar nou miljoene Koninkryksverkondigers is, maar hulle getal is baie minder as honderdmiljoene! Onthou egter Moses se woorde in Numeri 10:36: “Keer tog terug, o Jehovah, na die tienduisende duisendtalle van Israel.” (Vergelyk Genesis 24:60.) Dit sou letterlik beteken: ‘Keer tog terug na die tienmiljoene van Israel.’ Maar Israel het in Moses se dag net ongeveer twee- tot driemiljoen getel. Wat het Moses dan gesê? Hy het ongetwyfeld in gedagte gehad dat die getal van die Israeliete onbepaald moes wees soos “die sterre van die hemel en soos die sandkorrels wat aan die seestrand is”, eerder as dat hulle getel moes word (Genesis 22:17; 1 Kronieke 27:23). Daarom het hy die woord vir “tienduisende” gebruik om ’n groot maar onbepaalde aantal aan te dui. The New English Bible gee hierdie vers derhalwe soos volg weer: “Rus, HERE van die tallose duisende van Israel.” Dit stem ooreen met ’n tweede definisie van die woord vir “tienduisend” in Griekse en Hebreeuse woordeboeke: “’n ontelbare menigte”, ’n “menigte”.—The New Thayer’s Greek-English Lexicon of the New Testament; A Hebrew and English Lexicon of the Old Testament van Gesenius, vertaal deur Edward Robinson.

      11. Wat was nodig vir die Johannes-klas om selfs in simboliese sin tienduisende te word?

      11 Nietemin is daar minder as 10 000 lede van die Johannes-klas op die aarde oor. Hoe kan hulle vergelyk word met tallose duisende ruiters? Sou hulle nie versterkings nodig hê om selfs in simboliese sin tienduisende te word nie? Dit is wat hulle nodig gehad het, en dit is wat hulle deur Jehovah se onverdiende goedhartigheid ontvang het! Waar het hierdie versterkings vandaan gekom?

      12, 13. Watter geskiedkundige verwikkelinge van 1918 tot 1935 het die bron van die versterkings aangedui?

      12 Van 1918 tot 1922 het die Johannes-klas die gelukkige vooruitsig aan die bekommerde mensdom begin voorhou dat ‘daar vandag miljoene leef wat nooit sal sterf nie’. In 1923 is daar ook bekend gemaak dat die skape van Matteus 25:31-34 lewe op die aarde onder God se Koninkryk sal beërf. ’n Soortgelyke hoop is voorgehou in die boekie Vryheid vir die volke, wat by die internasionale byeenkoms in 1927 vrygestel is. In die vroeë 1930’s is daar getoon dat die opregte Jonadab-klas en “die mense wat sug en steun” oor die Christendom se jammerlike geestelike toestand, dieselfde is as die simboliese skape wat die vooruitsig op aardse lewe het (Esegiël 9:4; 2 Konings 10:15, 16). The Watchtower van 15 Augustus 1934 het hierdie mense na die hedendaagse “vrystede” gerig deur te sê: “Die lede van die Jonadab-klas het die geluid van God se trompet gehoor en het op die waarskuwing ag geslaan deur na God se organisasie te vlug en met God se volk om te gaan, en daar moet hulle bly.”—Numeri 35:6.

      13 In 1935 is die lede van hierdie Jonadab-klas spesiaal genooi om die byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, DC, VSA, by te woon. Daar, op Vrydag 31 Mei, het J. F. Rutherford sy beroemde toespraak “Die groot menigte” gehou, waarin hy duidelik getoon het dat hierdie groep van Openbaring 7:9 dieselfde is as die skape van Matteus 25:33—’n toegewyde groep met ’n aardse hoop. As ’n aanduiding van toekomstige dinge is 840 nuwe Getuies by hierdie byeenkoms gedoop, waarvan die meeste lede van die groot menigte was.b

      14. Sou die groot menigte aan die simboliese ruiteraanval deelneem, en watter voorneme is in 1963 uitgespreek?

      14 Het hierdie groot menigte deelgeneem aan die ruiteraanval wat in 1922 begin het en wat in 1927 by die byeenkoms in Toronto besondere klem gekry het? Onder leiding van die vier engele, die gesalfde Johannes-klas, het hulle beslis! By die wêreldomvattende “Ewige Goeie Nuus”-byeenkoms van 1963 het hulle saam met die Johannes-klas ’n besielende resolusie aangeneem. Dit het verklaar dat die wêreld “voor ’n aardbewing van wêreldmoeilikheid staan soos daar nog nooit was nie, en al sy politieke instellings en sy hedendaagse godsdienstige Babilon sal aan stukke geskud word”. Die voorneme is uitgespreek dat “ons sal aanhou om onpartydig aan alle volke die ‘ewige goeie nuus’ te verkondig aangaande God se Messiaanse Koninkryk en aangaande sy oordele, wat vir sy vyande soos plae is, maar wat voltrek sal word vir die bevryding van alle mense wat God die Skepper op aanneemlike wyse met gees en met waarheid wil aanbid”. Hierdie resolusie is by 24 byeenkomste oor die hele aarde geesdriftig aangeneem deur altesaam 454 977 byeenkomsgangers, waarvan meer as 95 persent lede van die groot menigte was.

      15. (a) Watter persentasie van die werkkragte wat Jehovah in die veld gebruik, het die groot menigte in 2005 uitgemaak? (b) Hoe verwoord Jesus se gebed in Johannes 17:20, 21 die eenheid tussen die groot menigte en die Johannes-klas?

      15 Die groot menigte het voortgegaan om hulle volmondige eenheid met die Johannes-klas bekend te maak in die uitgieting van die plae oor die Christendom. In 2005 het hierdie groot menigte meer as 99,8 persent uitgemaak van die werkkragte wat Jehovah in die veld gebruik. Die lede van die groot menigte is dit van ganser harte eens met die Johannes-klas, aangaande wie Jesus in Johannes 17:20, 21 gebid het: “Ek doen nie net aangaande hulle versoek nie, maar ook aangaande dié wat deur hulle woord geloof in my stel; sodat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat u my uitgestuur het.” Terwyl die gesalfde Johannes-klas onder Jesus die leiding neem, neem die ywerige groot menigte saam met hulle deel aan die verwoestendste ruiteraanval in die hele mensegeskiedenis!c

      16. (a) Hoe beskryf Johannes die bekke en sterte van die simboliese perde? (b) Hoe is die monde van Jehovah se volk vir diens voorberei? (c) Wat kom ooreen met die feit dat ‘hulle sterte soos slange is’?

      16 Hierdie ruiters het toerusting vir die stryd nodig. En hoe wonderlik het Jehovah dit tog voorsien! Johannes beskryf dit: “Want die gesag van die perde is in hulle bekke en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan” (Openbaring 9:19). Jehovah het sy toegewyde, gedoopte bedienaars vir hierdie diens georden. Hy het hulle deur middel van die Teokratiese Bedieningskool en ander gemeentelike vergaderinge en skole geleer hoe om die woord te verkondig, sodat hulle gesaghebbend met ‘die tong van dié wat geleer is’, kan praat. Hy het sy woorde in hulle monde geplaas en het hulle uitgestuur om sy oordele “in die openbaar en van huis tot huis” bekend te maak (2 Timoteus 4:2; Jesaja 50:4; 61:2; Jeremia 1:9, 10; Handelinge 20:20). Die Johannes-klas en die groot menigte het ’n pynigende boodskap, wat met “sterte” ooreenkom, by mense gelaat in die vorm van duisendmiljoene Bybels, boeke, brosjures en tydskrifte wat oor die jare heen versprei is. Vir hulle teenstanders, wat in kennis gestel word van die komende “skade” deur Jehovah, lyk hierdie leërs van ruiters waarlik soos twee tienduisende van tienduisende.—Vergelyk Joël 2:4-6.

      17. Het Jehovah se Getuies enige aandeel aan die ruiteraanval in lande waar lektuur nie versprei kan word nie omdat die werk verbied is? Verduidelik.

      17 ’n Baie ywerige afdeling van hierdie ruiters bestaan uit broers in lande waar die werk van Jehovah se Getuies verbied is. Soos skape onder wolwe moet hulle “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” wees. In gehoorsaamheid aan Jehovah kan hulle nie ophou praat oor die dinge wat hulle gesien en gehoor het nie (Matteus 10:16; Handelinge 4:19, 20; 5:28, 29, 32). Moet ons die gevolgtrekking maak dat hulle, aangesien hulle min of geen gedrukte materiaal het om in die openbaar te versprei nie, geen aandeel aan die ruiteraanval het nie? Glad nie! Hulle het hulle monde en gesag van Jehovah om dit te gebruik om Bybelwaarheid uit te spreek. Hulle doen dit, informeel en met oorredingskrag, begin Bybelstudies en ‘bring baie tot regverdigheid’ (Daniël 12:3). Hoewel hulle moontlik nie met hulle sterte steek in die sin dat hulle kragtige lektuur by mense laat nie, gaan simboliese vuur, rook en swael uit hulle monde uit terwyl hulle taktvol en met oordeelkundigheid van Jehovah se naderende dag van regverdiging getuig.

      18. In hoeveel tale en in watter hoeveelheid het hierdie ruiters die teisterende boodskap in gedrukte vorm versprei?

      18 Op ander plekke word die Christendom se Babiloniese leerstellings en weë nog steeds deur die Koninkrykslektuur blootgelê, en dit berokken haar sodoende in figuurlike sin verdiende skade. Met behulp van moderne drukmetodes kon hierdie groot getal ruiters in die 68 jaar voor 2005 duisendmiljoene Bybels, boeke, tydskrifte en brosjures—baie keer meer as letterlik twee tienduisende van tienduisende—in meer as 450 van die aarde se tale versprei. Hoe het hierdie sterte die mense tog nie gesteek nie!

      19, 20. (a) Hoe het party in lande ver buite die Christendom gereageer, hoewel die Christendom die spesifieke teiken van die teisterende boodskap was? (b) Hoe beskryf Johannes die reaksie van die mense oor die algemeen?

      19 Dit was Jehovah se voorneme dat hierdie teisterende boodskap ‘’n derde van die mense doodmaak’. Die spesifieke teiken daarvan was gevolglik die Christendom. Maar dit het lande ver buite die Christendom bereik, met inbegrip van baie waar die huigelary van die Christendom se godsdienste goed bekend is. Het die mense van hierdie lande nader aan Jehovah gekom omdat hulle die plaag oor hierdie verdorwe godsdiensorganisasie gesien het? Baie het! Daar was ’n geredelike reaksie onder sagmoedige en minsame mense wat in gebiede buite die Christendom se onmiddellike invloedsfeer woon. Maar Johannes beskryf die reaksie van die mense oor die algemeen: “Maar die res van die mense wat nie deur hierdie plae gedood is nie, het nie berou gehad oor die werke van hulle hande, sodat hulle nie die demone en die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout, wat nie kan sien of hoor of loop nie, sou aanbid nie; en hulle het nie berou gehad oor hulle moorde of oor hulle spiritistiese gebruike of oor hulle hoerery of oor hulle diefstalle nie” (Openbaring 9:20, 21). Daar sal geen wêreldbekering van sulke onberouvolle mense wees nie. Almal wat in hulle goddelose weë volhard, sal in die groot dag van Jehovah se regverdiging voor sy ongunstige oordeel te staan kom. Maar “elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom”.—Joël 2:32; Psalm 145:20; Handelinge 2:20, 21.

      20 Wat ons pas bespreek het, is ’n deel van die tweede wee. Maar hierdie tweede wee is nog lank nie klaar nie, soos ons in die volgende hoofstukke sal sien.

      [Voetnote]

      a Commentary on Revelation, deur Henry Barclay Swete, sê aangaande die getal “twee tienduisende van tienduisende”: “Hierdie reusegetalle belet ons om ’n letterlike vervulling te soek, en die beskrywing wat daarop volg, staaf hierdie gevolgtrekking.”

      b Sien die voorgaande bladsye 119-26; ook Regverdiging, Boek Drie, in 1932 uitgegee deur Jehovah se Getuies, bladsye 83-4.

      c In teenstelling met die sprinkane het die leërs van ruiters wat Johannes gesien het, nie “iets soos krone, wat gelyk het soos goud,” gedra nie (Openbaring 9:7). Dit strook met die feit dat die groot menigte, wat vandag die grootste deel van die ruiters uitmaak, nie hoop om in God se hemelse Koninkryk te regeer nie.

      [Prent op bladsy 149]

      Die sesde trompetstoot lei die tweede wee in

      [Prente op bladsy 150, 151]

      Die vier engele lei die grootste ruiteraanval in die geskiedenis

      [Prente op bladsy 153]

      Die ontelbare ruiters het miljoene der miljoene Bybelpublikasies versprei

      [Prent op bladsy 154]

      Die res van die mense het nie berou gehad nie

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel