Ons lesers vra
Waarom laat God lyding toe?
God is nie die oorsaak van menselyding nie. “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel!” sê die Bybel (Job 34:10). Wie is dan die hoofoorsaak van ellende?
Jesus het Satan “die heerser van die wêreld” genoem (Johannes 14:30). Dit is waar dat Jehovah die Universele Soewerein is. Hy sal nooit afstand doen van daardie posisie nie. Maar God het Satan toegelaat om ’n tyd lank oor die meeste van die mensdom te heers.—1 Johannes 5:19.
Watter soort heerser is Satan? Van die eerste keer af dat Satan kontak met mense gehad het, was hy ’n moordenaar en ’n bedrieër. Satan saai grootskaalse verwoesting onder die mensdom. Jesus het hom met hierdie woorde veroordeel: “Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het, en hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy die leuen spreek, spreek hy ooreenkomstig sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44). Jesus het ook gesê dat die mense wat hom wou doodmaak, kinders was van die eerste moordenaar. Hulle het hulle sy kinders gemaak deur soos hom op te tree. Soos die gesegde lui: Aardjie na sy vaartjie.
Satan bevorder nog steeds moorddadige gesindhede in die harte van mense. R. J. Rummel, emeritusprofessor aan die Universiteit van Hawaii, VSA, skat dat 169 198 000 mense van 1900 tot 1987 deur verskillende regerings vermoor is gedurende politieke suiwerings, volksmoorde en sinnelose gewelddade. Dit sluit nie die tienmiljoene mense in wat gedurende dieselfde tydperk op die slagveld omgekom het nie.
As God nie lyding veroorsaak nie, waarom laat hy dit dan toe? Omdat universele geskille, sedelike geskille, wat lank gelede geopper is, nog besleg moet word. Kom ons kyk na net een van hulle.
Aan die begin van die mensegeskiedenis het Adam en Eva hulle aan Satan se kant geskaar. Hulle het God se heerskappy verwerp en gekies om oor hulleself te heers, wat in werklikheid heerskappy deur die Duiwel beteken het.—Genesis 3:1-6; Openbaring 12:9.
Jehovah se sin vir geregtigheid het vereis dat tyd moes verloop sodat daar bewyse kon ophoop. Tot watter onvermydelike gevolgtrekking lei dit? Menseheerskappy onder Satan se invloed lei net tot lyding. Op die lange duur is dit in werklikheid tot die mens se voordeel dat God tyd toegelaat het. Hoe so? Diegene wat die bewyse bestudeer en dit glo, het die geleentheid om te toon dat hulle bereid is om hulle aan God se heerskappy te onderwerp. Dié wat leer oor God se standaarde en daarvolgens lewe, het die vooruitsig om die ewige lewe te geniet.—Johannes 17:3; 1 Johannes 2:17.
Die wêreld is weliswaar op die oomblik in Satan se bose greep. Maar dit sal binnekort verander. Kort voor lank gaan Jehovah deur middel van sy Seun “die werke van die Duiwel . . . verbreek” (1 Johannes 3:8). Onder God se leiding gaan Jesus gebroke harte heel en vernietigde lewens herstel. Hy sal miljarde mense wat deur die eeue heen gely en gesterf het, tot lewe op die aarde opwek.—Johannes 11:25.
Jesus se opstanding is ’n voorbeeld van God se oorwinning oor die werke van die Duiwel—’n voorskou van wat wag op mense wat God se heerskappy kies (Handelinge 17:31). Die Bybel vestig ons aandag op daardie toekomstige tyd met hierdie vertroostende woorde: “God self sal by [die mensdom] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.