-
’n Talryke groot menigteOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
Hoofstuk 20
’n Talryke groot menigte
1. Watter ander groep sien Johannes nadat hy die verseëling van die 144 000 beskryf het?
NADAT Johannes die verseëling van die 144 000 beskryf het, vertel hy vervolgens van een van die opwindendste openbarings in die hele Skrif. Sy hart moes gebons het van vreugde toe hy dit beskryf het: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk! ’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat voor die troon en voor die Lam staan, geklee in wit klere; en daar was palmtakke in hulle hande” (Openbaring 7:9). Ja, die feit dat die vier winde teruggehou word, maak die redding van nog ’n groep benewens die 144 000 lede van geestelike Israel moontlik: ’n veeltalige, internasionale groot menigte.a—Openbaring 7:1.
2. Hoe het wêreldse kommentators die groot menigte verduidelik, en hoe het selfs die Bybelstudente hierdie groep in die verlede beskou?
2 Volgens wêreldse kommentators bestaan hierdie groot menigte uit vleeslike nie-Jode wat tot die Christelike godsdiens bekeer is of uit Christenmartelaars wat hemel toe gaan. Selfs die Bybelstudente het hulle in die verlede as ’n sekondêre hemelse klas beskou, soos daar in 1886 in Deel I van Studies in the Scriptures, The Divine Plan of the Ages, verduidelik is: “Hulle verloor die beloning van die troon en die goddelike natuur, maar sal uiteindelik gebore word as geesskepsele van ’n orde laer as die goddelike natuur. Hoewel hulle waarlik toegewyd is, word hulle in so ’n mate deur die wêreld se gees oorweldig dat hulle versuim om hulle lewe as offerande te gee.” En selfs in 1930 nog is die volgende gedagte in Lig, Boek Een, uitgedruk: “Die wat hierdie groot menigte uitmaak, gee nie gehoor aan die uitnodiging om die vurige getuie[s] van die Here te word nie.” Hulle is beskryf as ’n eiegeregtige groep wat kennis van die waarheid het, maar dit nie juis verkondig nie. Hulle sou hemel toe gaan as ’n sekondêre klas wat nie saam met Christus sou regeer nie.
3. (a) Watter hoop is voorgehou aan sekere regskapenes wat later ywerig geword het in die predikingswerk? (b) Hoe het The Watch Tower in 1923 die gelykenis van die skape en die bokke verduidelik?
3 Daar was egter ander metgeselle van die gesalfde Christene wat later baie ywerig geword het in die predikingswerk. Hulle het geen begeerte gehad om hemel toe te gaan nie. Trouens, hulle hoop het gestrook met die titel van ’n openbare toespraak wat van 1918 tot 1922 deur Jehovah se volk gehou is. Dit was oorspronklik: “Die wêreld het geëindig—Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie.”b Kort daarna het The Watch Tower van 15 Oktober 1923 Jesus se gelykenis van die skape en die bokke (Matteus 25:31-46) verduidelik en gesê: “Skape beeld al die mense van die nasies af, nie geesverwekte mense nie maar dié wat tot regverdigheid geneig is, wat Jesus Christus verstandelik erken as die Here en wat uitsien na en hoop op ’n beter tyd onder sy heerskappy.”
4. Hoe het die lig aangaande die aardse klas helderder geword in 1931? in 1932? in 1934?
4 ’n Paar jaar later, in 1931, het Regverdiging, Boek Een, Esegiël hoofstuk 9 bespreek en die persone wat op die voorkop gemerk is vir redding aan die einde van die wêreld, as die skape van die voormelde gelykenis geïdentifiseer. Regverdiging, Boek Drie, wat in 1932 vrygestel is, het die opregte gesindheid van die nie-Israelitiese man Jonadab beskryf, wat by Israel se gesalfde koning Jehu aangesluit het op sy strydwa en saamgegaan het om Jehu se ywer in die teregstelling van valse godsdiensbeoefenaars te aanskou (2 Konings 10:15-17). Die boek het gesê: “Jonadab het daardie klas mense afgebeeld of voorafgeskadu wat nou op die aarde is gedurende die tyd dat die Jehu-werk [die verkondiging van Jehovah se oordele] plaasvind en wat welwillend is, dit nie met Satan se organisasie eens is nie, wat hulle standpunt aan die kant van regverdigheid inneem en dié is wat die Here gedurende die tyd van Armageddon sal bewaar, deur daardie moeilikheid heen sal neem en die ewige lewe op die aarde sal gee. Hulle maak die ‘skape’-klas uit.” In 1934 het The Watchtower dit duidelik gemaak dat hierdie Christene met ’n aardse hoop hulle aan Jehovah moet toewy en gedoop moet word. Die lig aangaande hierdie aardse klas het al helderder geskyn.—Spreuke 4:18.
5. (a) Hoe is die groot menigte in 1935 geïdentifiseer? (b) Wat het gebeur toe J. F. Rutherford in 1935 gevra het dat byeenkomsgangers wat die hoop koester om vir ewig op die aarde te lewe, moet opstaan?
5 Die begrip van Openbaring 7:9-17 sou spoedig in al sy sprankelende helderheid na vore kom! (Psalm 97:11). Die Wagtoring het herhaaldelik die hoop uitgespreek dat ’n byeenkoms wat vir 30 Mei tot 3 Junie 1935 in Washington, DC, VSA, gereël is, “’n ware vertroosting en voordeel” sou wees vir dié wat deur Jonadab afgebeeld is. Dit was inderdaad die geval! In ’n besielende toespraak oor “Die groot menigte”, waarin sowat 20 000 byeenkomsgangers toegespreek is, het J. F. Rutherford, wat destyds die leiding geneem het in die wêreldwye predikingswerk, skriftuurlike bewyse voorgelê dat die hedendaagse ander skape dieselfde is as daardie groot menigte van Openbaring 7:9. By die klimaks van hierdie toespraak het die spreker gevra: “Sal almal wat die hoop koester om vir ewig op die aarde te lewe, asseblief opstaan?” Toe ’n groot deel van die gehoor opstaan, het die spreker gesê: “Kyk! Die groot menigte!” Daar was ’n stilte, gevolg deur dawerende gejuig. Hoe verheug was die Johannes-klas tog—en ook die Jonadab-groep! Die volgende dag is 840 nuwe Getuies gedoop, waarvan die meeste bely het dat hulle lede van daardie groot menigte is.
Die identiteit van die groot menigte word bevestig
6. (a) Waarom kan ons duidelik verstaan dat die groot menigte die hedendaagse groep toegewyde Christene is wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe? (b) Wat simboliseer die wit klere van die groot menigte?
6 Hoe kan ons met soveel oortuiging sê dat die groot menigte hierdie hedendaagse groep toegewyde Christene is wat hoop om vir ewig op God se aarde te lewe? Johannes het vroeër in ’n visioen die hemelse groep gesien wat “uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop” is (Openbaring 5:9, 10). Die groot menigte het ’n soortgelyke oorsprong, maar ’n ander bestemming. In teenstelling met die Israel van God is hulle getal nie vooraf bepaal nie. Geen mens kan vooraf sê hoeveel daar sal wees nie. Hulle klere is wit gewas in die bloed van die Lam, wat simboliseer dat hulle op grond van hulle geloof in Jesus se offer ’n regverdige posisie voor Jehovah het (Openbaring 7:14). En hulle waai met palmtakke, waardeur hulle die Messias as hulle Koning toejuig.
7, 8. (a) Aan watter gebeure het die gewaai met palmtakke die apostel Johannes ongetwyfeld herinner? (b) Wat beteken die feit dat die lede van die groot menigte met palmtakke waai?
7 Terwyl Johannes in hierdie visioen toekyk, dink hy sekerlik meer as 60 jaar terug aan Jesus se laaste week op die aarde. Op 9 Nisan 33 G.J., toe die menigtes saamgedrom het om Jesus in Jerusalem te verwelkom, het hulle “die takke van palmbome geneem en uitgegaan om hom te ontmoet. En hulle het begin uitroep: ‘Red tog! Geseënd is hy wat in Jehovah se naam kom, ja, die koning van Israel!’” (Johannes 12:12, 13). Op dieselfde manier is die feit dat die groot menigte met palmtakke waai en uitroep, ’n blyk van hulle uitbundige vreugde om Jesus as Jehovah se aangestelde Koning te aanvaar.
8 Die palmtakke en jubelende uitroepe herinner Johannes ongetwyfeld ook aan die eertydse Israelitiese Huttefees. Vir hierdie fees het Jehovah beveel: “En op die eerste dag moet julle vir julle die vrugte van pragtige bome neem, die blare van palmbome en die takke van digte bome en populiere van die stroomvallei, en julle moet sewe dae lank voor Jehovah julle God vrolik wees.” Die palmtakke is as ’n teken van vreugde gebruik. Die tydelike hutte was ’n herinnering aan die feit dat Jehovah sy volk uit Egipte gered het en hulle in tente in die woestyn gewoon het. “Die inwonende vreemdeling en die vaderlose seun en die weduwee” het aan hierdie fees deelgeneem. Die hele Israel moes “net vreugdevol wees”.—Levitikus 23:40; Deuteronomium 16:13-15.
9. Aan watter vreugdevolle uitroep neem die groot menigte deel?
9 Dit is dan gepas dat die groot menigte, hoewel hulle nie deel van geestelike Israel is nie, met palmtakke waai, aangesien hulle vreugdevol en dankbaar die oorwinning en redding aan God en aan die Lam toeskryf, soos Johannes hier sien: “En hulle hou aan om met ’n harde stem te roep en te sê: ‘Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam’” (Openbaring 7:10). Hoewel hulle uit alle etniese groepe afgesonder is, roep die groot menigte met net daardie een “harde stem” uit. Hoe kan hulle dit doen ondanks die verskillende nasies en tale waaruit hulle kom?
10. Hoe kan die groot menigte eensgesind met een “harde stem” uitroep ondanks die verskillende nasies en tale waaruit hulle kom?
10 Hierdie groot menigte is deel van die enigste waarlik verenigde veelvolkige organisasie wat vandag op die aarde bestaan. Hulle het nie verskillende standaarde vir verskillende lande nie, maar pas die Bybel se regte beginsels konsekwent toe, waar hulle ook al woon. Hulle is nie betrokke by nasionalistiese, revolusionêre bewegings nie, maar het waarlik ‘van swaarde ploegskare gesmee’ (Jesaja 2:4). Hulle is nie in sektes of denominasies verdeel sodat hulle, soos die godsdienste van die Christendom, verwarde of teenstrydige boodskappe uitroep nie; hulle laat dit ook nie aan ’n professionele geestelikeklas oor om God namens hulle te loof nie. Hulle roep nie uit dat hulle hulle redding aan die heilige gees verskuldig is nie, want hulle dien nie ’n drie-enige god nie. In sowat 200 geografiese gebiede oor die hele aarde roep hulle die naam van Jehovah eensgesind aan terwyl hulle die een suiwer taal van waarheid praat (Sefanja 3:9). Hulle erken tereg in die openbaar dat hulle redding afkomstig is van Jehovah, die God van redding, deur Jesus Christus, Sy Hoofbewerker van redding.—Psalm 3:8; Hebreërs 2:10.
11. Hoe het die moderne tegnologie die lede van die groot menigte gehelp om hulle harde stem selfs harder te maak?
11 Die moderne tegnologie het daartoe bygedra dat die harde stem van die verenigde groot menigte selfs harder weerklink. Geen ander godsdiensgroep op die aarde het nodig om Bybelstudiehulpe in meer as 400 tale uit te gee nie, aangesien geen ander groep daarin belangstel om al die volke van die aarde met een verenigde boodskap te bereik nie. As ’n verdere hulpmiddel hierin is ’n Elektroniese Stelsel vir Veeltalige Fotosetwerk (MEPS) onder toesig van die gesalfde Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ontwikkel. Tans word die een of ander vorm van MEPS in meer as 125 plekke regoor die aarde gebruik, en dit het daartoe bygedra dat die halfmaandelikse tydskrif, Die Wagtoring, gelyktydig in meer as 130 tale uitgegee kan word. Jehovah se volk publiseer ook boeke, soos hierdie een, gelyktydig in etlike tale. Sodoende kan Jehovah se Getuies, waarvan die groot menigte die oorgrote meerderheid uitmaak, jaarliks honderdmiljoene publikasies in al die vernaamste tale versprei, wat bykomende menigtes uit alle stamme en tale in staat stel om God se Woord te bestudeer en hulle stemme by die harde stem van die groot menigte te voeg.—Jesaja 42:10, 12.
In die hemel of op die aarde?
12, 13. In watter sin staan die groot menigte “voor die troon en voor die Lam”?
12 Hoe weet ons dat die woorde ‘wat voor die troon staan’ nie beteken dat die groot menigte in die hemel is nie? Daar is heelwat duidelike getuienis oor hierdie punt. Byvoorbeeld, die Griekse woord wat hier met “voor” (e·noʹpi·on) weergegee word, beteken letterlik “voor [die] aangesig [van]” en word verskeie kere gebruik met betrekking tot mense op die aarde wat “voor” of “voor die aangesig van” Jehovah is (1 Timoteus 5:21; 2 Timoteus 2:14; Romeine 14:22; Galasiërs 1:20). By een geleentheid toe die Israeliete in die wildernis was, het Moses vir Aäron gesê: “Sê vir die hele vergadering van die kinders van Israel: ‘Kom nader voor Jehovah, want hy het julle murmureringe gehoor’” (Eksodus 16:9). Dit was nie nodig dat die Israeliete na die hemel vervoer word om by daardie geleentheid voor Jehovah te staan nie. (Vergelyk Levitikus 24:8.) Hulle het eerder daar in die woestyn in Jehovah se gesigsveld gestaan, en sy aandag was op hulle.
13 Ons lees ook: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, . . . sal [al die nasies] voor hom versamel word.”c Die hele mensdom sal nie in die hemel wees wanneer hierdie profesie vervul word nie. Dié wat “weggaan, die ewige vernietiging in,” sal beslis nie in die hemel wees nie (Matteus 25:31-33, 41, 46). Die mensdom staan eerder op die aarde in Jesus se gesigsveld, en hy vestig sy aandag daarop om hulle te oordeel. Net so is die groot menigte “voor die troon en voor die Lam” in die sin dat hulle in die gesigsveld staan van Jehovah en sy Koning, Christus Jesus, van wie hulle ’n gunstige oordeel ontvang.
14. (a) Wie is “rondom die troon” en “op die [hemelse] berg Sion”? (b) Waarom is die groot menigte nie ’n priesterlike klas nie, hoewel hulle God “in sy tempel” dien?
14 Volgens die beskrywing is die 24 ouderlinge en die gesalfde groep van 144 000 “rondom die troon” van Jehovah en “op die [hemelse] berg Sion” (Openbaring 4:4; 14:1). Die groot menigte is nie ’n priesterlike klas nie en verkry nie hierdie verhewe posisie nie. Daar word weliswaar later in Openbaring 7:15 gesê dat hulle God “in sy tempel” dien. Maar hierdie tempel verwys nie na die binneste heiligdom, die Allerheiligste, nie. Dit is eerder die aardse voorhof van God se geestelike tempel. Die Griekse woord na·osʹ, wat hier met “tempel” vertaal word, word dikwels gebruik in die breë betekenis van die hele gebou wat vir Jehovah se aanbidding opgerig is. Dit is vandag ’n geestelike struktuur wat die hemel sowel as die aarde omvat.—Vergelyk Matteus 26:61; 27:5, 39, 40; Markus 15:29, 30; Johannes 2:19-21, voetnoot in NW.
’n Universele uitroep van lof
15, 16. (a) Wat is die reaksie in die hemel op die verskyning van die groot menigte? (b) Hoe reageer Jehovah se geesskepsele op elke nuwe openbaring van sy voorneme? (c) Hoe kan ons op die aarde ook die loflied sing?
15 Die groot menigte loof Jehovah, maar ander besing ook sy lof. Johannes vertel: “En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle gesig geval en God aanbid en gesê: ‘Amen! Aan ons God die seën en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte vir ewig en altyd. Amen.’”—Openbaring 7:11, 12.
16 Toe Jehovah die aarde geskep het, het al sy heilige engele “saam van vreugde uitgeroep . . . en al die seuns van God begin juig” (Job 38:7). Elke nuwe openbaring van Jehovah se voorneme het sekerlik soortgelyke uitroepe van lof van die engele ontlok. Wanneer die 24 ouderlinge—die 144 000 in hulle hemelse heerlikheid—hard uitroep ter erkenning van die Lam, val al God se ander hemelse skepsele in met lofprysings aan Jesus en aan Jehovah God (Openbaring 5:9-14). Hierdie skepsele was reeds baie bly om die vervulling van Jehovah se voorneme te sien toe hy getroue, gesalfde mense tot ’n glorieryke plek in die geesteryk opgewek het. Nou borrel daar melodieuse lof uit die monde van al Jehovah se getroue hemelse skepsele wanneer die groot menigte verskyn. Die dag van die Here is waarlik vir al Jehovah se knegte ’n opwindende tyd om in te lewe (Openbaring 1:10). Hoe bevoorreg is ons tog hier op die aarde om ook die loflied te sing deur van Jehovah se Koninkryk te getuig!
Die groot menigte verskyn
17. (a) Watter vraag word deur een van die 24 ouderlinge geopper, en waarop dui die feit dat die ouderling die antwoord kon vasstel? (b) Wanneer is die ouderling se vraag beantwoord?
17 Sedert die tyd van die apostel Johannes en tot in die dag van die Here was gesalfde Christene onseker oor die identiteit van die groot menigte. Dit is dan gepas dat een van die 24 ouderlinge, wat gesalfdes afbeeld wat reeds in die hemel is, Johannes se denke prikkel deur ’n pertinente vraag te opper. “Hierop het een van die ouderlinge vir my gesê: ‘Dié wat in die wit klere geklee is, wie is hulle en waar het hulle vandaan gekom?’ Toe het ek dadelik vir hom gesê: ‘My heer, ú weet’” (Openbaring 7:13, 14a). Ja, hierdie ouderling kon die antwoord vasstel en dit aan Johannes gee. Dit dui daarop dat verrese lede van die groep van 24 ouderlinge, vandag moontlik by die mededeling van goddelike waarhede betrokke is. Op hulle beurt het die lede van die Johannes-klas op die aarde die identiteit van die groot menigte te wete gekom deur noukeurig te let op wat Jehovah in hulle midde gedoen het. Hulle het gou die skitterende flits van goddelike lig onderskei wat die teokratiese uitspansel in 1935, op Jehovah se bestemde tyd, verhelder het.
18, 19. (a) Watter hoop is gedurende die 1920’s en 1930’s deur die Johannes-klas beklemtoon, maar wie het in steeds groter getalle op die boodskap ag geslaan? (b) Wat het die identifisering van die groot menigte in 1935 met betrekking tot die 144 000 aangedui? (c) Wat toon Gedenkmaalstatistiek?
18 Gedurende die 1920’s en vroeë 1930’s het die Johannes-klas die hemelse hoop in die publikasies sowel as in die predikingswerk beklemtoon. Blykbaar moes die volle getal van die 144 000 nog gevul word. Maar al hoe meer van dié wat op die boodskap ag geslaan het en ywerig in die getuieniswerk was, het gesê dat hulle daarin belang stel om vir ewig op die Paradysaarde te lewe. Hulle het geen begeerte gehad om hemel toe te gaan nie. Dit was nie hulle roeping nie. Hulle was nie deel van die klein kuddetjie nie, maar eerder van die ander skape (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Die feit dat hulle in 1935 as die groot menigte ander skape geïdentifiseer is, was ’n aanduiding dat die verkiesing van die 144 000 toe omtrent voltooi was.
19 Staaf statistiek hierdie gevolgtrekking? Ja. In 1938 het 59 047 Getuies van Jehovah wêreldwyd aan die bediening deelgeneem. Van hulle het 36 732 by die jaarlikse Herdenking van Jesus se dood die embleme gebruik en sodoende getoon dat hulle ’n hemelse roeping het. In die jare sedertdien het die getal van hierdie gebruikers geleidelik afgeneem, hoofsaaklik omdat getroue Getuies van Jehovah gesterf en hulle aardse loopbaan voltooi het. In 2005 het net 8 524 die Gedenkmaalembleme gebruik—0,05 persent van die 16 390 116 wat hierdie aardwye herdenking bygewoon het.
20. (a) Watter opmerking het J. F. Rutherford gedurende die Tweede Wêreldoorlog privaat oor die groot menigte gemaak? (b) Watter feite toon nou dat die groot menigte inderdaad groot is?
20 Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het Satan verbete pogings aangewend om die insameling van die groot menigte te beëindig. Jehovah se werk is in baie lande beperk. Gedurende daardie donker dae, en kort voor sy dood in Januarie 1942, het J. F. Rutherford glo gesê: “Wel . . . dit lyk asof die groot menigte tog nie so groot gaan wees nie.” Maar goddelike seën het dit anders beskik! Teen 1946 het die getal Getuies wat wêreldwyd bedienaars was, tot 176 456 toegeneem—en die meeste van hulle was lede van die groot menigte. In 2005 was daar 6 390 022 Getuies wat Jehovah getrou in 235 lande gedien het—waarlik ’N GROOT MENIGTE! En die getal neem steeds toe.
21. (a) Hoe stem die insameling van God se volk gedurende die dag van die Here ten volle ooreen met Johannes se visioen? (b) Hoe het sekere belangrike profesieë in vervulling begin gaan?
21 Die insameling van God se volk gedurende die dag van die Here stem dus ten volle ooreen met Johannes se visioen: eers die insameling van die oorblywende lede van die 144 000; daarna die insameling van die groot menigte. Soos Jesaja geprofeteer het, stroom mense van alle nasies nou “aan die einde van die dae” in om aan Jehovah se rein aanbidding deel te neem. En ons jubel inderdaad uit waardering vir Jehovah se skepping van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” (Jesaja 2:2-4; 65:17, 18). God bring “alles weer byeen . . . in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde” (Efesiërs 1:10). Die gesalfde erfgename van die hemelse Koninkryk—wat deur die eeue sedert Jesus se dag verkies is—is “die dinge in die hemele”. En nou verskyn die groot menigte ander skape as die eerste lede van “die dinge op die aarde”. Jou diens in harmonie met hierdie reëling kan vir jou ewige geluk beteken.
Die seëninge van die groot menigte
22. Watter verdere inligting ontvang Johannes oor die groot menigte?
22 Johannes ontvang deur die goddelike kanaal verdere inligting oor hierdie groot menigte: “En hy [die ouderling] het vir my gesê: ‘Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God; en hulle verrig dag en nag heilige diens aan hom in sy tempel; en die Een wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle uitsprei.’”—Openbaring 7:14b, 15.
23. Wat is die groot verdrukking waaruit die groot menigte “kom”?
23 Jesus het by ’n vroeëre geleentheid gesê dat sy teenwoordigheid in Koninkryksheerlikheid ’n hoogtepunt sou bereik in “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21, 22). Ter vervulling van hierdie profesie sal die engele die vier winde van die aarde loslaat om Satan se wêreldstelsel te verwoes. Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, sal eerste vernietig word. Dan, by die klimaks van die verdrukking, sal Jesus die oorblywende lede van die 144 000 op die aarde red, tesame met die talryke groot menigte.—Openbaring 7:1; 18:2.
24. Hoe kwalifiseer individuele lede van die groot menigte vir oorlewing ?
24 Hoe kwalifiseer individuele lede van die groot menigte vir oorlewing? Die ouderling sê vir Johannes dat hulle “hulle klere gewas en dit wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”. Met ander woorde, hulle het geloof beoefen in Jesus as hulle Verlosser, het hulle aan Jehovah toegewy, het hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer en “behou ’n goeie gewete” deur hulle regskape gedrag (1 Petrus 3:16, 21; Matteus 20:28). Hulle is derhalwe rein en regverdig in Jehovah se oë. En hulle bewaar hulleself “sonder vlek van die wêreld”.—Jakobus 1:27.
25. (a) Hoe verrig die groot menigte “dag en nag heilige diens aan [Jehovah] in sy tempel”? (b) Hoe ‘sprei Jehovah sy tent uit’ oor die groot menigte?
25 Verder het hulle ywerige Getuies van Jehovah geword—wat “dag en nag heilige diens aan hom [verrig] in sy tempel”. Is jy ’n lid van hierdie toegewyde groot menigte? Indien wel, is dit jou voorreg om Jehovah sonder ophou in die aardse voorhof van sy groot geestelike tempel te dien. Vandag doen die groot menigte, onder leiding van die gesalfdes, verreweg die grootste deel van die getuieniswerk. Ondanks sekulêre verantwoordelikhede het honderdduisende van hulle plek gemaak vir die voltydse bediening as pioniers. Maar of jy onder hierdie groep is of nie, jy kan, as ’n toegewyde lid van die groot menigte, verheug wees dat jy danksy jou geloof en werke regverdig verklaar word as ’n vriend van God en verwelkom word as ’n gas in sy tent (Psalm 15:1-5; Jakobus 2:21-26). So ‘sprei Jehovah sy tent uit’ oor dié wat hom liefhet en beskerm hy hulle, soos ’n goeie gasheer.—Spreuke 18:10.
26. Watter ander seëninge sal die groot menigte geniet?
26 Die ouderling sê verder: “Hulle sal nie meer honger of dors wees nie, en ook sal die son nie op hulle neerbrand of enige verskroeiende hitte nie, want die Lam, wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei. En God sal elke traan van hulle oë afvee” (Openbaring 7:16, 17). Ja, Jehovah is waarlik gasvry! Maar watter diep betekenis het hierdie woorde?
27. (a) Wat het Jesaja voorspel wat met die ouderling se woorde ooreenkom? (b) Wat toon dat Jesaja se profesie in Paulus se dag ten opsigte van die Christengemeente in vervulling begin gaan het?
27 Laat ons ’n profesie met soortgelyke bewoording ondersoek: “Só het Jehovah gesê: ‘In ’n tyd van welwillendheid het ek jou geantwoord, en in ’n dag van redding het ek jou gehelp . . . Hulle sal nie honger of dors kry nie, en ook sal die verskroeiende hitte of die son hulle nie steek nie. Want die Een wat hom oor hulle ontferm, sal hulle lei, en hy sal hulle by die waterfonteine langs bring.’” (Jesaja 49:8, 10; sien ook Psalm 121:5, 6.) Die apostel Paulus het ’n deel van hierdie profesie aangehaal en dit toegepas op die “dag van redding” wat op Pinkster 33 G.J. begin het. Hy het geskryf: “Want hy [Jehovah] sê: ‘In ’n aanneemlike tyd het ek jou verhoor, en in ’n dag van redding het ek jou gehelp.’ Kyk! Nou is die besonder aanneemlike tyd. Kyk! Nou is die dag van redding.”—2 Korintiërs 6:2.
28, 29. (a) Hoe is Jesaja se woorde in die eerste eeu vervul? (b) Hoe word die woorde van Openbaring 7:16 ten opsigte van die groot menigte vervul? (c) Wat sal die gevolg wees van die feit dat die groot menigte na “fonteine van waters van die lewe” gelei word? (d) Waarom sal die groot menigte uniek onder die mensdom wees?
28 Watter toepassing het die belofte dat hulle nie honger of dors sou wees of verskroeiende hitte sou ervaar nie, destyds gehad? Christene in die eerste eeu was beslis soms letterlik honger en dors (2 Korintiërs 11:23-27). Maar in geestelike sin het hulle ’n oorvloed gehad. Daar is ryklik vir hulle voorsien, sodat hulle nie geestelik honger of dors was nie. Wat meer is, Jehovah het nie die hitte van sy toorn teen hulle laat ontvlam toe hy die Joodse stelsel in 70 G.J. vernietig het nie. Die woorde van Openbaring 7:16 het vandag ’n soortgelyke geestelike vervulling vir die groot menigte. Hulle geniet saam met die gesalfde Christene oorvloedige geestelike voorsienings.—Jesaja 65:13; Nahum 1:6, 7.
29 As jy ’n lid van hierdie groot menigte is, sal jou goeie hartstoestand jou ‘met vreugde laat uitroep’, ongeag watter ontberinge en druk jy gedurende die skemerjare van Satan se stelsel moet verduur (Jesaja 65:14). In hierdie sin kan Jehovah nou al ‘elke traan van jou oë afvee’. God se versengende “son” van veroordeling bedreig jou nie meer nie, en wanneer die vier winde van vernietiging losgelaat word, kan jy die “verskroeiende hitte” van Jehovah se misnoeë gespaar word. Ná daardie vernietiging sal die Lam jou lei om ten volle baat te vind by die lewegewende “fonteine van waters van die lewe”, wat al die voorsienings afbeeld wat Jehovah maak sodat jy die ewige lewe kan verkry. Jou geloof in die bloed van die Lam sal geregverdig word deurdat jy geleidelik tot menslike volmaaktheid verhef sal word. Julle wat lede van die groot menigte is, sal uniek wees onder die mensdom as die “miljoene” vir wie dit nie eens nodig was om te sterf nie! Elke traan sal in die volste sin van julle oë afgevee wees.—Openbaring 21:4.
Maak die roeping seker
30. Watter wonderlike vergesig word in Johannes se visioen vir ons ontsluit, en wie sal kan “staan”?
30 Watter wonderlike vergesig ontsluit hierdie woorde tog vir ons! Jehovah self is op sy troon, en al sy knegte, in die hemel en op die aarde, loof hom tesame. Sy aardse knegte besef wat ’n ontsagwekkende voorreg dit is om ook hierdie toenemende loflied te sing. Jehovah en Christus Jesus gaan binnekort oordeel voltrek, en die uitroep sal gehoor word: “Die groot dag van hulle gramskap het gekom, en wie kan staan?” (Openbaring 6:17). Die antwoord? Net ’n minderheid van die mensdom, insluitende enige lede van die verseëlde 144 000 wat moontlik nog in die vlees sal wees en ’n groot menigte ander skape wat sal “staan”, dit wil sê saam met hulle behoue sal bly.—Jeremia 35:19; 1 Korintiërs 16:13.
31. Watter uitwerking behoort die vervulling van Johannes se visioen op Christene te hê, hetsy hulle lede van die gesalfdes of die groot menigte is?
31 Met die oog op hierdie feit span gesalfde Christene van die Johannes-klas hulle kragtig in om te “streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus” (Filippense 3:14). Hulle is terdeë daarvan bewus dat gebeure gedurende hierdie dae spesiale volharding van hulle verg (Openbaring 13:10). Nadat hulle Jehovah soveel jare lank lojaal gedien het, hou hulle vas aan die geloof en is hulle bly dat hulle name “in die hemele opgeskryf is” (Lukas 10:20; Openbaring 3:5). Ook die lede van die groot menigte weet dat net hy wat ‘tot die einde toe volhard het, gered sal word’ (Matteus 24:13). Hoewel die groot menigte as ’n groep gemerk is om uit die groot verdrukking te kom, moet individuele lede hulle inspan om rein en bedrywig te bly.
32. Watter dringende situasie word beklemtoon deur die feit dat net twee groepe op die dag van Jehovah se gramskap sal “staan”?
32 Daar is geen getuienis dat enige mense buiten hierdie twee groepe in die dag van Jehovah se gramskap sal “staan” nie. Wat beteken dit vir die miljoene wat elke jaar ’n mate van respek vir Jesus se offerande toon deur die Herdenking van sy dood by te woon, maar wat nog nie soveel geloof in Jesus se offer beoefen het dat hulle toegewyde, gedoopte knegte van Jehovah geword het wat bedrywig is in sy diens nie? En wat van dié wat voorheen bedrywig was, maar wat toegelaat het dat hulle harte “beswaar word met . . . sorge van die lewe”? Mag hulle almal wakker word, en wakker bly, sodat hulle “daarin [kan] slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens [Jesus Christus] te staan”. Die tyd is kort!—Lukas 21:34-36.
[Voetnote]
a Sien voetnoot in NW.
b The Watch Tower, 1 April 1918, bladsy 98.
c Literally, “in front of him,” The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures.
[Venster op bladsy 119]
Uitleggings is ’n saak van God
Die Johannes-klas het dekades lank navorsing gedoen oor die identiteit van die groot menigte, maar het nie ’n bevredigende verklaring gevind nie. Waarom nie? Ons vind die antwoord in die woorde van getroue Josef, toe hy gesê het: “Is uitleggings nie ’n saak van God nie?” (Genesis 40:8). Wanneer en hoe lê God die vervulling van sy profesieë uit? Dit is gewoonlik kort voordat hulle in vervulling gaan of terwyl hulle besig is om vervul te word, sodat hulle boodskap duidelik deur sy soekende knegte onderskei kan word. Hierdie begrip word gegee “tot ons onderrigting . . . , sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê”.—Romeine 15:4.
[Venster op bladsy 124]
Lede van die groot menigte
▪ kom uit alle nasies en stamme en volke en tale
▪ staan voor Jehovah se troon
▪ het hulle klere wit gewas in die bloed van die Lam
▪ skryf redding aan Jehovah en aan Jesus toe
▪ kom uit die groot verdrukking
▪ dien Jehovah dag en nag in sy tempel
▪ ontvang Jehovah se liefdevolle beskerming en sorg
▪ word deur Jesus na fonteine van waters van die lewe gelei
[Volbladillustrasie op bladsy 121]
[Prent op bladsy 127]
Die groot menigte is redding aan God en aan die Lam verskuldig
[Prent op bladsy 128]
Die Lam sal die groot menigte na fonteine van waters van die lewe lei
-
-
Jehovah se plae oor die ChristendomOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
Hoofstuk 21
Jehovah se plae oor die Christendom
Visioen 5—Openbaring 8:1–9:21
Onderwerp: Ses van die sewe trompetstote
Tyd van vervulling: Vandat Christus Jesus in 1914 op die troon geplaas is tot die groot verdrukking
1. Wat gebeur wanneer die Lam die sewende seël oopmaak?
“DIE vier winde” is teruggehou totdat die 144 000 lede van geestelike Israel verseël en die groot menigte vir oorlewing goedgekeur is (Openbaring 7:1-4, 9). Maar voordat daardie hewige storm oor die aarde losbars, moet Jehovah se ongunstige oordele teen Satan se wêreld ook bekend gemaak word! Wanneer die Lam die sewende en laaste seël oopmaak, kyk Johannes ongetwyfeld belangstellend toe om te sien wat gaan gebeur. Hy vertel ons nou van sy ondervinding: “En toe hy [die Lam] die sewende seël oopmaak, het ’n stilte in die hemel gekom, omtrent ’n halfuur lank. En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe trompette is vir hulle gegee.”—Openbaring 8:1, 2.
’n Tyd vir vurige gebed
2. Wat vind plaas gedurende die simboliese halfuur van stilte in die hemel?
2 Dit is ’n betekenisvolle stilte! ’n Halfuur kan soos ’n lang tyd voel wanneer jy wag dat iets moet gebeur. Nou word selfs die voortdurende hemelse loflied nie meer gehoor nie (Openbaring 4:8). Waarom nie? Johannes sien die rede in sy visioen: “En ’n ander engel het daar aangekom en by die altaar gaan staan met ’n goue reukwerkhouer; en ’n groot hoeveelheid reukwerk is vir hom gegee om dit saam met die gebede van al die heiliges op die goue altaar te offer wat voor die troon was. En die rook van die reukwerk het saam met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgestyg voor God.”—Openbaring 8:3, 4.
3. (a) Waaraan herinner die brand van reukwerk ons? (b) Wat is die doel van die halfuur van stilte in die hemel?
3 Dit herinner ons daaraan dat reukwerk onder die Joodse stelsel van dinge daagliks by die tabernakel en, in latere jare, by die tempel in Jerusalem gebrand is (Eksodus 30:1-8). Wanneer hierdie reukwerk gebrand is, het die niepriesterlike Israeliete buite die heilige gebied gewag en—ongetwyfeld stil, in hulle harte—gebid tot die Een na wie die rook van die reukwerk opgestyg het (Lukas 1:10). Johannes sien nou hoe iets soortgelyks in die hemel gebeur. Die reukwerk wat deur die engel geoffer word, hou verband met “die gebede van die heiliges”. Trouens, in ’n vroeëre visioen is daar gesê dat reukwerk sulke gebede verteenwoordig (Openbaring 5:8; Psalm 141:1, 2). Die doel van die simboliese stilte in die hemel is dus blykbaar sodat die gebede van die heiliges wat op die aarde is, gehoor kan word.
4, 5. Watter geskiedkundige verwikkelinge help ons om vas te stel watter tydperk met die simboliese halfuur van stilte ooreenstem?
4 Kan ons vasstel wanneer dit gebeur het? Ja, ons kan, deur die konteks tesame met geskiedkundige verwikkelinge vroeg in die dag van die Here te ondersoek (Openbaring 1:10). Gedurende 1918 en 1919 was daar ’n merkwaardige ooreenkoms tussen gebeure op die aarde en die scenario wat in Openbaring 8:1-4 beskryf word. Gedurende die 40 jaar voor 1914 het die Bybelstudente—soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het—met vrymoedigheid aangekondig dat die tye van die nasies in daardie jaar sou eindig. Die rampspoedige gebeure van 1914 het bewys dat hulle reg was (Lukas 21:24; Matteus 24:3, 7, 8). Maar baie van hulle het ook geglo dat hulle in 1914 van hierdie aarde af na hulle hemelse erfenis geneem sou word. Dit het nie gebeur nie. Pleks daarvan het hulle gedurende die Eerste Wêreldoorlog ’n tyd van hewige vervolging deurgemaak. Op 31 Oktober 1916 is die eerste president van die Wagtoringgenootskap, Charles T. Russell, oorlede. Toe, op 4 Julie 1918, is die nuwe president, Joseph F. Rutherford, en sewe ander verteenwoordigers van die Genootskap na die strafgevangenis in Atlanta, Georgia, geneem nadat hulle ten onregte tot baie jare gevangenisstraf gevonnis is.
5 Die opregte Christene van die Johannes-klas was verward. Wat het God nou van hulle verlang? Wanneer sou hulle hemel toe geneem word? ’n Artikel met die titel “Die oes het geëindig—Wat sal volg?” het in The Watch Tower van 1 Mei 1919 verskyn. Dit het hierdie toestand van onsekerheid weerspieël en die getroues aangespoor om te bly volhard en bygevoeg: “Ons glo dat daar nou tereg gesê kan word dat die insameling van die koninkryksklas ’n voldonge feit is, dat al sulke persone reeds verseël is en dat die deur toe is.” Gedurende hierdie moeilike tydperk het die vurige gebede van die Johannes-klas opgestyg, asof in die rook van ’n groot hoeveelheid reukwerk. En hulle gebede is verhoor!
Vuur word na die aarde geslinger
6. Wat gebeur ná die stilte in die hemel, en in antwoord waarop?
6 Johannes sê vir ons: “Maar die engel het dadelik die reukwerkhouer geneem, en hy het dit met vuur van die altaar gevul en dit na die aarde geslinger. En daar het donderslae gekom en stemme en weerligstrale en ’n aardbewing” (Openbaring 8:5). Ná die stilte is daar meteens dramatiese bedrywigheid! Dit is blykbaar in antwoord op die gebede van die heiliges, aangesien dit veroorsaak word deur vuur wat van die reukaltaar geneem is. In 1513 v.G.J., by die berg Sinai, het donderslae en weerligstrale, ’n harde geluid, vuur en ’n skudding van die berg aangedui dat Jehovah sy aandag op sy volk rig (Eksodus 19:16-20). Net so dui die soortgelyke verskynsels waarvan Johannes vertel, aan dat Jehovah aandag skenk aan sy knegte op die aarde. Maar wat Johannes sien, word in tekens oorgedra (Openbaring 1:1). Hoe moet die simboliese vuur, donderslae, stemme, weerligstrale en aardbewing dan vandag vertolk word?
7. (a) Watter simboliese vuur het Jesus gedurende sy bediening op die aarde aangesteek? (b) Hoe het Jesus se geestelike broers ’n vuur in die Christendom aangesteek?
7 Jesus het by een geleentheid vir sy dissipels gesê: “Ek het gekom om ’n vuur op die aarde te maak” (Lukas 12:49). Hy het inderdaad ’n vuur aangesteek. Deur sy ywerige predikingswerk het Jesus God se Koninkryk die vernaamste geskil voor die Joodse volk gemaak, en dit het vurige getwis dwarsdeur daardie nasie laat ontstaan (Matteus 4:17, 25; 10:5-7, 17, 18). In 1919 het Jesus se geestelike broers op die aarde, die groepie gesalfde Christene wat die moeilike dae van die Eerste Wêreldoorlog oorleef het, ’n soortgelyke vuur in die Christendom aangesteek. In September van daardie jaar was Jehovah se gees baie duidelik te sien toe sy lojale Getuies van heinde en verre in Cedar Point, Ohio, VSA, vergader het. Joseph F. Rutherford, wat pas tevore uit die gevangenis vrygelaat is en kort daarna sou sien dat alle aanklagte teen hom teruggetrek word, het hierdie byeenkoms met vrymoedigheid toegespreek en gesê: “In gehoorsaamheid aan die bevel van ons Heer, en ter erkenning van ons voorreg en plig om oorlog te voer teen die vestings van dwaling wat die mense al so lank in slawerny hou, was en is ons roeping om die inkomende glorieryke koninkryk van die Messias aan te kondig.” Dit is die primêre geskil—God se Koninkryk!
8, 9. (a) Hoe het J. F. Rutherford die gesindheid en begeerte van God se volk gedurende die moeilike oorlogsjare beskryf? (b) Hoe is vuur na die aarde geslinger? (c) Hoe was daar donderslae, stemme, weerligstrale en ’n aardbewing?
8 Met verwysing na die onlangse beproewinge van God se volk het die spreker gesê: “So meedoënloos was die vyand se aanval dat baie lede van die Here se dierbare kudde verbysterd was en in verstomming stilgestaan het, terwyl hulle gebid en gewag het dat die Here sy wil moet aandui. . . . Maar ondanks die kortstondige ontmoediging was daar ’n brandende begeerte om die boodskap van die koninkryk te verkondig.”—Sien The Watch Tower van 15 September 1919, bladsy 280.
9 Daardie begeerte is in 1919 bevredig. Hierdie klein maar bedrywige groepie Christene is in geestelike sin aan die brand gesteek om ’n wêreldwye verkondigingsveldtog aan te pak. (Vergelyk 1 Tessalonisense 5:19.) Vuur is na die aarde geslinger in die sin dat God se Koninkryk die brandende geskil gemaak is, wat dit nog steeds is! Sterk stemme het stilte vervang en die Koninkryksboodskap met helderheid verkondig. Dawerende stormwaarskuwings uit die Bybel het weerklink. Helder strale van waarheid het soos weerligstrale uit Jehovah se profetiese Woord geskyn, en die fondamente van die godsdiensryk is geskud, asof deur ’n sterk aardbewing. Die Johannes-klas het gesien dat daar vir hulle werk is. En daardie werk brei vandag nog steeds op glorieryke wyse oor die hele bewoonde aarde uit!—Romeine 10:18.
Engele maak hulle gereed om
op die trompette te blaas
10. Wat maak die sewe engele hulle gereed om te doen, en waarom?
10 Johannes sê verder: “En die sewe engele met die sewe trompette het hulle gereedgemaak om daarop te blaas” (Openbaring 8:6). Wat beteken dit wanneer daar op hierdie trompette geblaas word? In die dae van Israel is belangrike dae of merkwaardige gebeurtenisse deur ’n trompetgeskal aangekondig (Levitikus 23:24; 2 Konings 11:14). Net so sal die trompetstote wat Johannes gaan hoor, die aandag op lewensbelangrike sake vestig.
11. Met watter voorbereidingswerk op die aarde was die Johannes-klas van 1919 tot 1922 druk besig?
11 Terwyl die engele hulle gereedgemaak het om op hierdie trompette te blaas, het hulle ongetwyfeld ook ’n voorbereidingswerk op die aarde gerig. Van 1919 tot 1922 was die verlewendigde Johannes-klas besig om die openbare bediening te herorganiseer en uitgewersfasiliteite op te bou. In 1919 het die tydskrif The Golden Age, vandag bekend as Ontwaak!, die lig gesien as “’n blad van feite, hoop en oortuiging”—’n trompetagtige instrument wat ’n sleutelrol sou speel in die blootlegging van valse godsdiens se politieke betrokkenheid.
12. Wat kondig elke trompetstoot aan, en aan watter gebeure in Moses se dag laat dit ons dink?
12 Soos ons nou sal sien, kondig elkeen van die trompetstote ’n dramatiese toneel aan waarin verskriklike plae dele van die aarde tref. Party hiervan laat ons aan die plae dink wat Jehovah gestuur het om die Egiptenaars in Moses se dag te straf (Eksodus 7:19–12:32). Dié plae was uitinge van Jehovah se oordeel oor daardie nasie en het dit vir God se volk moontlik gemaak om aan slawerny te ontkom. Die plae wat Johannes sien, bring iets soortgelyks tot stand. Maar dit is nie letterlike plae nie. Dit is tekens wat Jehovah se regverdige oordele simboliseer.—Openbaring 1:1.
Wat die “derde” beteken
13. Wat gebeur wanneer daar op die eerste vier trompette geblaas word, en watter vraag laat dit ontstaan?
13 Soos ons sal sien, word plae oor “’n derde” van die aarde, van die see, van die riviere en waterfonteine en van die aarde se ligbronne uitgestort wanneer daar op die eerste vier trompette geblaas word (Openbaring 8:7-12). ’n Derde is ’n aansienlike deel van iets, maar nie alles nie. (Vergelyk Jesaja 19:24; Esegiël 5:2; Sagaria 13:8, 9.) Watter “derde” sal dus hierdie plae die meeste verdien? Die oorgrote meerderheid van die mensdom is deur Satan en sy saad verblind en verderf (Genesis 3:15; 2 Korintiërs 4:4). Die situasie is soos Dawid dit beskryf het: “Hulle het almal afgewyk, hulle is almal tesame verdorwe; daar is niemand wat goed doen nie, nie eers een nie” (Psalm 14:3). Ja, die hele mensdom loop gevaar om ’n ongunstige oordeel te ontvang. Maar een deel daarvan is besonder skuldig. Een deel—“’n derde”—moes van beter geweet het! Wat is hierdie “derde”?
14. Wat is die simboliese derde wat die teisterende boodskappe van Jehovah ontvang?
14 Dit is die Christendom! In die 1920’s het haar ryk ongeveer ’n derde van die mensdom omvat. Haar godsdiens is die vrug van die groot afvalligheid van die ware Christelike godsdiens—die afvalligheid wat Jesus en sy dissipels voorspel het (Matteus 13:24-30; Handelinge 20:29, 30; 2 Tessalonisense 2:3; 2 Petrus 2:1-3). Die geestelikes van die Christendom beweer dat hulle in God se tempel is en het hulle as leraars van die Christelike godsdiens voorgedoen. Maar hulle leerstellings verskil hemelsbreed van Bybelwaarheid, en hulle bring God se naam voortdurend in minagting. Die Christendom, wat gepas deur die simboliese derde voorgestel word, ontvang sterk, teisterende boodskappe van Jehovah. Hierdie derde van die mensdom verdien hoegenaamd geen goddelike guns nie!
15. (a) Is elkeen van die trompetstote tot ’n spesifieke jaar beperk? Verduidelik. (b) Wie se stem is by dié van die Johannes-klas gevoeg om Jehovah se oordele te verkondig?
15 Ooreenkomstig die feit dat daar ’n reeks trompetstote is, was spesiale resolusies ’n kenmerk van sewe byeenkomste van 1922 tot 1928. Maar die trompetstote was nie beperk tot daardie jare nie. Namate die dag van die Here vorder, word die Christendom se goddelose weë voortdurend en onafgebroke kragtig blootgelê. Jehovah se oordele moet ondanks internasionale haat en vervolging wyd en syd, aan alle nasies, verkondig word. Eers dan breek die einde van Satan se stelsel aan (Markus 13:10, 13). Gelukkig het die groot menigte nou hulle stem by dié van die Johannes-klas gevoeg om hierdie dawerende verklarings van wêreldbelang te doen.
’n Derde van die aarde word verbrand
16. Wat gebeur wanneer die eerste engel op sy trompet blaas?
16 Johannes skryf van die engele: “En die eerste het op sy trompet geblaas. En daar het hael en vuur gemeng met bloed gekom, en dit is na die aarde geslinger; en ’n derde van die aarde is verbrand, en ’n derde van die bome is verbrand, en al die groen plantegroei is verbrand” (Openbaring 8:7). Dit kom ooreen met die sewende plaag oor Egipte, maar wat beteken dit vir ons tyd?—Eksodus 9:24.
17. (a) Wat beteken die woord “aarde” in Openbaring 8:7? (b) Hoe word die Christendom se derde van die aarde verbrand?
17 In die Bybel verwys die woord “aarde” dikwels na die mensdom (Genesis 11:1; Psalm 96:1). Aangesien die tweede plaag oor die see is, wat ook met die mensdom te doen het, moet “die aarde” verwys na die skynbaar bestendige mensegemeenskap wat Satan opgebou het en wat vernietig gaan word (2 Petrus 3:7; Openbaring 21:1). Die plaagscenario toon dat die Christendom se derde van die aarde verskroei word deur die versengende hitte van Jehovah se misnoeë. Haar prominente lede—wat soos bome in haar midde staan—word verbrand deur die verkondiging van Jehovah se ongunstige oordeel. As die Christendom se honderdmiljoene kerklidmate voortgaan om haar godsdiens te ondersteun, word hulle almal soos verskroeide grashalms, geestelik verlep in God se oë.—Vergelyk Psalm 37:1, 2.a
18. Hoe is Jehovah se oordeelsboodskap by die byeenkoms in 1922 in Cedar Point verkondig?
18 Hoe word hierdie oordeelsboodskap oorgedra? Gewoonlik nie deur die wêreld se nuusmedia, wat deel van die wêreld is en God se “slaaf” dikwels smaad nie (Matteus 24:45). Dit is op ’n merkwaardige wyse verkondig by die tweede geskiedkundige byeenkoms van God se volk in Cedar Point, Ohio, op 10 September 1922. Hulle het eenparig en geesdriftig ’n resolusie met die titel “’n Uitdaging aan wêreldleiers” aangeneem. In ondubbelsinnige terme het dit die volgende reguit waarskuwing aan die hedendaagse simboliese aarde gerig: “Ons doen derhalwe ’n beroep op die nasies van die aarde, hulle heersers en leiers, en op al die geestelikes van al die konfessionele kerke van die aarde, hulle volgelinge en bondgenote, die wêreldhandel en die invloedryke politici, om bewyse te lewer ter regverdiging van hulle standpunt dat hulle vrede en voorspoed op die aarde kan bewerkstellig en vir die mense geluk kan bring; en as hulle dit nie kan doen nie, doen ons ’n beroep op hulle om gehoor te gee aan die getuienis wat ons as getuies vir die Here gee, en laat hulle dan sê of ons getuienis waar is of nie.”
19. Watter getuienis aangaande God se Koninkryk het God se volk aan die Christendom gegee?
19 Watter getuienis het hierdie Christene gegee? Dit: “Ons glo en verklaar dat die Messias se koninkryk die volmaakte geneesmiddel vir al die kwale van die mensdom is en vrede op die aarde en welwillendheid aan mense, die begeerte van alle nasies, sal teweegbring; dat dié wat hulle nou gewillig onderwerp aan sy regverdige heerskappy wat reeds begin het, met blywende vrede, lewe, vryheid en eindelose geluk geseën sal word.” In hierdie verdorwe tye, wanneer mensgemaakte regerings, veral dié in die Christendom, hopeloos misluk in hulle pogings om die mensdom se probleme op te los, weerklink hierdie uitdagende trompetstoot selfs kragtiger as in 1922. Hoe waar is dit tog dat God se Koninkryk in die hande van sy oorwinnende Christus die mensdom se enigste hoop is!
20. (a) Deur middel waarvan is oordeelsboodskappe in 1922 en daarna deur die gemeente van gesalfde Christene uitgebasuin? (b) Wat het as gevolg van die eerste trompetstoot in die Christendom gebeur?
20 Deur middel van resolusies, traktate, boekies, boeke, tydskrifte en toesprake is hierdie en latere verklarings deur die gemeente van gesalfde Christene uitgebasuin. Die eerste trompetstoot het tot gevolg gehad dat die Christendom geslaan word asof met die verharde water van ’n swaar haelbui. Haar bloedskuld, weens haar aandeel aan die oorloë van die 20ste eeu, is geopenbaar, en daar is getoon dat sy die vurige uiting van Jehovah se gramskap verdien. Die Johannes-klas, wat later deur die groot menigte ondersteun is, het aangehou om die eerste trompetstoot te laat weerklink en so die aandag op Jehovah se beskouing van die Christendom te vestig, naamlik dat sy vernietiging verdien.—Openbaring 7:9, 15.
Soos ’n brandende berg
21. Wat gebeur wanneer die tweede engel op sy trompet blaas?
21 “En die tweede engel het op sy trompet geblaas. En iets soos ’n groot berg wat met vuur brand, is in die see geslinger. En ’n derde van die see het bloed geword; en ’n derde van die skepsele in die see wat ’n siel het, het gesterf, en ’n derde van die bote het vergaan” (Openbaring 8:8, 9). Wat beeld hierdie skrikwekkende toneel af?
22, 23. (a) Watter resolusie was ongetwyfeld die gevolg van die tweede trompetstoot? (b) Wat word deur “’n derde van die see” voorgestel?
22 Ons kan dit die beste verstaan teen die agtergrond van die byeenkoms van Jehovah se volk wat op 18-26 Augustus 1923 in Los Angeles, Kalifornië, VSA, gehou is. Die hooftoespraak wat Saterdagmiddag deur J. F. Rutherford gehou is, het gehandel oor die onderwerp “Skape en bokke”. Die “skape” is duidelik geïdentifiseer as die regverdiggesindes wat die aardse ryk van God se Koninkryk sou beërf. ’n Resolusie wat daarop gevolg het, het die aandag gevestig op die huigelary van “afvallige geestelikes en ‘die vernaamste lede van hulle kuddes’, naamlik wêreldse mense met groot finansiële en politieke invloed”. Dit het ’n beroep gedoen op die “menigte mense in die konfessionele kerke wat vrede en orde liefhet . . . om hulle te onttrek aan die onregverdige kerkstelsels wat deur die Here as ‘Babilon’ bestempel word” en om hulle gereed te maak “om die seëninge van God se koninkryk te ontvang”.
23 Hierdie resolusie was ongetwyfeld die gevolg van die tweede trompetstoot. Dié wat met verloop van tyd aan daardie boodskap gehoor sou gee, sou hulle afskei van dié wat Jesaja met hierdie woorde beskryf het: “Maar die goddeloses is soos die onstuimige see, wanneer dit nie tot bedaring kan kom nie, waarvan die waters seegras en modder bly opgooi” (Jesaja 57:20; 17:12, 13). “Die see” is dus ’n goeie afbeelding van die rustelose, onstabiele en opstandige mensdom wat onrus en revolusie aanstook. (Vergelyk Openbaring 13:1.) Die tyd sal aanbreek wanneer hierdie “see” nie meer sal bestaan nie (Openbaring 21:1). Intussen spreek Jehovah, met die tweede trompetstoot, oordeel uit oor ’n derde daarvan—die onstuimige deel wat in die ryk van die Christendom self is.
24. Wat word afgebeeld deur die brandende bergagtige massa wat in die see geslinger is?
24 ’n Groot bergagtige massa wat met vuur brand, word in hierdie “see” geslinger. In die Bybel simboliseer berge dikwels regerings. God se Koninkryk word byvoorbeeld as ’n berg uitgebeeld (Daniël 2:35, 44). Verderflike Babilon het ’n “uitgebrande berg” geword (Jeremia 51:25). Maar die bergagtige massa wat Johannes sien, brand nog steeds. Die feit dat dit in die see geslinger word, is ’n goeie afbeelding van hoe heerskappy gedurende en ná die Eerste Wêreldoorlog ’n brandende geskil onder die mensdom geword het, veral in die lande van die Christendom. In Italië het Mussolini Fascisme ingevoer. Duitsland het Hitler se Nazisme aangeneem, terwyl ander lande verskeie vorme van sosialisme op die proef gestel het. ’n Drastiese verandering het in Rusland plaasgevind, waar die Bolsjewistiese revolusie die eerste Kommunistiese staat opgelewer het, met die gevolg dat godsdiensleiers van die Christendom mag en invloed in een van hulle voormalige vestings verloor het.
25. Hoe was heerskappy ná die Tweede Wêreldoorlog nog steeds ’n brandende geskil?
25 Die eksperimente met Fascisme en Nazisme is deur die Tweede Wêreldoorlog beëindig, maar heerskappy was nog steeds ’n brandende geskil, en die mense-see het aangehou om te kolk en om nuwe revolusionêre regerings voort te bring. In die dekades ná 1945 is hierdie regerings op baie plekke, soos China, Viëtnam, Kuba en Nicaragua, ingestel. In Griekeland het ’n eksperiment met militêre diktatorskap misluk. In Kampuchea (Kambodja) het ’n proefneming met fundamentalistiese Kommunisme volgens berig meer as tweemiljoen lewens geëis.
26. Hoe het die “berg wat met vuur brand” opskuddings in die see van die mensdom bly veroorsaak?
26 Daardie “berg wat met vuur brand”, het opskuddings in die see van die mensdom bly veroorsaak. Daar was berigte van konflikte oor heerskappy in Afrika, die Amerikas, Asië en die eilande van die Stille Oseaan. Baie van hierdie konflikte het plaasgevind in lande van die Christendom of waar die Christendom se sendelinge aktiviste geword het. Rooms-Katolieke priesters het selfs by Kommunistiese guerrillagroepe aangesluit en as lede daarvan geveg. Terselfdertyd het Protestantse evangeliese groepe hulle in Sentraal-Amerika daarop toegelê om ’n teenwig te vorm vir wat hulle die Kommuniste se “wrede en meedoënlose dors na mag” genoem het. Maar nie een van hierdie beroeringe in die see van die mensdom het vrede en veiligheid gebring nie.—Vergelyk Jesaja 25:10-12; 1 Tessalonisense 5:3.
27. (a) Hoe het “’n derde van die see” soos bloed geword? (b) Hoe het “’n derde van die skepsele in die see” gesterf, en wat gaan met “’n derde van die bote” gebeur?
27 Die tweede trompetstoot openbaar dat mense wat by revolusionêre konflikte oor heerskappy betrokke geraak het in plaas van hulle aan God se Koninkryk te onderwerp, bloedskuldig is. Veral die Christendom se “derde van die see” het soos bloed geword. Alle lewende dinge daarin is in God se oë dood. Nie een van die radikale organisasies wat soos bote op daardie derde van die see dryf, kan uiteindelike skipbreuk vermy nie. Hoe bly is ons tog dat miljoene sagmoedige mense nou ag geslaan het op die trompetagtige oproep om hulle af te skei van dié wat hulle nog steeds in die bekrompe nasionalisme en bloedskuld van daardie see bevind!
’n Ster val uit die hemel
28. Wat gebeur wanneer die derde engel op sy trompet blaas?
28 “En die derde engel het op sy trompet geblaas. En ’n groot ster wat soos ’n lamp brand, het uit die hemel geval, en dit het op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine geval. En die naam van die ster word genoem Als. En ’n derde van die waters het in als verander, en baie van die mense het van die waters gesterf, want dit is bitter gemaak” (Openbaring 8:10, 11). Weer eens help ander dele van die Bybel ons om te sien hoe hierdie teks in die dag van die Here van toepassing is.
29. Wat vervul die simboliek van “’n groot ster wat soos ’n lamp brand”, en waarom?
29 Ons het reeds die simboliek van ’n ster in Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes teëgekom, waarin die sewe sterre die ouer manne in die gemeentes simboliseer (Openbaring 1:20).b Vanaf die tyd dat hulle met die heilige gees verseël word as ’n pand van hulle hemelse erfenis, woon gesalfde “sterre”, tesame met al die ander gesalfdes, in geestelike sin in hemelse plekke (Efesiërs 2:6, 7). Maar die apostel Paulus het gewaarsku dat daar uit die midde van hierdie sterre afvalliges, sektariërs, sou kom wat die kudde sou mislei (Handelinge 20:29, 30). Sulke ontrouheid sou ’n groot afvalligheid tot gevolg hê, en hierdie gevalle ouer manne sou ’n saamgestelde mens van wetteloosheid uitmaak wat homself tot ’n goddelike posisie onder die mensdom sou verhef (2 Tessalonisense 2:3, 4). Paulus se waarskuwings is vervul toe die geestelikes van die Christendom op die wêreldtoneel verskyn het. Hierdie groep word gepas voorgestel deur die simbool van “’n groot ster wat soos ’n lamp brand”.
30. (a) Wat is bedoel toe die koning van Babilon aangespreek is as een wat uit die hemel geval het? (b) Waarna kan ’n val uit die hemel verwys?
30 Johannes sien hierdie spesifieke ster uit die hemel val. Hoe? Die ervarings van ’n eertydse koning help ons om dit te verstaan. Jesaja het met die koning van Babilon gepraat en gesê: “Hoe het jy uit die hemel geval, o glansende, o seun van die dagbreek! Hoe is jy teen die aarde neergevel, jy wat die nasies magteloos gemaak het!” (Jesaja 14:12). Hierdie profesie is vervul toe Babilon deur Kores se leërs omvergewerp is en sy koning skielik geval het van wêreldheerskappy tot ’n skandelike nederlaag. ’n Val uit die hemel kan dus daarna verwys dat iemand ’n hoë posisie verloor en in skande verval.
31. (a) Wanneer het die geestelikes van die Christendom uit ’n “hemelse” posisie geval? (b) Hoe het die waters wat die geestelikes opgedis het, in “als” verander, en met watter gevolg vir baie?
31 Toe die geestelikes van die Christendom van die ware Christelike godsdiens afvallig geraak het, het hulle geval uit die verhewe “hemelse” posisie wat Paulus in Efesiërs 2:6, 7 beskryf het. In plaas van vars waters van waarheid aan te bied, het hulle “als” opgedis, bitter leuens soos die helse vuur, die vaevuur, die Drie-eenheid en voorbeskikking; hulle het die nasies ook na oorlog gelei en versuim om hulle as morele knegte van God op te bou. Die gevolg? Geestelike vergiftiging van dié wat die leuens geglo het. Hulle geval was soortgelyk aan dié van die ontroue Israeliete van Jeremia se dag, vir wie Jehovah gesê het: “Kyk, ek laat hulle als eet, en ek sal hulle gifwater gee om te drink. Want van die profete van Jerusalem af het afvalligheid oor die hele land uitgegaan.”—Jeremia 9:15; 23:15.
32. Wanneer het die Christendom se val uit die geestelike hemele duidelik geword, en hoe is dit gedramatiseer?
32 Hierdie val uit die geestelike hemele het in 1919 duidelik geword toe die klein oorblyfsel van gesalfde Christene, en nie die Christendom se geestelikes nie, oor die Koninkryksbelange aangestel is (Matteus 24:45-47). En van 1922 af is hierdie val gedramatiseer toe dié groep Christene hulle veldtog hervat het om die tekortkominge van die geestelikes van die Christendom openlik bloot te lê.
33. Hoe is die geestelikes van die Christendom by die byeenkoms in 1924 in Columbus, Ohio, VSA, ontmasker?
33 Opmerkenswaardig in hierdie verband was die aankondiging wat gedoen is by die byeenkoms wat The Golden Age beskryf het as “die grootste byeenkoms van Bybelstudente wat tot nog toe gehou is”. Hierdie byeenkoms het op 20-27 Julie 1924 in Columbus, Ohio, plaasgevind. Ongetwyfeld onder leiding van die engel wat op die derde trompet geblaas het, is ’n kragtige resolusie daar aangeneem, waarvan 50 miljoen eksemplare later as ’n traktaat versprei is. Dit is uitgegee onder die titel Ecclesiastics Indicted (Aanklag teen die geestelikes). ’n Tussenhofie het die geskil na vore gebring: “Die saad van die belofte versus die saad van die slang.” Die Aanklag self het die Christendom se geestelikes volledig ontmasker met betrekking tot sake soos hulle aanvaarding van hoogdrawende godsdienstitels, die feit dat hulle handelsreuse en beroepspolitici die vernaamste lede van hulle kuddes maak, dat hulle vernaam wil wees in die oë van mense en dat hulle weier om die boodskap van die Messias se Koninkryk aan die mense te verkondig. Dit het beklemtoon dat elke toegewyde Christen deur God aangestel word om “die dag van die wraak van ons God” te verkondig en “om al die treurendes te vertroos”.—Jesaja 61:2.
34, 35. (a) Wat het met die geestelikes se mag en invloed gebeur sedert die derde engel op sy trompet begin blaas het? (b) Wat hou die toekoms in vir die Christendom se geestelikes?
34 Sedert die derde engel op sy trompet begin blaas het, het die geestelikes se oorheersing van die mensdom geleidelik afgeneem, sodat baie min van hulle vandag nog die byna godgelyke mag het wat hulle in vroeëre eeue geniet het. Danksy die predikingswerk van Jehovah se Getuies het groot getalle mense besef dat baie leerstellings wat deur die geestelikes verkondig word, geestelike gif—“als”—is. Verder is die geestelikes se mag in Noord-Europa byna uitgeput, terwyl die staat in party ander lande hulle invloed streng beperk. In Katolieke dele van Europa en in die Amerikas het die geestelikes se skandelike gedrag in geldelike, politieke en sedelike sake hulle reputasie beklad. Van nou af kan hulle posisie net vererger, aangesien hulle binnekort dieselfde einde as alle ander valse godsdiensbeoefenaars sal hê.—Openbaring 18:21; 19:2.
35 Jehovah se plae oor die Christendom is nog nie klaar nie. Kyk wat ná die vierde trompetstoot gebeur.
Duisternis!
36. Wat gebeur nadat die vierde engel op sy trompet geblaas het?
36 “En die vierde engel het op sy trompet geblaas. En ’n derde van die son en ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref, sodat ’n derde van hulle verduister sou word en die dag vir ’n derde daarvan nie verlig sou word nie, en so ook die nag” (Openbaring 8:12). Die negende plaag oor Egipte was ’n plaag van letterlike duisternis (Eksodus 10:21-29). Maar wat is hierdie simboliese duisternis wat as ’n plaag oor mense kom?
37. Hoe beskryf die apostels Petrus en Paulus die geestelike toestand van diegene buite die Christengemeente?
37 Die apostel Petrus het vir mede-Christene gesê dat hulle in geestelike sin in duisternis was voordat hulle Christene geword het (1 Petrus 2:9). Paulus het ook die woord “duisternis” gebruik om die geestelike toestand van diegene buite die Christengemeente te beskryf (Efesiërs 5:8; 6:12; Kolossense 1:13; 1 Tessalonisense 5:4, 5). Maar wat van diegene in die Christendom wat beweer dat hulle in God glo en wat sê dat hulle Jesus as hulle Redder aanvaar?
38. Watter feit omtrent die Christendom se “lig” basuin die vierde engel uit?
38 Jesus het gesê dat ware Christene aan hulle vrugte herken sou word en dat baie wat beweer dat hulle sy volgelinge is, “werkers van wetteloosheid” sou wees (Matteus 7:15-23). Niemand wat kyk na die vrugte van die derde van die wêreld wat uit die Christendom bestaan, kan ontken dat sy in groot geestelike duisternis rondtas nie (2 Korintiërs 4:4). Sy is die laakbaarste, want sy beweer dat sy Christelik is. Dit is gevolglik gepas dat die vierde engel die feit uitbasuin dat die Christendom se “lig” in werklikheid duisternis is en dat haar bronne van “lig” Babilonies—nie-Christelik—is.—Markus 13:22, 23; 2 Timoteus 4:3, 4.
39. (a) Hoe het die resolusie wat by die byeenkoms in 1925 aangeneem is, die Christendom se valse lig beskryf? (b) Watter verdere ontmaskering is in 1955 gedoen?
39 Ooreenkomstig daardie hemelse aankondiging het ’n maksimum opkoms van God se volk op 29 Augustus 1925 by ’n byeenkoms in Indianapolis, Indiana, VSA, vergader en ’n reguit resolusie met die titel “Boodskap van hoop” vir publikasie aangeneem. Weer eens is sowat 50 miljoen eksemplare in etlike tale versprei. Dit het die valse lig beskryf wat deur die kombinasie van handelswoekeraars, politieke leiers en die geestelikes aangebied word, as gevolg waarvan “die volke in duisternis verval het”. En dit het die aandag op God se Koninkryk gevestig as die ware hoop om “die seëninge van vrede, voorspoed, gesondheid, lewe, vryheid en ewige geluk” te ontvang. Dit het moed van die groepie gesalfde Christene geverg om sulke boodskappe teen die reuseorganisasie van die Christendom te verkondig. Maar hulle het dit van die vroeë 1920’s tot nou toe deurgaans gedoen. In onlangser tye, in 1955, is die geestelikeklas verder ontmasker deur die wêreldwye verspreiding van ’n boekie wat in baie tale verskyn het, Die Christenheid of die Christelikheid—Watter een is “die lig van die wêreld”? Vandag het die huigelary van die Christendom so duidelik geword dat baie in die wêreld dit self kan sien. Maar Jehovah se volk het nie opgehou om haar te ontmasker as ’n koninkryk van duisternis nie.
’n Vlieënde arend
40. As wat word die Christendom deur die vier trompetstote blootgelê?
40 Hierdie eerste vier trompetstote het waarlik meegebring dat die verlate en dodelike toestand van die Christendom blootgelê word. Haar deel van “die aarde” is aan die kaak gestel as iets wat Jehovah se oordeel verdien. Daar is getoon dat revolusionêre regerings wat in haar lande en elders verskyn, skadelik is vir geestelike lewe. Die gevalle toestand van haar geestelikes is blootgelê, en die algemene duisternis van haar geestelike toestand is ontbloot vir almal om te sien. Die Christendom is waarlik die laakbaarste deel van Satan se stelsel van dinge.
41. Wat sien en hoor Johannes gedurende ’n onderbreking in die reeks trompetstote?
41 Wat moet nog geopenbaar word? Voordat ons die antwoord op hierdie vraag vind, is daar ’n kort onderbreking in die reeks trompetstote. Johannes beskryf wat hy vervolgens sien: “En ek het gesien, en ek het ’n arend wat in die middel van die hemel vlieg, met ’n harde stem hoor sê: ‘Wee, wee, wee dié wat op die aarde woon, weens die res van die trompetstote van die drie engele wat op die punt staan om op hulle trompette te blaas!’”—Openbaring 8:13.
42. Wat word moontlik deur die vlieënde arend afgebeeld, en wat is sy boodskap?
42 ’n Arend vlieg hoog in die lug, sodat mense in ’n uitgestrekte gebied dit kan sien. Dit het buitengewone skerp gesigsvermoë en kan ver vooruit sien (Job 39:29). Een van die vier lewende wesens, of gerubs, rondom God se troon is as ’n vlieënde arend uitgebeeld (Openbaring 4:6, 7). Hetsy dit hierdie gerub of ’n ander versiende kneg van God is, dit verkondig luidkeels ’n dinamiese boodskap: “Wee, wee, wee”! Laat die aarde se bewoners aandagtig luister wanneer die drie oorblywende trompetstote gehoor word, waarvan elkeen met een van hierdie weë verband hou.
[Voetnote]
a In teenstelling hiermee toon Openbaring 7:16 dat die groot menigte nie die verskroeiende hitte van Jehovah se misnoeë ondervind nie.
b Hoewel die sewe sterre in Jesus se regterhand die gesalfde opsieners in die Christengemeente afbeeld, is die ouer manne in die meeste van die nagenoeg 100 000 gemeentes in die wêreld vandag lede van die groot menigte (Openbaring 1:16; 7:9). Wat is hulle posisie? Aangesien hulle hulle aanstelling deur heilige gees deur middel van die gesalfde “getroue en verstandige slaaf”-klas ontvang, kan daar gesê word dat hulle onder Jesus se beherende regterhand is, want hulle is ook sy onderherders (Jesaja 61:5, 6; Handelinge 20:28). Hulle ondersteun die “sewe sterre” in die sin dat hulle dien waar bekwame gesalfde broers nie beskikbaar is nie.
[Tabel op bladsy 139]
Die Christendom se waters as als blootgelê
Leringe en gesindhede van die Christendom Wat die Bybel werklik sê
God se persoonlike naam Jesus het gebid dat God se naam
is onbelangrik “Die gebruik geheilig moet word. Petrus het
van enige eienaam vir die gesê: “Elkeen wat die naam van
enigste God . . . is heeltemal Jehovah aanroep, sal gered word”
onvanpas vir die universele (Handelinge 2:21; Joël 2:32;
geloof van die Christelike Kerk” Matteus 6:9; Eksodus 6:3;
(Voorwoord by die Revised Openbaring 4:11; 15:3; 19:6).
Standard Version).
God is ’n Drie-eenheid: “Die Die Bybel sê dat Jehovah groter
Vader is God, die Seun is God, is as Jesus en die God en hoof
en die Heilige Gees is God, en van Christus is (Johannes 14:28; 20:17;
tog is daar nie drie Gode nie, 1 Korintiërs 11:3).
maar een God” (The Catholic Die heilige gees is God se
Encyclopedia, uitgawe van 1912). werkende krag (Matteus 3:11;
Die mensesiel is onsterflik: Die mens is ’n siel. By die
“Wanneer die mens sterf, word dood hou die siel op om te dink
sy siel en liggaam geskei. Sy of te voel en keer dit terug na
liggaam . . . ontbind . . . Die die stof waaruit dit gemaak is
mensesiel sterf egter nie” (What (Genesis 2:7; 3:19; Psalm 146:3, 4;
Happens After Death, ’n Rooms- Prediker 3:19, 20; 9:5, 10;
Katolieke publikasie). Esegiël 18:4, 20).
Die goddeloses word ná hulle Die loon van die sonde is die
doodin die hel gestraf: “Volgens dood, nie lewe in pyniging nie
die tradisionele Christelike leer (Romeine 6:23). Die dooies rus
is die hel ’n plek van eindelose onbewus in die hel (Hades, Sjeool)
foltering en pyn” (The World Book en wag op ’n opstanding (Psalm 89:48;
Encyclopedia, uitgawe van 1987). Johannes 5:28, 29; 11:24, 25;
“Die titel Middelares [vroulike Die enigste middelaar tussen God en
middelaar] word op Ons Liewe mense is Jesus (Johannes 14:6;
Vrou toegepas” (New Catholic 1 Timoteus 2:5; Hebreërs 9:15; 12:24).
Encyclopedia, uitgawe van 1967). Kindertjies moet gedoop word: Doop is vir diegene van wie reeds
“Van die staanspoor af het die dissipels gemaak is en wat geleer
Kerk die Sakrament van die Doop is om Jesus se bevele te gehoorsaam.
aan kindertjies toegedien. Om aan die vereistes vir doop te
Hierdie gebruik is nie alleen as voldoen, moet ’n persoon God se
geoorloof beskou nie, maar daar Woord verstaan en geloof beoefen
is ook geleer dat dit absoluut (Matteus 28:19, 20; Lukas 3:21-23;
noodsaaklik is vir redding” (New Handelinge 8:35, 36).
Catholic Encyclopedia, uitgawe van 1967).
Die meeste kerke is verdeel in Alle eerste-eeuse Christene was
’n lekedom en ’n geestelikeklas bedienaars en het die goeie nuus
wat vir die lekedom preek. Die verkondig (Handelinge 2:17, 18;
geestelikes word gewoonlik ’n Romeine 10:10-13; 16:1). ’n
salaris vir hulle bediening gegee Christen moet ‘verniet gee’, nie vir
en word oor die lekedom verhef ’n salaris nie (Matteus 10:7, 8).
deur titels soos “Dominee”, Jesus het die gebruik
“Vader” of “Sy Eminensie”. van godsdienstitels streng
verbied (Matteus 6:2; 23:2-12;
Beelde, ikone en kruise word Christene moet vlug vir elke
in aanbidding gebruik: “Die soort afgodediens, insluitende
beelde . . . van Christus, van sogenaamdrelatiewe aanbidding
die Maagdelike Moeder van God (Eksodus 20:4, 5;
en van die ander heiliges moet 1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21).
. . . in kerke gehou word en Hulle aanbidGod nie deur
gepaste eerbied en eer moet aanskouing nie, maarmet gees en
daaraan betoon word” (Verklaring waarheid (Johannes 4:23, 24;
van die Konsilie van Trente 2 Korintiërs 5:7). [1545-63]).
Kerklidmate word geleer dat Jesus het verkondig dat God
God se voornemens deur die se Koninkryk, nie die een of ander
politiek verwesenlik sal word. politieke stelsel nie, die hoop vir die
Wyle kardinaal Spellman het mensdom is (Matteus 4:23; 6:9, 10).
gesê: “Daar is net een weg tot Hy het geweier om by
vrede . . . , die hoofweg van die politiek betrokke te raak
demokrasie.” Nuusberigte vertel (Johannes 6:14, 15). Sy Koninkryk
van godsdiens se betrokkenheid was geen deel van hierdie wêreld
by die wêreld se politiek (selfs nie; daarom moes sy volgelinge
by opstande) en haar ondersteuning geen deel van hierdie wêreld wees
van die VN as “die laaste hoop op nie (Johannes 18:36; 17:16).
harmonie en vrede”. Jakobus het teen vriendskap met
die wêreld gewaarsku (Jakobus 4:4).
[Prent op bladsy 132]
Die oopmaak van die sewe seëls lei tot sewe trompetstote
[Prente op bladsy 140]
“’n Uitdaging aan wêreldleiers” (1922)
Hierdie resolusie het gehelp om Jehovah se plaag teen “die aarde” bekend te maak
[Prent op bladsy 140]
“’n Waarskuwing aan alle Christene” (1923)
Jehovah se ongunstige oordeel teen “’n derde van die see” is wyd en syd deur hierdie resolusie verkondig
[Prente op bladsy 141]
“Aanklag teen die geestelikes” (1924)
Die uitgebreide verspreiding van hierdie traktaat het gehelp om mense te waarsku dat die “ster” van die Christendom se geestelikes geval het
[Prent op bladsy 141]
“Boodskap van hoop” (1925)
Hierdie reguit resolusie is gebruik om te openbaar dat die Christendom se vermeende ligbronne in werklikheid bronne van duisternis is
-
-
Die eerste wee—sprinkaneOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
Hoofstuk 22
Die eerste wee—sprinkane
1. Wie voer dit verder wanneer die engele op die trompette blaas, en wat kondig die vyfde trompetstoot aan?
DIE vyfde engel maak hom gereed om op sy trompet te blaas. Daar is reeds op vier hemelse trompette geblaas, en vier plae is gerig teen die derde van die aarde wat Jehovah as die laakbaarste beskou—die Christendom. Haar dodelike siek toestand is blootgelê. Hoewel engele op die trompette blaas, voer menseboodskappers dit op die aarde verder. Nou gaan die vyfde engeletrompet die eerste wee aankondig, wat selfs skrikwekkender is as die dinge wat dit voorafgegaan het. Dit hou verband met ’n verskriklike sprinkaanplaag. Maar laat ons eers ander tekste ondersoek wat ons sal help om hierdie plaag beter te verstaan.
2. Watter Bybelboek beskryf ’n plaag sprinkane wat ooreenkom met die plaag wat Johannes sien, en watter uitwerking het dit op eertydse Israel gehad?
2 Die Bybelboek Joël, wat in die negende eeu v.G.J. geskryf is, beskryf ’n plaag insekte, waaronder sprinkane, wat ooreenkom met die plaag wat Johannes sien (Joël 2:1-11, 25).a Dit sou vir afvallige Israel baie ongemak veroorsaak, maar sou ook meebring dat individuele Jode berou toon en weer Jehovah se guns geniet (Joël 2:6, 12-14). Wanneer daardie tyd aanbreek, sou Jehovah sy gees op “elke soort vlees” uitstort, terwyl skrikwekkende tekens en angswekkende voortekens “die koms van die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” sou voorafgaan.—Joël 2:11, 28-32.
’n Eerste-eeuse plaag
3, 4. (a) Wanneer was daar ’n vervulling van Joël hoofstuk 2, en hoe? (b) Hoe was daar in die eerste eeu G.J. ’n plaag soos ’n swerm sprinkane, en hoe lank het die plaag voortgeduur?
3 Daar was in die eerste eeu ’n vervulling van Joël hoofstuk 2. Dit was toe, op Pinkster 33 G.J., dat heilige gees uitgestort is, waardeur die eerste Christene gesalf en in staat gestel is om in baie tale oor “die luisterryke dinge van God” te praat. Gevolglik het ’n groot menigte vergader. Die apostel Petrus het hierdie verwonderde toeskouers toegespreek, waartydens hy Joël 2:28, 29 aangehaal en verduidelik het dat hulle die vervulling daarvan aanskou (Handelinge 2:1-21). Maar daar is geen verslag dat daar destyds ’n letterlike insekplaag was, wat vir party ongemak veroorsaak en ander tot berou gelei het nie.
4 Was daar in daardie dae ’n figuurlike plaag? Ja, beslis! Dit het gekom as gevolg van die aanhoudende prediking van die pas gesalfde Christene.b Deur hulle het Jehovah die Jode wat wou luister, genooi om berou te toon en seëninge te geniet wat van hom af kom (Handelinge 2:38-40; 3:19). Die persone wat gunstig gereageer het, het sy guns in ’n merkwaardige mate ontvang. Maar vir dié wat die uitnodiging geweier het, het die eerste-eeuse Christene soos ’n verwoestende swerm sprinkane geword. Hulle het in Jerusalem begin en deur die hele Judea en Samaria versprei. Hulle was spoedig oral en het die ongelowige Jode gepynig deur Jesus se opstanding, met alles wat dít behels het, in die openbaar te verkondig (Handelinge 1:8; 4:18-20; 5:17-21, 28, 29, 40-42; 17:5, 6; 21:27-30). Daardie plaag het voortgeduur tot die “vreesinboesemende dag” in 70 G.J., toe Jehovah die Romeinse leërs teen Jerusalem gebring het om dit te vernietig. Net die Christene wat Jehovah se naam in geloof aangeroep het, is gered.—Joël 2:32; Handelinge 2:20, 21; Spreuke 18:10.
Die hedendaagse sprinkaanplaag
5. Hoe is Joël se profesie sedert 1919 vervul?
5 Ons sou redelikerwys kon verwag dat Joël se profesie ’n finale vervulling in die tyd van die einde sou hê. Hoe waar was dit tog! By die Bybelstudente se byeenkoms op 1-8 September 1919 in Cedar Point, Ohio, VSA, het ’n opmerklike uitstorting van Jehovah se gees sy volk geaktiveer om ’n wêreldwye predikingsveldtog te organiseer. Van alle verklaarde Christene het net hulle erken dat Jesus as hemelse Koning op die troon geplaas is en geen moeite ontsien om hierdie goeie nuus wyd en syd bekend te maak nie. Hulle volgehoue getuieniswerk ter vervulling van profesieë het vir die afvallige Christendom soos ’n folterende plaag geword.—Matteus 24:3-8, 14; Handelinge 1:8.
6. (a) Wat het Johannes gesien toe die vyfde engel op sy trompet blaas? (b) Wie word deur hierdie “ster” gesimboliseer, en waarom?
6 Openbaring, wat sowat 26 jaar ná Jerusalem se vernietiging geskryf is, beskryf ook hierdie plaag. Wat voeg dit by Joël se beskrywing? Kom ons ondersoek Johannes se verslag verder: “En die vyfde engel het op sy trompet geblaas. En ek het ’n ster gesien wat uit die hemel op die aarde geval het, en die sleutel van die put van die afgrond is vir hom gegee” (Openbaring 9:1). Hierdie “ster” verskil van die ster in Openbaring 8:10 wat Johannes sien val het. Hy sien ‘’n ster wat uit die hemel geval het’ en wat nou ’n toewysing met betrekking tot hierdie aarde het. Is dit ’n gees of ’n vleeslike persoon? Daar word later gesê dat die houer van hierdie “sleutel van die put van die afgrond” Satan in “die afgrond” werp (Openbaring 20:1-3). Hy moet dus ’n magtige geespersoon wees. In Openbaring 9:11 sê Johannes vir ons dat die sprinkane “’n koning [het], die engel van die afgrond”. Albei verse moet na dieselfde persoon verwys, aangesien die engel wat die sleutel van die afgrond het, logieserwys die engel van die afgrond sou wees. En die ster moet Jehovah se aangestelde Koning simboliseer, aangesien gesalfde Christene net die een engele-Koning, Jesus Christus, erken.—Kolossense 1:13; 1 Korintiërs 15:25.
7. (a) Wat gebeur wanneer “die put van die afgrond” oopgemaak word? (b) Wat is “die afgrond”, en wie het ’n kort tydjie daarin deurgebring?
7 Die verslag sê verder: “En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en rook het uit die put opgestyg soos die rook van ’n groot oond, en die son, asook die lug, is deur die rook van die put verduister. En uit die rook het sprinkane op die aarde te voorskyn gekom; en aan hulle is gesag gegee, dieselfde gesag as wat die skerpioene van die aarde het” (Openbaring 9:2, 3). Volgens die Skrif is “die afgrond” ’n plek van onbedrywigheid, selfs die dood. (Vergelyk Romeine 10:7; Openbaring 17:8; 20:1, 3.) Die groepie van Jesus se broers het aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog ’n kort tydjie in so ’n “afgrond” van relatiewe onbedrywigheid deurgebring (1918-19). Maar toe Jehovah in 1919 sy gees op sy berouvolle knegte uitgestort het, het hulle as ’t ware uitgeswerm om die werk wat voorgelê het, aan te pak.
8. Hoe gaan die loslating van die sprinkane gepaard met baie “rook”?
8 Soos Johannes sien, gaan die loslating van die sprinkane gepaard met baie rook, soos “die rook van ’n groot oond”.c Dit is hoe dit in 1919 was. Die situasie het vir die Christendom en vir die wêreld oor die algemeen donker geword. (Vergelyk Joël 2:30, 31.) Die loslating van hierdie sprinkane, die Johannes-klas, was in werklikheid ’n nederlaag vir die Christendom se geestelikes, wat planne beraam en saamgesweer het om die Koninkrykswerk eens en vir altyd te beëindig en wat toe God se Koninkryk verwerp het. Tekens van ’n rooksluier het oor die afvallige Christendom begin sprei toe hierdie sprinkaangroep goddelike gesag gegee is en dit begin uitoefen het deur kragtige oordeelsboodskappe te verkondig. Die Christendom se “son”—haar uiterlike voorkoms van verligting—is verduister, en “die lug” het vol van aankondigings van goddelike oordeel geword toe daar getoon is dat “die heerser van die gesag van die lug” van hierdie wêreld die Christendom se god is.—Efesiërs 2:2; Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19.
Daardie pynigende sprinkane!
9. Watter gevegsopdragte het die sprinkane ontvang?
9 Watter gevegsopdragte het hierdie sprinkane ontvang? Johannes sê: “En vir hulle is gesê om geen plantegroei van die aarde of enige groenigheid of enige boom te beskadig nie, maar net dié mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. En aan die sprinkane is dit gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig moet word, en die pyniging oor hulle was soos die pyniging deur ’n skerpioen wanneer dit ’n mens steek. En in daardie dae sal die mense die dood soek, maar dit hoegenaamd nie vind nie, en hulle sal begeer om te sterf, maar die dood bly van hulle af wegvlug.”—Openbaring 9:4-6.
10. (a) Teen wie word die plaag hoofsaaklik gerig, en watter uitwerking het dit op hulle? (b) Watter soort pyniging behels dit? (Sien ook die voetnoot.)
10 Let daarop dat hierdie plaag nie in die eerste plek teen die mense of vernames onder hulle—die ‘plantegroei en bome van die aarde’—gerig word nie. (Vergelyk Openbaring 8:7.) Die sprinkane moet net die mense skade aandoen wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie, dié in die Christendom wat beweer dat hulle verseël is, maar wie se reputasie hierdie bewering weerspreek (Efesiërs 1:13, 14). Die pynigende uitinge van hierdie hedendaagse sprinkane is derhalwe in die eerste plek teen die godsdiensleiers van die Christendom gerig. Hoe pynigend moes dit tog vir hierdie aanmatigende manne gewees het om te hoor hoe daar in die openbaar bekend gemaak word dat hulle nie alleen daarin faal om hulle kuddes na die hemel te lei nie, maar dat hulle self nie daar sou kom nie!d Dit was waarlik ’n geval van ‘blindes wat blindes lei’!—Matteus 15:14.
11. (a) Hoe lank word die sprinkane gemagtig om God se vyande te pynig, en waarom is dit nie werklik ’n kort tydjie nie? (b) Hoe erg is die pyniging?
11 Die pyniging duur vyf maande. Is dit ’n betreklik kort tydjie? Nie uit die oogpunt van ’n letterlike sprinkaan nie. Vyf maande is die normale lewensduur van een van hierdie insekte. Die hedendaagse sprinkane hou derhalwe hulle hele lewe lank aan om God se vyande te steek. Bowendien is die pyniging so erg dat mense wil sterf. Ons het weliswaar geen verslag dat enigiemand wat deur die sprinkane gesteek is, hulleself werklik probeer doodmaak het nie. Maar die uitdrukking help ons om ons die intensiteit van die pyniging voor te stel—asof deur die meedoënlose aanval van skerpioene. Dit is soos die lyding wat Jeremia voorspel het vir die ontroue Israeliete wat deur die Babiloniese veroweraars verstrooi sou word en vir wie die dood verkiesliker as die lewe sou wees.—Jeremia 8:3; sien ook Prediker 4:2, 3.
12. Waarom word die sprinkane toegelaat om die godsdiensleiers van die Christendom in geestelike sin te pynig, maar nie om hulle dood te maak nie?
12 Waarom word hulle toegelaat om hierdie persone in geestelike sin te pynig en nie om hulle dood te maak nie? Hierdie is ’n aanvangswee in die blootlegging van die Christendom se leuens en mislukkings, maar eers later, namate die dag van die Here vorder, sal haar doodse geestelike toestand ten volle openbaar gemaak word. Dit sal gedurende ’n tweede wee wees dat ’n derde van die mense doodgemaak word.—Openbaring 1:10; 9:12, 18; 11:14.
Sprinkane gereed vir die stryd
13. Hoe lyk die sprinkane?
13 Hoe merkwaardig lyk hierdie sprinkane tog! Johannes beskryf hulle: “En die gestaltes van die sprinkane was soos dié van perde wat gereedgemaak is vir die geveg; en op hulle koppe was iets soos krone, wat gelyk het soos goud, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense, maar hulle het hare gehad soos vrouehare. En hulle tande was soos dié van leeus; en hulle het borsplate soos ysterborsplate gehad. En die geluid van hulle vlerke was soos die geluid van waens van baie perde wat in die geveg inhardloop.”—Openbaring 9:7-9.
14. Waarom het die groep verlewendigde Christene in 1919 ooreengekom met Johannes se beskrywing van die sprinkane?
14 Dit is ’n goeie afbeelding van die lojale groep verlewendigde Christene in 1919. Soos perde was hulle gereed vir die geveg, gretig om vir die waarheid te stry op die manier wat die apostel Paulus beskryf het (Efesiërs 6:11-13; 2 Korintiërs 10:4). Op hulle koppe sien Johannes iets wat soos krone soos van goud lyk. Dit sou nie gepas wees dat hulle werklike krone het nie, want hulle begin nie regeer terwyl hulle nog op die aarde is nie (1 Korintiërs 4:8; Openbaring 20:4). Maar in 1919 het hulle reeds ’n koninklike voorkoms gehad. Hulle was broers van die Koning, en hulle hemelse krone is vir hulle bewaar, mits hulle tot die einde toe getrou bly.—2 Timoteus 4:8; 1 Petrus 5:4.
15. Wat beteken die sprinkane se (a) ysterborsplate? (b) gesigte soos dié van mense? (c) hare soos dié van ’n vrou? (d) tande soos dié van leeus? (e) groot geraas?
15 In die visioen het die sprinkane ysterborsplate, wat onverbreeklike regverdigheid afbeeld (Efesiërs 6:14-18). Hulle het ook die gesigte van mense, en hierdie kenmerk dui op die eienskap liefde, aangesien die mens gemaak is na die beeld van God, wat liefde is (Genesis 1:26; 1 Johannes 4:16). Hulle hare is lank soos dié van ’n vrou, wat ’n goeie afbeelding is van onderworpenheid aan hulle Koning, die engel van die afgrond. En hulle tande lyk soos ’n leeu se tande. ’n Leeu gebruik sy tande om vleis te skeur. Van 1919 af kon die Johannes-klas weer eens vaste geestelike voedsel inneem, in die besonder die waarhede oor God se Koninkryk waarin “die Leeu wat uit die stam Juda is”, Jesus Christus, regeer. Net soos die leeu moed simboliseer, was groot moed nodig om hierdie kragtige boodskap te verteer, om dit in publikasies uit te gee en om dit oor die hele aarde te versprei. Hierdie figuurlike sprinkane het ’n groot geraas gemaak, soos “die geluid van waens van baie perde wat in die geveg inhardloop”. In navolging van die eerste-eeuse Christene se voorbeeld is hulle nie van plan om stil te bly nie.—1 Korintiërs 11:7-15; Openbaring 5:5.
16. Wat beteken die feit dat die sprinkane “sterte en angels soos skerpioene” het?
16 Hierdie predikingswerk behels meer as die gesproke woord! “Ook het hulle sterte en angels soos skerpioene; en in hulle sterte is hulle gesag om die mense vyf maande lank seer te maak” (Openbaring 9:10). Wat kan dit beteken? Terwyl hulle hulle Koninkrykswerk verrig, doen Jehovah se Getuies, deur middel van die gesproke woord en gedrukte publikasies, gesaghebbende verklarings, wat op God se Woord gebaseer is. Hulle boodskap steek soos ’n skerpioen omdat hulle van Jehovah se naderende dag van wraak waarsku (Jesaja 61:2). Voordat die huidige geslag geestelike sprinkane hulle lewensduur voltooi, sal hulle godgegewe werk om Jehovah se oordele te verkondig, afgehandel word—en dit maak alle hardnekkige godslasteraars seer.
17. (a) Wat is by die byeenkoms van die Bybelstudente in 1919 aangekondig wat die steek van hulle getuieniswerk sou versterk? (b) Hoe is die geestelikes gepynig, en hoe het hulle daarop gereageer?
17 Hierdie sprinkaangroep was verheug toe ’n nuwe tydskrif, The Golden Age, by hulle byeenkoms in 1919 aangekondig is. Dit was ’n tweeweeklikse tydskrif wat bedoel was om die steek van hulle getuieniswerk te versterk.e Sy 27ste nommer, dié van 29 September 1920, het getoon hoe vals die geestelikes was deur die Bybelstudente in die Verenigde State gedurende die tydperk van 1918-19 te vervolg. Gedurende die 1920’s en 1930’s het The Golden Age die geestelikes gepynig met verdere pynigende artikels en spotprente wat hulle listige inmenging in die politiek, en veral die Katolieke hiërargie se ooreenkomste met die Fascistiese en Nazi-diktators, aan die kaak gestel het. In antwoord hierop het die geestelikes ‘onheil deur die wet beraam’ en gepeupelgeweld teen God se volk georganiseer.—Psalm 94:20, King James Version.
Wêreldheersers word gewaarsku
18. Watter werk moes die sprinkane doen, en wat het in reaksie op die vyfde trompetstoot gebeur?
18 Die hedendaagse sprinkane het werk gehad om te doen. Die goeie nuus van die Koninkryk moes verkondig word. Dwalinge moes aan die kaak gestel word. Verlore skape moes gevind word. Terwyl die sprinkane hierdie take verrig het, moes die wêreld noodgedwonge daarvan kennis neem. In gehoorsaamheid aan die engele se trompetstote het die Johannes-klas voortgegaan om die Christendom aan die kaak te stel as ’n groep wat Jehovah se ongunstige oordele verdien. In reaksie op die vyfde trompet is ’n spesifieke aspek van hierdie oordele beklemtoon by ’n byeenkoms van die Bybelstudente op 25-31 Mei 1926 in Londen, Engeland. Hierdie byeenkoms is gekenmerk deur ’n resolusie, “’n Getuienis aan die heersers van die wêreld”, en ’n openbare toespraak in die Royal Albert Hall oor “Waarom wêreldmoondhede wankel—die oplossing”. Die volledige teks van albei het die volgende dag in ’n vername Londense koerant verskyn. Later het die sprinkaangroep 50 miljoen eksemplare van hierdie resolusie, in die vorm van ’n traktaat, wêreldwyd versprei—inderdaad ’n pyniging vir die geestelikes! Jare later het mense in Engeland nog steeds van hierdie pynigende ontmaskering gepraat.
19. Watter verdere gevegstoerusting het die simboliese sprinkane ontvang, en wat het dit omtrent die Londense manifes gesê?
19 By hierdie byeenkoms het die simboliese sprinkane verdere gevegstoerusing ontvang, in die besonder ’n nuwe boek met die titel Verlossing. Dit het ’n skriftuurlike bespreking ingesluit van die teken wat bewys dat die “manlike kind”-regering, Christus se hemelse Koninkryk, in 1914 gebore is (Matteus 24:3-14; Openbaring 12:1-10). Daarna het dit die manifes aangehaal wat in 1917 in Londen uitgegee en deur agt geestelikes, bestempel as “van die wêreld se grootste predikers”, onderteken is. Hulle het die vernaamste Protestantse kerkgenootskappe verteenwoordig—die Baptiste, die Kongregasionaliste, die Presbiteriane, die Anglikane en die Metodiste. Hierdie manifes het verklaar dat “die teenswoordige krisis op die end van die tye van die nasies wys” en dat “die openbaring van die Here enige oomblik verwag kan word”. Ja, hierdie geestelikes het die teken van Jesus se teenwoordigheid herken! Maar wou hulle enigiets daaromtrent doen? Die boek Verlossing deel ons mee: “Die merkwaardigste deel van die affêre is dat dieselfde manne wat die manifes onderteken het, dit later verloën het en die bewys wat toon dat ons aan die einde van die wêreld en in die dag van die Here se tweede teenwoordigheid is, verwerp het.”
20. (a) Watter keuse het die geestelikes gemaak ten opsigte van die sprinkaangroep en hulle Koning? (b) Wie voer volgens Johannes gesag oor die sprinkaangroep, en wat is sy naam?
20 In plaas van die inkomende Koninkryk van God aan te kondig, het die Christendom se geestelikes verkies om by Satan se wêreld te bly. Hulle wil niks te doen hê met die sprinkaangroep en hulle Koning nie, van wie Johannes nou sê: “Hulle het ’n koning oor hulle, die engel van die afgrond. In Hebreeus is sy naam Abaddon [wat “Vernietiging” beteken], maar in Grieks het hy die naam Apollion [wat “Vernietiger” beteken]” (Openbaring 9:11). As “engel van die afgrond” en “Vernietiger” het Jesus waarlik ’n pynigende wee oor die Christendom losgelaat. Maar daar kom nog meer!
[Voetnote]
a Vergelyk Joël 2:4, 5, 7 (waar die insekte beskryf word as perde, ’n volk en manne en daar gesê word dat hulle ’n geluid soos ’n strydwa maak) met Openbaring 9:7-9; vergelyk ook Joël 2:6, 10 (wat die pynlike uitwerking van die insekplaag beskryf) met Openbaring 9:2, 5.
b Sien die artikel “Verenig teen die nasies in die dal van beslissing” in Die Wagtoring van 15 Februarie 1962.
c Let daarop dat hierdie teks nie gebruik kan word om te bewys dat daar ’n vuur in die afgrond was, asof die afgrond die een of ander soort helse vuur is nie. Johannes sê dat hy dik rook gesien het wat “soos” die rook van ’n groot oond was (Openbaring 9:2). Hy sê nie dat hy werklike vlamme in die afgrond gesien het nie.
d Die Griekse woord wat hier gebruik word, kom van die grondwoord ba·sa·niʹzo, wat soms vir letterlike pyniging gebruik word; maar dit kan ook vir verstandelike foltering gebruik word. Ons lees byvoorbeeld in 2 Petrus 2:8 dat Lot “sy regverdige siel gepynig” het weens die boosheid wat hy in Sodom gesien het. Die godsdiensleiers van die apostoliese tydperk het verstandelike foltering ondervind, hoewel dit natuurlik om ’n heeltemal ander rede was.
e Hierdie tydskrif is in 1937 tot Vertroosting en in 1946 tot Ontwaak! hernoem.
[Prent op bladsy 143]
Die vyfde trompetstoot lei die eerste van drie weë in
[Prent op bladsy 146]
U pyle is skerp in die hart van die Koning se vyande (Psalm 45:5). Die spotprent hierbo, waarby hierdie byskrif verskyn het, is tipies van baie wat in die 1930’s gepubliseer is en wat “dié mense wat nie die seël van God . . . het nie”, gesteek het
[Prente op bladsy 147]
Die Royal Albert Hall, waar die boek Verlossing vrygestel en die resolusie “’n Getuienis aan die heersers van die wêreld” aangeneem is
-