Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 20 bl. 119-129
  • ’n Talryke groot menigte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Talryke groot menigte
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die identiteit van die groot menigte word bevestig
  • In die hemel of op die aarde?
  • ’n Universele uitroep van lof
  • Die groot menigte verskyn
  • Die seëninge van die groot menigte
  • Maak die roeping seker
  • “Kyk! ’n groot menigte”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • ’n Groot menigte voor Jehovah se troon
    Aanbid die enigste ware God
  • ’n Groot menigte wat heilige diens verrig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ‘Kyk! Die groot skare!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 20 bl. 119-129

Hoofstuk 20

’n Talryke groot menigte

1. Watter ander groep sien Johannes nadat hy die verseëling van die 144 000 beskryf het?

NADAT Johannes die verseëling van die 144 000 beskryf het, vertel hy vervolgens van een van die opwindendste openbarings in die hele Skrif. Sy hart moes gebons het van vreugde toe hy dit beskryf het: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk! ’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat voor die troon en voor die Lam staan, geklee in wit klere; en daar was palmtakke in hulle hande” (Openbaring 7:9). Ja, die feit dat die vier winde teruggehou word, maak die redding van nog ’n groep benewens die 144 000 lede van geestelike Israel moontlik: ’n veeltalige, internasionale groot menigte.a—Openbaring 7:1.

2. Hoe het wêreldse kommentators die groot menigte verduidelik, en hoe het selfs die Bybelstudente hierdie groep in die verlede beskou?

2 Volgens wêreldse kommentators bestaan hierdie groot menigte uit vleeslike nie-Jode wat tot die Christelike godsdiens bekeer is of uit Christenmartelaars wat hemel toe gaan. Selfs die Bybelstudente het hulle in die verlede as ’n sekondêre hemelse klas beskou, soos daar in 1886 in Deel I van Studies in the Scriptures, The Divine Plan of the Ages, verduidelik is: “Hulle verloor die beloning van die troon en die goddelike natuur, maar sal uiteindelik gebore word as geesskepsele van ’n orde laer as die goddelike natuur. Hoewel hulle waarlik toegewyd is, word hulle in so ’n mate deur die wêreld se gees oorweldig dat hulle versuim om hulle lewe as offerande te gee.” En selfs in 1930 nog is die volgende gedagte in Lig, Boek Een, uitgedruk: “Die wat hierdie groot menigte uitmaak, gee nie gehoor aan die uitnodiging om die vurige getuie[s] van die Here te word nie.” Hulle is beskryf as ’n eiegeregtige groep wat kennis van die waarheid het, maar dit nie juis verkondig nie. Hulle sou hemel toe gaan as ’n sekondêre klas wat nie saam met Christus sou regeer nie.

3. (a) Watter hoop is voorgehou aan sekere regskapenes wat later ywerig geword het in die predikingswerk? (b) Hoe het The Watch Tower in 1923 die gelykenis van die skape en die bokke verduidelik?

3 Daar was egter ander metgeselle van die gesalfde Christene wat later baie ywerig geword het in die predikingswerk. Hulle het geen begeerte gehad om hemel toe te gaan nie. Trouens, hulle hoop het gestrook met die titel van ’n openbare toespraak wat van 1918 tot 1922 deur Jehovah se volk gehou is. Dit was oorspronklik: “Die wêreld het geëindig—Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie.”b Kort daarna het The Watch Tower van 15 Oktober 1923 Jesus se gelykenis van die skape en die bokke (Matteus 25:31-46) verduidelik en gesê: “Skape beeld al die mense van die nasies af, nie geesverwekte mense nie maar dié wat tot regverdigheid geneig is, wat Jesus Christus verstandelik erken as die Here en wat uitsien na en hoop op ’n beter tyd onder sy heerskappy.”

4. Hoe het die lig aangaande die aardse klas helderder geword in 1931? in 1932? in 1934?

4 ’n Paar jaar later, in 1931, het Regverdiging, Boek Een, Esegiël hoofstuk 9 bespreek en die persone wat op die voorkop gemerk is vir redding aan die einde van die wêreld, as die skape van die voormelde gelykenis geïdentifiseer. Regverdiging, Boek Drie, wat in 1932 vrygestel is, het die opregte gesindheid van die nie-Israelitiese man Jonadab beskryf, wat by Israel se gesalfde koning Jehu aangesluit het op sy strydwa en saamgegaan het om Jehu se ywer in die teregstelling van valse godsdiensbeoefenaars te aanskou (2 Konings 10:15-17). Die boek het gesê: “Jonadab het daardie klas mense afgebeeld of voorafgeskadu wat nou op die aarde is gedurende die tyd dat die Jehu-werk [die verkondiging van Jehovah se oordele] plaasvind en wat welwillend is, dit nie met Satan se organisasie eens is nie, wat hulle standpunt aan die kant van regverdigheid inneem en dié is wat die Here gedurende die tyd van Armageddon sal bewaar, deur daardie moeilikheid heen sal neem en die ewige lewe op die aarde sal gee. Hulle maak die ‘skape’-klas uit.” In 1934 het The Watchtower dit duidelik gemaak dat hierdie Christene met ’n aardse hoop hulle aan Jehovah moet toewy en gedoop moet word. Die lig aangaande hierdie aardse klas het al helderder geskyn.—Spreuke 4:18.

5. (a) Hoe is die groot menigte in 1935 geïdentifiseer? (b) Wat het gebeur toe J. F. Rutherford in 1935 gevra het dat byeenkomsgangers wat die hoop koester om vir ewig op die aarde te lewe, moet opstaan?

5 Die begrip van Openbaring 7:9-17 sou spoedig in al sy sprankelende helderheid na vore kom! (Psalm 97:11). Die Wagtoring het herhaaldelik die hoop uitgespreek dat ’n byeenkoms wat vir 30 Mei tot 3 Junie 1935 in Washington, DC, VSA, gereël is, “’n ware vertroosting en voordeel” sou wees vir dié wat deur Jonadab afgebeeld is. Dit was inderdaad die geval! In ’n besielende toespraak oor “Die groot menigte”, waarin sowat 20 000 byeenkomsgangers toegespreek is, het J. F. Rutherford, wat destyds die leiding geneem het in die wêreldwye predikingswerk, skriftuurlike bewyse voorgelê dat die hedendaagse ander skape dieselfde is as daardie groot menigte van Openbaring 7:9. By die klimaks van hierdie toespraak het die spreker gevra: “Sal almal wat die hoop koester om vir ewig op die aarde te lewe, asseblief opstaan?” Toe ’n groot deel van die gehoor opstaan, het die spreker gesê: “Kyk! Die groot menigte!” Daar was ’n stilte, gevolg deur dawerende gejuig. Hoe verheug was die Johannes-klas tog—en ook die Jonadab-groep! Die volgende dag is 840 nuwe Getuies gedoop, waarvan die meeste bely het dat hulle lede van daardie groot menigte is.

Die identiteit van die groot menigte word bevestig

6. (a) Waarom kan ons duidelik verstaan dat die groot menigte die hedendaagse groep toegewyde Christene is wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe? (b) Wat simboliseer die wit klere van die groot menigte?

6 Hoe kan ons met soveel oortuiging sê dat die groot menigte hierdie hedendaagse groep toegewyde Christene is wat hoop om vir ewig op God se aarde te lewe? Johannes het vroeër in ’n visioen die hemelse groep gesien wat “uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop” is (Openbaring 5:9, 10). Die groot menigte het ’n soortgelyke oorsprong, maar ’n ander bestemming. In teenstelling met die Israel van God is hulle getal nie vooraf bepaal nie. Geen mens kan vooraf sê hoeveel daar sal wees nie. Hulle klere is wit gewas in die bloed van die Lam, wat simboliseer dat hulle op grond van hulle geloof in Jesus se offer ’n regverdige posisie voor Jehovah het (Openbaring 7:14). En hulle waai met palmtakke, waardeur hulle die Messias as hulle Koning toejuig.

7, 8. (a) Aan watter gebeure het die gewaai met palmtakke die apostel Johannes ongetwyfeld herinner? (b) Wat beteken die feit dat die lede van die groot menigte met palmtakke waai?

7 Terwyl Johannes in hierdie visioen toekyk, dink hy sekerlik meer as 60 jaar terug aan Jesus se laaste week op die aarde. Op 9 Nisan 33 G.J., toe die menigtes saamgedrom het om Jesus in Jerusalem te verwelkom, het hulle “die takke van palmbome geneem en uitgegaan om hom te ontmoet. En hulle het begin uitroep: ‘Red tog! Geseënd is hy wat in Jehovah se naam kom, ja, die koning van Israel!’” (Johannes 12:12, 13). Op dieselfde manier is die feit dat die groot menigte met palmtakke waai en uitroep, ’n blyk van hulle uitbundige vreugde om Jesus as Jehovah se aangestelde Koning te aanvaar.

8 Die palmtakke en jubelende uitroepe herinner Johannes ongetwyfeld ook aan die eertydse Israelitiese Huttefees. Vir hierdie fees het Jehovah beveel: “En op die eerste dag moet julle vir julle die vrugte van pragtige bome neem, die blare van palmbome en die takke van digte bome en populiere van die stroomvallei, en julle moet sewe dae lank voor Jehovah julle God vrolik wees.” Die palmtakke is as ’n teken van vreugde gebruik. Die tydelike hutte was ’n herinnering aan die feit dat Jehovah sy volk uit Egipte gered het en hulle in tente in die woestyn gewoon het. “Die inwonende vreemdeling en die vaderlose seun en die weduwee” het aan hierdie fees deelgeneem. Die hele Israel moes “net vreugdevol wees”.—Levitikus 23:40; Deuteronomium 16:13-15.

9. Aan watter vreugdevolle uitroep neem die groot menigte deel?

9 Dit is dan gepas dat die groot menigte, hoewel hulle nie deel van geestelike Israel is nie, met palmtakke waai, aangesien hulle vreugdevol en dankbaar die oorwinning en redding aan God en aan die Lam toeskryf, soos Johannes hier sien: “En hulle hou aan om met ’n harde stem te roep en te sê: ‘Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam’” (Openbaring 7:10). Hoewel hulle uit alle etniese groepe afgesonder is, roep die groot menigte met net daardie een “harde stem” uit. Hoe kan hulle dit doen ondanks die verskillende nasies en tale waaruit hulle kom?

10. Hoe kan die groot menigte eensgesind met een “harde stem” uitroep ondanks die verskillende nasies en tale waaruit hulle kom?

10 Hierdie groot menigte is deel van die enigste waarlik verenigde veelvolkige organisasie wat vandag op die aarde bestaan. Hulle het nie verskillende standaarde vir verskillende lande nie, maar pas die Bybel se regte beginsels konsekwent toe, waar hulle ook al woon. Hulle is nie betrokke by nasionalistiese, revolusionêre bewegings nie, maar het waarlik ‘van swaarde ploegskare gesmee’ (Jesaja 2:4). Hulle is nie in sektes of denominasies verdeel sodat hulle, soos die godsdienste van die Christendom, verwarde of teenstrydige boodskappe uitroep nie; hulle laat dit ook nie aan ’n professionele geestelikeklas oor om God namens hulle te loof nie. Hulle roep nie uit dat hulle hulle redding aan die heilige gees verskuldig is nie, want hulle dien nie ’n drie-enige god nie. In sowat 200 geografiese gebiede oor die hele aarde roep hulle die naam van Jehovah eensgesind aan terwyl hulle die een suiwer taal van waarheid praat (Sefanja 3:9). Hulle erken tereg in die openbaar dat hulle redding afkomstig is van Jehovah, die God van redding, deur Jesus Christus, Sy Hoofbewerker van redding.—Psalm 3:8; Hebreërs 2:10.

11. Hoe het die moderne tegnologie die lede van die groot menigte gehelp om hulle harde stem selfs harder te maak?

11 Die moderne tegnologie het daartoe bygedra dat die harde stem van die verenigde groot menigte selfs harder weerklink. Geen ander godsdiensgroep op die aarde het nodig om Bybelstudiehulpe in meer as 400 tale uit te gee nie, aangesien geen ander groep daarin belangstel om al die volke van die aarde met een verenigde boodskap te bereik nie. As ’n verdere hulpmiddel hierin is ’n Elektroniese Stelsel vir Veeltalige Fotosetwerk (MEPS) onder toesig van die gesalfde Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ontwikkel. Tans word die een of ander vorm van MEPS in meer as 125 plekke regoor die aarde gebruik, en dit het daartoe bygedra dat die halfmaandelikse tydskrif, Die Wagtoring, gelyktydig in meer as 130 tale uitgegee kan word. Jehovah se volk publiseer ook boeke, soos hierdie een, gelyktydig in etlike tale. Sodoende kan Jehovah se Getuies, waarvan die groot menigte die oorgrote meerderheid uitmaak, jaarliks honderdmiljoene publikasies in al die vernaamste tale versprei, wat bykomende menigtes uit alle stamme en tale in staat stel om God se Woord te bestudeer en hulle stemme by die harde stem van die groot menigte te voeg.—Jesaja 42:10, 12.

In die hemel of op die aarde?

12, 13. In watter sin staan die groot menigte “voor die troon en voor die Lam”?

12 Hoe weet ons dat die woorde ‘wat voor die troon staan’ nie beteken dat die groot menigte in die hemel is nie? Daar is heelwat duidelike getuienis oor hierdie punt. Byvoorbeeld, die Griekse woord wat hier met “voor” (e·noʹpi·on) weergegee word, beteken letterlik “voor [die] aangesig [van]” en word verskeie kere gebruik met betrekking tot mense op die aarde wat “voor” of “voor die aangesig van” Jehovah is (1 Timoteus 5:21; 2 Timoteus 2:14; Romeine 14:22; Galasiërs 1:20). By een geleentheid toe die Israeliete in die wildernis was, het Moses vir Aäron gesê: “Sê vir die hele vergadering van die kinders van Israel: ‘Kom nader voor Jehovah, want hy het julle murmureringe gehoor’” (Eksodus 16:9). Dit was nie nodig dat die Israeliete na die hemel vervoer word om by daardie geleentheid voor Jehovah te staan nie. (Vergelyk Levitikus 24:8.) Hulle het eerder daar in die woestyn in Jehovah se gesigsveld gestaan, en sy aandag was op hulle.

13 Ons lees ook: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, . . . sal [al die nasies] voor hom versamel word.”c Die hele mensdom sal nie in die hemel wees wanneer hierdie profesie vervul word nie. Dié wat “weggaan, die ewige vernietiging in,” sal beslis nie in die hemel wees nie (Matteus 25:31-33, 41, 46). Die mensdom staan eerder op die aarde in Jesus se gesigsveld, en hy vestig sy aandag daarop om hulle te oordeel. Net so is die groot menigte “voor die troon en voor die Lam” in die sin dat hulle in die gesigsveld staan van Jehovah en sy Koning, Christus Jesus, van wie hulle ’n gunstige oordeel ontvang.

14. (a) Wie is “rondom die troon” en “op die [hemelse] berg Sion”? (b) Waarom is die groot menigte nie ’n priesterlike klas nie, hoewel hulle God “in sy tempel” dien?

14 Volgens die beskrywing is die 24 ouderlinge en die gesalfde groep van 144 000 “rondom die troon” van Jehovah en “op die [hemelse] berg Sion” (Openbaring 4:4; 14:1). Die groot menigte is nie ’n priesterlike klas nie en verkry nie hierdie verhewe posisie nie. Daar word weliswaar later in Openbaring 7:15 gesê dat hulle God “in sy tempel” dien. Maar hierdie tempel verwys nie na die binneste heiligdom, die Allerheiligste, nie. Dit is eerder die aardse voorhof van God se geestelike tempel. Die Griekse woord na·osʹ, wat hier met “tempel” vertaal word, word dikwels gebruik in die breë betekenis van die hele gebou wat vir Jehovah se aanbidding opgerig is. Dit is vandag ’n geestelike struktuur wat die hemel sowel as die aarde omvat.—Vergelyk Matteus 26:61; 27:5, 39, 40; Markus 15:29, 30; Johannes 2:19-21, voetnoot in NW.

’n Universele uitroep van lof

15, 16. (a) Wat is die reaksie in die hemel op die verskyning van die groot menigte? (b) Hoe reageer Jehovah se geesskepsele op elke nuwe openbaring van sy voorneme? (c) Hoe kan ons op die aarde ook die loflied sing?

15 Die groot menigte loof Jehovah, maar ander besing ook sy lof. Johannes vertel: “En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle gesig geval en God aanbid en gesê: ‘Amen! Aan ons God die seën en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte vir ewig en altyd. Amen.’”—Openbaring 7:11, 12.

16 Toe Jehovah die aarde geskep het, het al sy heilige engele “saam van vreugde uitgeroep . . . en al die seuns van God begin juig” (Job 38:7). Elke nuwe openbaring van Jehovah se voorneme het sekerlik soortgelyke uitroepe van lof van die engele ontlok. Wanneer die 24 ouderlinge—die 144 000 in hulle hemelse heerlikheid—hard uitroep ter erkenning van die Lam, val al God se ander hemelse skepsele in met lofprysings aan Jesus en aan Jehovah God (Openbaring 5:9-14). Hierdie skepsele was reeds baie bly om die vervulling van Jehovah se voorneme te sien toe hy getroue, gesalfde mense tot ’n glorieryke plek in die geesteryk opgewek het. Nou borrel daar melodieuse lof uit die monde van al Jehovah se getroue hemelse skepsele wanneer die groot menigte verskyn. Die dag van die Here is waarlik vir al Jehovah se knegte ’n opwindende tyd om in te lewe (Openbaring 1:10). Hoe bevoorreg is ons tog hier op die aarde om ook die loflied te sing deur van Jehovah se Koninkryk te getuig!

Die groot menigte verskyn

17. (a) Watter vraag word deur een van die 24 ouderlinge geopper, en waarop dui die feit dat die ouderling die antwoord kon vasstel? (b) Wanneer is die ouderling se vraag beantwoord?

17 Sedert die tyd van die apostel Johannes en tot in die dag van die Here was gesalfde Christene onseker oor die identiteit van die groot menigte. Dit is dan gepas dat een van die 24 ouderlinge, wat gesalfdes afbeeld wat reeds in die hemel is, Johannes se denke prikkel deur ’n pertinente vraag te opper. “Hierop het een van die ouderlinge vir my gesê: ‘Dié wat in die wit klere geklee is, wie is hulle en waar het hulle vandaan gekom?’ Toe het ek dadelik vir hom gesê: ‘My heer, ú weet’” (Openbaring 7:13, 14a). Ja, hierdie ouderling kon die antwoord vasstel en dit aan Johannes gee. Dit dui daarop dat verrese lede van die groep van 24 ouderlinge, vandag moontlik by die mededeling van goddelike waarhede betrokke is. Op hulle beurt het die lede van die Johannes-klas op die aarde die identiteit van die groot menigte te wete gekom deur noukeurig te let op wat Jehovah in hulle midde gedoen het. Hulle het gou die skitterende flits van goddelike lig onderskei wat die teokratiese uitspansel in 1935, op Jehovah se bestemde tyd, verhelder het.

18, 19. (a) Watter hoop is gedurende die 1920’s en 1930’s deur die Johannes-klas beklemtoon, maar wie het in steeds groter getalle op die boodskap ag geslaan? (b) Wat het die identifisering van die groot menigte in 1935 met betrekking tot die 144 000 aangedui? (c) Wat toon Gedenkmaalstatistiek?

18 Gedurende die 1920’s en vroeë 1930’s het die Johannes-klas die hemelse hoop in die publikasies sowel as in die predikingswerk beklemtoon. Blykbaar moes die volle getal van die 144 000 nog gevul word. Maar al hoe meer van dié wat op die boodskap ag geslaan het en ywerig in die getuieniswerk was, het gesê dat hulle daarin belang stel om vir ewig op die Paradysaarde te lewe. Hulle het geen begeerte gehad om hemel toe te gaan nie. Dit was nie hulle roeping nie. Hulle was nie deel van die klein kuddetjie nie, maar eerder van die ander skape (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Die feit dat hulle in 1935 as die groot menigte ander skape geïdentifiseer is, was ’n aanduiding dat die verkiesing van die 144 000 toe omtrent voltooi was.

19 Staaf statistiek hierdie gevolgtrekking? Ja. In 1938 het 59 047 Getuies van Jehovah wêreldwyd aan die bediening deelgeneem. Van hulle het 36 732 by die jaarlikse Herdenking van Jesus se dood die embleme gebruik en sodoende getoon dat hulle ’n hemelse roeping het. In die jare sedertdien het die getal van hierdie gebruikers geleidelik afgeneem, hoofsaaklik omdat getroue Getuies van Jehovah gesterf en hulle aardse loopbaan voltooi het. In 2005 het net 8 524 die Gedenkmaalembleme gebruik—0,05 persent van die 16 390 116 wat hierdie aardwye herdenking bygewoon het.

20. (a) Watter opmerking het J. F. Rutherford gedurende die Tweede Wêreldoorlog privaat oor die groot menigte gemaak? (b) Watter feite toon nou dat die groot menigte inderdaad groot is?

20 Toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het Satan verbete pogings aangewend om die insameling van die groot menigte te beëindig. Jehovah se werk is in baie lande beperk. Gedurende daardie donker dae, en kort voor sy dood in Januarie 1942, het J. F. Rutherford glo gesê: “Wel . . . dit lyk asof die groot menigte tog nie so groot gaan wees nie.” Maar goddelike seën het dit anders beskik! Teen 1946 het die getal Getuies wat wêreldwyd bedienaars was, tot 176 456 toegeneem—en die meeste van hulle was lede van die groot menigte. In 2005 was daar 6 390 022 Getuies wat Jehovah getrou in 235 lande gedien het—waarlik ’N GROOT MENIGTE! En die getal neem steeds toe.

21. (a) Hoe stem die insameling van God se volk gedurende die dag van die Here ten volle ooreen met Johannes se visioen? (b) Hoe het sekere belangrike profesieë in vervulling begin gaan?

21 Die insameling van God se volk gedurende die dag van die Here stem dus ten volle ooreen met Johannes se visioen: eers die insameling van die oorblywende lede van die 144 000; daarna die insameling van die groot menigte. Soos Jesaja geprofeteer het, stroom mense van alle nasies nou “aan die einde van die dae” in om aan Jehovah se rein aanbidding deel te neem. En ons jubel inderdaad uit waardering vir Jehovah se skepping van “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” (Jesaja 2:2-4; 65:17, 18). God bring “alles weer byeen . . . in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde” (Efesiërs 1:10). Die gesalfde erfgename van die hemelse Koninkryk—wat deur die eeue sedert Jesus se dag verkies is—is “die dinge in die hemele”. En nou verskyn die groot menigte ander skape as die eerste lede van “die dinge op die aarde”. Jou diens in harmonie met hierdie reëling kan vir jou ewige geluk beteken.

Die seëninge van die groot menigte

22. Watter verdere inligting ontvang Johannes oor die groot menigte?

22 Johannes ontvang deur die goddelike kanaal verdere inligting oor hierdie groot menigte: “En hy [die ouderling] het vir my gesê: ‘Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God; en hulle verrig dag en nag heilige diens aan hom in sy tempel; en die Een wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle uitsprei.’”—Openbaring 7:14b, 15.

23. Wat is die groot verdrukking waaruit die groot menigte “kom”?

23 Jesus het by ’n vroeëre geleentheid gesê dat sy teenwoordigheid in Koninkryksheerlikheid ’n hoogtepunt sou bereik in “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21, 22). Ter vervulling van hierdie profesie sal die engele die vier winde van die aarde loslaat om Satan se wêreldstelsel te verwoes. Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, sal eerste vernietig word. Dan, by die klimaks van die verdrukking, sal Jesus die oorblywende lede van die 144 000 op die aarde red, tesame met die talryke groot menigte.—Openbaring 7:1; 18:2.

24. Hoe kwalifiseer individuele lede van die groot menigte vir oorlewing ?

24 Hoe kwalifiseer individuele lede van die groot menigte vir oorlewing? Die ouderling sê vir Johannes dat hulle “hulle klere gewas en dit wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”. Met ander woorde, hulle het geloof beoefen in Jesus as hulle Verlosser, het hulle aan Jehovah toegewy, het hulle toewyding deur waterdoop gesimboliseer en “behou ’n goeie gewete” deur hulle regskape gedrag (1 Petrus 3:16, 21; Matteus 20:28). Hulle is derhalwe rein en regverdig in Jehovah se oë. En hulle bewaar hulleself “sonder vlek van die wêreld”.—Jakobus 1:27.

25. (a) Hoe verrig die groot menigte “dag en nag heilige diens aan [Jehovah] in sy tempel”? (b) Hoe ‘sprei Jehovah sy tent uit’ oor die groot menigte?

25 Verder het hulle ywerige Getuies van Jehovah geword—wat “dag en nag heilige diens aan hom [verrig] in sy tempel”. Is jy ’n lid van hierdie toegewyde groot menigte? Indien wel, is dit jou voorreg om Jehovah sonder ophou in die aardse voorhof van sy groot geestelike tempel te dien. Vandag doen die groot menigte, onder leiding van die gesalfdes, verreweg die grootste deel van die getuieniswerk. Ondanks sekulêre verantwoordelikhede het honderdduisende van hulle plek gemaak vir die voltydse bediening as pioniers. Maar of jy onder hierdie groep is of nie, jy kan, as ’n toegewyde lid van die groot menigte, verheug wees dat jy danksy jou geloof en werke regverdig verklaar word as ’n vriend van God en verwelkom word as ’n gas in sy tent (Psalm 15:1-5; Jakobus 2:21-26). So ‘sprei Jehovah sy tent uit’ oor dié wat hom liefhet en beskerm hy hulle, soos ’n goeie gasheer.—Spreuke 18:10.

26. Watter ander seëninge sal die groot menigte geniet?

26 Die ouderling sê verder: “Hulle sal nie meer honger of dors wees nie, en ook sal die son nie op hulle neerbrand of enige verskroeiende hitte nie, want die Lam, wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en sal hulle na fonteine van waters van die lewe lei. En God sal elke traan van hulle oë afvee” (Openbaring 7:16, 17). Ja, Jehovah is waarlik gasvry! Maar watter diep betekenis het hierdie woorde?

27. (a) Wat het Jesaja voorspel wat met die ouderling se woorde ooreenkom? (b) Wat toon dat Jesaja se profesie in Paulus se dag ten opsigte van die Christengemeente in vervulling begin gaan het?

27 Laat ons ’n profesie met soortgelyke bewoording ondersoek: “Só het Jehovah gesê: ‘In ’n tyd van welwillendheid het ek jou geantwoord, en in ’n dag van redding het ek jou gehelp . . . Hulle sal nie honger of dors kry nie, en ook sal die verskroeiende hitte of die son hulle nie steek nie. Want die Een wat hom oor hulle ontferm, sal hulle lei, en hy sal hulle by die waterfonteine langs bring.’” (Jesaja 49:8, 10; sien ook Psalm 121:5, 6.) Die apostel Paulus het ’n deel van hierdie profesie aangehaal en dit toegepas op die “dag van redding” wat op Pinkster 33 G.J. begin het. Hy het geskryf: “Want hy [Jehovah] sê: ‘In ’n aanneemlike tyd het ek jou verhoor, en in ’n dag van redding het ek jou gehelp.’ Kyk! Nou is die besonder aanneemlike tyd. Kyk! Nou is die dag van redding.”—2 Korintiërs 6:2.

28, 29. (a) Hoe is Jesaja se woorde in die eerste eeu vervul? (b) Hoe word die woorde van Openbaring 7:16 ten opsigte van die groot menigte vervul? (c) Wat sal die gevolg wees van die feit dat die groot menigte na “fonteine van waters van die lewe” gelei word? (d) Waarom sal die groot menigte uniek onder die mensdom wees?

28 Watter toepassing het die belofte dat hulle nie honger of dors sou wees of verskroeiende hitte sou ervaar nie, destyds gehad? Christene in die eerste eeu was beslis soms letterlik honger en dors (2 Korintiërs 11:23-27). Maar in geestelike sin het hulle ’n oorvloed gehad. Daar is ryklik vir hulle voorsien, sodat hulle nie geestelik honger of dors was nie. Wat meer is, Jehovah het nie die hitte van sy toorn teen hulle laat ontvlam toe hy die Joodse stelsel in 70 G.J. vernietig het nie. Die woorde van Openbaring 7:16 het vandag ’n soortgelyke geestelike vervulling vir die groot menigte. Hulle geniet saam met die gesalfde Christene oorvloedige geestelike voorsienings.—Jesaja 65:13; Nahum 1:6, 7.

29 As jy ’n lid van hierdie groot menigte is, sal jou goeie hartstoestand jou ‘met vreugde laat uitroep’, ongeag watter ontberinge en druk jy gedurende die skemerjare van Satan se stelsel moet verduur (Jesaja 65:14). In hierdie sin kan Jehovah nou al ‘elke traan van jou oë afvee’. God se versengende “son” van veroordeling bedreig jou nie meer nie, en wanneer die vier winde van vernietiging losgelaat word, kan jy die “verskroeiende hitte” van Jehovah se misnoeë gespaar word. Ná daardie vernietiging sal die Lam jou lei om ten volle baat te vind by die lewegewende “fonteine van waters van die lewe”, wat al die voorsienings afbeeld wat Jehovah maak sodat jy die ewige lewe kan verkry. Jou geloof in die bloed van die Lam sal geregverdig word deurdat jy geleidelik tot menslike volmaaktheid verhef sal word. Julle wat lede van die groot menigte is, sal uniek wees onder die mensdom as die “miljoene” vir wie dit nie eens nodig was om te sterf nie! Elke traan sal in die volste sin van julle oë afgevee wees.—Openbaring 21:4.

Maak die roeping seker

30. Watter wonderlike vergesig word in Johannes se visioen vir ons ontsluit, en wie sal kan “staan”?

30 Watter wonderlike vergesig ontsluit hierdie woorde tog vir ons! Jehovah self is op sy troon, en al sy knegte, in die hemel en op die aarde, loof hom tesame. Sy aardse knegte besef wat ’n ontsagwekkende voorreg dit is om ook hierdie toenemende loflied te sing. Jehovah en Christus Jesus gaan binnekort oordeel voltrek, en die uitroep sal gehoor word: “Die groot dag van hulle gramskap het gekom, en wie kan staan?” (Openbaring 6:17). Die antwoord? Net ’n minderheid van die mensdom, insluitende enige lede van die verseëlde 144 000 wat moontlik nog in die vlees sal wees en ’n groot menigte ander skape wat sal “staan”, dit wil sê saam met hulle behoue sal bly.—Jeremia 35:19; 1 Korintiërs 16:13.

31. Watter uitwerking behoort die vervulling van Johannes se visioen op Christene te hê, hetsy hulle lede van die gesalfdes of die groot menigte is?

31 Met die oog op hierdie feit span gesalfde Christene van die Johannes-klas hulle kragtig in om te “streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus” (Filippense 3:14). Hulle is terdeë daarvan bewus dat gebeure gedurende hierdie dae spesiale volharding van hulle verg (Openbaring 13:10). Nadat hulle Jehovah soveel jare lank lojaal gedien het, hou hulle vas aan die geloof en is hulle bly dat hulle name “in die hemele opgeskryf is” (Lukas 10:20; Openbaring 3:5). Ook die lede van die groot menigte weet dat net hy wat ‘tot die einde toe volhard het, gered sal word’ (Matteus 24:13). Hoewel die groot menigte as ’n groep gemerk is om uit die groot verdrukking te kom, moet individuele lede hulle inspan om rein en bedrywig te bly.

32. Watter dringende situasie word beklemtoon deur die feit dat net twee groepe op die dag van Jehovah se gramskap sal “staan”?

32 Daar is geen getuienis dat enige mense buiten hierdie twee groepe in die dag van Jehovah se gramskap sal “staan” nie. Wat beteken dit vir die miljoene wat elke jaar ’n mate van respek vir Jesus se offerande toon deur die Herdenking van sy dood by te woon, maar wat nog nie soveel geloof in Jesus se offer beoefen het dat hulle toegewyde, gedoopte knegte van Jehovah geword het wat bedrywig is in sy diens nie? En wat van dié wat voorheen bedrywig was, maar wat toegelaat het dat hulle harte “beswaar word met . . . sorge van die lewe”? Mag hulle almal wakker word, en wakker bly, sodat hulle “daarin [kan] slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens [Jesus Christus] te staan”. Die tyd is kort!—Lukas 21:34-36.

[Voetnote]

a Sien voetnoot in NW.

b The Watch Tower, 1 April 1918, bladsy 98.

c Literally, “in front of him,” The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures.

[Venster op bladsy 119]

Uitleggings is ’n saak van God

Die Johannes-klas het dekades lank navorsing gedoen oor die identiteit van die groot menigte, maar het nie ’n bevredigende verklaring gevind nie. Waarom nie? Ons vind die antwoord in die woorde van getroue Josef, toe hy gesê het: “Is uitleggings nie ’n saak van God nie?” (Genesis 40:8). Wanneer en hoe lê God die vervulling van sy profesieë uit? Dit is gewoonlik kort voordat hulle in vervulling gaan of terwyl hulle besig is om vervul te word, sodat hulle boodskap duidelik deur sy soekende knegte onderskei kan word. Hierdie begrip word gegee “tot ons onderrigting . . . , sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê”.—Romeine 15:4.

[Venster op bladsy 124]

Lede van die groot menigte

▪ kom uit alle nasies en stamme en volke en tale

▪ staan voor Jehovah se troon

▪ het hulle klere wit gewas in die bloed van die Lam

▪ skryf redding aan Jehovah en aan Jesus toe

▪ kom uit die groot verdrukking

▪ dien Jehovah dag en nag in sy tempel

▪ ontvang Jehovah se liefdevolle beskerming en sorg

▪ word deur Jesus na fonteine van waters van die lewe gelei

[Volbladillustrasie op bladsy 121]

[Prent op bladsy 127]

Die groot menigte is redding aan God en aan die Lam verskuldig

[Prent op bladsy 128]

Die Lam sal die groot menigte na fonteine van waters van die lewe lei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel