Hoofstuk 32
“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is”
DIT was 14 Nisan, 33 G.J., die laaste nag van Jesus se aardse lewe. Hy het geweet dat sy dood naby is, maar hy het nie aan homself gedink nie. Hy het eerder van hierdie geleentheid gebruik gemaak om sy dissipels te bemoedig.
Jesus het geweet dat dit ná sy vertrek nie vir hulle maklik sou wees nie. Hulle sou “deur al die nasies gehaat word” ter wille van sy naam (Matt. 24:9). Satan sou hulle probeer verdeel en verderf (Luk. 22:31). Vanweë afvalligheid sou naamchristene oral verrys (Matt. 13:24-30, 36-43). En ‘omdat die ongeregtigheid vermeerder sou word, sou die liefde van die meeste verkoel’ (Matt. 24:12). Wat sou sy ware dissipels ten spyte van al hierdie dinge bymekaar hou? Hulle liefde vir Jehovah sou bowenal vir hulle as ’n verenigende band dien (Matt. 22:37, 38). Maar hulle sou ook mekaar moes liefhê en dit op so ’n wyse moes doen dat dit hulle van die res van die wêreld sou onderskei (Kol. 3:14; 1 Joh. 4:20). Watter soort liefde het Jesus gesê sou sy ware volgelinge duidelik identifiseer?
Daardie laaste aand het Jesus hulle hierdie gebod opgelê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Jesus het daardie aand meer as 20 keer van liefde gepraat. En hy het hulle drie keer die opdrag gegee dat hulle “mekaar moet liefhê” (Joh. 15:12, 17). Dit is duidelik dat Jesus nie net die 11 getroue apostels wat daardie aand by hom was in gedagte gehad het nie, maar al die ander wat mettertyd die ware Christelike godsdiens sou aanneem. (Vergelyk Johannes 17:20, 21.) Die gebod om mekaar lief te hê, sou “al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” vir alle ware Christene geld.—Matt. 28:20.
Maar het Jesus bedoel dat enigiemand op enige plek ter wêreld wat goedhartigheid en liefde teenoor sy medemens toon daardeur as een van Jesus se ware dissipels geïdentifiseer sou word?
‘Julle moet liefde onder mekaar hê’
Jesus het daardie selfde aand ook baie oor eenheid te sê gehad. “Bly in my, soos Ek in julle”, het hy vir sy dissipels gesê (Joh. 15:4). Hy het gebid dat sy volgelinge “almal een mag wees”, en het bygevoeg, “net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees” (Joh. 17:21). Teen hierdie agtergrond het hy hulle beveel: ‘Julle moet liefde onder mekaar hê’ (Joh. 13:35). Hulle liefde sou dus nie net teenoor ’n paar intieme vriende of binne ’n enkele gemeente getoon word nie. Die apostel Petrus het hom by Jesus se gebod aangesluit toe hy later geskryf het: “Julle moet . . . die broederskap liefhê.” (1 Pet. 2:17; vergelyk 1 Petrus 5:9.) Hulle sou dus ’n hegte, wêreldwye broederskap wees. Spesiale liefde sou almal in die wêreldwye gesin van gelowiges toekom, omdat hulle as broers en susters beskou sou word.
Hoe sou sulke liefde aan die dag gelê word? Wat sou so onderskeidend, so anders, van hulle liefde vir mekaar wees dat ander duidelike bewyse van ware Christelikheid daarin sou sien?
“Soos Ek julle liefgehad het”
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, het God se Wet aan Israel meer as 1 500 jaar voor Jesus op die aarde gelewe het, gesê (Lev. 19:18). Sulke liefde vir ’n mens se naaste was egter nie die soort liefde wat Jesus se volgelinge sou onderskei nie. Jesus het ’n liefde in gedagte gehad wat baie verder sou strek as om ander lief te hê soos jouself.
Die gebod om mekaar lief te hê, was, soos Jesus gesê het, “’n nuwe gebod”. Nie nuut omdat dit ná die Mosaïese Wet gegee is nie, maar nuut in die mate waarin die liefde getoon moes word. Julle moet mekaar liefhê “soos Ek julle liefgehad het”, het Jesus verduidelik (Joh. 13:34). Sy liefde vir sy dissipels was sterk, bestendig. Dit was ’n selfopofferende liefde. Hy het dit geopenbaar deur meer as net ’n paar goeie dinge vir hulle te doen. Hy het hulle geestelik gevoed en, wanneer nodig, in hulle fisiese behoeftes voorsien (Matt. 15:32-38; Mark. 6:30-34). En as die grootste bewys van sy liefde het hy sy lewe vir hulle afgelê.—Joh. 15:13.
Dít is die voortreflike soort liefde wat die “nuwe gebod” vereis, die liefde wat Jesus se ware volgelinge vir mekaar sou hê (1 Joh. 3:16). Wie bewys vandag duidelik dat hulle die “nuwe gebod” gehoorsaam? Die bewyse wat vroeër in hierdie publikasie gegee is, dui onmiskenbaar op ’n enkele groep Christene wat in ’n wêreldwye organisasie verenig is.
Hulle word nie aan ’n besondere soort kleredrag of ongewone gebruike herken nie, maar aan hulle hegte en hartlike onderlinge eenheid. Hulle is bekend daarvoor dat hulle ’n liefde aan die dag lê wat rasseverskille en nasionale grense oorkom. Hulle is daarvoor bekend dat hulle weier om teen mekaar te veg, selfs wanneer die land waarin hulle woon in ’n oorlog verwikkel raak. Ander is al dikwels beïndruk deur die wyse waarop hulle mekaar in tye van teëspoed help, soos wanneer hulle deur natuurrampe getref word of wanneer lede van hulle broederskap vervolg word omdat hulle hulle onkreukbaarheid teenoor God handhaaf. Hulle is bereid om swaar te kry of gevaar te trotseer om hulle broers en susters te help vir wie Christus sy lewe afgelê het. Ja, en hulle is bereid om vir mekaar te sterf. Die liefde wat hulle openbaar, is uniek in ’n wêreld wat al hoe selfsugtiger word. Hulle is Jehovah se Getuies.a
’n Voorbeeld van sulke daadwerklike liefde is ná orkaan Andrew gesien, wat die kus van Florida, VSA, in die vroeë oggendure op Maandag, 24 Augustus 1992, getref het. Ná die orkaan was sowat 250 000 mense haweloos. Onder die slagoffers was daar duisende Getuies van Jehovah. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het feitlik onmiddellik opgetree deur ’n noodlenigingskomitee aan te stel en te reël dat noodlenigingsfondse beskikbaar gestel word. Christenopsieners in die rampgebied het gou met individuele Getuies in aanraking gekom om vas te stel wat hulle nodig het en hulp te verleen. Maandagoggend reeds, die dag ná die storm, het Getuies in Suid-Carolina, honderde kilometers daarvandaan, ’n vragmotor vol kragopwekkers, kettingsae en drinkwater na die rampgebied gestuur. Dinsdag het daar saam met die ekstra voorrade wat geskenk is honderde vrywilligers van ander plekke gekom om die plaaslike broers te help om Koninkryksale en huise te herstel. ’n Vrou wat naby ’n Koninkryksaal gewoon het en nie ’n Getuie is nie, het oor die noodlenigingspogings gesê: “Dit moet waarlik die Christelike liefde wees waarvan die Bybel praat.”
Sal sulke liefde ophou nadat hulle mense een of twee keer gehelp het? Sal dit net aan mense van dieselfde ras of nasionaliteit betoon word? Beslis nie! As gevolg van onbestendige politieke en ekonomiese toestande in Zaïre in 1992 het meer as 1 200 Getuies daar hulle huise en al hulle besittings verloor. Ander Getuies in Zaïre het gou aan hulle bystand begin verleen. Hoewel hulle self swaargekry het, het hulle ook met vlugtelinge gedeel wat uit Soedan in Zaïre ingekom het. Spoedig het noodlenigingsvoorrade uit Suid-Afrika en Frankryk daar aangekom; dit het onder andere bestaan uit mieliemeel, sout vis en mediese voorrade—dinge wat hulle werklik kon gebruik. Hulle is keer op keer na gelang van die toestand gehelp. En terwyl hulle daar gehelp is, is daar in baie ander lande soortgelyke hulp verleen.
Die feit dat Jehovah se Getuies sulke liefde het, maak hulle egter nie selfvoldaan nie. Hulle besef dat hulle, as volgelinge van Jesus Christus, moet bly waak.
[Voetnote]
a Sien Hoofstuk 19: “Liefde lei tot ’n hegter band van eenheid.”
[Lokteks op bladsy 710]
Watter soort liefde het Jesus gesê sou sy ware volgelinge duidelik identifiseer?
[Lokteks op bladsy 711]
Hulle sou ’n hegte, wêreldwye broederskap wees
[Venster op bladsy 712]
“Getuies sorg vir hulle eie mense—en vir ander”
Onder daardie opskrif het “The Miami Herald” geskryf oor die noodlenigingspogings van Jehovah se Getuies in Suid-Florida ná die verwoesting wat deur orkaan Andrew in Augustus 1992 aangerig is. Die artikel het gesê: “Niemand in Homestead slaan vandeesweek deure vir Jehovah se Getuies toe nie—al het hulle nog ’n deur om toe te slaan. Omtrent 3 000 Getuies het van oor die hele land vrywillig na die rampgebied gestroom; eerstens om hulle eie mense te help, en dan om ander te help. . . . Ongeveer 150 ton voedsel en voorrade is deur ’n verspreidingspunt by die Byeenkomssaal in die westelike Broward-distrik na twee Koninkryksale in die Homestead-gebied gestuur. Spanne gaan elke oggend van die sale af in verskillende rigtings om die vernielde huise van die Getuiebroers te herstel. . . . ’n Veldkombuis berei drie keer per dag etes vir tot 1 500 mense voor. En dit is nie net worsbroodjies en oliebolle nie. Vrywilligers kry tuisgebakte brood, tuisgemaakte lasagna, vars slaai, bredie, plaatkoekies en Franse braaibrood—en dit alles van geskenkte bestanddele.”—31 Augustus 1992, bladsy 15A.