Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 6/22 bl. 18-23
  • Ek was ’n voortvlugtige

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek was ’n voortvlugtige
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom ek ’n voortvlugtige geword het
  • Onwettige bedrywighede
  • Gevangenskap en vonnis
  • Ek leer Bybelwaarhede
  • Teenstand van die kapelaan
  • ’n Koninkryksaal in die gevangenis
  • In die gevangenis gedoop
  • Dissipelmaakwerk in die gevangenis
  • Geleenthede van groot vreugde
  • Enigste hoop vir geregtigheid
  • ’n Lewe vol belonings
  • “Julle het my indruk van Jehovah Se Getuies verander”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Van ’n brullende leeu tot ’n sagmoedige lammetjie
    Ontwaak!—1999
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
  • My ontvlugting na die waarheid
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 6/22 bl. 18-23

Ek was ’n voortvlugtige

DIT was 1 Mei 1947 in Sisilië. Ongeveer 3000 mense, waaronder vrouens met babas, het op ’n bergpas bymekaargekom vir die jaarlikse viering van Werkersdag. Hulle was onbewus van die verskuilde gevaar in die nabygeleë heuwels. Jy het miskien al gelees of selfs rolprente gesien van die tragedie wat plaasgevind het. Die bloedbad is die Slagting van Portella della Ginestra genoem, waartydens 11 mense gedood en 56 gewond is.

Hoewel ek niks met daardie tragedie te doen gehad het nie, was ek wel lid van die bende separatiste wat daarvoor verantwoordelik was. Hulle leier was Salvatore Giuliano, saam met wie ek in die dorpie Montelepre grootgeword het. Hy was net ’n jaar ouer as ek. In 1942, toe ek 19 was, is ek vir militêre diens gedurende die Tweede Wêreldoorlog opgeroep. Vroeër in daardie jaar het ek op Vita Motisi verlief geraak en met haar getrou. Ons het uiteindelik drie seuns gehad; ons eersteling is in 1943 gebore.

Waarom ek ’n voortvlugtige geword het

In 1945, die jaar wat die Tweede Wêreldoorlog geëindig het, het ek by die westelike divisie van die Vrywilligerskorps vir Sisiliaanse Onafhanklikheid (EVIS) aangesluit. Dit was die paramilitêre afdeling van die separatistiese politieke party wat as die Onafhanklikheidsbeweging van Sisilië (MIS) bekend gestaan het. Salvatore Giuliano, toe reeds ’n voortvlugtige, is deur die leiers van EVIS en MIS as bevelvoerder van ons divisie aangestel.

Ons liefde vir Sisilië en vir ons volk het ons verenig. En ons was kwaad oor die onreg wat ons gely het. Daarom het ek die doelstellings van die Giuliano-bende aangeneem, naamlik om Sisilië as 49ste staat van die Verenigde State van Amerika te laat annekseer. Was daar rede om te glo dat dit moontlik was? Daar was beslis, want amptenare van MIS het ons verseker dat hulle noue bande met Washington, DC, gehad het en dat president Harry S. Truman van die Verenigde State ten gunste van so ’n anneksasie was.

Onwettige bedrywighede

My groep se werk het hoofsaaklik daaruit bestaan om gesiene mense te ontvoer en ’n losprys vir hulle te eis. Sodoende het ons geld gekry om die nodige voorrade te koop. Nie een van die mense wat ontvoer is, wat ons “ons gaste” genoem het, is ooit leed aangedoen nie. Wanneer hulle vrygelaat is, het ons hulle ’n kwitansie gegee wat gebruik kon word vir terugbetaling van die losgeld wat ons ontvang het. Ons het vir hulle gesê dat die kwitansie gebruik kon word om hulle geld terug te kry nadat ons die oorwinning behaal het.

Ek het aan ongeveer 20 ontvoerings deelgeneem, sowel as aan gewapende aanvalle op die barak van die Carabinieri, ’n nasionale gemilitariseerde polisiemag. Maar gelukkig het ek nooit iemand doodgemaak nie. Ons separatistiese aanvalle het ’n hoogtepunt bereik met die onbesonne optrede by die dorpie Portella della Ginestra. Dit is deur ’n stuk of twaalf manne van die Giuliano-groep georganiseer en was teen die Kommunistiese Party gemik.

Hoewel die moord op gewone mense—waaronder bure en ondersteuners—nie doelbewus was nie, het mense wat ons ondersteun het en gevoel het dat hulle ons beskerming geniet, geglo dat ons hulle verraai het. Van toe af is daar sonder ophou na die Giuliano-bende gesoek. Nadat inligting aan die polisie verstrek is, is baie van my makkers gevange geneem. Op 19 Maart 1950 het ek in ’n lokval beland en is ek in hegtenis geneem. En daardie somer is Giuliano self ook om die lewe gebring.

Gevangenskap en vonnis

In ’n gevangenis in Palermo, waar ek verhoorafwagtend was, het ek my lot betreur om van my jong vrou en drie seuns geskei te wees. Maar die begeerte om te veg vir wat ek geglo het reg is, het my teen volslae wanhoop beskerm. Ek het begin lees om die tyd om te kry. Een boek het die begeerte by my laat ontstaan om die Bybel te lees. Dit was ’n outobiografie van Silvio Pellico, ’n Italianer wat gedurende die 19de eeu om politieke redes in die gevangenis was.

Pellico het geskryf dat hy altyd ’n woordeboek en ’n Bybel by hom in die gevangenis gehad het. Hoewel ek en my gesin Rooms-Katolieke was, het ek in werklikheid nooit iets omtrent die Bybel gehoor nie. Ek het dus ’n versoek aan die owerheid gerig om ’n eksemplaar te kry. Daar is vir my gesê dat dit verbode is, maar hulle het my wel ’n eksemplaar van die Evangelies van Matteus, Markus, Lukas en Johannes gegee. Later het ek ’n eksemplaar van die hele Bybel gekry, wat ek steeds as ’n kosbare aandenking hou.

My verhoor het uiteindelik in 1951 in Viterbo, naby Rome, begin. Dit het 13 maande geduur. Ek is twee keer tot lewenslange gevangenisstraf plus 302 jaar gevonnis! Dit het beteken dat ek nooit lewend uit die gevangenis sou kom nie.

Ek leer Bybelwaarhede

Met my terugkeer na die gevangenis in Palermo is ek na ’n deel gestuur waar ’n neef van Giuliano, wat ’n lid van ons groep was, ook opgesluit is. Hy is drie jaar voor my in hegtenis geneem. Hy het vroeër ’n Getuie van Jehovah uit Switserland in die tronk ontmoet wat met hom oor wonderlike Bybelbeloftes gepraat het. Die man is saam met ’n mede-Getuie van Palermo in hegtenis geneem terwyl hulle die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig het (Matteus 24:14). Ek is later vertel dat sy inhegtenisneming deur geestelikes aangestig was.

Ten spyte van my wettelose bedrywighede het ek in God en aan kerkleringe geglo. Ek was dus geskok om uit te vind dat verering van sogenaamde heiliges onskriftuurlik is en dat een van die Tien Gebooie die gebruik van beelde in aanbidding verbied (Exodus 20:3, 4). Ek het ingeteken op Die Wagtoring en Ontwaak!, wat vir my baie kosbaar geword het. Ek het nie alles verstaan wat ek gelees het nie, maar hoe meer ek gelees het, hoe meer wou ek ontsnap, nie uit die tronk nie, maar uit die gevangenis van godsdiensonwaarhede en geestelike blindheid.

Mettertyd het ek besef dat ek my ou persoonlikheid sou moes aflê as ek God wou behaag en my met ’n nuwe moes beklee—’n saggeaarde persoonlikheid soos dié van Christus Jesus (Efesiërs 4:20-24). Ek het geleidelik verander. Maar ek het so te sê onmiddellik dinge vir my medegevangenes begin doen, en ek het met hulle probeer praat oor die wonderlike dinge wat ek geleer het. In 1953 het daar dus ’n vreugdevolle tyd vir my aangebreek. Maar daar was struikelblokke.

Teenstand van die kapelaan

Ses maande nadat ek op Die Wagtoring en Ontwaak! ingeteken het, het ek dit nie meer ontvang nie. Ek het na die persoon gegaan wat die gevangenes se briewe sensor en die saak onder sy aandag gebring. Hy het vir my gesê dat dit die gevangeniskapelaan is wat die aflewering teruggehou het.

Ek het gevra om die kapelaan te sien. Gedurende ons bespreking het ek vir hom die bietjie gewys wat ek van die Bybel geweet het, onder meer tekste soos Exodus 20:3, 4 en Jesaja 44:14-17 oor die gebruik van beelde in aanbidding. Ek het ook vir hom Jesus se woorde, wat in Matteus 23:8, 9 opgeteken is, gelees om “niemand op aarde julle vader [te] noem nie”. Hy het aanstoot geneem en gesê dat ek nie die Bybel kon verstaan nie omdat ek oningelig was.

Dit is net sowel dat ek reeds my persoonlikheid begin verander het—anders weet ek nie wat ek miskien sou gedoen het nie. Ek het kalm gebly en geantwoord: “Ja, dis waar; ek is oningelig. Maar jy het gestudeer, en jy het niks gedoen om my Bybelwaarhede te leer nie.” Die kapelaan het gesê dat ek by die Departement van Justisie aansoek sou moes doen om die Katolieke geloof af te sweer indien ek die lektuur van Jehovah se Getuies wou ontvang. Ek het dit dadelik gedoen, maar die versoek is nie toegestaan nie. Ek het egter later daarin geslaag om myself as een van Jehovah se Getuies te laat registreer en kon weer die tydskrifte ontvang. Maar ek moes daarop aandring.

’n Koninkryksaal in die gevangenis

Ek het die gevangenisdirekteur ’n tyd lank vir werk gevra sodat ek geld kon verdien om aan my gesin te stuur. Hy het altyd gesê dat hy vir ander ook werk sou moes gee as hy vir my werk gee, en dit was nie moontlik nie. Maar op die oggend van 5 Augustus 1955 het die direkteur my ’n bietjie goeie nuus gegee—ek sou as ’n klerk in die gevangenis begin werk.

My werk het my in staat gestel om die respek van die gevangenisdirekteur te wen, en hy was so gaaf om my toestemming te gee om ’n stoorkamer te gebruik waarin vergaderinge vir Bybelstudie gehou kon word. In 1956 het ek dus, met die hout van ou liasseerkabinette, banke gemaak vir ’n plek wat beskou kon word as ’n Koninkryksaal, soos die vergaderplekke van Jehovah se Getuies genoem word. Ek het elke Sondag saam met ander gevangenes daar byeengekom, en ons het ’n opkomshoogtepunt van 25 vir ons Bybelbesprekings gehad.

Mettertyd het die kapelaan uitgevind van die vergaderinge wat ek gehou het, en hy was woedend. Gevolglik is ek in die somer van 1957 van Palermo na die strafgevangenis Porto Azzurro op die eiland Elba oorgeplaas. Hierdie plek het ’n verskriklike reputasie gehad.

In die gevangenis gedoop

Met my aankoms is ek 18 dae in alleenopsluiting geplaas. Daar kon ek nie eens my Bybel hê nie. Daarna het ek weer aan die Departement van Justisie geskryf en gevra dat ek toegelaat word om die Katolieke geloof af te sweer. Hierdie keer het ek egter die hulp van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Rome ingeroep. Ná tien maande het die langverwagte antwoord gekom. Die Departement het my verandering van geloof erken! Dit het nie net beteken dat ek ’n Bybel, die tydskrifte en ander Bybellektuur kon hê nie, maar dit het ook beteken dat ek gereelde besoeke van ’n bedienaar van Jehovah se Getuies kon ontvang.

Ek was so bly toe ek die eerste besoek ontvang het van Giuseppe Romano, wat van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Italië was. Met die toestemming van gevangenisamptenare is reëlings getref sodat ek uiteindelik my toewyding aan Jehovah deur waterdoop kon simboliseer. Op 4 Oktober 1958 het broer Romano my en ’n ander gevangene, in die teenwoordigheid van die gevangenisdirekteur, die bevelvoerder in beheer van dissipline asook ander amptenare, gedoop in die groot waterhouer wat gebruik is om die gevangenis se tuin nat te lei.

Hoewel ek amper altyd Die Wagtoring saam met ander gevangenes kon studeer, moes ek die herdenking van Christus se dood alleen in my sel vier omdat hierdie viering ná sononder plaasvind. Ek het my oë toegemaak en gebid en my verbeel dat ek saam met mede-Getuies vergader.

Dissipelmaakwerk in die gevangenis

In 1968 is ek na die gevangenis in Fossombrone, in die provinsie Pesaro, oorgeplaas. Daar het ek goeie resultate gehad deur met ander oor Bybelwaarhede te praat. Ek het in die sieke-afdeling gewerk, waar dit maklik was om geleenthede te vind om te getuig. Dit was veral ’n vreugde om die vordering van een gevangene, Emanuele Altavilla, te sien. Ná twee maande van studie het hy besef dat hy die raad in Handelinge 19:19 moet toepas en sy boek oor toorkunste moet vernietig. Emanuele het later ’n Getuie van Jehovah geword.

Die volgende jaar is ek na die gevangenis op die eiland Procida, net aan die oorkant van die baai van Napels, oorgeplaas. Weens my goeie gedrag het hulle my weer eens in die sieke-afdeling laat werk. Daar het ek Mario Moreno ontmoet, ’n gevangene wat as ’n Katoliek aangeneem was. Hy het ook ’n verantwoordelike pos gehad, aangesien hy in die rekeninge-afdeling gewerk het.

Een aand het Mario my gevra vir iets om te lees, en ek het vir hom die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewea gegee. Hy het onmiddellik die belangrikheid besef van dít wat hy gelees het, en ons het met ’n Bybelstudie begin. Mario het opgehou om sy drie pakkies sigarette per dag te rook. Daarbenewens het hy besef dat hy selfs sy boekhouwerk in die gevangenis eerlik moes doen. Hy het vir sy verloofde begin getuig, en sy het ook Bybelleringe aanvaar. Kort daarna is hulle daar in die gevangenis getroud. Mario se vrou is in 1975 by ’n streekbyeenkoms in Napels gedoop. Sy was baie verheug toe sy gehoor het dat haar man op dieselfde dag in die gevangenis gedoop is!

Ek is toegelaat om weeklikse gesprekke te hê met Getuies wat my op Procida besoek het. Ek kon ook maaltye voorberei om saam met hulle in die besoekerslokaal te geniet. Daar kon tot tien op ’n keer teenwoordig wees. Wanneer daar besoeke van reisende opsieners van Jehovah se Getuies was, het ek toestemming verkry sodat hulle hulle skyfies kon vertoon. Ek het een keer die voorreg gehad om die Wagtoring-studie te hou tydens die besoek van 14 Getuies. Die gevangenisowerheid het my blykbaar ten volle vertrou. Op toegewese dae kon ek, hier teen die aand se kant, van sel tot sel predikingswerk doen.

In 1974, nadat ek 24 jaar in verskeie gevangenisse deurgebring het, het ek ’n besoek ontvang van ’n regter wat my aangemoedig het om vir kwytskelding aansoek te doen. Ek het nie gedink dat dit reg sou wees om dit te doen nie, want dan sou ek erken het dat ek by die slagting van Portella della Ginestra betrokke was, en ek het geen aandeel daaraan gehad nie.

Geleenthede van groot vreugde

In 1975 het ’n nuwe wet voorsiening gemaak dat ’n mens die gevangenis tydelik kon verlaat. Sodoende het ek die geleentheid gehad om my eerste streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Napels by te woon. Ek het vyf onvergeetlike dae geniet, waartydens ek meer Christenbroers en -susters ontmoet het as wat ek nog ooit gesien het.

Wat my spesiale vreugde verskaf het, was om uiteindelik, ná soveel jare, met my gesin herenig te wees. My vrou, Vita, het aan my getrou gebly, en my seuns was nou jong mans in hulle twintiger- en dertigerjare.

Die volgende jaar—waartydens ek ’n paar keer die voorreg gehad het om ’n tyd lank uit die gevangenis te wees—is daar voorgestel dat ek aansoek doen om vrylating uit die gevangenis. In die proefmagistraat se verslag oor my het hy aanbeveel dat my aansoek aanvaar word. Hy het geskryf: “Daar kan sonder enige twyfel gesê word dat Mannino vandag, in vergelyking met die bloeddorstige jeugdige wat Giuliano se bevele uitgevoer het, ’n ander man is; hy is heeltemal onherkenbaar.”

Met verloop van tyd het die gevangenisowerheid van Procida namens my vir kwytskelding aansoek gedoen. Die kwytskelding is uiteindelik toegestaan, en op 28 Desember 1978 is ek uit die gevangenis vrygelaat. Watter vreugde was dit tog om, ná meer as 28 jaar van gevangenskap, ’n vry man te wees!

Enigste hoop vir geregtigheid

As ’n ontvoerder onder die bevel van Salvatore Giuliano het ek geveg vir wat ek geglo het ware vryheid vir my gesin en my landgenote sou bring. Maar ek het uit die Bybel geleer dat mense, ongeag hoe opreg hulle ook al is, nooit die geregtigheid kan bewerkstellig wat ek as jeugdige so opreg begeer het nie. Gelukkig het Bybelkennis my gehelp om te sien dat net God se Koninkryk in die hande van sy Seun, Jesus Christus, ons van ongeregtigheid kan bevry, iets wat so dringend nodig is.—Jesaja 9:5, 6; Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10; Openbaring 21:3, 4.

Baie koerante het berig gelewer oor die verandering in my persoonlikheid, wat uit Bybelkennis voortgespruit het. Paese Sera het byvoorbeeld die tronkbewaarder van Procida se woorde aangehaal: “As alle gevangenes soos Franck was, sou gevangenisse verdwyn; sy gedrag was onberispelik, hy het nooit rusie gemaak nie en hy het nooit eers die geringste teregwysing ontvang nie.” ’n Ander koerant, Avvenire, het gesê: “Hy is ’n modelgevangene, buitengewoon. Sy rehabilitasie is bo verwagting. Hy toon respek vir die instellings en die gevangenisamptenare en is buitengewoon geestelikgesind.”

’n Lewe vol belonings

Sedert 1984 dien ek in ’n gemeente van Jehovah se Getuies as ’n ouer man en as ’n pionier, soos voltydse bedienaars genoem word. In 1990 het ’n tronkbewaarder met wie ek 15 jaar vantevore oor Bybelwaarhede gesels het my geskakel om vir my te sê dat hy en sy hele gesin Getuies van Jehovah geword het.

Maar my gelukkigste ondervinding was in Julie 1995. Daardie jaar het ek die groot vreugde ervaar om die doop van my geliefde vrou, Vita, by te woon. Ná soveel jare het sy die leringe van die Bybel haar eie gemaak. Miskien sal my drie seuns, wat op die oomblik nie in dieselfde geloof as ek is nie, ook eendag aanvaar wat ek uit die Woord van God geleer het.

My ondervindinge om ander te help om Bybelwaarhede te leer, het my ongekende vreugde laat smaak. Watter beloning was dit tog om die kennis wat tot die ewige lewe lei te ontvang en om dit aan opregtes van hart te verkondig!—Johannes 17:3.—Soos vertel deur Franck Mannino.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 18]

Die bergpas in Sisilië waar die slagting plaasgevind het

[Prent op bladsy 19]

Toe ons in 1942 getroud is

[Prent op bladsy 21]

Ek het dikwels Bybelwaarhede aan tronkbewaarders verkondig

[Prent op bladsy 23]

Saam met my vrou

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel