Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ’n Ontsagwekkende verborgenheid onthul
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • roep hulle uit: “‘Daar is vrede! Daar is vrede!’ terwyl daar geen vrede is nie” (Jeremia 6:14). Hulle geroep om vrede sal ongetwyfeld voortduur en al hoe harder word ter ondersteuning van die klimaks waarvan die apostel Paulus voorspel het: “Jehovah se dag [kom] net soos ’n dief in die nag . . . Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barenswee oor ’n swanger vrou; en hulle sal hoegenaamd nie ontkom nie.”—1 Tessalonisense 5:2, 3.

      14. Watter vorm kan die uitroep “Vrede en veiligheid!” aanneem, en hoe kan ’n mens voorkom dat jy daardeur mislei word?

      14 In onlangse jare het politici die uitdrukking “vrede en veiligheid” gebruik om verskeie mensestrewes te beskryf. Maak hierdie pogings deur wêreldleiers die begin uit van die vervulling van 1 Tessalonisense 5:3? Of het Paulus slegs na ’n spesifieke gebeurtenis van sulke dramatiese afmetings verwys dat dit die hele wêreld se aandag sal trek? Aangesien Bybelprofesieë dikwels eers ten volle verstaan word nadat dit vervul is of terwyl dit besig is om vervul te word, sal ons moet wag en sien. Intussen weet Christene dat niks werklik sal verander het nie, ongeag watter mate van vrede en veiligheid die nasies skynbaar bereik het. Selfsug, haat, misdaad, gesinsverbrokkeling, onsedelikheid, siekte, droefheid en die dood sal nog steeds daar wees. Dit is waarom geen uitroep van “vrede en veiligheid” jou hoef te mislei as jy wakker bly ten opsigte van die betekenis van wêreldgebeure en ag slaan op die profetiese waarskuwings in God se Woord nie.—Markus 13:32-37; Lukas 21:34-36.

  • Die teregstelling van Babilon die Grote
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 35

      Die teregstelling van Babilon die Grote

      1. Hoe beskryf die engel die skarlakenkleurige wilde dier, en watter soort wysheid is nodig om die simbole van Openbaring te verstaan?

      DIE engel beskryf die skarlakenkleurige wilde dier van Openbaring 17:3 verder en sê vir Johannes: “Hiér is dit ’n kwessie van die intelligensie wat wysheid het: Die sewe koppe beteken sewe berge, waarop die vrou sit. En daar is sewe konings: vyf het geval, een is, die ander een het nog nie gekom nie, maar wanneer hy wel kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (Openbaring 17:9, 10). Die engel dra hier wysheid van bo oor, die enigste wysheid wat ons kan help om die simbole in Openbaring te verstaan (Jakobus 3:17). Hierdie wysheid verskaf verligting aan die Johannes-klas en hulle metgeselle aangaande die erns van die tye waarin ons lewe. Dit bou in toegewyde harte waardering vir Jehovah se oordele, wat binnekort voltrek gaan word, en skerp ’n heilsame vrees vir Jehovah in. Soos Spreuke 9:10 sê: “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid, en die kennis van die Allerheiligste is verstand.” Wat openbaar goddelike wysheid aan ons omtrent die wilde dier?

      2. Wat beteken die sewe koppe van die skarlakenkleurige wilde dier, en hoe is dit dat ‘vyf geval het en een is’?

      2 Die sewe koppe van hierdie wrede dier staan vir sewe “berge”, of sewe “konings”. Albei terme word in die Skrif vir regeringsmagte gebruik (Jeremia 51:24, 25; Daniël 2:34, 35, 44, 45). In die Bybel word ses wêreldmoondhede gemeld wat ’n invloed op die aangeleenthede van God se volk gehad het: Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome. Vyf hiervan het reeds gekom en gegaan toe Johannes Openbaring ontvang het, terwyl Rome nog baie beslis ’n wêreldmoondheid was. Dit kom goed ooreen met die woorde “vyf het geval, een is”. Maar wat van “die ander een” wat sou kom?

      3. (a) Hoe is die Romeinse Ryk verdeel? (b) Watter verwikkelinge was daar in die Weste? (c) Hoe moet die Heilige Romeinse Ryk beskou word?

      3 Die Romeinse Ryk het nog honderde jare ná Johannes se dag voortbestaan en selfs uitgebrei. In 330 G.J. het keiser Konstantyn sy hoofstad verskuif van Rome na Bisantium, wat hy tot Konstantinopel hernoem het. In 395 G.J. is die Romeinse Ryk verdeel in ’n Oostelike en Westelike deel. In 410 G.J. is Rome ingeneem deur Alarik, koning van die Wes-Gote (’n Germaanse stam wat hulle tot die Ariaanse vorm van die “Christelike godsdiens” bekeer het). Germaanse stamme (ook “Christelik”) het Spanje en ’n groot deel van Rome se gebied in Noord-Afrika verower. Daar was eeue van omwenteling, onrus en herskikking in Europa. Vername keisers het in die Weste verskyn, byvoorbeeld Karel die Grote, wat in die 9de eeu ’n bondgenootskap met pous Leo III gesluit het, en Frederik II, wat in die 13de eeu geheers het. Maar hoewel hulle ryk die Heilige Romeinse Ryk genoem is, was dit baie kleiner as dié van die vroeëre Romeinse Ryk toe hy op sy magtigste was. Dit was eerder ’n herstel of ’n voortsetting van hierdie eertydse moondheid as ’n nuwe ryk.

      4. Watter oorwinnings het die Oostelike Ryk behaal, maar wat het met baie van die voormalige gebied van eertydse Rome in Noord-Afrika, Spanje en Sirië gebeur?

      4 Rome se Oostelike Ryk, met Konstantinopel as sy hoofstad, het ietwat gespanne betrekkinge met die Westelike Ryk gehad. In die sesde eeu het die Oostelike keiser Justinianus I ’n groot deel van Noord-Afrika herower, en hy het ook in Spanje en Italië tussenbeide getree. In die sewende eeu het Justinianus II gebiede van Masedonië wat deur Slawiese stamme verower is, vir die Ryk herwin. Maar teen die agtste eeu was baie van die voormalige gebied van eertydse Rome in Noord-Afrika, Spanje en Sirië onder die oorheersing van die nuwe ryk van Islam en is dit derhalwe nie meer deur Konstantinopel en Rome beheer nie.

      5. Hoewel die stad Rome in 410 G.J. geval het, waarom het dit nog baie eeue geduur voordat alle spore van die politieke Romeinse Ryk van die wêreldtoneel verdwyn het?

      5 Die stad Konstantinopel self het ietwat langer voortbestaan. Dit het herhaalde aanvalle deur Perse, Arabiere, Bulgare en Russe deurstaan totdat dit uiteindelik in 1203 verower is—nie deur Moslems nie, maar deur Kruisvaarders uit die Weste. In 1453 het dit egter onder die mag van die Ottomaanse Moslemheerser Mehmet II gekom en spoedig die hoofstad van die Ottomaanse, of Turkse, Ryk geword. Hoewel die stad Rome in 410 G.J. geval het, het dit dus nog baie eeue geduur voordat alle spore van die politieke Romeinse Ryk van die wêreldtoneel verdwyn het. En selfs toe was sy invloed nog steeds waarneembaar in godsdiensryke wat op die pousdom van Rome en die Oosters-Ortodokse kerke gegrond was.

      6. Watter splinternuwe ryke het ontstaan, en watter ryk het die suksesvolste geword?

      6 Maar teen die 15de eeu het party lande splinternuwe ryke opgebou. Hoewel party van hierdie nuwe keiserlike moondhede in die gebied van voormalige Romeinse kolonies voorgekom het, was hulle ryke nie bloot voortsettings van die Romeinse Ryk nie. Portugal, Spanje, Frankryk en Nederland het almal setels van wydgestrekte ryke geword. Maar die suksesvolste ryk was Brittanje, wat die septer geswaai het oor ’n ontsaglike ryk waaroor ‘die son nooit ondergegaan het nie’. Hierdie ryk het op verskillende tye oor groot dele van Noord-Amerika, Afrika, Indië en Suidoos-Asië, sowel as die uitgestrektheid van die Stille Suidsee, uitgebrei.

      7. Hoe het ’n soort tweeledige wêreldmoondheid ontstaan, en hoe lank het Johannes gesê sou die sewende ‘kop’, of wêreldmoondheid, bestaan?

      7 Teen die 19de eeu het party van die kolonies in Noord-Amerika hulle reeds van Brittanje afgeskei om die onafhanklike Verenigde State van Amerika te vorm. ’n Mate van politieke konflik het tussen die nuwe nasie en die voormalige moederland voortgeduur. Nietemin het die Eerste Wêreldoorlog albei lande verplig om hulle gemene belange te erken en het dit hulle in ’n spesiale verhouding verbind. Sodoende het ’n soort tweeledige wêreldmoondheid ontstaan, saamgestel uit die Verenigde State van Amerika, tans die rykste nasie ter wêreld, en Groot-Brittanje, die setel van die grootste ryk ter wêreld. Hier is dan die sewende ‘kop’, of wêreldmoondheid, wat tot in die tyd van die einde bestaan en in wie se gebiede die hedendaagse Getuies van Jehovah aanvanklik gevestig geraak het. In vergelyking met die lang heerskappy van die sesde kop bly die sewende net “’n kort tydjie”, totdat God se Koninkryk alle volksentiteite vernietig.

      Waarom word hy ’n agtste koning genoem?

      8, 9. Wat noem die engel die simboliese skarlakenkleurige wilde dier, en in watter sin spruit hy uit die sewe voort?

      8 Die engel verduidelik verder aan Johannes: “En die wilde dier wat was, maar nie is nie, hy is ook self ’n agtste koning, maar spruit uit die sewe voort, en hy gaan in die vernietiging weg” (Openbaring 17:11). Die simboliese skarlakenkleurige wilde dier ‘spruit voort’ uit die sewe koppe; dit wil sê, hy kom voort uit, of het sy bestaan te danke aan, daardie koppe van die oorspronklike “wilde dier uit die see”, waarvan die skarlakenkleurige wilde dier ’n beeld is. In watter sin? Wel, in 1919 was die Anglo-Amerikaanse moondheid die oorheersende kop. Die vorige ses koppe het geval, en hierdie tweeledige kop het die posisie van oorheersende wêreldmoondheid oorgeneem. Hierdie sewende kop, as die huidige verteenwoordiger van die opeenvolging van wêreldmoondhede, was die stukrag agter die stigting van die Volkebond en is nog steeds die vernaamste voorstander en geldelike ondersteuner van die Verenigde Nasies. Die skarlakenkleurige wilde dier—die agtste koning—“spruit” dus simbolies uit die oorspronklike sewe koppe “voort”. Volgens hierdie beskouing strook die verklaring dat dit uit die sewe voortgespruit het, goed met die vroeëre openbaring dat die wilde dier met twee horings soos ’n lam (die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid, die sewende kop van daardie oorspronklike wilde dier) mense aangespoor het om die beeld te maak en lewe daaraan gegee het.—Openbaring 13:1, 11, 14, 15.

      9 Bowendien het regerings wat vanuit die setels van party van die vorige koppe geheers het, naamlik Griekeland, Iran (Persië) en Italië (Rome), tesame met Groot-Brittanje, onder die oorspronklike lede van die Volkebond getel. Later het regerings wat oor die gebied van die vorige ses wêreldmoondhede geheers het, ondersteunende lede van die beeld van die wilde dier geword. In hierdie sin kan daar ook gesê word dat hierdie skarlakenkleurige wilde dier uit die sewe wêreldmoondhede voortgespruit het.

      10. (a) Hoe kan daar gesê word dat die skarlakenkleurige wilde dier “ook self ’n agtste koning” is? (b) Hoe het ’n leier van die voormalige Sowjetunie steun vir die Verenigde Nasies uitgespreek?

      10 Let daarop dat die skarlakenkleurige wilde dier “ook self ’n agtste koning” is. Die Verenigde Nasies van vandag is derhalwe ontwerp om soos ’n wêreldregering te lyk. Dit het soms al selfs soos een opgetree deur leërs in die oorlogsveld uit te stuur om internasionale geskille te beëindig, soos in Korea, die Sinai-skiereiland, sommige Afrikalande en Libanon. Maar dit is slegs die beeld van ’n koning. Soos ’n godsdiensbeeld het dit geen werklike invloed of mag buiten wat daaraan verleen is deur dié wat dit geskep het en dit aanbid nie. Soms lyk hierdie simboliese wilde dier swak; maar dit is nog nooit op groot skaal deur diktatoriale lede verlaat nie—iets wat die Volkebond tot in die afgrond laat steier het (Openbaring 17:8). Hoewel sy menings op ander gebiede geheel en al verskil, het ’n vooraanstaande leier van die voormalige Sowjetunie hom in 1987 by die pouse van Rome aangesluit deur steun vir die VN uit te spreek. Hy het selfs “’n omvattende stelsel van internasionale veiligheid” wat op die VN gegrond is, bepleit. Soos Johannes spoedig uitvind, sal die tyd aanbreek wanneer die VN met aansienlike gesag sal optree. Dan sal dit, op sy beurt, ‘in die vernietiging weggaan’.

      Tien konings een uur lank

      11. Wat sê Jehovah se engel omtrent die tien horings op die simboliese skarlakenkleurige wilde dier?

      11 In die vorige hoofstuk van Openbaring het die sesde en sewende engel bakke van die toorn van God uitgegooi. Ons is sodoende in kennis gestel dat die aarde se konings vir God se oorlog by Armageddon versamel word en dat ‘Babilon die Grote voor die aangesig van God in herinnering gebring gaan word’ (Openbaring 16:1, 14, 19). Nou sal ons meer besonderhede ontvang oor hoe God se oordele aan hulle voltrek gaan word. Luister weer na Jehovah se engel wanneer hy met Johannes praat. “En die tien horings wat jy gesien het, beteken tien konings, wat nog nie ’n koninkryk ontvang het nie, maar hulle ontvang een uur lank gesag as konings saam met die wilde dier. Hulle het een gedagte, en daarom gee hulle hulle mag en gesag aan die wilde dier. Hulle sal teen die Lam veg, maar die Lam sal hulle oorwin omdat hy Here van die here en Koning van die konings is. Ook sal die geroepenes en uitverkorenes en getroues wat saam met hom is, oorwin.”—Openbaring 17:12-14.

      12. (a) Wat beeld die tien horings af? (b) Hoe het die simboliese tien horings ‘nog nie ’n koninkryk ontvang nie’? (c) Hoe het die simboliese tien horings nou “’n koninkryk”, en vir hoe lank?

      12 Die tien horings beeld al die politieke

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel