Hoofstuk 18
Aardbewings in die dag van die Here
1, 2. (a) Hoe voel dit om ’n hewige aardbewing deur te maak? (b) Wat beskryf Johannes wanneer die sesde seël oopgemaak word?
HET jy al ooit ’n hewige aardbewing deurgemaak? Dit is nie ’n aangename ondervinding nie. ’n Groot aardskudding kan met ’n aaklige golwing en ’n dreuning begin. Die skommeling kan in vlae vererger terwyl jy inderhaas skuiling soek—miskien onder ’n lessenaar. Of dit kan as ’n skielike, verpletterende skok kom, gevolg deur breekware, huisraad en selfs geboue wat val. Die skade kan katastrofies wees, met herhaalde naskokke wat verdere skade aanrig en die ellende vererger.
2 Hou dit in gedagte terwyl ons aandag gee aan wat Johannes beskryf wanneer die sesde seël oopgemaak word: “En ek het gesien toe hy die sesde seël oopmaak, en ’n groot aardbewing het plaasgevind” (Openbaring 6:12a). Dit moet in dieselfde tydperk as die oopmaak van die ander seëls plaasvind. Presies wanneer in die dag van die Here vind hierdie aardbewing plaas, en watter soort skudding is dit?—Openbaring 1:10.
3. (a) Watter gebeure het Jesus in die profesie oor die teken van sy teenwoordigheid voorspel? (b) Hoe hou die letterlike aardbewings verband met die groot simboliese aardbewing van Openbaring 6:12?
3 Letterlike en figuurlike aardbewings word etlike kere in die Bybel gemeld. In sy groot profesie oor die teken van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag het Jesus “aardbewings op die een plek na die ander” voorspel. Dit sou deel uitmaak van “’n begin van weë van benoudheid”. Sedert 1914, met die aarde se bevolking wat tot duisendmiljoene toegeneem het, het letterlike aardskuddings aansienlik tot die benoudhede van ons tyd bygedra (Matteus 24:3, 7, 8). Maar hoewel hierdie aardbewings profesieë vervul het, was dit natuurlike, fisiese rampe. Hulle gaan die groot simboliese aardbewing van Openbaring 6:12 vooraf. Dit kom inderdaad as die verwoestende finale van ’n reeks voorskuddings wat die fondamente van Satan se menslike aardse stelsel van dinge skud.a
Skuddings in die mensegemeenskap
4. (a) Sedert wanneer het Jehovah se volk verwag dat rampspoedige gebeure in 1914 sou begin? (b) Van watter tydperk sou 1914 die einde aandui?
4 Sedert die middel-1870’s het Jehovah se volk verwag dat rampspoedige gebeure in 1914 sou begin en die einde van die Tye van die Nasies sou aandui. Dit is die tydperk van “sewe tye” (2 520 jaar) wat strek vandat die Dawidiese koninkryk in Jerusalem in 607 v.G.J. omvergewerp is totdat Jesus in 1914 G.J. in hemelse Jerusalem op die troon geplaas is.—Daniël 4:24, 25; Lukas 21:24.b
5. (a) Watter aankondiging het C. T. Russell op 2 Oktober 1914 gedoen? (b) Watter politieke omwentelinge het sedert 1914 plaasgevind?
5 Toe C. T. Russell op die oggend van 2 Oktober 1914 vir oggendaanbidding by die Bethelgesin in Brooklyn, New York, aangesluit het, het hy dus die dramatiese aankondiging gedoen: “Die Tye van die Nasies het geëindig; hulle konings se dae is verby.” Die wêreldwye omwenteling wat in 1914 begin het, was inderdaad so verreikend dat talle lank bestaande monargieë verdwyn het. Die omverwerping van die tsaredom gedurende die Bolsjewistiese revolusie van 1917 het gelei tot ’n lang konfrontasie tussen Marxisme en kapitalisme. Skuddings van politieke verandering ontwrig nog steeds die mensegemeenskap oor die hele aarde. Vandag bestaan baie regerings nie langer as ’n jaar of twee nie. Die gebrek aan stabiliteit in die politieke wêreld word toegelig deur die voorbeeld van Italië, wat in net 42 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog 47 nuwe regerings gehad het. Maar sulke voorskuddings is bloot die voorspel tot ’n beslissende regeringsomwenteling. Die gevolg? God se Koninkryk sal die alleenheerskappy oor die aarde oorneem.—Jesaja 9:6, 7.
6. (a) Hoe het H. G. Wells die nuwe en betekenisvolle tydvak beskryf? (b) Wat het ’n filosoof en ’n staatsman oor die tydvak sedert 1914 geskryf?
6 Geskiedskrywers, filosowe en politieke leiers het die aandag op 1914 gevestig as die begin van ’n nuwe en betekenisvolle tydvak. Sewentien jaar ná die begin van daardie tydvak het die geskiedskrywer H. G. Wells gesê: “Die profeet sou graag aangename dinge wou voorspel. Maar sy plig is om te vertel wat hy sien. Hy sien ’n wêreld wat nog steeds met ’n ystervuis beheer word deur soldate, patriotte, woekeraars en fortuinsoekers; ’n wêreld wat aan agterdog en haat oorgegee is, wat baie vinnig die oorblyfsels van private vryhede verloor, op bittere klassekonflikte afstuur en vir nuwe oorloë voorberei.” In 1953 het die filosoof Bertrand Russell geskryf: “Sedert 1914 is almal wat bewus is van tendense in die wêreld, diep verontrus oor wat na ’n gedoemde en voorbestemde opmars na immer groter onheil lyk. . . . Vir hulle kom die mensdom ooreen met die held van ’n Griekse tragedie, wat deur woedende gode voortgedryf word en nie langer die beskikker oor sy lot is nie.” In 1980 het die staatsman Harold Macmillan die volgende gesê toe hy nagedink het oor die vreedsame begin van die 20ste eeu: “Alles sou voortdurend verbeter. Dit was die wêreld waarin ek gebore is. . . . Alles het skielik, onverwags, een oggend in 1914 geëindig.”
7-9. (a) Watter omwentelinge het die mensegemeenskap sedert 1914 geruk? (b) Die omwentelinge in die mensegemeenskap gedurende Jesus se teenwoordigheid sou uiteindelik watter situasie insluit?
7 Die Tweede Wêreldoorlog het nog ’n vlaag van omwentelinge meegebring. En kleiner oorloë sowel as internasionale terrorisme skud die aarde nog steeds. Die verskriklike gevaar dat terroriste of state wapens vir massavernietiging sal gebruik, laat baie mense wonder.
8 Ander dinge benewens oorloë het egter sedert 1914 die fondamente van die mensegemeenskap geskud. Een van die traumatiesste omwentelinge is deur die ineenstorting van die Amerikaanse aandelemark op 29 Oktober 1929 veroorsaak. Dit het die Groot Depressie tot gevolg gehad, wat alle kapitalistiese lande geraak het. Daardie depressie het tussen 1932 en 1934 sy laagste peil bereik, maar ons ondervind nog steeds die gevolge daarvan. Sedert 1929 is ’n ekonomies siek wêreld met tydelike skemas gelap. Regerings finansier hulle ekonomieë deur begrotingstekorte. Die oliekrisis van 1973 en die val van die aandelemark in 1987 het die finansiële wêreld verder geskud. Intussen koop miljoene mense hoofsaaklik op krediet. Tallose ander word die slagoffers van finansiële sette, piramiedskemas en loterye en ander dobbelslenters, waarvan baie geborg word deur regerings wat die mense behoort te beskerm. Selfs die Christendom se televisie-evangeliste steek hulle hande uit om hulle aandeel van miljoene rande te ontvang!—Vergelyk Jeremia 5:26-31.
9 Vroeër het ekonomiese moeilikhede die weg gebaan vir Mussolini en Hitler om aan die bewind te kom. Babilon die Grote het geen gras onder haar voete laat groei om hulle guns te probeer wen nie, en die Vatikaan het in 1929 met Italië en in 1933 met Duitsland ’n konkordaat aangegaan (Openbaring 17:5). Die daaropvolgende donker dae het beslis deel uitgemaak van die vervulling van Jesus se profesie oor sy teenwoordigheid, wat gekenmerk sou word deur onder meer “angs onder die nasies, wat radeloos is . . . , terwyl die mense flou word van vrees en verwagting aangaande die dinge wat oor die bewoonde aarde kom” (Lukas 21:7-9, 25-31).c Ja, die skuddings wat die mensegemeenskap in 1914 begin ruk het, het voortgeduur, met sterk naskokke.
Jehovah veroorsaak ’n skudding
10. (a) Waarom is daar so baie skuddings in menseaangeleenthede? (b) Wat doen Jehovah, ter voorbereiding waarvan?
10 Sulke skuddings in menseaangeleenthede is die gevolg van die mens se onvermoë om sy eie voetstappe te rig (Jeremia 10:23). Daarbenewens veroorsaak die ou slang, Satan, “wat die hele bewoonde aarde mislei”, weë in sy finale poging om die hele mensdom van die aanbidding van Jehovah af te keer. Die moderne tegnologie het die aarde tot een buurt laat krimp, waar nasionalistiese en rassehaat die fondamente van die mensegemeenskap skud, en die sogenaamd Verenigde Nasies kan geen doeltreffende oplossing vind nie. Soos nooit tevore nie, heers die mens oor die mens tot sy nadeel (Openbaring 12:9, 12; Prediker 8:9). Nietemin het die Soewereine Heer Jehovah, Skepper van hemel en aarde, al byna 90 jaar lank self ’n skudding veroorsaak, ter voorbereiding daarvan om die aarde se probleme eens en vir altyd op te los. Hoe so?
11. (a) Watter skudding word in Haggai 2:6, 7 beskryf? (b) Hoe word Haggai se profesie vervul?
11 In Haggai 2:6, 7 lees ons: “Want só het Jehovah van die leërs gesê: ‘Nog een keer—net ’n klein rukkie—en ek skud die hemel en die aarde en die see en die droë grond. En ek sal al die nasies skud, en die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vul’, het Jehovah van die leërs gesê.” Veral sedert 1919 het Jehovah sy getuies beweeg om sy oordele aan al die elemente van die mensegemeenskap op die aarde te verkondig. Dit het as ’n wêreldwye waarskuwing vir Satan se wêreldstelsel gedien.d Namate die waarskuwing intensiewer word, word godvresende mense, “die begeerlike dinge”, beweeg om hulle van die nasies af te skei. Hulle word nie daaruit geskud deur die skudding in Satan se organisasie nie. Maar wanneer hulle die situasie onderskei, besluit hulle self om met die gesalfde Johannes-klas saam te werk om Jehovah se huis van aanbidding met heerlikheid te vul. Hoe word dit gedoen? Deur die ywerige verkondiging van die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk (Matteus 24:14). Hierdie Koninkryk, wat uit Jesus en sy gesalfde volgelinge bestaan, sal altyd tot Jehovah se heerlikheid bly staan as “’n koninkryk . . . wat nie geskud kan word nie”.—Hebreërs 12:26-29.
12. As jy reeds begin het om gehoor te gee aan die predikingswerk wat in Matteus 24:14 voorspel is, wat moet jy doen voordat die groot aardbewing van Openbaring 6:12 plaasvind?
12 Is jy iemand wat begin het om aan hierdie predikingswerk gehoor te gee? Tel jy miskien onder die miljoene mense wat in onlangse jare die Herdenking van Jesus se dood bygewoon het? Hou dan aan om vooruitgang te maak in jou studie van Bybelwaarheid (2 Timoteus 2:15; 3:16, 17). Laat vaar geheel en al die verdorwe lewenstyl van Satan se gedoemde aardse gemeenskap! Kom dan in die Christelike nuwewêreld-gemeenskap in en ondersteun die bedrywighede daarvan ten volle voordat die finale rampspoedige “aardbewing” Satan se hele wêreld verbrysel. Maar wat is daardie groot aardbewing? Laat ons nou sien.
Die groot aardbewing!
13. In watter sin is die groot aardbewing heeltemal nuut in die menslike ervaring?
13 Ja, hierdie kritieke laaste dae is ’n tyd van aardbewings—letterlik en figuurlik (2 Timoteus 3:1). Maar nie een van hierdie skuddings is die finale groot skudding wat Johannes sien wanneer die sesde seël oopgemaak word nie. Die tyd vir voorskuddings is verby. Nou vind ’n groot aardbewing plaas wat heeltemal nuut in die menslike ervaring is. Hierdie aardbewing is so groot dat die omwentelinge en beroeringe wat dit veroorsaak, nie op die Richterskaal of enige ander menslike meter gemeet kan word nie. Dit is nie bloot ’n plaaslike skok nie, maar ’n rampspoedige skudding wat die ganse “aarde”, dit wil sê die hele verdorwe mensegemeenskap, verwoes.
14. (a) Watter profesie voorspel ’n groot aardbewing en die gevolge daarvan? (b) Waarop moet Joël se profesie en Openbaring 6:12, 13 betrekking hê?
14 Ander profete van Jehovah het so ’n aardbewing en die rampspoedige gevolge daarvan voorspel. Omstreeks 820 v.G.J. het Joël byvoorbeeld gepraat van “die koms van die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” en gesê dat “die son” in daardie tyd “in duisternis verander [sal] word en die maan in bloed”. Later voeg hy hierdie woorde by: “Menigtes, menigtes is in die laagvlakte van die beslissing, want die dag van Jehovah is naby in die laagvlakte van die beslissing. Die son en die maan sal beslis donker word, en die sterre sal hulle glans intrek. En uit Sion sal Jehovah brul, en uit Jerusalem sal hy sy stem laat hoor. En hemel en aarde sal beslis bewe; maar Jehovah sal ’n toevlug vir sy volk wees en ’n vesting vir die kinders van Israel” (Joël 2:31; 3:14-16). Hierdie aardbewing kan net van toepassing wees op Jehovah se voltrekking van oordeel gedurende die groot verdrukking (Matteus 24:21). Die parallelle verslag in Openbaring 6:12, 13 sal dus logieserwys dieselfde toepassing hê.—Sien ook Jeremia 10:10; Sefanja 1:14, 15.
15. Watter kragtige skudding het die profeet Habakuk voorspel?
15 Sowat 200 jaar ná Joël het die profeet Habakuk in gebed tot sy God gesê: “O Jehovah, ek het die berig oor u gehoor. Ek het bang geword, o Jehovah, vir u dade. Maak dit tog in die midde van die jare lewend! Mag u dit in die midde van die jare bekend maak. Mag u daaraan dink om tydens die beroering barmhartigheid te bewys.” Wat sou hierdie “beroering” wees? Habakuk gee vervolgens ’n treffende beskrywing van die groot verdrukking en sê van Jehovah: “Hy het stilgestaan, sodat hy die aarde deurmekaar kon skud. Hy het gekyk en die nasies toe laat opspring. . . . Met veroordeling het u voortgetrek deur die aarde. In toorn het u die nasies gedors. Nogtans sal ek my in Jehovah verheug; ek sal bly wees in die God van my redding” (Habakuk 3:1, 2, 6, 12, 18). Jehovah sal voorwaar ’n kragtige skudding oor die hele aarde veroorsaak wanneer hy die nasies dors!
16. (a) Wat het die profeet Esegiël voorspel vir die tyd wanneer Satan sy finale aanval op God se volk doen? (b) Wat het die groot aardbewing van Openbaring 6:12 tot gevolg?
16 Esegiël het ook voorspel dat Jehovah “’n groot aardbewing in die land van Israel” sal laat plaasvind wanneer Gog van Magog (die verlaagde Satan) sy finale aanval op God se volk doen (Esegiël 38:18, 19). Hoewel dit letterlike aardbewings kan insluit, moet ons onthou dat Openbaring in tekens gegee word. Hierdie profesie en die ander profesieë wat aangehaal is, is baie simbolies. Die oopmaak van die sesde seël openbaar dus blykbaar die klimaks van alle skuddings van hierdie aardse stelsel van dinge—die groot aardbewing waarin alle mense wat Jehovah God se soewereiniteit teëstaan, vernietig word.
’n Tyd van duisternis
17. Watter uitwerking het die groot aardbewing op die son, die maan en die sterre?
17 Soos Johannes vervolgens toon, gaan die groot aardbewing gepaard met skrikwekkende gebeure wat selfs die hemele raak. Hy sê: “En die son het swart geword soos saklinne van hare, en die hele maan het soos bloed geword, en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos wanneer ’n vyeboom wat deur ’n sterk wind geskud word, sy groen vye afgooi” (Openbaring 6:12b, 13). Wat ’n merkwaardige verskynsel! Kan jy jou die skrikwekkende duisternis voorstel as die profesie letterlik vervul sou word? Bedags geen warm, vertroostende sonlig meer nie! Snags geen vriendelike, silwer maanlig meer nie! En die tallose sterre sou nie meer teen die fluweelagtergrond van die hemel vonkel nie. In plaas daarvan sou daar koue, meedoënlose donkerte wees.—Vergelyk Matteus 24:29.
18. In watter sin het “die hemel” in 607 v.G.J. vir Jerusalem ‘donker geword’?
18 So ’n duisternis is, in geestelike sin, vir eertydse Israel voorspel. Jeremia het gewaarsku: “’n Verlate woesteny sal die hele land word, en sal ek nie ’n algehele uitroeiing bewerkstellig nie? Hieroor sal die land treur, en die hemel daar bo sal beslis donker word” (Jeremia 4:27, 28). In 607 v.G.J., toe hierdie profesie vervul is, was dinge inderdaad donker vir Jehovah se volk. Hulle hoofstad, Jerusalem, is deur die Babiloniërs ingeneem. Hulle tempel is verwoes, en hulle land is verlate gemaak. Daar was vir hulle geen vertroostende lig uit die hemel nie. Dit was eerder soos Jeremia bedroef vir Jehovah gesê het: “U het doodgemaak; u het geen medelye betoon nie. U het toegang tot u met ’n wolkmassa versper, sodat gebed nie kan deurdring nie” (Klaagliedere 3:43, 44). Vir Jerusalem het daardie hemelse duisternis dood en vernietiging beteken.
19. (a) Hoe beskryf God se profeet Jesaja ’n duisternis in die hemel met betrekking tot eertydse Babilon? (b) Wanneer en hoe is Jesaja se profesie vervul?
19 Later het ’n soortgelyke duisternis in die hemel rampspoed vir eertydse Babilon aangedui. God se profeet is geïnspireer om hieroor te skryf: “Kyk! Die dag van Jehovah kom, wreed, met grimmigheid sowel as met brandende toorn, om die land ’n voorwerp van verbasing te maak en om die land se sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Kesil-sterrebeelde sal hulle lig nie uitstraal nie; die son sal donker word wanneer dit te voorskyn kom, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie. En ek sal die vrugbare land beslis straf vir sy slegtheid, en die goddeloses vir hulle oortreding” (Jesaja 13:9-11). Hierdie profesie is in 539 v.G.J. vervul toe Babilon deur die Meders en die Perse ingeneem is. Dit is ’n goeie beskrywing van die donkerte, die wanhoop, die gebrek aan enige vertroostende lig vir Babilon toe hy sy posisie as die vernaamste wêreldmoondheid vir ewig verloor het.
20. Watter verskriklike uiteinde wag op hierdie stelsel van dinge wanneer die groot aardbewing plaasvind?
20 Hierdie hele wêreldstelsel sal ook deur die wanhoop van algehele duisternis verswelg word wanneer die groot aardbewing plaasvind. Die helder, glansende ligte van Satan se aardse stelsel sal geen hoop uitstraal nie. Vandag reeds is die aarde se politieke leiers, veral in die Christendom, berug vir hulle korrupsie, leuens en onsedelike lewenstyl (Jesaja 28:14-19). Hulle kan nie meer vertrou word nie. Hulle flikkerende lig sal geheel en al verduister word wanneer Jehovah oordeel voltrek. Hulle maanagtige invloed op die aarde se aangeleenthede sal blootgelê word as bebloed en dodelik. Hulle wêreldse supersterre sal soos vallende meteoriete uitgedoof en soos groen vye in ’n huilende windstorm verstrooi word. Ons hele aardbol sal skud onder ’n “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Wat ’n verskriklike vooruitsig!
“Die hemel” wyk
21. Wat sien Johannes in sy visioen aangaande “die hemel” en “elke berg en elke eiland”?
21 Johannes se visioen gaan voort: “En die hemel het gewyk soos ’n boekrol wat opgerol word, en elke berg en elke eiland is uit hulle plekke verwyder” (Openbaring 6:14). Dit spreek vanself dat dit nie die letterlike hemele of die letterlike berge en eilande is nie. Maar wat beeld hulle af?
22. Watter soort “hemel” is in Edom ‘opgerol, net soos ’n boekrol’?
22 ’n Soortgelyke profesie wat vertel van Jehovah se woede teen al die nasies, help ons om te verstaan wat “die hemel” is: “En die hele leër van die hemel sal verrot. En die hemel sal opgerol word, net soos ’n boekrol” (Jesaja 34:4). Edom in die besonder moet ly. Hoe? Hy is kort ná die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs beset. Daar is geen verslag dat daar destyds enige buitengewone gebeure in die letterlike hemele plaasgevind het nie. Maar daar was rampspoedige gebeure in Edom se “hemel”.e Sy menslike regeringsmagte is uit hulle verhewe, hemelagtige posisie neergewerp (Jesaja 34:5). Hulle is as ’t ware “opgerol” en opsygesit, soos ’n ou boekrol wat vir niemand meer van nut is nie.
23. Wat is “die hemel” wat sal ‘wyk soos ’n boekrol’, en hoe bevestig Petrus se woorde hierdie begrip?
23 “Die hemel” wat sal ‘wyk soos ’n boekrol’, verwys dus na die regerings wat anti-God is en oor hierdie aarde heers. Hulle sal eens en vir altyd deur die allesoorwinnende Ruiter van die wit perd verwyder word (Openbaring 19:11-16, 19-21). Dit word bevestig deur wat die apostel Petrus gesê het toe hy die gebeure wat deur die oopmaak van die sesde seël geopenbaar is, vooruitgesien het: “Die hemele en die aarde wat nou is, [is] vir die vuur weggelê en word . . . bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Petrus 3:7). Maar wat van die uitdrukking “elke berg en elke eiland is uit hulle plekke verwyder”?
24. (a) Wanneer word daar in Bybelprofesieë gesê dat berge en eilande bewe of gedestabiliseer word? (b) Hoe het ‘berge gebewe’ toe Nineve verower is?
24 In Bybelprofesieë word daar gesê dat berge en eilande bewe of andersins gedestabiliseer word wanneer groot politieke omwentelinge plaasvind. Toe die profeet Nahum byvoorbeeld Jehovah se oordele teen Nineve voorspel het, het hy geskryf: “Berge het gebewe weens hom, en die heuwels het gesmelt. En die aarde sal opgehef word weens sy aangesig” (Nahum 1:5). Daar is geen verslag van letterlike berge wat verbrokkel het toe Nineve in 632 v.G.J. verower is nie. Maar ’n wêreldmoondheid wat voorheen so sterk soos ’n berg gelyk het, het skielik ineengestort.—Vergelyk Jeremia 4:24.
25. Hoe sal “elke berg en elke eiland” tydens die komende einde van hierdie stelsel van dinge uit hulle plekke verwyder word?
25 Dit is derhalwe logies dat “elke berg en elke eiland” waarna daar by die oopmaak van die sesde seël verwys word, politieke regerings en afhanklike organisasies van hierdie wêreld is wat vir baie mense so bestendig gelyk het. Hulle sal heeltemal uit hulle plekke geskud word, tot die ontsteltenis en afgryse van dié wat voorheen op hulle vertrou het. Soos die profesie verder vertel, sal daar geen twyfel bestaan dat die groot dag van die gramskap van Jehovah en sy Seun—die finale skudding wat Satan se hele organisasie verwyder—aangebreek het nie!
“Val op ons en verberg ons”
26. Hoe sal mense wat God se soewereiniteit teëstaan, in hulle vrees optree, en watter woorde van ontsteltenis sal hulle uiter?
26 Johannes sê verder: “En die konings van die aarde en die hooggeplaastes en die militêre bevelvoerders en die rykes en die sterkes en elke slaaf en elke vrye het in die grotte en in die rotse van die berge weggekruip. En hulle hou aan om vir die berge en vir die rotse te sê: ‘Val op ons en verberg ons vir die aangesig van die Een wat op die troon sit en vir die gramskap van die Lam, want die groot dag van hulle gramskap het gekom, en wie kan staan?’”—Openbaring 6:15-17.
27. Watter uitroepe het die ontroue Israeliete van Samaria geuiter, en hoe is hierdie woorde vervul?
27 Toe Hosea Jehovah se oordeel oor Samaria, die hoofstad van die noordelike koninkryk van Israel, uitgespreek het, het hy gesê: “Die hoogtes van Bet-Awen, die sonde van Israel, sal verdelg word. Dorings en dissels sal op hulle altare opkom. En mense sal dan vir die berge sê: ‘Bedek ons!’ en vir die heuwels: ‘Val op ons!’” (Hosea 10:8). Hoe is hierdie woorde vervul? Wel, toe Samaria in 740 v.G.J. deur die wrede Assiriërs verower is, was daar vir die Israeliete nêrens om heen te vlug nie. Hosea se woorde gee die oorwonne volk se gevoel van hulpeloosheid, volslae angs en verlatenheid weer. Nóg die letterlike heuwels nóg die bergagtige instellings van Samaria kon hulle beskerm nie, al het hulle in die verlede so blywend gelyk.
28. (a) Watter waarskuwing het Jesus die vroue van Jerusalem gegee? (b) Hoe is Jesus se waarskuwing vervul?
28 Toe Jesus deur die Romeinse soldate na sy dood gelei is, het hy ook vir die vroue van Jerusalem gesê: “Daar kom dae waarin mense sal sê: ‘Gelukkig is die onvrugbare vroue en die moederskote wat nie geboorte gegee het nie en die borste wat nie gesoog het nie!’ Dan sal hulle vir die berge begin sê: ‘Val op ons!’ en vir die heuwels: ‘Bedek ons!’” (Lukas 23:29, 30). Die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine in 70 G.J. is goed gedokumenteer, en dit is duidelik dat Jesus se woorde ’n betekenis soortgelyk aan dié van Hosea gehad het. Daar was tóé geen skuilplek vir die Jode wat in Judea agtergebly het nie. Waar hulle ook al in Jerusalem probeer wegkruip het, of selfs toe hulle na die bergvesting Masada gevlug het, kon hulle nie aan die gewelddadige uiting van Jehovah se oordeel ontkom nie.
29. (a) Wanneer Jehovah se dag van gramskap aanbreek, wat sal die toestand wees van dié wat hulle daartoe verbind het om hierdie stelsel van dinge te ondersteun? (b) Watter profesie van Jesus sal vervul word wanneer Jehovah uiting gee aan Sy gramskap?
29 Nou het die oopmaak van die sesde seël getoon dat iets soortgelyks gedurende die komende dag van Jehovah se gramskap sal gebeur. Tydens die finale skudding van hierdie aardse stelsel van dinge sal dié wat hulle daartoe verbind het om dit te ondersteun, wanhopig na ’n skuilplek soek, maar hulle sal nie een vind nie. Valse godsdiens, Babilon die Grote, het hulle reeds jammerlik in die steek gelaat. Nóg spelonke in die letterlike berge nóg simboliese bergagtige politieke en kommersiële organisasies sal finansiële sekuriteit of enige ander soort hulp voorsien. Niks sal hulle teen Jehovah se gramskap beskerm nie. Jesus het hulle angs goed beskryf: “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde hulleself in weeklag slaan, en hulle sal die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom.”—Matteus 24:30.
30. (a) Wat word geïmpliseer deur die vraag: “Wie kan staan?” (b) Sal enigiemand tydens Jehovah se oordeel kan staan?
30 Ja, dié wat geweier het om erkenning te gee aan die gesag van die seëvierende Ruiter van die wit perd, sal gedwing word om hulle fout te erken. Mense wat gewillig deel van die saad van die slang was, sal vernietiging in die gesig staar wanneer Satan se wêreld vergaan (Genesis 3:15; 1 Johannes 2:17). Die wêreldsituasie sal dan van so ’n aard wees dat baie in werklikheid sal vra: “Wie kan staan?” Hulle sal blykbaar aanneem dat niemand op daardie dag van Jehovah se oordeel in ’n goedgekeurde posisie voor hom kan staan nie. Maar hulle sal verkeerd wees, soos die boek Openbaring verder toon.
[Voetnote]
a Letterlike aardbewings word dikwels voorafgegaan deur seismiese steurings wat honde laat blaf of skrikkerig laat optree en ander diere en visse opgewonde maak, hoewel mense moontlik niks sal vermoed totdat die werklike skudding plaasvind nie.—Sien Ontwaak!, 8 November 1982, bladsy 14.
b Sien bladsye 22, 24 vir ’n breedvoerige verduideliking.
c Meer as 35 jaar lank, van 1895 tot 1931, is die woorde van Lukas 21:25, 28, 31 op die voorblad van Die Wagtoring aangehaal teen die agtergrond van ’n vuurtoring wat die stormagtige hemel oor ’n onstuimige see verlig.
d Tydens ’n spesiale veldtog in 1931 het Jehovah se Getuies byvoorbeeld derduisende eksemplare van die boekie The Kingdom, the Hope of the World persoonlik aan geestelikes, politici en sakemanne regoor die aarde oorhandig.
e In ’n soortgelyke gebruik van die woord “hemel” het die profesie oor die “nuwe hemele” in Jesaja 65:17, 18 sy eerste vervulling gehad in die nuwe regeringstelsel waarby goewerneur Serubbabel en hoëpriester Jesua betrokke was en wat in die Beloofde Land ingestel is nadat die Jode uit ballingskap in Babilon teruggekeer het.—2 Kronieke 36:23; Esra 5:1, 2; Jesaja 44:28.
[Venster/Prent op bladsy 105]
1914 vooruitgesien
“Dit was in 606 v.C. dat God se koninkryk geëindig het, die kroon verwyder is en die hele aarde aan die Nasies oorgelewer is. 2520 jaar van 606 v.C. af sal in 1914 n.C. eindig.”f—The Three Worlds, uitgegee in 1877, bladsy 83.
“Die Bybelse getuienis is duidelik en oortuigend dat die ‘Tye van die Nasies’ ’n tydperk van 2520 jaar is, van die jaar 606 v.C. tot en met 1914 n.C.”—Studies in the Scriptures, Deel 2, geskryf deur C. T. Russell en uitgegee in 1889, bladsy 79.
Charles Taze Russell en sy mede-Bybelstudente het dekades voor die tyd besef dat 1914 die einde van die vasgestelde tye van die nasies sou aandui (Lukas 21:24). Hoewel hulle in daardie vroeë dae nie ten volle verstaan het wat dit sou beteken nie, was hulle oortuig dat 1914 ’n betekenisvolle jaar in wêreldgeskiedenis sou wees, en hulle was reg. Let op die volgende koerantberig:
“Die uitbreek van die verskriklike oorlog in Europa het ’n buitengewone profesie vervul. Deur predikers en deur die pers verkondig die ‘Internasionale Bybelstudente’, beter bekend as ‘Millennial Dawners’, die afgelope kwarteeu aan die wêreld dat die Dag van Gramskap wat in die Bybel voorspel word, in 1914 sou aanbreek. ‘Pas op vir 1914!’ was die uitroep van die honderde reisende evangeliste.”—The World, ’n koerant van New York, 30 Augustus 1914.
[Voetnote]
f Dit was ’n bestiering dat daardie Bybelstudente nie besef het dat daar geen jaar nul tussen “v.C.” en “n.C.” is nie. Later, toe navorsing dit nodig gemaak het om 606 v.C. na 607 v.G.J. te verander, is die jaar nul ook uitgeskakel, sodat die voorspelling “1914 n.C.” nog steeds geldig was.—Sien “Die waarheid sal julle vrymaak”, in 1947 uitgegee deur Jehovah se Getuies, bladsy 263.
[Venster op bladsy 106]
1914—’n keerpunt
Die werk Politikens Verdenshistorie—Historiens Magt og Mening (Politiken se Wêreldgeskiedenis—Die krag en betekenis van geskiedenis), wat in 1987 in Kopenhagen uitgegee is, maak die volgende opmerking op bladsy 40:
“Die 19de eeu se geloof in vooruitgang het in 1914 sy doodhou ontvang. Die jaar voordat die oorlog uitgebreek het, het die Deense geskiedskrywer en politikus Peter Munch optimisties geskryf: ‘Volgens alle getuienis is ’n oorlog tussen die groot Europese moondhede onwaarskynlik. “Die gevaar van oorlog” sal ook in die toekoms verdwyn, soos dit herhaaldelik sedert 1871 verdwyn het.’
“In teenstelling hiermee lees ons in sy latere memoires: ‘Die uitbreek van die oorlog in 1914 is die groot keerpunt van die geskiedenis van die mensdom. Vanuit ’n rooskleurige tydvak van vooruitgang, waarin doelwitte in redelike veiligheid nagestreef kon word, het ons ’n eeu van rampspoed, verskrikking en haat binnegegaan, met onveiligheid oral. Niemand het geweet, en selfs vandag weet niemand, of die duisternis wat ons op daardie tydstip oorval het, die blywende vernietiging sal beteken van die hele kulturele struktuur wat die mens deur millenniums heen vir homself geskep het nie.’”
[Prent op bladsy 110]
‘Elke berg is uit sy plek verwyder’
[Prent op bladsy 111]
Hulle het in die grotte weggekruip