Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Hou aan toeneem in kennis
    Die Wagtoring – 1993 | Augustus 15
    • ons verkryging van kennis van God en sy Seun. Dit is redelik, aangesien die Skepper, Jehovah, die bron van ware kennis is. Iemand wat God vrees, is in staat om dinge in die regte lig te beskou en tot gegronde gevolgtrekkings te kom.—Spreuke 1:7.

      6 Daarna het Petrus vermaan: “Voeg by julle geloof deug, by julle deug kennis, by julle kennis selfbeheersing, by julle selfbeheersing volharding, by julle volharding godvrugtige toegewydheid, by julle godvrugtige toegewydheid broederlike geneentheid, by julle broederlike geneentheid liefde. Want as hierdie dinge in julle bestaan en oorvloedig is, sal hulle verhoed dat julle onbedrywig of onvrugbaar is met betrekking tot die juiste kennis van ons Here Jesus Christus” (2 Petrus 1:5-8, NW).b In die volgende hoofstuk lees ons dat die verkryging van kennis mense help om die besmettinge van die wêreld te ontvlug (2 Petrus 2:20). Petrus het dus duidelik getoon dat diegene wat nog Christene word, sowel as diegene wat Jehovah reeds dien, kennis nodig het. Tel jy onder een van daardie groepe?

      Leer, herhaal, gebruik

      7. Hoe het baie ’n juiste kennis van basiese Bybelwaarhede opgedoen?

      7 Jy studeer dalk die Bybel saam met Jehovah se Getuies omdat hulle boodskap vir jou na die waarheid klink. Julle bespreek een maal per week ’n uur lank ’n Bybelonderwerp met behulp van ’n studiehulp soos Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. Dit is uitstekend! Baie wat al so ’n studie met Jehovah se Getuies gehad het, het juiste kennis opgedoen. Maar wat kan jy doen om die hoeveelheid wat jy persoonlik leer te vermeerder? Hier is ’n paar wenke.c

      8. Wat kan ’n student doen om meer te leer wanneer hy vir ’n studie voorberei?

      8 Jy moet voor die tyd, wanneer jy vir jou studie voorberei, die materiaal deurkyk wat gedek gaan word. Dit beteken dat jy moet kyk na die hoofstuktitel, die tussenhofies en enige prente wat gebruik word om die materiaal toe te lig. Dan moet jy, terwyl jy ’n paragraaf of ’n gedeelte in die publikasie lees, die sleutelgedagtes en stawende tekste uitsoek en hulle onderstreep of merk. Om vas te stel of jy die waarhede wat gedek is, geleer het, kan jy die vrae op die onderskeie paragrawe probeer beantwoord. Wanneer jy dit doen, moet jy die antwoorde in jou eie woorde probeer stel. Laastens moet jy die les hersien en die hoofpunte en aanvullende argumente probeer herroep.

      9. Hoe kan dit jou help om te leer as jy die studiewenke toepas?

      9 As jy hierdie wenke toepas, kan jy verwag om jou kennis te vermeerder. Waarom? Een rede is dat jy die materiaal sal benader met ’n opregte begeerte om te leer—jy berei as ’t ware die grond voor. Deur ’n oorsig te kry en dan na die hoofpunte en verskillende redenasies te soek, sal jy sien hoe die besonderhede met die tema of hoofgedagte verband hou. ’n Finale hersiening sal jou help om te onthou wat jy gestudeer het. Wat van later, gedurende jou Bybelstudie?

      10. (a) Waarom het dit nie veel waarde om feite of nuwe inligting bloot op te sê nie? (b) Wat behels “graduele-interval-herroeping”? (c) Hoe het Israelitiese kinders moontlik by herhaling baat gevind?

      10 Opvoedkundiges weet hoe nuttig tydige en doelgerigte herhaling is. Dit beteken nie dat ’n mens die woorde soos ’n papegaai moet opsê nie—iets wat jy dalk op skool probeer het toe jy die een of ander naam, feit of idee uit jou kop moes leer. Het jy egter gevind dat jy gou vergeet het wat jy opgesê het, dat dit spoedig uit jou geheue verdwyn het? Waarom het dit gebeur? As ’n mens bloot ’n nuwe woord of feit soos ’n papegaai opsê, kan dit vervelig wees, en die resultate is van korte duur. Wat kan dit verander? Jou opregte begeerte om te leer, sal help. Nog ’n hulpmiddel is doelgerigte herhaling. ’n Paar minute nadat jy ’n punt geleer het, moet jy probeer herhaal wat jy geleer het voordat dit uit jou geheue verdwyn. Dit word “graduele-interval-herroeping” genoem. Deur jou geheue te verfris voordat dinge vervaag, sal jy hulle langer kan onthou. In Israel moes vaders God se gebooie by hulle kinders inskerp (Deuteronomium 6:6, 7). “Inskerp” beteken om deur middel van herhaling te onderrig. Baie van daardie vaders het moontlik eers die wette aan hulle kinders voorgedra; later het hulle die inligting herhaal en dan het hulle hulle kinders vrae gevra oor wat hulle geleer het.

      11. Wat kan gedurende ’n Bybelstudie gedoen word om die leerproses aan te help?

      11 As ’n Getuie ’n Bybelstudie met jou hou, sal hy of sy jou moontlik help om te leer deur van tyd tot tyd gedurende die loop van die studie ’n progressiewe hersiening te hou. Dit is nie omdat hy of sy jou soos ’n kind behandel nie. Dit is ’n tegniek wat die leerproses aanhelp, en daarom kan jy gerus aan hierdie periodieke hersienings deelneem. Daarna kan jy, aan die einde van die studie, aan ’n finale hersiening deelneem wanneer jy uit jou kop antwoord. Jy kan die punte in jou eie woorde verduidelik soos wanneer jy iemand anders sou leer (1 Petrus 3:15). Dit sal help om wat jy geleer het ’n deel van jou langtermyngeheue te maak.—Vergelyk Psalm 119:1, 2, 125, NW; 2 Petrus 3:1.

      12. Wat kan ’n student self doen om sy geheue te verbeter?

      12 Nog ’n nuttige stap sal wees om binne ’n dag of twee vir iemand anders—miskien ’n skoolmaat, ’n werkmaat of ’n buurman of buurvrou—te vertel wat jy geleer het. Jy kan die onderwerp meld en dan sê dat jy net wil sien of jy die sleutelredenasies of die stawende Bybeltekste kan onthou. Dit sal dalk die ander persoon se belangstelling wek. Al wek dit nie sy belangstelling nie, sal die blote feit dat jy die nuwe inligting ná ’n dag of twee herhaal het dit in jou geheue inprent. Dan het jy dit werklik geleer en gedoen wat 2 Petrus 3:18 ons aanspoor om te doen.

      Lê jou daarop toe om te leer

      13, 14. Waarom moet ons meer doen as om bloot inligting in te neem en te onthou?

      13 Die leerproses behels meer as om bloot feite in te neem of inligting te kan onthou. Godsdienstige mense in Jesus se dag het dit gedoen met die gebede wat hulle oor en oor herhaal het (Mattheüs 6:5-7). Maar hoe is hulle deur die inligting geraak? Het hulle regverdige vrugte voortgebring? Beslis nie (Mattheüs 7:15-17; Lukas 3:7, 8). Die probleem was deels dat die kennis nie in hulle hart ingesink het en hulle ten goede beïnvloed het nie.

      14 Volgens Petrus moes dit met destydse sowel as hedendaagse Christene anders wees. Hy spoor ons aan om by ons geloof die kennis te voeg wat ons sal help om nie onbedrywig of onvrugbaar te wees nie (2 Petrus 1:5, 8, NW). As dit in ons geval gaan geld, moet ons die begeerte hê om in daardie kennis toe te neem en om diep daardeur geraak te word, tot in ons diepste wese. Dit sal dalk nie altyd gebeur nie.

      15. Watter probleem het onder sommige Hebreeuse Christene ontstaan?

      15 In Paulus se dag het Hebreeuse Christene ’n probleem in hierdie verband gehad. Aangesien hulle Jode was, het hulle wel ’n kennis van die Skrif gehad. Hulle het van Jehovah en sommige van sy vereistes geweet. Later het hulle kennis aangaande die Messias by daardie kennis gevoeg, geloof beoefen en is hulle as Christene gedoop (Handelinge 2:22, 37-41; 8:26-36). Deur die maande en jare heen het hulle ongetwyfeld Christelike vergaderinge bygewoon, waar hulle dele uit die Skrif kon lees en kommentaar kon lewer. Nogtans het party nie in kennis toegeneem nie. Paulus het geskryf: “Hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ’n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie” (Hebreërs 5:12). Hoe was dit moontlik? Kan dit met ons ook gebeur?

      16. Wat is permafrost, en watter uitwerking het dit op plante?

      16 Om dit toe te lig, kan ons die voorbeeld gebruik van permafrost, die grond wat permanent bevrore is in die Arktiese en ander streke waar die gemiddelde temperatuur onder vriespunt is. Die grond, rotse en grondwater vries tot ’n soliede massa, soms tot ’n diepte van 900 meter. In die somer smelt die ys in die bogrond (wat die aktiewe laag genoem word). Maar hierdie dun laag ontdooide grond is gewoonlik modderig, aangesien die water nie in die permafrost daaronder kan wegsak nie. Die plante wat in die dun bolaag groei, is gewoonlik klein of swak ontwikkel; hulle wortels kan nie die permafrost binnedring nie. ‘Wat’, wonder jy dalk, ‘het permafrost te doen met die vraag of ek toeneem in kennis van Bybelwaarheid?’

      17, 18. Hoe kan permafrost en sy aktiewe laag gebruik word om te illustreer wat met sommige Hebreeuse Christene gebeur het?

      17 Permafrost illustreer die situasie baie goed van iemand wie se verstandelike vermoëns nie aktief daarby betrokke is om juiste kennis in te neem, te onthou en te gebruik nie. (Vergelyk Mattheüs 13:5, 20, 21.) Die persoon het waarskynlik die verstandelike vermoë om verskeie onderwerpe, waaronder Bybelwaarheid, te leer. Hy het, soos daardie Hebreeuse Christene, “die eerste beginsels van die woorde van God” bestudeer en het dalk genoeg vordering gemaak om gedoop te word. Maar miskien ‘gaan hy nie voort tot rypheid’, verder as “die grondleer oor die Christus”, nie.—Hebreërs 5:12; 6:1, NW.

      18 Stel jou sommige van daardie destydse Christene by vergaderinge voor. Hulle was teenwoordig en het aandag geskenk, maar het hulle verstand iets ingeneem? Het hulle daadwerklik en ywerig hulle kennis vermeerder? Miskien nie. As dié wat geestelik onvolwasse was enigsins by die vergaderinge betrokke was, het dit as ’t ware in ’n dun aktiewe lagie plaasgevind, terwyl ’n bevrore massa daaronder gelê het. Die wortels van die dieper of ingewikkelder waarhede kon nie hierdie verstandelike permafrost binnedring nie.—Vergelyk Jesaja 40:24.

      19. Hoe kan ’n ervare hedendaagse Christen soos die Hebreeuse Christene word?

      19 Dit kan dieselfde met ’n hedendaagse Christen wees. Hoewel hy by die vergaderinge teenwoordig is, gebruik hy miskien nie daardie geleenthede om in kennis toe te neem nie. Wat van deelname aan die vergaderinge? Dit verg moontlik heelwat inspanning van ’n nuweling of ’n kind om vrywillig ’n teks of ’n antwoord uit die paragraaf te lees, wat ’n goeie en prysenswaardige inspanning van sy vermoë weerspieël. Maar Paulus het getoon dat ander, aangesien hulle reeds ’n geruime tyd Christene is, verder as daardie eerste stap van deelname moet vorder as hulle in kennis wil toeneem.—Hebreërs 5:14.

      20. Watter selfondersoek moet ons elkeen doen?

      20 As ’n ervare Christen nooit verder gevorder het as om eenvoudig ’n Bybelvers te lees of ’n basiese antwoord direk uit die paragraaf te gee nie, het sy deelname waarskynlik uit die “aktiewe bolaag” van sy verstand gekom. Die een vergadering na die ander kan verbygaan en die dieper dele van sy verstandelike vermoëns kan, na aanleiding van ons illustrasie van die permafrost, in ’n bevrore toestand bly. Ons moet ons afvra: ‘Is ek so? Het ek toegelaat dat ’n soort verstandelike permafrost in my vorm? Hoe verstandelik wakker is ek, en hoeveel stel ek daarin belang om te leer?’ Al voel ons ongemaklik oor ons eerlike antwoorde, kan ons nou stappe begin doen om in kennis toe te neem.

      21. Watter stappe wat vroeër bespreek is, kan jy toepas wanneer jy vir vergaderinge voorberei of hulle bywoon?

      21 Ons kan die wenke in paragraaf 8 persoonlik toepas. Ongeag hoe lank ons al met die gemeente omgaan, ons kan ons voorneem om tot rypheid en groter kennis voort te gaan. Vir sommige sal dit beteken dat hulle deegliker vir vergaderinge moet voorberei en dalk gewoontes moet hernieu wat hulle jare gelede gehad het maar geleidelik laat verval het. Terwyl jy voorberei, moet jy probeer vasstel wat die sleutelgedagtes is en die onbekende tekste wat gebruik word om redenasies te ontwikkel, probeer verstaan. Let op enige nuwe benadering of aspek in die studiemateriaal. Gedurende die vergadering kan jy eweneens die wenke in paragrawe 10 en 11 probeer toepas. Probeer om verstandelik wakker te bly, asof jy die temperatuur in jou verstand hoog hou. Dit sal enige moontlikheid dat “permafrost” kan vorm, teenwerk; hierdie doelbewuste inspanning sal ook enige “bevrore” toestand wat vroeër ontwikkel het, laat ontdooi.—Spreuke 8:12, 32-34.

      Kennis bevorder vrugbaarheid

      22. Hoe sal ons daarby baat vind as ons ons daarop toelê om ons kennis te vermeerder?

      22 Hoe sal ons persoonlik daarby baat vind as ons ons daarop toelê om in die genade en kennis van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus, toe te neem? As ons ’n daadwerklike poging aanwend om ons verstandelike vermoëns wakker te hou, sodat ons gereed is om kennis in te neem, sal die saadjies van nuwe en ingewikkelder Bybelwaarhede hulle wortels diep afstuur, en ons begrip sal toeneem en gevestig raak. Dit kan vergelyk word met wat Jesus in ’n ander gelykenis oor harte gesê het (Lukas 8:5-12). Die saadjies wat op die goeie grond val, kan sterk wortels uitstuur om plante wat vrug dra en oplewer te ondersteun.—Mattheüs 13:8, 23.

      23. Wat kan die resultate wees as ons 2 Petrus 3:18 ter harte neem? (Kolossense 1:9-12).

      23 Jesus se gelykenis was ietwat verskillend, maar die goeie resultate was soortgelyk aan wat Petrus belowe het: “Juis om hierdie rede, deur in antwoord hierop al julle ywerige inspanning by te dra, voeg by julle geloof deug, by julle deug kennis . . . Want as hierdie dinge in julle bestaan en oorvloedig is, sal hulle verhoed dat julle onbedrywig of onvrugbaar is met betrekking tot die juiste kennis van ons Here Jesus Christus” (2 Petrus 1:5-8, NW). Ja, as ons in kennis toeneem, sal dit ons help om vrugbaar te wees. Ons sal vind dat ons al hoe meer genot daaruit put namate ons selfs meer kennis inneem (Spreuke 2:2-5). Die dinge wat jy leer, sal jy makliker kan onthou en sal nuttig wees wanneer jy ander leer om dissipels te word. Op hierdie manier sal jy dus ook vrugbaarder wees en eer aan God en sy Seun bring. Petrus het sy tweede brief só afgesluit: “Julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid.”—2 Petrus 3:18.

  • Laat selfbeheersing in julle bestaan en oorvloedig wees
    Die Wagtoring – 1993 | Augustus 15
    • Laat selfbeheersing in julle bestaan en oorvloedig wees

      “Voeg by julle geloof . . . selfbeheersing.”—2 PETRUS 1:5, 6, NW.

      1. In watter ongewone situasie kan ’n Christen ’n getuienis gee?

      JESUS het gesê: “Voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle” (Mattheüs 10:18). As jy voor ’n goewerneur, ’n regter of ’n president moes verskyn, waaroor sou jy praat? Dalk eers oor die rede waarom jy daar is, die aanklag teen jou. God se gees sal jou help om dit te doen (Lukas 12:11, 12). Maar kan jy dink dat jy oor selfbeheersing sou praat? Beskou jy dit as ’n belangrike deel van ons Christelike boodskap?

      2, 3. (a) Hoe het dit gekom dat Paulus vir Felix en Drusilla kon getuig? (b) Waarom was selfbeheersing in daardie situasie ’n gepaste onderwerp vir Paulus om oor te praat?

      2 Kom ons beskou ’n werklike voorbeeld. Een van Jehovah se getuies is in hegtenis geneem en verhoor. Toe hy ’n geleentheid gegee is om te praat, wou hy verduidelik wat hy as ’n Christen, as ’n getuie, glo. As jy die verslag ondersoek, sal jy vind dat hy ’n oortuigende getuienis gelewer het “oor geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel”. Ons verwys na ’n ondervinding wat die apostel Paulus in Cesarea gehad het. ’n

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel