“Geestelike woorde” vir diegene met geesteskwellinge
SELFS sommige getroue knegte van God word met geestesprobleme geteister. En hoewel dit soms nodig en gepas is dat gekwelde persone professionele hulp soek, kan hulle ook by die hulp en bemoediging van die Christengemeente baat vind. Toe die getroue Christen Epafroditus baie terneergedruk geraak het, is medegelowiges in Filippi byvoorbeeld gemaan om nie sy kwelling te ignoreer nie, maar om ‘hom met alle blydskap in die Here te ontvang en sulke manne in eer te hou’.—Filippense 2:25-29, vgl. NW.
Jehovah se Getuies staan vandag eweneens onder verpligting om ‘mekaar te bemoedig’ en om ‘die swakkes te ondersteun’ (1 Thessalonicense 5:11, 14). Christen- ouere manne moet hierin die leiding gee.—Jesaja 32:2.
Die meeste ouere manne is natuurlik nie bevoeg om as geneeshere op te tree of om die begrippe en terminologie van die sielkunde te gebruik nie. Dit sou onbeskeie en miskien gevaarlik wees as hulle dit sou doen (Spreuke 11:2). Soos die apostel Paulus moet hulle “spreek . . . , nie met woorde wat deur menslike wysheid geleer word nie, maar met woorde wat deur die gees geleer word, daar [hulle] geestelike sake met geestelike woorde kombineer” (1 Korinthiërs 2:13, NW). Hierdie “geestelike woorde” sluit die begrippe en beginsels in wat in die Bybel gevind word. As dit reg toegepas word, kan dit baie daartoe bydra om gekwelde persone te vertroos en aan te moedig.—2 Timotheüs 3:16.
‘Wees gou om te hoor’
Ouere manne moet in die eerste plek “gou wees om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). ‘As jy antwoord gee op ’n saak voordat jy dit gehoor het’, kan dit maklik daartoe lei dat onvanpaste raad gegee word (Spreuke 18:13). Een groep ouere manne het nie die aard van ’n sekere broer se depressiwiteit verstaan nie en het hom as geestelik swak bestempel. “Bid meer”, het hulle vir hom gesê—raad wat vir hom moeilik was om toe te pas as gevolg van sy depressiewe geestestoestand.
Voordat ouere manne dus raad gee, moet hulle eers alles hoor wat die lyer te sê het. Hy het miskien ’n goeie luisteraar nodig. ‘Skep uit’ wat in sy hart is deur geduld en insig aan die dag te lê (Spreuke 20:5) As die gekwelde persoon dit moeilik vind om sy gevoelens in woorde uit te druk, kan jy onthou hoe Elkana vriendelike maar pertinente vrae gestel het oor sy vrou se droefgeestigheid. “Hanna”, het hy gevra, “waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef?” (1 Samuel 1:8). Taktvolle, simpatieke vrae kan ’n terneergedrukte broer dikwels help om vas te stel wat presies die oorsaak van sy “bekommernis” is (Spreuke 12:25). In een geval was huweliksprobleme byvoorbeeld die oorsaak van ’n broer se terneergedruktheid.
Verleen hulp “sonder om te verwyt”
Gekwelde persone het dikwels nie rasionele verduidelikings vir hulle gevoelens nie. Een slagoffer van geestesiekte skryf: “Toe ek siek geword het, het ek dit nie verstaan nie en Jehovah soms daarvoor verkwalik.” Geteisterde persone kan gevolglik ongegronde klagtes hê dat die gemeente hulle sleg behandel of verwerp het. Hoe moet ouere manne reageer?
Jehovah stel die voorbeeld deur ‘aan almal eenvoudig te gee sonder om te verwyt’ (Jakobus 1:5). Ons moet lyers nie laat voel dat hulle gevoelens verspot of dwaas is nie. Hulle gevoelens—al is dit ook onlogies—is vir hulle heel werklik. Hulle het ‘medelye’ nodig, nie kritiek nie (1 Petrus 3:8). Ouere manne moet ook versigtig wees dat hulle nie ’n lyer se emosionele las vererger deur hom van oortreding te beskuldig nie. Die regverdige man Job was so gekwel dat hy geweeklaag het: “Ek walg van my lewe” (Job 10:1). Maar sy drie metgeselle het hom nie getroos nie. Een van hulle het selfs gesê: “Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie?”—Job 22:5.
Soms is slegte gedrag egter die oorsaak van emosionele ontwrigting of dra dit by tot die erns daarvan. “Toe ek geswyg het [oor oortreding], het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag”, het die psalmis Dawid gesê (Psalm 32:3). Een broer het eweneens soveel angs ervaar dat hy nie meer kon werk nie. Die oorsaak van sy kwelling? ’n Owerspelige daad wat hy verberg het. As daar dus rede is om te vermoed dat oortreding daarby betrokke is, kan ouere manne dit as ’n moontlikheid ondersoek. Maar hulle moet dit op ’n vriendelike manier doen en nie die persoon verwytend van oortreding beskuldig nie.
Genesing met ’n wyse tong
Nadat die ouere manne gedoen het wat hulle kan om die aard van ’n persoon se probleem vas te stel, moet hulle ooreenkomstig Spreuke 12:18 optree, wat sê: “Die tong van die wyse is genesing.” Nee, ouere manne kan nie die siekte self genees nie. Maar as hulle hul woorde sorgvuldig kies, kan hulle persone met ’n geesteskwelling verligting van onnodige angs en stres gee. Die ouere manne kan begin deur artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! te kies wat geestes- en emosionele probleme behandel. Dit kan met gekwelde persone bespreek word ten einde hulle te help om hulle toestand beter te verstaan. Hulle is dikwels verlig om te weet dat hulle probleem die gevolg van liggaamlike onvolmaaktheid is, nie omdat hulle Jehovah se guns verloor het nie.
Dit kan weliswaar moeilik wees om met versteurde persone te praat, omdat party heel ontsteld raak. Nogtans hou ’n wyse ouere man in gedagte dat “n sagte antwoord die grimmigheid afkeer’ (Spreuke 15:1). As hy seker maak dat sy woorde altyd aangenaam is, sal dit voorkom dat hy die situasie onnodig vererger (Kolossense 4:6). ’n Broer wat aan skisofrenie ly, kan byvoorbeeld volhou dat hy stemme hoor.a Dr. E. Fuller Torrey sê: ‘Dit is kontraproduktief om skisofrene se delusies te probeer wegredeneer. Pogings om dit te doen, lei dikwels tot misverstand en woede. Pleks van te argumenteer, kan jy eenvoudig sê dat jy nie saamstem nie.’ Met ander woorde, die ouere man kan geduldig verduidelik dat hoewel daardie stemme werklik klink, sy sinne hom waarskynlik net bedrieg.
Doeltreffende gebruik van die Bybel kan ook goeie resultate oplewer (Hebreërs 4:12). Wanneer ’n siek persoon byvoorbeeld ongegronde vrese uitspreek dat God hom verlaat het, moet jy vriendelike simpatie vir sy vrese toon. Maar herinner hom terselfdertyd aan die krag van die losprys deur tekste soos Psalm 103:8-14 en 1 Johannes 2:1, 2 te gebruik. Eerste Petrus 5:6, 7 en Romeine 8:26, 27 kan hom help om te besef dat God ‘vir hom sorg’ en sy gebede verhoor, selfs as hy dit moeilik vind om sy gevoelens in woorde uit te druk. Die ouere manne kan die beginsel in Jakobus 5:14 volg en dan saam met die gekwelde persoon bid.
Sê nou ’n lyer is geneig om opgewonde te raak oor kleinighede. Wat dan? Hy kan herinner word aan die Bybel se raad om nie “alte regverdig” te wees nie (Prediker 7:16). Iemand anders weer kan baat vind by die bemoediging in Filippense 4:8 wat hom kan help om teen onsedelike gedagtes te stry. ’n Ander persoon aanvaar dalk nie sy beperkinge nie en raak miskien mismoedig omdat sy siekte sy Christelike bedrywigheid beperk. Tekste soos Mattheüs 13:23 en Lukas 21:1-4 kan gebruik word om hom te help besef dat Jehovah ons pogings innig waardeer hoewel ons omstandighede moontlik beperk wat ons kan doen.
Ja, ouere manne wat toegerus is met ’n Bybelopgeleide tong, kan baie doen om gekwelde medegelowiges te help en te troos. Een suster wat geestesprobleme ervaar het, sê: “Ek waardeer werklik wat Jesaja 32:2 oor die ouere manne in die gemeente sê. Hulle was altyd daar met praktiese raad wanneer ek hulle nodig gehad het.”
Vergaderinge en velddiens
Iemand met ’n geesteskwelling het steeds geestelike behoeftes (Mattheüs 5:3, NW). Trouens, die feit dat hulle geestelik sterk gebly het, het vir sommige die verskil tussen lewe en dood beteken. Irene, wat 30 jaar lank aan skisofrenie gely het, sê: “Soms was ek baie verward. Maar die waarheid was altyd in my gedagte—solied soos beton. Dit het verhoed dat ek selfmoord pleeg!”
Die siek persoon moet derhalwe aangespoor word om, sover prakties moontlik, aan die predikingswerk deel te neem en vergaderinge by te woon en om ‘hom nie of te skei nie’ (Spreuke 18:1). Een suster het as gevolg van geestesiekte so gevoel: ‘Ek was daarvan oortuig dat ek ’n onvergeeflike sonde teen ons God, Jehovah, gedoen het. Gevolglik het ek alles wat ek by vergaderinge gehoor het uit verband geruk. Alles veroordelends het ek op myself toegepas.’ Maar sy het aangehou om vergaderinge by te woon en het uiteindelik ’n toespraak gehoor wat haar gehelp het om haar delusie dat God haar verwerp het, te bowe te kom.
Maar sê nou ’n persoon wat ernstig siek is, raak so ontsteld dat hy gemeentelike vergaderinge of velddiens ontwrig. Wat dan? Die lyer is waarskynlik nie kwaadwillig nie, maar is bloot ontsteld omdat sy denke verward is. Dit kan nogtans vir alle betrokkenes ’n beproewing wees. As die steuring gering is of selde voorkom, sal die gemeente waarskynlik lankmoedigheid aan die dag lê (Kolossense 3:12, 13). Anders is dit dalk nodig om die lyer aan te raai om te sit waar ’n moontlike ontwrigting minder aandag sal trek. Liefdevolle reelings kan ook getref word om so ’n persoon in die predikingswerk bedrywig te hou deur miskien toe te sien dat hy altyd deur ’n ryp, oordeelkundige verkondiger vergesel word, of dat hy saamgaan na ’n tuisbybelstudie waar sy toestand verstaan en geduld word.
Soms word ’n persoon se gedrag egter skokkend, smadelik of gevaarlik onbeheerbaar. Miskien het die persoon opgehou om sy voorskrifmedisyne te neem en het hy sterk aansporing nodig om weer sy mediese roetine te volg. Maar as die persoon nie daarop reageer nie of as sy ontwrigtende optrede voortduur, is dit dalk nodig om sy vergaderingbywoning en velddiensdeelname in te perk ten einde orde te handhaaf (1 Korinthiërs 14:40). Ouere manne moet die siek persoon op ’n vriendelike manier meedeel dat hulle nie sy getrouheid in twyfel trek nie, maar dat sy siekte bloot beperk wat hy kan doen. ‘God is nie onregverdig om sy werk te vergeet nie’ en Hy verstaan sy beperkinge (Hebreërs 6:10). Gereelde herdersbesoeke sal die persoon help om sy geestelikheid te behou totdat sy toestand verbeter.
Hulp aan hulle gesinne
Geestesiekte kan groot ontwrigting in gesinne veroorsaak. “Dit was verpletterend”, sê ’n broer wie se volwasse seun ’n ernstige geestesiekte het. “Dag na dag sien jy geen verligting nie”, sê sy vrou. “Dit het ’n uitwerking op ons huwelik gehad aangesien ons vind dat ons soms met mekaar rusie maak.” Stel jou ook die pyn voor wanneer jy ’n huweliksmaat sien ly aan geestesiekte. Een broer sê: “My vrou word as ’n ‘paranoiese skisofreen’ bestempel. Sy hoor stemme en weier behandeling omdat sy glo dat dit haar sal ‘vergiftig’. Sy glo nie dat ek haar man is nie en weier om in die velddiens uit te gaan of om vergaderinge by te woon.” Hoe kan ons die gesinne van sulke geteisterde persone help?
Paulus het gesê: “Spreek bemoedigend tot die terneergeslae siele” (1 Thessalonicense 5:14, NW). Dit sal onmenslik wees om mede-Christene te vermy of te ignoreer wat hard werk om vir ’n gesinslid wat ’n geestesiekte het te sorg. “Verwelkom mekaar”, het Paulus gesê (Romeine 15:7, NW). Christenvergaderinge bied ons ’n geleentheid om dit hartlik te doen en om liefde en waardering uit te spreek teenoor diegene wat ‘godvrugtige toewyding in hulle huisgesin beoefen’.—1 Timotheüs 5:4, NW.
Die ouere manne kan tydens herdersbesoeke sulke persone verder aanmoedig om met gesinstudie vol te hou, vergaderinge by te woon en om as Koninkryksverkondigers bedrywig te bly. Wat hulle materiële en praktiese behoeftes betref, moet die gemeente egter meer doen as om te sê: “Word warm, word versadig” (Jakobus 2:16). Miskien het die gesin hulp nodig om by die vergaderinge te kom. Sommige persone is dalk in ’n posisie om hulle met hulle stygende mediese rekeninge te help (1 Johannes 3:17, 18). Hoe word sulke liefdevolle besorgdheid tog waardeer! Die man van ’n suster wat ’n geestesiekte het, sê: “Die gemeente weet van ons probleem en hulle toon baie liefdevol dat hulle omgee.”
Handhaaf onkreukbaarheid
“Ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe”, het Paulus gesê (Romeine 8:22). En geesteskwelling is net een van die pynlike erflatings van onvolmaaktheid. Dokters kan ’n mate van verligting bied. Maar talle wat hulle hulp gesoek het, het ’n soortgelyke ondervinding gehad as die vrou in Jesus se dag wat “veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het”.—Markus 5:26.
Talle moet dus leer om met hulle probleme saam te leef en uitsien na ware verligting in God se nuwe wêreld (Openbaring 21:3, 4). “Loof die HERE, . . . wat al jou krankhede genees”, het die psalmis gesê (Psalm 103:2, 3). Intussen moet ons bowenal daarna strewe om ons onkreukbaarheid te bewys, nie om volmaakte geestes- of liggaamlike gesondheid te geniet nie (Psalm 26:11, NW; vergelyk 1 Korinthiërs 7:29-31.) As ’n mens aan ’n geestesiekte ly, kan dit moeilik wees om dit te doen. Maar talle knegte van God, soos Paulus, het God getrou met “’n doring in die vlees” gedien (2 Korinthiërs 12:7). “Ek het geleer dat geen dokter, nie eers die broers, my kan genees nie”, sê een slagoffer van geestesiekte. “Maar ek het geleer om op Jehovah te vertrou.” Persone met ’n geesteskwelling kan ook op liefdevolle broers en susters vertrou wat geduldig “geestelike woorde” spreek om hulle te troos en te ondersteun.
[Voetnoot]
a Die artikel “Geesteskwelling—Wanneer ’n Christen dit ervaar” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1988 verskaf riglyne oor hoe om situasies te hanteer waar demoniese invloed vermoed word.
[Prent op bladsy 21]
“Geestelike woorde” van liefdevolle ouere manne kan baie daartoe bydra om gekwelde persone te help