Hoofstuk 3
Dinge wat binnekort moet plaasvind
1. Hoe kan jy ontkom aan God se voltrekking van oordeel aan hierdie wêreld?
JY BEHOORT diep besorg te wees oor wêreldgebeure in ons tyd. Waarom? Omdat hierdie wêreld nie aan God se voltrekking van oordeel kan ontkom nie. Maar jy kan. Jy kan dit doen deur te sorg dat jy “geen deel van die wêreld” is wat tot vernietiging gedoem is nie. Dit beteken nie dat jy ’n asketiese monnikelewe moet lei nie. Dit beteken dat jy, terwyl jy ’n heilsame, sinvolle lewe geniet, niks te doen het met politieke korrupsie, hebsugtige kommersialisme en godonterende godsdiens, asook gewelddadige en onsedelike gedrag nie. Terselfdertyd moet jy God se hoë gedragstandaarde naleef en sy wil probeer doen (Johannes 17:14-16; Sefanja 2:2, 3; Openbaring 21:8). Die Bybelboek Openbaring toon hoe belangrik dit is dat jy jou in hierdie opsigte inspan en, waar nodig, jou lewenswyse verander.
2. Hoe lei die apostel Johannes die grootse profesie van Openbaring in, en aan wie het God hierdie gewigtige boodskap gegee?
2 Die apostel Johannes lei hierdie grootse profesie in met die woorde: “’n Openbaring deur Jesus Christus, wat God hom gegee het, om vir sy slawe die dinge te toon wat binnekort moet plaasvind” (Openbaring 1:1a). Dit was dus die verrese Jesus Christus wat hierdie gewigtige boodskap van God ontvang het. Hier word Jesus geensins uitgebeeld as deel van ’n mistieke Drie-eenheid nie, maar eerder as onderworpe aan sy Vader. Net so is die “slawe” wat die Christengemeente uitmaak, onderworpe aan Jesus Christus, en daarom ‘bly hulle hom volg ongeag waar hy gaan’ (Openbaring 14:4; Efesiërs 5:24). Maar wie is vandag werklik “slawe” van God, en hoe strek Openbaring hulle tot voordeel?
3. (a) Wie is die “slawe” wat aan Jesus Christus onderworpe is? (b) Watter werk doen die getroue “slawe” onder engeleleiding?
3 Die apostel Johannes, wat Openbaring opgeteken het, praat van homself as so ’n slaaf. Hy was die langslewende apostel en een van die uitverkore, geesgesalfde groep “slawe” wat onsterflike lewe in die hemel beërf. Daar is vandag net ’n paar duisend van hulle op die aarde oor. God het ook ander knegte, ’n groot menigte mans, vroue en kinders, wat nou miljoene tel. Onder engeleleiding neem hulle saam met die gesalfde “slawe” deel aan die verkondiging van ewige goeie nuus aan die hele mensdom. Hoe span al hierdie “slawe” hulle tog nie in om die sagmoediges van die aarde te help om redding te verkry nie! (Matteus 24:14; Openbaring 7:9, 14; 14:6). Openbaring toon wat jy moet doen om by die verblydende goeie nuus baat te vind.
4. (a) Hoe kon Johannes, aangesien hy Openbaring meer as 1 900 jaar gelede geskryf het, praat van dinge “wat binnekort moet plaasvind”? (b) Wat toon die bewyse nou omtrent die voorspelde dinge?
4 Maar hoe kon Johannes sê dat hierdie “slawe” dinge getoon sou word “wat binnekort moet plaasvind”? Is daardie woorde nie meer as 1 900 jaar gelede gespreek nie? Uit Jehovah se oogpunt, vir wie duisend jaar “net soos gister” is, is 1 900 jaar ’n kort tydjie in vergelyking met die eeue wat hy daaraan bestee het om die aarde as ’n tuiste vir die mens te skep en voor te berei (Psalm 90:4). Die apostel Paulus het geskryf van sy eie “gretige verwagting en hoop”, omdat die verwesenliking van sy beloning ongetwyfeld vir hom naby gelyk het (Filippense 1:20). Vandag is daar egter afdoende bewys dat al die voorspelde dinge op tyd sal plaasvind. Nog nooit in die geskiedenis was die oorlewing van die mensdom op die spel nie. Net God het die oplossing!—Jesaja 45:21.
Kommunikasiekanaal
5. Hoe is Openbaring aan die apostel Johannes en toe aan die gemeentes oorgedra?
5 Openbaring 1:1b, 2 sê verder: “En hy [Jesus] het sy engel uitgestuur en dit [Openbaring] deur hom in tekens aan sy slaaf Johannes oorgedra, wat getuig het van die woord wat God gegee het en van die getuienis wat Jesus Christus gegee het, ja, van alles wat hy gesien het.” Johannes het die geïnspireerde verslag dus deur ’n engeleboodskapper ontvang. Hy het dit in ’n boekrol neergeskryf en dit aan die gemeentes van sy tyd oorgedra. Gelukkig vir ons het God dit vir die aanmoediging van die byna 100 000 gemeentes van sy hedendaagse verenigde knegte op die aarde bewaar.
6. Hoe het Jesus die kanaal geïdentifiseer wat hy vandag sou gebruik om sy ‘slawe’ van geestelike voedsel te voorsien?
6 God het ’n kanaal gehad om Openbaring in Johannes se dag oor te dra, en Johannes was die aardse deel van daardie kanaal. God het ook ’n kanaal om vandag geestelike voedsel aan sy ‘slawe’ te gee. In sy groot profesie oor die voleinding van die stelsel van dinge het Jesus die aardse deel van hierdie kanaal geïdentifiseer as “die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee” (Matteus 24:3, 45-47). Hy gebruik hierdie Johannes-klas om die betekenis van die profesie te onthul.
7. (a) Watter uitwerking behoort die tekens in Openbaring op ons te hê? (b) Hoe lank het party van die Johannes-klas al ’n aandeel aan die vervulling van die visioene van Openbaring?
7 Die apostel Johannes skryf dat Jesus Openbaring “in tekens”, of simbole, meegedeel het. Hierdie tekens is aanskoulik en is opwindend om te ondersoek. Hulle beeld dinamiese bedrywigheid uit en behoort ons dan weer aan te spoor om die profesie en die betekenis daarvan ywerig aan ander bekend te maak. Openbaring beeld vir ons ’n aantal boeiende visioene uit, en Johannes het óf daadwerklik óf as ’n waarnemer aan elkeen daarvan deelgeneem. Die lede van die Johannes-klas, van wie party al baie dekades lank ’n aandeel het aan die vervulling van hierdie visioene, is verheug dat God se gees die betekenis onthul het sodat hulle dit aan ander kan verduidelik.
8. (a) Wat is eie aan elkeen van die visioene van Openbaring? (b) Hoe help Daniël se profesie ons om die identiteit van die diere van Openbaring te verstaan?
8 Hierdie visioene in Openbaring word nie in chronologiese volgorde aangebied nie. Elke visioen het sy eie vervullingstydperk. Baie van die visioene herhaal woorde van vroeëre profesieë wat leidrade verskaf oor hulle uitlegging. Daniël se profesie het byvoorbeeld vier skrikwekkende diere beskryf en verduidelik dat hulle heersende moondhede op die aarde afgebeeld het. Ons word dus gehelp om te verstaan dat die diere van Openbaring politieke entiteite afbeeld, met inbegrip van dié wat nou bestaan.—Daniël 7:1-8, 17; Openbaring 13:2, 11-13; 17:3.
9. (a) Watter gesindheid lê die Johannes-klas, soos Johannes, aan die dag? (b) Hoe toon Johannes hoe ons gelukkig kan word?
9 Johannes het getrou getuig van die boodskap wat God hom deur Jesus Christus gegee het. Hy het “alles wat hy gesien het”, in besonderhede beskryf. Die Johannes-klas soek opreg die leiding van God en Jesus Christus om die profesie ten volle te verstaan en die uitstekende gedagtes daarvan aan God se volk bekend te maak. Ten behoewe van die gesalfde gemeente (en ook van die internasionale groot menigte wat God lewend deur die groot verdrukking gaan bewaar) skryf Johannes: “Gelukkig is hy wat die woorde van hierdie profesie hardop lees en dié wat dit hoor en wat die dinge onderhou wat daarin geskrywe staan; want die vasgestelde tyd is naby.”—Openbaring 1:3.
10. Wat moet ons met betrekking tot Openbaring doen om geluk te smaak?
10 Jy sal baie daarby baat vind as jy Openbaring lees, en selfs meer as jy die dinge onderhou wat daarin geskrywe staan. Johannes het in een van sy briewe verduidelik: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie, want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld. En dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin het: ons geloof” (1 Johannes 5:3, 4). Jy kan die grootste geluk smaak as jy sulke geloof opbou!
11. (a) Waarom is dit dringend dat ons die woorde van die profesie onderhou? (b) Watter tyd moet nou gevaarlik naby wees?
11 Dit is dringend dat ons die woorde van die profesie onderhou, “want die vasgestelde tyd is naby”. Die vasgestelde tyd waarvoor? Vir die vervulling van die profesieë van Openbaring, wat God se oordele insluit. Die tyd is op hande vir God en Jesus Christus om die finale oordeel aan Satan se wêreldstelsel te voltrek. Toe Jesus hier op die aarde was, het hy gesê dat net sy Vader weet wanneer “daardie dag of die uur” is. Jesus het die probleme wat in ons dag op die aarde toeneem, sien kom en ook gesê: “Hierdie geslag [sal] hoegenaamd nie . . . verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” Die vasgestelde tyd vir die uitvoering van God se besluit moet dus gevaarlik naby wees (Markus 13:8, 30-32). Soos Habakuk 2:3 sê: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd, en dit beweeg hygend voort na die einde, en dit sal geen leuen vertel nie. Al sou dit talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie.” Ons redding deur die groot verdrukking heen hang daarvan af dat ons God se profetiese Woord onderhou.—Matteus 24:20-22.
[Venster op bladsy 15]
Om die boek Openbaring te verstaan, moet ons
● die hulp van Jehovah se gees ontvang
● onderskei wanneer die dag van die Here begin het
● die hedendaagse getroue en verstandige slaaf erken