Jongmense—Weerstaan portuurdruk
“Laat julle woorde . . . smaaklik gemaak [wees] met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”—KOL. 4:6.
1, 2. Hoe voel baie jongmense daaroor om opvallend anders te wees, en waarom?
JY HET ongetwyfeld al die woord “portuurdruk” gehoor en ook al deur ondervinding geleer wat dit is. Die een of ander tyd het iemand jou dalk sover probeer kry om iets te doen wat jy weet verkeerd is. Hoe voel jy wanneer dit gebeur? “Soms wens ek dat ek net kan verdwyn”, sê die 14-jarige Christopher, “of dat ek soos die res van my skoolmaats nie opvallend anders hoef te wees nie.”
2 Oefen jou portuurs ’n groot invloed op jou uit? Indien wel, waarom? Kan dit wees dat jy wil hê dat hulle jou moet aanvaar? Hierdie begeerte is op sigself nie verkeerd nie. Trouens, volwassenes wil ook deur hulle portuurs aanvaar word. Niemand—jonk of oud—hou daarvan om verwerp te word nie. Maar jy sal natuurlik nie altyd lof van ander ontvang as jy opkom vir wat reg is nie. Selfs Jesus het voor hierdie werklikheid te staan gekom. Maar Jesus het altyd gedoen wat reg is. Hoewel party hom gevolg en sy dissipels geword het, het ander die Seun van God verag en “hom van geen belang geag nie”.—Jes. 53:3.
Hoe kragtig is portuurdruk?
3. Waarom is dit ’n fout om jou by jou portuurs se standaarde aan te pas?
3 Jy kan soms in die versoeking kom om jou by jou portuurs se standaarde aan te pas net omdat jy wil hê dat hulle jou moet aanvaar. Dit sal ’n fout wees. Christene moenie ‘klein kindertjies wees, wat rondgeslinger word soos deur golwe nie’ (Ef. 4:14). Klein kindertjies kan maklik deur ander beïnvloed word. Maar as ’n jongmens is jy op pad na volwassenheid. As jy glo dat Jehovah se standaarde jou tot voordeel strek, is jy dit dus aan jou verskuldig om volgens jou oortuigings te lewe (Deut. 10:12, 13). As jy dit nie doen nie, oefen jy nie meer beheer oor jou lewe uit nie. Om die waarheid te sê, wanneer jy voor druk van ander swig, laat jy toe dat hulle jou beheer.—Lees 2 Petrus 2:19.
4, 5. (a) Hoe het Aäron voor druk geswig, en watter lesse kan jy hieruit leer? (b) Watter metodes sal jou portuurs dalk gebruik om druk op jou te probeer uitoefen?
4 Moses se broer, Aäron, het by een geleentheid voor portuurdruk geswig. Toe die Israeliete daarop aandring dat hy vir hulle ’n god maak, het hy dit gedoen. Aäron was nie ’n swakkeling nie. Hy het vroeër by Moses gestaan toe hulle Farao, die magtigste man in Egipte, gekonfronteer het. Aäron het moedig God se boodskap aan hom oorgedra. Maar toe mede-Israeliete druk op hom plaas, het Aäron ingegee. Hoe kragtig kan portuurdruk tog wees! Dit was vir Aäron makliker om sy man teen die koning van Egipte te staan as teen sy portuurs.—Eks. 7:1, 2; 32:1-4.
5 Soos die voorbeeld van Aäron toon, is dit nie net jongmense wat voor portuurdruk te staan kom nie en is dit ook nie ’n probleem net vir diegene wat tot slegtheid geneig is nie. Portuurdruk kan selfs dié beïnvloed wat in alle opregtheid wil doen wat reg is, met inbegrip van jou. Jou portuurs probeer jou dalk dwing om jou aan oortredings skuldig te maak deur jou uit te daag, te beskuldig of te spot. Dit is moeilik om portuurdruk die hoof te bied, ongeag watter vorm dit aanneem. As jy dit met welslae wil weerstaan, moet jy begin deur vertroue op te bou in wat jy glo.
“Stel julleself voortdurend op die proef”
6, 7. (a) Waarom is dit belangrik om oortuig te wees van jou opvattings, en wat kan jou hiermee help? (b) Watter vrae kan jy jou afvra om jou oortuiging te versterk?
6 As jy portuurdruk die hoof wil bied, moet jy eers oortuig wees dat jou opvattings en standaarde reg is. (Lees 2 Korintiërs 13:5.) Oortuiging sal jou help om moedig te wees, al is jy dalk van nature skaam (2 Tim. 1:7, 8). Maar selfs as ’n persoon gewoonlik moedig is, kan dit vir hom nogal moeilik wees om op te kom vir iets waarin hy net halfhartig glo. Bewys dus gerus aan jouself dat wat jy uit die Bybel geleer is, werklik die waarheid is. Begin met die basiese opvattings. Jy glo byvoorbeeld in God, en jy het ander al hoor sê waarom hulle glo dat hy bestaan. Vra jou dan af: ‘Wat oortuig my dat God bestaan?’ Die doel van hierdie vraag is nie om twyfel te wek nie, maar om jou geloof te versterk. Jy kan jou ook afvra: ‘Hoe weet ek dat die Skrif deur God geïnspireer is?’ (2 Tim. 3:16). ‘Waarom is ek oortuig dat ons in “die laaste dae” lewe?’ (2 Tim. 3:1-5). ‘Wat laat my glo dat Jehovah se standaarde my tot voordeel strek?’—Jes. 48:17, 18.
7 Jy huiwer dalk om jou hierdie vrae af te vra omdat jy bang is dat jy nie die antwoorde sal hê nie. Maar dit is soos om te huiwer om na die brandstofmeter op die paneelbord van jou motor te kyk omdat jy bang is dat die wyser aandui dat die tenk leeg is! As daar nie meer brandstof in die tenk is nie, moet jy dit weet sodat jy iets daaromtrent kan doen. Net so moet jy, as jy agterkom dat daar iets is waarvan jy nie heeltemal oortuig is nie, liewer aandag daaraan skenk.—Hand. 17:11.
8. Verduidelik hoe jy jou vertroue kan versterk dat God se bevel om jou van hoerery te onthou, wys is.
8 Kyk na ’n voorbeeld. Die Bybel spoor jou aan om te “vlug vir die hoerery”. Vra jou af: ‘Waarom is dit ’n wyse bevel?’ Dink aan al die redes waarom jou portuurs hulle aan sulke gedrag skuldig maak. Dink ook aan die verskillende redes waarom iemand wat hoerery beoefen, “sondig teen sy eie liggaam” (1 Kor. 6:18). Ondersoek nou die redes, en vra jou af: ‘Watter weg is die beste? Is geslagsonsedelikheid werklik die moeite werd?’ Vra jou nog iets hieroor af: ‘Hoe sal ek voel as ek my aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het?’ Jy sal dalk onmiddellik deur party van jou portuurs goedgekeur word, maar hoe sal jy later voel wanneer jy saam met jou ouers of mede-Christene by die Koninkryksaal is? Hoe sal jy voel wanneer jy tot God probeer bid? Sal jy werklik bereid wees om ’n rein posisie voor God prys te gee net om jou klasmaats tevrede te stel?
9, 10. Hoe sal die feit dat jy oortuig is dat jou opvattings reg is, jou in staat stel om meer selfvertroue te hê wanneer jy saam met jou portuurs is?
9 Jou tienerjare is ’n tyd in jou lewe wanneer jou “denkvermoë” meer as ooit tevore ontwikkel. (Lees Romeine 12:1, 2.) Gebruik hierdie tyd om ernstig na te dink oor wat dit vir jóú beteken om een van Jehovah se Getuies te wees. Hierdie bepeinsing sal jou help om jou vertroue te versterk dat jou opvattings reg is. Wanneer jy dan voor portuurdruk te staan kom, sal jy dadelik en met vertroue kan antwoord. Jy sal voel soos ’n jong Christensuster wat sê: “Wanneer ek my standpunt inneem, wys ek net vir ander wie ek is. Dit is nie bloot ‘die een of ander godsdiens’ nie. Dit is die middelpunt van my denke, doelwitte, sedes en bestaan.”
10 Ja, dit verg inspanning om vas te staan vir wat jy weet reg is (Luk. 13:24). En jy wonder dalk of dit die moeite werd is. Maar dink hieraan: As dit lyk of jy jammer of skaam is dat jy jou standpunt inneem, sal ander dit agterkom en sal hulle dalk selfs meer druk op jou plaas. Maar as jy met oortuiging praat, sal jy moontlik verras wees om te sien hoe vinnig jou portuurs jou sal uitlos.—Vergelyk Lukas 4:12, 13.
‘Dink na sodat jy kan antwoord’
11. Hoe sal dit jou tot voordeel strek as jy jou vir portuurdruk voorberei?
11 Nog ’n belangrike stap om portuurdruk te weerstaan, is voorbereiding. (Lees Spreuke 15:28.) Om voorbereid te wees, beteken dat jy voor die tyd moet dink aan situasies wat waarskynlik sal ontstaan. As jy ’n bietjie vooruitdink, kan dit jou soms help om ’n groot konfrontasie te vermy. Gestel byvoorbeeld jy sien ’n groep van jou skoolmaats wat ’n ent voor jou staan en rook. Hoe waarskynlik is dit dat hulle vir jou ’n sigaret sal aanbied? Wat kan jy doen as jy ’n probleem sien kom? Spreuke 22:3 sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het.” Deur ’n ander pad te loop, kan jy hulle dalk heeltemal vermy. Dit beteken nie dat jy bang is nie; jy is net verstandig.
12. Hoe kan jy ’n gespanne situasie ontlont?
12 Sê nou jy kan ’n situasie glad nie vermy nie? Gestel ’n portuur vra in ongeloof: “Het jy nog nooit seks gehad nie?” Die sleutel is om ag te slaan op die vermaning in Kolossense 4:6: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.” Soos hierdie teks toon, sal die omstandighede bepaal hoe jy op die uitdaging reageer. Jy hoef hulle waarskynlik nie ’n Bybelpreek af te steek nie. ’n Besliste, eenvoudige antwoord is miskien al wat nodig is. Byvoorbeeld, in antwoord op die vraag of jy nog nie seks gehad het nie, kan jy eenvoudig sê: “Ja, ek het nog nie”, of “Dis eintlik ’n persoonlike saak”.
13. Hoe kan onderskeidingsvermoë jou help wanneer een van jou portuurs jou spot?
13 Jesus het dikwels ’n kort antwoord gegee wanneer hy nie juis veel sou bereik deur meer te sê nie. Trouens, toe Herodes hom ondervra, het Jesus hoegenaamd niks gesê nie (Luk. 23:8, 9). Dit is dikwels goed om net stil te bly as iemand jou onvanpaste vrae vra (Spr. 26:4; Pred. 3:1, 7). Daarenteen sien jy dalk ’n mate van opregtheid in iemand wat jou aanvanklik gesmaad het omdat hy jou gedrag—byvoorbeeld in verband met geslagsedelikheid—vreemd vind (1 Pet. 4:4). Dan is ’n deegliker verduideliking van jou Bybelse standpunt moontlik gepas. Indien wel, moet jy nie uit vrees terughou nie. Wees altyd “gereed om [jou] te verdedig”.—1 Pet. 3:15.
14. Hoe kan jy in party situasies portuurdruk taktvol teruggee?
14 In party situasies sal jy miskien die druk kan teruggee. Maar jy moet probeer om dit taktvol te doen. As ’n skoolmaat jou byvoorbeeld uitdaag om ’n sigaret van hom te aanvaar, kan jy sê: “Nee dankie”, en dan byvoeg: “Ek het gedink jy weet beter as om te rook!” Sien jy hoe die druk teruggegee word? Jy hoef nie te verduidelik waarom jy nie rook nie, maar jou portuur word gedwing om te dink aan waarom hy rook.a
15. Wanneer is dit gepas om weg te loop van portuurs wat druk op jou probeer uitoefen, en waarom?
15 Sê nou die druk duur voort ondanks jou pogings? Dan is dit die beste om net weg te loop. Hoe langer jy daar bly, hoe waarskynliker is dit dat jy op die een of ander manier voor die druk sal swig. Loop dus weg. Jy kan dit doen sonder om te voel dat jy misluk het. Jy het immers beheer oor die situasie gekry. Jy het nie toegelaat dat jou portuurs jou beheer nie, en jy het Jehovah se hart bly gemaak.—Spr. 27:11.
‘Planne wat lei tot voordeel’
16. Hoe kan party wat beweer dat hulle Christene is, druk op jou uitoefen?
16 Soms oefen ander jongmense wat beweer dat hulle knegte van Jehovah is, dalk druk op jou uit om iets te doen wat vir jou skadelik sal wees. Gestel byvoorbeeld dat jy by ’n geselligheid wat deur so iemand gereël is, aankom en uitvind dat daar geen volwasse toesig is nie. Of sê nou ’n jongmens wat beweer dat hy ’n Christen is, bring alkohol na ’n geselligheid, en jy en ander daar is volgens wet nog te jonk om te drink? ’n Aantal situasies kan ontstaan waarin jy jou Bybelopgeleide gewete sal moet volg. ’n Tienderjarige Christen vertel: “Ek en my suster het uitgestap toe daar in ’n fliek wat ons gekyk het, baie gevloek is. Ander in die groep het besluit om te bly. Ons ouers het ons geprys vir wat ons gedoen het. Maar die ander in die groep was kwaad omdat ons hulle sleg laat lyk het.”
17. Watter praktiese maatreëls kan jy tref om by God se standaarde te bly wanneer jy by ’n geselligheid is?
17 Soos die voorgaande ondervinding toon, kan jy in ’n ongemaklike situasie beland wanneer jy jou Bybelopgeleide gewete volg. Maar bly by wat jy glo die regte weg is. Wees voorbereid. As jy na ’n geselligheid toe gaan, moet jy reël dat jy vroeër by die huis kan kom ingeval dit nie is soos jy verwag het nie. Party jongmense hoef net hulle ouers te bel, en dan sal hulle hulle vroeg kom haal (Ps. 26:4, 5). Sulke ‘planne lei tot voordeel’.—Spr. 21:5.
‘Verbly jou in jou jeug’
18, 19. (a) Waarom kan jy seker wees dat Jehovah wil hê dat jy gelukkig moet wees? (b) Hoe voel God oor diegene wat portuurdruk weerstaan?
18 Jehovah het jou geskep met die vermoë om die lewe te geniet, en hy wil hê dat jy gelukkig moet wees. (Lees Prediker 11:9.) Dink daaraan dat baie van jou portuurs net “die tydelike genieting van sonde” ondervind (Heb. 11:25). Die ware God wil hê dat jy baie meer as dit moet geniet. Hy wil hê dat jy vir ewig gelukkig moet wees. Wanneer jy voor die versoeking te staan kom om iets te doen wat jy weet in God se oë verkeerd is, moet jy dus onthou dat wat Jehovah van jou vra, op die lange duur altyd vir jou beswil is.
19 As ’n jongmens moet jy besef dat die meeste van jou portuurs, al het jy nou hulle goedkeuring, jare van nou af waarskynlik nie eers jou naam sal onthou nie. In teenstelling daarmee, sien Jehovah dit raak wanneer jy portuurdruk weerstaan en sal hy jou en jou getrouheid nooit vergeet nie. Hy sal “die sluise van die hemel . . . oopmaak en op [jou] ’n seën . . . uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie” (Mal. 3:10). Wat meer is, hy voorsien mildelik sy heilige gees om te vergoed vir enigiets waarin jy dalk nou te kort skiet. Ja, Jehovah kan jou help om portuurdruk te weerstaan!
[Voetnoot]
a Sien die “Portuurdrukplan” in die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, bladsye 132 en 133.
Onthou jy?
• Hoe kragtig kan portuurdruk wees?
• Hoe kan oortuiging jou help om portuurdruk te weerstaan?
• Hoe kan jy voorberei om portuurdruk die hoof te bied?
• Hoe weet jy dat Jehovah jou getrouheid waardeer?
[Prent op bladsy 8]
Waarom het Aäron ingestem om die goue kalf te maak?
[Prent op bladsy 10]
Wees voorbereid—besluit voor die tyd wat jy sal sê