Is evolusie versoenbaar met die Bybel?
IS DIT moontlik dat God evolusie gebruik het om die mens uit diere te maak? Het God bakterieë in visse laat ontwikkel en dit toe verder in reptiele en soogdiere laat ontwikkel, sodat ’n ras van ape uiteindelik mense geword het? Party wetenskaplikes en godsdiensleiers sê dat hulle aan die evolusieteorie sowel as die Bybel glo. Hulle sê dat die Bybelboek Genesis ’n gelykenis is. Dalk het jy al gewonder: ‘Is die teorie dat die mens uit diere geëvolueer het, versoenbaar met die Bybel?’
Dit is noodsaaklik om te verstaan waar ons vandaan kom as ons wil verstaan wie ons is, waarheen ons op pad is en hoe ons moet lewe. Slegs as ons weet wat die oorsprong van die mens is, kan ons verstaan waarom God lyding toelaat en wat sy voorneme vir die mens se toekoms is. Ons kan nie ’n goedgekeurde posisie voor God hê as ons nie seker is dat hy ons Skepper is nie. Kom ons ondersoek dus wat die Bybel sê oor die mens se oorsprong, sy huidige toestand en sy toekoms. Dan sal ons sien of die evolusieteorie versoenbaar is met die Bybel.
Toe daar een mens was
Evolusioniste beweer oor die algemeen dat ’n dierebevolking geleidelik in ’n mensebevolking ontwikkel het en ontken dat daar vroeër net een mens was. Maar die Bybel skets ’n heel ander prentjie. Dit sê dat ons van een mens, Adam, afstam. Volgens die Bybelverslag is Adam ’n geskiedkundige persoon. Dit gee ons die name van sy vrou en van sommige van sy kinders. Dit vertel vir ons in besonderhede wat hy gedoen het, wat hy gesê het, wanneer hy gelewe het en wanneer hy gesterf het. Jesus het daardie verslag nie as ’n blote storie vir ongeletterde mense beskou nie. Toe hy met hooggeleerde godsdiensleiers gepraat het, het hy gesê: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?” (Matteus 19:3-5). Jesus het toe die woorde oor Adam en Eva aangehaal wat in Genesis 2:24 opgeteken staan.
Lukas, ’n Bybelskrywer en ’n noukeurige geskiedskrywer, het Adam voorgestel as ’n persoon wat net so werklik soos Jesus was. Lukas het Jesus se geslagslyn tot die eerste man teruggevoer (Lukas 3:23-38). En toe die apostel Paulus ’n gehoor toegespreek het wat filosowe ingesluit het wat in die beroemde Griekse skole opgevoed is, het hy vir hulle gesê: “Die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het, . . . het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon” (Handelinge 17:24-26). Dit is duidelik dat die Bybel leer dat ons van “een mens” afstam. Is wat die Bybel oor die mens se oorspronklike toestand sê, versoenbaar met evolusie?
Die mens verloor volmaaktheid
Volgens die Bybel het Jehovah die eerste mens volmaak gemaak. Dit is onmoontlik vir God om dinge op enige ander manier te maak. Die skeppingsverslag sê: “God het die mens na sy beeld begin skep . . . Daarna het God alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed” (Genesis 1:27, 31). Wat is ’n volmaakte mens?
’n Volmaakte mens het wilsvryheid en kan God se eienskappe ten volle navolg. Die Bybel sê dat “die ware God die mensdom regskape gemaak het, maar hulle het baie planne bedink” (Prediker 7:29). Adam het gekies om teen God in opstand te kom. Deur sy opstand het Adam volmaaktheid vir homself en vir sy nakomelinge verloor. Die feit dat die mens volmaaktheid verloor het, verklaar waarom ons onsself dikwels teleurstel, al wil ons doen wat goed is. Die apostel Paulus het geskryf: “Wat ek wil, dit beoefen ek nie; maar wat ek haat, dit doen ek.”—Romeine 7:15.
Volgens die Bybel sal ’n volmaakte mens vir ewig in volmaakte gesondheid lewe. Uit God se woorde aan Adam is dit duidelik dat die eerste mens nooit sou gesterf het as hy aan God gehoorsaam gebly het nie (Genesis 2:16, 17; 3:22, 23). Jehovah sou nie gesê het dat die skepping van die mens “baie goed” is as die mens vatbaar was vir siekte of geneig was om in opstand te kom nie. Die feit dat die mens volmaaktheid verloor het, verklaar waarom sy liggaam, hoewel dit wonderlik ontwerp is, vatbaar is vir gebreke en siekte. Evolusie is gevolglik onversoenbaar met die Bybel. Evolusie stel die moderne mens as ’n verbeterende dier voor. Die Bybel stel die moderne mens as die verswakkende nakomeling van ’n volmaakte mens voor.
Die opvatting dat God evolusie gebruik het om die mens voort te bring, is ook onversoenbaar met wat die Bybel oor God se persoonlikheid sê. As God die evolusieproses gerig het, sou dit beteken dat hy die mensdom in sy huidige siek en ellendige toestand gebring het. Maar die Bybel sê van God: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy. Hulle het self verderflik gehandel; hulle is nie sy kinders nie, die gebrek lê by hulle” (Deuteronomium 32:4, 5). Die oorsaak van die lyding wat die mensdom vandag ondervind, is dus nie ’n godgerigte evolusieproses nie. Dit is omdat een mens volmaaktheid vir homself en vir sy nakomelinge verloor het deur teen God in opstand te kom. Noudat ons Adam bespreek het, kan ons na Jesus kyk. Is evolusie versoenbaar met wat die Bybel oor Jesus sê?
Kan jy aan evolusie glo en ’n Christen wees?
“Christus [het] vir ons sondes gesterf.” Soos jy waarskynlik weet, is dit een van die basiese leerstellings van die Christelike godsdiens (1 Korintiërs 15:3; 1 Petrus 3:18). Om te sien waarom evolusie onversoenbaar is met hierdie stelling, moet ons eers verstaan waarom die Bybel ons sondaars noem en wat sonde aan ons doen.
Ons is almal sondaars in die sin dat ons nie God se glorieryke eienskappe, soos sy liefde en geregtigheid, volmaak kan navolg nie. Die Bybel sê dus: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Die Bybel leer dat sonde die oorsaak van die dood is. “Die angel wat die dood veroorsaak, is die sonde”, sê 1 Korintiërs 15:56. Ons oorgeërfde sonde is ook die onderliggende oorsaak van siekte. Jesus het aangedui dat daar ’n verband tussen siekte en ons sondige toestand is. Hy het vir ’n verlamde man gesê: “Jou sondes is vergewe”, en die man het gesond geword.—Matteus 9:2-7.
Hoe help Jesus se dood ons? Die Bybel stel Adam teenoor Jesus Christus en sê: “Net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word” (1 Korintiërs 15:22). Deur sy lewe af te lê, het Jesus die prys betaal vir die sonde wat ons van Adam geërf het. Gevolglik sal almal wat geloof in Jesus beoefen en aan hom gehoorsaam is, ontvang wat Adam verbeur het—die vooruitsig op die ewige lewe.—Johannes 3:16; Romeine 6:23.
Kan jy dus sien dat evolusie onversoenbaar is met die Christelike godsdiens? Hoe kan ons hoop dat ‘almal in die Christus lewend gemaak sal word’ as ons twyfel dat “almal in Adam sterf”?
Waarom evolusie by mense byval vind
Die Bybel openbaar hoe leringe soos evolusie gewild word. Dit sê: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word; en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer en hulle tot valse stories wend” (2 Timoteus 4:3, 4). Hoewel evolusie gewoonlik in wetenskaplike taal aangebied word, is dit in werklikheid ’n godsdiensleer. Dit leer mense ’n lewensfilosofie en ’n gesindheid teenoor God. Die opvattings daarvan vind op ’n subtiele manier byval by die mensdom se selfsugtige, onafhanklike neigings. Baie wat aan evolusie glo, sê dat hulle ook aan God glo. Maar hulle veroorloof hulle die vryheid om aan God te dink as iemand wat nie dinge geskep het nie, nie in die mens se aangeleenthede ingryp nie en mense nie sal oordeel nie. Dit is ’n opvatting wat mense se ore streel.
Voorstanders van evolusie word dikwels gemotiveer, nie deur die feite nie, maar deur “hulle eie begeertes”—moontlik ’n begeerte om deur ’n wetenskaplike gemeenskap aanvaar te word waarin evolusie die ortodokse leer is. Michael Behe, ’n professor in biochemie, wat vir die grootste deel van sy lewe die komplekse interne funksies van lewende selle bestudeer het, het verduidelik dat diegene wat die evolusie van die selstruktuur voorstaan, geen grondslag vir hulle bewerings het nie. Kan evolusie op hierdie mikroskopiese, molekulêre vlak plaasvind? “Molekulêre evolusie is nie op wetenskaplike gesag gegrond nie”, het hy geskryf. “Daar is niks in wetenskapliteratuur gepubliseer—in gesaghebbende tydskrifte, spesialiteitstydskrifte of boeke—wat beskryf hoe molekulêre evolusie van enige werklike, komplekse, biochemiese stelsel wel plaasgevind het of selfs kon plaasgevind het nie. . . . Die bewering van Darwinistiese molekulêre evolusie is blote bombasme.”
Waarom verkondig evolusioniste hulle idees so luidkeels as hulle nie verduidelikings het nie? Behe verduidelik: “Baie mense, waaronder talle belangrike en gesiene wetenskaplikes, wil eenvoudig nie hê dat daar enigiets meer as net die natuur moet bestaan nie.”
Die evolusieleer vind byval by baie geestelikes wat die indruk wil skep dat hulle wys is. Hulle is soortgelyk aan diegene wat in die apostel Paulus se brief aan Christene in Rome beskryf is. Paulus het geskryf: “Wat omtrent God bekend kan wees, [is] onder hulle openbaar . . . Sy onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle onverskoonbaar is; want hoewel hulle God geken het, het hulle hom nie as God verheerlik nie en hom ook nie gedank nie, maar hulle het leeghoofdig in hulle redenasies geword en hulle onintelligente harte het verduisterd geword. Hoewel hulle verklaar het dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:19-22). Hoe kan jy voorkom dat jy deur valse leraars bedrieg word?
Gegronde geloof in die Skepper
Die Bybel beklemtoon die belangrikheid van bewyse wanneer dit geloof definieer. Dit sê: “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Ware geloof in God moet gegrond wees op bewyse wat toon dat die Skepper ’n werklikheid is. Die Bybel toon waar jy die bewyse kan vind.
Die geïnspireerde Bybelskrywer Dawid het geskryf: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is” (Psalm 139:14). As ons tyd neem om na te dink oor die verstommende ontwerp van ons eie liggaam en van ander lewende dinge, vervul dit ons met ontsag vir die wysheid van ons Maker. Elke deel van die duisende stelsels wat saamwerk om ons aan die lewe te hou, is volmaak ontwerp. Die fisiese heelal lewer ook bewys van wiskundige presisie en orde. Dawid het geskryf: “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”—Psalm 19:1.
Die Bybel self is ’n ryk bron van bewyse van die Skepper. As jy die tyd neem om die konsekwentheid van sy 66 boeke, die voortreflikheid van sy sedelike standaarde en die onfeilbare vervulling van sy profesieë te ondersoek, sal dit jou voorsien van oorvloedige bewyse dat die Skepper die outeur daarvan is. As jy die Bybel se leringe verstaan, sal dit jou ook die vertroue gee dat die Bybel inderdaad die Woord van die Skepper is. Wanneer jy byvoorbeeld Bybelleringe verstaan soos dié oor die oorsaak van lyding, die Koninkryk van God, die toekoms van die mensdom en wat die sleutel tot geluk is, sal jy ’n duidelike bewys van God se wysheid sien. Jy sal dalk soos Paulus voel toe hy geskryf het: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!”—Romeine 11:33.
Namate jy die bewyse ondersoek en jou geloof toeneem, sal jy tot die oortuiging kom dat jy na die Skepper self luister wanneer jy die Bybel lees. Hy sê: “Ek het die aarde gemaak en selfs die mens daarop geskep. Ek—my hande het die hemel uitgespan, en aan die hele leër daarvan het ek bevel gegee” (Jesaja 45:12). Jy sal nooit spyt wees dat jy die moeite gedoen het om aan jouself te bewys dat Jehovah die Skepper van alles is nie.
[Lokteks op bladsy 14]
Die apostel Paulus het vir geleerde Grieke gesê: “God . . . het uit een mens elke nasie van die mense gemaak”
[Lokteks op bladsy 15]
Evolusie stel die moderne mens as ’n verbeterende dier voor. Die Bybel stel die moderne mens as die verswakkende nakomeling van ’n volmaakte mens voor
[Lokteks op bladsy 16]
“Molekulêre evolusie is nie op wetenskaplike gesag gegrond nie”
[Lokteks op bladsy 17]
Die verstommende ontwerp van lewende dinge vervul ons met ontsag vir die wysheid van ons Maker