-
God se Koninkryk word gebore!Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
immers “met ’n ysterstaf as herder teenoor al die nasies . . . optree”!
12. (a) Wat het Jehovah in die Psalms profeties aangaande Jesus beloof? (b) Wat word gesimboliseer deur die feit dat die vrou geboorte gee aan ’n seun “wat met ’n ysterstaf as herder teenoor al die nasies sal optree”?
12 Klink hierdie uitdrukking bekend? Ja, Jehovah het profeties aangaande Jesus beloof: “Jy sal hulle met ’n ystersepter breek, asof hulle ’n pottebakkershouer is, sal jy hulle stukkend slaan” (Psalm 2:9). Daar is ook aangaande hom geprofeteer: “Die staf van u sterkte sal Jehovah uit Sion stuur en sê: ‘Gaan oorwin te midde van jou vyande’” (Psalm 110:2). Jesus Christus is derhalwe ten nouste betrokke by die geboorte wat Johannes sien. Nee, dit is nie Jesus se geboorte uit ’n maagd voor die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling nie; en dit kan ook nie verwys na Jesus se opstanding tot geeslewe in 33 G.J. nie. Verder is dit nie ’n transmigrasie nie. Dit is eerder die geboorte van God se Koninkryk as ’n werklikheid in 1914, met Jesus—nou reeds byna 20 eeue lank in die hemel—as Koning op die troon geplaas.—Openbaring 12:10.
13. Wat word aangedui deur die feit dat die manlike kind “weggeruk [word] na God en na sy troon”?
13 Jehovah sou nooit toelaat dat Satan Sy vrou of Sy pas gebore seun verslind nie! By geboorte word die manlike kind “weggeruk na God en na sy troon”. Hy kom dus geheel en al onder die beskerming van Jehovah, wat ten volle sal sorg vir hierdie pas gebore Koninkryk, Sy instrument om Sy heilige naam te heilig. Terselfdertyd vlug die vrou na ’n plek wat God vir haar in die wildernis berei het. Later meer besonderhede hieroor! Wat Satan betref, die tyd is nou ryp vir ’n gewigtige gebeurtenis wat dit vir hom heeltemal onmoontlik sal maak om ooit weer die Koninkryk in die hemel te bedreig. Wat is hierdie gebeurtenis?
Oorlog in die hemel!
14. (a) Watter gebeurtenis maak dit volgens Johannes se verslag vir Satan onmoontlik om ooit weer die Koninkryk te bedreig? (b) Tot watter omgewing word Satan en sy demone beperk?
14 Johannes sê vir ons: “En oorlog het in die hemel uitgebreek: Migael en sy engele het teen die draak geveg, en die draak en sy engele het geveg, maar hy het nie geseëvier nie, en ook is daar vir hulle geen plek meer in die hemel gevind nie. Toe is die groot draak neergeslinger, die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei; hy is na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger” (Openbaring 12:7-9). As ’n dramatiese verwikkeling om die heilige geheim van God tot ’n einde te bring, word Satan dus verdryf, uit die hemel gegooi, en sy demone word saam met hom na die aarde neergewerp. Die een wat die hele bewoonde aarde in so ’n mate mislei het dat hy die god daarvan geword het, word uiteindelik beperk tot die omgewing van hierdie planeet, waar sy opstand oorspronklik begin het.—2 Korintiërs 4:3, 4.
15, 16. (a) Wie is Migael, en hoe weet ons dit? (b) Waarom is dit gepas dat Migael die een is wat Satan uit die hemel neerslinger?
15 Wie behaal hierdie groot oorwinning in die naam van Jehovah? Die Bybel sê dat dit Migael en sy engele is. Maar wie is Migael? Die naam “Migael” beteken “Wie is soos God?” Migael moet dus daarin belangstel om Jehovah se soewereiniteit te regverdig deur te bewys dat niemand met Hom vergelyk kan word nie. In Judas vers 9 word hy “Migael, die aartsengel,” genoem. Dit is interessant dat die titel “aartsengel” elders in die Bybel met verwysing na net een persoon gebruik word: Jesus Christus.b Paulus sê van hom: “Die Here self sal uit die hemel neerdaal met ’n gebiedende roep, met ’n aartsengel se stem en met God se trompet” (1 Tessalonisense 4:16). Die titel “aartsengel” beteken “hoof van die engele”. Dit is dus nie verbasend dat Openbaring van “Migael en sy engele” praat nie. Op ander plekke waar die Bybel engele meld wat aan ’n regverdige kneg van God onderworpe is, verwys dit na Jesus. Paulus praat dus van “die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy magtige engele”.—2 Tessalonisense 1:7; sien ook Matteus 24:30, 31; 25:31.
16 Hierdie en ander tekste lei ons tot die noodwendige gevolgtrekking dat Migael niemand anders is nie as die Here Jesus Christus in sy hemelse posisie. Nou, in die dag van die Here, sê hy nie meer bloot vir Satan: “Mag Jehovah jou bestraf” nie. Aangesien dit ’n oordeelstyd is, slinger Jesus, as Migael, die goddelose Satan en sy demoniese engele uit die hemel neer (Judas 9; Openbaring 1:10). Dit is uiters gepas dat Hy die Een is wat dit doen, aangesien Hy die pas gekroonde Koning is. Jesus is ook die Saad, wat in Eden beloof is, wat uiteindelik die kop van die Slang sal vermorsel en hom sodoende vir ewig sal uitwis (Genesis 3:15). Deur Satan uit die hemel te verdryf, het Jesus nader aan hierdie finale vermorseling gekom.
“Wees bly, o hemele”
17, 18. (a) Watter hemelse reaksie op Satan se val uit die hemel beskryf Johannes? (b) Wat is waarskynlik die bron van die harde stem wat Johannes hoor?
17 Johannes beskryf ’n vreugdevolle hemelse reaksie op hierdie groot val van Satan: “En ek het ’n harde stem in die hemel hoor sê: ‘Nou het die redding en die krag en die koninkryk van ons God en die gesag van sy Christus gekom, want die beskuldiger van ons broers, wat hulle dag en nag voor ons God beskuldig, is neergeslinger! En hulle het hom oorwin weens die bloed van die Lam en weens die woord van hulle getuienis, en selfs toe die dood hulle in die gesig gestaar het, het hulle hulle siel nie liefgehad nie. Daarom, wees bly, o hemele en julle wat daarin woon!’”—Openbaring 12:10-12a.
18 Wie se harde stem hoor Johannes? Die Bybel sê nie. Maar ’n soortgelyke uitroep wat in Openbaring 11:17 gemeld word, het gekom van die verrese 24 ouderlinge in hulle hemelse posisie, waar hulle nou die 144 000 heiliges kan verteenwoordig (Openbaring 11:18). En aangesien die vervolgde gesalfde knegte van God wat nog op die aarde is, hier “ons broers” genoem word, kom hierdie verklaring heel moontlik uit dieselfde bron. Hierdie getroues kan ongetwyfeld hulle stemme hierby voeg, aangesien hulle opstanding sou volg kort nadat Satan en sy demoonhordes uit die hemel gewerp is.
19. (a) Die feit dat die heilige geheim van God tot ’n einde gebring word, baan die weg vir Jesus om wat te doen? (b) Wat word aangedui deur die feit dat Satan “die beskuldiger van ons broers” genoem word?
19 Om die heilige geheim van God tot ’n einde te bring, vereis dat Jesus in Jehovah se Koninkryk begin heers. Dit baan dan die weg vir God om sy groot voorneme, naamlik die verlossing van die getroue mensdom, uit te voer. Jesus bring nie net redding vir sy godvresende dissipels wat nou op die aarde is nie, maar ook vir die miljoene der miljoene dooies wat in God se geheue is (Lukas 21:27, 28). Die feit dat Satan “die beskuldiger van ons broers” genoem word, toon dat hy, hoewel daar bewys is dat sy beskuldigings teen Job vals was, eenvoudig aangehou het om die onkreukbaarheid van God se aardse knegte te betwis. Hy het klaarblyklik by baie geleenthede die aantyging herhaal dat ’n mens alles wat hy het, sal gee in ruil vir sy siel. Hoe jammerlik het Satan tog misluk!—Job 1:9-11; 2:4, 5.
20. Hoe het getroue Christene Satan oorwin?
20 Gesalfde Christene, wat “weens die bloed van die Lam” as regverdig beskou word, getuig nog steeds, ondanks vervolging, van God en van Jesus Christus. Hierdie Johannes-klas wys al meer as 120 jaar lank op die groot geskille wat betrokke was by die einde van die Tye van die Nasies in 1914 (Lukas 21:24). En die groot menigte dien nou lojaal aan hulle sy. Nie een van hulle is “bevrees . . . vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie”, soos werklike ondervindinge van Jehovah se Getuies keer op keer gedurende ons tyd bewys het. Mondeling en deur betaamlike Christelike gedrag het hulle Satan oorwin en deurgaans bewys dat hy ’n leuenaar is (Matteus 10:28; Spreuke 27:11; Openbaring 7:9). Hoe verheug moet gesalfde Christene tog wees wanneer hulle na die hemel opgewek word, aangesien Satan nie meer daar bo is om hulle broers te beskuldig nie! Dit is inderdaad die tyd vir die hele engeleskare om vreugdevol te reageer op die oproep: “Wees bly, o hemele en julle wat daarin woon!”
’n Mededingende wee!
21. Hoe het Satan wee vir die aarde en vir die see veroorsaak?
21 Satan is woedend oor die derde wee en is nou daarop uit om die mensdom met sy eie soort wee te teister. Dit is: “Wee die aarde en die see, want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het” (Openbaring 12:12b). Satan se uitwerping uit die hemel beteken inderdaad wee vir die letterlike aarde, wat deur selfsugtige mense onder sy beheer verderf word (Deuteronomium 32:5). Satan se beleid van ‘regeer of ruïneer’, bring selfs meer wee vir die simboliese aarde, die struktuur van die mensegemeenskap, sowel as vir die simboliese see, die onstuimige mensemassa self. Gedurende die twee wêreldoorloë is Satan se gramskap weerspieël in die gramskap van die nasies wat aan hom onderworpe is, en soortgelyke uitbarstings van demoniese woede duur vandag nog voort—maar dit sal nie veel langer duur nie! (Markus 13:7, 8). Maar ongeag hoe verskriklik die Duiwel se planne is, hulle sal nooit naby die verwoestende uitwerking kom wat die derde wee—optrede deur God se Koninkryk—op Satan se sigbare organisasie sal hê nie!
22, 23. (a) Wat gebeur volgens Johannes nadat die draak na die aarde neergeslinger is? (b) Hoe kan die draak “die vrou vervolg wat aan die seun geboorte gegee het”?
22 Sedert Satan se rampspoedige uitwerping het Christus se broers wat nog op die aarde is, die ergste gely weens sy gramskap. Johannes vertel: “En toe die draak sien dat hy na die aarde neergeslinger is, het hy die vrou vervolg wat aan die seun geboorte gegee het. Maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy die wildernis in, na haar plek, kon vlieg; daar word sy ’n tyd en tye en ’n halwe tyd gevoed, weg van die gesig van die slang af.”—Openbaring 12:13, 14.
23 Hier sluit die visioen aan by die gedagte wat in vers 6 genoem word, naamlik dat die vrou ná die geboorte van haar kind die wildernis in vlug, weg van die draak af. Ons wonder dalk hoe die draak die vrou kan vervolg, aangesien sy in die hemel is en die draak nou na die aarde neergewerp is. Wel, onthou dat die vrou kinders hier op die aarde het, haar saad. Later in hierdie visioen word ons meegedeel dat Satan uiting gee aan sy woede teen die vrou deur haar saad te vervolg (Openbaring 12:17). Wat met die vrou se saad hier op die aarde gebeur, kan beskou word asof dit met die vrou self gebeur. (Vergelyk Matteus 25:40.) En die toenemende aantal metgeselle van die saad hier op die aarde sal ook hierdie vervolging ondergaan.
’n Nuwe nasie
24. Watter ondervinding het die Bybelstudente gehad wat ooreengekom het met die verlossing van die Israeliete uit Egipte?
24 Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Jesus se broers getrou voortgegaan met hulle getuieniswerk sover dit moontlik was. Dit is gedoen ten spyte van verskerpte teenstand deur Satan en sy boosaardige handlangers. Uiteindelik is die Bybelstudente se openbare getuieniswerk feitlik stopgesit (Openbaring 11:7-10). Toe het hulle ’n ondervinding gehad wat ooreengekom het met dié van die Israeliete in Egipte wat ook onder hewige verdrukking volhard het. Dit was toe dat Jehovah hulle vinnig, asof op arendsvlerke, na veiligheid in die woestyn Sinai gebring het (Eksodus 19:1-4). So ook het Jehovah ná die bittere vervolging van 1918-19 sy getuies, wat sy vrou verteenwoordig, verlos en hulle in ’n geestelike toestand gebring wat vir hulle so veilig was soos die woestyn vir die Israeliete was. Dit het as ’n antwoord op hulle gebede gekom.—Vergelyk Psalm 55:6-9.
25. (a) Wat het Jehovah in 1919 voortgebring, net soos hy die Israeliete in die wildernis as ’n nasie voortgebring het? (b) Wie maak hierdie nasie uit, en waarin is hulle gebring?
25 In die wildernis het Jehovah die Israeliete as ’n nasie voortgebring en geestelik en liggaamlik vir hulle gesorg. Net so het Jehovah van 1919 af die saad van die vrou as ’n geestelike nasie voortgebring. Dit moenie verwar word met die Messiaanse Koninkryk wat sedert 1914 uit die hemele regeer nie. Hierdie nuwe nasie bestaan eerder uit die oorblyfsel van gesalfde getuies op die aarde, wat in 1919 in ’n glorieryke geestelike toestand gebring is. Aangesien hulle toe “op die regte tyd hulle deel van die voedsel” ontvang het, is hulle versterk vir die werk wat voorgelê het.—Lukas 12:42; Jesaja 66:8.
26. (a) Hoe lank is die tydperk wat in Openbaring 12:6, 14 gemeld word? (b) Wat was die doel van die tydperk van drie en ’n half tye, wanneer het dit begin, en wanneer het dit geëindig?
26 Hoe lank het hierdie rusperiode vir die saad van God se vrou geduur? Openbaring 12:6 sê 1 260 dae. Openbaring 12:14 noem die tydperk ’n tyd, tye en ’n halwe tyd; met ander woorde drie en ’n half tye. In werklikheid beteken albei uitdrukkings drie en ’n half jaar, wat in die Noordelike Halfrond van die lente van 1919 tot die herfs van 1922 geduur het. Dit was ’n tydperk van verkwikkende herstel en herorganisasie vir die herstelde Johannes-klas.
27. (a) Wat het die draak volgens Johannes se verslag ná 1922 gedoen? (b) Wat was Satan se doel toe hy ’n vloed van vervolging teen die Getuies uitgespoeg het?
27 Die draak het nie tou opgegooi nie! “En die slang het water soos ’n rivier uit sy bek agter die vrou aan uitgespoeg, om haar deur die rivier te laat verdrink” (Openbaring 12:15). Wat beteken “water soos ’n rivier”, of “’n watervloed”? (The New English Bible). Eertydse koning Dawid het die goddelose mense wat hom teëgestaan het, “stortvloede van deugniete” [“strome van die niksnutte”, Young] genoem (Psalm 18:4, 5, 16, 17). Wat Satan nou loslaat, is ook vervolging deur nikswerd mense of “deugniete”. Ná 1922 het Satan ’n vloed van vervolging teen die Getuies uitgespoeg (Matteus 24:9-13). Dit het liggaamlike geweld, ‘die beraming van moeilikheid deur verordening’, gevangenisstraf en selfs teregstelling aan die galg, voor die vuurpeloton of deur onthoofding ingesluit (Psalm 94:20). Die vernederde Satan, wat regstreekse toegang tot God se hemelse vrou ontsê is, het toornig begin om die oorblywendes van haar saad op die aarde aan te val en hulle te probeer vernietig, hetsy regstreeks of deur te veroorsaak dat hulle God se guns verloor deur hulle onkreukbaarheid prys te gee. Maar hulle voorneme was soos dié van Job: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!”—Job 27:5.
28. Hoe het die vloed van vervolging gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n hoogtepunt bereik?
28 Hierdie boosaardige vloed van vervolging het gedurende die Tweede Wêreldoorlog ’n hoogtepunt bereik. In Europa is sowat 12 000 Getuies in Nazi-konsentrasiekampe en -gevangenisse opgesluit, en ongeveer 2 000 het gesterf. Onder die militêre leiers wat oor Italië, Japan, Korea en Taiwan regeer het, het getroue Getuies soortgelyke wrede behandeling verduur. Selfs in sogenaamd demokratiese lande is die Getuies deur groepe van die Katolieke Aksie aangeval, geteer en veer en uit dorpe verdryf. Christelike byeenkomste is ontwrig en kinders van Getuies is uit die skool gesit.
29. (a) Hoe beskryf Johannes verligting wat uit ’n onverwagte bron kom? (b) Hoe het “die aarde . . . die vrou te hulp gekom”? (c) Wat hou die draak aan om te doen?
29 Verligting het uit ’n onverwagte bron gekom: “Maar die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier verswelg wat die draak uit sy bek uitgespoeg het. En die draak se gramskap het teen die vrou ontvlam, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen die oorblywendes van haar saad, wat die gebooie van God bewaar en die werk het om van Jesus te getuig” (Openbaring 12:16, 17). “Die aarde”—elemente in Satan se eie stelsel van dinge—het “die rivier”, of ‘vloed’, begin verswelg. Gedurende die 1940’s het die Getuies ’n reeks gunstige beslissings in die Amerikaanse Hooggeregshof sowel as van maghebbers in party ander lande verkry, wat godsdiensvryheid bevestig het. Uiteindelik het die Geallieerdes die Nazi-Fascistiese gevaarte verswelg, tot die verligting van die Getuies wat onder wrede diktatorskappe gely het. Vervolging het nie heeltemal opgehou nie, want die gramskap van die draak duur tot vandag toe voort, en hy hou aan om oorlog te voer teen dié wat “die werk het om van Jesus te getuig”. In baie lande is lojale Getuies nog steeds in die gevangenis, en party sterf nog steeds weens hulle onkreukbaarheid. Maar in party van hierdie lande verlig die owerheid van tyd tot tyd hulle druk en geniet die Getuies ’n groter mate van vryheid.c Ter vervulling van die profesie hou die aarde dus aan om die rivier van vervolging te verswelg.
30. (a) Waarvoor het die aarde genoeg verligting voorsien? (b) Wat het die onkreukbaarheid van God se volk tot gevolg?
30 Op hierdie manier het die aarde genoeg verligting voorsien sodat God se werk na sowat 235 lande kon versprei en meer as sesmiljoen getroue verkondigers van die goeie nuus kon voortbring. Saam met die oorblywendes van die vrou se saad bewaar ’n groot internasionale menigte nuwe gelowiges die gebooie van God ten opsigte van afgeskeidenheid van die wêreld, rein sedes en liefde vir die broers, en hulle getuig van die Messiaanse Koninkryk. Hulle onkreukbaarheid beantwoord Satan se smadende uitdaging, sodat die doodsklok vir Satan en sy stelsel van dinge lui.—Spreuke 27:11.
-
-
’n Stryd teen twee wrede diereOpenbaring—Sy groot klimaks is op hande!
-
-
Hoofstuk 28
’n Stryd teen twee wrede diere
Visioen 8—Openbaring 13:1-18
Onderwerp: Die wilde dier met die sewe koppe, die wilde dier met die twee horings en die beeld van die wilde dier
Tyd van vervulling: Vanaf Nimrod se dag tot die groot verdrukking
1, 2. (a) Wat sê Johannes van die draak? (b) Hoe beskryf Johannes, in simboliese taal, ’n sigbare organisasie wat deur die draak gebruik word?
DIE groot draak is na die aarde neergewerp! Ons studie van Openbaring maak dit duidelik dat die Slang en sy demoonvolgelinge nooit weer in die hemel toegelaat sal word nie. Maar ons is nog nie klaar met “die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei” nie. Die verslag identifiseer hierna in groter besonderhede die middele wat Satan gebruik om teen ‘die vrou en haar saad’ te stry (Openbaring 12:9, 17). Johannes sê van hierdie slangagtige draak: “En hy het op die sand van die see gaan staan” (Openbaring 13:1a). Laat ons dan ondersoek instel na die draak se werkwyse.
2 Die heilige hemele word nie meer deur die teenwoordigheid van Satan en sy demone geteister nie. Hierdie goddelose geeste is uit die hemel gewerp en tot die omgewing van die aarde beperk. Dit verklaar ongetwyfeld die ontsaglike toename in spiritistiese gebruike in hedendaagse tye. Die listige Slang hou nog steeds ’n verdorwe geeste-organisasie in stand. Maar gebruik hy ook ’n sigbare organisasie om die mensdom te mislei? Johannes sê vir ons: “En ek het ’n wilde dier uit die see sien opkom, met tien horings en sewe koppe, en op sy horings tien krone, maar op sy koppe lasterlike name. En die wilde dier wat ek gesien het, was soos ’n luiperd, maar sy pote was soos dié van ’n beer, en sy bek was soos ’n leeu se bek. En die draak het aan die dier sy krag en sy troon en groot gesag gegee.”—Openbaring 13:1b, 2.
-