Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Sielsangs in die tuin
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 117

      Sielsangs in die tuin

      NADAT Jesus klaar gebid het, sing hy en sy 11 getroue apostels lofsange voor Jehovah. Dan kom hulle af uit die bovertrek, loop in die koel duisternis van die nag uit en steek die dal Kidron oor op pad terug na Betanië. Maar langs die pad vertoef hulle eers by ’n geliefkoosde plekkie, die tuin van Getsemane. Dit is op die Olyfberg of in daardie omgewing geleë. Jesus het dikwels vantevore hier tussen die olyfbome met sy dissipels saamgekom.

      Jesus laat agt van die apostels agter—moontlik naby die tuin se ingang—en beveel hulle: “Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid.” Toe neem hy die ander drie—Petrus, Jakobus en Johannes—en gaan dieper in die tuin in. Jesus word bedroef en erg verontrus. “My siel is diep bedroef tot die dood toe”, sê hy vir hulle. “Bly hier en waak saam met My.”

      Jesus gaan ’n bietjie verder in, val met sy aangesig teen die grond en begin vurig bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Wat bedoel hy? Waarom is hy “diep bedroef tot die dood toe”? Deins hy terug van sy besluit om te sterf en die losprys te voorsien?

      Geensins nie! Jesus vra nie om die dood vry te spring nie. Selfs net die gedagte om ’n offerdood te vermy, soos Petrus eenkeer aan die hand gedoen het, is vir Jesus verfoeilik. Hy verkeer eerder in sielsangs omdat hy bevrees is dat die wyse waarop hy weldra gaan sterf—as ’n veragtelike misdadiger—oneer op sy Vader se naam sal bring. Hy besef nou dat hy binne ’n paar uur aan ’n paal genael gaan word as die slegste soort mens wat daar is—’n godslasteraar! Dít is wat hom so erg verontrus.

      Nadat hy lank gebid het, kom Jesus terug en vind hy dat die drie apostels slaap. Hy sê vir Petrus: “So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.” Hy erken egter dat hulle reeds groot spanning verduur het en dat dit al baie laat in die nag is; daarom sê hy: “Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”

      Jesus gaan nou vir die tweede maal opsy en vra dat God “hierdie beker”, dit wil sê, Jehovah se aangewese deel, of wil, vir hom, by hom moet laat verbygaan. Toe hy terugkom, vind hy die drie weer aan die slaap, terwyl hulle moes gebid het dat hulle nie in versoeking kom nie. Toe Jesus met hulle praat, weet hulle nie wat om hom te antwoord nie.

      Dan gaan Jesus die derde en laaste maal van hulle af weg, omtrent so ver soos ’n mens met ’n klip kan gooi, kniel neer en bid met sterk geroep en trane: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem!” Jesus verduur groot smart weens die smaad wat sy dood as ’n misdadiger oor sy Vader se naam sal bring. Om as ’n godslasteraar—iemand wat God vervloek—beskuldig te word, is vir hom feitlik ondraaglik!

      Jesus bid nietemin verder: “Nie wat ek wil nie, maar wat U wil.” Jesus onderwerp hom gehoorsaam aan God se wil. Op hierdie tydstip verskyn ’n engel uit die hemel en versterk hom met bemoedigende woorde. Bes moontlik deel die engel Jesus mee dat hy sy Vader se goedkeuring wegdra.

      Watter verantwoordelikheid rus daar nogtans op Jesus se skouers! Sy eie ewige lewe en dié van die ganse mensdom is op die spel. Die emosionele spanning is geweldig. Daarom bid Jesus met nog groter inspanning, en sy sweet word soos bloeddruppels wat op die grond val. “Hoewel dit ’n baie seldsame verskynsel is”, sê The Journal of the American Medical Association, “kom bloedsweet . . . wel soms onder hoogs emosionele toestande voor.”

      Daarna kom Jesus vir ’n derde keer by sy apostels en vind hy weer eens dat hulle slaap. Hulle is uitgeput van skone droefheid. “Op ’n tyd soos hierdie slaap julle en rus julle!” roep hy uit. “Dit is genoeg! Die uur het gekom! Kyk! Die Seun van die mens word deur verraad in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan. Kyk! My verraaier is naby.”—NW.

      Terwyl hy nog praat, kom Judas Iskariot daar aan, en saam met hom ’n groot menigte met fakkels en lampe en wapens in hulle hande. Mattheüs 26:30, 36-47; 16:21-23; Markus 14:26, 32-43; Lukas 22:39-47; Johannes 18:1-3; Hebreërs 5:7.

      ▪ Waarheen lei Jesus die apostels nadat hulle die bovertrek verlaat het, en wat doen hy daar?

      ▪ Wat doen die apostels terwyl Jesus bid?

      ▪ Waarom verkeer Jesus in sielsangs, en wat vra hy van God?

      ▪ Wat dui die feit dat Jesus se sweet soos bloeddruppels word aan?

  • Jesus word verraai en in hegtenis geneem
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 118

      Jesus word verraai en in hegtenis geneem

      DIT is goed ná middernag wanneer Judas ’n groot menigte soldate, owerpriesters, Fariseërs en ander in die tuin van Getsemane inlei. Die priesters het ingestem om Judas 30 silwerstukke te betaal om Jesus te verraai.

      Vroeër, toe Judas van die Pasgamaaltyd weggestuur is, het hy blykbaar direk na die owerpriesters gegaan. Hulle het onmiddellik hulle eie beamptes sowel as ’n afdeling soldate bymekaargemaak. Judas het hulle moontlik eers gelei na waar Jesus en sy apostels die Pasga gevier het. Toe hy sien dat hulle daarvandaan vertrek het, het die groot menigte, wat wapens, lampe en fakkels dra, Judas uit Jerusalem en oor die dal Kidron gevolg.

      Terwyl Judas die optog teen die Olyfberg uitlei, is hy seker dat hy weet waar om Jesus te kry. Gedurende die afgelope week het Jesus en die apostels, terwyl hulle heen en weer tussen Betanië en Jerusalem geloop het, dikwels in die tuin van Getsemane gestop om te rus en te gesels. Maar hoe sal die soldate Jesus uitken, noudat hy moontlik in die duisternis onder die olyfbome versteek is? Hulle het hom dalk nog nooit gesien nie. Daarom gee Judas ’n teken en sê: “Die een wat ek sal soen—dit is Hy; gryp Hom en neem Hom met sekerheid weg.”

      Judas lei die groot menigte in die tuin in; hy sien Jesus by sy apostels en gaan reguit na hom toe. “Gegroet, Rabbi!” sê hy, en hy soen hom baie teer.

      “Vriend, waarvoor is jy hier?” antwoord Jesus. Dan antwoord hy sy eie vraag en sê: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ’n kus?” Maar genoeg van die een wat hom verraai! Jesus tree vorentoe in die lig van die brandende fakkels en lampe in en vra: “Wie soek julle?”

      “Jesus, die Nasarener”, kom die antwoord.

      “Dit is Ek”, sê Jesus terwyl hy moedig voor hulle staan. Verbaas oor sy vrymoedigheid en omdat hulle nie weet wat om te verwag nie, deins hulle terug en val hulle op die grond neer.

      “Ek het vir julle gesê dat dit Ek is”, gaan Jesus kalm voort. “As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan.” Kort tevore in die bovertrek het Jesus sy Vader in gebed meegedeel dat hy sy getroue apostels bewaar het en dat nie een van hulle verlore gegaan het nie, “behalwe die seun van die verderf”. Sodat sy woord vervul kan word, vra hy dus dat sy volgelinge vrygelaat moet word.

      Wanneer die soldate hulle kalmte herwin, opstaan en Jesus begin vasbind, besef die apostels wat gaan gebeur. “Here, moet ons met die swaard slaan?” vra hulle. Voor Jesus antwoord, val Petrus vir Malchus, ’n dienskneg van die hoëpriester, aan met een van die twee swaarde wat die apostels saamgebring het. Petrus se hou mis die dienskneg se kop, maar sny sy regteroor af.

      “Hou op, dit is genoeg!” sê Jesus wanneer hy tussenbeide tree. Hy raak Malchus se oor aan en genees die wond. Dan leer hy hulle ’n belangrike les en beveel Petrus: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie?”

      Jesus is gewillig om in hegtenis geneem te word, want hy verduidelik: “Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” En hy voeg by: “Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?” Hy is dit volkome eens met God se wil vir hom!

      Dan praat Jesus met die skare. “Het julle soos teen ’n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem?” vra hy. “Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word.”

      Hiermee gryp die soldate en die leërowerste en die beamptes van die Jode Jesus, en hulle bind hom vas. Toe die apostels dit sien, verlaat hulle Jesus en vlug. Maar ’n jong man—moontlik die dissipel Markus—bly in die skare agter. Hy was dalk by die huis waar Jesus die Pasga gevier het en het die skare daarna van daar af gevolg. Hulle herken hom egter nou en probeer hom gryp. Maar hy laat sy linnekleed agter en ontsnap. Mattheüs 26:47-56; Markus 14:43-52; Lukas 22:47-53; Johannes 17:12; 18:3-12.

      ▪ Waarom is Judas seker dat hy Jesus in die tuin van Getsemane sal kry?

      ▪ Hoe toon Jesus besorgdheid oor sy apostels?

      ▪ Wat doen Petrus om Jesus te verdedig, maar wat sê Jesus vir Petrus daaroor?

      ▪ Hoe toon Jesus dat hy dit volkome eens is met God se wil vir hom?

      ▪ Wie bly agter wanneer die apostels Jesus verlaat, en wat gebeur met hom?

  • Jesus word na Annas en dan na Kajafas geneem
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 119

      Jesus word na Annas en dan na Kajafas geneem

      JESUS is soos ’n slegte misdadiger geboei en word na Annas, die invloedryke oud-hoëpriester, gelei. Annas was hoëpriester toe Jesus die rabbynse leraars as 12-jarige seun by die tempel verbaas het. ’n Paar van Annas se seuns het later as hoëpriester gedien, en sy skoonseun Kajafas beklee nou daardie posisie.

      Jesus word waarskynlik eers na die huis van Annas gelei omdat daardie hoëpriester so lank ’n vername posisie in die Joodse godsdienslewe beklee het. Omdat hulle Annas eers besoek, kan hoëpriester Kajafas die Sanhedrin, die Joodse hoër hof van 71 lede, laat vergader, asook valse getuies bymekaar kry.

      Owerpriester Annas ondervra Jesus nou oor sy dissipels en oor sy leer. Jesus se antwoord is egter: “Ek het ronduit tot die wêreld gespreek; Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie. Wat ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek tot hulle gespreek het; hulle weet tog wat Ek gesê het.”

      Hierop klap een van die beamptes wat naby Jesus staan hom deur die gesig en sê: “Is dit die manier waarop jy die owerpriester antwoord gee?”—NW.

      “As Ek verkeerd gespreek het”, antwoord Jesus, “getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?” Ná hierdie gesprek stuur Annas Jesus geboeid weg na Kajafas.

      Teen hierdie tyd begin al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes, ja, die hele Sanhedrin, bymekaarkom. Hulle vergaderplek is blykbaar Kajafas se huis. Dit is beslis in stryd met die Joodse wet om so ’n verhoor op die aand van ’n Pasga te hou. Maar dit verhinder die godsdiensleiers nie om hulle bose plan uit te voer nie.

      Weke vantevore, toe Jesus Lasarus opgewek het, het die Sanhedrin reeds onder mekaar besluit dat hy moet sterf. En net twee dae vroeër, Woensdag, het die godsdiensowerhede saam beraadslaag om Jesus met ’n slinkse plan te vang en dood te maak. Stel jou dit voor, hy is selfs voor sy verhoor al veroordeel!

      Nou probeer hulle getuies vind wat valse getuienis sal lewer sodat ’n saak teen Jesus gemaak kan word. Maar hulle kan geen getuies kry wie se getuienis ooreenstem nie. Uiteindelik kom daar twee valse getuies na vore en beweer: “Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie.”

      “Antwoord U niks nie?” vra Kajafas. “Wat getuig hierdie manne teen U?” Maar Jesus bly stil. Selfs met hierdie valse aantyging kan die getuies, tot verleentheid van die Sanhedrin, hulle getuienis nie met mekaar s’n laat ooreenstem nie. Die hoëpriester probeer dus ’n ander taktiek.

      Kajafas weet hoe sensitief die Jode daaroor is as iemand beweer dat hy die Seun van God is. By twee vorige geleenthede het hulle nie geskroom om Jesus ’n godslasteraar te noem wat die dood verdien nie—en een van daardie kere het hulle verkeerdelik gedink dat hy beweer het dat hy aan God gelyk is. Kajafas dring nou listig aan: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?”

      Jesus is, ongeag wat die Jode dink, werklik die Seun van God. En as hy stilbly, kan hulle dink dat hy ontken dat hy die Christus is. Jesus antwoord dus moedig: “Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.”

      Hierop skeur Kajafas in ’n dramatiese vertoon sy klere en roep uit: “Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor! Wat dink julle?”

      “Hy is die dood skuldig”, verklaar die Sanhedrin. Dan begin hulle hom bespot, en hulle sê baie lasterlike dinge teen hom. Hulle klap hom deur die gesig en spoeg op hom. Ander blinddoek hom en slaan hom met hulle vuiste en sê sarkasties: “Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?” Hierdie mishandeling en onwettige gedrag vind gedurende die nagverhoor plaas. Mattheüs 26:57-68; 26:3, 4; Markus 14:53-65; Lukas 22:54, 63-65; Johannes 18:13-24; 11:45-53; 10:31-39; 5:16-18.

      ▪ Waarheen word Jesus eers gelei, en wat gebeur daar met hom?

      ▪ Waarheen word Jesus vervolgens geneem, en met watter doel?

      ▪ Hoe kry Kajafas dit reg om die Sanhedrin te laat verklaar dat Jesus die dood skuldig is?

      ▪ Watter mishandeling en onwettige gedrag vind gedurende die verhoor plaas?

  • Verloëning in die binneplaas
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 120

      Verloëning in die binneplaas

      PETRUS en Johannes het Jesus in die tuin van Getsemane in die steek gelaat en vreesbevange saam met die res van die apostels weggevlug, maar nou vlug hulle nie meer nie. Hulle haal Jesus moontlik in toe hy na Annas se huis geneem word. Toe Annas Jesus na die hoëpriester Kajafas stuur, volg Petrus en Johannes op ’n redelike afstand omdat hulle skynbaar in ’n tweestryd verkeer tussen hulle vrees vir hul eie lewe en hulle diepe besorgdheid oor wat met hulle Meester gaan gebeur.

      Toe hulle by Kajafas se ruim woning kom, kan Johannes in die binneplaas ingaan, aangesien hy die hoëpriester ken. Petrus bly egter buitekant by die deur staan. Maar Johannes is gou terug en praat met die deurwagter, ’n diensmeisie, en Petrus word toegelaat om binne te kom.

      Teen dié tyd is dit koud, en die diensknegte en die beamptes van die hoëpriester het ’n koolvuur gemaak. Petrus gaan by hulle staan om warm te bly terwyl hy op die uitslag van Jesus se verhoor wag. Daar, in die lig van die helder vuur, kan die deurwagster wat Petrus ingelaat het hom beter sien. “Jy was ook by Jesus, die Galileër!” roep sy uit.

      Petrus is ontsteld omdat hy herken is en ontken voor almal dat hy Jesus ooit geken het. “Ek weet nie en begryp nie wat jy sê nie”, sê hy.

      Petrus gaan hierna uit na die poort toe. Daar sien ’n ander meisie hom en sê ook vir die mense wat daar naby staan: “Hierdie een was ook by Jesus, die Nasarener.” Petrus ontken dit weer eens, en hy sweer: “Ek ken die man nie.”

      Petrus bly in die binneplaas en probeer so onopsigtelik moontlik wees. Dit kan op hierdie tydstip wees wat ’n haan se gekraai in die donkerte van die vroeë oggend hom laat skrik. Jesus se verhoor het intussen begin en word klaarblyklik in ’n deel van die huis bokant die binneplaas gehou. Petrus en die ander wat onder wag, sien ongetwyfeld hoe verskeie getuies wat gebring word om te getuig, in- en uitgaan.

      Omtrent ’n uur het verstryk sedert Petrus laas as ’n metgesel van Jesus geïdentifiseer is. Nou kom ’n hele paar van dié wat daar rondstaan na hom toe en sê: “Waarlik, jy is ook een van hulle, want ook jou spraak maak jou bekend.” Een van dié in die groep is ’n familielid van Malchus wie se oor Petrus afgekap het. “Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?” sê hy.

      “Ek ken die man nie”, sê Petrus heftig. Trouens, hy probeer hulle oortuig dat hulle dit almal verkeerd het deur te vloek en te sweer oor die saak, en in werklikheid ’n vloek oor homself uit te spreek as hy nie die waarheid praat nie.

      Net toe Petrus hierdie derde keer ontken dat hy Jesus ken, kraai ’n haan. En op daardie oomblik draai Jesus, wat blykbaar op ’n balkon bokant die binneplaas uitgekom het, om en kyk na hom. Onmiddellik onthou Petrus wat Jesus net ’n paar uur vantevore in die bovertrek gesê het: “Voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.” Verpletter deur die erns van sy sonde gaan Petrus buitentoe en ween bitterlik.

      Hoe kon dit gebeur? Hoe kon Petrus sy Meester drie keer kort na mekaar verloën nadat hy so seker was van sy geestelike krag? Die omstandighede betrap Petrus heel waarskynlik onkant. Die waarheid word verdraai en Jesus word as ’n gemene misdadiger bestempel. Die indruk word geskep dat dit wat reg is, verkeerd is, dat die onskuldige skuldig is. Petrus word dus deur die druk van die geleentheid van stryk gebring. Sy lojaliteitsin is skielik versteur; tot sy smart ontsenu vrees vir die mens hom. Mag dit tog nooit met ons gebeur nie! Mattheüs 26:57, 58, 69-75; Markus 14:30, 53, 54, 66-72; Lukas 22:54-62; Johannes 18:15-18, 25-27.

      ▪ Hoe kry Petrus en Johannes toegang tot die binneplaas van die hoëpriester?

      ▪ Wat gebeur in die huis terwyl Petrus en Johannes in die binneplaas is?

      ▪ Hoeveel keer kraai die haan, en hoeveel keer ontken Petrus dat hy Christus ken?

      ▪ Wat beteken dit wanneer Petrus vloek en sweer?

      ▪ Waarom ontken Petrus dat hy Jesus ken?

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel