Wie was Teofilus van Antiogië?
“JY NOEM my ’n Christen asof ek deur daardie naam veroordeel sou word; wat my betref, ek bely dat ek ’n Christen is, en ek dra hierdie naam wat bemind by God is met die hoop om vir God diensbaar te wees.”
Dit is hoe Teofilus sy driedelige werk met die titel Theophilus to Autolycus inlei. Dit is die begin van sy verweer teen tweede-eeuse afvalligheid. Teofilus identifiseer hom moedig as ’n volgeling van Christus. Hy is blykbaar vasbeslote om so te handel dat hy “bemind by God” sal word, in ooreenstemming met die Griekse betekenis van sy naam. Presies wie was Teofilus? Wanneer het hy gelewe? En wat het hy gedoen?
Persoonlike geskiedenis
Weinig is omtrent Teofilus se persoonlike geskiedenis bekend. Sy ouers was nie Christene nie. Teofilus het later tot die Christelike godsdiens bekeer, maar eers nadat hy ’n deeglike studie van die Skrif gemaak het. Hy het biskop van die gemeente in Siriese Antiogië geword, wat vandag as Antakya, in Turkye, bekend staan.
In ooreenstemming met Jesus se bevel het die eerste-eeuse Christene die predikingswerk onder die Antiogiese mense gedoen. Lukas het die welslae wat hulle geniet het, opgeteken en gesê: “Die hand van Jehovah [was] met hulle, en ’n groot aantal wat gelowiges geword het, het hulle tot die Here gekeer” (Handelinge 11:20, 21). Jesus Christus se volgelinge het deur Goddelike leiding as Christene bekend begin staan. Hierdie benaming is die eerste keer in Siriese Antiogië gebruik (Handelinge 11:26). In die eerste eeu G.J. het die apostel Paulus na Siriese Antiogië gereis, en dit het sy tuisbasis geword. Barnabas en Paulus, vergesel van Johannes Markus, het hulle eerste sendingreis van Antiogië af onderneem.
Die vroeë Christene van Antiogië was seker grootliks aangemoedig deur die apostoliese besoeke aan hulle stad. Hulle entoesiastiese reaksie op die waarheid van God se Woord was ongetwyfeld deels te danke aan die geloofversterkende besoeke van die eerste-eeuse verteenwoordigers van die bestuursliggaam (Handelinge 11:22, 23). Hoe bemoedigend moes dit tog vir hulle gewees het om te sien hoe soveel inwoners van Antiogië hulle lewe aan Jehovah God toewy! Maar Teofilus het eers meer as 100 jaar later in Antiogië gewoon.
Die geskiedskrywer Eusebius het gesê dat Teofilus die sesde biskop van Antiogië sedert die tyd van Christus se apostels was. Teofilus het ’n aansienlike hoeveelheid mondelinge besprekings en weerleggings van dwaalleringe op skrif gestel. Hy word onder die stuk of 12 Christelike apologete van sy dag getel.
’n Kykie na sy geskrifte
In reaksie op ’n vorige dialoog skryf Teofilus aan die heiden Autolukos en begin met hierdie woorde: “’n Gladde tong en elegante styl verskaf plesier en die soort lof waarin ydelheid behae skep aan ellendige manne wat verdorwe van verstand is.” Teofilus verduidelik en sê: “Die liefhebber van waarheid skenk nie aandag aan bloemryke redevoerings nie, maar ondersoek die ware inhoud van wat gesê word . . . Jy het my met leë woorde aangeval, met spogpraatjies oor jou gode van hout en klip, wat gehamer en gegiet, gesny en gegraveer is, wat nie kan sien of hoor nie, want hulle is afgode en die werke van mensehande.”—Vergelyk Psalm 115:4-8.
Teofilus lê die valsheid van afgodediens bloot. In sy kenmerkende skryfstyl probeer hy, hoewel onnodig, met groot omhaal van woorde die werklike aard van die ware God verklaar. Hy verduidelik: “God se voorkoms is onuitspreeklik en onbeskryflik en kan nie deur mense-oë waargeneem word nie. Want Hy is in heerlikheid onbegrens, in grootheid ondeurgrondelik, in verhewenheid onvoorstelbaar, in krag weergaloos, in wysheid sonder gelyke, in goedheid ongeëwenaard, in goedhartigheid onbeskryflik.”
Teofilus brei hierdie beskrywing van God uit en sê voorts: “Maar hy is Here, omdat Hy oor die heelal heers; Vader, omdat hy voor alle dinge is; Ontwerper en Maker, omdat Hy die skepper en maker van die heelal is; die Allerhoogste, omdat Hy bo alles is; en Almagtig, omdat Hy self oor alles heers en alles omvat.”
Vervolgens vestig Teofilus die aandag op spesifieke werke van God deur in sy kenmerkend deeglike en ietwat eentonige styl te sê: “Want die hemele is Sy werk, die aarde is Sy skepping, die see is Sy handewerk; die mens is deur Hom gemaak en is Sy beeld; die son, maan en sterre is Sy elemente, wat gemaak is as tekens, en tye, en dae en jare, sodat hulle kan dien en slawe van die mens kan wees; en God het alle dinge wat bestaan uit dinge gemaak wat nie bestaan het nie, sodat Sy grootheid deur Sy werke bekend gemaak en verstaan kan word.”
Nog ’n voorbeeld van Teofilus se aanval op die valse gode van sy dag kan in die volgende woorde aan Autolukos gesien word: “Die name van diegene wat jy sê jy aanbid, is die name van dooie mense. . . . En watter soort mense was hulle? Was Saturnus nie ’n kannibaal, iemand wat sy eie kinders doodgemaak en verslind het, nie? En as julle sy seun Jupiter noem, . . . hy is dan deur ’n bok gesoog . . . En sy ander dade—sy bloedskande, en egbreuk en wellus.”
Teofilus sit sy argument voort en versterk sy verweer teen heidense afgodediens. Hy skryf: “Moet ek verder gaan en vertel van die magdom diere wat die Egiptenaars aanbid het, reptiele, en vee, en wilde diere, en voëls, en riviervisse . . . Die Grieke en die ander volke aanbid klippe en hout en ander soort stoflike voorwerpe.” “Maar ek aanbid God, die lewende en ware God”, verklaar Teofilus.—Vergelyk 2 Samuel 22:47; Handelinge 14:15; Romeine 1:22, 23.
Waardevolle getuienis
Die teregwysings en vermanings in Teofilus se driedelige werk waarin hy Autolukos weerlê, het baie fasette en is uitvoerig. Ander geskrifte van Teofilus is teen Hermogenes en Markion gerig. Hy het ook boeke geskryf om te onderrig en op te bou en het ook kommentare op die Evangelies bygevoeg. Maar net die drie boeke aan Autolukos, ’n enkele manuskrip, het behoue gebly.
Die eerste boek is ’n apologie aan Autolukos wat ter verdediging van die Christelike godsdiens geskryf is. Die tweede boek aan Autolukos is ’n aanval op die gewilde heidense godsdiens, spekulasie, filosowe en digters. Heidense lektuur word in Teofilus se derde boek met die Skrif vergelyk.
Toe Teofilus sy derde boek begin het, was Autolukos blykbaar steeds van mening dat die Woord van waarheid ’n verdigsel is. Teofilus kritiseer Autolukos en beweer: “Jy hou jou graag met dwase op. Anders sou sinlose manne jou nie beweeg het om voor leë woorde te swig en die algemene opvatting te glo nie.”
Wat was daardie “algemene opvatting”? Teofilus onthul die bron. Lasterlike mense “met goddelose lippe beskuldig ons valslik, [ons] wat aanbidders van God is, en Christene genoem word, en beweer dat ons ons vrouens met mekaar deel en hulle promisku gebruik; en dat ons selfs bloedskande met ons eie susters pleeg, en die goddeloosste en barbaarsste van alles is dat ons mensvleis eet.” Teofilus het hom ingespan om hierdie uiters onakkurate heidense beskouing oor verklaarde tweede-eeuse Christene te bestry. Hy het die lig van waarheid gebruik wat in God se geïnspireerde Woord vervat is.—Matteus 5:11, 12.
’n Bewys van Teofilus se vertroudheid met God se Woord is die feit dat hy herhaaldelik Hebreeuse en Griekse Bybeltekste gebruik en daarna verwys. Hy was een van die eerste Evangeliekommentators. Teofilus se talle verwysings na die Skrif voorsien dieper insig in die heersende denke van sy tyd. Hy het sy kennis van die geïnspireerde geskrifte gebruik om hulle ontsaglike voortreflikheid bo heidense filosofie te toon.
Die uitleg van Teofilus se inligting, sy didaktiese toon en eentonige styl laat volgens sommige dalk veel te wense oor. In watter mate die voorspelde afvalligheid dalk die juistheid van sy beskouings beïnvloed het, kan ons nie op hierdie tydstip sê nie (2 Tessalonisense 2:3-12). Teofilus het nietemin teen die tyd van sy dood, omstreeks 182 G.J., blykbaar ’n onvermoeide apologeet geword, wie se geskrifte vir ware Christene in ons moderne tyd van belang is.
[Prent op bladsy 30]
Teofilus het Autolukos se argumente moedig weerlê
[Foto-erkenning op bladsy 28]
Illustrasies op bladsye 28 en 30 is weergegee uit Illustrirte Pracht - Bibel/Heilige Schrift des Alten und Neuen Testaments, nach der deutschen Uebersetzung D. Martin Luther’s