Van die weg na die dood tot die weg na die lewe
MY LEWE is baie jare lank bederf deur my verslawing aan dwelms. Ek het met sagte dwelms begin en uiteindelik harder dwelms, soos LSD, gebruik. Dwelms het bevryding van allerhande persoonlike en maatskaplike probleme begin simboliseer. Ongelukkig het ek ander jongmense aangespoor om my op die weg na die dood te vergesel.
Aangesien ek bekend was as ’n dwelmsmous het die polisie my dopgehou. Ek moet erken dat ek bang was, want ek het geweet dat dit jare in die tronk sou beteken as ek gearresteer sou word. Hoewel ek in vrees geleef het, was dit nie genoeg om my my weë te laat verander nie.
My ouers het my probeer help deur my vir behandeling na ’n hospitaal vir sielsiekes te neem. Hulle het gehoop dat die medisyne en behandeling wat ek daar ontvang het my probleem sou oplos, maar toe ek uitgekom het, het my ouers dadelik besef dat nie eers mediese behandeling my kon verander nie. Hulle het my verder probeer help deur my met ’n priester te laat praat. Dit het ook nie gewerk nie. Ek het voor hom dagga gerook en gedrink, asof hy nie daar was nie. Ek wóú eenvoudig nie verander nie!
My verloofde, Oriana, was sterk gekant teen my lewenswyse, en ek wou nie hê dat sy my moet verlaat nie. Op die oog af het dit na ’n goeie aansporing gelyk om te verander. Pleks daarvan het ek egter my dwelmgewoonte in die geheim voortgesit. Ek het Oriana wysgemaak dat ek siek is. Weldra het ek ’n regte wrak geword. Ek het myself voortdurend belowe dat ek gaan ophou, dat ek dit kan regkry, maar dit was vergeefs. Ek het net al hoe verder gegaan op die weg na die dood.
Omdat ek so gou moontlik met Oriana wou trou, het ons ’n binneversierder genader om werk in ons woonstel te doen. Sy vrou was een van Jehovah se Getuies en het met ons oor haar geloof gepraat. Die gesprek het aanvanklik ’n groter indruk op Oriana as op my gemaak, maar na ’n rukkie het ek besef dat Jehovah se Getuies vas glo dat God hierdie aarde binnekort in ’n paradys gaan omskep en dat mense vir ewig hier in vrede gaan leef.
Ek wou self vasstel of dit waar was dat “Jehovah se Getuies selfs nou liefde en respek aan mekaar betoon”, soos die vrou gesê het. Ek en Oriana het dus na die Koninkryksaal gegaan. Ek het verleë gevoel oor my lang hare en my verslonste klere, maar die verwelkoming van die Getuies het my dadelik tuis laat voel. Ek het gevoel dat ek hulle kan vertrou. Dit was duidelik dat opregte liefde en respek vir mekaar alreeds vir hulle ’n werklikheid is.
Van daardie dag af het ek Christenvergaderinge gereeld begin bywoon en die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer. Ek het my hare gesny en my kleredrag verander, en met groot inspanning het ek dit reggekry om die rook- en dwelmgewoonte te laat vaar (2 Korinthiërs 7:1). Daar was egter nog ’n ernstige probleem in my lewe. Sonder dat ek dit besef het, het ek ’n alkoholis geword. Wanneer ek gedrink het, het ek in die moeilikheid beland. Ek het met mense gestry en baie jaloers op Oriana geword. Ek was diep ongelukkig (Spreuke 23:29-35). Ek het ’n poging aangewend om met die gewoonte te breek, en met die hulp van Jehovah, die krag van gebed en die hulp van Christenbroers kon ek hierdie gewoonte heeltemal te bowe kom.
Ek en my vrou is op 23 Augustus 1974 gedoop. Danksy die waarheid het ons lewe nou sin. Aangesien ek my selfvertroue herwin het, het ek respek by die werk begin afdwing. Ek en my vrou het albei heelwat geld verdien, maar toe het ons besef dat ons min tyd oor het vir ons heilige diens. As ons ’n hegter verhouding met Jehovah wou geniet, sou ons veranderinge in ons lewe moes aanbring. Anders was daar die gevaar dat die liefde wat ons aanvanklik vir die waarheid gehad het, sou afkoel. In 1979 het ons dus die pionierdiens betree en onsself in groter mate aan die predikingswerk gewy.
Waarom het ek hierdie besluit geneem? Wel, waar sou ek vandag gewees het sonder die lig van die waarheid? Diegene wat saam met my op die weg na die dood was, is nou òf alkoholiste, òf sonder ’n gesin, òf in die tronk—òf dood. Ja, dit was die Bybel se boodskap wat my vrygemaak het. Behandeling en wilskrag was eenvoudig nie genoeg nie. Kragtige aansporing was nodig. ’n Begeerte om ’n ware vriendskap met Jehovah, die Skepper, aan te kweek, was so ’n aansporing. Nou is dit my opregte begeerte om alles in my vermoë te doen om diegene te help wat slawe van die dwelmgewoonte is, sowel as die wat ly of wat ’n oplossing vir hulle probleme soek. Ek en my vrou doen juis dit deur daadwerklik aan die Christelike bediening deel te neem. Ons het die voorreg gehad om baie persone voort te help op die weg na die lewe. Onder hulle is drie mense wat ek persoonlik in aanraking met dwelms gebring het. Ek dien tans as ’n kringopsiener in die noorde van Italië.
Dwelmmisbruik is inderdaad soos ’n weg wat jou môre-oormôre na die dood lei of ten minste na ’n leë lewe sonder ’n toekoms. Ek kan geen woorde vind om my dank aan Jehovah God te betuig nie! Hy het my die weg getoon uit die duisternis waarin ek gelewe het, en ook die weg na die lewe, vol lig, wat na ’n ewige toekoms lei.—Soos vertel deur Ruggero Polotti.